Sunday, February 23, 2014

Die Boodskap van Daniël - 13 (“Hoor, Here! Vergewe, Here! Ter wille van Uself”)

1.     INLEIDING:
       Ek wil graag weer soos die vorige keer, vanoggend se gedeelte uit Daniël 9, paragraaf vir paragraaf behandel en gaan dus nie die hele Skrifgedeelte nou met een slag deurlees nie – kom ons kyk dan daarna vanaf vers een

2.     AGTERGROND (vv.1-2):
       Daniël skryf in hierdie gedeelte ’n gebed neer wat hy tot God bid en hy begin deur vir ons te noem wanneer hy hierdie gebed geskryf het, nl. ...in die eerste regeringsjaar van Darius seun van Ahasveros (v.1). Dit beteken dat dit in ongeveer 538 v.C. geskryf is en dit sou dus in dieselfde jaar gewees het as wat Belsasar die gesig van die skrif teen die muur gesien het. Dit was dan ook dieselfde nag as wat koning Darius van die Mede en Perse, Babilon binnegeval en Belsasar gedood het.

       Wat verder merkwaardig is van hierdie Skrifgedeelte, is dat Daniël self die rede aan ons verskaf waarom hy hierdie gebed gebid het – vers 2 ~ In sy eerste regeringsjaar het ek, Daniël, uit die Skrifte vasgestel dat volgens die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het, Jerusalem sewentig volle jare ’n puinhoop sou wees. Daniël het geweet dat Jeremia ’n profeet van God was en dat dit wat Jeremia geskryf het, hy o.l.v. die Heilige Gees geskryf het.

3.     ISRAEL SE BALLINGSKAP (v.3):
       Daniël lees Jeremia se profesie t.o.v. Israel se ballingskap na Babilon en hy sien dat God aan Jeremia geopenbaar het, dat hierdie ballingskap, sewentig jaar sou duur. Daniël was in ongeveer 606 v.C. weggevoer na Babilon en daarom sou sy volk rondom 536 v.C. weer herstel kon word as volk rondom Jerusalem. Hierdie belofte van die Here is opgeteken in Jer.29:10-14 en dit noop Daniël om te bid – vers 3 ~ Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking: ek het gevas, rouklere aangetrek en as oor my kop gegooi. Hy bid, want hy het besef dat sy volk se ballingskap nog net ongeveer 2 jaar sou duur voor hulle sal terugkeer na die Beloofde Land en daarom kom pleit hy by die Here in vv.3-19.

       In hierdie gedeelte vind ons nie net Daniël se gebed opgeteken nie, maar hierdie is ook ’n pragtige voorbeeld van hoe ons as gelowiges voor die Here moet pleit vir die vervulling van sy beloftes.  

       Daniël het geweet dat sy volk weggevoer was en onderdruk is deur die Babiloniërs oor hul sonde en dat daardie straf net sewentig jaar sou duur. Daniël bid egter nie tot de Here, omdat hy twyfel of Jeremia se profesie in vervulling sou gaan nie – nee, hy bid juis omdat hy vas glo dat daardie profesie wel in vervulling sou gaan. Net so moet ons ook glo dat God Sy beloftes, soos vervat in die Woord, sal volbring – so belowe die Here bv. in Fil.1:6 dat Hy ...die goeie werk wat Hy in ons begin het, enduit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.
      
       Omdat Hy dit beloof, kan ons met groot vrymoedigheid en in geloof bid dat Hy dit volledig en optimaal sal doen ten spyte van ons beproewing en tekortkominge, deur bv. my hoogmoed of my ongeloof te verwyder en my te wys op my sonde en swakhede, sodat ek my daarvan kan bekeer en derhalwe saam kan werk met Hom, ...die Begin en Voleinder van die geloof (Hebr.12:2). Die vraag is of ons so sal kan bid? Paulus gee vir ons die antwoord in Rom.8:26-27 ~ Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Hierdie is ’n wonderlike gerusstelling, want dit maak nie saak hoe krom en skeef en selfs gebrekkig ons gebed ook al mag voorkom nie, die Heilige Gees “verpak ons gebed op die regte wyse”, sodat dit volgens God se wil gebid word en daarom kan ons die gerusstelling hê dat Sy antwoord en reaksie op my gebed die beste vir my is. 

       Ons sien ook hier in v.3 wat Daniël se gesindheid was toe hy voor die Here in gebed gekom het – hy het hom ... na die Here God gewend in gebed en smeking: (hy) het gevas, rouklere aangetrek en as oor (sy) kop gegooi. Natuurlik gaan dit nie daaroor dit ons in ons situasie nou as op ons koppe moet begin gooi nie – nee natuurlik nie, maar ons moet dieselfde gesindheid van ontferming; van nederigheid; van eer en verheerliking, ens. teenoor God openbaar wanneer ons voor Hom in gebed kom – dit gaan oor ’n hartsgesindheid en dus nie oor die uiterlike nie.

       Joël sê presies dieselfde vir ons in Joël 2:12-13 ~ Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! 13Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep. Dit is wat ons gesindheid moet wees – harte wat geskeur is. Die Hebreeus wat hier vertaal is, dui op ’n algehele verandering van gesindheid – om gebroke van hart te wees, soos wat Dawid in Ps.51:19 dit stel ~ Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God, of Deut.10:16 ~ Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie, of Jer.4:4 ~ Hulle dade maak dit vir hulle onmoontlik om na hulle God toe terug te keer, want ’n hoergees het by hulle posgevat en hulle is nie meer aan die Here toegewy nie. Skeur julle harteverootmoedig (Engels - “humble”) jou dus (’n gebroke gees - OAV) en wy jou toe aan God en bekeer jou deur terug te keer na Hom. Dit is wat Daniël se gesindheid was toe hy hierdie gebed in Dan.9 gebid het en dit is die gesindheid waarmee ons na die Here moet kom.

