Sunday, March 30, 2014

Die Gawe van Profesie

1.  SKRIFLESING:
1 Kor. 12:1-11 ~  Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek hê dat julle ingelig moet wees. Julle weet dat, toe julle nog heidene was, julle blindelings na die stom afgode meegevoer is. Daarom wil ek hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus”, nie deur die Gees van God praat nie; en niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees. Daar is ’n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; daar is ’n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om ’n woord van wysheid te praat, aan ’n ander ’n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan ’n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ’n ander die gawe om te profeteer, en aan nog ’n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ’n ander om dit uit te lê. Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ’n gawe uitdeel soos Hy wil.

2.  INLEIDING:
Wanneer ons terugkyk deur die eeue en ons kyk na die Kerk van Jesus Christus, sien ons ʼn verbysterende situasie.  Alles het begin by ʼn klein groepie vissermanne en dit het gegroei tot die grootste godsdiensgroep in die wêreld. 

Alles, soos ons weet, het begin by die Man van Nasaret, Jesus Christus, die Seun van God.  Sy Goddelike lewe, Sy soendood aan die kruis op Golgota en Sy opstanding uit die dood, was die impetus vir die ontstaan en die groei van die Christelike kerk.

Die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag, is van net so ʼn groot belang in die vestiging en groei van die kerk, want die Heilige Gees het die waarheid t.o.v. Jesus Christus, bekragtig onder die vroeë gelowiges en Hy het ook krag aan hulle gegee ten einde misverstande, haat, en vervolging te oorkom.  Deur Sy werk in individuele gelowiges se lewens, het die Evangelie boodskap soos ʼn veldbrand deur die wêreld versprei.

ʼn Deel van hierdie impetus moet toegeskryf word aan die charismatiese gawes van die Heilige Gees.  Dit het gereeld gebeur dat God ʼn mens gebruik het om andere te bedien – óf deur ʼn woord, óf deur ʼn wonderwerk; óf deur genesing, óf deur medelye.  Hierdie was dan die charismata, of die charismatiese gawes van die Gees en dit het plaas gevind by geleenthede waar die genade van God op ʼn baie spesiale wyse uitgestort is op die mens. 

3.  DIE WOORD – “CHARISMATIESE GAWE”:
Voor ons verder gaan moet ons net eers duidelikheid kry oor die woord charismatiese gawe(s).  Soos ons verlede week gesien het, is die basis woord in Grieks cariV (charis) wat genade beteken.  Dit Impliseer dus dat die charismatiese gawes, ʼn geskenk van God se genade is.  Daar is dus geen prys aan gekoppel nie en geen prestasie word verwag nie – nee, dit word uit genade geskenk aan wie God dit ook al wil skenk, soos wat Simon van Samaria  moes leer - Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? (Hand. 8:20).  God sit dus soewerein agter elke gawe, asook die uitdeling daarvan.

4.  DIE VROEË KERK:
Wanneer ʼn mens na die Woord kyk, is dit ook baie duidelik dat die gawes ʼn baie belangrike en integrale deel uitgemaak het van die Nuwe Testamentiese Kerk.

       Die vraag ontstaan egter wat ná die Nuwe Testamentiese tyd gebeur het en waarom het dit gebeur?  Wanneer ons na die Kerkgeskiedenis kyk, merk ons twee dinge op:
·                Gedurende die eerste twee eeue sien ons dat die charismatiese gawes nog steeds ʼn baie belangrike posisie in die kerk ingeneem het
·           Gedurende die tweede helfte van die derde eeu het dinge egter begin verander en is daar al minder gemaak van die charismatiese gawes en skryf geestelikes al minder oor die gawes.  Ronald Kydd (in Charismatic Gifts in the Early Church.  Hendrickson Publishers.  Peabody, MA. 1984) sê hieroor:  “These three centuries saw dramatic changes in the Christian Church.  In the midst of all this, the gifts of the Spirit vanished.  There came a point around a.d. 260 at which they no longer fitted in the highly organized, well-educated, wealthy, socially-powerful Christian communities.  The Church did not lose its soul, but it did lose these special moments when God broke into the lives of men and women.” 

       Wanneer ons vir mekaar sê dat ons uit die geskiedenis kan sien dat die charismatiese gawes verdwyn het, bly die vraag nog steeds onbeantwoord.  Was dit die kerk wat ongehoorsaam was, of was dit die wil van die Here, dat die gawes getaan en uiteindelik bykans heeltemal verdwyn het?  M.a.w., was die drie gedeeltes in die Woord wat handel oor die gawes, nl. 1 Kor. 12 en 14; Rom. 12 en Ef. 4, geskryf vir die Nuwe Testamentiese Kerk, of was dit ook bedoel vir die Kerk van die Here Jesus in die eeue wat sou volg – is dit ook van toepassing op ons vandag?

Dit help nie dat ons wat hierdie belangrike vraag betref, ons ophou met volstruispolitiek nie – nee, ons moet ʼn antwoord hierop vind en ons moet standpunt kan inneem hieroor.

5.  VERSKILLENDE STANDPUNTE:
Die probleem met die meeste mense wat ʼn standpunt vorm oor hierdie saak, is dat hulle dit vanuit die verkeerde kant benader en dit is dat hulle dit nié vanuit die Skrif beredeneer nie, maar hulle grond hul standpunte op voorbeelde van fenomene wat hulle beweer, charismaties is, maar wat eerder psigologiese reaksies op bepaalde stimuli is.  Maar, dit is sekerlik ook nie aanvaarbaar om bloot net alle manifestasies af te maak as nagemaak of vals nie, want ons moet onthou dat God soewerein is en daarom kan Hy doen waar Hy wil en hoe Hy wil en wanneer Hy wil – veral in die harde sendingveld.

Ook kan ons nie maar net aanvaar dat die gawes vir alle tye bedoel was nie, want waarom manifesteer dit nie meer nie, of waarom sien ons net sommige daarvan in aksie en die wat ons wel sien of van hoor – is dit outentiek?

Ja, die mens en daarom ook die kerk se sonde deur die eeue kon ook die Heilige Gees bedroef het en daarom het Hy onttrek.  Hierdie feit kan baie duidelik gesien word in die noodsaaklike Evangelie waarheid, nl. dat die mens gered word deur geloof alleen, maar die verval in die kerk in die Middeleeue was so erg, dat niks van hierdie “hartswaarheid” gepreek is nie en was dit nodig dat God ʼn man soos Martin Luther in die 16de eeu moes oprig om hierdie waarhede weer onder die aandag van die mensdom te bring en wat dan uiteindelik tot die Reformasie gelei het. Maar is dít werklik die rede waarom die gawes verdwyn het?  En met Luther e.a. nou daar – waar was die gawes?

En laastens kan ons ook nie maar net aanvaar dat die gawes net bedoel was vir die eerste eeu of wat en dat dit toe so bedoel was dat dit moes verdwyn nie – op grond waarvan sê ons dit?

Ons moet ook ʼn baie belangrike stelling van Paulus in ag neem, en dit is sy vermaning in 1 Thes. 5:19-21, nl.: Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. Moenie profesieë uitsprake van dié wat die boodskap van God verkondig, geringskat nie,  maar toets dit alles, behou wat goed is,  en bly weg van alles wat sleg is.  Hier wil Paulus dus al twee groepe aan beide kante van die spektrum waarsku. 

Daar is diegene wat doof is vir die Heilige Gees se influistering en blind is vir Sy werking en daar bestaan ʼn gees van wensdenkery en liggelowigheid en móét alles eers bewys
word

Aan die anderkant is daar dié groepe wat alles wat onnatuurlik of bonatuurlik is, toeskryf aan die Heilige Gees.

Ons vind dus hier ʼn baie duidelike waarskuwing, nl. dat ons nie elke aanspraak op die werking van die Heilige Gees (en daarom charismatiese gawes) summier kan aanvaar nie, máár, ons kan ook nie elke aanspraak summier van die hand wys nie, maar dat ons alles moet ondersoek.

