Sunday, June 22, 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 33 (“Algemene riglyne vir ’n lewe as Gelowige - 02”)

1.     INLEIDING:
       Ons sal in ons Skriflesing vandag, die tweede gedeelte van die gelowige se optrede en gedrag t.o.v. homself en andere vind.

       Ons het verlede week in vv.1-3, riglyne gevind t.o.v. ons optrede en gedrag jeens medegelowiges en daar het ons spesifiek stil gestaan by ons liefde wat ons vir ons broers aan die dag moet lê. Ons het ook gekyk na gasvryheid en ook na ons gesindheid jeens gevangenis en bedelaars.

       Vandag gaan ons na riglyne kyk t.o.v. die huwelik, ons besittings en ook standvastigheid in ons geloof.

2.     SKRIFLESING:
Heb.13:4-6 ~ Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom. 5Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?” 7Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het. 8Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. 9Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike nie. Dié wat hulle aan hierdie gebruike gehou het, het niks daarby gebaat nie.

3.     DIE HUWELIK (v.4):
       In v.4 spreek die Hebreërskrywer die huwelik aan en ’n mens mag wonder waarom hy dit doen? Die rede was dat gelowiges gedurende die eerste eeu, teenoor die res van die gemeenskap uitgestaan wat betref die huwelik, omdat hulle ’n heel teenoorgestelde gesindheid gehad het t.o.v. die huwelik en die seksuele.

       Die gelowiges van die eerste eeu was gekonfronteer met ’n moreel vervalle en siek wêreld – die huweliksverbond het niks beteken nie; seksuele omgang oor huweliksgrense was aan die orde van die dag en so ook buitehuwelikse omgang en homoseksualiteit was niks snaaks nie (“what’s new?”).

       Hierdie toestand van die wêreld het tot gevolg gehad dat sommige gelowiges oorreageer het. Van diegene wat oorreageer het, het gesê dat seksuele reinheid só belangrik is, dat gelowiges eerder in selibaatskap moet leef en sommige het selfs so ver gegaan en gesê dat gelowiges eerder ’n asketiese lewe moet lei (iemand wat hom afsonder en ’n streng, vroom lewe sonder enige sinlike genot lei) en daarom behoort gelowiges nie te trou, of enige iets met die seksuele te doen hê nie en selfs hul liggame ru behandel.

       In die lig van die toestand waarin die wêreld verkeer het en waarin die gelowiges hulself bevind het, sê die skrywer nou vir sy lesers dat hulle die huwelik eerbaar moet hou en dat egpare getrou aan mekaar moet bly.

       Die huwelik as instelling is deur God ingestel en dit is nie toevallig dat Hy Sy eerste wonderwerk juis by ’n huwelik gedoen het nie, trouens die Here ag die huwelik so belangrik en heilig dat Hy die huwelik as beeld voorhou vir hoe die Kerk moet wees en daarom mag geen mens dit mag minag nie – met die enkele uitsonderings wat die Skrif natuurlik vir ons gee.

       Dit is baie interessant om te sien dat die Woord van God ten minste drie redes vir die instelling van die huwelik vir ons gee:
·           Die voortbring van kinders. Die mens het al so vroeg soos in Gen.1:28a die opdrag hiertoe ontvang ~ Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit.
·           Tweedens is die huwelik ingestel juis om seksuele sondes te verhoed ~ ...maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man (1 Kor.7:2).
·           Kameraadskap en vriendskap is ’n derde motivering vir die huwelik ~ Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke” (Gen.2:18).

       Die Amplified Bible (AB) vertaal die Grieks baie mooi wanneer dit sê dat die huwelik hoog geag moet word – dat dit agtingswaardig is en dat dit gerespekteer sal word – nie net as instelling nie, maar dat man en vrou mekaar ook sal respekteer in alle opsigte – mekaar se gevoelens, mekaar se menswaardigheid, emosies, voorkeure, wense en begeertes, ens.

       Die huwelik is ook kosbaar en ’n groot skat uit die hand van God en daarom moet dit ten alle koste bewaar en gekoester word.

       In die lig hiervan gaan die Apostel dan verder en sê hy in v.4b, dat die huwelikslewe impliseer dat man en vrou getrou aan mekaar sal wees. Die vraag is ten opsigte waarvan moet  hulle getrou aan mekaar wees? Die volgende sin verklaar dit, maar kom ons kyk net eers hoe die OAV dit vertaal ~ ...Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees... en dan hierdie woorde, ...en die bed onbesmet (v.4). Die ESV sê ~ ...and let the marriage bed be undefiled en die NKJV ~ ...and the bed indefiled.

