Sunday, January 19, 2014

Die Boodskap van Daniël - 12 (“Daar ís Lig na die Donker”)

1.     SKRIFLESING:
       Ons weet dat talle en talle profesieë (trouens die meeste) reeds vervul is - baie mense daarenteen, glo nie dat daar enige “toekoms-voorspelling” in die Bybel is nie. Jesaja sê egter vir ons dat God wel dinge oor die toekoms vir ons as mense gesê het, wat wel so gebeur het en daarom kan ons vas en seker weet dat die ander wat nog nie vervul is nie, wel een of ander tyd so sal gebeur, soos die Bybel dit “voorspel” ~ Dink hieraan en luister, neem dit ter harte, julle oortreders. 9Dink aan wat vroeër gebeur het, lank gelede; Ek is God, daar is geen ander nie; Ek is God, daar is niemand soos Ek nie. 10Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek (Jes.46:8-10).

Ons gaan vandag van so ’n profesie lees – een wat reeds vervul is en ek gaan ons Skriflesing vanoggend so bietjie anders as gewoonlik benader – ek gaan Dan.8 stukkie vir stukkie lees en behandel en verder gaan ek met dit, parallelle gedeeltes behandel – kom ek verduidelik:
·           Tyd en Plek van die Profesie (vv.1-2).
·           ’n Ram en Bok (vv.3-8 en daarmee saam vv.15-22).
·           Die Klein Horinkie (vv.9-14 en daarmee saam, vv.23-27).

2.     TYD EN PLEK VAN PROFESIE:
Dan.8:1-2 ~ Nadat ek, Daniël, hierdie visioen gesien het, het ek in die derde regeringsjaar van koning Belsasar nog ’n visioen gesien. 2In dié visioen het ek my in die vestingstad Susan bevind, in die provinsie Elam. Ek sien toe dat ek by die Ulairivier is.

Ons sien hier in Daniël 8 dat God beide profesie, asook interpretasie aan Daniël verskaf en met dit verskaf die Here geweldige bemoediging aan Sy volk, want ons moet in gedagte hou dat Daniël hierdie profesie in ongeveer 550 v.C. van die Here ontvang het en dat geweldig baie van sy volksgenote in ballingskap in Babilon geleef het en nou gee die Here hoop aan hulle – die gehate Babiloniërs gaan vernietig word en hulle sal kan terugkeer na hulle vaderland – of gaan hulle?

Die Hebreërs se reaksie op hierdie profesie en sy uitleg is so tipies van so baie mense in ons dag ook – hulle lees Daniël (én Openbaring, e.a.) en hulle onmiddellike reaksie, is dat die einde op hande is – die terugkeer van die Messias gaan baie binnekort plaasvind. Allerlei wêreldleiers word geïdentifiseer as die Antichris – van Hitler tot die huidige Pous, ens., of nog erger – dit gaan alles op hierdie en daardie dag en datum gebeur!

       Wat ons egter verseker weet, is dat die einde wel op een of ander stadium gaan aanbreek en Jesus gáán op die wolke terugkeer, soos wat Hy bykans 2000 jaar gelede weggeneem is (Hand.1:11).

       Wat het die Hebreërs te doen gestaan toe hulle agter kom dat die profesie nie in vervulling gaan in hulle tyd nie? Presies dieselfde wat ons moet doen toe ons tien jaar terug en een jaar terug en gisteraand en dalk ook nie vir die volgende tien jaar, Jesus se wederkoms ervaar nie – hoe moet ons volhard in geloof en gehoorsaamheid aan die Here te midde van swaarkry; vervolging, onsekerheid en allerlei druk waaronder ons verkeer en meer nog – Jesus kom dan nie? Presies dít is wat die Here vir ons in hierdie profesie wil leer – hoe om dit te hanteer.

