Sunday, November 16, 2014

Die Profeet Sagaria - 03 (“Tweede Naggesig – Die Horings en die Ystersmede”)

Vir Oudio-opname van Preek - sien regs bo op Spyskaart en volg verlangde skakel
1.  SKRIFLESING:
     Sagaria 1:18-21 ~ Ek het weer ’n gesig gesien. Daar was vier horings, 19en ek het vir die engel wat vir my die gesig moes uitlê, gevra: “Wat beteken dit?” Hy het vir my gesê: “Dit is die horings wat vir Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het.” 20Toe laat die Here my vier ambagsmanne sien, 21en ek vra: “Wat het hulle kom doen?” Hy het geantwoord: “Daardie horings het die mense van Juda verstrooi en verneder. Die ambagsmanne het gekom om die regeerders van die nasies, die horings wat vir Juda met soveel geweld verstrooi het, die skrik op die lyf te ja en hulle tot ’n val te bring.” 

2.         INLEIDING:
     Hierdie tweede naggesig van Sagaria, is die kortste van die agt gesigte wat Sagaria gedurende die nag van, 15 Februarie 519 v.C. ontvang en is deel van die eerste van drie orakels.

     Soos wat ek verlede week aangetoon het, beskik hierdie naggesig ook oor dieselfde struktuur, nl.:
·      'n Inleiding;
·       Besonderhede oor die gesig  en...
·      Die verklaring wat die engel aan hom verskaf.

     In die eerste gedeelte van die orakel waarna ons verlede Sondag gekyk het, het ons gesien dat die Engel op die perd (ons het gesien dat dit Jesus self was), God se belofte oorgedra het aan die volk deur Sagaria en dat Hy die Israeliete weer gaan seën, terwyl Hy die nasies gaan straf wat hulle mandaat oorskry het toe hulle die volk van die Here buitemaat, vervolg het. Hierdie laasgenoemde aspek t.o.v. God se oordele oor die heidense volke, word nou in hierdie tweede naggesig van die horings en die ambagsmanne, in groter detail beskryf. Ons moet besef dat hierdie gesig nie maar net ʼn voortsetting is van die eerste nie, maar ʼn aparte en tweede gesig en dit sien ons in die woorde van die profeet wanneer hy sê ~ Ek het weer ’n gesig gesien (v.18).

     Die OAV en die Engelse vertalings vertaal hierdie vers met ~ En ek het my oë opgeslaan en gekyk en ons vind hierdie selfde uitdrukking, elke keer voor die volgende naggesig wat Sagaria ontvang het.

3.         BESONDERHEDE OOR DIE GESIG (vv.18-21):
·      Die vier Horings (vv.18-19a):
     Regdeur die Ou Testament en in die kulturele konteks van die Midde Ooste, het horings mag en krag gesimboliseer – veral as dit by koninklike mag gekom het.

     Horings was nie net destyds, ʼn simbool van mag en krag nie – dit is vandag nog steeds letterlik die geval in die diereryk en daarom is dit so hartseer dat renosters deesdae deur sommige wildboere, onthoring word a.g.v. die slagting wat onder die resnosterbevolking plaasvind – dit is hartseer, want dit is m.b.v. die renosterbulle se horings dat hulle dominansie en leierskap van ʼn trop betoon, wanneer daardie posisie deur ʼn ander, of baie dikwels ʼn jong bul uitgedaag word. Dieselfde geld ook vir bokke, waar hulle baie dikwels tot die dood toe met hul horings baklei ten einde dominansie van die trop te behou of te verkry.

     In Ou Testamentiese tye, sou daar ook olie uit ʼn bokhoring oor die kop en hare van ʼn nuwe koning, tydens sy kroningseremonie gegooi word. In 1 Sam.16:1 ontvang Samuel opdrag van God om ʼn horing vol olie te maak en na Bethlehem te gaan ten einde die volgende koning te salf en dan lees ons in 1 Sam.16:11-13 dat Samuel vir Isai sê dat die Here een van sy seuns gekies het om koning van Israel te word en toe Dawid uiteindelik voor Samuel verskyn – die laaste en jongste van Isai se seuns, toe sê die Here vir Samuel in vv.12-13 ~ “Staan op, salf hom, want dis hý.” 13Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk.
    
