Sunday, November 30, 2014

Die Profeet Sagaria - 05 (Vierde Naggesig – “Ek beklee jou met Feesklere”)

1.     INLEIDING:
       Tot nou het Sagaria drie gesigte of visioene gehad: Eerstens was daar die man op ʼn perd tussen die Mirtestruike (1:7-17 – hierdie gesig het ʼn universele omvang gehad); toe was dit die vier horings en die vier ystersmede (1:18-21 – hierdie gesig het ʼn internasionale omvang gehad) en verlede week het ons gekyk na die derde gesig en wel dié van die man met die maatlyn wat op pad was om Jerusalem te meet (2:1-13 – hierdie gesig het ʼn nasionale omvang gehad). Vanoggend kom ons by die hart van die agt naggesigte wat Sagaria ontvang het (3:1-10 – hierdie gesig het ʼn plaaslike omvang). Ons sal dan D.V. vorentoe sien dat die vyfde gesig ook ʼn plaaslike omvang het (4:1-14); die sesde weer ʼn nasionale impak (5:1-4); die sewende weer ʼn internasionale impak (5:5-11) en die omvang van die agste naggesig sal weer ʼn universele impak hê (6:1-8).

Visioen 1
    Visioen 2
        Visioen 3
            Visioen 4
            Visioen 5
        Visioen 6
    Visioen 7
Visioen 8
1:7-17 – Universeel
    1:18-21 – Internasionaal
        2:1-13 – Nasionaal
            3:1-10 – Plaaslik
            4:1-14 – Plaaslik
        5:1-4 – Nasionaal
    5:5-11 – Internasionaal
6:1-8 – Universeel

       Die eerste drie naggesigte was baie bemoedigende gesigte, want elkeen was ʼn uitdrukking van God se teenwoordigheid in die midde van Sy volk, met die doel om hulle te seën en te beskerm.

       Op hierdie stadium het Sagaria waarskynlik gewonder hoe dit moontlik was dat God weer Sy volk kon seën en vergewe na hulle sonde en afvalligheid – soveel so dat die Here, hulle as ballinge na Babilon laat wegvoer het? Hierdie vierde naggesig is juis ʼn antwoord op hierdie vraag.

2.     SKRIFLESING:
Sagaria 3:1-10 ~ Die Here het my ’n gesig laat sien. Ek het die hoëpriester Jesua voor die engel van die Here sien staan, en regs van hom het die Satan gestaan, besig om Jesua aan te kla. 2Die Here het vir die Satan gesê: Ek sal jou straf, Satan, Ek wat Jerusalem my woonplek gemaak het, sal jou straf. Hierdie man is soos ’n stuk hout wat uit die vuur gered is. 3Jesua het klere aangehad wat liederlik bevuil was. Hy het daar voor die engel gestaan, 4en die engel het vir sy helpers gesê: “Trek uit dié liederlike vuil klere van hom.” Vir Jesua het hy gesê: “Ek het jou jou oortredings vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek.” 5Toe sê ek: “Hulle moet ’n skoon tulband op sy kop sit!” Hulle het die skoon tulband op sy kop gesit en hom aangetrek terwyl die engel van die Here daar by staan. 6Daarna het die engel van die Here vir Jesua belowe: 7“So sê die Here die Almagtige: As jy lewe soos Ek dit wil, as jy die voorskrifte vir my diens onderhou, sal jy die gesag hê oor my huis, die verantwoordelikheid dra vir my heiligdom. Jy sal toegang tot My hê, net soos hierdie engele. 8Luister, Jesua, hoëpriester, jy en jou vriende wat voor jou sit: jou vriende is ’n teken van iets wat kom. Ek gaan my dienaar Loot nou bring. 9Ek sit voor Jesua ’n klip neer, en op hierdie een enkele klip is daar sewe oë. Ek gaan nou ’n graveersel daarop aanbring, sê die Here die Almagtige, en Ek gaan die sonde van hierdie land op een enkele dag wegneem. 10Daardie dag, sê die Here die Almagtige, sal die mense weer rustig oor en weer na mekaar roep onder die wingerdstokke en die vyebome.”