3.     ’N SKAAPRAM EN ’N BOKRAM:
       Dan.8:3-8 ~ ...3en toe ek kyk, sien ek ’n skaapram met horings by die rivier staan. Sy horings was lank; die een was langer as die ander en het later as die ander een uitgekom. 4Ek het die ram na die westekant, die noordekant en die suidekant sien stoot, en geen dier was teen hom opgewasse nie. Niemand was in staat om iemand uit sy mag te red nie. Hy het gemaak wat hy wil en het baie magtig geword. 5Terwyl ek nog hieraan aandag gee, kom daar uit die weste ’n bokram aan wat so vinnig oor die aarde beweeg dat hy nie grond raak nie. Dié bokram het ’n opvallende horing tussen sy oë gehad. 6Hy het aangekom na die skaapram met die twee horings, wat ek by die rivier sien staan het, en hom met alle mag stormgeloop. 7Ek het gesien hoe hy tot by die skaapram kom, hom briesend stamp en sy twee horings afbreek. Die skaapram was nie opgewasse teen hom nie en hy het die skaapram teen die grond geslinger en hom vermorsel. Daar was niemand wat die skaapram uit sy mag kon red nie. 8Die bokram het baie magtig geword, maar op die hoogtepunt van sy mag is sy groot horing afgebreek. In dié se plek het daar vier opvallende horings uitgekom; hulle het na die vier windstreke toe gewys.

     Hiermee saam, Dan.8:15-22 ~ 15Nadat ek, Daniël, die visioen gesien het, het ek gesoek na ’n verklaring daarvoor. Meteens staan daar toe voor my iemand wat soos ’n man lyk, 16en ek hoor ’n stem uit die Ulai roep: “Gabriël, verklaar vir Daniël die gesig!” 17Hy het nader gekom na die plek toe waar ek gestaan het, en toe hy by my kom, het ek bang geword en vooroor op die grond geval. Hy sê toe vir my: “Jy moet verstaan, mens, dié visioen slaan op die eindtyd.” 18Terwyl hy met my praat, het ek bewusteloos geraak en daar gelê met my gesig op die grond. Maar hy het my gevat en my op my voete getel 19en vir my gesê: “Ek sal jou vertel waarop die toorn van God gaan uitloop. Dit gaan oor die eindtyd. 20Die skaapram met horings wat jy gesien het, staan vir die koninkryk van Medië en Persië. 21Die harige bokram staan vir die koninkryk van Griekeland, en die groot horing tussen sy oë is die eerste koning. 22Dat dit afgebreek is en dat daar vier in sy plek gekom het, beteken dat daar vier koninkryke uit daardie nasie sal ontstaan, maar hulle sal nie so sterk soos die eerste wees nie.

            ·           Die eerste deel van die Visioen:
       Daniël se vorige visioen was een wat vol simboliek was en hy het dit in ’n onbekende plek ontvang, maar hierdie keer ontvang hy ’n visioen met duidelik identifiseerbare figure en spesifieke inligting t.o.v. geografiese ligging ~ ...in die derde regeringsjaar van koning Belsasar ... in die vestingstad Susan ... in die provinsie ... by die Ulairivier ... (vv.1-2).

       Die eerste ding wat Daniël in sy visioen sien, is ’n skaapram met twee horings, waarvan die een langer was as die ander een. Hierdie ram het suid, wes en noord gestorm en niemand kon staande bly teen hom nie. Totdat ’n bok egter vanuit die weste te voorskyn gekom het en hierdie bok het net een opvallende horing gehad. 

      Die bok het in ’n geveg met die ram betrokke geraak en die bok het die ram se horings afgebreek en die ram vermorsel. Die bok het die ram verplaas in mag en grootheid, maar op ’n stadium is sy mag ’n knou toegedien, maar i.p.v. die enkel horing wat afgebreek het, kom daar vier nuwe horings in dié se plek en die horings wys in al vier rigtings.

       Vir mense ná Daniël se tyd was dit redelik maklik om hierdie visioen te verstaan, omdat hulle (en ons) oor bepaalde historiese inligting beskik het, maar Daniël en sy tydgenote het nie op daardie stadium oor dieselfde historiese inligting beskik nie en daarom vra hy die engel om hierdie visioen vir hom uit te lê – die uitleg vind dan ook in vv.13-19 plaas.

       Die engel verduidelik aan hom, dat die ram met die twee horings, die Mede-Persiese koninkryk verteenwoordig (v.20) en die Perse was die sterker mag van die twee – daarom die een langer horing (v.3).

       Die bokram weer, was die Griekse Ryk (v.21) en die opvallende horing het Alexander die Grote verteenwoordig. Alexander het bykans die hele bekende wêreld van daardie tyd verower (dit terwyl hy maar slegs 33 jaar oud was). Na sy dood is sy koninkryk onder sy vier generaals verdeel – die latere vier horings van die bok (v.8). Ons weet vanuit die geskiedenis en soos ook in v.22 bevestig, dat hierdie vier koninkryke nie dieselfde mag gehad het as die vorige een oorkoepelende koninkryk onder Alexander se regering nie.  

