Sunday, June 8, 2014

Die Heilige Gees (Sy Funksie)

1.    SKRIFLESING:
       Hand.2:1-4 ~ Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

2.    INLEIDING:
       Vandag staan op die Christelike kalender bekend as Pinksterdag – die dag waarop ons die uitstorting van die Heilige Gees gedenk en ek het dit goed gedink om kortliks te kyk na wat die funksie van die Heilige Gees is, want wanneer ʼn mens ook al na die gawes van die Gees wil kyk of daaroor wil praat, móét ʼn mens eers kyk na die funksie van die Heilige Gees. Ek wil julle ook waarsku dat ons vanoggend hoofsaaklik die Skrif gaan toelaat om die “praatwerk” te doen.

       Baie mense dink dat die Heilige Gees die eerste keer na die wêreld gekom het, tydens Pinksterdag, maar dit is nie heeltemal die geval nie.

       Ons vind talle bedieninge of funksies van die Heilige Gees in die Woord, waarvan verskeie reeds in die Ou Testament voorkom.

3.    DIE HEILIGE GEES SE FUNKSIE:
Kom ons noem net enkele van hierdie bedieninge kortliks.

·         Die Heelal:
Ons sien in Ps. 19:2 dat die Vader die heelal en alles daarin, geskape het: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Daarenteen sien ons dat Johannes sê dat Christus die heelal geskape het ~ Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense (Joh. 1:3-4).

       In ander verse sien ons weer dat die Heilige Gees die Skepper is, bv. Ps. 104:30 ~ U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut (OAV).

       Wat moet ons nou glo t.o.v. die skepping? Die antwoord is natuurlik baie eenvoudig, nl. dat al drie persone van de Drie-Eenheid betrokke was by die Skepping, en daarom was die Heilige Gees ook betrokke by die Skepping. Hier kan ons ook kyk na Job 33:4 ~ Die Gees van God het my gemaak,  die asem van die Almagtige het my die lewe gegee (“asem” hier, weet ons, is ʼn ander benaming vir die Heilige Gees – tog jammer dat die vertalers nie tog maar by “Gees” gehou het nie).

·        Sy bediening t.o.v. lewe
Terwyl die “voor-sondegevalle” Adam geleef het, het hy oor die Heilige beskik ~ Toe sê die Here: “My Gees sal nie meer so lank in die mens bly nie, want hy is sterflik. Sy lewensduur sal nou honderd en twintig jaar wees” (Gen.6:3).

·         Die Woord:
Die tweede funksie van die Heilige Gees is t.o.v. die Woord. Die Heilige Gees is die Outeur van die Woord van God en Hy het drie basiese wyses gekies in die voorbereiding en ontvangs van die Woord en dit is as volg:
-      Openbaring: Die Woord is deur nagenoeg 40 mense geskryf en hulle het dit gedoen onder leiding van die Gees en wel d.m.v. openbaring.
-      Inspirasie: Inspirasie was die wyse waarop die Gees by wyse van spreke, die skrywers van die Bybel se penne gelei het om te skryf en wel tot so ʼn mate, dat daar net geskryf was wat God wou hê daar geskryf moes word – niks meer en niks minder nie.
-      Verligting: Verligting geskied wanneer die Heilige Gees, die gelese, of gepredikte Woord neem en dit “oop maak” vir die leser/luisteraar, sodat hy dit verstaan en deel maak van hom.

       Kom ons kyk na enkele teksverse ter ondersteuning hiervan:
       Ons het gesê dat die Heilige Gees die Outeur van die Woord is – 2 Sam. 23:2 ~ Die Gees van die Here het deur my gepraat, ja, sy woord was op my lippe.

Jes. 59:21 ~ Wat My betref, sê die Here, dit is my verbond met die volk: my Gees wat op jou is en my woorde wat ek in jou mond lê, sal nie uit jou mond en uit die mond van jou kinders en jou kindskinders verdwyn nie, sê die Here, nie nou nie en nooit nie.