3.     DIE HOOFKARAKTERS (v.1):
       Hierdie vierde naggesig verskyn aan Sagaria in die vorm van ʼn hofsaak – ʼn hofsaak wat in die hemel plaasvind. Die hoofkarakters in hierdie saak, is die “staatsaanklaer” (die satan in hierdie geval), en hy is besig om te doen waarvoor hy bestem is om te doen, nl. om die gelowiges voortdurend by God Almagtig aan te kla – dit is waarom Openb.12:10b hom dan ook die “aanklaer van die gelowiges” (broeders – OAV) noem.

       Verder is daar die beskuldigde of verweerder (Josua die Hoë Priester en hy verteenwoordig ook die volk) en dan ook die “Advokaat vir die verdediging”, wat in hierdie geval waarskynlik ook terselfdertyd Regter is (die Here Jesus Christus).

       Die aanklag teen Josua? Josua word daarvan aangekla dat hy nie geskik is vir sy priesterlike amp en -verantwoordelikhede nie.

4.     DIE TEREGWYSING (v.2):
       Hierdie hofsaak begin op ʼn baie interessante wyse – dit begin met ʼn baie ernstige teregwysing wat tot die aanklaer deur die Regter self gerig word. Ons weet nie of die aanklaer reeds die lys van beskuldigings voorgelê het aan die hof en of hy nog nie eens kans gekry het om dit te doen nie, wat wel hier gebeur, is dat hy ernstig berispe word nog voor die hofsaak enigsins verder kan aangaan. Hy word berispe, omdat sy motief boos is en dit is dat hy die aangeklaagde wil diskrediteer en valslik aankla.

       Dit is egter aan die anderkant insiggewend om te sien dat die aangeklaagde (Josua) nie heeltemal blaamloos is nie, want ons sien in v.3 dat sy klere “liederlik vuil” was. Ons moet verstaan dat dit onaanvaarbaar is dat die Hoë Priester met vuil klere diens in die Tabernakel doen ~ Verder moet hy die gewyde klere van ’n gewone priester aanhê oor ’n broek en hy moet ’n serp om sy lyf en ’n tulband op sy kop hê. Dit moet alles gewyde linneklere wees. Hy moet hom was voor hy dit aantrek (Lev.16:4). In Josua se geval het hy oënskynlik nié onbesmette klere aangehad nie en volgens o.a. Eks.28:42-43 moes die priesters se kleed geheiligd (of rein) gewees het, anders kon hulle selfs gesterf het. Josua se klere was nie skoon nie!

       Hierdie uitdrukking, “liederlik vuil” is ʼn geweldig sterk uitdrukking en verwys die Hebreeuse woord wat hier vertaal is met “liederlik vuil” (“filthy garment” – ESV) nl. צֹאִי [tsowʾ, tsoʾ /tso/], na menslike uitwerpsel (“excrement”). Dit is dieselfde woord wat ook in bv. Deut.23:13 gebruik word in die reinigingswette wat die Here vir die Israeliete gegee het (By jou uitrusting moet daar ’n stok wees en as jy jou buite wil gaan ontlas, moet jy ’n gat grawe met die stok en as jy klaar is, moet jy alles toekrap). Dit word ook in Eseg.4:12 gebruik. Dit word dus baie duidelik aan Sagaria (en ons) getoon hoe vuil Josua se klere regtig is (en hoe verlore ons in ons sonde is).

       Hierdie vuil klere van Josua is simbool van die gevolg van sy (en die volk) se tyd in ballingskap wat hom ongeskik gelaat het vir diens as priester in die tempel en daarom het die aanklaer dalk tog ʼn baie sterk saak. Die vraag is egter of hy ʼn sterk genoeg saak het en aan die anderkant, of die Advokaat vir die verdediging by magte is om die beskuldigde se onskuld bo alle twyfel te bewys.

