Sunday, December 28, 2014

“Hy moet meer word en ek minder”

1.     INLEIDING:
In Joh.3:1-21 gee Johannes ’n gesprek weer, waarin Jesus die weg tot saligheid uiteengesit het en waarby Johannes enkele opmerkings bygevoeg het. Hy het verder ook reeds in hoofstuk een daarop gewys dat Johannes die Doper bloot net ’n getuie was wat getuig het oor die koms van die Messias (Seun van God). Johannes draai egter die soeklig vir ’n oomblik weer weg van Jesus en fokus weer op die "Die Doper" en weer sê hy dat Johannes slegs ’n boodskapper is – ’n getuie is van die Verlosser wat gekom het.
       Nadat ʼn mens die Evangelie van Johannes van hoofstuk 1 af, tot en met 3:21 gelees het, weet jy nou wat Jesus van mense verwag. Jy weet dat Jesus ’n radikale wedergeboorte verwag. Jy weet ook dat jy vorentoe in die Evangelie sal sien dat Jesus vir jou sonde gaan sterf; jy weet dat diegene wie in Jesus glo, die ewige lewe gaan ontvang, terwyl diegene wie nie glo nie, alreeds veroordeel is. Met dit in gedagte wil Johannes nou vir oulaas daarop wys dat "Die Doper" slegs ’n getuie was én dat "Die Doper" hom volkome aan Jesus onderwerp.

2.     SKRIFLESING: 
Joh.3:22-36 ~ Hierna het Jesus en sy dissipels na die platteland van Judea toe gegaan. Hulle het ’n rukkie daar gebly en mense gedoop. 23Johannes was ook besig om te doop, by Enon naby Salim, waar daar baie water was. Die mense het na hom toe gekom en is deur hom gedoop. 24Johannes was nog nie in die tronk gesit nie. 25Daar het toe tussen Johannes se volgelinge en ’n Jood ’n woordewisseling ontstaan oor die reiniging. 26Hulle het na Johannes toe gekom en vir hom gesê: “Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, van wie u getuig het, weet u, Hy doop ook, en almal gaan na Hom toe.” 27Johannes het hulle geantwoord: “Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie. 28Julle is self my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Christus nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’29Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort; maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul. 30Hy moet meer word en ek minder. 31“Hy wat van bo af kom, is bo almal; hy wat van die aarde is, hoort by die aarde en praat die taal van die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal. 32Wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy, en tog aanvaar niemand sy getuienis nie. 33Wie sy getuienis aanvaar het, het daardeur bevestig dat God geloofwaardig is. 34God het Hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking. 35Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. 36Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.” 

Ons kan ons gelese gedeelte in drie hoofdele verdeel:
·           Johannes die Wegwyser (vv.22-26);
·           Johannes die Getuie (vv.27-29);
·           Johannes die Nederige (vv.30-36).

3.     JOHANNES DIE WEGWYSER:
Johannes (die outeur van hierdie Evangelie) beskryf vir ons ’n toneel waar Jesus en Sy dissipels uitgewyk het na die platteland van Judea, waar Jesus mense o.a. gedoop het. Johannes die Doper was terselfdertyd in die omgewing van Enon, naby Salim, waar hy steeds van Jesus die Messias getuig het – ook hy het nog steeds mense gedoop. Ons is nie vandag presies seker waar Enon was en hoe ver dit van die plek was waar Jesus op daardie selfde oomblik besig was om mense te doop nie. Daar bestaan wel sterk getuienisse dat Enon in die omgewing was, waar heelwat fonteine ontspring het en dit was ook binne Griekse regeringsgebied en derhalwe buite die invloedsfeer van Herodus Antipas.

As ons na v.25 kyk, sien ons dat daar ’n argument tussen die dissipels (volgelinge) van "Die Doper" en ’n Jood ontstaan het. Johannes se doop word deur die Jode bevraagteken en wel in die lig van die Joodse reinigingsgebruike (dit blyk duidelik uit v.25).

As ons na v.26 kyk, lyk dit ook asof Johannes se volgelinge, Jesus as kompetisie vir Johannes die Doper sien, veral omdat Jesus soveel "sukses" behaal het. Hulle wil by Johannes weet wie se doop die regte doop is, want beide Jesus en Johannes doop. Johannes word egter nie bedreig deur hierdie gestryery en vrae en die feit dat Jesus meer "sukses" behaal nie, want soos ons reeds in 1:6 gesien het, het Johannes onomwonde verklaar dat hy slegs deur God gestuur is om ’n boodskapper vir die Lig wat aan't kom was, te wees – Hy is slegs die Wegwyser en nie die Christus self nie.

Johannes, het ons gesien, sê dat die redenasie tussen die Jood en Johannes se dissipels, o.a. oor die Joodse reinigingsrituale gegaan het. Dit is iets wat nie maar net ongesiens verby kan gaan nie, want dit is duidelik dat daar tydens hierdie woordewisseling, parallelle getrek was tussen die reinigingsrituele en die doop. In beide is o.a. water gebruik en waarskynlik wou die Jood weet of Johannes se doop ook mense reinig soos wat die geval was met die reinigingsrituele in die Ou Testament – bv. Num.19:17-19 ~ Wanneer ’n persoon op hierdie manier onrein geword het, moet iemand van die as vat van die sondeoffer wat verbrand is, dit in ’n pot sit en vars water daaroor gooi. 18Dan moet iemand wat rein is, ’n hisoptakkie in die water doop en die water sprinkel oor die tent, oor al die gebruiksvoorwerpe en oor die mense wat by was. Dieselfde moet gebeur met iemand wat aan doodsbene geraak het of aan die lyk van iemand wat doodgemaak is of aan iemand wat gewoon gesterf het of aan ’n graf. 19’n Rein persoon moet op die derde en die sewende dag die water oor die onreine sprinkel, en op die sewende dag moet die onreine homself reinig. Daarna moet hy sy klere was en hom bad, dan sal hy teen die aand rein wees. Die hele kwessie van reiniging was derhalwe ’n baie belangrike saak vir die Jode soos ons bv. ook in Mark.7:1-23 kan sien en hierdie Jood wou waarskynlik weet waarom hy nou ook hierdie nuwe vorm van reiniging moet navolg en wat meer is, daar is nog ’n ander Man (Jesus) wat ook doop – wie is nou eintlik reg en wie nie?

