Sunday, July 20, 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 34 (“Algemene riglyne vir ’n lewe as Gelowige – 03”)

1.     INLEIDING:
       In hierdie laaste hoofstuk van die Hebreërbrief, spreek die skrywer vir ons enkele riglyne vir ʼn lewe van ʼn gelowige aan. Tydens die twee vorige geleenthede het ons gesien dat hy geskryf het oor ons verhouding teenoor medegelowiges en dan spesifiek t.o.v. ons liefde vir ons broers, gasvryheid, ons optrede teenoor medegelowiges wat vir hul geloof in die tronk is, die huwelik, tevredenheid of te wel vergenoegdheid en ook volharding in die geloof.

       In hierdie derde en laaste gedeelte van die skrywer se persoonlike raad aan ons as gelowiges, spreek hy ons optrede t.o.v. God aan, asook enkele ander opdragte.

2.     SKRIFLESING:
                 Hebr.13:10-25 ~ Ons het ’n altaar waarvan dié wat nog die offerdiens volgens die ou orde verrig, nie die reg het om te eet nie. 11Die bloed van die offerdiere word deur die hoëpriester in die heiligdom ingebring vir die sonde, maar hulle liggame word buitekant die laer verbrand. 12Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig. 13Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het, 14want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige. 15Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely. 16Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is. 17Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie. 18Hou aan om vir ons te bid, want ons is daarvan oortuig dat ons gewete skoon is, omdat ons in elke opsig probeer doen wat reg is. 19Veral dring ek by julle daarop aan om te bid dat God my gou na julle toe sal laat terugkom.
Gebed vir die lesers
20God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige ver3bond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring. 21Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.
Laaste versoek en groete
22Broers, dit is my dringende versoek: julle moet geduldig na hierdie woorde luister waarmee ek julle bemoedig het, al het ek dit net kortliks aan julle geskrywe. 23Julle weet seker al dat ons broer Timoteus vrygelaat is. As hy gou genoeg kom, bring ek hom saam wanneer ek julle besoek. 24Groete aan al julle voorgangers en aan al die gelowiges. Dié wat van Italië afkomstig is, stuur ook vir julle groete. 25Die genade van God sal by julle almal wees!

3.     ONS ALTAAR (v.10-14):
       Onder sekere van die Mosaïese Wette was die priesters toegelaat om van die offervleis, of graanoffers te eet (Lev.7), maar dan was daar ook ander offerandes waarvan die priesters niks mag geëet het nie. Een so ʼn offer was die sondeoffer soos omskryf in Lev.4 en Lev.16, waar die priester ʼn gebreklose bul moes slag en van die bloed sewe maal teen die voorhangsel in die Tent van Ontmoeting moes sprinkel. Die res van die bloed moes teen die fondament van die offeraltaar gegooi word; die vet om die binnegoed word op die altaar verbrand, terwyl die res van die bul (binnegoed, vleis, bene, pensmis, ens.) buite die kamp op ʼn houtvuur op die ashoop verbrand word, ens.

       Dit is baie duidelik dat die Hebreërskrywer met sy skrywe hier, presies daardie ritueel van die sondeoffers in gedagte het. Ons het egter vroeër in hoofstukke 9 en 10 gesien dat die apostel die lyn deur getrek het van die seremoniële wette na die offer wat Christus gebring het op Golgota en dat hierdie Ou
Testamentiese offers hul vervulling in Christus Jesus gevind het, deurdat Jesus die volmaakte en finale offer gebring het en weer opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel, ten einde die weg te open na die ewige heerlikheid vir almal wat in Hom glo en in Hom uitverkies is.

       Wat wil die apostel dus sê as hy in v.10, 11 sê dat ons ʼn altaar het? Die vroeë Christene aan wie hierdie brief gerig was, het waarskynlik gevoel dat die Christelike geloof afsteek by die Judaïsme omdat die Judaïste ʼn altaar gehad het, maar die gelowiges nie en daarom sê die skrywer vir hulle dat hulle wel ʼn altaar het, nl. die kruis waaraan Jesus Sy finale en volmaakte offer gebring het, trouens hy gaan verder en sê dat die priesters nie deel mag hê aan die sondeoffer en daarvan eet nie, maar óns mag wel, want ons het deel aan Christus se offer ~ Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is (1 Pet.2:5).

       Die apostel wil dus ook vir sy lesers sê dat hulle nie so moet fokus op die rituele nie, maar op die feit dat God in hul harte werk. Ons moet dus nie allerlei uiterlike gebruike en tradisies aanhang nie, maar ons moet let op ons hartsgesindheid en ingesteldheid. Wat gaan ten diepste aan in ons geestelike lewe; groei ons in ons heiligmaking en in ons liefde vir Christus en ons naaste; neem ons kennis van die Woord toe en weerstaan ons versoeking al beter en beter – dít is die dinge waaroor ons besorg moet wees en nie allerlei uiterlike dinge nie.

