Wednesday, June 17, 2015

Die Handelinge van die Apostels - 01 (“Die Tydperk voor Pinkster - Die Belofte”)

1.   INLEIDING:
      Die Christelike Kerk het nou onlangs Pinksterdag gevier en ek het dit goed gedink om vandag met n nuwe reeks uit Handelinge te begin - n boek wat ons as n kosbare kleinnood moet beskou, omdat dit vir ons die bloudruk vir Kerkwees verskaf en daarom is Handelinge vir ons van onskatbare waarde.

2.   AGTERGROND:
      Voor ons begin met n nuwe boek of brief in die Bybel, moet  ons eers aandag skenk aan die agtergrond t.o.v. die boek (baie kortliks dan):
  Skrywer: Die skrywer van Handelinge is Lukas, wat naas Handelinge, natuurlik ook die Evangelie van Lukas geskryf het en hierdie twee boeke van hom vorm n eenheid. Beide is opgedra aan Theófilus. Wie was hierdie Theófilus? Daar was baie mense in Lukas se tyd met hierdie naam en daar is baie wat reken dat hierdie naam eintlik verwys na alle gelowiges en dit maak nogal sin, want hierdie naam is saamgestel uit twee Griekse woorde - die eerste is n eienaam, theos wat verwys na God en philos of phileo wat n werkwoord is en wat om lief te hê” beteken.
   Die Naam: Die naam verwys na die handelinge of die optrede van die apostels en die eerste, of vroeëre Nuwe Testamentiese Kerk.
  Datum: Daar bestaan twee gedagte rigtings as dit kom by die bepaling van die datum vir die skrywe van Handelinge. Die eerste groep redeneer t.g.v. n datum, so vroeg as 62 n.C. - dit was teen die einde van Paulus se tweede gevangesetting in Rome en hulle grond dit op Hand.28:30 (waarop ons nie nou sal ingaan nie). Die tweede skool of denkrigting reken dat Handelinge rondom 96 n.C. geskryf is omdat Clement van Rome bekend was met Handelinge (ook hierop sal ons nie ingaan nie). Sonder dus om in geweldige detail te verval, kan ons volstaan met n datum vir die skryf van Handelinge op n datum iewers tussen 62 en 96 n.C.
  Die waarde van en doel met Handelinge: Waarom moet ons Handelinge lees? Wat se betekenis hou Handelinge vir ons in? Eerstens moet ons besef dat Lukas se doel met die skryf van hierdie boek, nie was om primêr teologiese kennis en redenasies neer te pen nie (soos Paulus bv.), maar hy het dit geskryf om aan te toon hoe die eerste Kerk van die Here Jesus daaruit gesien het. Die feit dat dit n geskiedenis-boek is, impliseer egter nié dat daar gladnie teologie vervat is in hierdie skrywe van Lukas nie, trouens ons sal mettertyd teologiese onderwerpe sien, soos bv.:
-     Die vleeswording van Jesus
-     God se werk in Jesus Christus (verwysend na o.a Sy soendood en opstanding);
-     Die Heilige Gees;
-     Die Kerk;
-     Eskatologie (die leer van die laaste dae - die wederkoms, ens.).

      Al sê ons derhalwe dat Handelinge n geskiedkundige weergawe is van die eerste jare van die Kerk, is en bly Handelinge egter steeds n Evangelie, enersyds omdat hierdie, soos reeds gesê, n voortsetting is van Lukas se Evangelie en andersyds omdat Lukas nié in die eertste plek n geskiedskrwyer was nie, maar n Evangelis.