Dit bring ons terug by die kruks van die hele saak, nl. dat ons standpunt en ons standaarde, gegrond moet wees op wat die Woord van God vir ons hieroor leer.

7.  IS DIE CHARISMATIESE GAWES VIR VANDAG?:
Indien ons weier om te aanvaar dat die charismatiese gawes vir die kerk deur al die eeue heen gegee is, impliseer dit dat ʼn baie groot gedeelte van 1 Korintiërs dus nie toepasbaar is op ons situasie nie – indien die gawes dus net vir die, nagenoeg eerste eeu bedoel was, dan is baie, indien nie die meeste van die hoofstukke bloot net ʼn beskrywende verhaal van iets wat lankal terug plaas gevind en afgehandel is. 

Ons vind wel in die Ou Testament, sulke gedeeltes – bv. die Wet van die Here in Eksodus en ook die gebruike in Levitikus.  Daar is egter baie duidelike lering in die Nuwe Testament dat die wet en die seremoniële wette in en deur Christus vervang is en daar is ʼn baie duidelike verduideliking in die Hebreërbrief, hoe ons die Levitiese sisteem in die Evangelieboodskap moet toepas.  Maar, daar is nêrens anders enige lering dat dieselfde moet gebeur met Nuwe Testamentiese gedeeltes nie, behalwe as die N.T. dit eksplisiet sê.  Dit impliseer dus dat hierdie gawes nie bedoel was om net tydelik te wees nie.

Indien die charismata net vir die Nuwe Testamentiese Kerk bedoel was, is dit eienaardig dat Paulus soveel tyd spandeer aan die bespreking daarvan.  Die boek van Levitikus was bedoel om die rituele van die volk Israel vir baie eeue te dikteer – van die tyd van Moses, tot die koms van Christus.  Indien die gawes van verbygaande aard was, waarom word daar in soveel detail opdragte gegee t.o.v. die gebruik daarvan, as dit net vir die duur van die Apostels (ongeveer 50 jaar dus) se werksaamhede bedoel was?

Dit is verder opmerklik dat die hele gedeelte van 1 Kor. 12, 13 en 14 saamgebind is.  Indien die charismata dan net bedoel was vir destyds, dan is die beskrywing daarvan in 1 Kor. 12 en 14 dus net beskrywend van aard.  Maar dan moet dieselfde mos geld vir 1 Kor. 13.  Hoe kan ons sê dat hoofstukke 12 en 14 beskrywend was, terwyl 13 wat tussenin lê en handel oor die liefde, nou skielik voorskrywend is?  Ons moet verder onthou dat toe Paulus sy briewe geskryf het, daar nie sprake was van vers- en hoofstukindelings nie.

Daar is teoloë wat beweer dat 1 Kor. 13:8 ʼn bewys daarvan is dat die gawes aan die einde van die Apostoliese tydperk verdwyn het ~ Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak.

Die sleutel van hierdie woorde “ophou” en “uitgedien raak”, lê in vers 10: ...maar wanneer die volledige kom, sal wat  gedeeltelik is, uitgedien weesIn Engels is die woord “volledige”, the perfection.  En wat beteken dit?  Wat beteken die volledige?  Beteken dit:
  • Dat toe die Apostoliese tydperk afgesluit is, die woord klaar geskryf was en daarom was wonderwerke ens. nie meer nodig nie?, of...
  • Dat wanneer die volledige kom, is wanneer Christus se wederkoms plaasvind?

Ek kan vir u onomwonde sê, dat die meeste gesaghebbende kommentators sê dat dit beslis die tweede is – swaar gewigte soos Johannes Calvyn sê dit, ook die 17de eeuse Puritein, Matthew Poole asook manne soos John Gill, Charles Hodge en Charles Spurgeon en nog vele meer. 

Weereens kan ons hier die vroeëre redenasie t.o.v. 1 Kor. 13 wat handel oor die liefde en wat nou nog van toepassing is op die Kerk van die Here Jesus Christus, gebruik om te sê dat ook 1 Kor. 12 en 13 daarom nog steeds van toepassing is.

Kom ons kyk vir ʼn oomblik ook na 1 Kor. 15:24-26 ~ Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. 25Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. 26Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

Die woord “vernietig” in die Grieks is katargew  (kat-arg-eh'-o).  En daarom moet ons vra:  “Wanneer sal ‘elke gesag en krag vernietig’ word?”  Uit die konteks is dit baie duidelik – wanneer Jesus weer kom! 

As ons weer kan kyk na 1 Kor. 13:8 ~ Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak Die woord vir “verdwyn”, is presies dieselfde woord wat ons in 1 Kor. 15:24 vind en wat vir “vernietig” gebruik word, nl. katargew  (kat-arg-eh'-o).  En wanneer gaan hierdie profesieë dus verdwyn?  Met Christus se wederkoms!

8.  HOE NOU VORENTOE?:
As ons dan nou sê dat die charismatiese gawes nog nie verdwyn het nie en eers met die wederkoms gaan verdwyn, moet ons twee vrae beantwoord:
·           Waarom sien ons dit nie in ons gemeente en talle ander gemeentes manifesteer nie, m.a.w. waarom het die gawes nog steeds net ʼn kort tydjie na Pinksterdag gemanifesteer en toe verdwyn?
·           Is die gawes wat ons in aksie sien in die “charismatiese en Pinkster Kerke”, outentiek?

Ons kan beide hierdie vrae, gelyktydig beantwoord.

Ons moet onthou dat daar ʼn groot menigte mense op Pinksterdag byeen was en wel vanuit talle lande, maar ons kan met redelike sekerheid aanvaar dat al die volke van die wêreld nie daar verteenwoordig was nie en sou dit nog geruime tyd geneem het, voor die Evangelie bv. by die inboorlinge van afgeleë Tropiese Eilande en die Eskimo’s sou uitkom ens. en daarom sou o.a. tale (asook ander gawes), nog ryklik gemanifesteer het regoor die wêreld en in die jare wat sou volg.

Verder moet ons ook daarop let dat diegene wat beweer dat die gawes gestaak het met die einde van die Apostoliese tyd, die gawes soos vermeld in Rom. 12 en twee groepe verdeel, nl. die sewe tydelike gawes en die elf permanente gawes – dit kan as volg uitgebeeld word:


As ons egter na o.a. Rom. 12 kyk, asook (en dalk veral ook) ander teksverse waar die gawes vermeld word, sien ons dat hierdie gawes deurmekaar en aaneenlopend vermeld word.

Daar is dus géén, hoegenaamd géén aanduiding dat van hierdie gawes tydelik van aard was en andere permanent nie (met die uitsondering van twee), inteendeel, indien sommige van hierdie gawes dan nie tydelik van aard was, sou dit tog uitgelig en beklemtoon word (soos hierdie twee).  En wie het en op grond waarvan, is daar besluit om die gawes in twee kategorieë te verdeel?

Die bekende Errol Hulse (wat al hier gepreek het) het self in sy boek “The Believer’s Experience” erken dat dit baie moeilik is om te besluit of die gawes van wonderdade en kennis bv. tot die tydelike of die permanente kategorieë hoort.

Die bekende 17de eeuse Puriteinse teoloog, John Owen het die volgende gesê:  There was no certain limited time for the cessation of these gifts. ... It is not unlikely, but God might, on some occasions, for a longer season put forth His
power in some miraculous operations, and so He yet may do, and perhaps doth sometimes.” 

As ek dan sê dat die “tydelike gawes” nie opgehef is nie, waarom sien ons dit nie hier by ons nie?  Wel, ek sal dit as volg verduidelik:
·           Eerstens sou ek die kolomme soos netnou vermeld wou verander na drie kolomme toe en ook die opskrifte verander na: “2 Afgehandelde Gawes – hieronder plaas ons Apostelskap en ProfesieDan “5 Buitengewone Gawes” met die res van die linkerkantste kolom daaronder en ek sou die “11 Permanente Gawes” net so behou, nl. die “Elf Permanente Gawes”.