4.     JOHANNES DIE GETUIE:
Met hierdie Jood se konfrontasie wat Johannes se volgelinge oënskynlik onkant gevang het en ook die feit dat hulle allerlei gerugte oor Jesus se "suksesse" hoor, laat hulle na Johannes gaan en hulle vra hom om duidelikheid aan hulle te gee oor hierdie vrae waarmee hulle te kampe het. Eienaardig genoeg meld hulle niks oor die hele kwessie van die reinigingsredenasies nie, maar is meer bekommerd oor die feit dat Jesus meer aftrek kry as Johannes.

Johannes het na hulle geluister en toe met hierdie merkwaardige woorde vorendag gekom – vv.27-29 ~ Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie. 28Julle is self my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Christus nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’29Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort; maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul. Johannes raak ’n baie belangrike beginsel hier aan, nl. dat geen mens enige iets kan besit, as dit nie vanuit die hemel aan hom gegee word nie.

Johannes het hier spesifiek gepraat van Jesus se gewildheid en die gesag wat noodwendig daarmee gepaard gegaan het. Hierdie is ’n baie belangrik opmerking, omdat daar so baie mense is wat dink dat hulle oor bepaalde gawes, of talente, of materiële dinge beskik, sonder dat hulle dit van God ontvang het, m.a.w. hulle skryf hierdie talente en gawes, ens. aan hulle eie vermoëns en gene, ens. toe en God wat die Gewer van dit alles is, kry geen eer daarvoor nie.  

5.     JOHANNES DIE NEDERIGE:
Johannes se nederigheid blyk duidelik wanneer hy sy volgelinge verder antwoord en vir hulle sê dat hy nie die Christus is nie. Hy eien homself geen gesag of posisie toe nie. Hy spreek indirek sy verbasing uit dat hulle vir hom kom vra wie nou eintlik die belangrike een is – hy of Jesus, want hulle het dan al die antwoord in 1:20 gekry toe hy gesê het ~ Ek is nie die Christus nie.

Om dit wat hy tot nou gesê het, te illustreer, doen hy dit aan die hand van die huwelik. Hy sê dat die bruidegom die belangrike persoon by ’n huwelik is, maar dat sy vriend wat hom tydens die huwelik bystaan (in ons tyd – ’n strooijonker) egter ook ’n baie belangrike funksie vervul – hierdie vriend moet baie reëlings tref t.o.v. die seremonie en dinge wat die bruidegom aangaan – o.a. moet hy toesien dat die bruidegom by die bruid uitkom (onthou: die manne het na die bruid se huis gegaan vir die seremonie en daarna het hulle na die bruidegom se huis gegaan vir die dae lange feesvieringe). Die oomblik as die strooijonker se verantwoordelikhede egter afgehandel is, verdwyn hy op die agtergrond, want nou is dit die bruid wat langs die bruidegom staan – dit is die bruid wat aan die bruidegom behoort en die strooijonker deel nou net in die bruidegom se vreugde.

Johannes voel presies net so oor die Bruidegom Jesus en hy gaan ook nou op die agtergrond verdwyn. Johannes sê dus in geen onduidelike taal aan sy volgelinge, dat Jesus en nie hy, die Bruidegom is.

In sy reaksie op sy volgelinge se vraag, raak Johannes die Doper ’n tweede belangrike beginsel in v.30 aan, wanneer hy sê dat Jesus meer moet word en hy wat Johannes is, minder. Hierdie uitspraak van Johannes is waarskynlik een van dié grootste en belangrikste uitsprake wat nog ooit oor enige mense se lippe gevloei het ~ Hy moet meer word en ek minder! Hierdie is ’n pragtige samevatting van wat heiligmaking in ’n gelowiges se lewe behels. Waarskynlik een van die grootste struikelblokke in ons as gelowiges se lewens is trots – daarom dat Johannes verwys het na die eerste beginsel in v.27, nl. dat alles waaroor ons mag beskik en wat ons mag besit, vanuit die hemel aan ons geskenk word en nie uit onsself kom nie. Trots verdwyn egter soos mis voor die son wanneer eer en dank aan Christus gegee word vir alles wat ons is of het ~ Hy moet meer word en ek minder!