       Die Grieks wat hier gebruik word vir “bed” is κοίτη [koite /koy·tay/]. Wat ’n direkte verwysing na seksuele gemeenskap is. Die res van v.4 sê dan ~ ...want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom. Dit gaan dus hier oor mans en vrouens wat hul huweliksbeloftes minag en seksueel betrokke is by iemand buite die huwelik. Paulus waarsku ook in 1 Kor.6:18, wanneer hy sê ~ Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ’n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam.

       Die wêreld waarin die Hebreërs geleef het, was behep met die seksuele en so ook die wêreld waarin ons vandag leef. Kyk maar net rondom jou wanneer jy in inkopiesentrums loop, of op paaie ry – jy word aanhoudend (en veral mans) gebombardeer met wellustige, popmooi, volmaak gevormde meisies wat daarop ingestel is om die “dier in ’n man wakker te maak”. Bykans elke rolprent, program en sepie op TV het gedurig subtiel tot banale seksuele tonele wat die mens se moraliteit aftakel totdat jy op ’n punt kom waar alles aanvaarbaar is – immoraliteit en pornografie is nie net al meer en meer aanvaarbaar nie, maar word al meer en meer beoefen en goedgekeur – waarom? Omdat die media dit as aanvaarbaar en baie aanloklik en bevredigend aanbied.

       Binnehuwelikse gemeenskap is deur God aan die mens gegee en daarom is dit mooi en edel, kreatief en vervullend, maar buitehuwelikse seks is vuil, lelik, onvervuld, vernietigend en veroordelend, daarom dat Jesus ook waarsku en sê ~ ...want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom (v.4b).

       Ons moet ook vir geen oomblik dink dat nét die fisiese daad van egbreuk hier aangespreek word nie – Jesus sê in Matt.5:28 ~ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. Wanneer ons skuldig is aan hierdie waarskuwing van Jesus, is ons skuldig aan v.4 van ons Skriflesing van vandag, want of egbreuk in die reële wêreld plaasvind, of in die gedagtes – is dit een en dieselfde ding.

       Vrouens moet nie nou agteroor sit en dink dat hierdie net op mans van toepassing is nie. Die Hebreërskrywer tref nie hier ’n onderskeid nie en al word daar in die media primêr, of hoofsaaklik op mans gefokus (dink maar net aan bykans elke advertensie waar daar hoofsaaklik ’n vrou gedrapeer word oor of op of langs die objek wat geadverteer word), moet ons nie dink dat vrouens gevrywaar word nie. Ek het al baie keer gewonder waarom dit juis mans is wat hoofsaaklik geteiken word om te “val” vir die verlokking van “seksie-vrouens” en ek het dit vir myself uitgemaak dat dit is omdat mans die leiers is, of jagters is en dit is ook reg so en ook Bybels, maar ook dit verander vinnig, want ons sien al meer en meer hoe vrouens ook uitgebeeld word in die media as die jagters en die hele onbybelse en globale veldtog om gelyke regte aan vrouens te gee verhaas hierdie hele proses en ons sien dit reeds, maar ek dink dat ons al meer en meer “seksie mans” in advertensies sal sien (ook t.w.v. die hele “gay-agenda” wat geweldig sterk gepromoveer word in die media).

       Ons moet ons huwelike voortdurend aan hierdie vereistes vir die huwelik toets en kyk waar ons enersyds tekort skiet, maar selfs andersyds ook kyk of ons hoegenaamd ’n huwelik het en dan alles in ons vermoë doen om ons te bekeer waar nodig en ons huwelik weer terug te bring binne God se ordes vir die huwelik, want ons moet altyd in gedagte hou dat die huwelik ’n instelling van God is.

4.     VERGENOEGDHEID (vv.5-6):
Ons sien dat God in die Wet aan die Israeliete gesê het ~ Jy mag nie egbreuk pleeg nie, iets wat die Hebreërskrywer dus in v.4 herhaal, maar God sê direk na Eks.20:14 in v.17 ~ Jy mag nie begeer nie. Hy wys derhalwe hierdeur dat die jaloerse begeerte na materiële besittings, net so boos en onaanvaarbaar is as die boosheid van sondige seksuele begeertes en sonde.

       Die Hebreërskrywer wil in vv.5-6 vir ons wys op die sonde en onaanvaarbaarheid van begeerte in die algemeen, maar ’n begeerte na geld en materiële besittings in die besonder. Die apostel spreek dus in hierdie twee verse iets aan wat vir die meeste van ons maar ’n groot probleem is, nl. vergenoegdheid (contentment), m.a.w. om tevrede te wees met wat ons het, of anders gestel, dit is die teenoorgestelde van inhaligheid; begeertes; geldgierigheid, ens. (covetousness). Die Hebreërskrywer weet dat diegene wie lief is vir die wêreld en derhalwe vir geld, baie moeilik geestelik staande sal bly en daarom sê hy in vv.5-6 ~ Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?”