     In hierdie tweede naggesig van Sagaria sien hy vier horings en moet ons die simboliek van koninklike en nasionale mag hier in gedagte hou. Ons sal ook sien dat hierdie beeld van die vier horings, die sentrale kenmerk van hierdie bepaalde gesig is.

·      Die vier ystersmede (v.20):
     Die tweede beeld wat Sagaria in sy gesig sien, is dié van vier ambagsmanne, of soos die OAV dit vertaal, dié van vier ystersmede. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, dui egter nie vir ons direk op dié van ystersmede nie, want die Hebreeuse woord kan vir allerlei ambagslui gebruik word (selfs bv. vir skrynwerkers), maar as ons in gedagte hou dat hierdie gesig na magtige “vier-horing-nasies en -konings” verwys en as ons kyk na 1 Kon.22:11 waar daar geskryf staan ~ Sedekia seun van Kenaäna het vir hom ’n paar horings van yster gemaak en gesê: “So sê die Here: Met hierdie horings sal u die Arameërs stoot tot dit klaar is met hulle”, kan ons aanvaar dat hierdie ambagslui weliswaar ystersmede was, hoewel dit nie belangrik is nie, omdat dit nie hier gaan oor watter tipe ambagslui hier van gepraat word nie. Wat egter wel van belang is, is die feit dat ambagslui nie deel uitgemaak het van die hoër sosiale groepering in die algemene volkslewe nie – hulle was derhalwe ook nie deel van die politieke elite, of senior offisiere in die weermag nie; hulle was ook nie akademies geskool nie.

     Met hierdie twee beelde in gedagte – aan die eenkant magtige konings en volke wat uitgebeeld word deur die vier horings, maar in teenstelling daarmee die onbelangrike ystersmede, noop Sagaria om vir die engel te vra wat hierdie gesig beteken.

4.  DIE VERKLARING:
·      Die vier horings (v.19b):
     In hierdie kort “vier-vers-Skrifgedeelte” van vanoggend, word die woord “horings” nie minder nie as vier keer gebruik en dit dui vir ons op die krag en mag van die volke en hoe hulle hierdie mag gebruik het.

     V.19b gee vir ons verder ʼn baie besliste aanduiding van wie hierdie nasies was wie Sagaria in sy gesig gesien het – die engel sê vir Sagaria, dat hierdie horings die nasies was wat Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het. Wat ons egter wel weet is dat daar eintlik net twee nasies of Ryke was wat verantwoordelik was vir die ballingskap en wegvoer van die volk van God, nl. Babilon, wat in Sagaria se tyd reeds gekom en gegaan het (Dan.2:36-39; 7:17), terwyl Daniël se “twee-horing” ram (Dan.8:10), nl. die Persiese Ryk, steeds in Sagaria se tyd en die tyd van hierdie naggesig, aan die bewind was en baie groot dele van die wêreld, waaronder Israel, beheer het.

     Watter ander twee nasies het die ander twee horings dan verteenwoordig? Dit kon dalk die Egiptenare en die Grieke gewees het, want ons weet dat hierdie twee nasies ook vir Israel onderdruk het en Sagaria het ook in Sag.9:13 en 10:10-11 na hulle verwys. Die moontlikheid bestaan ook dat daar i.p.v. Egipte en Griekeland, na Sirië en Assirië verwys kon word, maar ook dit is nie klinkklaar duidelik nie. Dit was egter net Babilon en Persië wat die volk van die Here in ballingskap weggevoer het en daarom moet ʼn mens die versoeking weerstaan om volksname aan hierdie vier horings toe te ken. Die waarskynlikste verklaring wie deur hierdie vier horings verteenwoordig word, is bloot dan net dat die getal vier verteenwoordigend is van volke vanuit al vier die windrigtings wat teen Sy volk opgetree het en/of dalk nog in die toekoms teen hulle gaan optree – dit verwys dus na die ganse heidendom.