       Ek wil net kortliks iets oor vv.31-36 van ons Skriflesing sê voor ek by ’n toepassing van my boodskap kom. In hierdie gedeelte van ons gelese gedeelte vind ons iets van ’n herhaling, of ’n vaslegging van wat Johannes tot nou in sy antwoord op sy volgelinge se vraag, gedeel het. Hy lewer ’n wonderlike getuienis t.o.v. Jesus en hy verklaar in geen onduidelike taal, dat Jesus...:
·           Vanuit die hemel gestuur is en dat Hy met groter gesag beklee is as enige persoon of enige iets op aarde.
·           Dat Jesus op grond van waarneming gepraat het en nie vanuit teoretiese kennis nie – Hy praat dus oor die dinge wat Hy rondom Hom sien en ervaar.
·           Dat Jesus met God se gesag gepraat het – Hy het dus, omdat Hyself God is, God se woorde gespreek.
·           Dat God die Vader se liefde tot gevolg gehad het dat Hy Jesus toegerus het met die nodige gesag ten einde Sy sending en doel te volvoer.

       Hierdie eienskappe van Jesus het Hom in alle opsigte en by verre verhef bo Johannes die Doper, alhoewel "Die Doper" ’n baie belangrike funksie vervul het deur van Jesus te getuig en die mense se aandag op Jesus gevestig te kry. Wanneer Johannes minder word en Jesus meer, word die aandag dus onmiddellik op Jesus gevestig.

       Johannes wys egter ook daarop dat Jesus nie maar net ’n boodskapper was wat deur God gestuur is nie. Nee, Hy was self die objek van geloof – in Hom moes die mense hulle geloof plaas ten einde gered te word en sodoende die ewige lewe in besit te kan neem, terwyl diegene wie nie in Jesus glo nie, reeds onder die oordele van God staan [dit is interessant om te weet dat hierdie die enigste plek in die ganse Johannes Evangelie is, waar die woord "toorn" (O.A.V), of wrath (E.S.V., ens.) gebruik word].

6.    TOEPASSING:
Ek wil graag ten slotte vir ’n oomblik stilstaan by Johannes se grootse verklaring ~ Hy moet meer word en ek minder! Wat beteken hierdie woorde regtig? Wayne Mack sê in sy boek "The Fear Factor", When God calls a man to come to Christ, He calls him to come and die: to die to self, to die to selfish desires, to die to living for this world, and to die to all the idols of his heart. Jesus het dit baie duidelik gemaak toe Hy in Luk.9:23 gesê het ~ As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg.

Ek glo dus dat wanneer gelowiges hul kruis opneem, dan word Christus meer, m.a.w. wanneer ek myself neerlê, word Christus verhoog. Paulus bevestig dit wanneer hy in Fil.3:10 sê ~  Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood. Christus word dus meer wanneer ons met Hom identifiseer in Sy krag en Sy lyding en dit prakties toepas in ons lewe.

       Die vraag is egter wat dit beteken en hoe moet dit ’n realiteit word in my lewe? Ek glo dat ons deel van ons antwoord in Jesus se Bergpredikasie vind (kom ons blaai saam na Matt.5:1-12) ~ Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, 2en Hy het hulle geleer en gesê: 3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 4Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. 5Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. 6Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. 7Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. 8Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. 9Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. 10Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 11“Geseënd
is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. 12Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.” Hierdie is die dinge wat Jesus sê ons móét doen – en wees verseker, dat om hierdie dinge te doen, vra om jou kruis op te neem en Jesus te volg – ja, tot die dood toe onsself neerlê en nie ons eie belang te soek nie. Wanneer ons dít doen, sál ons vind dat Jesus meer word in ons lewe en ons minder.