      In kort kan ons dan sê dat die doel met die skryf van hierdie Boek, was dat Lukas vir Theófilus wou oortuig en bemoedig met die feit dat niemand daartoe instaat sal wees om die voortgang en groei van die Kerk van Christus hier op aarde te kan stuit nie en hierin moet ons as 21ste eeuse gelowiges ook bemoediging put, nl. dat (weereens my gunsteling teksvers) ~ En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt.16:18).  Lukas bemoedig Theófilus verder ook met hierdie skrywe, deur vir hom daarop te wees dat Jesus se Groot Opdrag in Matt.28:19-20 inderdaad in gehoorsaamheid uitgevoer en volvoer sál word, nl. ~ Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

      Ons vind dus n pragtige voortsetting in Handelinge van Lukas se eerste boek (die Evangelie van Lukas). In Lukas het hy begin om die koms (of vleeswording) van Jesus te beskryf (n vervulling van die profesieë van talle profete dus) en nou gaan hy in Handelinge voort en beskryf hy die voortgang van die Evangelie wat die vleesgeworde Christus van stapel gestuur het - n pragtige en wonderlike voortgang van die Evangelie dus!
  Temas in die Handelinge Boek: Ons vind verskeie temas vervleg in en deur die boek, bv:
-   Die tema van die Heilige Gees wat in 1:8 as volg opgesom word ~ maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.
-   Die volgende tema is die sendingtema. Petrus en die elf verkondig aanvanklik die Evangelie hoofsaaklik in Jerusalem aan die Aramees- en Griekssprekende Jode, maar gaandeweg brei die verspreiding van die Evangelie uit na omliggende streke en uiteindelik word die Evangelie aan die heidene verkondig waarvan die Etiopiese koopman en die Samaritane waarskynlik die bekendste is (beide ge-evangeliseer deur Filippus) en uiteindelik waar die Evangelie n geweldige impak op die Romeinse hoofstad gehad het.
-   Die gesag van die Apostels en die Kerk in Jerusalem, is n volgende tema. Die Apostels was instrumenteel in die organisering van die Kerk in Jerusalem en so ook die uitbreiding van die Kerk na ander streke.
-     Die teenkanting van die Evangelie is n tema wat regdeur die Handelingeboek loop. Dink maar net aan die spotters wat gesê het dat die Apostels vol wyn is; Die vervolging, gevangesetting en doodsvonnisse wat op elf van die twaalf apostels voltrek is, ens.

      Ongeag die vervolging is die Evangelie egter steeds met durf
en entoesiasme en sukses, verkondig.
- Laastens sien n mens ook regdeur die boek, hoe die Evangelie o.l.v. die Heilige Gees, verdedig word - nog n tema wat vir ons as gelowiges tot groot aanmoediging en sekuriteit moet strek.
  Drie Fundamentele Waarhede: Ons vind drie fundamentele Waarhede opgeteken in Handelinge:
-   Eerstens: Redding word deur God voorberei vir Sy uitverkorenes - Simeon het in Luk.2:30-31 die volgende gesê ~ omdat my oë u verlossing gesien het wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke.
-   Tweedens sal ons sien dat redding deur Christus Jesus geskenk word. In Luk.2:11 het n engel vir Simeon gesê ~ Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.
-   Laastens word die redding aan alle mense aangebied. In Hand.2:17 haal Lukas vir Petrus aan, wat op sy beurt die profeet Joël aangehaal het ~ En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom.

3.   SKRIFLESING:
      Hand.1:1-5 ~ 1) DIE eerste verhaal, Theófilus, het ek opgestel oor alles wat Jesus begin doen en leer het 2) tot op die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy aan die apostels wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het; 3) aan wie Hy ook, ná sy lyde, Hom lewend vertoon het deur baie kentekens, terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het. 4) En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, [het Hy gesê,] van My gehoor het. 5) Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.