Waarom hierdie indeling?
·           Kom ons begin by die tweede groep – “5 Buitengewone Gawes”.  Ek glo die Woord leer ons dat God soewerein en almagtig is (“Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik” - Matt 19:26) en daarom kan Hy wonderdade verrig en mense bonatuurlik, of Goddelik, genees, soos Hy wil en waar Hy wil en wanneer Hy wil.  Net so kan Hy in uitsonderlike gevalle wéér mense gebruik om in “ongewone tale” te spreek waar en indien nodig –bv. in ʼn gebied waar die Evangelie nog nie verkondig is nie en waar die Woord van God nog nie beskikbaar is nie (let asb. daarop dat ek reeds by ʼn vorige geleentheid aangetoon het, dat hierdie tale bestaande tale is en dat dit gepaard moet gaan met iemand wat dit uitlê).  En dieselfde geld vir ʼn woord van kennis, maar nog steeds moet ons onthou dat God se Woord wel afgehandel is en in daardie onbereikte groep se taal vertaal kan word, eerder as wat ons, of die sendelinge dan, staatmaak op vreemde tale,  MAAR weereens – God kan as Hy wil, hoewel dit nie meer vandag regtig die norm is nie.

Ons het reeds in die geskiedenis van herlewings gesien dat baie van hierdie gawes plaasgevind het.  En ons hoor gereeld van sulke gevalle vanuit die sendingveld en waar God hierdie “buitengewone gawes” gebruik om Sy almag en Sy heerlikheid en Sy soewereiniteit te verkondig, asook t.w.v. die uitbreiding van Sy Koninkryk, máár, hierdie gawes word, net soos gedurende die Nuwe Testamentiese tydperk, soewerein deur God gegee wanneer Hy wil, soos Hy wil en aan wie Hy wil en dit het nog nooit verander nie – as hierdie gawes dus in charismatiese kerke gepraktiseer word, is dit nié die outentieke, Godgegewe gawes nie, maar self opgeklitste Onbybelse praktyke.  Hier moet Matt. 24:24-25 dan ook vir ons ʼn waarskuwing wees ~ Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei.  Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê

Kan ek ook net vlugtig vir u noem, dat, as ons kyk na wonderwerke, was daar net drie fases waar wonderwerke voorgekom het – én al drie is opgeteken in die Woord.  Die eerste groep was in die tyd van Moses en Josua; die tweede fase was in die tyd van Elia en Elisa en laastens gedurende die tydperk van Christus en die Apostels se bediening en elke fase het nagenoeg 100 jaar geduur.

Geen hedendaagse gelowiges het egter enige van hierdie wondergawes as gawe ontvang nie; dit is ook nêrens in die Skrif vir ons belowe nie en daarom moet ons dit ook nie soek en verwag nie, MAAR, ons kan nooit sê dat dit “Tydelik” was en daarom nooit weer sal voorkom nie.
·           Wat die eerste groep betref, bestaan daar geen twyfel daaroor, dat daar na die Nuwe Testamentiese Apostels nie meer ander Apostels kon wees nie,  waarom sê ek dit?  Net baie kortliks:  Die vereistes vir Apostelskap, was die volgende:  Hy moes die opgestane Christus gesien het (Hand. 1:22; 1 Kor. 9:1);  

Dieselfde geld dan ook vir die gawe van profesie, omdat God se Woord op hierdie wyse geskryf was en dit reeds afgehandel is – m.a.w. die kanon is reeds afgehandel en vasgestel. 

·           Wat ons derde groep betref – die “Permanente gawes”, is dit daardie gawes wat vandag nog algemeen voorkom.  Dit is die gawes wat daagliks in en rondom die Kerk van die Here Jesus Christus moet plaasvind en dít is die gawes waarvoor elekeen van ons, ons moet bewywer om uit te leef – elke oomblik!

Gal.5:22-23 ~ Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing.

Kol.3:12-16 ~ Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 14Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 16Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing

Ef.4:2-3, 32 ~ Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe; Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het

Jak.3:17 ~ Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.

2 Pet.1:5-7 ~ En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, 6die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, 7die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 30 Maart 2014

Sunday, March 23, 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 31 (“Daarsonder sal niemand die Here sien nie”)

1.     SKRIFLESING:
Hebr.12:14-29 ~ Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. 15Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. 16Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. 17Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek. 18Julle het immers nie gekom by ’n tasbare berg met brandende vuur, donderwolke, duisternis, stormwind, 19trompetgeskal en geklank van woorde nie. Hulle wat dit gehoor het, het gesmeek dat geen woord meer tot hulle gerig moes word nie. 20Die bevel dat selfs ’n dier wat aan die berg raak, met klippe doodgegooi moet word,  was vir hulle ondraaglik. 21So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: “Ek sidder van angs!”  22Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, 23die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is, 24by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel. 25Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie? 26Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: “Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.” 27Die woorde “nog een maal” laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly. 28Laat ons wat ’n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, 29want ons God is ’n verterende vuur.

2.     INLEIDING:
       Met die eerste lees van ons Skrifgedeelte van vanoggend mag dit voorkom asof die skrywer vir ons wil sê dat redding gegrond word op werke – werke soos om in vrede met andere te leef; om ’n heilige lewe te leef; dat daar geen bitterheid in ons lewe teenwoordig moet wees nie; ens. en indien dit nie die geval is nie, sal ons in die woorde van v.14b, nie die Here sien nie – sal ons nie gered word nie.

       Hoe moet ons hierdie gedeelte verstaan? Hierdie is ’n gedeelte waarmee baie mense sukkel en dit is terselfdertyd nie ’n maklike gedeelte om te verklaar nie, maar die punt wat ons in gedagte moet hou, trouens elke keer wanneer ons met hierdie vraag worstel van werke en redding, moet ons hierdie waarheid in gedagte hou, naamlik dat iemand wat nie gered is nie, nié vrede; ’n heilige lewe, ens. suksesvol kan nastreef en uitleef nie. Slegs gelowiges kan met die hulp van die Heilige Gees dit suksesvol nastreef en leef. Jesaja bevestig dit in Jes.57:21 wanneer hy sê ~ Vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê my God.  En in Jes.64:6 sê hy ~ ... ons beste dade is soos vuil klere; ons is almal soos verdroogde blare, ons word deur ons sondes weggewaai soos deur ’n wind. Daar is dus geen manier dat ’n goddelose ’n heilige lewe kan leef nie, maar daar is ook geen manier dat ’n gelowige ’n heilige lewe kan leef sonder die genade werking van die Heilige Gees nie.

       Wanneer ons dus na hierdie Skrifgedeelte kyk, moet ons besef dat dit hier gaan oor gelowiges se posisie in Christus – m.a.w., omdat vrede tussen gelowiges en God in en deur Christus bewerkstellig is en ons derhalwe geregverdig is, word daar van ons verwag om vredemakers te wees, word dit van ons verwag om heilige lewens te lei, word dit van ons verwag om sedeloos te lewe, ens. Wanneer ons dus alles in die stryd werp om in vrede met andere te lewe, of om heilige lewens te lei, doen ons dit omdat daar uit genade, vrede tussen ons en God bewerkstellig is – in kort: omdat ons diep dankbaar is vir ons redding, wil ons heilig lewe, sodat God verheerlik kan word.

3.     GOD VAN VREDE (v.14):
       Die natuurlike optrede van mense is om hulle vyande, óf te vernietig, óf om hulle te vermy. Die ontvangers van die Hebreërbrief het baie vyande gehad – vyande wat hulle vervolg het oor hulle geloof en wel tot so ’n mate dat hulle baie maklik hul vyande kon verag en wat waarskynlik begin posvat het by hulle, maar die skrywer sê vir hulle, ...beywer julle vir vrede met alle mense. Die opdrag wat hy vir hulle gee is kontra dít wat die wêreld sê – die wêreld sê dat dit net lafaards is wat vrede soek, trouens die wêreld leer dat die enigste wyse om te oorleef, is om vergelding te soek – al is dit ook net om iemand te ignoreer. Vir gelowiges egter, is die opdrag om vrede te soek en vrede na te jaag, juis omdat God, ’n God van vrede is en Hy vrede tussen ons en Hom gebring het. Ons moet egter ook nie vrede om selfsugtige redes soek, sodat ons vrede kan ervaar nie – ons moet dit najaag omdat dit ’n opdrag in die Woord is – sien bv. Ps.34:15 ~ Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!..., asook Rom.12:18 ~ As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Petrus sê dit ook in 1 Pet.3:11 ~ Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na! Jesus het self ook in Mark.9:50b gesê ~ Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe.

