1. INLEIDING:
Die naggesigte wat Sagaria tot nou gesien het, was grootliks
bemoedigend, maar dit het nie te veel troos vir die huidige inwoners van
Jerusalem op daardie tydstip gebring nie, want dit is een ding om swaar te kry
en die beloftes van die Here te hoor en dit kom in vervulling, maar dis iets
anders as die beloftes nog nie in vervulling gekom het nie en jy steeds die
swaarkry aan jou lyf voel – en dit was presies die geval met die volk van die
Here in die tyd dat Sagaria die gesigte van die Here ontvang het.
Is dit nie maar grootliks ook die geval met ons nie – ons
ervaar swaarky van allerlei aard en omvang en dan word daar gereeld hier “van
voor af” gesê dat ons ʼn ewigheidsperspektief moet ontwikkel, maar dit bring nie
altyd die nodige bemoediging en oplossing vir my probleem nie, want wat ek nou
ervaar is nie wat ek eendag sal ervaar nie, maar ek is nou hier in die nou en
nie daar in die ewigheid nie.
Wat die Judeërs aan betref – baie van hulle was nog in Babilon
en kon nog nie op daardie stadium terugkeer na Jerusalem nie. Diegene wie reeds
terug was in Jerusalem het nog nie ʼn tempel gehad waar hulle kon aanbid nie;
hulle het nog nie ʼn koning nie; hulle goue voorwerpe wat in die tempel was en
wat nodig was om God te aanbid en Sy teenwoordigheid te ervaar, was weggevoer –
in kort, die volk kry swaar; hulle is verarm en hulle kan God nie aanbid soos
hulle wil en moet nie – hoe nou verder?
2. SKRIFLESING:
Sag.6:9-15
~ Die
woord van die Here het tot my gekom en gesê: 10Gaan vandag nog na
die huis van Josia seun van Sefanja toe waar die ballinge Geldai, Tobija en
Jedaja uit Babel aangekom het 11en kry by hulle silwer en goud. Maak
dan daarvan ’n kroon en sit dit op die kop van die hoëpriester Jesua seun van
Josadak. 12Dan moet jy vir hom sê: So sê die Here
die Almagtige: Daar is ’n man met die naam Loot. Hy maak vinnig opgang en hy
sal die tempel van die Here bou. 13Dit is hy wat die tempel van die
Here sal bou, dit is hy wat die mag sal besit, wat op die troon sal sit en sal
heers. ’n Priester sal saam met hom regeer en daar sal vriendelike oorleg
tussen hulle twee wees. 14Die kroon moet in die tempel van die Here
bly as ’n gedagtenis aan Geldai, Tobija en Jedaja en aan die goeie gesindheid
van die seun van Sefanja. 15Mense sal van ver af kom en aan die
tempel van die Here bou, sodat julle sal weet dat die Here die Almagtige my na
julle toe gestuur het. Dit sal gebeur as julle in alles gehoorsaam is aan die
Here julle God.
3. SAGARIA
– WAT OM TE DOEN:
Te
midde van God se volk se swaarkry en dilemma gee Hy opdragte aan Sagaria oor
wat om volgende te doen. Hy verwys hom na die huis van Josia, seun van Sefanja,
waar drie manne pas uit ballingskap vanaf Babel in Jerusalem aangekom het en
hierdie drie manne het silwer en goud by hulle gehad – silwer en goud wat hulle
vanaf Babel saamgebring het. Ons sien in Esra 1 :7-11 dat Sesbassar deur Kores (Cyrus)
aangestel was as eerste
goewerneur in Juda en hy het opdrag van Kores ontvang om al die goud en silwer
wat deur die Babiloniërs weggevoer was, terug te neem na Jerusalem. Hierdie
drie manne het waarskynlik intussen en in opdrag van Sesbassar van die goud en
silwer solank na Jerusalem geneem. Sagaria ontvang ʼn boodskap van die Here dat
hy hierdie goud en silwer moes gaan haal.
Sagaria
se opdrag het ook behels dat hy dieselfde dag nog hierdie drie manne moes
besoek, want daar was nie tyd om vermors te word nie en dit plaas die klem op
die belangrikheid van dít wat verder gedoen moes word met hierdie goud en
silwer.