       Kom ons kyk egter in meer besonderheid na Daniël se gebed wat dien as voorbeeld vir ons gebede en daarvoor moet ons eers na vv.17-18 kyk:

4.     DIE GRONDSLAG VIR GEBED:
Wat moet die grondslag, of die uitgangspunt vir ons gebed wees? Ter wille van Uself, hoor tog my gebed en smeking, en verskyn tog tot redding van u verwoeste heiligdom. 18Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is... (vv.17-18a).

       Dit gaan altyd in die eerste en laaste plek oor God se eer ~ ...ter wille van Uself! Daniël sê ten minste twee dinge deur hierdie openingsin – eerstens sê hy vir die Here dat die Here deur sy gebed verheerlik moet word, maar primêr sê hy dat wat ook al die uitkoms van die gebed – die uitkoms moet gaan oor God en Hom alleen. Dit is om presies hierdie selfde rede dat die Here Jesus kort voor Sy kruisiging in die Tuin van Getsemané,  gebid het ~ ...moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil (Matt.26:39).

       Daar is egter ’n tweede uitgangspunt vir hierdie gebed en dit is om erkenning aan God te gee vir Sy genade ~ Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid (v.18b). Die Hebreeuse woord wat hier vir “barmhartigheid” gebruik word, is רַחַם, רַחֲמִים [racham], wat reg in die Engels vertaal word met “genade” en selfs met “compassion” (natuurlik is “barmhartigheid dieselfde, maar eintlike ’n argaïese Afrikaanse woord).

       Wanneer Daniël dan bid, doen hy dit met die wete dat God se eer die prioriteit is en dat Hy daarmee saam tot God in gebed kan kom, omdat God ’n genadige Vader is.

5.     DIE INHOUD VAN GEBED:
       Daniël volg ’n baie interessante patroon in sy gebed – ’n patroon of volgorde wat nie vreemd vir ons behoort te wees nie Wanneer ons Sondag oggende as gemeente saam bid, moet ons ook so bid (daarom die skyfie op die dataprojektor); wanneer ons in ons binnekamer bid, behoort ons so te bid en soos ek gesê het, Daniël volg hierdie selfde patroon – eers aanbidding (v.4) en dan sondebelydenis (vv.5-11a); dan danksegging (vv.12-15) en laastens voorbidding/smeking, of te wel petisie (vv.16-19). 

·           Aanbidding (v.4):
       Kom ons kyk dan eerstens na “aanbidding” – vers 4 ~ Ek het tot die Here my God gebid en bely: “Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. Uit die staanspoor erken en bely Daniël wie en wat God is tot wie hy sy gebed rig - groot en ontsagwekkende God; ’n God wat Sy verbond met Daniël in stand hou, asook Sy trou bewys aan hom wat Daniël is.

       As die God wat Daniël aanbid – as die God wie ons aanbid, nie oor hierdie basiese eienskappe beskik nie, is dit puur verniet dat ons tot Hom bid, maar net soos Daniël weet en bely ons ook dat God wel die Here is wat groot en ontsagwekkend is.

       Wanneer ons na die woorde, “verbond” en “gebooie” in hierdie vers kyk, weet ons dat hy na God se Woord verwys en dan sal ons ook sien dat hy verder in sy gebed, kort-kort na die Woord op verskillende wyses verwys.

       Iets wat verder uitstaan in hierdie openingsvers van die gebed, is dat wanneer ’n mens na die oorspronklike teks kyk (Hebreeus), dan sien jy dat hierdie gebed nie deur Daniël in die eerste plek vir homself gebid word nie, maar dat hierdie gedeelte van die gebed in die meervoud geskryf is, m.a.w. Daniël bid dit ook namens die volk en hierdie meervoudsvorm waarin hy sy gebed begin, vorm die basis vir die res van die gebed – hy bid vir homself ja, maar hy bid ook vir en namens die res van sy volksgenote.

       Daniël rig sy gebed tot die Verbondsgod – die God wat Sy verbond met Sy volk in stand hou – beloftes wat God nie kan en sal verbreek nie, ten spyte van ’n weerbarstige volk wat juis weggevoer is in ballingskap oor hul ontrou aan God – straf op hul sonde dus, maar die volk het God steeds lief al is hulle ongehoorsaam, daarom dat Daniël sê ~ ... u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. Hierdie is dus ’n weerspieëling van ’n huweliksverhouding – die verbond is dus nie ’n kontrak nie, maar ’n verhouding, daarom dat die Here die volgende in Eseg.16:8 (OAV) vir Sy volk gesê het ~ En Ek het by jou verbygegaan en jou gesien, en kyk, jou tyd was die tyd van liefde. Toe het Ek my vleuel oor jou uitgesprei en jou naaktheid toegedek. Ja, Ek het vir jou gesweer en met jou ’n verbond aangegaan, spreek die Here Here, en jy het myne geword.

       Hierdie liefde wat dus hier van gepraat word, het hoegenaamd niks te doen met gevoelens nie, maar dit gaan daaroor dat God se opdragte gehoorsaam word – dit is waarom Jesus self in Joh.14:23 gesê het ~ As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Dit is dus baie duidelik dat liefde sonder gehoorsaamheid, blote sentimentaliteit is.

       Die ironie van hierdie openings gedeelte van sy gebed, is dat hy die getrouheid van God besing, maar dit staan in skrille kontras met die afvalligheid van sy volksgenote en daarom kan Daniël nie anders as om die sonde van sy mede-Israeliete te bely en in die bres te tree vir sy volk by die Verbondsgod, Jahweh.