·           Verklaring van die eerste deel van die Visioen:
       Net soos die visioen in hoofstuk 7 het ons hier te doen met ’n reeks van koninkryke wat deur diere verteenwoordig word en wat hulself verheerlik, maar wat deur ’n volgende vernietig word. Hierdie opkoms en val van werklike wêreldse ryke is presies deur die Here “voorspel” – aardse koninkryke kom en gaan en dit is net die hemelse koninkryk van Jesus Christus wat standhou.

       Die nuus van hierdie visioen was dus goeie nuus vir die Judeërs in Babilon, want hulle het die einde van hul onderdrukking in hul geestesoog gesien, want God self het dit vir hulle “voorspel” en wat Hy “voorspel” staan vas en seker en sal gewis realiseer. Terselfdertyd is hierdie ook goeie nuus vir enige gelowige in ons dag wat o.a. onderdrukking ervaar (ook vir ons in Suid-Afrika), want die huidige koninkryke sal nié vir altyd standhou nie – al voel dit soms so.

         Hierdie geld natuurlik nie nét landsregerings nie, maar enige iets wat ons bedreig – of dit nou finansieel van aard is; ons onaangename werksomstandighede; swak gesondheid, of wat ook al – alles wat ons hier op aarde ervaar, is tydelik van aard – ons tyd is egter net nie altyd God se tyd nie, maar laat hierdie visioen wat Daniël van God ontvang het, vir ons ’n bemoediging wees – ons “spoke en nagmerries” sál nie vir altyd voortduur nie en as dit nie in hierdie lewe gebeur nie, sal dit beslis in die hiernamaals gebeur, ons moet net aan die Here bly vashou in geloof en gehoorsaamheid en dan sal ons heelhartig saam met Paulus kan sê ~ Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (Rom.8:38-39).

4.     DIE KLEIN HORINKIE:
       Dan.8:9-14 ~ 9Uit een van die horings het daar ’n horing uitgekom wat eers onaansienlik was, maar toe buitengewoon magtig geword het na die suidekant, na die oostekant en na die pragtige stad se kant toe. 10Hy het so magtig geword dat hy selfs die hemelse leërmag aangedurf het en party van hulle, die sterre, op die grond gegooi en vertrap het. 11Hy het selfs die Hoof van daardie leërmag aangedurf deur die daaglikse offer aan Hom te verbied en sy heilige woning af te breek. 12’n Sondige erediens is in die plek van die daaglikse offer ingestel en die ware godsdiens vertrap. Hierdie horing was voorspoedig in alles wat hy gedoen het. 13Ek het ’n hemelwese hoor praat, en ’n ander hemelwese het vir die een wat praat, gevra: “Hoe lank sal die dinge van die visioen aanhou: die ding van die daaglikse offer, die skrikwekkende sonde, die prysgawe van die heiligdom en die vertrapping van die hemelse leërmag?” 14Hy sê toe vir my: “Twee duisend drie honderd aande en oggende. Dan sal die heiligdom herstel word.”

       Hiermee saam, Dan.8:23-27 ~ 23Teen die einde van hulle heerskappy, wanneer die sonde sy hoogtepunt bereik het, sal ’n hardvogtige en slinkse koning op die toneel verskyn. 24Hy sal baie sterk word, maar nie deur eie krag nie.  Hy sal ongelooflike verwoesting aanrig en sal voorspoedig wees in alles wat hy doen. Hy sal magtiges vernietig, ook die heilige volk. 25Deur sy vindingrykheid sal hy slaag met sy sluwe optrede. In sy verwaandheid sal hy baie mense goedsmoeds om die lewe bring. Hy sal selfs die hoogste Regeerder uitdaag, maar sal vernietig word sonder die toedoen van ’n mens. 26Wat oor die aande en oggende aan jou geopenbaar is, sal werklik gebeur. Maar jy moet die visioen geheim hou, want dit sien op die verre toekoms.” 27Ek, Daniël, was gedaan en het lank siek gelê. Daarna het ek opgestaan en weer my werk in die koning se diens gedoen. Ek was egter ontsteld oor die visioen, en niemand het geweet wat met my aangaan nie.