Ons lees in v.11 van ene Jesua (of Josía soos dit in die OAV vermeld word)
en hierdie man is net so onbekend soos die drie ballinge wat terug gekeer het
uit Babilon. Ons vind tog egter ʼn wenk oor wie dit moontlik mag wees in die
verwysing na die feit dat hy die seun van Sefanja was. Sefanja word ook in 2
Kon.25:18 vermeld en daar sien ons dat Sefanja die “tweede-in-bevel”
hoëpriester was tydens die ballingskap en daarom kan aanvaar word dat Josía die
tweede priester in Jerusalem was, tydens die gebeure waarvan ons gelees het en
derhalwe was die huis van Josía dan ook die ideale plek vir die simboliese
seremonie waarvan daar in v.11 sprake is, nl. die kroning van die hoëpriester. Wat
ons egter verseker weet, is dat Josía voortaan ʼn baie belangrike rol in die
lewen van die Israeliete sou speel.
Nadat Sagaria die goud en silwer as bydraes van die drie manne
ontvang het, maak hy ʼn kroon of krone daarvan – ek sê krone omdat hierdie woord
in sy oorspronklike vorm in die meervoudsvorm geskryf was. Hier is weereens
baie redenasies waarom die enkelvoud eerder gebruik moet word en waarom nie, ek
wil egter net kortliks die volgende daarop sê:
·
Daar was twee metale teruggebring van Babilon;
·
Beide metale moes gebruik word om die opdrag uit
te voer;
·
Die hoëpriester se kroon het altyd net uit goud
bestaan ~ Hy
het die tulband om sy kop gesit en die goue blom aan die voorkant van die
tulband vasgesit as ’n besondere wydingsteken. Dit is alles gedoen soos die
Here Moses beveel het (Lev.8:9 – sien ook Eks.39:30).
·
Die Ou Testamentiese konings se krone het ook
net uit goud bestaan – ons sien in Ps.21:1-3 dat Dawid hom verheug het in die
goue kroon wat die Here aan hom gegee het. In Ester 8:15 lees ons van Mordegai
se goue kroon ~ Mordegai het van die koning af weggegaan in ’n
koninklike kleed van blou en wit linne, met ’n groot goue kroon op, en ’n
mantel van fyn linne en pers stof aan. Die stad Susan het gejubel en gejuig.
Op die oog af lyk dit dus asof hier twee verskillende krone gemaak
moes word, maar kan ʼn mens ook aanvaar dat hier net een kroon ter sprake was,
maar omdat ons nie regtig uit die konteks kan agterkom vir wie so ʼn tweede
kroon gemaak moes word nie, is die moontlikheid aanloklik om die opsie van net een kroon wat
gemaak moes word, te aanvaar, maar dat die kroon uit beide metale moes bestaan
– maar netnou meer hieroor.
Dit is baie belangrik om daarop te let dat die twee ampte van
koning en priester altyd apart van mekaar gehou was – daar was dus nooit ʼn
koning wat terselfdertyd koning en hoëpriester was nie (of andersom nie) en wat meer is, die hoëpriesters
het almal altyd uit die stam van Levi gekom en die konings uit die stam van
Dawid. Hierdie saak was so ernstig dat toe Saul in 1 Sam.15 besluit het om self
ʼn brandoffer in Samuel se afwesigheid in die tabernakel te bring, het die Here
hom as koning uit sy amp verwyder.
Sagaria was egter ʼn uitsondering op die reël, want hy was nie
alleen ʼn profeet nie, maar hy het ook diens gedoen in die tempel. In Sag.1:1 sê
hy dat hy seun van Berekja, seun van Iddo is. Iddo was die hoof van die priesterlike
families wat uit ballingskap gekom het (Neh.12:4, 16) – dit het dus van Sagaria ʼn priester gemaak.
Sagaria het egter terselfdertyd ook uit die nageslag van die koninklike
familie van Dawid gekom.