·           Sondebelydenis (vv.5-11):
       Kom ons kyk dan na Daniël se sondebelydenis in vv.5-11 ~ Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie. 6Ons het nie geluister na u dienaars die profete nie, wat in u Naam ons konings, ons leiers, ons familiehoofde en die hele bevolking aangespreek het. 7U is regverdig, Here. Dit is onsself wat hierdie ellende oor ons gebring het, oor die mense van Juda, oor die inwoners van Jerusalem, oor die hele Israel, dié wat naby is sowel as dié wat ver is, ver in al die lande waarheen U hulle verstrooi het oor hulle ontrou teenoor U. 8Here, hierdie ellende het oor ons, oor ons konings, oor ons leiers en oor ons familiehoofde gekom omdat ons teen U gesondig het. 9Maar U, Here ons God, bewys barmhartigheid en U vergewe, al was ons opstandig teen U. 10“Ons was nie aan U, Here ons God, gehoorsaam nie, ons het nie volgens u wil gelewe nie, u wil wat U deur u dienaars, die profete, aan ons gegee het. 11Die hele Israel het u wil oortree; hulle het afvallig geword en nie na U geluister nie. Daarom het U die vloek wat met ’n eed bevestig is en wat opgeteken is in die wet van Moses, die dienaar van God, oor ons laat kom. Dit is omdat ons teen U gesondig het.

       Daniël erken en bely teenoor die Here dat hulle as volk ontrou en ongehoorsaam was en dat hulle nie na die profete geluister het nie (v.6).

       Hoor net hoe stel Daniël die kontras tussen God en die Israeliete:
-       God is groot en ontsagwekkende (v.4);
-       God is getrou teenoor diegene wie Hom lief het (v.4);
-       God is regverdig (v.7, 14);
-       God is die Een wat die volk uit Egipte gelei het  (v.15);
-       God is ’n handhawer van Sy verbond (v.4);
-       God is barmhartig en vergewensgesind (v.9).

-       Die volk is ’n boos en rebelse volk (v.5-6);
-       Die volk is ongehoorsaam en tree verkeerd op (v.10-11);
-       Die volk het weggedraai van God se opdragte en wette (v.11).

       As ’n mens kyk na die ooreenkoms tussen God en die volk by Sinai toe die verbond aangegaan is, dan kan dit nie anders dat God die volk straf met ballingskap, swaarkry en beproewing nie, want dit is wat belowe was indien die volk ongehoorsaam is en omdat God getrou is aan Sy eie woord, is die volk inderdaad gestraf (Deut.28).

       Maar, daar was ook ’n belofte by Sinai van ’n genadige nuwe begin vir Israel na hul sonde, op voorwaarde dat hulle, hul sonde sal bely en hulle daarvan sal bekeer (Deut.30:1-3). Dit is dan juis hierdie belofte van God by Sinai wat Daniël noop om vergifnis vir die volk se sonde te soek by die Here en hy herinner die Here in v.9 aan Sy belofte dat Hy genadig sal wees.

       Daniël erken teenoor die Here dat die hele volk gesondig het – hy bely dus hul sonde en dit is presies ook wat Jesus vir Sy dissipels in die “Onse Vader” geleer het hoe om te bid toe Hy gesê het ~ So moet julle bid (Matt.6:9)... en dan gaan Hy in v.12 verder ~ ...vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.  Let egter ook op dat Daniël die volk se sonde by die naam noem (o.a. vv.5 en 6) – Ons het gesondig, ons het oortree... ...Ons het nie geluister na U dienaars, die profete nie... – dit en dit is ook wat ons moet doen.

·           Danksegging (vv.12-15):
Daniël kom in vv.12-15 by die “dankseggings gedeelte” van sy gebed ~ U het die woorde wat U in verband met ons en ons regeerders uitgespreek het, in vervulling laat gaan en hierdie groot onheil oor ons gebring. Daar het nog nooit op die aarde so iets gebeur soos in Jerusalem nie. 13Al hierdie onheil het oor ons gekom net soos dit geskryf staan in die wet van Moses; tog het ons, Here ons God, nie ons saak met U reggemaak deur ons van ons sonde te bekeer en in te sien dat U doen wat U sê nie. 14Daarom het U ons hierdie onheil nie gespaar nie maar dit oor ons gebring. Here ons God, U is regverdig in alles wat U doen, ons het nie na U geluister nie. 15“Here ons God, U het u volk deur u groot mag uit Egipte gelei en daardeur u Naam groot gemaak soos dit vandag nog is. Maar ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen.    

       Ons kan baie maklik hierdie verse sien as deel van die belydenis, maar tog besing Daniël die Here deur Hom te wys op Sy beloftes en dat Hy getrou daaraan bly – Hy is ’n getroue God – getrou aan Sy beloftes, wat straf as ons oortree ja, maar Hy is ook getrou aan Sy belofte van genade en daarom betoon Hy ook weer en weer genade! Ons sien hierdie hele beginsel van ’n God wat sonde móét straf, maar wat ook genade betoon, baie mooi uitgestippel in Rom.3:25-26 ~ Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God – om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. Hy straf ons sonde, máár deur dit op Jesus te plaas en Hy bewys genade deur ons sonde, in en deur Christus te vergewe!

·           Petisie (vv.16-19):
       Daniël kom nou aan die einde van sy gebed en hy rig sy smeking tot God en let op, hy bid glad nie in hierdie gedeelte van sy gebed vir homself en vir sy eie behoeftes nie – steeds bid hy “weg van homself” – hy bid vir andere; hy bid vir die volk (vv.16-19) ~ Here, U het reddingsdade gedoen, neem tog u toorn en u woede weg van Jerusalem, u stad, u heilige berg, want deur ons sonde en deur die oortredinge van ons voorvaders spot almal rondom ons nou met Jerusalem en met u volk. 17Ter wille van Uself, hoor tog my gebed en smeking, en verskyn tog tot redding van u verwoeste heiligdom. 18Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is. Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid. 19Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. U Naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep.”  