       Die Hebreërskrywer sê dus dat vrede deur gelowiges nagejaag moet word, omdat dit deel is van gelowiges se heiligmakingsproses en daarom sê hy steeds in v.14, as ek dit mag parafraseer ~ “...Beywer julle vir ’n heilige lewe deur in vrede met andere te leef. 

       Hierdie heiligheid wat nagejaag moet word is anders as vals heiligheid – heiligheid wat die Fariseërs bv. nagejaag het. Hierdie heiligheid waarna die skrywer verwys, is ’n innerlike  en privaat liefde tussen ’n gelowige en God en ’n heilige lewe is die vrug of gevolg van hierdie liefdesverhouding (Matt.6:1-18).  Dit is dus nie die gevolg van ’n soeke na menslike erkenning of enige ander menslik gedrewe motiewe nie.

       Die skrywer sê dus dat ongelowiges nié oor hierdie heiligheid kan beskik nie en daarom kan hulle nie hierdie opregte vrede najaag nie en daarom kan en sal hulle God nie sien nie (Openb.21:27; 22:15) – hulle is dus nie gered nie. Daarteenoor sal gelowiges hierdie vrede najaag, omdat hulle God lief het en daarom sal hulle God sien.

       Die implikasie hiervan is derhalwe dat indien ons nié vrede najaag nie, ons ernstig introspeksie sal moet doen en ons bekeer, want ons optrede is dan nié wat veronderstel is om voort te spruit uit ’n gelowige se optrede nie.

4.     DRA SORG (vv.15-17):
       In vv.15-17 word primêr twee sake aangespreek. Eerstens rig die Hebreërskrywer ’n verdere waarskuwing tot ons en sê hy dat niemand afvallig moet raak van God se genade nie en hy sê tweedens, dat ons versigtig moet wees om nie bitterheid die kans te gee om pos te vat in ons lewe nie.

     Op die oog af lyk dit asof die apostel vir ons wil sê dat ons self waaksaam moet wees dat ons nie afvallig raak nie, maar die woordjie “sorg” waarmee hierdie vers begin is in die Grieks  πισκοπέω (episkopeõ) en is verwant aan die woord “episkopos” wat verwys na ’n opsiener, of biskop, of ouderling. Hierdie woordjie “sorg” wil derhalwe vir ons as broers en susters sê dat ons “toesig oor mekaar moet hou” (dit is m.a.w. nie net die ouderlinge se verantwoordelikheid nie) – ons moet mekaar help om meer en meer Christus gelykvormig te word, of anders gestel, om toe te sien dat nie een van ons afvallig sal raak van God nie. Daarom moet ons nie bang wees dat ons andere aanstoot sal gee as ons in hul lewens inspreek nie, want dit word van ons verwag om dit te doen en wat meer is, as so ’n persoon nie “uit die bek van die leeu” gered word nie, wat en hoe gaan ons verduidelik?

     Ons moet onthou dat ons nie alleen aan hierdie lewenswedloop deelneem nie – ons het broers en susters saam met wie ons hardloop – vandag het een van hulle ons nodig om nie slap in die knieë te raak nie en môre mag ons hulle nodig hê om ons slap hande op te rig – vordering in heiligmaking is nie ’n opsionele ekstra nie – dit is ’n absolute noodsaaklikheid, want daarsonder sal niemand die Here sien nie (v.14).

     Tweedens word ons gewaarsku teen bitterheid – hierdie bitterheid verwys na mense wat voorgee dat hulle gelowiges is en identifiseer met gelowiges, maar dit nie is nie en dan uiteindelik heeltemal terugval in die heidendom – so ’n persoon raak arrogant en uitdagend oor “die dinge van die Here” – hy bal dus sy vuis vir die Here – eenvoudig gestel so ’n persoon kom in opstand teen, of steur hom net nie meer aan die “dinge van die Here” nie – Hy steur hom nie aan die Woord van God nie.

     Terug na die eerste woord in v.15 – “sorg”, of te wel “episkopos” – dit dui derhalwe daarop dat gelowiges moet toesien dat hierdie “bitter mense” nie in hul midde moet wees of bly nie, want sulke mense kan en sal probleme veroorsaak en die gemeente besoedel.
    
     Die skrywer gaan nou voort in v.16 en wil vir ons sê dat ongeag wat ’n persoon se sonde ook al mag wees, of dit nou seksuele immoraliteit is en of dit ’n lewe sonder die Here is, of wat ook al – as enige iets vir so ’n persoon belangriker raak as om die Here lief te hê, is dit ikabod met so ’n persoon en dan sê hy, dat die gemeente seker moet maak dat so ’n persoon nie in hul midde bly nie. Dan gaan hy voort en herinner ons aan Esau en hy sê, wanneer julle dink aan Esau – wees gewaarsku, want as ons na Gen.25:29-34 kyk sal ons sien dat die hier en die nou vir Esau belangriker was as wat God vir hom in gedagte gehad het. Esau het sy rug gedraai op God se seën, ten einde sy eie voorkeure te kon najaag en dit het hom suur bekom, want later toe hy besef wat hy gedoen het, wou hy omdraai, maar dit was te laat (soos wat ons reeds verlede week gesien het).

     Ons moet dus waaksaam wees dat nie een van ons wegdraai van die Waarheid en sodoende bitter raak en die selfde weg volg as Esau waar hy God se seën bitter graag wou ervaar, maar op sý voorwaardes en nie God se voorwaardes nie.

5.  TWEE BERGE (vv.18-24):
     Verse 18-29 word in baie kringe beskou as die klimaks van hierdie sendbrief.

     Die ontvangers van hierdie brief sal julle onthou, was Jode wat Christene geword het, maar wat dit nou weer oorweeg het om terug te keer na die Judaïsme. Die rede hiervoor sal ons onthou, was omdat hulle erge vervolging ervaar het en dit vir hulle te veel geraak het. Die Hebreërskrywer het dan aan hulle verduidelik waarom daar beproewing in die lewe van gelowiges moet wees (ons het verlede week daarna gekyk) en hy waarsku hulle weer, dat indien hulle nie op die volhardingspad van die gelowiges bly nie, hulle dalk nie die eindstreep sal haal nie.

     Die skrywer gaan dan voort deur op twee belangrike lesse te konsentreer. In vv.18-24 verduidelik hy dat dit beter is om ’n Christen te wees as ’n Jood; en in vv.25-29 verduidelik hy dat hoe groter jou voorregte, des te groter is jou verantwoordelikhede.

       Om hierdie standpunt van hom te verduidelik, vergelyk hy dit met twee berge en dui hy aan dat dit baie beter is om eerder op die  een berg te wees as op die nader een. Hy noem nie die eerste berg by die naam nie, maar dit is duidelik vanuit die teks dat hierdie berg, Berg Sinai moet wees. Sinai was die berg waar God o.a. die Tien Gebooie aan Moses en die Israeliete gegee het.

o  Berg Sinai (vv.18-21): Berg Sinai was ’n tasbare – werklike berg. Dit was ’n berg van verskrikking, want verskriklike dinge wat deur die sintuie waargeneem kon word, het daar plaasgevind, nl. ’n vuur; ’n dwarrelwind; duisternis en ’n storm. Dit wat daar gebeur het is basies ’n opsomming van die hele ou bedeling. Dit het hoofsaaklik bestaan uit die materiële – die sigbare; dit wat ’n mens kon ervaar deur en met jou sintuie.