Ons moet ook in gedagte hou dat die volk se hoop op die koms
van die Messias op hierdie stadium na ʼn lang tydperk van baie swaarkry in
ballingskap, baie hoog was en baie mense het waarskynlik gedink dat Sagaria die
uiteindelike Messias is, omdat hy by wyse van spreke en soos ons nou net gesien
het, oor beide koninklike- sowel as priesterlike “bloed” beskik het – ʼn “volmaakte”
getuigskrif en “kwalifikasie” derhalwe, om geïdentifiseer te word as die Joodse
Messias. Ons sien ook die uitdrukking “Loot” (of Spruit – OAV) in Sag.6:12-14 – die Loot
wat sou regeer en die tempel bou (lw. nie herbou nie) – hierdie profesie pas dus vir Sagaria soos
ʼn handskoen, want hy is betrokke by die herbou van die tempel.
Iets wat nog verder kon lei tot die oortuiging dat Sagaria die
Messias is, kan gegrond word op dit wat in Ps.110 deur Dawid voorspel is, nl. dat
die Messias, beide Koning en Priester volgens die orde van Melgisedek sou wees
– koning en priester dus van Salem – die plek wat later Jerusalem geword het. Wat
die volk waarskynlik nie verder onthou het nie, is die woorde in Hebr.7:1-3 wat
sê dat Melgisedek nié oor ʼn geslagregister beskik het nie en daarom kon Sagaria
nie die Messias gewees het nie, omdat Sagaria ʼn aangetekende en bekende
geslagsregister gehad het.
Maar terug na die twee metale en die krone. Ons het netnou
gesien dat daar twee krone gemaak moes word en dit word gegrond op die
tekskritiese feit dat die meervoudsvorm gebruik word wanneer hier gepraat word
van “krone”. Ons kan dus aanvaar dat twee verskillende krone gemaak moes word –
een van goud (die hoëpriesters
en konings se krone was van goud) en nog ʼn kroon, gemaak van silwer. Ons
teks sê ook wie moet watter een kry, nl. die goue vir die hoëpriester Jesua en
die ander vir die man genaamd “Loot” of “Spruit”.
Wie is hierdie “Loot”? Is dit Serubbabel wat in 538 v.C. uit
ballingskap terug gekeer het en begin het om die tempel te herbou, of was
hierdie kroon bestem vir ʼn ander onbekende persoon – óf dalk ʼn anonieme
Messiaanse figuur in die toekoms?
As ons na Jer.23:5 kyk, sien ons ʼn verwysing na hierdie
“Spruit” ~ Daar kom ’n
tyd, sê die Here, dat Ek vir Dawid ’n regverdige spruit sal laat opskiet, ’n
koning wat verstandig sal regeer. Hy sal die reg eerbiedig en regverdig regeer
in sy land. In Sag.6:8 lees ons dat hierdie “Loot” die tempel van
die Here sal bou. Dit wil dus op die oog af lyk asof Serubbabel die een is wat
hierdie tweede kroon moet kry, want hy is die volk se leier op die stadium en
hy herbou die tempel. Dit kan egter ook nie hy wees nie, want na koning Sedekia
wat 11 jaar geheers het (597-586
V.C.) weet ons, was daar nooit weer ʼn koning wat oor Israel geheers het
nie. Die enigste ander moontlikheid is derhalwe dat hierdie “Loot” ʼn Messiaanse
figuur is wat nog in die toekoms voorlê, trouens Ps.110 praat reeds hiervan,
wanneer Dawid voorspel dat hierdie Messias, beide koning en priester sal wees –
vv.1-2 ~ Die Here
het vir my heer die koning gesê: “Kom sit aan my regterhand, en Ek sal jou
vyande aan jou onderwerp.” 2As die Here die septer, simbool van u
mag, uit Sion aan u oorhandig, heers dan oor u vyande! V.4
~ 4Die Here
het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Jy sal altyd priester wees in
die priesterorde van Melgisedek.”
Daar kan maar net Een wees wat aan hierdie beskrywing voldoen
en dit is die Messias, Jesus Christus. Dit is dan ook so dat ons in Luk.1:32-33
sien dat die Here God aan Hom die troon van sy vader Dawid sal gee, en Hy sal
Koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid.