       Daniël vra dat die Here hierdie straf en beproewing van die volk moet wegneem, t.w.v. God se eer en nie in die eerste plek t.w.v. die verligting van die volk se straf nie – hy sê in v.17 ~ ...ter wille van Uself en hy herhaal dit weer in v.19 – sy gebed is, selfs as dit kom by die laaste gedeelte van sy gebed – die “petisie-gedeelte”, tot eer van God en t.w.v. God se eer en dat Sy “attribuut” van genade vertoon sal word, vra hy dat die Here die volk sal verlos. By implikasie sê Daniël dus, dat hoe langer die volk in ballingskap bly, hoe meer oneer sal teenoor God betoon word.

       God se “reputasie” is dus hier op die spel – Sy reputasie t.o.v. Sy genade en heiligheid en liefde en empatie en vergifnis, trouens Sy Naam is hier op die spel en Daniël pleit dat die Here die volk moet verlos, ter wille daarvan dat God se Naam nie verder in gedrang sal kom nie. Daarteenoor vra Daniël om vergifnis en verlossing sodat al hierdie eienskappe wat ek so pas genoem het, juis ten toon gestel kan word en volk en vyand God kan erken en eer daarvoor betoon.

6.     AFSLUITING:
Daniël se gebed moet vir ons as voorbeeld dien van hoe ons ook behoort te bid, beide individueel, maar ook korporatief. Ons moet saamstem met die Here dat ons oortree en gesondig het; ons moet ons oortredings by die naam noem. Ons moet erken dat ons weggedwaal het van Sy Woord en dat ons net soos die Israeliete, hardnekkig is. Ons moet egter ook pleit vir Sy vergifnis en genade, deur op Sy beloftes te staan en Hom te “herinner” aan Sy attribute – eienskappe soos Sy liefde en genade en barmhartigheid en Sy belofte van vergifnis in Christus. Ons moet bid om vergifnis en genade, deur Sy verbondsbeloftes en verbondsverhouding met ons, aan te haal; om Hom te vra om ons te vergewe, sodat ons tot Sy eer kan lewe.

Hou egter weereens in gedagte dat Daniël in die eerste plek vir andere (sy volksgenote) gebid het en dat God daardie gebed beantwoord het – ons moet daarom nie nalaat om vir andere te bid nie, veral ook as hulle in sonde leef.


Ons moet ook met dieselfde gesindheid as Daniël bid – met ’n gesindheid van ontferming; van nederigheid; van eer en verheerliking (v.3) en hou God se eer altyd in gedagte wanneer jy bid ~ Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself (v.19a).

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 23 Februarie 2014

Sunday, February 16, 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 28 (“Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan”)

U kan ook na 'n oudio opname van hierdie boodskap luister deur op die volgende skakel te kliek: 
http://kobus.podomatic.com/entry/2014-02-18T23_37_06-08_00

1.     SKIRFLESING:
Hebr.11: 30-40 ~ Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het. 31Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie. 32En wat moet ek nog meer sê? Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon, Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Samuel en die profete. 33Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, 34gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag. 35Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot ’n beter lewe deelagtig word. 36Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. 37Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. 38Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe. 39En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, 40omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.

2.     INLEIDING:
       Nadat die Israeliete deur God by die Rooi See gered is van die naderende Egiptiese weermag, het daar veertig lang en moeilike jare op die volk gewag – jare van oorwinning; jare van wonderweke en bonatuurlike voorsiening (wolkkolom, manna, ens.); die ontvangs van die Wet, die bou van die Tabernakel en die Verbondsark.

       Ongelukkig was daar egter ook tye van swaarkry, ongeloof en vertwyfeling; rebellie en growwe sonde en selfs afgodsaanbidding, soveel so dat almal wat Egipte verlaat het, in die woestyn omgekom het (Hebr.3:18-19), behalwe Joshua en Kaleb (Num.14:28-30) – selfs Moses het in die woestyn gesterf – waarom? In Num.20:8 het God die volgende vir Moses gesê ~ Vat Aäron se kierie en roep jy en jou broer Aäron die volk bymekaar. Julle moet dan in hulle teenwoordigheid met die rots praat, en daar sal water uitkom. Jy moet vir hulle water uit die rots laat kom, sodat die volk en hulle vee kan drink. Wat was Moses se reaksie? Num.20:9-11 ~ Moses het toe die kierie wat in die tabernakel was, gevat soos die Here hom beveel het 10en hy en Aäron het die volk by die rots laat bymekaarkom. Moses het vir hulle gesê: “Luister, julle wat julle teen die Here verset! Luister! Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?” 11Toe lig Moses sy hand op en hy slaan die rots twee keer met die kierie. Daar het baie water uitgekom, en die volk en hulle vee het gedrink. God was ontevrede (die ou argaïese Afrikaanse woord stel dit dalk nog duideliker “– God was mishaag...”) met Moses se optrede en ongehoorsaamheid en hoor wat sê Hy toe vir Moses én Aäron in v.12 ~ Omdat julle My nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan hulle gee nie. Wat het Moses verkeerd gedoen om so erg deur God gestraf te word?
·           Moses het die direkte opdrag van God verontagsaam om met die rots “te praat” – Moses slaan die rots met sy kierie.
·           Moses het die eer vir homself geneem en nie God die eer gegee vir die wonderwerk nie.
·           Moses as leier, het hierdie sonde in die openbaar begaan en dit kon nie ongestraf bly nie.
·           As ons na 1 Kor.10:4 kyk, dan wil dit lyk asof God hierdie wonderwerk in die Sinwoestyn by Kades, van ’n watergewende rots, wou gebruik as simbool van Christus ~ ...en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus.