       Voor die aanklaer enige aanklagte voor die Regter kan bring, tree die Regter toe en ten spyte van die beskuldigde se “liederlik vuil klere”, bestraf Hy die satan en sê Hy vir hom dat sy dag van finale afrekening op hande is. Die Advokaat vir die verdediging sê ook vir die hof, dat die beskuldigde uit sy besoedelde en sondige situasie tydens sy ballingskap in Babilon gered is en hy gebruik ʼn pragtige beeld, waarmee ons liefhebbers van die “bos” baie goed kan identifiseer, nl. die beeld van iemand wat ʼn stuk hout uit die vuur pluk (dalk ʼn mooi stuk Hardekool), voor dit vlam vat en tot as verbrand – dit is hoe die Groot Regter die beskuldigde uit sy besoedelde omgewing en toestand gered het, net voor die finale oordeel losgebreek het oor die heidense Babilon en Persië. Hierdie vergelyking is ʼn ego van Amos 4:11a ~ Ek het julle stede verwoes soos Ek Sodom en Gomorra geheel en al verwoes het, julle het soos ’n stuk hout geword wat uit die vuur uit geruk is....

5.     DIE REINIGING (vv.3-5):
       Nie net word die saak in die hemelse hof uitgegooi nie, maar ontvang die beskuldigde ook vergoeding (soos Zanokuhle Mbatha wat verkeerdelik daarvan aangekla was dat hy die Bafana-Bafana kaptein, Senzo Meyiwa vermoor het – hierdie Zanokuhle het ʼn eis teen die staat ingedien en hy sal waarskynlik binnekort finansieel vergoed word vir naamskending, ens. – dieselfde kan verwag word indien Shrien Dewani se saak in die Kaapstadse Hooggeregshof uitgegooi word).

       Wat is die vergoeding wat die beskuldigde ontvang? V.3-4 sê vir ons dat sy vuil klere uitgetrek is en dat hy skoon klere ontvang en hy kry boonop ook nog ʼn skoon tulband en dit alles het plaasgevind terwyl die Engel van die Here toegekyk het.

       Josua word gereinig van sy sondige verlede en hy ontvang nuwe rein seremoniële kleredrag, sodat hy weer onbeskroomd die volk voor die Here kan verteenwoordig. God se verhouding met die volk is vernuwe en herbevestig deur die gerestoureerde priesterlike bediening, asook die tempel met sy allerheiligste wat binnekort herbou sou wees.

6.     DIE BELOFTES (vv.6-10):
       Nou dat Josua herstel is as hoë priester deel die Engel van die Here bepaalde opdragte en beloftes met hom in vv.6-7 en hiervoor wil ek hê dat ons na die OAV sal kyk ~ So sê die Here van die leërskare: As jy in my weë wandel en as jy my verordening onderhou, dan sal jy my huis bestuur sowel as my voorhowe bewaak, en Ek sal jou vrye toegang verleen onder diegene wat hier staan.
·           Gesag oor God se Huis (vv.6-7):
       Ons vind hier in vv.6-7, twee voorwaardes en drie beloftes:
-       ...as jy in my weë wandel;
-       ...as jy my verordening onderhou (vereistes);
Die drie beloftes:
-       ...dan sal Ek toesien dat jy My huis goed
bestuur;
-       ...jy sal my voorhowe bewaak
-       ...jy sal vrye toegang verleen word.

       Die oproep dat Josua in God se weë moet wandel en Sy verordeninge moet onderhou, is ʼn herhaling van die opdrag wat reeds in Deuteronomium en meer spesifiek in Levitikus aan Aäron en sy seuns en die priesters daarna gegee is ~ Die priesters moet my bevel gehoorsaam en nie sondig nie. Hulle sal sterf as hulle die gewyde gawes ontwy. Ek, die Here, heilig die priesters (Lev.22:9). Dit gaan dus daaroor dat die priesters reinheid deurgaans moes handhaaf.