3.   LUKAS SE INLEIDING (vv.1-3):
      In Lukas 1:3 lees ons ~ ek (het dit) ook goedgedink, hooggeagte Theófilus, nadat ek van voor af alles noukeurig ondersoek het, om dit in volgorde aan u te skrywe. Lukas gaan nou hier in Hand.1 voort met sy skrywe aan Theófilus, deurdat hy hom direk aanspreek in die aanhef en Lukas herinner Theófilus daaraan dat hy in die eerste gedeelte van sy brief vir hom vertel het van (in sy woorde - vv.1b-2a) alles wat Jesus begin doen en leer het tot op die dag dat Hy opgeneem is

      Lukas gaan nou hier in die eerste hoofstuk voort waar hy opgehou het aan die einde van Lukas met Jesus se hemelvaart en vertel hy nou vir Theófilus van die bevele en beloftes wat Jesus aan Sy dissipels gegee het net voor Sy hemelvaart, maar net voor hy daar kom, noem hy eers drie dinge in die tweede vers, nl.:
       Hemelvaart: Lukas is die skrywer wat die volledigste beskrywing van die hemelvaart van al die Bybelskrywers verskaf (weer in Hand.9-11) en hy noem dit net vlugtig weer hier - so asof hy wil sê - Ek het die eerste deel (in die Evangelie van Lukas) met hierdie onderwerp afgesluit en ek noem dit net weer, omdat ek later, in hoofstukke 9-11, meer volledig hieroor sal skryf.
        Opdragte: Lukas verwys in v.2 net so terloops, sonder om in detail daarop in te gaan, na die opdragte wat Jesus aan Sy dissipels gegee het net voor Sy hemelvaart. Lukas bring hierdie opdragte in verband met die Groot Opdrag wat Jesus vir ons o.a. in Matt.28:19-20 gegee het ~ Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en wat daarop volg. n Geweldige opdrag wat aan die Kerk van die Here Jesus gegee is en waaraan ons ook gehoorsaam móét wees.
        Verkiesing: Lukas tref in Handelinge n onderskeid tussen gelowiges, of te wel, dissipels of leerders aan die eenkant en apostels of te wel leraars aan die anderkant. So ontvang die gelowiges of dissipels dan lering van die apostels in bv. Hand.2:42 ~ Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels

      Die apostels het met gesag en onder leiding van die Heilige Gees lering gegee en geskryf, daarom dat Lukas in v.2 sê ~ nadat Hy aan die apostels wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het. Hier bevestig hy dat hulle as Apostels deur die Heilige Gees aangewys is, maar ook bemagtig is en wat meer is hy verksaf ook terselfdertyd in v.3 n kwalifikasie vir apostelskap, nl. ~ aan wie Hy ook, ná sy lyde, Hom lewend vertoon het deur baie kentekens, terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het. As iemand dus daarop aanspraak wil maak dat hy n apostel is, moet hy terselfdertyd kan sê en bewys dat hy Jesus persoonlik ná Sy lyde (nie in 2015 nie), lewend gesien het (nie in verheerlikte vorm soos wat dit dan die geval sou moes wees indien dit in 2015 sou gebeur nie) en dan moes dit ook vir veertig dae aaneen gebeur het, terwyl Jesus baie kentekens aan hulle gegee het. Hierdie kentekens word nog beter in die ESV gestel, nl. ~ He presented himself alive to them after his suffering by many proofs en dit word nóg beter in die Amplified Bible omskryf ~ by [a series of] many convincing demonstrations [unquestionable evidences and infallible proofs. Wie in ons dag kan aan al hierdie vereistes voldoen - net iemand wat 2000 plus jaar oud is.

4.   JESUS SE OPDRAG AAN DIE APOSTELS (vv.4-6):
      Tydens Jesus se laaste veertig dae, voor Sy hemelvaart, het Hy saam met Sy dissipels geëet en Hy het dit enersyds gedoen om aan hulle te bewys dat Hy waarlik opgetsaan het - in lewende lywe (vlees en bloed en gebeente) en dat hule nie n gees of spook gesien het nie. Hy het egter ook, bo en behalwe die feit dat Hy kentekens aan hulle gegee het en oor die Koninkryk van God gedeel het, ook n baie spesifieke opdrag aan hulle gegee, nl. ~ Hy (het) hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader (v.4). Hierdie opdrag om nie Jerusalem te verlaat nie, is n herhaling van dit wat hy in Luk.24:49 gerapporteer het ~ En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.