       Dit is hoe ernstig God oor sonde voel.

3.     JOSUA SE GELOOF (v.30):
Aan die einde van die veertig jaar van rondswerf deur die woestyn was Josua die nuwe leier van ’n nuwe geslag Israeliete en hy lei die “nuwe volk” van God die beloofde land binne ~ Na die dood van Moses, die dienaar van die Here, het die Here vir Josua, seun van Nun en assistent van Moses, gesê: 2“Moses my dienaar is dood. Maak jy nou gereed en trek deur die Jordaanrivier, jy en hierdie hele volk. Gaan na die land toe wat Ek aan hulle, die Israeliete, gee (Jos.1:1-2).

       Al word Josua nie in die openingsverse van ons Skriflesing van vandag genoem nie, is dit duidelik uit die konteks, dat hý die geloofsreus was wat die Israeliete geïnspireer het en het God se woorde aan hom, waarskynlik voortdurend in sy ore weerklink ~  ...Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan (Jos.1:9).

       Nadat Josua dan die volk deur die Jordaanrivier, die Beloofde Land binnelei, kom hulle gou agter dat die binnegaan van die land wat God aan hulle belowe het en wat hulle nou uiteindelik bereik het, nie sommer net “plain sailing” is nie, dit sou nog gepaard gaan met heelparty “geloofstoetse”.

       Wanneer ons dan v.30 van ons Skriflesing in konteks lees en Skrif, met Skrif vergelyk, sien ons die volledige verhaal rondom Jerigo opgeteken in Jos.6:1-20. Hierdie stad het vierkantig in die pad van die Israeliete gestaan voor hulle hulself in die Beloofde Land kon vestig, maar Jerigo was geweldig versterk en menslik gesproke ondeurdringbaar en dit het dieselfde geloof geverg wat Noag nodig gehad het om die Ark, te midde van ’n 400 jaar lange gespot en gehoon te bou en binne te gaan. Josua het egter God se opdrag en belofte aan hom onthou en hy het die menslik gesproke, onmoontlike in geloof aangepak en sy volksgenote gemotiveer om saam met hom te glo en die stad se mure het geval! Geen wonder dat Dawid, duidelik onder die indruk van sy voorouer Josua se geloof, die volgende in Ps.18:30 geskryf het nie ~ Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.

       God het vir Josua en die volk gesê om nie die wapen teen Jerigo op te neem nie, maar net om, om die stad te loop, terwyl die priesters op hul trompette blaas – as dit nie ’n resep vir ongeloof WAS nie, dan weet ek nie wat is nie, maar dit was nie vir Josua en sy volksgenote nie. Nee, hulle het so onwrikbaar in God geglo dat hulle selfs hierdie menslik absurde opdrag, tot in die fynste besonderheid na gevolg het – en die stad is sonder slag of stoot geannekseer!

       Die Here het deur hierdie gebeure vir die Israeliete gewys dat die menslik onmoontlike nie vir hulle God te veel of te moeilik is nie en dat hulle in elke omstandigheid op Hom kon vertrou en dat Hy die gevegte vir hulle sou wen indien hulle in Hom glo en op Hom vertrou – die wêreldse wapens is nie die wapens wat God gebruik in die onsigbare geestelike oorlog wat rondom ons woed en waardeur Hy ons dra en beskerm nie.

       Iets wat ons ook in gedagte moet hou, is die feit dat die Israeliete sewe dae moes wag voor die stad se mure geval het – hulle was nie haastig nie – hulle het op God gewag en tussen die moontlike vrees en beproewing en afwagting, in geloof vasgehou aan sy belofte ~  ...Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

4.     RAGAB SE GELOOF (v.31):
Ons kan nog tot ’n groot mate Josua en die Israeliete se geloof verstaan toe hulle te staan gekom het voor Jerigo se mure, maar Ragab wat nie ’n Israeliet was nie en boweal nog in wêreldse oë, ’n ongure karakter was, is totaal ’n ander saak. Ons lees in v.31 ~ Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie.

       Hier is ’n paar baie interessante dinge rondom Ragab waarvan ons kennis moet neem:
·           V.31 sê dat sy die verkenners vriendelik ontvang het, omdat sy geglo het – sy het dus al geglo nog voor sy kennis gemaak het met die gelowige volk van God!
·           Sy was ’n prostituut!
·           Sy maak deel uit van die heilige lyn wat na Christus lei ~ Salmon was die vader van Boas by Ragab, Boas van Obed by Rut, Obed van Isai; 6Isai was die vader van koning Dawid (Matt.1:5-6)! As ek reg tel was Dawid dus die vierde geslag uit Ragab – Ragab was Dawid se groot-oumagrootjie – en ons weet dat Jesus, uit die nageslag van Dawid gebore is – wat ’n merkwaardige verhaal!

       Kom ons kyk dan eerstens na die feit dat Ragab gered was nog voor die spioene by haar aangekom het. Waar sou sy die Evangelie gehoor het?

       Wat vir ons belangrik is, is om in gedagte te hou dat Ragab verlore was voor haar wedergeboorte – sy was ’n sondaar en die feit dat sy voorheen ’n “vrou van die nag” (’n prostituut – die Grieks vir prostituut is ’n interessante woord –          πόρνη = pornē – ons pornografie) is veelseggend, omdat dit vir ons die feit beklemtoon dat geen sondaar té sondig kan wees om gered te word nie – selfs prostitute kan gered word!