       God het met ’n hoorbare stem by Sinai gepraat en dit was so geweldig, dat die Israeliete gesmeek het dat God liewer moes ophou praat (v.19). Niemand kon in God se teenwoordigheid kom, behalwe Moses en Aäron nie en selfs hulle was bang – selfs diere wat dit te naby gewaag het, het gevrek.

o  Die Sionsberg (vv.22-24):
       Die Sionsberg is die ander berg wat die skrywer as voorbeeld gebruik en verwys na die rots waarop die stad Jerusalem, asook die Tempel gebou is.

       Om na die Sionsberg te gaan, was ’n totaal ander belewenis, omdat die mense nie blootgestel was aan die verskrikking wat gepaard gegaan het met die berg Sinai nie. Die pelgrim wat na Jerusalem gegaan het was vrolik en het gesing en gedans. Die Sionsberg was dus vir die Israeliete en Jode, ’n aangename gebeurtenis – ’n plek waar hulle welkom was.  

       Ons as gelowiges het egter ook verby die Sinaiberg van ’n veroordeelde lewe beweeg en deur God se genade in Christus Jesus, het ons by die Sionsberg gekom – God se geestelike tuiste.

       In teenstelling met die Israeliete se Sinaiberg, is ons Sionsberg nie ’n tasbare berg nie, maar ’n geestelike berg, want die Evangelie is iets wat geestelik is en geestelik beleef word, m.a.w. gelowiges beleef nie Sinai-manifestasies wanneer hulle nuwe mense in Christus Jesus word nie.

       In teenstelling met die Sinaiberg waar die Israeliete aan die voet van die berg gestaan het en net die uiterlike en verskriklike manifestasies van God se teenwoordigheid beleef het, ervaar ons as gelowiges die vreedsame en liefdevolle teenwoordigheid van God en word ons verwelkom in Sy midde. Soos wat Hebr.4:16 sê, kan ons ~ ...met vrymoedigheid na die genadetroon (gaan), sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. Sinai was ’n groot taboe vir die volk van God, maar onder die nuwe bedeling is Sion ’n “groot welkom” vir God se kinders!
 
       Die skrywer beskryf dus vir ons in vv.22-24, die hemelse Jerusalem en hy wil vir ons sê, dat ons moet onthou dat die Ou Testamentiese Jerusalem vir ons as gelowiges van geen belang meer is nie, behalwe dat dit slegs ’n voorafskaduwing van die hemelse Jerusalem is en dit is in absolute ooreenstemming met die res van die Nuwe Testamentiese boodskap, nl. dat die Ou Testamentiese profesieë wat oënskynlik ’n Joodse vervulling  inhou, eintlik vervulling in die Kerk van die Here Jesus Christus impliseer en dat dit niks met die Joodse volk of Judaïsme te doen het nie.

       Die Hebreërskrywer skets dus vir ons die kontras tussen Sinai en die Sionsberg, ten einde die verskil tussen die Ou- en die Nuwe Verbond aan te toon – die Oue wat gepaard gegaan het met fisiese offers en wette en voorskrifte en vrees, teenoor die Nuwe wat gepaard gaan met Christus se soendood en God se oneindige genade – een van wetsvervulling; van vreugde en van vrede. Natuurlik moet ons God steeds vrees, want Hy is tog immers heilig en ’n God van oordeel, maar hierdie vrees verwys eerder na eerbied en ontsag en lofprysing en verheerliking. 

       Ons as gelowiges hoef nie meer, soos die destydse Israeliete uit te roep dat God moet ophou praat omdat dit ons vreesbevange maak nie – nee, ons kan nou met vrymoedigheid na Hom kom, want ons kom na Hom, deur Jesus Christus ons Verlosser en Voorspraak – ons groot Hoë Priester.

6.     ONS VERANTWOORDELIKHEID (vv.25-29):  
       In vv.25-29 waarsku die skrywer ons egter dat hierdie vryheid wat ons ontvang het, met groter verantwoordelikheid gepaard gaan en daarom moet ons ag slaan op wat God vir ons sê – Hy sê dan ook vir ons hoe ons dit moet doen:
o    Luister na die Woord (v.25)
       Waarom het die apostel die vergelyking getref tussen Sinai en die Sionsberg? Hy verskaf die antwoord in v.25. Sommige mense het geweier om God se boodskap by Sinai te aanvaar en ons lees in Deut.29:19 dat God hulle dood gemaak het – hulle het God se boodskap aangehoor toe Moses dit met hulle gedeel het. Hulle het gedeel in God se beloftes en seën, maar hulle reaksie; hulle optrede, was oppervlakkig en vals, met die gevolg dat hulle nooit die Beloofde Land binne gegaan het nie.

       As dít die lot was van hulle wat onder die Ou Verbond gestaan het en na God deur Moses geluister het, maar tog nie geluister het nie, watter verskoning is beskikbaar nou dat God deur Sy Seun met ons praat? Daar is geen verskoning nie, trouens die gevolge is veel erger vir ons wat in die Nuwe Verbondsbedeling staan, omdat God deur Sy Seun met ons praat en hierdie spreke vind ons in die onfeilbare en genoegsame Woord van God (Joh.1:1). Wat sê God vir ons deur Sy Seun – wat staan ons te doen – watter opdrag ontvang ons van Hom? Ja, ek weet daar is talle opdragte, maar ek glo ons kan dit saamvat in die woorde van Matt.11:28-30 ~ Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig. Ons moet na Hom en niemand anders gaan om rus te vind, máár terselfdertyd word dit van ons verwag om ons kruis op te neem en Hom te volg – ons moet Sy juk dra en van Hom leer en soos Hy word en as dit na iets onmoontlik klink – Hy gee ons die versekering in hierdie verse wat ek so pas gelees het, dat Sy juk sag is en Sy las lig.

       Ons word dus opgeroep om ’n lewe van diensbaarheid en selfverloëning te leef. Ons beleef voorregte wat die Ou Testamentiese gelowiges nie beleef het nie, maar dit plaas soveel meer verantwoordelikheid op ons skouers om in gehoorsaamheid aan God te leef, want in die woorde van v.1, ...waarsonder niemand die Here sal sien nie! 

o    Bou op die Rots (vv.26-27):
       Wat meer is, God het klaar gepraat – ons sien dit in vv.26-27. God het eenkeer die aarde laat wankel met Sy stem by Sinai, maar die Israeliete het nie geluister nie en daarom nie die Beloofde Land binnegegaan nie.

       God gaan egter weer ’n keer praat – ’n laaste keer en die keer sal dit van die Sionsberg, Sy geestelike tuiste wees en dan gaan Hy nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel (v.26) en dan gaan Hy Sy oordele oor die mens en die ganse heelal uitspreek en die hemel en die aarde herskep – die fisiese heelal soos ons dit ken, gaan verdwyn en al wat dan gaan bestaan is die geestelike werklikheid, nl. God Drie-Enig, die engele en die mens en dit gaan vir ewig duur.

       Met hierdie gedagte wil die skrywer dus vir sy lesers en vir ons sê, dat ons eerder ons toekoms en lewe op iets meer standvastig moet bou as die tydelike en die hier en die nou, nl. Jesus Christus die Rots, want daarsonder sal niemand die Here sien nie en ons doen dit deur na Hom te luister wanneer Hy deur Sy Woord met ons praat en ons dan in gehoorsaamheid sal reageer en optree.
      
o    Aanbidding (vv.28-29):
              In die laaste twee verse van ons Skriflesing word ons aangemoedig om met groot vrymoedig na die God van die onwrikbare en ewig standvastige Sionsberg te gaan in aanbidding – die onveranderlike en ewige Sionstad, woonplek van God, wat gevul is met liefde en genade, waar Sy troon gevestig is en waar Hy aan Sy regterhand ons Hoë Priester het wat voortdurend by Hom intree vir ons. 