       Kom ons kyk na elkeen van hierdie fasette:
·           In vers 3 sê Jesus dat ons geseënd sal wees wanneer ons weet hoe afhanklik ons van Hom is. In die moderne era waarin ons leef, leer ons nie meer om afhanklik te wees nie, trouens om afhanklik te wees, is ’n skeldwoord. Die wêreld leer ons om trots te wees; om ons selfbeeld te bou en om  onafhanklik te wees en in die proses het ons ook "ontleer" om afhanklik van God te wees. Jesus leer ons dat ons die Koninkryk van die hemel as beloning kry as ons afhanklik van Hom is, trouens dit is ’n waarheid wat al sedert die profeet Jesaja se tyd belowe word. Jesaja sê in Jes.57:15 ~ So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in ’n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes. In Jak.4:7-10 leer Jakobus ons hoe ons afhanklik van God kan wees ~ Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. 8Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. 9Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. 10Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.
·           Tweedens sê Jesus in v.4 dat ons geseënd sal wees wanneer ons treur. Weereens stel die wêreld ’n wêreld en lewe voor van geluk ten alle koste. Waaroor moet ons treur? Ons moet treur oor ons sonde en gebrokenheid. Hoe doen ons dit? Hier kan ons weer na Jak.4 kyk en dan spesifiek die gedeelte waar daar staan ~ Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. 9Bekla julle ellende, treur en huil! (v.8-9).
·           In v.5 sê Jesus dat die sagmoediges geseënd sal wees. In ons dae word mense wat sagmoedig van geaardheid en ’n sagte gees het, as papbroeke en "sissies" beskou. In teenstelling daarmee sê Jesus in Matt.11:29-30 ~ Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig. Mense wil in ons dag oor mag beskik en in die proses vertrap hulle andere; staan hulle op hul regte en wil hulle altyd hulle sin hê. Niks is goed genoeg nie en niemand kan iets beter doen as hy nie. Jesus het nie op Sy regte gestaan toe Hy gekasty en bespot is nie. Hy het nie andere vertrap in ’n poging om Sy kruisdood te ontglip nie. Nee, Hy was nederig en sagmoedig en Hy wil hê dat ons ook so moet optree – en ons beloning? Ons sal die nuwe aarde ontvang!
·           Jesus sê ook dat ons moet honger en dors na wat reg is. Wat beteken dit? Dit beteken dat ons voortdurend ’n begeerte sal hê na God se geregtigheid. Dit dui m.a.w. daarop dat ons heiligmaking voortdurend sal najaag.
·           Ons ervaar in toenemende mate gevoelloosheid in die mensdom rondom ons – mense het net nie meer tyd en empatie en simpatie met mekaar nie – hulle "voel niks meer vir mekaar" nie. Daarteenoor leer Jesus ons om onsself neer te lê en ons kruis op te neem, deur barmhartig (Eng. = "merciful") teenoor andere te wees. Die mensdom het nie meer tyd en genade vir mekaar nie. Jesus sê dan ook dat diegene wat barmhartig optree, self barmhartigheid as beloning sal ontvang – en wie sal hierdie barmhartigheid skenk? God die Vader self!
·           Vers 8 leer ons dat ons rein van hart moet wees. Indien ons God wil sien, moet ons besef dat ons lewe deurspek is van sonde en dat ons voortdurend geneig is tot sonde en daarom moet ons, ons sonde voor Hom bely en ons bekeer. Dit is só in teenstelling met die wêreld wat nie eens bewus is van hul sonde nie en hulle gee ook nie eers regtig om indien hulle sondig nie.
·           Die tweede laaste eienskap wat ons moet uitleef, ten einde ons kruis op te neem en ons neer te lê voor Christus, is volgens v.9, "vrede". Die wêreld jaag ook vrede na, maar dit is primêr gerig op die self. Elkeen wil vrede in homself hê en hy gee nie ’n snars om of hy andere se vrede versteur in die proses nie. Ons moet vredemakers wees en nie in die eerste plek vrede vir onsself soek nie. Op vertikale vlak moet ons die vredesboodskap van Jesus Christus aan ’n verloregaande wêreld verkondig, sodat vrede tussen sondaar en God bewerkstellig kan word. Ons moet egter ook op horisontale vlak vredemakers wees omdat God ’n God van vrede en eenheid is. Dit is waarom Paulus ook in Fil.4:2 ’n oproep gedoen het tot vrede en eenheid tussen Euodia en Sintige.
·           Dit is nie maklik om ’n toegewyde gelowige in hierdie lewe te wees nie, want die wêreld dink niks van Christene nie en is selfs vyandiggesind teenoor gelowiges. Die wêreld dwing ons voortdurend om kompromie te maak en ontrou aan God te wees, maar Jesus sê in v.10 dat ons getrou moet bly – ons moet vas bly staan, al vervolg en spot die wêreld ons, want as ons vas bly staan te midde van vervolging (ja, selfs tot die dood toe), sál ons die Koninkryk van God beërwe!

       Geliefdes, ons hét die krag ontvang om ons kruis op te neem en onsself te verloën en sodoende Christus meer te laat word en ons minder. Petrus sê in 2Pet.1:3 ~ Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.

       Ek wil afsluit met die woorde in 1Tes.4:3a ~ Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. God wil hê dat ons heilig moet lewe en as Hy dit van ons verwag, behoort dit tog sekerlik moontlik te wees, nie waar nie? Die vraag is dus of ek bereid is om God toe te laat om heiligmaking in my te bewerk. Is ek en jy bereid dat Jesus Christus se lewe en wil deur ons weerspieël kan word? Ons moet ophou sê: O, ek wil so graag ’n heilige lewe lei. Ons moet heilig begin lewe. Ons moet ook ophou om vir die Here te vra om ons heilig te maak. Hy het ons reeds, met groot piëteit gesê, heilig gemaak toe Hy ons uit genade gered het. Hy het alles volkome gedoen om ons redding en heiligmaking moontlik te maak (Rom.5:8 is baie duidelik daaroor ~ Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was). Ons moet in gehoorsaamheid aan die Woord begin lewe – dit is wat nodig is om heilige lewens te leef; dit is wat nodig is om te groei in heiligmaking; dit is wat nodig is om minder te word sodat Christus meer kan word!


Mag die woorde wat William Carey aan ’n vriend gerig het, toe Carey op sterwe gelê het, ook waarlik ons opregte hartsversugting en lewenspraktyk wees – Carey het gesê: When I'm gone, don't talk about William Carey; talk about William Carey's Saviour. I desire that Christ alone might be magnified.

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Drie Riviere, Vereeniging) - Sondagoggend 28 Desember 2014

Thursday, December 25, 2014

Die Essensie van Jesus se Maagdelike Geboorte

1.     SKRIFLESING:
       Luk.1:26-38 ~ In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ’n maagd in Nasaret, ’n dorp in Galilea. 27Sy was verloof aan Josef, ’n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. 28Toe die engel by haar kom sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” 29Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. 30Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. 31Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. 32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.” 34Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ’n man gehad het nie?” 35Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36Kyk, ’n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ’n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37Niks is vir God onmoontlik nie.” 38Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan.
 
2.     TEKSVERSE:
       Luk.1:34-35 ~ 34Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ’n man gehad het nie?” 35Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek.

3.     INLEIDING:
       Ons vier vandag die geboorte van Jesus Christus die Verlosser en Koning en wanneer ons die Christusfees vier, gaan dit oor veel meer as bloot net skaapwagters; ʼn baie spesiale ster wat oor Bethlehem gehang het; oor Wyse manne uit die ooste; ʼn krip in ʼn stal, ens. Daar is soveel ander aspekte wat ons met mekaar moet en kan deel op hierdie spesiale dag – so sien ons o.a. een ander baie belangrike aspek van Jesus se vleeswording in ons Skriflesing en dit is dat Hy uit ʼn maagd gebore was en dit is op hierdie aspek dat ek ons aandag vanoggend wil vestig.