Jer. 1:9 ~ Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Ek het nou my woorde in jou mond gelê.

2 Pet.1:21 ~ ...want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

2 Tim. 3:15-17 ~ en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. 16Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

·         Die Gees se funksie t.o.v Israel:
       Nie minder nie as 16 van Israel se leiers het die salwing van die Heilige Gees ervaar. Die Gees het dus Ou Testamentiese leiers van Israel, bekragtig. So sien ons dat Josef bekragtig is ~ Toe sê die farao vir sy amptenare: “Waar kry ons so iemand, ’n man met die verstand van ’n god?” Die farao het daarop vir Josef gesê: “God het jou dit alles bekend gemaak. Daaruit is dit duidelik dat niemand soveel verstand en wysheid as jy het nie. Ek stel jou aan oor my paleis (Gen. 41:38-40).

       Kom ons kyk na Moses ~ Ek sal dan afkom en daar met jou praat, en Ek sal van die Gees wat op jou is, op hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou die verantwoordelikheid vir die volk dra, sodat jy dit nie alleen hoef te doen nie (Num. 11:17).

       So was daar dan ook – en ek noem hulle net vlugtig vir u:
Josua (Num. 27:18); Otniël (Rigters 3:10); Gideon (Rigters 6:34); Jefta (Rigters 11:29); Simson (Rigters 14:6, 19; 15:14-15); Saul (1 Sam. 10:10).

       In teenstelling met Saul, het die Heilige Gees Hom nooit van Dawid onttrek nie ~ Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan (1 Sam. 16:13).

       Dan kry ons nog verder vir Elia (1 Kon. 18:12, 2 Kon. 2:16); Elisa (2 Kon. 2:15); Esegiël (Eseg. 2:2); Daniël (Dan. 5:11); Miga (Miga 3:8); Asarja (2 Kron. 15:1); Sagaria (2 Kron. 24:20).

       Ook het die Heilige Gees op Israel se ouderlinge gerus ~ Die Here het toe in die wolk afgekom, met Moses gepraat en ’n deel van die Gees wat op Moses was, op die sewentig laat kom. Toe die Gees op hulle kom, het hulle as profete begin optree, maar daarna nie meer nie (Num. 11:25). Die Heilige Gees het die Tabernakel oordek (Eks. 40:34), Hy het Israel se Tempel gevul (1 Kon. 8:10). Hy het die volk Israel deur die woestyn gelei (Neh. 9:20; Jes. 63:10).

·         Die duiwel:
       Die Heilige Gees tree op as stuwal om die satan se volle impak teë te hou, asook die sonde wat ons daagliks teister ~ Van oos tot wes sal die Naam en die mag van die Here geëer word. Wanneer die teëstander aanstorm soos ’n rivier, jaag die Gees van die Here hom op loop (Jes. 59:19 – sien ook: 2 Tes. 2:7-14).

·         Die Gees se funksie t.o.v. die Verlosser:
       Die Here Jesus Christus is van die oomblik van “konsepsie” tot en met Sy hemelvaart, deur die Heilige Gees gelei.

-      Die Redder is verwek deur die Heilige Gees ~ Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God (Luk. 1:35).

-      Christus is deur die Heilige Gees gesalf ~ Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het (Hand. 10:38).

-      Die Heilige Gees bemagtig Jesus ~ Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen (Joh. 6:27).

-      Jesus word gelei deur die Heilige Gees ~ Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word (Matt 4:1).

-   Die Gees bekragtig Christus ~ Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom (Matt 12:28).

-      Ons Verlosser was vervul met die Gees ~ Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei (Luk. 4:1).

-      Jesus het in die Gees, emosies ervaar – Hy het hartseer geword ~ Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan (Joh. 11:3). Jesus het Hom in die Gees verbly ~ By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel (Luk. 10:21).