      Wat is hierdie belofte van Krag waarvan Lukas hier skryf? V.5 verskaf aan ons die antwoord ~ Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie. Die gawe van die Heilige Gees - dit is wat Jesus aan Sy dissipels belowe het en waarvoor hulle in Jerusalem moes wag - n belofte en geskenk wat van God die Vader gekom het.

      Die dissipels het egter baie gou vergeet wat Jesus enkele dae vantevore gesê het en/of hulle het Jesus gladnie verstaan nie, want weer vra hulle vir Jesus die opgestane Christus, of die groot oomblik waarvoor al die Jode gewag het, nl. dat Jesus die Messias die Romeinse owerhede in Jerusalem omver gaan werp en Sy Koninkryk - n fisiese en menslike koninkryk, daar gaan stel.

      ’n Mens kan eintlik nie die dissipels heeltemal kwalik neem dat hulle so gedink het nie, want Johannes die Doper het in Matt.3:2 gesê ~ Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. Hy het gesê hulle gaan weer na al die jare n koning hê. Jesus het ook hierdie boodskap deurgegee toe Hy o.a. in Luk.17:21 gesê het ~ Hulle sal nie kan sê: `Kyk, hier is dit! of: `Daar is dit!' nie, want die koninkryk van God is hier by julle. Omdat hulle onseker is - deurmekaar is - amper en waarskynlik asof hulle enersyds tog só graag wil hê dat hulle Meester die Romeine moet verslaan en n nuwe regeringsorde vir Jerusalem daar moet stel, maar andersyds ook omdat hulle ten diepste besef dat Jesus iets anders hier in gedagte het - iets blywends; iets van die Vader en nie iets wat hulle in hul vleeslike begeertes graag wil sien realiseer nie - daarom vra hulle Jesus weer, net om heeltemal seker te maak.

      Ons kan ons ook verder net indink hoe angstg die apostels was om gehoor te gee aan Jesus se opdrag om die wye wêreld in te gaan en vir almal te vertel van Jesus Christus die Verlosser, maar Jesus het geweet dat hulle nog nie gereed was nie - hulle moes eers bemagtig word deur die Heilige Gees en daarvoor moes hulle in Jerusalem gaan wag. Wanneer ons dít verstaan, verstaan ons ook beter waarom al die kennis van die wêreld en watter toerusting en opleiding ookal, n bloue duit beteken as dit nie gepaard gaan met die krag wat die inwonende Gees van God gee nie. Krag - die krag van die Heilige Gees moet Waarheid dus altyd vergesel.

      Ten einde seker te maak dat die Apostels nie net gemotiveerd was nie, maar ook ten volle toegerus was vir die geweldige opdrag wat op hulle gewag het, moes hulle met Goddelike krag bemagtig word en dit kon net deur die vervulling met die Heilige Gees geskied - n belofte wat herhaaldelik deur Jesus gemaak was terwyl Hy op aarde was - bv. Joh.7:38-39 ~ Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.

      Bo en behalwe die feit dat hulle ten volle toegerus moes wees om die Evangelie te verkondig, is Matt.10:20 nog meer van toepassing ~ Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.

      Iets wat baie dikwels verwarrend is vir Bybellesers, is die vraag hoe die dissipels (en selfs die Ou Testamentiese gelowiges) vóór die uitstortng van die Gees, wedergeboorte kon ervaar en verder ook, hoe hulle kon optree in die Naam van Christus en bv. siekes genees het? Jesus het reeds die antwoord aan ons gegee in Matt.10:20 wat ons nou net gelees het, maar kom ons kyk na nog n vers ~ want die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer wat gesê moet word (Matt.10:20). In Joh.14:16-17 het Jesus vir Sy dissipels gesê ~ Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Net soos in Ou Testamentiese tye, het die dissipels van Jesus, voor Sy hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees, die krag van die Heilige Gees ervaar vir redding en lewe, asook vir spesiale geleenthede of vir bepaalde situasies tydens hul optrede en bediening (dink bv. ook aan die profete en hul profesië).