     Hierdie uitgangspunt dat die getal vier hier bloot net simboliese taal is en nie verwys na vier spesifieke nasies nie, word beklemtoon deur Skrifgedeeltes soos bv. Jer.49:36 ~ Ek laat die vier winde losbreek teen Elam, die winde uit die vier hoeke van die hemelruim, Ek verjaag hulle al die windrigtings in; daar sal nie ’n nasie wees nie of van Elam se vlugtelinge sal daar beland. Ook Eseg.37:9 ~ Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.”  

·      Die vier ystersmede (vv.21):
     In v.21 gee die Engel aan Sagaria die verklaring vir die vier ystersmede en hierdie ystersmede gaan optree teen v.19b se vier horings.

     Die feit dat die getal vier t.o.v. die horings, simbolies van aard is, impliseer dit dus dat die getal vier in die geval van die ystersmede, ook simbolies van aard moet wees, maar wat beteken dit dan?

     Sagaria vra nie wie hierdie ystersmede is nie, maar dit is duidelik dat hulle nederige en gehoorsame diensknegte is, wie in diens van die Here staan en Sy wil uitvoer. Jer.23:29 gee vir ons ʼn verdere aanduiding na wie of wat hierdie smede verwys ~ My woord is soos vuur, sê die Here, soos ’n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word. Dit is derhalwe duidelik, dat hierdie smede in opdrag van God optree en in die toekoms gaan optree, ten einde die vyande van God se volk te vernietig. Hierdie instrument is magtig, want dit word bemagtig en tree in opdrag van God se Woord – Sy opdrag, op. Dit is waarom God se volk in oorwinning lewe en optree. Dit is dan ook waarom Paulus in 2 Kor.10:4-5 sê ~ Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies 5en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

     Die belangrike hier is dus om net soos in die geval van die horings, nié die ystersmede te beperk tot een spesifieke nasie of koninkryk, of bepaalde mag nie. Hierdie smede verwys m.a.w. na enige mag of instrument in die hand van God en wat in opdrag van Sy Woord, deur die loop van die wêreldgeskiedenis, teen God se vyande optree, soos bv. die Romeinse Ryk wat net voor en na Christus se geboorte, as onderdrukkers van God se volk sou optree en natuurlik ook wêreldmagte wat dit ná Christus en ook in ons tyd en in die toekoms in ons nageslagte se tyd mag doen.

     Hierdie boodskap wat Sagaria ontvang en wat hy aan die volk deurgegee het, was uniek in die opsig dat die vorige profete meestal spesifieke profesieë gebring het oor of teen spesifieke magte of gebeure, terwyl hierdie naggesig baie breed en nie spesifiek van aard is nie. Hier staan egter een ding soos ʼn paal bo water en dit is die feit dat God se komende oordeel onvoorwaardelik is en daarom vas en seker staan. Wanneer dit gaan plaasvind word nie aan Sagaria gesê nie, ook nie wie hierdie smede is nie. Wanneer dit gaan plaasvind en wie die instrumente in God se hand gaan wees, is dus nie die punt van hierdie gesig nie, maar dat dit wél gaan plaasvind – dít is die punt.

     Daar is egter nog iets wat belangrik is om op te let en dit is die feit dat daar vir elke horing, ook ʼn ystersmid is – daar is vier horings, maar daar is ook vier smede en dit dui onteenseglik daarop dat daar ʼn instrument in God se hand is om ʼn ieder en elke optrede wat teen Sy volk uitgevoer is, of gaan word, met mag en krag te vernietig.