       Die vraag wat by die ongewone en ongeredde man op straat (en moontlik ook talle gelowiges) bestaan, is waarom nou juis ʼn maagd? Was dit werklik nodig dat Jesus uit ʼn maagd gebore moes word?

       Ons hoor gedurig en veral die afgelope paar jaar en spesifiek vanuit Post-Moderne kringe, dat Jesus nié uit ʼn maagd gebore was nie, of dat dit nie belangrik is nie. Ek sê die afgelope paar jaar, maar eintlik is dit iets wat al vir jare, trouens vir eeue deur mense gesê word. Satan weet ook dat die Skrifwaarheid t.o.v. van Jesus se maagdelike geboorte ʼn essensiële waarheid is wat hy ten alle koste moet teëstaan, want wanneer mense dít in twyfel begin trek, het hy as die vyand gewen.

       Reeds tydens Jesus se aardse bestaan het Hy te doen gehad met hierdie vertwyfeling en selfs openlike oortuiging by mense, nl. dat Hy nie uit ʼn maagd gebore is nie ~ Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?” (Joh.6:42). Toe die Jode, Jesus wou doodmaak en Hy in Joh.8 ʼn gesprek met hulle gevoer het, het hulle o.a. vir Hom gesê ~ Julle doen wat julle vader gedoen het.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net die een Vader, naamlik God” (Joh.8:41). Hulle het dus reguit vir Jesus gesê dat Hy ʼn buite-egtelike baba was en daardeur Sy maagdelike geboorte verwerp. Baie mense het deur die afgelope eeue (en selfs vandag nog) geglo dat Jesus ʼn buite-egtelike kind van ʼn Romeinse soldaat was (Bethlehem was op die hoofroete van die Romeinse soldate wanneer hulle op kruistogte vertrek of terug gekeer het). Daar bestaan nog verskeie ander legendes oor wie Jesus se biologiese pa nou regtig was, maar die primêre doel met sulke standpunte en verduidelikings (tot vandag toe), is primêr om die waarheid t.o.v. Jesus se vleeswording en Sy aanspraak dat Hy die Verlosser is, te verwerp en verdag te maak.

4.     WAAROM DIE MAAGDELIKE GEBORE?
       Behalwe dat Jesaja in Jes.7:14 geprofeteer en gesê het ~ Daarom sal die Here self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immánuel noem [(OAV) let op die NAV wat alreeds die maagdelikheid van Maria tot ʼn mate wegvertaal het], moet daar tog ʼn rede wees waarom Jesus uit ʼn maagd gebore moes word – ten einde dit te beantwoord, moet ons terugblaai na Genesis 3 en ons lees daar van die sondeval – Adam wie se sonde aan sy nageslag toebedeel is (daarom ook ons, omdat ons almal nageslag van Adam is) ~ Toe het die Here God gesê: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!” 23Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit om die aarde te gaan bewerk, die aarde waaruit hy gemaak is. 24Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook ’n vlammende swaard wat heen en weer beweeg (Gen.3:22-24). Later in Gen.6:5 lees ons die volgende ~ Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was... en dan staan daar verder in v.7 geskryf ~ ...Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.” God het die volste reg gehad om dit te doen en omdat Hy ʼn heilige God is, haat Hy sonde en iemand wat volhard in sonde, het God nie lief nie en staan derhalwe skuldig voor God. Dit is daarom duidelik dat die gevalle mens ʼn reddingsplan nodig gehad het, want die mens self kan nie ʼn verlosser voorsien nie en daarom moes die Verlosser van God kom.

       Dit was verder nodig dat Jesus uit ʼn maagd gebore sou word ten einde daardeur God se ingrepe in die mens se redding te beklemtoon, geen wonder dat Maria in v.34 vir die engel gesê het ~ ...Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ’n man gehad het nie?”, waarop die engel haar geantwoord het met ~ ...Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek (v.35).

       Waarom kon die Joodse hoëpriester, of enige ander mens nie ʼn offer gebring het, of steeds bring, om hierdie erfsonde voor God te bring en vergifnis vir die volk (vir ons) te vra nie? Waarom was ʼn Verlosser wat uit ʼn maagd gebore moes word, nodig om versoening tussen God en die gevalle-mensdom te bewerkstellig? Omdat Paulus in 1Tim.2:5 sê ~ Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus. Wat Paulus dus hier sê is dat daar geen ander wyse is as om deur Christus met God die Vader versoen te kan word en met die Vader gemeenskap te kan hê nie, maar dit impliseer veral, dat nét Christus versoening vir ons sonde kan doen – daar is dus net een manier om gered te kan word en dit is deur Jesus Christus, daarom dat Hyself ook in Joh.1:12 gesê het ~ Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