       Wat verder opmerklik is, is die feit dat die Hebreërskrywer die feit in v.12 vermeld, dat Jesus buite Jerusalem gekruisig is – waarom is dit so belangrik om dit te noem? Behalwe vir die feit dat alle misdadigers in die oë van die Jode buite die stad gekruisig moes word, het dit besondere waarde vir ons as gelowiges, want eerstens is dit gedoen om daardeur die breuk tussen die Judaïsme en die Christelike geloof op tasbare wyse te illustreer – Christus distansieer Hom van al die dooie Levitiese rituele wat binne in daardie stad aan die gang was. Net so moet ons nooit ooit weer betrokke raak by dooie onbybelse rituele nie en terselfdertyd moet ons, wanneer ons verwerping ervaar a.g.v. ons navolging van Christus, weet dat ons identifiseer met Christus wat as uitgeworpene buite die stadsmure “geoffer” was. Paulus het baie oor hierdie afskeiding van ons as gelowiges te sê gehad ~ Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis? 15Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial? Hoe kan ’n gelowige dieselfde belange hê as ’n ongelowige? (2 Kor.6:14-15).

       Behalwe dat die Hebreërskrywer ons in v.13 waarsku dat ons ook “na buite” moet gaan en die smaad saam met Christus dra, waarsku Paulus ons ook terselfdertyd in 2 Tim.3:12 van dieselfde ding ~ Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word. Dit moet ons derhalwe nie verbaas as ons vervolging ervaar wanneer ons, onsself afskei van die wêreld nie.

       Wanneer ons egter verwerping en vervolging ervaar moet ons altyd onthou, dat dit maar net vir ʼn kort tydjie sal aanhou, want soos die apostel in v.14 sê ~ ...want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige – ons oë moet gevestig wees op die hiernamaals – ons moet ʼn ewigheidsperspektief ontwikkel.

       Ek móét egter onmiddellik ook byvoeg en sê dat hierdie afskeiding net te doen het met die sonde van hierdie wêreld en dat dit nie impliseer dat ons, ons ook moet afskei van die mense van die wêreld nie, want ons moet tog immers steeds betrokke by hulle wees, want hoe anders sal hulle dan die Evangelie hoor en dit is tog immers ook die opdrag wat ons van die Here Jesus self ontvang het in Matt.28:19-20?

4.     ʼn LOFOFFER (v.15-16):          
       Dit is derhalwe baie duidelik dat die gelowige niks meer uit te waai moet hê met die Joodse offersisteem nie en dit is wat die skrywer vir sy lesers wil sê – waarom? Omdat die offers wat ons bring van totaal en al ʼn ander aard is, want slegs en alleen deur die bemiddeling en tussenkoms van Christus – en Christus alleen, kan en mag ons offers aan God die Vader bring. Hierdie offerandes wat ons deur Christus bring is ook nie bloedoffers soos onder die Mosaïese wette nie, maar lofoffers tot God Drie-Enig en wat in ons harte ontspring en deur ons lippe voortgebring word.

       Vers 16 herinner ons egter verder daaraan dat daar nog ʼn faset van lofoffer is wat ons moet bring, nl. om goed te doen en mededeelsaam te wees, want sê die Hebreërskrywer, dít is offers wat vir God aanneemlik is.

       Die implikasie hiervan is derhalwe dat gelowiges geen altare oprig nie en geen bloedoffers bring nie en nooit priesters aanstel nie. Ons hoop is nie gevestig op, of hang nie af van enige iets of iemand anders as net Jesus Christus nie. Al wat saak maak is ʼn persoonlike verhouding met Hom en daarom het ons nie nodig om enige iets anders te doen nie, want Hy het alles reeds vir ons vermag wat nodig was om ʼn aanneemlike offer vir God die Vader te wees en daarom is die Christelike godsdiens nie ʼn godsdiens van rituele, van vorm en seremonies; van altare en kerse; van togas en mantels en wierook, of hooftooisels nie. Ook is dit nie ʼn godsdiens van heiliges en klokkies en kruise en ikone nie – ook is dit nie ʼn godsdiens van offerandes en allerlei moets en moenies nie. Enige godsdiens wat aandag aan hierdie dinge gee, is nie die ware godsdiens en Christendom nie, want diesulkes verstaan van God se vrye genade geen snars nie. Ons vertroue is gesetel in die genadige en voltooide werk van Jesus Christus en ons geloof in Hom en Hom alleen en dit het tot gevolg dat ons ʼn ewigheidsperspektief ontwikkel; met God, deur Christus Jesus praat; gevul is met dankbaarheid en lofprysing en t.w.v. Sy eer ander hoër ag as onsself, hulle lief het en goed doen aan andere. In woord en daad dien ons dus die lewende God.