Enige vorm van begeerte word baie streng veroordeel deur die Woord, trouens dit word verbied. Jesus waarsku bv. in Matt.6:19-21 dat ons nie skatte hier op aarde bymekaar moet maak, waar mot en roes dit vernietig nie, maar eerder skatte in die hemel, want en dit is die waarskuwing, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Jesus het ook in Matt.6:24 gesê dat ons nie twee meesters kan dien nie, want hy sal die een liefhê en die ander een haat.

Meer en meer gelowiges glo in ons dag dat rykdom en die besit van materiële besittings – en selfs ʼn oorvloed daarvan, gelowiges se reg is. Hulle gaan selfs so ver as om te sê en te verkondig dat God dit van gelowiges verwag om daarvoor te vra en dit dan met geforseerde en self-opgeklitste “geloof” op te eis en te verwag as deel van Sy beloftes aan Sy kinders – so asof God (in groot piëteit gesê) ʼn “Genie-lampie” in ons hande is.

Dit is wel so dat beide die Ou- en Nuwe Testament leer dat God die getroues sal seën, maar die vraag is of hierdie “seën” noodwendig, materiële seën impliseer? Beteken dit dat alle gelowiges ryk kan wees? Daar is baie wat dit glo en verkondig – daarom dat daar soveel “godsdienstige lyke” op straat lê nadat hulle rykdom en/of voorspoed verwag het en dit nie gekry het nie en hulle dan deur hierdie voorspoedteoloë daarop gewys is dat hulle óf sonde in hul lewe het (asof hulle nie sonde het nie!), óf dat hulle geloof te klein is en dan tuimel hierdie arme misleide mense wat voorspoed beloof is, se “geloofskaartehuis” in mekaar.

  Paulus bv. meld voortdurend dat hy geseën en geroep was deur God, maar dan lees ons terselfdertyd van hoe swaar hy gekry het – hoe hy gely en beproef is, maar dat dit nooit sy vreugde gesteel het, of sy ervaring van die volheid van die lewe ontneem het nie, trouens – en dit is belangrik – hy skryf gereeld in sy sendbriewe dat sy lyding deel is van die getuienis dat hy geseën word; dat hy gered is; dat hy geroep is deur God – luister ~ In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; 9ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. 10Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. 11Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word. 12Dit beteken dat in ons die dood aan die werk is, maar in julle die lewe. 13Daar staan in die Skrif: “Ek het geglo, daarom het ek gepraat.” Ons het dieselfde Gees wat die geloof wek, en ons glo, daarom praat ons ook. 14Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel. 15Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer. 16Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig (2 Kor.4:8-18).

            Hoor wat sê Paulus ook in 2 Kor.6:10 ~ Ons ontvang eer en oneer, ons word beledig en geprys. Ons word behandel as verleiers, en tog is ons betroubaar; 9as onbekendes, en tog is ons goed bekend; as sterwendes en, soos julle sien, ons lewe; as gestraf, maar ons is nie doodgemaak nie; 10as bedroefdes, en tog is ons altyd opgeruimd; as armes, maar ons maak baie ander ryk; as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles. In Efese was hy in die tronk en tog skryf hy van sy rykdom waaroor hy in die Evangelie beskik – dít is waaroor rykdom gaan; dít is die rykdom waaroor die “welvaartsteoloë” veronderstel is om te preek – nee, waaroor hulle móét preek, maar hulle het die spreekwoordelike “kat aan die stert beet” wanneer dit kom by Skrifuitleg – ons rykdom en oorvloed lê in die Evangelie van Jesus Christus opgesluit en nié in materiële besitting nie!

Paulus impliseer deurgaans dat rykdom en voorspoed nie noodwendig ʼn teken van God se seën is nie, maar tevredenheid is wel (“contentment”). In FIl.4:4 sê Paulus ~ Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! – en in Fil.4:4-7 sê hy ~ Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Dit is derhalwe baie duidelik dat vergenoegdheid of te wel tevredenheid en vreugde en vrede die karakter eienskappe van ʼn ryk gelowiges is en nie materiële besitting nie – soek dus jou vreugde en vrede en tevredenheid en vervulling – ja jou rykdom, in die Evangelie van Jesus Christus ~ As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees (1 Tim. 6:8). Jesus sê ook in Luk.12:15 ~ Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.