       Die Hebreërskrywer sluit af met ’n verskriklike waarskuwing ~ Laat ons wat ’n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, 29want ons God is ’n verterende vuur (v.29). Mag elkeen van ons wat hierdie onwankelbare koninkryk in en deur Jesus Christus ontvang het, God met eerbied en ontsag dien en uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons doen en gee, volgens Sy wil optree, want daarsonder sal ons nie die Here sien nie, omdat Hy ’n verterende vuur is.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 23 Maart 2014

Monday, March 17, 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 30 (“’n Vader se Tugtiging”)

1.     INLEIDING:
       Ons as gelowiges het baie dinge in gemeen wat die wêreld nie met ons deel nie. Ons deel bv. in dieselfde genade wat ons van God deur Christus Jesus ontvang. Ons gaan eendag saam in die ewigheid deurbring, maar dit is nie al nie. Ons as gelowiges  deel egter almal ook in ’n mindere of meerdere mate die ervaring van beproewing, maar soos wat ek verlede week verwys het na die verskillende soorte atletiekbane waarop atlete vroeër jare moes hardloop, net so verskil ons beproewing en intensiteit ook van mekaar.

       Hierdie gedagte aan beproewing is nie iets wat mense wil hoor nie – selfs nie gelowiges nie, want dit gee aanstoot, net soos wat dit aanstoot gegee het vir die eerste lesers van hierdie Hebreër-sendbrief. Ons het in 10:32-34 gesien dat die skrywer hulle gedagtes verfris het met hierdie woorde ~ Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. 33Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. 34Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ’n besitting het wat beter en blywend is.

       Vir die aanhangers van die welvaartsteologie is die gedagte nie net ’n aanstoot nie, maar dit is totaal onaanvaarbaar en bestaan net nie in hul woordeskat nie, want as dit gebeur val hul kaartehuis van sukses en positiwiteit en welvaart in mekaar. Hierteenoor is die boodskap van die Bybel egter een van “kruis opneem” en lyding en beproewing. Die Woord van God waarsku ons en sê vir ons dat die geloofspad, volharding vereis (ons het dit verlede week gesien) en volharding impliseer tog dat iets, iewers nie maklik is nie. Die geloofspad van die gelowige is ’n pelgrimspad – gaan lees maar net weer John Bunyan se ”The Pilgrim’s Progress” (ek moet my vroeëre reeks oor hierdie juweel dalk weer herhaal – dalk Woensdagaande) en dit behels nie net voorspoed en welvaart nie, maar ook beproewing en swaarkry. Dit is selfs van tyd tot tyd ’n gevaarlike pad om op te loop – dit is ’n wedloop wat krag en deursettingsvermoë vereis – ’n pad waar ons meer as dikwels gekonfronteer word en in gevegte betrokke is met ’n gewetenlose vyand (die satan en sy demone). Diegene wie hierdie feit verwerp – verwerp nie alleen die Skrif nie, maar verwerp daarmee saam die Evangelie – verwerp daarmee saam Jesus Christus.

       In die lig hiervan is vandag se Skrifgedeelte besonderlik van toepassing asook prakties en moet ons ernstig aandag hieraan skenk.

2.     SKRIFLESING:
Hebr.12:5-17~ Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, 6want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” 7Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ’n kind wat nie deur sy vader getug word nie? 8As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie. 9Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie? 10Ons vaders het ons wel ’n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel. 11Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God. 12Versterk daarom die slap hande en die lam knieë 13en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word. 14Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. 15Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. 16Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. 17Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek.

3.     TUGTIGING:
       Ons sien in hierdie gedeelte hoe die Hebreërskrywer van die beeld van ’n wedloop nou verander na die beeld van ’n gesin en in plaas daarvan om die lewe van die gelowige te vergelyk met dié van ’n atleet, vergelyk hy dit nou met dié van ’n kind wat opgevoed word deur ’n liefdevolle Pa wie verstaan dat sy kinders op een of ander stadium van hul lewe deur moeilike tye sal gaan – tye van beproewing; tye wanneer sonde hulle wil oorval en bemeester; tye wanneer hulle moedeloos gaan raak en daarvoor berei hy hulle voor deur o.a. dissipline in hulle lewens toe te pas.

       Die ontvangers van hierdie sendbrief het deur swaarkry gegaan, maar nie een van hulle het ervaar wat Jesus moes deurgaan nie. Nie een van hulle het nodig gehad om hul lewens t.w.v. die Evangelie af te lê nie. Nie een van hulle het ’n sondelose lewe gelei soos Jesus nie – ’n lewe van volkome gehoorsaamheid aan die Vader en derhalwe geen straf hoegenaamd verdien het nie. Inteendeel, sommige van hul lyding was verdiende lyding en was juis daarop gemik om hul geestelik te laat groei en dissipline in hul geestelike lewe aan te leer.

       Die Hebreërskywer wil ons derhalwe laat verstaan dat swaarkry, deel is van enige kind se opvoeding en dat die  opvoedingsituasie noodwendig ook gepaard moet gaan met dissipline en seerkry. Die swaar- en seerkry wat ons op ons geestelike pad ervaar, is nie maar net toevallige gebeurtenisse nie, maar net soos in ’n gesinsopset, is dit ’n onafwendbare en noodsaaklike gebeurtenisse ten einde ons geestelik te laat groei en suksesvol “op te voed”, sodat ons, soos Paulus dit in Rom.12:1 stel, ...(ons onsself) aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is (kan gee).

       Die sleutelwoord in hierdie gelese gedeelte is “tugtiging” – dit word nie minder nie as 11 keer in die Afrikaanse teks gebruik. Hierdie woord word beide as ’n selfstandige naamwoord en ’n werkwoord gebruik en dit kom van die Griekse woord, παιδεία (paideia) wat afgelei is van die woord παῖς  (pais) wat weer van die woord “kind” afkomstig is en op die opvoeding of leer van kind dui. Hierdie is ’n wye uitdrukking en kan na ouers verwys, of na onderwysers, of enige iemand wat afrig, of opvoed, of leer, of teregwys, ens., ten einde kinders te help om maksimaal te ontwikkel en volwasse te word, soos wat daar van hulle verwag word om te wees. 

       Die geestelike lewe van gelowiges in hierdie lewe behels, soos ons gesien het, ’n wedloop, oorlogvoering, werk volharding ens., maar dit behels ook verhoudinge – verhoudinge met andere, met medegelowiges en dan veral met God. En die klem in hierdie gedeelte val dan op die Hemelse Vader se dissipline wat Hy toepas op Sy kinders.

       In v.5 sê die skrywer dat ons dit nie gering moet ag as die Here ons tugtig nie en ons moet ook nie mismoedig word as Hy ons teregwys nie, want dit behoort dan juis vir ons te wys dat ons Sy kinders is, want ’n Vaderlose kind sal nie tugtiging en teregwysing van ’n Vader ontvang nie, omdat hy nie ’n vader het nie, daarteenoor sal ’n Vader in ’n liefdevolle gesinsopset, juis sy kind tugtig. Ons moet derhalwe besef dat dissipline nie ’n teken is van ’n hartelose, ongenaakbare pa nie, maar dit is juis die gesindheid van ’n Vader wat sy kind diep- en opreg lief het en Sy kind se belange en welsyn en toekoms op die hart dra en daarom kan liefde en tugtiging en teregwysing nie van mekaar geskei word nie. Indien dit dan waar is van aardse vaders, hoeveel te meer nie ons Hemelse Vader nie!

       As ons vra waarom hierdie tugtiging? Dan het die skrywer in v.6 die Spreukeskrywer in gedagte wanneer hy sê ~ My seun, aanvaar die straf wat van die Here kom en moet jou nie teen sy teregwysing verset nie, 12want die Here straf die mens wat Hy liefhet net soos ’n vader doen met sy seun (Spr.3:11-12). Hy moedig ons dus aan om dieselfde gesindheid te hê.

       Wanneer ons die onreg en vervolging ens. van goddelose mense moet verduur is dit verseker altyd moeilik om te dra of te verduur, maar ons Hemelse Vader gebruik dit altyd tot ons uiteindelike voordeel, enersyds omdat Hy ons liefdevolle Vader is en ook omdat Hy soewerein en intiem by ons lewe betrokke is en Hy alles uiteindelik ten goede laat meewerk – dit is presies wat Paulus ook in Rom.8:28 sê ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

       Met dit alles in gedagte moet ons, hoe moeilik dit ook al mag wees, vervolging, of tugtiging, of beproewing, of swaarkry aanvaar en selfs dankbaar wees daaroor, omdat tugtiging altyd vir die gelowige uit die hand van ons Hemelse Vader kom en omdat Sy motief daarmee juis is, om eer aan Hom te gee deur ons lewe en die wyse waarop ons op ons swaarkry reageer, maar ook ter wille daarvan om ons geestelik te laat groei en ons verhouding met hom te verinnig.

