Sunday, November 23, 2014

Die Profeet Sagaria - 04 (“Derde Naggesig – Die Man met die Maatlyn”)

1.     SKRIFLESING:
  Sagaria 2:1-13 ~ Ek het weer ’n gesig gesien. Daar was ’n man met ’n maatlyn in die hand, 2en ek het gevra: “Waar gaan u heen?” Hy het vir my gesê: “Ek gaan Jerusalem uitmeet om te sien hoe breed en hoe lank hy moet wees.” 3Die engel wat vir my die gesig moes uitlê, gaan toe vorentoe en kry ’n ander engel wat na hom toe kom. 4Hy het vir dié engel gesê: “Hardloop en sê vir daardie jongman: Jerusalem gaan ’n stad sonder mure word, so baie mense en diere gaan daar in hom wees. 5Die Here sê: Ek sal ’n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.” 6Kom, kom, vlug uit die noordland! sê die Here. Ek het julle na die vier windstreke toe verstrooi, sê die Here. 7Kom, Sion, jy wat in Babel woon, kom weg daar! 8So sê die Here die Almagtige wat my met volmag gestuur het na die nasies toe wat oorlogsbuit van julle gemaak het: Wie aan julle vat, vat aan my oogappel. 9Met een waai van my hand teen hulle gaan Ek hulle die gevangenes van hulle eie slawe maak. Wanneer dit gebeur, sal julle weet dat die Here die Almagtige my gestuur het. 10Juig, Sion, wees bly! Ek kom, Ek gaan binne-in jou woon, sê die Here. 11Daardie dag sal baie nasies hulle aan die Here verbind: hulle sal my volk wees, en Ek sal in jou woon, Sion. Wanneer dit gebeur, sal jy weet dat die Here die Almagtige my na jou toe gestuur het. 12Daar, op die heilige grond, sal die Here weer vir Juda in besit neem as die volk wat Hom toekom, sal Hy Jerusalem weer sy woonplek maak. 13Wees stil voor die Here, al wat leef! Hy kom uit sy heilige woning te voorskyn!

2.     INLEIDING:
       Net soos met die tweede Naggesig, verskaf hierdie derde gesig wat Sagaria ontvang, ook meer besonderhede t.o.v. die toekoms van die herstelde volk van God – hulle wat weggevoer was in ballingskap en wat nou begin terugkeer na Jerusalem en wie nog in groter massas gaan terugkeer.

       Waar die vorige gesig egter die fokus geplaas het op die straf wat wag op die heidennasies wat in ongeregtigheid optree teen God se volk, fokus hierdie derde gesig meer op die Here self en Sy genadige terugkeer na Jerusalem, asook die herbou van die tempel en die inwoners van Juda. Dan het ons ook in Sag.1:16-17 gehoor dat die stede oorstroom sal word deur voorspoed en Jerusalem sal bo-natuurlik beskerm word deur ʼn ondeurdringbare muur van vuur.

3.     DIE DERDE NAGGESIG:
       Ons sien in die OAV (2:1) dat hierdie derde gesig van Sagaria, net soos die tweede een, begin met Sagaria wat sy oë hemelwaarts rig en ʼn volgende gesig sien.

·           Jerusalem word uitgemeet (vv.1-3):
       In hierdie gesig sien hy ʼn man met ʼn maatlyn in die hand (l.w. hy is nie die engel; van hoofstuk 1 nie). Ons vind hierdie selfde beeld van ʼn man met ʼn maatlyn in Eseg.40:3, asook hoofstukke 41 en 42, maar kom ons kyk net na 40:3 ~ Hy het my daarnatoe gebring en daar sien ek toe ’n man wat gelyk het of hy van brons is. Daar was ’n linnetou en ’n meetstok in sy hand, en hy het by ’n poort gestaan. Gewoonlik word ʼn maatlyn in die Woord, geassosieer met die bou van ʼn struktuur, soos in die geval van die herbou van die tempel in Eseg.40:3 waarna ons nou net gekyk het, of die nuwe stad in Jer.31:38-39. In Job 38:5 word daar selfs na ʼn maatlyn verwys wanneer God vir Job sê dat Hy die aarde geformeer het – Hy vra vir Job ~ Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het ’n maatlyn oor hom gespan?