      In die nuwe bedeling, of te wel die Nuwe Verbondstyd waarin die apostels ná Pinksterdag geleef het en waarin ons en ons nageslag sal leef tot en met Christus se wederkoms, is dit egter anders, want van ná Pinksterdag af, is die Heilige Gees inwonend in elke gelowige van die dag dat hy wederbaar is en word hy daagliks op n unieke wyse bekragtg en bemagtig. Die Here het hierdie feit reeds in Eseg.36:25-27 bevestig ~ Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle 'n nuwe hart en' n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom - n profesie wat op Pinksterdag vervul is!

5.   DIE KONINKRYK VAN GOD:
      Ons het in v.3 gelees dat Jesus ~ gedurende (die) veertig dae (toe Hy) aan hulle verskyn het, oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het. Ook Johannes die Doper na wie Jesus in v.5 verwys, het oor dieselfde tema gepreek - in Matt.3:2 het hy o.a. gesê ~ Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.

      Toe Jesus met Sy bediening begin het, het Hy dieselfde boodskap gepreek ~ Van toe af het Jesus begin preek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (Matt.4:17). Beide Johannes en Jesus het gesê dat hulle luisteraars aandag moet skenk aan wát hulle sê en hulle bekeer, want die Koninkryk van God is n realiteit wat binnekort sal aanbreek.

      Wat is hierdie Koninkryk van God en wanneer het of gaan dit aanbreek? Dit is belangrik dat ons duidelikheid hieroor sal kry, want dit was n belangrike onderwerp in Jesus se bediening. Het Jesus na n fisiese volk verwys met bepaalde landsgrense, wette en n monarg? Indien dit wel die geval is, wat het God daarmee te doen? Ten einde n antwoord hierop te verkry, moet ons kyk na wat die Koninkryk van God is - wat word daarmee geïmpliseer?

      Ons moet in gedagte hou dat die israeliete van die vroegste tye af, n koning wou hê en God het aan hulle konings gegee, maar sedert Sedekia (geregeer tussen 434 v.C.-423 v.C.) voor die Babiloniërs geval het in 423 n.C. (2 Kon.25), het Israel nog nooit weer n koning gehad nie. Jesus het gedurig oor die komende Koninkryk gepraat en terselfdertyd het Hy wonderwerke gedoen wat ongekend was en gespreek het van geweldige mag en het die Israeliete noodwendig gedink dat Hy die een was wat die Koningstroon in Jerusalem sou kom herstel.

      Wat die Israeliete egter nie gehoor het nie, is dat Jesus nooit van die Koninkryk van Israel gepraat het nie, maar van die Koninkryk van God, trouens Hy het talle gelykenisse gerbuik om hulle daarop te wys dat Hy van God se Koninkryk praat, maar steeds kon hulle dit nie hoor en sien nie.

      Na Jesus se opstanding het die gelowiges egter stadig maar seker beter begin verstaan en besef dat Jesus besig is om hulle in te lei in n nuwe lewe in n nuwe Koninkryk - n Koninkryk wat nie deur n aardse koning geregeer word nie, maar dat dit n Goddelike Koninkryk is en dat God alles op aarde en in die hemel, stadig maar seker vernuwe en herskep tot dít wat dit oorspronklik was toe Hy dit geskep het.