       Hoor net wat se raad gee Salomo vir ons in Spr.23:1 ~ Moenie huiwer om ’n kind te straf nie, want as jy hom slaan, red jy sy lewe.  Dit is presies wat God met ons ...wat volgens sy besluit geroep is (die uitverkorenes), wil doen!

4.     VORME VAN DISSIPLINE:
Wanneer ons na God se dissipline teenoor Sy kinders kyk, som Kent Hughes dit op in drie soorte dissipline, nl. regstellende dissipline; voorkomende dissipline en opvoedende dissipline. En dan erken hy ook dat daar natuurlik ander onderskeidende eienskappe van dissipline is, maar kom ons kyk na die drie wat hy noem:

·           Regstellende dissipline: 
       Hughes sê dat God se kinders soms regstellende oordeel ervaar wat direk voortspruit uit God se liefde vir ons. Koning Dawid is vir ons ’n goeie voorbeeld hier. Sy owerspel en uiteindelike moord het fel oordeel tot gevolg gehad – sy seun sterf wat uit owerspel gebore is (2 Sam.12:10); sy seun Amnon, verkrag sy halfsuster Tamar (2 Sam.13:1), waarop Absolom vir Amnon vermoor (2 Sam.13:28-32); Absolom lei ’n rebellie teen sy pa Dawid (2Sam.17:1). Hierdie was geweldige gevolge en dissipline wat gevolg het op Dawid se sonde en ons kan ons self nie indink in wat se beproewing en hartseer en selfverwyt, ens. hy moes deurmaak nie – Dawid was beproef soos wat ek en jy waarskynlik nog nooit beproef was nie – Dawid kon baie maklik ’n verbitterde, haatdraende, onaangename en depressiewe ou man geword het, máár Dawid het uit sy beproewing geleer.

       Dawid het gebuig onder God se dissipline en geestelik gegroei. As ons Ps.51 sou lees, sal ons hoor hoe Dawid, nadat Natan hom gekonfronteer het oor sy owerspel met Batseba, om vergifnis vra vir sy verskriklike sonde en hy erken o.a. dat hy teen God gesondig het, trouens hy erken selfs dat hy al skuldig was nog voor sy geboorte – hy erken dus dat hy in sonde ontvang en gebore was en hy erken in v.6b dat God se oordeel oor hom, regverdig is. Dan vra hy in die volgende verse dat God hom genadig moet wees en hom o.a. sal vergewe en skoon sal was van al sy skuld (v.4); aan hom ’n rein hart sal gee (v.9) en nie die Heilige Gees van hom sal wegneem nie (v.13). Hy vra dat God hom van ondergang sal red (v.16) en hy vra o.a. ook vir verootmoediging (v.19).  Hoor net wat sê Dawid verder in Ps.119:67 ~ Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord en dan gaan hy verder in v.71 en hy sê die volgende ~ Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.

       Nog ’n voorbeeld van God se regstellende dissipline vind ons in die gemeente van Korinte waar gelowiges siekte en selfs die dood ervaar het omdat hulle die Nagmaal misbruik en in oneer van die Here gebruik het en na hierdie gebeurtenis skryf Paulus die volgende aan hulle en ek haal aan uit die OAV ~ Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie (1 Kor.1:32). Hoor u wat sê Paulus hier? Ons word getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie. M.a.w. beproewing en swaarkry, ens. kan a.g.v. straf op ons sonde hier op aarde wees, maar dít sluit ons as gelowiges nié uit van die ewige lewe nie. Wat egter wel hier gebeur, is dat hierdie gemeentelede in die hier en die nou vir hul sonde gestraf word – hulle het dus die gevolge van hul sonde in hierdie lewe gedra (selfs die dood), maar hoor u die genade van die Vader hier?  Sodat hulle ...nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie. Hulle is bevry van die erfsonde in Adam omdat hulle vergewe is deur die soendood van Christus Jesus, maar word gedissiplineer vir hul verkeerde optrede – dit is erge dissipline, maar die optrede kom vanuit ’n hart van ’n genadige Vader, want Hy kon net sowel Sy rug op hulle gedraai het en hulle die ewige verdoemenis ingestuur het!

·           Voorkomende dissipline:
       Die tweede vorm van dissipline waarna ons moet kyk, is dié van voorkomende dissipline.

       Ons almal weet van Paulus se “doring in die vlees” (2 Kor.12:7-8) en ons weet ook dat die Here hierdie “doring” in Paulus se “vlees” toegelaat het, juis omdat Hy Paulus van verwaandheid of hoogmoed wou weerhou. Aanvanklik het Paulus gevra dat die Here dit van hom sal wegneem, maar later het hy die Here gedank vir hierdie “doring”, omdat hy besef hoe hierdie “doring” hom beskerm het.

       God laat dus soms beproewing in ons lewe toe, ten einde ons te weerhou om geestelik agteruit te gaan, of om nie verder te sondig nie.

·           Opvoedende dissipline:
       Hughes noem vir ons derdens ’n voorbeeld van opvoedende dissipline en dan verwys hy na Job. Ons weet uit die lees van Job deur watter beproewing hy gegaan het – hy verloor alles, insluitende sy kinders, ens.

       Ons lees in Job 1:1 dat Job ’n vroom en opregte man was wat God gedien het en die kwaad vermy het, maar dan gaan hy deur geweldige beproewing en nou aan die einde van sy beproewing, kom hy by ’n punt waar hy gekonfronteer word met God en sien en ervaar hy God soos nog nooit tevore nie en besef hy dat hy sy situasie en beproewing verdien, omdat hy as sondaar, wegwerplik voor God is en dat hy God se genade nie verdien nie – ons sien dit in Job 42:6 waar hy sê ...en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as. In Job 42:2 bely hy ~ Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit. Job besef wie en wat God is en dat hy geen aanspraak op enige iets kan en mag hê nie en Job is onmiddellik onder sondebesef en hy bely verder in v.3 ~ ...Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het? Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie.

       Job besef wie God is. Job besef wie hy in vergelyking met God is. Job het sondebesef oor sy optrede. Job bely sy sonde en Job is hierna ’n nuwe mens – ’n mens wat hierna in oorwinning leef en ryklik geseën word deur God. Job se gesindheid is soos wat Petrus in 1 Pet.4:12-14 sê, ons gesindheid moet wees wanneer ons God se dissipline ervaar ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. 14Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ’n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly.

       Hierdie is ’n pragtige voorbeeld van opvoedende dissipline.

5.     GOD IN AKSIE: 
       Teen die agtergrond waarna ons nou net gekyk het, nl. die drie tipies dissipline wat ons as kinders van God kan ervaar, gaan die Hebreërskrywer nou in Hebr.12:7-13 voort om vir ons te wys hoe om God se dissipline te aanvaar en wat ons gesindheid moet wees wanneer ons dissipline ervaar.

       In v.7 verduidelik die Hebreërskrywer wat hy met alles wat hy tot nou gesê het, bedoel. Hy sê dat God allerlei pynlike ervarings in ons lewe toelaat en dat dit nie “per ongeluk” gebeur nie – dit is God wat in aksie is en hierdie gebeure óf toelaat, óf selfs oor ons lewens bring, want Hy gebruik ons beproewing omdat Hy as Vader besig is met Sy opvoedingsproses in ons lewens.

       Ons weet dat dissipline noodsaaklik is in enige opvoedingsituasie en ons weet ook wat die gevolge is wanneer dissipline nié toegepas word nie. Die skrywer sê dan ook vir ons in v.8 dat indien ons nie getug word, of gedissiplineer word deur ons aardse vader nie, ons nie sy kind is nie en daarom kan ons aanvaar dat enige aardse vader sy kind sál dissiplineer. In v.9 sê hy ~ ...ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad en dan gaan hy verder en sê in v.9b ~ ...Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie?