       Hoe het sy tot redding gekom? Ons weet nie regtig nie, want die Woord spreek hom nie direk daaroor uit nie, maar ek glo die antwoord lê vir ons opgeteken in Jos.2:8-11 ~ Voor die verkenners aan die slaap geraak het, is die vrou na hulle toe op die dak 9en het sy vir hulle gesê: “Ek weet die Here gee vir julle die land; ons is skrikbevange vir julle, al die inwoners van die land bewe van vrees vir julle. 10Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het met julle trek uit Egipte, en ook wat julle met die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan, met Sihon en Og, gedoen het, hoe julle hulle voor die voet uitgeroei het. 11Ons het dit gehoor en ons harte het van angs verstyf. Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde. Hier spreek Ragab eerstens haar geloof in God openlik uit – weereens waar kom hierdie geloof vandaan? Die antwoord lê in v.10 ~ ... 10Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het.... God se wonderwerkende genade in die lewe van die Israeliete het haar geestes oë oopgemaak. ’n Storie wat waarskynlik deur ’n spul afgodsdienaars uit vrees in die strate van Jerigo versprei is, nl. dat die nadertrekkende Israeliete se God wonderweke doen soos wat hulle gode nie kan doen nie, het hierdie verlore siel met die naam Ragab aangespreek en.... en dit is belangrik en dit is wat ek glo waar haar redding vandaan gekom het – God het haar soewerein gered – God red haar deur die negatiewe en vreesbevange getuienis van ’n spul afgodsdienaars. Dit laat ’n mens dink aan Jesus se woorde aan die Fariseërs toe dié vir Jesus gevra het om Sy dissipels stil te maak en Hy hulle geantwoord het ~ Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep (Luk.19:40). Die tragiek van hierdie getuienis van Ragab se redding is dat niemand anders in daardie ganse stad gered is nie, behalwe waarskynlik haar familie wat saam met haar deur die Israeliete gespaar is (Jos.6:23).

       Hoe is sy gered? God het haar soewerein gered – Hy die Gewer van redding; Hy die Gewer van geloof!

       Ragab het soos Abraham en Noag en Moses voor haar, die Onsienlike God gesien en erken en geglo en dit het haar ganse lewe verander, soveel so dat sy, soos reeds gemeld, ingesluit word in Christus se heilige lyn (Matt.1:5) – God is nie skaam om haar deel van Christus se voorgeslag te maak nie. Geloof is nie uitsluitlik vir sekere mense gereserveer nie – dit word ook aan sondaars geskenk, trouens nét aan sondaars – laat Ragab derhalwe altyd vir ons ’n voorbeeld daarvan wees dat God ook mense red wat dalk “groter sondaars” as ek en jy is.

       Aan die anderkant moet dit ook vir ons ’n motivering wees om die Evangelie tydig en ontydig (ongeag die sg. moeilike tye waarin ons leef – en dalk juis nou!) aan almal te verkondig – hoe onmoontlik dit dalk ook al mag lyk dat ’n kroeguitsmyter; of skatryk maatskappy direkteur; of tiener; of tradisievaste kerkganger – ongeag iemand se status of velkleur of taal, of ouderdom –gered kan word – as ek en jy en Ragab gered kon word – ook hulle! Jesus het nie verniet in die tempel vir die priesters en familiehoofde gesê
 ~ Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in. 32Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie (Matt.21:31-32).

5.     Die Rigters, Profete en Konings (vv.32-34):
       Die Hebreërskrywer vermeld nou ses ander uitstaande geloofshelde – sommige bekend en ander minder bekend – sommige Rigters en die ander Profete. Die skrywer brei nie veel uit oor elkeen nie, behalwe dat hulle koninkryke verower het; die reg van God gehandhaaf het; God se beloftes in besit geneem het; leeus se bekke toegestop, ens.  – wie was hierdie manne egter? Kom ons kyk net kortliks na elkeen:
·           Gideon word eerste genoem (lw. hier is geen rede vir die volgorde van die name nie en dit is ook nie in chronologiese volgorde vermeld nie). Gideon was ’n Rigter (Rigters was die eerste regeerders nadat Josua die volk in die Beloofde Land ingelei het en daar was 12 Rigters in totaal - http://www.agapebiblestudy.com/charts/Chart%20of%20Judges%20of%20Israel.htm) en militêre leier. Dit was hy wat 32,000 weerbare manne byeen gebring het om teen die Mideaniete en  Amalekiete te veg, maar in opdrag van God het hy eers sy manskappe verminder tot 10,000 en toe tot 300 en hierdie 300 was gekies op grond van hoe hulle water gedrink het (Rigt.7:2-7). Ons lees ook dat die vyand so baie soos sprinkane was (7:12). Gideon se manskappe was net gewapen met ’n ramshoring en ’n leë erdekruik met ’n fakkel daarbinne (7:16)!

       Ek dink almal sal saamstem dat net ’n gek duisende van die vyand met net 300 man sou aanval, maar Gideon het ’n belofte van God gehad, want in 7:7 het God vir hom gesê ~ Ek sal julle red met die drie honderd man wat die water opgeskep het. Ek sal vir Midian in jou mag oorgee. Wat is die les wat ons hieruit moet leer? Net dit: Rom.10:17 ~ Die geloof kom dus deur die prediking wat ’n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus. Geloof kom dus deur te luister na die Woord én dit te doen.