·           Die tweede deel van die Visioen:
       In vergelyking met die skaap- en bokramme, kry ons nou te doen met ’n mag waarmee daar rekening gehou moet word – “die klein horinkie”! Hierdie klein horinkie het gegroei en sy heerskappy na die suide en die noorde uitgebrei – selfs in die rigting van "die pragtige stad" – hierdie pragtige stad was Jerusalem.
       Wie of wat was hierdie klein horinkie? Sonder om te veel daarop in te gaan – dit word algemeen aanvaar, dat hier verwys word na Antiochus Epiphanes IV (175-164 v.C.), een van die generaals wat Alexander die Grote opgevolg het. Antiochus was ’n tiran wat alles en almal met mag onder sy beheer wou bring – hy het o.a. die Judeërs se besnydenis verbied en hierdie gebeure in Jerusalem en omgewing bevestig die vervulling van die profesie soos vervat in Dan.8. Voorts verbied hy ook in 167 v.C. die offerandes wat in die Tempel in Jerusalem gebring is, waarop hy doelbewus die tempel en die altaar onteer en ontheilig, deur ’n vark daar te offer en ’n afgod (soortgelyk aan Zeus) in die Allerheiligste van die Tempel te plaas – van hierdie afgod word daar weer in Dan.11:31 gepraat ~ Van die koning se troepe sal die heiligdom en die vesting ontheilig. Hulle sal die daaglikse offer afskaf en ’n ding oprig wat ’n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig. Nog erger was die feit dat hy o.a. ook die Torah – die Wetboek van God, grootliks verwoes het.

       Ons kan ons maar net indink in wat in die hemel gebeur het, na hierdie optrede van hierdie “duiwels-dienaar”, daarom dat v.10 vir ons sê dat hy selfs die hemelse leërmag aangedurf het – of hy besef het wat hy doen, blyk duidelik uit sy arrogante en doelbewuste optrede teen dit wat heilig en kosbaar vir God was, maar hy het op daardie stadium nog nie besef met Wie hy te doen het nie en hierdie moet ’n waarskuwing aan alle wêreldheersers én gewone mense wees wat die vuis bal vir God.  Uit hierdie gebeure en optrede van Antiochus, was dit dus duidelik dat hy nie alleen in konflik was met mense nie, maar ook teen die hemelse magte en het die magte van die duisternis saam met hom oorlog gevoer.

·           Verklaring van die tweede deel van die Visioen:
       Ons moet besef dat ons nie alleen in stryd is met mense en allerlei gebeure nie, want daar waar ons nie kan sien nie (in die geesteswêreld) is daar baie dikwels, indien nie permanent nie, ook magte van die Lig en magte van die duisternis in aksie en in konflik met mekaar oor ons (in die nabye toekoms wil ek graag ’n bietjie aandag aan hierdie onderwerp skenk, met ’n kort reeks oor engele en demone). Wanneer ons hierdie feit buite rekening laat, kan ons baie maklik moedeloos en depressief raak oor ons situasie, maar as ons besef dat ons nie alleen staan nie, behoort en moet dit as groot bemoediging vir ons dien, want hier in Dan.8 sien ons dat God aktief betrokke is – ook by ons stryd. Omdat ons na God se beeld geskape is en omdat ons Sy kinders is, moet ons besef dat wanneer mense bv. teen ons optree, hulle ook teen God optree en Hy die “geveg” saam met ons veg – Hy is nie afwesig nie; Hy is naby ons; Hy is teenwoordig – ook in ons stryd en swaarkry.

       In v.13-14 kry ons te doen met ’n belofte dat die heiligdom na 2300 aande en oggende herstel sal word. Enersyds dui dit op die duur van vervolging teen Israel, maar andersyds dui dit ook op uitkoms wat aan die kom is. Hierdie getal dui of op 6 jaar en 111 dae (2300, 24-uur tydperke), of 3 jaar en 55 dae (die helfte van 2300 – 2300 aand en 2300 dae = 1650 dae). Baie teorieë bestaan oor watter een van die twee moontlikhede dit is, maar dit is geen uitgemaakte saak watter een dit is nie en daarom kan ons aanvaar dat hierdie getal ’n figuurlike uitdrukking van ’n tydperk is en is daarom bloot vir ons ’n aanduiding dat daar vasgestelde tye en datums is waarop God bepaalde dinge in vervulling laat kom – Hy ken dag en datum van alles wat in die kosmos gebeur – nou en in die toekoms. 