       Wat wil die Hebreërskrywer hierdeur vir ons sê – wil hy sê, ‘net soos wat ons respek het vir ons aardse vader omdat hy ons ten goede gedissiplineer het, moet ons ook respek hê vir God, wanneer Hy ons dissiplineer’ – m.a.w. ons moet Hom as God verheerlik en op daardie wyse respek vir Hom hê? Nee, of sal ek sê, dit ook ja, maar wat die Hebreërskrywer eintlik deur hierdie opmerking vir ons wil sê, is dat ons, net soos wat Petrus in 1 Pet.14:12-14 vir ons sê, bly moet wees wanneer ons God se tugtiging (Sy dissipline) ervaar.  

       Wat is die implikasie wanneer ons nie bly is oor God se tugtiging nie?
·            Eerstens onderwerp ons, ons nie aan Gd se wil nie – ons is in rebellie teen God m.a.w.
·           Tweedens erken ons God nie as soewereine God nie.
·           Derdens erken ons Hom nie as Vader wat dit goed bedoel met ons dissipline nie.

       In kort, as ons nie bly en dankbaar is teenoor God vir Sy dissipline in ons lewe nie, is ons in sonde en sal ons nie uit die maalkolk van tugtiging en beproewing kom nie. Ons moet m.a.w. God se dissipline aanvaar en dankbaar daaroor wees, omdat ons erken dat Hy as soewereine en liefdevolle Hemelse Vader ons dissiplineer omdat dit vir ons ten goede sal meewerk en dat Hy besig is om ons op te voed en ons voorberei, ter wille daarvan om ons geestelik te laat groei en ons verhouding met hom te verinnig, trouens hy sê in v.10b dat God dit juis doen, sodat ons in heiligheid kan groei en derhalwe in Sy (God) heiligheid kan deel.

       Die skrywer sê ook in v.10 vir ons dat ons aardse vaders hul bes gedoen het met hul dissiplinering van ons as kinders – hy sê dus dat hul dissipline nie altyd volmaak was nie, maar in teenstelling daarmee, is ons Hemelse Vader volmaak en indien ons waardering het vir ons aardse vaders se opvoeding, hoeveel te meer nie vir ons Hemelse Vader wat volmaak optree in Sy opvoeding van ons nie.

       Die skrywer sê egter ook in v.11 dat ons nie altyd bly was oor ons dissipline wat ons van ons aardse vaders ontvang het nie en ons het selfs daaroor gehuil, maar dissipline is nie veronderstel om aangenaam te wees nie anders dien dit geen doel. By implikasie sê die skrywer dat ons op daardie stadium nie dankbaar was oor die dissiplinering nie, maar later was ons dankbaar daaroor, want ons kan die resultate daarvan in ons lewe sien, omdat hierdie resultate tot gevolg het dat ons nou in vrede met God kan lewe – in die woorde van v.11c, ... omdat (ons) gehoorsaam is aan die wil van God.

6.     TOEPASSING:
Wanneer ons beproewing ervaar; wanneer ons m.a.w. God se dissipline ervaar – hoe moet ons optree?
·           Moenie moedeloos raak nie (v.12-13): Die Hebreërskrywer sê dat hierdie lewenswedloop nie maklik is nie, soveel so dat dit soms vir jou mag voel dat jy nie meer kan nie – jy voel lam in die knieë, maar dan sê hy dat ons, ons lam knieë en slap hande moet versterk. Ons moet moed skep, want die motief met hierdie dissipline is nie om ons te vernietig nie, maar juis om ons ’n beter opvoeding te gee en daarom het ons ’n keuse – óf ons kan teen hierdie dissipline “skop” en tou opgooi, óf ons kan hierdie dissipline na die Oorsprong van die dissipline neem, nl. ons Hemelse Vader.

       In v.13 sê die skrywer dat ons versigtig moet wees dat ons nie so lam in die knieë moet raak dat ons die pad byster raak nie. Hy waarsku ons en sê dat ons eerder die reguit pad moet loop, anders gaan ons probleme optel en kan dit die einde van ons wedloop beteken. In plaas daarvan sê hy dat as ons afwyk van dit wat van ons verwag word, ons dit moet afskud. Hy sê dat ons vashou aan ons Hemelse Vader en die wedloop behoorlik hardloop, want dit is nie nou die tyd om moed op te gee, of selfs opstandig te raak nie.
 
·           Leef in vrede en heiligheid (v.14): V.14 dui vir ons twee sake aan waarop ons moet konsentreer wanneer ons dissipline ervaar.
o  Baie, indien nie die meeste van ons beproewing word deur mense veroorsaak – hulle maak ons seer; hulle stel ons teleur; hulle vervolg ons; hulle frustreer ons, ens. Die skrywer sê nou vir ons dat ons in so ’n geval, ons moet ...beywer vir vrede met alle mense. Ons word dus gedissiplineer, sodat ons kan leer om in vrede met mense te leef en om in die regte verhouding met mense te staan.

       Wat behels dit om in vrede met mense te leef? Ons moet o.a. vir sulke mense bid eerder as om kwaad te raak, of in opstand te kom teen hulle. Ons moet vriendelik wees teenoor hulle – maar opreg vriendelik; ’n voorbeeld en getuienis wees t.o.v. vergifnis en eerbied vir andere. Ons moet die lewe nie vir die ander persoon moeilik maak nie. Ons moet omgee vir ons vervolgers en onsself in sommige gevalle selfs in sy skoene plaas en begrip probeer hê vir sy optrede, ens. Soos Paulus dit stel in Rom.12:20 ~  As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop.
o    Die tweede stap wat die skrywer voorstel, sluit baie nou aan by die eerste en dit is dat ons ten tye van dissipline ons moet beywer om ’n heilige lewe te lei. Hierdie “heilige lewe” waarop ons moet fokus en wat ons moet stimuleer sluit ons gedagtes; ons spreke; ons optrede; ons motiewe; ons gesindheid; ons gewoontes; ons voorliefdes en prioriteite; ons vertroue; ons opinie; ons liefde en haat; ens. in. Ek wil byvoeg, ons moet juis tydens tye van dissiplinering ekstra aandag gee – nie dat ons ander tye maar kan verslap nie, maar nou is dit juis belangrik om op ons heiligmaking te fokus.

·           Wees waaksaam (vv.15-17). Laastens is dit belangrik dat ons waaksaam sal wees en ek dink dat vv.15-17 dit baie mooi opsom wanneer dit sê dat ons gedurende hierdie tyd nog meer aandag sal skenk aan ons afhanklikheid van God en Sy genade; dat ons tydens hierdie opvoedingproses nie bitter raak en andere ook in die proses opsweep en hulle ook uiteindelik tot bitterheid lei nie.

            Laastens waarsku die Hebreërskrywer sy lesers (ons), deur na Esau (vv.16b-17) te verwys wat uiteindelik ’n seën van God sou ontvang, maar God en die seën was nie vir hom belangrik nie; hy was meer ingestel op sy eie begeertes en verwagtings – sy eie wil was dus die prioriteit en nie wat God se wil vir hom was nie – later het hy besef wat hy gedoen het, maar dit was te laat – hy het die spreekwoordelike “point of no return” oorskry – selfs huil en pleit en spyt en belydenis gaan nie meer help nie – dit was te laat – en dit is die waarskuwing wat die skrywer aan ons wil rig – doen (en moenie uitstel nie) – doen wat Dawid gedoen het en wat ons vroeër gesien het – Dawid het nie onder sy beproewing gaan lê nie – hy het sy sonde erken; hy het om vergifnis gevra en hy het God gevra om hom te herstel en dit is presies wat die Here gedoen het, soveel so dat Hy Dawid “’n man so na my hart” noem en dit is wat God met jou ook wil doen!

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 16 Maart 2014