-      Christus offer Homself deur die Gees ~ Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer (Heb. 9:14b).

-      Die Gees wek Christus op uit die dood ~ Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is (1 Petrus 3:18).

-      Christus gee opdragte aan Sy dissipels deur die Gees ~ Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het (Hand. 1:2).

-      Christus gaan weer kom en die dooies opwek uit die dood ~ Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon (Rom. 8:11).

       Uit dit wat ons tot nou gesien het t.o.v. die Heilige Gees se bediening aan die Verlosser, behoort dit baie duidelik te wees dat indien Christus so afhanklik van die Gees was, hoeveel te meer, moet ons nie van Hom afhanklik wees nie!

·         Gawes en vaardighede aan mense:
       Die Heilige Gees verskaf besondere gawes aan die mens ~ Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen (Eks.31:3).

·         Die sondaar:
       Die Heilige Gees oortuig die sondaar van ʼn paar dinge:
-      Van sonde: Die vraag is van watter sonde oortuig die Heilige Gees ons?  ~ Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie (Joh. 3:18). Ons sien derhalwe hier, dat Hy ons nie in die eerste plek oortuig van sonde soos steel, lelik praat ens. nie – nee, Hy oortuig ons primêr daarvan, dat ons Christus se offer op Golgota verwerp – dit is natuurlik dié uitnemende sonde wat skeiding tussen mens en God bring.

       Daar is verskeie Skrifgedeeltes wat vir ons baie duidelik wys op die Heilige Gees se oortuigingswerk – ons sien dit bv. met die mense op Pinksterdag na Petrus se preek en dan lees ons hierdie woorde in Hand.2:41 ~ Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg (Hand. 2:18); die Etiopiese Koopman (Hand. 8:29-38); Saulus van Tarsus (Hand. 9:1-6); die tronkbewaarder in Filippi (Hand. 16:25-34); Felix die Goewerneur (Hand. 24:24-25) en koning Agrippa (Hand. 26:23-28).

-      Hy oortuig ons van Christus se geregtigheid. Die Heilige Gees het die Apostel Paulus gelei om ʼn hele Sendbrief te wy aan die woord “geregtigheid”. In hierdie Sendbrief (Romeine) beklemtoon Paulus, drie dinge:
o   God ís geregtigheid;
o   God vereis geregtigheid;
o   God voorsien geregtigheid.

-      Die Heilige Gees oortuig van die toekomstige oordeel. Hier kan ons o.a. kyk na Joh. 8:44; Rom. 16:20 en Matt. 25:41.

·         Die Kerk:
-      Hy rig die Kerk op ~ Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar mede-burgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. 20Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. 21In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, 22in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon (Ef. 2:19-22).

-      Hy is betrokke by die plaaslike Kerk. Kom ons kyk kortliks na areas in die Plaaslike Kerk waar Hy betrokke is:
o    Hy begeer om die aanbiddingsdiens te inspireer ~ Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie (Fil. 3:3). As beide leraar en lidmaat, die Heilige Gees toelaat, sal hulle die teenwoordigheid en krag van God tydens elke erediens ervaar.

o     Hy wil meewerk in elke gemeente se sendingaksie ~ Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan loop saam met daardie wa (Hand. 8:29 – sien ook Hand. 16:6-10).

o     Hy wil betrokke wees in die gemeente se sang ~ ...laat die Gees julle vervul, 19en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here (Ef. 5:18-19).

o     Hy roep en wys die herders van gemeentes aan ~ Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ’n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun (Hand. 20:28).

o     Hy salf die leraars ~ Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees (1 Kor. 2:4).

o     Hy waarsku gelowiges ~ Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang (1 Tim. 4:1).

o     Hy veroordeel of seën die gemeente se werk ~ Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.... (Openb. 2:7, 11, 17, 29).