5.     TOEPASSING:
       As al hierdie dinge waar is van God en die feit dat ons hoop in Hom kan hê, waarom ervaar ons “donker nagte” in ons lewe; waarom is daar steeds swaarkry en siekte, ens.? Ons voel baie dikwels soos Paulus in 2 Kor.1:8-9 ~ Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. 9Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe. Wel, ons vinnige antwoord as gelowiges, is omdat die wêreld nog vol sonde is; omdat ons nie van hierdie wêreld is nie, maar omdat ons steeds ín hierdie wêreld is – en dit is alles waar en reg so, maar wat is die geheim om deur te druk; om aan die anderkant van hierdie swaarkry te kom; om soos ek aan die begin gevra het, hoe moet ons volhard in geloof en gehoorsaamheid aan die Here te midde van swaarkry; vervolging en allerlei druk waaronder ons verkeer?

       Die antwoord lê vir ons opgesluit in die wyse waarop Daniël, God se uiteindelike oorwinning gesien en beskryf het, te midde van steeds donkerwordende wolke wat op die horison saampak. Daar kom ’n dag dat die vyand en al sy meelopers oorwin gaan word en daardie oorwinning het reeds op Golgota begin en sal afgehandel wees met die wederkoms van Christus!

       Daniël wil ons leer om vooruit te kyk, verby hierdie donker wat ons nou in ons lewe mag ervaar. Jesus leer ons in Matt.16:24, dat ons, onsself moet verloën, ons kruis opneem en Hom volg. Nie net moet dit ons daaglikse strewe en motivering wees nie, maar dit moet ook ons manier wees waarop ons die donker in ons lewe verwerk.

       Let ook daarop, dat die klem nie in hierdie teksvers (Matt.16:24) op die kruisdra-gedeelte val nie, maar op die selfverloëning en die navolging van Christus Jesus. Dit is baie dikwels, baie maklik om net in te gee en op te gee en uit ’n bepaalde (vir ons) onaanvaarbare situasie te klim en ons rug daarop te draai, maar dan is ons nie besig om onsself te verloën en Christus noodwendig na te volg nie. Wat gaan ons doen as ons skielik in ’n rolstoel vasgekluister raak – uit die situasie vlug? Of gaan ons geen ander keuse hê, as om ons omstandighede te aanvaar – ons m.a.w. self te verloën en Christus na te volg.

       Ons moet soos Daniël ons leer, vooruitkyk en in daardie hoop en vaste wete begin leef, dat God leef en dat Sy beloftes van uiteindelike oorwinning; van ’n beter hoop, gaan en sal gebeur, want God se beloftes hou stand en dit is vir ewig.

       Weet en glo dat daar ’n einde is wanneer alles gaan verander, al is dit ook eers wanneer Jesus weer kom, of wanneer ons sterf – daar ís ’n beter hoop; ’n vaste hoop wat op ons wag ~ Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het (Hebr. 10:23). Donker en moeilike tye in ons lewe is tye wanneer ons geloof getoets word en ons moet ons gedurig afvra of ons die toets slaag al dan nie – net ’n bietjie verder in Hebreërs sê die Hebreërskrywer dit so mooi ~ Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie (Hebr.11:1). Hou ons geloof stand in tye van swaarkry?

       Geliefdes, daar ís lig na die donker! Christus is reeds en steeds besig om die finale oorwinning te behaal – die vraag is, soos ons verlede week ook vanuit Ps.110 gesien het, of ons gewillige medewerkers in hierdie stryd is, ja ook daardie stryde in ons eie lewe ~ U volk is gereed vir die dag waarop u u magte monster. U jongmanne is u krag as hulle teen dagbreek aantree, geklee vir die heilige stryd. 4Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.” 5Die Here gee u die oorwinning, Hy verdelg konings die dag as Hy sy toorn laat losbreek. 6Hy straf die nasies, Hy verdelg hulle leiers, Hy laat die wêreld vol lê van hulle lyke (Ps.110:3-6). Hoor u ook watter belofte gee God die Vader vir ons in v.4b ~ 4Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek. Jesus Christus is ons Hoë Priester wat voortdurend vir ons intree by die Vader – begin dit glo en begin daarvolgens leef.

       Die Kruis van Jesus Christus is ons waarborg dat God se wil uiteindelik sal seëvier. Omdat die oorwinning aan die Kruis behaal is, is ons geanker in Christus en sal ...die poorte van die doderyk (ons) nie oorweldig nie (Matt.16:18).

       Daar ís lig na die donker – Jesus Christus is daardie Lig!

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 19 Januarie 2014