       Sagaria sien hierdie man met die maatlyn, maar die man staan nie stil nie – hy is aan die beweeg, daarom dat Sagaria vir hom vra waarheen hy op pad is en die man antwoord hom en sê in v.2b dat hy Jerusalem gaan opmeet.

       Buiten die NAV vertaal die meeste vertalings v.2b soos volg ~ And he said unto me, To measure Jerusalem, to see what is the breadth thereof, and what is the length thereof (ASV) – m.a.w. hy gaan meet, ten einde te sien hoe breed en lank Jerusalem is, terwyl die NAV dit vertaal met, om te sien hoe lank en breed dit moet wees – “is” teenoor “moet wees” dus. Die NAV is nie verkeerd vertaal nie, dit is egter reeds ʼn verklaring van dit wat “die man” oorspronklik vir Sagaria gesê het.

       Wanneer ons hierdie vers lees klink dit redelik dubbelsinnig, want óf hy sê dat hy wil vasstel hoe breed en hoe lank die stad reeds is, of hy sê dat hy wil vasstel hoe lank en breed dit behoort te wees. Hier “ontbreek” ʼn Hebreeuse werkwoord wat dit vir die vertalers moeilik maak om vas te stel wat hierdie regtig staan. Die vraag is verder, of die man met die maatlyn, die reeds herboude Jerusalem opmeet en of hy opmetings maak ter voorbereiding van die herbou van die nuwe stad? As ons Skrif-met-Skrif vergelyk en ons kyk na vv.4-5, sien ons dat dit daar gaan oor ʼn toekomsblik van hoe die stad in die toekoms daar gaan uitsien en daarom kan ons aanvaar dat v.2b ook verwys na opmetings wat gemaak gaan word ter voorbereiding van die herbou van die stad.

       In v.3 gebeur daar iets baie interessant – in plaas daarvan dat die engel ook hierdie gesig verklaar, doen hy dit nie, maar loop hy vorentoe en gee opdrag aan ʼn ander engel om die verklaring van die gesig aan Sagaria oor te dra. Hierdie ander engel wat op pad na hom was, moes ʼn engel van ʼn laer orde gewees het, omdat die engel wat die vorige twee gesigte verklaar het, ʼn opdrag gee aan hierdie naderende engel en dit is net ʼn engel van ʼn hoër orde wat dit kan doen.

·           Die Belofte (vv.4-13):
       Nog iets interessants kom na vore in v.4 – die engel verwys hier na ʼn jongman, maar hierdie is nie noodwendig ʼn aanduiding daarvan dat Sagaria op daardie stadium jonk in ouderdom was nie – dit kan dít ook beteken ja, maar dit kan ook bloot net verwys na die feit dat Sagaria ʼn dienskneg in diens van die Here is, omdat die uitdrukking “jongman” in die Hebreeus, ook kan verwys na ʼn dienskneg, of dissipel.

       Die tweede engel ontvang opdrag om na die man met die maatlyn te hardloop en hom te keer om die stad op te meet, want daar is geen manier hoe hy dit sal kan doen nie, omdat die Here heeltemal iets anders in gedagte het met die stad en die tempel.

       Die engel is opgewonde oor die feit dat die stad sonder mure gaan wees. Dit was in antieke tye ongehoord dat ʼn stad sonder mure was, want hierdie vestingmure het beskerming aan die inwoners gebied, maar dit het aan die anderkant ook beperkinge gehad – o.a. kon so ʼn stad net ʼn beperkte hoeveelheid inwoners huisves en in Sagaria se naggesig, sê die engel vir hom dat Jerusalem gaan oorloop van mense en diere, sodat daar nie plek gaan wees vir ʼn “beperkende stadsmuur” nie – hierdie oorvloed van mense dui uiteraard ook op voorspoed.