Wanneer Jesus tydens Sy aardse bediening gepraat het oor ons navolging van Hom, het Hy veel-veel meer gepraat oor lyding (“suffering”) as wat Hy lering gegee het oor vergifnis en liefde en nederigheid ens.
 
Dit is dus duidelik dat die Nuwe Testament materiële rykdom veel eerder sien as ʼn gevaar, eerder as ʼn seën – waarskynlik die bekendste teksvers in die verband is dié in Luk.18:24-25 ~ Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. 25Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom.

  Wat presies het Jesus bedoel toe Hy in Matt.6:20 gepraat het van skatte wat ons in die hemel bymekaar moet maak waar mot en roes dit nie kan vernietig nie? Wat Jesus hier wil sê, is dat ons, ons aardse rykdom so moet aanwend dat dit vir ons dividende in die hemel sal oplewer. Dit gaan dus daaroor dat ons nie moet terughou wanneer dit kom by vrygewigheid nie – selfs al is dit ook uit die min wat ons moontlik mag hê.

Net ʼn laaste opmerking oor “welvaartsteoloë” wat sê dat ons ryk moet wees en behoort te wees. Hoe verklaar hulle die arm weduwees van Hand.6 in die eerste gemeente in Jerusalem – ongeloof? Hoe verklaar hulle die behoeftiges waarvan Paulus in 2 Kor.8 praat – sonde? En asof dit nie genoeg is nie – net twee van die sewe gemeentes in Openbaring wat nie tereg gewys is nie, was gemeentes wat in die oë van die wêreld nie materieel voorspoedig was nie!

Ek wil egter ook net sê, dat daar beslis ook plek in die Koninkryk en die Kerk vir ryk mense is – dink aan Abraham (Gen.13:2), Barsillai (2 Sam.19:32), die Sunemmitiese vrou (2 Kon.4:8), Josef van Arimatea (Matt.27:57), en vele meer. Om die luukshede wat welvaart vir jou kan koop is ook nie noodwendig verkeerd nie, maar dit is opmerklik dat al vier hierdie mense wat ek genoem het, bekend gestaan het vir hul vrygewigheid. Ryk gelowiges kan Christus derhalwe verheerlik deur veral nederig, vrygewig en godvrugtig te wees. Daarteenoor kan en moet arm gelowiges die Here Jesus eer en verheerlik deur tevrede te wees, vol geloof en ook vrygewig met die bietjie wat hulle het – om dus godvrugtig in en deur hul armoede te wees. Mense met hierdie karaktereienskappe word deur die Woord van God beskryf as voorspoedig, ryk en geseënd.

Ons moet altyd Paulus se woorde in 1 Tim.6 onthou waar hy sê dat ʼn heilige lewe veel meer belangrik is as rykdom. Jesus is vir ons dié voorbeeld in hierdie verband ~ Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word (2 Kor.8:9) en Fil.2:7 ~ ...maar Hy (dit is Jesus) het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

5.     VOLHARDING (vv.7-9):
       In die laaste drie verse van ons Skriflesing moedig die Hebreërskrywer sy lesers aan om te volhard in die geloof, maar hy waarsku hulle ook terselfdertyd deur aan hulle drie dinge te noem wat hulle in gedagte moet hou en waaraan hulle vas moet hou in hul poging om te volhard tot die einde toe:
·        Onthou julle Voorgangers: Hy verwys eerstens na hulle voorgangers. Nou op die oog af lyk dit asof die skrywer hier verwys na die huidige voorganger wat op daardie stadium in diens van die Here in die Kerk staan, maar let mooi op wat hier staan ~ ...en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het... – ”gestel het” – verlede tyd. Die OAV stel dit nog beter ~ ...aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. Dit gaan dus hier oor leiers uit die verlede wat aan die einde van hul lewens gekom het. As ek hierdie vers kan parafraseer sou dit as volg kon lees ~ In die verlede het julle wonderlike leiers gehad. Dink aan hulle. Hulle was manne van geloof en bekend daarvoor dat hulle die Waarheid verkondig het en dit opgevolg het met godvrugtige lewens. Dink weer na oor hul lewens, in plaas daarvan dat julle jul geloof versaak en die lewe wat hulle vir julle voorgeleef en geleer het om na te volg. Leef hulle geloof na en volg hulle lewensvoorbeeld. In kort, boots hulle na. In v.17 wat ons nou nie vandag gaan aanspreek nie, sê die apostel egter ook vir sy lesers wat hulle gesindheid teenoor hul huidige leier(s) moet wees.
·        Onthou Jesus Christus: Ten einde te volhard tot die einde toe, sê die Hebreërskrywer tweedens in v.8 dat ons ook Jesus Christus in gedagte moet hou.