     Sagaria sien die nederige ystersmede wat gereed is om die horings te vernietig, sodat God se geregtigheid kan seëvier. Die doel met hierdie gesig is dus om die volk se vertroue in God te versterk, asook die feit dat Hy reg en geregtigheid sal laat geskied. God wil vir die volk van die dag sê dat elke wêreldmag wat moontlik die herbou van die tempel verder sal wil vertraag of selfs vernietig, in die kiem gesmoor sal word en dat Hy geregtigheid sal laat geskied en weer in die volk se midde kom woon, maar Hy sê ook terselfdertyd dat Hy in die toekoms, Sy volk sal beskerm teen die aanslae van die vyand.

5.         TOEPASSING:
   Wat beteken hierdie tweede naggesig van Sagaria vir ons – het dit enige toepassing?

   Deurgaans deur die geskiedenis was die feit baie duidelik dat God Sy geregtigheid laat geskied en dat Hy Sy kinders beskerm teen ongeregtigheid. In die vroeë Nuwe Testamentiese kerk het die vyande van Christus se Kerk, Sy goddelikheid in twyfel getrek en die Kerk in diskrediet gebring, maar die Here het ʼn man met die naam Athanasius opgerig (293-373 n.C.) wat die wêreld se aanslae beveg en die Kerk se saak onbeskroomd gestel het. Hy het geweldige vervolging deurstaan en uiteindelik die teologiese denkrigting van Arianisme, wat die Christendom wou teruglei na die heidendom, blootgelê en is hierdie aanslag teen die kerk afgeweer – “die horings” is afgebreek [Arianisme was ʼn teologiese denkrigting wat deur Arius (256-336 n.C.) geformuleer is, waardeur die Drie-Eenheid verwerp is].

     Nagenoeg ʼn eeu later was daar weer die aanslag van Pelagianisme en ander dwaalleer en het die Here vir Augustinus opgerig en het hy met sy vlymskerp teologiese brein, hierdie dwaling aan flarde geskeur (Die uitgangspunt van Pelagius was dat die mens nie van nature dood is in sonde nie, maar dat hy homself kan reghelp op die pad van regverdigmaking. Die verlossing in Christus en die versoening deur Hom bewerk, is derhalwe nie nodig nie).

     So het dit deur die eeue heen gegaan, maar die vyande van die Kerk is een na die ander ontbloot en vernietig, of is die gelowiges ten minste van hierdie vals leer gered en bewaar.

     Hoe is hierdie dwaalleer beveg? Hoe is hierdie aanslag teen die Kerk beveg? Die wapens in die hande van die ystersmede was telkens en moet voortdurend in die toekoms ook, die Waarheid – die Woord van God wees. Kom ek herhaal weer wat Jeremia in Jer.23:29 sê ~ My woord is soos vuur, sê die Here, soos ’n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.

     Die Woord van God is magtiger as enige ander wapen wat teen die Kerk (teen ons as gelowiges opgeneem kan word) en daarom sê Paulus ook in 2 Kor.10:4-5 ~ Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. 6God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,”  het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal. 7Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. 8In alles word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; 9ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. 10Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. Die Woord is die kragtigste wapen in die arsenaal van ʼn gelowige en daarom moet ons die Woord bestudeer en die Woord ken en die Woord toepas in en deur ons lewe, dit is waarom die Hebreërskrywer in Hebr.4:12 sê ~ Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

     Die volk Israel het baie ongeregtigheid in hul lewe ervaar, maar net so ervaar ons as gelowiges net so dikwels, ongeregtigheid wat teen ons gepleeg word – of dit nou in die werkplek is, of deur mense wat ons gedink het vriende (of selfs familie) is. Baie gelowiges het al, ál hulle besittings verloor omdat hulle Jesus Christus as Saligmaker bely (dink maar weereens net aan die gelowiges wat deur die Islamitiese Staat – ISIS, vervolg word); baie het al hul besittings verloor, maar baie het selfs ook met hul lewens geboet. Verlede jaar alleen was daar na bewering 2 123 martelare wêreldwyd, teenoor die 1201 in 2012. Hierdie is baie konserwatief berekende getalle, terwyl daar navorsers is wat reken dat daar selfs meer as 8 000 martelare gemiddeld per jaar sterf vir hul geloof in Jesus Christus. Wie gaan hierdie onderdrukkers, vervolgers en moordenaars van gelowiges verantwoordelik hou? Dit lyk asof hulle maar net wegkom daarmee.