       Ons moet egter nog steeds die vraag beantwoord, waarom dan ʼn maagdelike geboorte?
·           Eerstens het ons gesien, dat die mensdom verlossing, of redding nodig gehad het – redding en verlossing wat geen sondeoffer deur ʼn hoë priester of watter mens ook al, kon bewerkstellig nie – redding en versoening was nodig wat geen mens, maar net God kon bewerkstellig, daarom was dit nodig dat Jesus Christus as Hoë Priester moes kom, om hierdie offer aan die Vader te bring.
·           Tweedens, was die maagdelike geboorte nodig ten einde die bo-natuurlike van die koms van Jesus te beklemtoon – dit was nie maar net ʼn gewone menslike daad nie – dit was bo-natuurlik; dit was God self wat Sy Seun na die wêreld gestuur het. Sy lewe het met die bo-natuurlike, met die Goddelike begin, nl. die maagdelike geboorte en dit sou afgesluit word met die bo-natuurlike, met die Goddelike, nl. die opstanding uit die dood.
·           Derdens moet ons verstaan dat die erfsonde en die verlore toestand van die mens (alle mense), van geslag tot geslag oorgedra is [Adam se sonde wat tot gevolg gehad het dat alle mense verlore is – Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het (Rom.5:12)]. Ten einde die erfsonde te kanselleer en uit die weg te ruim, was die maagdelike geboorte nodig, want daardeur was die Vader van die Seun wat gebore sou word, sondeloos (omdat Hy God self is) en sodoende kon die sonde tot die dood nie verder oorgedra word nie (daardie “DNA” is afgesny, omdat die Vader ʼn heilige God is en sonde derhalwe nie verder oorgedra kon word nie).
·           In die vierde plek, was die maagdelike geboorte noodsaaklik, sodat dit duidelik kon blyk, dat hierdie gebeurtenis uit God se inisiatief voortgespruit het. Dit is waarom Hyself in Luk.1:31 die aankondiging gemaak het ~ Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. God het nie toestemming van Maria of enige iemand anders gevra nie – dit is Hy wat soewerein opgetree het, ten einde Sy volk van hul sondes te verlos (Matt.1:21).
·           Laastens dui die maagdelike geboorte van Jesus daarop dat Hy ten volle mens, maar terselfdertyd, ten volle God is ~ Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Joh.1:14).

5.     AFSLUITING:
       Jesus se maagdelike geboorte is krities belangrik vir die Christelike godsdiens en Bybelse teologie, want dit beskerm die aard van Christus as Mens en God. Hy moes van God gebore gewees het ten einde Seun van God te wees. Hy moes terselfdertyd uit ʼn vrou gebore word, ten einde Seun van die mens te kon wees en daarom het hierdie genadige wonderwerk, terselfdertyd die mens Maria en God die ewige God, bymekaar gebring en word die God-mens, Jesus Christus gebore. Hierdie aard van Jesus om beide God en Mens te wees lê aan die hart van die Christelike geloof, want as ons die Goddelikheid van Jesus ontken, het die Christendom geen bestaansreg nie

       Om die maagdelike geboorte van Jesus te verwerp, is om Jesus se goddelikheid te verwerp. Net so belangrik dit is om Christus se goddelikheid te bevestig deur die opstanding, net so belangrik is dit om Sy goddelikheid te bevestig deur die maagdelike geboorte en om Christus se goddelikheid te verwerp, is om Christus Jesus as tweede persoon van die Drie-Enige God te verwerp ~ Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is. 2Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. 3En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is (1Joh.4:1-3).


       Ons vier vandag die geboorte van Christus Jesus en daarom bring ons eer aan God in hierdie dag, want... ~ God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie” (Joh.3:16-18).

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Donderdag 25 Desember 2014

Sunday, December 21, 2014

Hou Moed! Volhard! Binnekort! (Boodskap deur Nico van der Walt)