       Die Here sê nou in v.6 dat indien Josua hierdie opdragte volvoer, hy weer oor die huis van die Here sal regeer, maar meer nog, hy sal ook regeer oor die alledaagse van die burgers van die land – dit word bevestig deur die tweede gedeelte van v.6, waar daar geskrywe staan ~ ...dan sal jy my huis bestuur (en dan die volgende...) sowel as my voorhowe bewaak, en Ek sal jou vrye toegang verleen onder diegene wat hier staan. Die gewone man-op-straat het gewoonlik hul daaglikse probleme in die voorhowe van die tempel bespreek en vantevore was dit nie die hoëpriester se verantwoordelikheid om met die publiek in die voorhowe te meng en raad te gee nie, maar nou ontvang Josua hierdie opdrag om wel daarmee gemoeid te raak en in die afwesigheid van ʼn monarg (koning) ontvang hy dus ook koninklike magte.

       Indien Josua die opdragte van die Here gehoorsaam, belowe die Here nog iets meer skokkend – die Here sê dat Josua op dieselfde vlak toegang tot God sal hê as die engele – ʼn voorreg wat net ʼn handjie vol in die Ou Testament geniet het (o.a. die profete Miga, Jesaja, Jeremia en Esegiël – 1 Kon.22:19; Jes.6:1-13; Jer.23:18; Eseg.1:1).

·           Die simbool (vv.8-10):
       Die engel van die Here gaan in vv.8-10 voort en skilder ʼn hoopvolle prentjie vir Josua en sy mede priesters, want hulle gaan ʼn teken wees van iets beters wat aan die kom is, trouens hy sê in v.8 dat hy sy dienaar “loot” [OAV = “Spruit”; ESV = “Branch”; Hebreeus = צֶמַח (tsemach /tseh·makh/)] gaan stuur, of anders gestel, dat daar ʼn “loot” uit Josua gaan uitspruit. Jesaja en Jeremia het al voorheen oor hierdie “loot” geprofeteer – Jes.11:1-2 ~ ’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra. 2Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here (sien ook Jer.33:14-16; 23:5-6).

       Asof hierdie belofte nie genoeg is nie, word daar verder gesê dat wanneer hierdie “loot” gaan uitspruit, daar ook nog ʼn klip neergesit gaan word met sewe oë daarop. Daar bestaan baie verklarings vir hierdie klip met die sewe oë, maar nie een is werklik bevredigend nie en is dit baie moeilik om regtig vas te stel waarna hierdie klip met die sewe oë verwys. Ek wil nie nou tyd spandeer aan al hierdie moontlike verklarings nie. Wat ek wel kan sê, is dat hierdie klip, net soos die meeste ander beelde in hierdie naggesig, baie besliste eskatologiese- en teologiese betekenis het en ons sal nou daarby kom.

Die naggesig word in v.10 afgesluit met die Engel wat vir Sagaria sê dat wanneer hierdie dinge gaan gebeur – wanneer die rein koninkryk tot stand gaan kom, sal daar vrede, geluk en oorvloed wees. Miga het dit reeds in Miga 4:4 geprofeteer toe hy gesê het ~ Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek.

7.     TOEPASSING:
       Wat is die toepassing – wat is die betekenis van hierdie gesig vir ons?

       Ons het gesien dat hierdie gesig begin met ʼn “hemelse hofsaak” en die aanklaer is die satan en die veroordeelde, Josua en die Regter en Advokaat vir die verdediging, die Here Jesus Christus. Ons het ook gesien dat Josua regverdig verklaar word deur die nuwe klere wat vir hom aangetrek word. Die gebeurtenis stop egter nie hier nie, want Josua ontvang onmiddellik ʼn paar opdragte, gevolg deur beloftes indien hy gehoorsaam is aan hierdie opdragte. Hy ontvang egter ook nog verder twee tekens wat dui op die toekoms.

       Dit is baie duidelik dat hierdie gesig van Sagaria ʼn sterk Messiaanse boodskap dra, maar verder is dit ook duidelik dat hierdie gesig van begin tot einde gelaai is met wonderlike eskatologiese beelde en kragtige teologiese waarhede.

       Ons kan 3 baie belangrike teologiese leerstukke uit hierdie gedeelte vasstel en ek sal dit aanraak soos wat ons kyk na die eskatologiese beelde in hierdie gesig – die teologiese waarhede is:
·           Die leer van die Goddelike Drie-Eenheid;
·           Die Uitverkiesingsleer en
·           Reddingsleer.