     Die vraag is of mense wat onregverdig teenoor ons optree en ek praat nie net van martelaars nie, ek praat ook van “gewone” ongeregtigheid soos skinder, of diskriminasie in die werkplek omdat ek ʼn gelowige is, ens. – sal mense wat in ongeregtigheid teenoor ons optree – sal ook hulle soos in die tyd van Sagaria, aan die pen ry? Sal hulle “horings” ook deur God se ystersmede vernietig word?  

     Die feit is dat net soos wat die volk van die Here in Sag.1:18-21 hoop ontvang het en die praktiese implementering van die Here se beloftes gesien en ervaar het, net so bied God se Woord aan ons hoop en beloftes, dat God se geregtigheid een of ander tyd sál seëvier – Sy nederige ystersmede sal ook die “horings” in ons lewe vernietig, trouens daardie dag het reeds aangebreek met die koms van Jesus Christus. Vroeg in Jesus se bediening het Hy dit reeds bekend gemaak dat Hy gekom het om namens Sy dissipels (ons) op te tree teen ongeregtigheid en hy het dit in die Sinagoge in Jerusalem gesê, deur Jes.61:1-2a aan te haal ~ Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, 19om die genadejaar van die Here aan te kondig” (Luk.4:18-19).

     Hierdie was deurgaans die tema van Jesus se bediening. Hy het geregtigheid gevestig deur nederigheid, diensbaarheid en opoffering en dit is wat ons ook deurgaans moet doen wanneer daar onregverdig deur die wêreld teen ons opgetree word – of ons nou beskinder word en of ons verneder word en of ons valslik beskuldig word, of ons verneuk word, of ons gedood word vir ons geloof, of wat ook al – staan jou man, maar doen dit deur jou getuienis ten alle tye uit te leef en op nederige en diensbare wyse jou getuienis voortdurend te bly uitleef en onthou deurgaans dat Jesus die spot en hoon en vervolging – tot die dood toe, van die wêreld verduur het, t.w.v. ons en wanneer ons iets van dieselfde van die wêreld ervaar – troos jou daaraan, dat dit jou geleentheid is om met Jesus te identifiseer.

          Ek het verlede week twee teksverse aangehaal en ek wil dit weer vanoggend in hierdie konteks as vertroosting en bemoediging herhaal ~ ...En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matt.28:20b). Hy daag ons egter ook voortdurend uit wanneer Hy sê ~ As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg (Luk.9:23).

     Geliefdes, die bewerkers van ongeregtigheid sal hulle dag van afrekening kry – dit is ʼn belofte van die Here – reeds in Sag.1:18-21 al. Die Woord sê dat hulle dae getel is, maar ons reaksie op hierdie bewerkers van ongeregtigheid moet altyd Christus gelykvormig wees. Ons val baie dikwels in die strik om onsself te regverdig en self dan op die troon van onderdrukking te sit en wil ons ʼn oog vir ʼn oog vergeld, maar ons mag dit nie doen nie – ons moet deurentyd geregtigheid najaag en geregtigheid vestig waar ons ook al is. Ons is ook vandag ystersmede in God se hand en ons moet saam met Christus as die hoof-Ystersmid, horings van ongeregtigheid vernietig, maar ons moet dit op ʼn Christus gelykvormige wyse doen, deur lief te hê, deur nederig te wees, deur vergewingsgesind te wees, maar om ook ten alle tye regverdig te wees en in die lig te wandel en sonde te ontbloot, ja ook die sonde van ongeregtigheid.


          Soms lyk dit onmoontlik om ongeregtigheid “stukkend te slaan en te vernietig”, maar dan moet ons net onthou, soos reeds gesê, dat geregtigheid uiteindelik in God se hande lê, soos Paulus dit baie duidelik in Rom.12:19 stel ~ Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 16 November 2014