      Tydens 'n ernstige siekbed, toe hy gedink het hy gaan op die jeugdige ouderdom van 35 sterf, het die Puritein, Richard
Baxter, die gewoonte ontwikkel om 'n halfuur elke dag oor die hiernamaals te peins. Hy skryf dan later hoe baie hierdie praktyk oor die jare vir hom beteken het.
Selfs al sou ons die ou vader net soms hierin navolg, sal dit ons geloofslewe oneindig baie verryk.
• Tensy die wederkoms van Jesus Christus binnekort plaasvind, gaan een en elkeen van ons moet sterf. Daar is geen uitsondering nie. Daar gaan 'n oomblik aanbreek dat my hart die laaste van sy, sê maar, 2500 miljoen pompe gee, en dat ek my laaste asem uitblaas.
En dan? Sal ek nog bewussyn hê? Hoe lank sal dit duur voordat ek my bewussyn terugkry? Wat van die tyd tot en met die wederkoms en my opstanding? Hoeveel sal ek weet? Waar sal ek wees? Ons sou die vrae oor die lewe na die dood kon vermenigvuldig. Dit raak ons almal, nie waar nie.
Kom ons neem aan dat ons voor die wederkoms sal sterf. Daar word na ons toestand tussen die liggaamlike dood en die wederkoms van Christus verwys as die tussentoestand.
Paulus het geweet hoe belangrik dit vir ons is om te verstaan wat die hiernamaals inhou. In 1Ts 4 skryf hy: "Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie" (13). En dan eindig hy sy paragraaf só: "Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde" (18).
Die regverdiges en die onregverdiges gaan hierdie tyd - na die dood en voor die opstanding - op verskillende plekke en in verskillende toestande deurbring (vgl. Lk 16:19-31). Maar ons gaan fokus op diegene wat in die Here en daarom salig sterf.
Ons gaan dus praat oor die staat waarin ons afgestorwe broers en susters in Christus op hierdie oomblik is. Ons gaan praat oor die plek waarheen een en elkeen van ons wat waarlik gered is binnekort sal gaan, indien die Here talm om te kom.
Waar is hierdie plek? Allereers moet ons besef dis nie 'n plek binne ons dimensies van tyd en ruimte nie. Die bybel gebruik veral twee name daarvoor: die hemel en die paradys.
Die hemel is 'n baie wye en ryk begrip in die Skrif en ons kan nie nou in besonderhede daarop insak nie. Al wat ek nou daaroor wil sê, is dat die Bybel dit aan ons voorhou as die woonplek van God. Dis waar die klem val, en nie, byvoorbeeld, op die lokaliteit daarvan nie. Die hemel is waar God is.
Die paradys is net 'n Nuwe Testamentiese begrip, waar dit slegs drie keer voorkom (Lk23:43; 2Kor 12:4; Op 2:7). In eersgenoemde vers sê Jesus vir die misdadiger aan die kruis: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees." Ons kan dus met stelligheid sê dat dit die plek is waarheen ontslape kinders van die Here gaan - om by Hom te wees. Dis oorspronklik 'n Persiese woord, en dui op 'n ommuurde tuin of park. Daar is dus skoonheid, vrede en orde. So gebruik die Septuaginta ('n voor-Christelike Griekse vertaling van die Ou Testament) dit vir die tuin van Eden.
2 Korintiërs 5:1-10
In hierdie paragraaf is die apostel baie seker hy weet wat op hom wag. Oor net een ding is hy onseker - gaan hy sterf en die tussentoestand binnegaan, of gaan hy die Here se wederkoms beleef en onmiddellik finaal verheerlik word?
Ook ons weet nie wat die antwoord op hierdie vraag is nie. Daarom het die Here Jesus Sy dissipels aangespoor om altyd gereed te wees, aangesien hulle nie vooraf weet wanneer hulle gaan sterf, of wanneer die wederkoms sal plaasvind nie.
Laat ons dus seker maak ons is elke oomblik reg om die Here te ontmoet. So skryf Johannes dan ook: "Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is" (1Jh 3:3). En as mens die wederkoms en die hiernamaals ernstig opneem, is dit inderdaad 'n kragtige aansporing tot 'n heilige lewe.
• 2 Korintiërs 5:1
Die "aardse tentwoning" (OAV) waarvan Paulus hier praat, is sy beeld vir die huidige liggaam. Daarmee beklemtoon hy die broosheid en tydelikheid daarvan. Hierdie beeld word ook gebruik vir die Here Jesus se vernederde liggaam in Jh 1:14. As daar staan dat die Woord mens geword en onder ons kom woon het, sê die Grieks letterlik dat Hy kom tent opslaan het onder ons.
Maar hierdie tent sal eendag vervang word met 'n onverganklike en permanente woning, deur God self gemaak - 'n nuwe, verheerlikte en ewige liggaam.
• 2 Korintiërs 5:2
Paulus vul nou sy beeld aan. Hy beskryf die liggaam nou nie net as 'n huis of tent nie, maar ook as 'n kledingstuk. Ons verlang, sê hy, dat ons uiteindelike hemelse huis soos klere vir ons aangetrek sal word.
Die woord "oorklee" (OAV) of "oordek" (NAV), is betekenisvol. Hiermee wil die apostel sê dat ons begeer dat ons verheerlikte liggame sommer dadelik oor ons ou liggame aangetrek sal word soos mens, kom ons sê, 'n trui bo-oor 'n hemp aantrek. Presies wat hy hiermee bedoel, verduidelik hy dan in v.3-4.
• 2 Korintiërs 5:3-4
Ons wil nie graag eers uitgetrek word en vir ʼn tyd lank nakend wees voordat ons met ons verheerlikte liggame beklee word nie. Duidelik sinspeel Paulus hier op die liggaamlose
tussentoestand voor die opstanding. As ons dus in hierdie lewe verlangend sug, dan is dit nie in die eerste instansie 'n verlange na die naakte toestand nie, maar dis 'n begeerte om sommer dadelik ons nuwe liggame te ontvang.
Heeltemal anders as die Griekse filosofie van destyds, dink die apostel nie dat die menslike gees op sy gelukkigste is as hy vry van 'n liggaam is nie. Inteendeel, hy ag so ʼn toestand as naaktheid, as subnormaal, as alles behalwe ideaal.
• 2 Korintiërs 5:8
Kom ons spring vir 'n oomblik 'n paar verse. In v.8 sê Paulus egter dat, ten spyte van alles wat hy in die eerste paar verse geskryf het, verkies hy nogtans om eerder te sterf en sy verblyf in hierdie liggaam te verlaat. Waarom is die naakte staat sonder 'n liggaam in die tussentoestand - indien die Here talm om te kom - vir hom verkieslik bo die tentbestaan van hierdie lewe? Omdat hy dan by die Here sal wees! Anders gestel: om by Christus te wees, sal meer - baie, baie meer – as opmaak vir ons tydelike verlies aan 'n liggaam.