      Dit is dus n Koninkryk wat reeds is, maar nog nie is nie - dit is dus gedeeltelik teenswoordig en gedeeltelik toekomstig. Baie seën van God se Koninryk kan reeds nou al ervaar en geniet word, maar nog nie alles volkome nie. Sommige van die krag is reeds beskikbaar vir ons, maar nog nie alle mag nie. Sommige van die vloek en straf en ellende van die teenswoordige tyd kan oorwin word deur die teenwoordigheid van die Koninkryk van God, maar nog nie alles nie. Die finale geveg teen sonde en die satan en siekte en dood is reeds afgehandel en gewen deur Jesus Christus met Sy dood en opstanding, maar die oorlog is nog nie oor nie - sonde moet nog beveg word; die satan moet nog weerstaan word en in Paulus se woorde in Rom.8:23 ~ En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. Ons is steeds in n stryd vasgevang, maar Paulus sê ook hier wanneer die finale Koninkryk van God in totatliteit sal aanbreek - op daardie dag wanneer ons self uit Christus se mond sal hoor dat Hy ons as Sy kinders aangeneem het en ons finaal van die verganklikheid gered is. 

      Martin Lloyd Jones het die volgende hieroor gesê: It is a Kingdom of which is to come, yes. But it is also a Kingdom which has come. The Kingdom of God is among you and within you; the Kingdom of God is in every true Christian. He reigns in the Church when she acknowledges Him truly. The Kingdom has come, the Kingdom is coming, the Kingdom is yet to come.   Lloyd Jones gaan voort: Now we must always bear that in mind. Whenever Christ is enthroned as King, the kingdom of God is come, so that, while we cannot say that He is ruling over all in the world at the present, He is certainly ruling in that way in the hearts and lives of all His people.  

      Wat is God se Koninkryk dan? God se Koninkryk is die heerskapy van die soewereine God oor alle skepsele en dinge. Psalm 103:19 stel dit pragtig ~ Die Here het sy troon in die hemel gevestig, sy heerskappy strek oor alles en almal. Daniël stel dit nog mooier in Dan.4:3 ~ Hoe groot is sy tekens, hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, sy heerskappy duur van geslag tot geslag. Die Koninkryk van God is ook die finale bestemming vir die sfeer van redding en verlossing wat elke gelowige betree het, die dag toe hy wederbaar is (Joh.3:5-7).

      Die Koninkryk van God is dus n Koninkryk waar God vir ewig
sal heers oor die ganse herskepte heelal, maar wat meer is, ons as gelowiges ervaar reeds spatsels van hierdie wonderlike Koninkryk van God in hierdie gevalle wêrled.

6.   AFSLUITING:
      Daar is dosyne en dosyne beloftes in die Woord van God, maar daar is net een belofte van die Gees en dit word in Hand.1:4 genoem, die belofte van die Vader. God die Vader self het belowe dat Hy Sy Gees oor ons sál uitstort (ons het dit reeds in Joël 2:28 gesien), verder het Christus belowe dat Hy Sy Vader sal vra om Sy Gees oor ons uit te stort en dan sien ons in Joh14:16-17a dat Jesus sê ~ en Hy (die Vader) sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.

      Geliefdes, die vervulling met die Heilige Gees, of die Doping met die Heilige Gees, is nie n spesiale voorreg wat opsy gesit is vir sommige, spesiale en bevoorregte gelowiges nie. Ook word gelowiges nooit in die Skrif uitgedaag, of aangemoedig om die Heilige Gees, of die vervulling met die Heilige Gees te soek, of na te jaag nie. Dit is ook nie ons verantwoordelikheid om voor te berei daarvoor, of daarvoor te bid, of daarvoor te smeek, of te wag nie. Die passiewe vorm waarin hierdie werkwoord geskryf is, dui daarop dat gelowiges die belofte van die Gees ontvang as geskenk van die soewereine God - dit kom soos wedergeboorte en met wedergeboorte - uit genade, sonder enige menslike intervensie ~ Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser (Titus 3:5-6).

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente - Sondagoggend 14 Junie 2015