5.     VOORGANGERS (v.17):
       Die volgende riglyn vir die lewe van gelowiges, is dié van onderwerping. In v.7 het die apostel die gemeente terug verwys na vorige leiers en wie se geloofpad hulle moet navolg, maar nou druk hy dit op hul harte om hul huidige leiers te gehoorsaam. Waarom skryf hy dit vir hulle? Enersyds omdat hy oortuig is van die opregtheid en gawes van die leiers, maar ook omdat hy waarskynlik besef dat al die gemeentelede nie die nodige respek betoon teenoor die leiers wat vereis word nie, omdat hulle leiers deur God self geroep en aangewys is.

       Die punt wat die Hebreërskrywer wil maak, is dat dit tot die voordeel van die gemeente is, om gehoorsaam te wees aan die leierskap en hulle aan die voorgangers te onderwerp. Hierdie oproep is in lyn met dit wat Paulus in 1 Tes.5:12-13 sê ~ Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. 13Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar.

       Waarom is dit nodig om te onderwerp aan die leierskap? V.17a verskaf die antwoord ~ Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Dit dan is die anderkant van die muntstuk en dit laat my sidder, want daar rus derhalwe ʼn geweldige verantwoordelikheid op die skouers van die voorganger van ʼn gemeente/leierskap. Verder is die Nuwe Testament vol opdragte aan voorgangers waaraan hulle moet voldoen en ek noem slegs enkeles – bv. ~ Dit is die dinge waaroor jy moet praat. Gebruik jou volle gesag om aan te moedig en tereg te wys. Gee aan niemand aanleiding om op jou neer te sien nie (Titus 2:15); Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; 3ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ’n voorbeeld vir die kudde te wees (1 Pet.5:2-3). Jakobus waarsku ook in Jak.3:1 wanneer hy sê ~ My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word.

       Hoor egter terselfdertyd die belofte aan die gemeente wanneer hulle gehoor gee aan hierdie opdrag ~ En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang (v.4).

       Behalwe vir die geweldige verantwoordelikheid wat daar op die skouers van voorgangers rus, bring die gemeente se onderwerping, lojaliteit, gehoorsaamheid en navolging ook vir die voorganger groot vreugde en daarom het die gemeente ook ʼn verantwoordelikheid om dit vir hom/hulle aangenaam te maak, daarom dat die skrywer in die tweede gedeelte van v.17 sê ~ Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie. Hoor wat sê Johannes ~ Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe (3 Joh.4). Wanneer die gemeente gehoor gee aan hierdie oproep, dan kan die voorganger saam met die apostel Paulus uitroep ~ Julle is my blydskap en my kroon (Fil.4:4c).
        
6.     GEBED (vv.18-21):
       Nog ʼn riglyn en opdrag is om voorbidding te doen. Wanneer die gemeente vir hul voorganger bid, verskaf dit plesier aan die Here en is dit nog ʼn wyse om Hom te dien.

       Die skrywer van die Hebreërbrief was waarskynlik ʼn leier van ʼn gemeente of selfs gemeentes en hier vra hy dat hulle vir hom sal bid. Elke dienskneg van God het die gebede van gelowiges nodig ten einde hulle te kan bedien. Voorgangers van gemeente is net so blootgestel aan versoeking en sonde soos die gemeente self; hulle het ook hulle blindekolle en swakhede en as hulle nie staande kan bly nie, kan hulle nie met vrug arbei in die gemeente nie en ly die gemeente geestelik skade, trouens gemeenteleiers word baie dikwels baie meer en feller geteister deur die vyand, omdat hy weet dat indien die leraar van die gemeente nie sy kudde behoorlik kan lei en leer nie, die hele gemeente daaronder ly. 

       As ons krag en lewe in ons eie lewe, maar ook in die gemeente wil ervaar, moet ons bid. Ek wil dus vandag (weer soos in die verlede) onbeskaamd vra dat julle vir my op gereelde basis sal bid asb. – bid dat ek bewaar sal bly van aanvalle deur die vyand; bid dat ek weerhou sal word om te sondig en dan veral ook die woorde van Ef.6:19 ~ Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak.