       Die probleem is egter dat so ʼn stad sonder mure nie ʼn veilige plek is nie en derhalwe ʼn plek is waar die inwoners voortdurend bekommerd en selfs in vrees lewe en dit is dan ook Sagaria se begeerte, nl. dat die mure weer herbou sal word van die eens verwoeste Jerusalem, trouens een van sy voorganger-profete, nl. Daniël het sowat 10 jaar vantevore die belofte van die Here ontvang dat Jerusalem se mure weer herbou sou word ~ Jy moet nou goed verstaan, vandat die opdrag gegee is dat Jerusalem herstel en herbou moet word, totdat ’n regeerder kom wat deur God uitverkies is, sal sewe tydperke wees. Twee en sestig tydperke lank sal Jerusalem opgebou bly, met strate en verdedigingslote, maar dit sal moeilike tye wees (Dan.9:25). Dit wat die engel nou vir hom sê klop m.a.w. nie met dit wat Daniël geprofeteer het en wat eintlik logies is nie – ʼn stad sonder stadsmure is ondenkbaar.

       Wat die engel egter vir Sagaria sê, is dat hierdie naggesig van hom, eskatologiese betekenis het en dat hierdie profesie slegs sy vervulling, uiteindelik in ʼn geestelike Jerusalem kan vind – ʼn Jerusalem wat nie met bakstene gebou sal word nie, omdat God self die inwoners van die stad sal beskerm – Hy sal ʼn muur van vuur om die stad vorm.

       Die engel wil deur hierdie deel van die gesig, van ʼn Jerusalem sonder mure dus vir Sagaria sê dat die volk Israel se vertroue nie gevestig moet wees op mure nie, maar in die onsigbare teenwoordigheid van die Here God; in die beloofde teenwoordigheid van die Here. Jesaja het reeds nagenoeg 200 jaar tevore in Jes.26:1 gesê ~ Daar kom ’n dag wanneer hierdie lied in Juda gesing sal word: Ons het ’n sterk stad, God beskerm ons met mure, met ’n vesting. Esegiël het ook hieroor geprofeteer toe hy in Eseg.43:3-5 gesê het ~ Die gesig wat ek gesien het, het ooreengekom met die gesig wat ek gesien het toe ek die verwoesting van die stad moes aankondig, en ook met die gesig wat ek aan die Kebarriver gesien het. Ek het platgeval. 4Die magtige teenwoordigheid van die Here het deur die oospoort na die tempel toe beweeg. 5Toe het die Gees my opgetel en my na die binneste voorhof toe gebring. Die tempel was vol van die magtige teenwoordigheid van die Here.

       Die volk se oë moet met ander woorde op die Here gevestig wees – Hy wat weer Sy regmatige plek in die hart van die volk sal inneem en daarom moet die volk vir eers vergeet van die herbou van die stadsmure – hulle fokus moet nou eers toegespits wees op die herbou van die tempel, sodat Sy magtige teenwoordigheid (v.5b) weer binne-in die hart van die stad en die volk kan wees, want die Here het die aand voor die vorige verwoesting van die stad en tempel, Homself onttrek van die volk ~ Die magtige teenwoordigheid van die Here het van die tempel se drumpel af beweeg en bokant die gerubs gaan staan. 19Die gerubs het hulle vlerke gespan en voor my oë van die grond af opgestyg. Toe hulle beweeg, is die wiele saam met hulle. Die gerubs het by die ingang van die oostelike poort van die huis van die Here gaan staan, en die magtige teenwoordigheid van die God van Israel was bokant hulle (Eseg.10:18-19).

       Die engel sê derhalwe nou vir Sagaria in v.5 dat die dag aangebreek het, dat die Here Hom ontferm het oor die volk en dat Hy nou gaan terugkeer en omdat Hy gaan terugkeer, gee Hy opdrag aan die volk in vv.6-10 om terug te keer uit ballingskap en in vv.11-13 gee Hy ʼn belofte aan hulle t.o.v. die nasies en beide hierdie opdrag en belofte word gegrond op die teenwoordigheid van die Here in die midde van die volk.