In Fl 1:23 sê die apostel dat hy verlang om heen te gaan en "met Christus" te wees. In vergelyking met hierdie lewe is dit "verreweg die beste".
Saamgevat
Wat Paulus meer as enigiets anders verlang, is om steeds te lewe wanneer die Here Jesus Christus terugkom - en om dan onmiddellik sy verheerlikte liggaam te ontvang. Maar selfs al moet hy voor die tyd sterf, is die onnatuurlike en minder as ideale liggaamlose tussentoestand steeds baie beter as hierdie lewe - want selfs in die tussentoestand is ons reeds by die Here!
Gelowiges gaan dadelik na hulle dood na Christus toe.
As ek sou sterf voordat Christus terugkom, bly my dooie liggaam agter en verval tot stof. My gees gaan dadelik na die Here toe (Pred 12:7). Van my eerste lewensoomblik af is ek immers nie net 'n fisiese liggaam nie, maar ten diepste is ek ook gees - die nie-materiële deel van my persoon.
Die Skrif gee ons alle rede om te glo dat ek onmiddellik na my dood by die Here sal wees. Die Here Jesus sê vir die misdadiger aan die kruis: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees" (Lk 23:43; vgl. ook Fl 1:23).
'n Paar verantwoordelike afleidings uit die Skrifopenbaring oor ons tema
1. Onmiddellik na die dood gaan elke persoon na een van twee radikaal verskillende bestemmings (Lk 16:22-23; vgl. ook Lk 23:43).
Hieroor is die Bybel oor en oor so duidelik soos daglig; elke mens gaan óf hemel toe, óf hel toe. Saligheid of smarte wag dadelik nadat jy jou laaste asem uitgeblaas het op jou. En so sal dit onomkeerbaar finaal bly - tot in alle ewigheid.
2. Ons sal in 'n staat van volle bewussyn wees.
Dit is so voor die hand liggend dat mens dit beswaarlik hoef te sê. Hoe anders sou mens jou saligheid kon beleef - of dan jou smarte, indien jy verlore gaan. Trouens, dit verg geen verbeelding nie om te besef dat ons bewussyn veel meer intens sal wees as hier. Is dit nie ʼn voorvereiste vir die meer intense belewing van sowel vreugde as pyn nie?
3. Ons sal kommunikeer - met mekaar en met die Here.
Die ryk man en Abraham praat met mekaar. Die martelare praat met die Here en Hy reageer daarop. Dit impliseer intelligensie, logika, vertolking, waarneming, ensovoorts.
4. In die hemel sal daar gesamentlikheid en gemeenskap wees.
Die mededeling dat Lasarus aan "die boesem" van Abraham is (Lk 16:22, 23, letterlik), dui op intieme liefdesgemeenskap. En in Op 6 roep die siele gesamentlik. Wanneer ons oorwinnend sterf, gaan ons, soos Hb 12:23 dit stel, na die "geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is."
5. Ons sal ons individualiteit en identiteit behou.
Lasarus het Lasarus gebly.
hê om spoedig met ʼn volmaakte en verheerlike liggaam beklee te word - en om dan vir ewig op 'n nuwe aarde te woon.
• Diegene wat in Christus is, sien mekaar tot in ewigheid nooit vir die laaste keer nie.
As ons nou vreugde in mekaar het, hierna - ook reeds in die tussentoestand - sal dit baie meer intens wees. En dit sal nooit verbygaan nie!
Maar dis in Christus self wat ons vreugde ten diepste sal wees!
Ons sal by Hom wees en innige gemeenskap met Hom geniet. Ons sal Hom sien soos Hy is, en uiteindelik word soos Hy (1Jh 3:2).
• Laat ons daarom erns maak met die Christelike hoop.
Ek weet nie van julle nie, maar dit wil my party dae neerslagtig stem as ek besef my lewe is besig om uit te loop. Afnemende liggaamskragte, 'n geheue wat jou al hoe meer in die steek laat en toenemende ontnugtering met dit wat hierdie lewe bied, raak al hoe meer 'n werklikheid.
Ek is oortuig daarvan dat daar net een manier is om hierdie werklikhede te hanteer - mens moet jou oefen in die Christelike hoop. Jy moet die dinge waaroor ons praat weer en weer oordink.
Een van die kosbaarste gawes wat die Here vir ons in hierdie lewe gee, is 'n lewende hoop. Vir die ongelowiges, veral vir die bejaardes, moet elke doodsberig seker klink soos die geknars van die beul se sleutel vir ʼn ter dood veroordeelde. Male sonder tal dank ek die Here dat Hy vir my nie net lewenssin gegee het nie, maar ook sterwenssin. Wat sou ek sonder 'n ewigheidsperspektief gedoen het? Daarsonder kan 'n denkende mens tot geen ander slotsom as Albert Camus kom nie: "Die lewe is 'n siek grap!" En inderdaad is ʼn ongelowige wêreld tot die dood toe kranklik aan sinloosheid.
Daarenteen, as die dinge waarna ons kyk op die tafels van jou hart geskryf is, sal jy saam met die pionier-sendeling in Burma, Adoniram Judson, kan sê: "Wanneer Christus my roep, sal ek gaan met die uitbundige blydskap van 'n skoolseun wat vir die somervakansie deur die skoolhek hardloop."
• Is Christus die middelpunt van jou hoop?
In 1Tm 1:1 kry ons 'n kort frase wat die hart van ons lewende hoop se inhoud verwoord: "...Christus Jesus ons Hoop". Om eendag by Hom te wees, is waaroor dit gaan.
Kostelik het Andrew Bonar dit gestel: "Ag Here, mag ek soos Simeon heengaan – met Christus in my arms" (n.a.v. Lk 2:28-29). Maar ons kan natuurlik ook die beeld omdraai: as
die dood my eendag neerfel, sal ek in Christus se arms intuimel.
• Maak seker jou hoop is eg.
As jy nie, soos Paulus, jou vreugde daarin vind dat jy by Christus sal wees nie (ten spyte van die tussentoestand se "naaktheid"), hang daar 'n vraagteken oor die egtheid van jou hoop. En, onthou, die hoop is bloot vooruitgerigte geloof. As jou hoop dus onder verdenking is, moet ook jou geloof bevraagteken word. En as jou geloof vals is, is jou hoop niks meer as ʼn lugspieëling nie.

Les bes: die dood is nie 'n ewige duisternis wat oor jou neerdaal nie; dis die doodblaas van 'n kers - omdat die dag gebreek het. En nooit weer, tot in alle ewigheid, sal die Son weer ondergaan nie.