4. SAGARIA
– WAAROM DIT DOEN?
Waarom moes Sagaria die goue koninklike kroon op die hoëpriester
Jesua se kop plaas as daar nie meer ʼn koning in Israel sou wees nie? Die
antwoord hierop is baie eenvoudig – dit was ʼn simboliese handeling, want dit
het gesimboliseer dat die “Loot”, beide ons Koning sowel as ons Priester sou
wees – die twee krone verteenwoordig dus ʼn dubbele beeld, maar voortaan sou
daar net ʼn Koninklike kroon wees – een kroon wat baie krone verteenwoordig en
baie koninkryke van die wêreld oor wie die Hoëpriester en Koning sou regeer.
Vv.12-13 is dus ʼn profetiese vooruitskouing van Jesus
Christus, die ewige en enigste Messias wat sou kom. Ene prof. C. Feinberg, ʼn
uitstaande Messiaanse Jood en kenner van die Ou Testament, beklemtoon die
betekenis van hierdie twee verse só: “Dit
is een van die mees merkwaardige en kosbaarste Messiaanse profesieë, en daar is
nie ʼn duideliker profetiese uitspraak in die hele Ou Testament oor die Persoon
van die beloofde Verlosser, die ampte wat Hy sal beklee en die taak wat Hy sal
verrig nie.”
Spoedig sal die magtige Priester-Koning van Israel én die hele
wêreld kom om sy vyande te oordeel, die oorblyfsel in Israel te red en die
wêreld uit die hemelse Jerusalem te regeer. Sy heiliges sal sy heerlikheid met Hom
deel en saam met Hom as konings regeer.
Hierdie hele profetiese drama wat hom in ons gelese gedeelte afspeel,
gaan dus glad nie oor Sagaria, óf Jesua, óf Serubbabel en ook nie oor Josía
nie, maar eerder oor dié Een wie Jesua verteenwoordig – dié Een na wie Jesua
heenwys, nl. Jesus die Christus.
5. DIE
LOOT SE AMPTE:
Wie en wat is ons Loot, Jesus Christus?
·
Christus
is Koning: As Koning dra Christus ʼn kroon. Met Sy eerste koms het Hy ʼn
doringkroon gedra, maar met Sy tweede koms sal Hy die kroon van heerlikheid dra
en kom om te heers ~ Sy oë
het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was ’n
Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self (Openb.19:12).
Christus is dus ons Koning.
·
Christus
is Hoëpriester: In v.13 van ons Skriflesing, lees ons dat Hy Priester op Sy
eie troon sal wees en as Priester tree Hy op as tussenganger tussen die heilige
God en die sondegevalle mens. Jesus moes o.a. ook Mens word ten einde met ons
te kan identifiseer, sodat Hy tot God kan nader namens ons ~ Daarom
moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en
getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen
(Hebr.2:17).
Christus is derhalwe ook Hoë Priester.
Die priesters tydens die Aäronitiese bedeling het nooit gesit
terwyl hulle in die Tempel was nie (daar was geen stoele nie) omdat hulle werk nooit afgehandel was
nie. Hulle moes voortdurend sondeoffers gebring het vir hul eie sonde en dié van
die volk sʼn, terwyl Jesus net één offer gebring het en dit was ʼn voldoende
offer- en ʼn aanvaarde offer vir God en daarom sit Hy nou aan die
regterhand van God ~ Maar Jesus Christus het één offer
vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou
wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is (Hebr.10:12-13).
In die lig hiervan, sal geen mens ooit volkome vrede kan
ervaar as Jesus Christus nie beide Koning én Hoëpriester in sy of haar lewe is
nie, want ons het ʼn volmaakte Hoëpriester nodig om die volmaakte offer te bring,
ten einde ons skuld voor God te hanteer en wanneer jy jou volle vertroue in Hom
stel, dan is daardie offer op jou van toepassing.
·
Jy en ek het egter ook ʼn Koning nodig om oor jou lewe te heers
en aan wie jy jouself moet onderwerp – Hy is beide Koning en Hoëpriester en
daarom kom alle lof en eer Hom alleen toe.