       Daar is egter ʼn verdere rede waarom die Here opdrag gee dat die volk moet terugkeer uit ballingskap en dit is omdat Hy, soos reeds in die tweede naggesig belowe, Hom gaan wreek op die Persiërs en Babiloniërs (vv.8-9). Die Here sê in v.9 dat Hy ~ ...met een waai van (Sy) hand, hulle die gevangenis van hulle eie slawe gaan maak. Hierdie beeld van ʼn hand wat gewaai word, word meer dikwels in die Woord gebruik, trouens meer as 1600 keer in die Ou Testament en dit dui vir ons op mag. In Jes.11:15 lees ons van een so ʼn voorbeeld waar hierdie beeld gebruik word ~ En die Here sal die seetong van Egipte met die banvloek tref en deur sy gloeiende wind sy hand oor die Eufraat swaai en dit uitmekaar slaan in sewe strome, sodat ’n mens met skoene daardeur kan loop (OAV), of Jes.19:16 ~ In dié dag sal die Egiptenaars wees soos die vroue: hulle sal bewe en vrees vir die handgeswaai van die Here van die leërskare wat Hy teen hulle swaai. Wanneer die Here dus Sy hand teen ʼn volk waai of met Sy hand oor hulle vee, is dit inderdaad iets om te vrees en dit is wat met die volke gaan gebeur wat God se volk weggevoer het in ballingskap en buitensporig laat swaar kry het.

       Die Here waarsku Sy volk deur Sagaria se naggesig om pad te gee uit hierdie lande, voor HY hulle met Sy hand gaan tref – hulle moet terugkeer na Jerusalem waar hulle beskerming, vreugde en God se teenwoordigheid sal ervaar.

       In v.10 sien ons dat daar groot vreugde in Jerusalem moet heers ~ Juig, Sion, wees bly! Ek kom, Ek gaan binne-in jou woon, sê die Here. Die hartsbegeerte van die volk van God moet altyd wees om in die teenwoordigheid van die Here te wandel ~ Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God. 12Die Here God is ons krag en ons beskerming, die Here gee genade en eer, Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie. 13Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou! (Ps.84:11-13).

       Soos in vv.5 en 10 word die belofte dat die Here in die midde van Sy volk gaan woon, vir ʼn derde keer in vv.11-12 aan die volk gegee. Die land gaan nogeens geheilig word; die volk gaan weer vergewe word; die verbond gaan weer hernu word. Die land gaan weer “heilige grond” wees, soos die grond waarop Moses destyds gestaan het toe hy God by die brandende doringbos ontmoet het (Eks.3:5). Daar sal weer ʼn sondeoffer aan die Here gebring word soos in Lev.10:17 ~ Dit is die wet van die sondoffer: Op die plek waar die brandoffer geslag word, moet die sondoffer voor die aangesig van die Here geslag word. Dit is hoogheilig.

       In v.13 word opdrag gegee dat die volk stil moet wees voor die Here. Hierdie opdrag is dieselfde as wat ons in Hab.2:20 aantref ~ Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees! Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees! Daar is drie redes waarom die volk stil moet wees:
·           Hulle is maar net vlees, swak en onbelangrik;
·           God is die alwyse en almagtige;
·           Omdat God heilig is, kan geen mens voor Hom staande bly nie ~ Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees! (Ps.76:8).

4.     TOEPASSING:
       Wat beteken hierdie naggesig vir ons? Ek het vroeër gesê dat hierdie derde naggesig van Sagaria eskatologiese betekenis inhou vir die destydse Israel, maar dit hou ook baie besliste waarde vir die Kerk van die Here Jesus Christus in en daarom wil ek hê dat ons na vier fasette van hierdie gesig
kyk en dit toepas op die Kerk – op ons vandag en dit is:
·           Die Maatlyn (vv.1-5);
·           Ontvlug uit die “Noordland” (vv.6-7);
·           Jubel en wees bly (vv.8-11);
·           Eerbied voor die Here (vv.12-13).