       Wat interessant is, is dat ons nie moet dink dat manne wat in geloof en onder sulke omstandighede optree, noodwendig sonder vrees uitstap nie, want ons lees in v.10 dat God vir Gideon gesê het ~ ... Maar as jy bang is om hulle aan te val, moet jy en jou slaaf Pura eers in hulle kamp ingaan... en Gideon hét vooraf, saam met sy slaaf in die kamp ingegaan – ten spyte van sy geloof, was daar tog ook ’n mate van vrees by hom teenwoordig – hy was bang, maar hy het nogtans vas geglo en opgetree.
·           Barak word tweede genoem, hoewel hy voor Gideon regeer het. Wie was hy? Hy is een van die minder bekende Bybelfigure en ons kry net met hom in Rigters 4-5 te doen en natuurlik hier in Hebr.12:32. Vier dinge staan uit in sy lewe – hy kry opdrag deur die profetes Debora,  om die Kanaäniete wat o.a. 900 yster strydwaens gehad het, met net 10,000 man aan te val en hierdie manne was net uit twee stamme geneem – dié van Naftali en  Sebulon. Die rede hiervoor – sodat God die eer aan die einde van die geveg kan kry en geen mens nie.  

       Tweedens, God het vooraf vir Barak in Rigters 4:7 gesê ~ Ek sal vir Sisera, die hoof van Jabin se leër, met sy strydwaens en sy leër na jou toe laat optrek tot by Kisonspruit en Ek sal hulle in jou mag oorgee

       Derdens was hy net so skrikkerig soos Gideon en het hy iemand se ondersteuning nodig gehad in hierdie geloofstap van hom, want in v.8 sê hy vir Debora ~ As u saamgaan, sal ek optrek, maar as u nie saamgaan nie, gaan ek nie.

       Laastens, Barak behaal die oorwinning, soos God hom belowe het, maar hoor wat gebeur in v.21 – Sisera die hoof van die leer het gevlug en vind skuiling in die tent van Jael die vrou van Geber en dan lees ons ~  ...Jael die vrou van Geber het toe ’n tentpen gevat en met ’n hamer in haar hand is sy suutjies na Sisera toe. Hy was moeg en het vas geslaap. Toe slaan sy die tentpen deur die slaap van sy kop, sodat sy hom in die grond vasslaan, en so is hy dood. Die aanvoerder van die vyand val aan die hand van ’n vrou – waarom? Gewoonlik het die aanvoerder van die kant wat die geveg wen, die verloorders se aanvoerder met die swaard dood gemaak, maar nie hier nie – waarom? Sodat Barak nie die eer van die oorwinning kon kry nie, maar God en God alleen.
·           Na Barak vind ons Simson. Ons ken almal Simson se verhaal. Simson het oor geweldige krag beskik en hy het elke keer op God vertrou vir sy krag wanneer hy dit nodig gehad het – ons sien dit bv. in Rigters16 toe Simson se sewe haarlokke afgesny is en sy oë uitgesteek is en hy as gevangene van die Filistyne na die tempel van die afgod Dagon gebring is om hulle te vermaak, maar nog voor dit trek hy die tempelpilare om, sodat almal in die tempel (hy natuurlik ook), in die proses sterf. Net voor hy die pilare egter omtrek, bid hy tot die Here en maak hy sy afhanklikheid van God bekend, deur te sê ~ Here my God, dink tog aan my! Maak my tog net hierdie een keer sterk, o God, dat ek my met een daad op die Filistyne kan wreek oor my twee oë! (Rigters 16:28).
·           Jefta is die laaste Rigter wat vermeld word. Hy maak ’n dwaas belofte in Rigters 11:30-31 ~ As U die Ammoniete vandag heeltemal oorgee in my mag, 31sal dié een wat my uit my huis uit tegemoet kom wanneer ek behoue terugkom van die Ammoniete af, aan die Here behoort: ek sal hom as brandoffer offer – hy wen en wie kom eerste na hom toe ná die oorwinning? Sy enigste kind en dogter! Hy hou egter deurentyd aan God vas en vertrou Hom in alles en glo dat sy krag van die Here kom (Rigters 11:29,32). Wat kan ons o.a. leer uit Jefta se lewe? Selfs geloofsreuse maak foute en kan onsinnige goed, selfs teenoor die Here, kwytraak – O, ons dien ’n genadige God!
·            Van die 20 konings wat Juda gehad het en die 20 wat Israel gehad het, word Dawid hier in Hebreërs uitgesonder as geloofsheld (http://www.gotquestions.org/kings-Israel-Judah.html en
http://ldolphin.org/kings.html). Ons weet dat Dawid ’n uitstaande man was, soveel so dat die Here van hom gesê het dat hy ’n man na God se hart is (Hand.13:22). Ten spyte van sy sonde (owerspel; moord) het hy van ’n jong ouderdom af, God vertrou toe hy bv. as skaapherder, leeus dood gemaak het en vir Goliat. Die konfrontasie met Goliat staan waarskynlik uit as dié geleentheid waar Dawid sy geloof in Sy God die beste gedemonstreer het, want nie een van sy volksgenote – nie eers tesame nie, het kans gesien vir Goliat nie, maar hierdie klein “snuiter” het in geloof uitgestap en Goliat “seun-alleen” dood gemaak. Net voor hy Goliat doodmaak, sê Dawid vir hom – en daarmee verklaar hy sy vaste vertroue en geloof in God ~ Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld kan besef dat Israel ’n God het (1 Sam.17:46).
·           Samuel en die ander profete word laastens vir ons in v.32 genoem. Samuel het God gedien vandat hy ’n jong seun was (1 Sam.2:18), tot aan die einde van sy dae. Hy het oor genoeg geloof beskik om te midde van ’n goddelose volk wat hulself oorgegee het aan afgodery en immoraliteit, op te staan en vreesloos die Woord van God te spreek. Sy felste vyande en teenstanders was nie die Filistyne, of die Amoriete, of Ammoniete nie, maar sy eie mense en ons moet verstaan dat teenstand van jou eie mense meestal erger is as teenstand van jou vyande! Bevind ons onsself nie in presies dieselfde moreel-vervalle omgewing vandag nie – met “ons eie mense” wat deel uitmaak daarvan nie? Die vraag is egter of ons oor dieselfde geloof beskik as waaroor Samuel beskik het, nl. om steeds “teen die volk te profeteer”?