6. DIE LOOT
SE TEMPEL:
V.12 eindig met dit waarmee v.13 begin, nl. dat “die
Loot”, die tempel self sal bou – met die
herhaling van hierdie feit word die klem geplaas op die feit dat Christus self
Sy tempel (Sy Kerk) bou.
Die gedagte met hierdie herhaling was enersyds om die moeë werkers wat aan die
herbou van die tempel deelgeneem het, te bemoedig om hul werk te voltooi. Dit
wys egter ook heen en veral, na die Kerk wat Christus bou ~ En
Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die
magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt.16:18).
Natuurlik is hierdie Kerk, ʼn geestelike tempel (Ef.2:21), waarheen al die nasies van die
wêreld sal stroom (bedoelende
al die uitverkorenes uit al die volke en nasies en tale – sien Jes.2:1-4;
56:6-7; Eseg.40:48; Miga 4:1-7; Hag.2:7-9).
Die hoof gedagte met die Tempel is om heen te wys na God se
woonplek onder Sy kinders, die plek waar Sy heerlikheid en teenwoordigheid onder
Sy kinders weerspieël was. Die objekte in die Tempel het Sy karakter verteenwoordig
en dit alles dui vir ons aan in watter gesindheid ons tot Hom moet nader. Die
Ou Testamentiese Tempel was die naaste “iets” waar mense God kon sien en die
wonderlike is dat ons as gelowiges onder die nuwe Verbond, nou self die Tempel
van die lewende God is – die Tempel is nou ín ons ~ Hoe kan ’n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en
afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: “Ek sal
onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees” (2 Kor.6:16) en 1
Pet.2:5 ~ Laat
julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom
te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God
welgevallig is.
7. DIE
LOOT SE VOLGELINGE:
In v.15 lees ons ~ Mense sal van ver af kom en aan die tempel
van die Here bou, sodat julle sal weet dat die Here die Almagtige my na julle
toe gestuur het. Hier word daar verwys na mense wat van ver gaan kom
en aan die tempel gaan werk en dit dui op die impak wat die gelowiges van oor
die hele wêreld op die kerk van Christus gaan hê – Openb.21:24-26 ~ Die
nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen
luister daaraan. 25Die poorte daarvan word gedurende die hele dag
nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie. 26Die mense
sal luister en die rykdom van die nasies daarheen bring.
8. AFSLUITING:
Ter afsluiting kan ons net kortliks na die laaste gedeelte na
v.15 kyk ~ Dit sal
gebeur as julle in alles gehoorsaam is aan die Here julle God.
Hierdie is een van daardie “indien-beloftes” waarna ons die afgelope Woensdag
gekyk het nl. daardie beloftes wat voorafgegaan word deur die woord “indien”,
of “as”, of o.a. die uitdrukking, “Jy moet, dan…”. Wanneer ons so ʼn belofte
sien moet ons weet dat dit bepaalde gehoorsaamheid vereis, voor ons kan verwag
dat die belofte vervul sal word in of deur my lewe.
Indien daar sulke “indien- beloftes” is en ons ignoreer die
voorwaardes, moet ons ook weet (al neem ons nie die belofte vir onsself nie) dat ons
ongehoorsaam is. Ons is m.a.w. baie keer geneig om die belofte vir onsself toe
te eien, maar ons vergeet gerieflikheidshalwe van die voorwaardes van swaarkry
indien ons nie aan die voorwaardes voldoen nie.
Net
so met die vervulling van die belofte in v.15, nl. ~ Dit sal gebeur
as julle in alles gehoorsaam is aan die Here julle God. Die
Here sal toesien dat Sy planne vir die herstel en opbou van Jerusalem en die
tempel volgens plan verloop, maar die voorwaarde is dat die volk na Sy opdragte
sal luister. Presies dieselfde geld vir ons vandag – indien ons verlang dat die
Here ons herstel en opbou moet ons ook na Sy opdragte luister – moet ons na Sy
Woord luister en dit gehoorsaam, want dan sal Hy ons, wat nou Sy tempel is,
opbou in die allerheiligste geloof.
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 25 Januarie 2015