·           Die Maatlyn (vv.1-5):    
       Ons het in v.2 gesien dat die jongman gekeer word om die stad te meet, want die engel weet dat die jongman nie ʼn idee het van wat in die hart van die Here aan die gang is nie – net so kan nie hy of enige een van ons enige iets t.o.v. die Here “meet” of bepaal nie – ons kan nie die diepte van Sy genade peil nie, ook nie die omvang van Sy liefde nie. Geen mens kan die stand van die Christelike godsdiens meet nie – ons kan nie sê hoeveel wedergebore siele op aarde was, is en nog sal wees nie. Pogings van organisasies soos “Operation World” om te bepaal hoeveel Evangeliese gelowiges in elke land is, is bloot net bespiegeling, want niemand weet wat presies in elkeen van ons se harte aangaan nie – net God weet. Nie een van ons kan eers ons eie vordering op die pad van heiligmaking meet nie.

       Die engel sê uitdruklik vir die jongman dat ~ ...Jerusalem ’n stad sonder mure gaan word, so baie mense en diere gaan daar in hom wees (4b). Hierdie is natuurlik ook eskatologiese taal en het die engel, die Kerk van die Here Jesus Christus hier in gedagte. Die fokus t.o.v. die betekenis van hierdie gesig lê nie op die herbou van die fisiese tempel nie, maar dit gaan hier oor die fokus wat gevestig word op die geestelike tempel van Jesus Christus en ook hierdie tempel word nie gemeet en gepas deur mense nie en nog minder word hierdie tempel gebou met goud wat die koning van Persië terug gestuur het uit Babel; ook nie ʼn tempel met torings en loodglasvensters en orrels en flitsende ligte en 10-man sterk “bands” nie – dit is ʼn tempel wat op die fondasie, Jesus Christus gebou word o.l.v. die Heilige Gees en uit genade alleen.

       Die engel sê vir die jongman dat die “nuwe tempel”, nl. die kerk, deur Christus self beskerm en bewaar sal word ~ En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt.16:18).

       Die stad en “nuwe tempel” gaan nie herbou word nie en daarom moet die jongman dit nie eers opmeet nie, want dit gaan groei en mure kan en sal dit nie keer nie, want die Koninkryk van God gaan voortstu en meer en meer gelowiges gaan inkom en die universele Kerk van Christus gaan net groei en groei.

·           Vlug (vv.6-7):
       Daar is egter ʼn voorwaarde en dit is dat die volk moet vlug uit die “Noordland”. Die uitverkorenes moet hulle bekeer en wegdraai van sonde en God se aangesig soek en Hom en Hom alleen dien. Die Here gaan Sy vyande oordeel en vernietig en die gelowiges moet nie in sonde, tussen die sondaars, vasgevang sit nie – nee, hulle moet na die nuwe Jerusalem vlug, daar waar die Tempel en die stad sonder mure is en daar sal hulle beskerming geniet, want die Here sal ’n muur van vuur rondom die stad vorm en geen vyand sal hulle daarbinne kan aanraak nie – ons is veilig binne die Koninkryk van God!

       Hierdie gesig van Sagaria borrel oor van die verlossing wat die Here vir Sy volk bewerk en net soos wat die Here opnuut weer Sy verbondsvolk vergewe het, net so haastig is Hy om ons te vergewe – ons moet ook net bereid wees om “spoedig uit die Noordland” pad te gee. Die Israeliete het die geleentheid gehad om pad te gee uit ballingskap en terug te keer na hul geliefde Vaderland, maar tog was hulle teensinnig – waarom? Was dit gemaksug? Het hulle dit te veel geniet om daar te bly? Was dit liefde vir die weelde en voorspoed van die “Noordland”?