·           Die Leer van die Goddelike Drie-Eenheid:
       Ons sien heel aan die begin van hierdie vierde naggesig dat die Here Jesus Christus as die tweede persoon van die Goddelike Drie-Eenheid optree en die satan aanspreek en vir hom in v.2 sê dat God (“Jahweh” – die eerste Persoon van die Goddelike Drie-Eenheid) hom gaan straf ~ Toe sê die Here aan die Satan: Mag die Here jou bestraf, o Satan! (OAV).

·           Die Uitverkiesingsleer:
       In v.4 sien ons hoe dat Josua se liederlike vuil klere (v.4) vervang word met ʼn nuwe skoon en rein kleed en tulband. Hierdie beeld simboliseer vir ons die verwydering van skuld – beide Josua en die volk se skuld, maar die belangrike hier is die feit dat Josua gereinig word en sy skuld van hom af weggeneem word, sónder dat hy ʼn vinger verroer – hy lewer geen bydrae om sy onskuld aan te toon nie – dit word soewerein en uit genade deur die Here self gedoen en hiermee kan ons so duidelik sien dat die Here ons eerste roep, omdat ons reeds voor die grondlegging van die aarde uitverkies is ~ Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af (Matt.24:34) en Ef.1:3-4 ~ GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.

       ʼn Verdere beeld wat vir ons die uitverkiesingsleer pragtig uitbeeld is in v.2b vir ons opgeteken ~ Hierdie man is soos ’n stuk hout wat uit die vuur gered is. Hulle is uit die wêreld geruk en nou staan hulle voor die Regterstoel van God, maar nog voor die satan Josua en die volk kon aankla “vee” die Vader enige moontlike aanklag van die tafel en snoer Hy die vyand se mond en sê vir hom dat sy oordeel op hande is – al wat die Vader sien, is Jesus Christus (Sy Seun) se bloed en Hy gee sonder huiwering opdrag dat Josua beklee moet word met geregtigheid – dit is wat die Vader gaan doen wanneer ons eendag voor die Regterstoel gaan verskyn – Hy gaan net Sy Seun se bloed op Golgota sien en opdrag gee dat ons liederlike vuil klere summier vervang moet word ~ En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges (Openb.19:8 – OAV)!

·           Die Reddingsleer:
       Hierdie vierde gesig fokus uitnemend op die reddingsleer en is hierdie beeld van die nuwe rein klere nie net ʼn kortsigtige belofte van die herstel van die volk Israel en die herbou van die tempel in Jerusalem nie, maar vorm dit deel van ʼn ryk stroom van Bybelse beelde wat die fokus op die reddingsleer in en deur Christus vestig. In Jes.64:6 vind ons ʼn gedeelte wat beslis bekend moes wees aan Sagaria ~ Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klere; ons is almal soos verdroogde blare, ons word deur ons sondes weggewaai soos deur ’n wind. Job het in Job 29:14 gesê ~ Die geregtigheid was my kleed, en ek sy kleed; my reg was soos ’n mantel en ’n tulband (OAV). Een van die bedevaartsliedere wat deur die volk van die Here gesing was, is Ps.132 en in v.9 vind ons hierdie woorde ~ Laat u priesters bekleed wees met geregtigheid, en laat u gunsgenote jubel (OAV). In Jes.11:5 verwys Jesaja na Jesus wat geklee was in geregtigheid ~ En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees (OAV). In 61:10 jubel Jesaja oor sy verlossing ~ Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek. Ek is soos ’n bruidegom met ’n priesterkroon op, soos ’n bruid met haar juwele aan.

       Josua is soewerein vergewe en nadat hy vergifnis ontvang het, is hy gekonfronteer met ʼn opdrag ~ So sê die Here die Almagtige: As jy lewe soos Ek dit wil, as jy die voorskrifte vir my diens onderhou, sal jy (v.7).       As jy lewe...; as jy die voorskrifte.... Ons vind ʼn soortgelyke situasie in Joh.8 waar Jesus vir die vrou wat in owerspel betrap was. Sy is eensydig deur Jesus vergewe, maar ook hierdie vergifnis is onmiddellik opgevolg met ʼn opdrag, toe Jesus vir haar gesê het ~ Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie. Vergifnis (en daarom redding ook) word altyd gevolg met opdragte om ʼn heilige lewe te leef. Paulus stel dit pragtig in Ef.4:22-24 ~ Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. 23Julle gees en gedagtes moet nuut word; 24lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.