       In v.19 vra die skrywer veral dat die gemeente sal bid dat hy spoedig met hulle verenig sal word – ons weet nie waarom hy nie by hulle is nie en ook nie waar hy is nie, maar deur hierdie versoek openbaar hy enersyds sy geloof in en afhanklikheid van gebed en andersyds dat hy lief is vir sy broers en dat hy daarom daarna verlang om by hulle te wees.

       In vv.20-21 bid die skrywer nou vir sy lesers en erken hy dat God dié Een is wat vrede aan hom en sy lesers geskenk het deur Sy Seun Jesus Christus se soendood en bid hy verder dat hierdie genadige en versoenende God, sy lesers sal toerus en geestelik sal opbou, sodat hulle Hom as Here sal navolg en dien en sodoende Sy wil vir hul lewens sal uitleef. Hieruit is dit derhalwe duidelik, dat ons nie alleen God se wil sal ken nie (deur die kennis van die Woord), maar dat ons ook die nodige krag sal ontvang om Sy wil te kan uitleef en dit is wat die skrywer hier ook voor vra en daarom sê hy dan ook by implikasie, dat ons nie God se wil kan uitleef uit eie krag nie – slegs God kan dit aan ons verskaf en daarom moet ons gereeld daarom vra ~ Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God... (2 Kor.3:5). Wat ons te doen staan, is om gewillig te wees om God se wil te doen en daarom te vra en Hy sál dit gee, want 2 Kor.9-10 leer ons dat ~ God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ’n ryk oes laat oplewer. Ons God is ʼn God wat die beloftes van Sy Woord gestand doen en daarom kán elkeen van ons geestelik groei en volhard tot die einde toe en v.21 is dan presies ook die gebed wat ons elke dag hiervoor kan bid en die Here sal vra dat Hy ons vandag en elke dag sal toerus met alles wat goed is, sodat ons Sy wil sal kan doen en dat Hy deur Jesus Christus in ons dít tot stand sal bring wat vir Hom aanneemlik is.

7.     GROETEWOORDE (vv.22-25):
       In die laaste vier verse van hierdie brief aan die Hebreërs, vra hy sy lesers om hierdie brief geduldig te lees, iets wat hy sekerlik heel aan die begin van sy brief moes geskryf het, maar hy wil hierdeur vir al sy lesers (daarom ons ook) aanmoedig om sy brief weer en weer te lees, juis omdat hy soveel dinge net kortliks aangespreek het en daarom hoef ʼn mens nie hierdie brief in een sitting deur te lees nie, maar kan en behoort ons dit tema vir tema te lees en te oordink en toe te pas en hierdie temas is nie lang temas nie, daarom dat die Hebreërskrywer sê dat hy Hierdie woorde net kortliks geskrywe het.

            Wanneer die skrywer dit sê, moet ons onsself afvra hoe ernstig neem ons sy boodskap op en dan veral die ses pastorale waarskuwings wat primêr handel oor die terugdraai van mense – selfs mense wat hulself op ʼn stadium Christene genoem het en wat nie volhard in die geloof tot die einde toe nie – Nico van der Walt sê die volgende van hierdie pastorale waarskuwings: Die ses pastorale waarskuwings in die boek vul enige Christen met die vrese van die Here (2:1-4; 3:7-4:13; 5:11-6:12; 10:26-39; 12:14-17; 12:25-29). So 'n terugdraai, word onmiskenbaar duidelik gesê, kom neer op 'n miskenning van wat God finaal en volmaak in Christus gedoen het. Dit word in skokkende sterk taal gesê. Dis so goed soos om die Seun van God weer te kruisig en te verag; om Hom openlik te bespot; om die bloed van die verbond te minag (Hebr.6:6: 10:29). Só ʼn ernstige saak is dit, dat diegene wat hulle daaraan skuldig maak, net een uiteinde het - die verskriklike toorn van God.

      Ons moet dus luister na wat die Woord vir ons leer en dit in en deur ons lewe toepas, anders kan ons terugval en diegene wie die Evangelie gehoor het en nie volhard tot die einde toe nie, sal erger gestraf word as diegene wie nog nooit die Evangelie gehoor het nie.

      In vv.23-25 sluit die Hebreërskrywer sy brief af deur groete aan ʼn paar mense oor te dra en wat meer is, hy bring ʼn bekende Nuwe Testamentiese broer saam met hom wanneer hy na hulle kom, nl. Timoteus wat vrygelaat is nadat hy uit die gevangenis was vir sy geloof – inderdaad goeie nuus, want ʼn geliefde broer is vrygelaat en dan in v.25 spreek hy ʼn seënwoord oor hulle uit en hierdie woorde is dieselfde as dié wat ons in Hebr.13:9, asook 2 Kor.12:9 vind, nl. ~ Die genade van God sal by julle almal wees!

Amen.


Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 20 Julie 2014