       Ons ontvang ʼn soortgelyke waarskuwing en opdrag om te vlug van sonde, wanneer ons na Openb.18:4 kyk ~ Toe het ek ’n ander stem uit die hemel hoor sê: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie aan haar sondes deel kry en die plae wat oor haar kom, julle ook tref nie. Die vraag is, of ons die weelde en gemaksug van die “Noordland” gaan agterlaat of nie.

·           Jubel (vv.8-11):
       In v.10 sê die Here dat Sion moet juig en bly wees – waarom? Omdat Hyself binne-in hulle kom woon. Hierdie belofte wat aan die jongman gemaak is, het die Here gehou en het in vervulling gekom met die vleeswording van Jesus. In en deur Jesus Christus het God waarlik in die midde van Sy volk kom bly – geen wonder dat die engel aan Maria gesê het dat die Kind wat deur die Heilige Gees in haar verwek is, se naam Emmanuel gaan wees nie – “God met ons” (Matt1:23). Deur Jesus het Sy heerlikheid die wêreld binne gekom ~ Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Joh.14).

       Deur die eeue heen het ons gesien hoe dat die Christelike geloof groei en spesifiek tydens tye van vervolging. Kort na Jesus se koms het koning Herodes die koms van die Christendom probeer dooddruk deur Jesus om die lewe te probeer bring, maar Jesus is nie gedood nie en Sy dissipels het kort voor lank net meer en meer geword. Nié die Romeine of die Joodse leiers, of Kajafas kon verhoed dat die inwoners van die “heilige stad” so baie word dat die stadsmure oorstroom is nie, want al is Jesus gekruisig en al het Hy gesterf, Hy het weer opgestaan en dit het ʼn nuwe vlaag van nuwe dissipels tot gevolg gehad, want nie lank daarna nie, het die “Handeling-gebeure” plaasgevind toe die Heilige Gees uitgestort is en omtrent drieduisend by die Kerk van die Here Jesus bygevoeg is (Hand.1:41) en net ʼn rukkie later – in Hand.2:47b lees ons ~ En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg. God, Emmanuel is inderdaad met ons!

       Christus sê in Joh.2:19-22 dat Hý die ware Tempel is –die woonplek van God op aarde en dit is deur Hom dat God se Koninkryk na die aarde gekom het en elkeen wat in Hom glo en Hom bekeer en vlug uit die “Noordland”, word gered en vind nie alleen skuiling in Hom die ware Tempel nie, maar ervaar ook Sy beskerming soos ʼn vuur rondom die stad en Sy voortdurende teenwoordigheid is ʼn belofte wat ons vir onsself kan toe eien, trouens Hy gaan verder en sê in Sag.2:10-11 dat Hy ín ons gaan bly! Is dit nie genoeg rede om gehoor te gee aan Sy oproep aan ons om te juig en bly te wees in Hom nie?

·           Eerbied (vv.12-13):

       Ons lees in vv.12-13 van ons Skriflesing ~ Daar, op die heilige grond, sal die Here weer vir Juda in besit neem as die volk wat Hom toekom, sal Hy Jerusalem weer sy woonplek maak. 13Wees stil voor die Here, al wat leef! Hy kom uit sy heilige woning te voorskyn! Iemand het eenkeer gesê: The profoundest emotions of the soul are always mate. Superficial feelings are noisy and chattering. The shallow stream babbles amongst the hills. The deep river rolls by unheard. Ja, dit is so dat daar allerlei emosies is wat gelowiges ervaar wanneer hulle in die teenwoordigheid van God verkeer en hierdie emosies kan oorloop in ʼn vreugdevolle, of selfs ʼn sentimentele lied (en dit is nie noodwendig verkeerd nie), maar diep en opregte vreugde en verwondering is meestal stil soos die sterre – dit is vreugde wat nie geuiter kan word in ʼn lied of ʼn gelag nie, nee dit is stil van verwondering en dankbaarheid; van eerbied en ontsag, omdat ons besef dat ons in die heilige teenwoordigheid van ʼn heilige en almagtige en soewereine God in aanbidding en stilte neerkniel, omdat ons op heilige grond verkeer.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 23 November 2014