       Die klimaks van ons Messiaanse boodskap wat ons in Sag.3 vind, word waarskynlik in die laaste verse (vv.8-10) bereik waar die Engel Josua as hoëpriester aanspreek en vir hom vertel van die “loot” wat gaan voortspruit en van die klip met die sewe oë. In hierdie gedeelte vind ons verskeie sleutelelemente van wie die Messias is – in v.8b word Hy aan ons voorgestel as dienaar en dit is in ooreenstemming met o.a. Jes.42:1 ~ Hier is my dienaar, Ek stel hom aan. Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns. Ek laat my Gees op hom kom, hy sal my wil aan die nasies bekend maak (sien ook: Jes.49:3, 5; 52:13; 53:11; Eseg.34:23-24). Ook in v.8b word Hy vir ons as ʼn loot of tak of spruit (OAV) voorgehou – dit weer is in ooreenstemming met o.a. Jes.11:1 ~ ’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra (sien ook: Jes.4:2; Jer.23:5; 33:15; Sag.6:12)

       In v.9 word Christus aan ons voorgestel as ʼn klip of rots ~ Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword (Ps.118:22 - sien ook: Jes.8:14; 28:16).

       Die klem val egter nie in hierdie gedeelte op Christus as dienskneg, loot of klip nie, maar wel op Sy rol as Hoë Priester. Op grond waarvan kan ons dit sê? Die openingswoorde in vv.8-10 praat van Josua as Hoë Priester en sy vriende wat voor hom sit, as ʼn teken van iets wat kom. Hierdie vers wil vir ons sê, dat Hy wat alreeds vanuit die Ou Testamentiese profesieë, bekendstaan as dienskneg, loot en klip, ook Sy Priesterlike funksie sal vervul deur die volk se sonde in ʼn oogwink weg te neem en hulle te beklee met rein en skoon klere. Toe ons deur die Hebreërboek gewerk het, het ons gesien hoe die Hebreërskrywer hierdie tema van Christus as Hoë Priester ontwikkel het en het ons dan ook gesien dat Hebreërs niks anders is as ʼn Nuwe Testamentiese kommentaar oor Sagaria nie.

       Ons het ook in Hebreërs gesien dat Jesus hierdie funksie van Hoë Priester op twee wyses vervul het, nl. deur Homself te offer as offer vir ons sonde (wat die Ou Testamentiese priesters nie kon doen nie) en deur vir Sy volk in te tree by die Vader.

       In teenstelling met die aardse hoë priester, is Jesus die Hoë Priester volmaak en was die offer wat Hy gebring het, volmaak en daarom is die versoening wat bewerkstellig is tussen God en Sy uitverkorenes, volmaak en afgehandel – “Tetelestai” (Jesus se woorde aan die kruis – “dit is volbring”; “dit is afgehandel”; “dit is klaar”; “niks meer is nodig nie”!).

       Die vraag wat jy jouself vandag moet afvra is of daar ook van jou sonde gesê is, “tetelestai”? Die vraag is of jy waarlik geklee is in Christus se geregtigheid? Het jy oorwinnaarsklere aan en ʼn priesterskroon op jou kop, of is jy nog geklee in liederlike vuil klere? Gaan jy eendag in die hiernamaals ook ewige vrede, geluk en oorvloed geniet? Gaan jou onskuld bo alle twyfel bewys kan word? Gaan jy eendag, soos wat Josua koninklike magte ontvang het, die reg ontvang om saam met Jesus te regeer?


       Daar ís genade beskikbaar; daar ís vergifnis beskikbaar; daar ís kwytskelding beskikbaar; daar ís oorwinnaarsklere en ʼn priesterkroon by Jesus beskikbaar – buig net die knie voor Hom en wy jou lewe aan Hom as Verlosser, Koning en Hoë Priester!

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 30 November 2014