       Net soos die Hebreërskrywer sê dat hy nie tyd het om in te gaan op die ander 54 profete se geloof nie, is ons ook in die moeilikheid wat ons tyd aan betref, en wil ek net sê, dat hulle onwrikbaar geglo het en hulle nie laat stuit het deur enige iets of enige persoon nie (48 manlike- en 7 vroulike profete in totaal - http://www.thebookwurm.com/kingchrt.htm).

6.     VROUE EN ANDER GELOWIGES (vv.35-38):
       Ons lees in vv.35-38 van ons Skriflesing, van verskeie geloofshelde en –heldinne en wát het hulle gedoen? Hulle het met groot dapperheid; met moed en onverskrokkenheid opgetree, maar ook met volharding en die oog altyd gevestig op die Here. Wanneer hulle vervolging, bespotting en straf ervaar het en selfs gedood is vir hul geloof, het hulle steeds hul pyn en marteling en hartseer in geloof en in oorwinning weerstaan. In vv.33-28 som die skrywer in ’n paar sinnetjies, vir ons die wel en weë op van Israel se geloofshelde deur die eeue heen.

       Wanneer die lewe vir hierdie manne en vroue moeilik en selfs menslik gesproke, onmoontlik geraak het, het hulle steeds getrou gebly aan die Here en dit is in skrille kontras met die ontvangers van hierdie Hebreërbrief. Wat was hierdie mense se geheim? Hulle het oor geloof beskik. God was ’n realiteit vir hulle. Hulle was oortuig daarvan dat God se Woord die Waarheid is en daarom het hulle vas geglo dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Hulle het dus nooit, ooit opgegee nie. Hulle het nooit terug geskarrel na waar hul vantevore was nie. Hulle het altyd anders geleef as andere. Hulle het God nooit versaak nie!

7.            IETS BETERS (v.39-40):
       In die laaste twee verse van hoofstuk 11 vermeld die skrywer iets baie belangriks, nl. dat elkeen van hierdie geloofshelde waardig genoeg geag was sodat daar oor hul geloof gepraat kan word, maar nogtans het hulle nié die voorreg gesmaak om die vervulling van die beloftes wat sou volg op hul geloof in vervulling sien kom nie – nie een van hulle het ontvang en ervaar wat aan hulle belowe was nie – sommige het nie die Beloofde Land ervaar nie en nie een van hulle het die koms van die Messias beleef nie – wat hulle egter vas en seker geweet het, was dat God vir hulle iets beters in die oog gehad het – en wat Hy belowe, dié doen en gee Hy.

       Hierdie “iets beters” is egter aan ons geskenk met die koms; die kruisiging; die opstanding en die hemelvaart van Jesus Christus en hierdie Ou Testamentiese geloofshelde se redding kon eers afgehandel en vervolmaak word, met die koms van Christus en Sy soendood. Hulle geloof was dus gebaseer op wat Christus nog sou doen, terwyl ons redding gebaseer word op wat Christus reeds gedoen het – ons verkeer voorwaar in ’n baie meer bevoorregte posisie as die Ou Testamentiese gelowiges, maar hulle was geseën vir hul vasstaan in die geloof sonder om hulle Messias te kon ervaar - net soos ons geseën geloof geseën word vir ons geloof in die “reeds-gekome” Messias en daarom dat Johannes in Joh.20:29b sê ~ ...salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.

8.     AFSLUITING:
In teenstelling met Josua en Kaleb, het die ander Israeliete God se roeping om Egipte te verlaat nagevolg, maar nié die Beloofde Land binne gegaan nie. Baie Christene begaan hierdie selfde fout vandag nog. Hulle het Christus gevolg nadat Hy hulle uit die duisternis van verlorenheid en geestelike dood gelei het – hulle is uit “hulle Egipte”. Hulle het vergifnis vir hul sonde ontvang. Hulle beskik oor ’n nuwe lewe in Christus, maar hulle volg nie hul Meester die Beloofde Land binne nie – hulle ervaar m.a.w. nie deur geloof ’n oorvloedslewe nie (en ek praat nié hier van materiële oorvloed nie!). Hulle volg Christus nie in nederige afhanklikheid t.w.v. geestelike groei en ’n lewe van vrug nie – vir ’n lewe van geestelike oorwinning nie.

       Die lewe vir ons as gelowiges sal altyd gekenmerk word deur stryd en worsteling en selfs ’n gesukkel (natuurlik is en sal daar ook opwindende en wonderlike tye wees), maar ons moet altyd in gedagte hou dat God se weë, nie altyd ons weë is nie en solank as wat ons in hierdie lewe is, sal ons ook blootgestel word aan beproewing en swaarkry en allerlei soorte konflik, máár daarmee saam moet ons altyd onthou dat die enigste effektiewe wapen wat ons in hierdie stryd het, dieselfde wapen is waaroor die geloofshelde beskik het, nl. geloof – daar is geen ander wapen nie.


       Ons het ook “Jerigo’s” in ons opmars na die ewige rus in ons Beloofde Land – ons moet dít ook soos Josua en die nuwe geslag Israeliete tegemoet gaan – sterk, vasberade, sonder om te skrik, of om bang te wees en in geloof, ...want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan (Jos.1:9).

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 16 Februarie 2014