       In teenstelling met mense wat kom en gaan en mense wat so veranderlik is, aanbid ons Jesus Christus die Verlosser, Koning, Skepper en ewige Rots – hy wat ~ ...gister en vandag dieselfde (is) en tot in ewigheid – in Hom moet ons, ons vertroue plaas, Hom moet ons navolg; Hom moet ons in gedagte hou – elke dag en elke nag! Hy wat opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel waar Hy nou as Hoë Priester vir jou en my intree by die Vader!
·        Onthou die Waarheid: Die logiese volg uit hierdie waarheid van v.8 wanneer die Hebreërskrywer nog ʼn faset van die gelowiges se lewe aanspreek waaraan hulle/ons ernstig aandag moet gee ten einde te volhard tot die einde toe.
      
       Een van die tragieste en hartseerste dinge wat sekerlik in die Christelike wêreld kan gebeur – en ons sien dit daagliks en veral die afgelope klompie jare rondom ons en dit neem net in intensiteit toe, is dat gelowiges al meer en meer ingesuig word deur vals leer. Dit is egter iets wat van die vroegste tye van die Kerk gebeur het, daarom dat Paulus die opmerking in Gal.1:6-7 maak ~ Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ’n ander evangelie aanneem. 7Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat
die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring.

       Baie gelowiges val vir elke vals en misleidende leer, solank dit net ʼn geestelike klankie het en soveel te meer nog as dit aanskoulik en opwindend is, daarom dat hulle al wat boek in sekere “geestelike Boekwinkels” verslind en verslaaf raak aan allerlei “Tele-predikers” (ja ook op Afrikaanse TV-programme), maar die probleem is dat hulle geen onderskeid het tussen wat waar en vals is nie en nie behoorlik gevestig is in die leer van die Woord nie – hulle is nog geestelike babatjies en die tragiek is, hulle bly babatjies! Ons moet soos Paulus in 1Tim.4:6 sê, ons voortdurend... ~ voed met die woorde van die geloof en die goeie leer.

6.     AFSLUITING:
Ons het die onveranderlike Jesus Christus as voorbeeld om na te volg. Waarom soek na opwinding in vals lering; in “profete” en charismatiese leiers; in “worship” en allerlei “profesieë” en “glitter” en “wonderwerke”? Nee, jaag die Waarheid in God se Woord na en dien Christus en Christus Jesus alleen!

Laat Jesus steeds die Onveranderlike wees in jou lewe en laat die fundamentele geloofsvertrekpunte van die sestiende-eeuse Reformasie steeds ʼn realiteit in jou en my lewe wees, nl.: die eer van God alleen, Christus alleen, die Skrif alleen, genade alleen en geloof alleen. Amen.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 22 Junie 2014

1. SOLI DEO GLORIA - DIE EER VAN GOD ALLEEN Alles wat God beplan het en in die geskiedenis uitvoer (niks wat is of gebeur, is uitgesluit nie), het een finale doelwit, nl. om Homself te verheerlik. Die najaging van hierdie doel is dan ook elke mens se hoogste en onontkombare roeping. Om vir jouself te leef, is die wese van sonde
2. SOLUS CHRISTUS - CHRISTUS ALEEN Hierdie genade wat God aan miljoene sondaars deur alle eeue betoon het, was nog altyd volledig gebaseer op die volmaakte middelaarswerk van Sy Seun, Jesus Christus, en daarop alleen.
3. SOLA SCRIPTURA - DIE HELE SKRIF EN NET DIE SKRIF Die hele Bybel, en net die Bybel, is God se besondere en geïnspireerde openbaring aan die mens. Daarom is dit algeheel betroubaar en die universeel gesagvolle norm vir leer en lewe.
4. SOLA GRATIA - GENADE ALLEEN As 'n sondaar gered word, dan is dit geheel-en-al te danke aan God se vrye genade, en daaraan alleen.
5. SOLA FIDE - GELOOF ALLEEN God verklaar enige en elke sondaar regverdig wanneer die vanuit sy of haar geestelike en morele bankrotskap volledig op die middelaarskap van Jesus Christus staat maak ten einde vir God aanvaarbaar te wees. Daar is geen ander manier om met God versoen te word nie. Geen menslike verdienste, van watter aard ook al, kan Christus se verdienste aanvul nie; trouens, die Woord waarsku uitdruklik dat enige poging daartoe diskwalifiserend is.


Besoek gerus die volgende Webtuiste:
 http://www.huffingtonpost.com/pastor-rick-henderson/osteen-meyer-prosperity-gospel_b_3790384.html