·        Pinksterdag:
       Van al die belangrike geestelike gebeurtenisse deur die geskiedenis van die kerk, was Pinksterdag sekerlik dié mees opspraakwekkende en belangrikste dag. Op hierdie dag het die Heilige Gees Sy grootste en mees verrykende werk verrig, nl. die uitstorting van die Gees en die “lansering” van die Nuwe Testamentiese Kerk (Hand. 2).

·         Die gelowige:
       Ek wil ook hier hê dat ons net kortliks sal kyk na die Gees se betrokkenheid by die gelowige – ek noem enkeles:

-      Met ons wedergeboorte ontvang ons die Heilige Gees as gawe ~ Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees (Joh.3:6 – sien Joh. 3:3-7).

-      Hy woon in die gelowige sondaar ~ As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees (Joh. 14:15-17 – sien ook 1 Kor. 2:12).

-      Hy is in ons harte gegee as waarborg van ons redding ~ God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder, 22ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang (2 Kor. 1:21-22).

-      Hy vul die gelowige sondaar ~ Almal is met die Heilige Gees vervul (Hand. 2:4a).

-      Hy gee vreugde aan ons ~ Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee (Rom.14:17). Hieruit volg ʼn sesde funksie...

-      Die Gees bring lewe en vrede – ewige lewe en vrede met God ~ God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus (Rom.5:1).

       Hierdie eerste ses funksies van die Heilige Gees t.o.v. die gelowige, vind onmiddellik met wedergeboorte plaas. Al ses vind ook plaas na aanleiding van die gelowige se geloof en is hoegenaamd nie afhanklik van jou emosies nie en ons kan nie daarom vra nie.

       Die gelowige kan hierdie funksies van die Gees, nooit “verloor” nie, maar die sewende funksie kan wel verloor word en daarom moet ons telkens daarom vra.

-      Daar is egter ʼn sewende funksie – Ek het gesê dat ons met en deur wedergeboorte, vrede met God ervaar, maar ons ervaar ook die vrede van God wat deur die Heilige Gees in stand gehou word ~ En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Fil.4:7).

Ons kan hierdie funksie, nl. die vrede van God wel verloor en as volg uitbeeld:

Ons weet ook nou al teen hierdie tyd, dat ons die sewende funksie, nl. die “vrede van God” dadelik terug kan kry, deur opregte sondebelydenis én bekering ~ Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh. 1:7,9).

Nog verdere funksies van die Heilige Gees, is ook dat Hy:
-      ...voortdurend vir ons intree by die Vader ~ Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie (Rom. 8:26).

-      ...ons lei as gelowiges ~ Almal wat hulle deur die Gees van
 God laat lei, is kinders van God (Rom. 8:14).

-      ...ons leer ~ Wat júlle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie (1 Joh. 2:27).

-      ...gelowiges bekragtig ~ Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom... (Hand. 1:8).

-      ...skenk die liefde van Jesus Christus aan gelowiges ~ ...en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Rom. 5:5).

-      ...verander gelowiges na die beeld van Christus ~ ... Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is (2 Kor. 3:18).

-      ...versterk ons geloof ~ Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees (Judas 20).

-      ...openbaar Bybelse waarhede aan gelowiges ~ Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God (1 Kor. 2:10).

-      ...verskaf sekerheid van geloof en wedergeboorte ~ Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is (Rom. 8:16).

-      ...verskaf vryheid aan gelowiges ~ ...waar die Gees van die Here is, is daar vryheid (2 Kor. 3:17).

-      ...maak getuies van ons as gelowiges ~ En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is (Hand. 5:32).

4.    AFSLUITING:
Ons kan sien watter geweldig belangrike rol speel die Heilige Gees in die lewe van die gelowige, asook die lewe van die Liggaam van Christus en daarom moet ons onsself afvra, of ons regtig die regmatige plek vir die Heilige Gees in ons lewens en in die lewe van ons gemeente gee?


Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 08 Junie2014