1. INLEIDING:
Sekerlik
die wonderlikste etiket wat om enige gelowige se nek gehang kan word, is dié
wat om Daniël se nek gehang was en waarvan ons in Dan.6:6 lees ~ Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe
as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens. Sal dit nie
wonderlik wees as dieselfde etiket ook om elkeen van ons nekke gehang kan word
nie! Die probleem is egter dat dit waarskynlik nie altyd van almal van ons gesê
sal kan word nie – allermins van my!
Waarom
kon hierdie "etiket" om Daniël se nek gehang word? Daar is sekerlik
heelwat redes wat daarvoor aangevoer kan word, maar ten minste drie redes staan
vir ons uit:
·
Hy het in ’n vreemde wêreldkultuur geleer hoe om
in daardie kultuur te leef, maar nie deel van daardie kultuur te word nie – hy
was in daardie kultuur, maar nie van daardie kultuur nie. Paulus sê in Fil.3:20
~ Maar
ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as
Verlosser verwag. Daniël het nie vasgekyk teen hierdie wêreld nie –
teen die Babiloniese Ryk nie – sy oë was gevestig op die hemelse koninkryk
vanwaar hy sy Messias verwag het.
·
Hy het alles gedoen asof vir die Here.
·
Hy was ’n man van gebed.
2.
SKRIFLESING:
Daniël 6:1-29 ~ Darius die Mediër het die koningskap oorgeneem toe
hy twee en sestig jaar oud was. 2Hy het besluit om honderd en
twintig goewerneurs-generaal aan te stel om oor sy hele koninkryk te regeer. 3Oor
hulle was daar drie ministers, van wie Daniël een was en aan wie die
goewerneurs-generaal verantwoordelik was sodat die koning se belange behoorlik
behartig kon word. 4Hierdie Daniël het deur sy buitengewone
bekwaamheid so uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs-generaal
dat die koning van plan was om hom oor die hele koninkryk aan te stel. 5Die
ministers en die goewerneurs-generaal het toe iets teen Daniël probeer kry oor
die manier waarop hy die administrasie behartig het, maar hulle kon nie. Hulle
kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan
geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie. 6Hulle sê toe vir
mekaar: “Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry
in verband met sy godsdiens.” 7Die ministers en die
goewerneurs-generaal storm toe by die koning in en sê vir hom: “Mag die koning
baie lank lewe! 8Al u ministers en al die goewerneurs,
goewerneurs-generaal, raadgewers en administrateurs het met mekaar ooreengekom
dat daar ’n koninklike dekreet uitgevaardig moet word. Die dekreet moet baie streng
bepaal dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid behalwe
vir u, U Majesteit, in ’n leeukuil gegooi moet word. 9Stel dan nou
so ’n dekreet op en vaardig dit skriftelik uit sodat dit nie verander kan word
nie; dit moet onherroeplik wees, ’n wet van Mediërs en Perse.” 10Koning
Darius het toe so ’n dekreet uitgevaardig. 11Toe Daniël hoor dat die
dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster
het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël
voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid
en te dank. 12Daniël se vyande
het in sy huis ingestorm en hom daar gekry waar hy sy God aanbid en Hom om
genade smeek. 13Toe gaan hulle na die koning toe en hou die
koninklike dekreet aan hom voor. “U het tog mos ’n dekreet uitgevaardig dat
enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid, behalwe vir u, U
Majesteit, in ’n leeukuil gegooi moet word.” Die koning het geantwoord: “Ja, en
dit staan vas. Dit is ’n onherroeplike wet, ’n wet van Mediërs en Perse.” 14Toe
sê hulle vir die koning: “Maar Daniël, een van die Joodse ballinge, steur hom
nie aan u bevel en aan die dekreet wat u uitgevaardig het nie, U Majesteit! Hy
bid nog drie maal per dag tot sy God.” 15Toe die koning dit hoor,
het hy baie sleg gevoel. Hy het ’n plan probeer maak om Daniël te red, en toe
die son ondergaan, het hy nog steeds geprobeer. 16Toe storm Daniël
se vyande weer by die koning in en sê vir hom: “U Majesteit besef seker dat volgens
die reg van die Mediërs en Perse geen dekreet of wet wat deur die koning
uitgevaardig is, verander mag word nie.” 17Die koning moes toe die
bevel gee, en Daniël is gebring en in ’n leeukuil gegooi. Die koning het vir
Daniël gesê: “Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red.” 18Daar
is ’n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die
opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks
aan Daniël se lot verander sou kon word nie. 19Die koning is na sy
paleis toe en het ’n slaaplose nag deurgebring; hy het niks geëet nie en het
niks gedoen om die tyd te probeer verdryf nie. 20Die volgende môre
vroeg toe dit lig word, het hy opgestaan en is hy haastig na die leeukuil toe. 21Toe
hy naby die leeukuil kom, het hy angstig na Daniël geroep en vir hom gevra:
“Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding
dien, in staat om jou van die leeus te red?” 22Toe antwoord Daniël:
“Mag die koning baie lank lewe! 23My God het sy engel gestuur om die
bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy
het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook teenoor u het ek niks
verkeerds gedoen nie, U Majesteit.” 24Die koning was baie bly en het
beveel dat Daniël uit die leeukuil gehaal moes word. Toe Daniël uit die
leeukuil gehaal is, was daar geen letsel aan hom nie, omdat hy op sy God
vertrou het. 25Op bevel van die koning is die mense wat vir Daniël
verkla het, gebring en in die leeukuil gegooi saam met hulle kinders en hulle
vrouens. Hulle het nog nie in die leeukuil grond gevat nie of die leeus was op
hulle en het hulle verskeur. 26Koning Darius het toe aan al die
volke, nasies en taalgroepe wat oor die hele wêreld gewoon het, ’n skrywe
gerig: “Voorspoed! 27Ek gee hiermee opdrag dat in my hele koninkryk
die God van Daniël gevrees en geëer moet word. Hy is die lewende God, Hy
bestaan vir ewig; sy koninkryk sal nie vernietig word nie, sy heerskappy sal
nooit eindig nie. 28Hy red en bevry, Hy doen tekens en wonders in
die hemel en op die aarde; Hy het Daniël uit die kloue van die leeus gered.” 29Dit
het goed gegaan met Daniël gedurende die regering van Darius en die regering
van Kores die Pers.
3. VERDERE AGTERGROND:
Wanneer 'n mens so deur Daniël lees kan jy
nie anders as om te wonder wat die sin van Daniël se lewe nou regtig was nie.
Op hierdie stadium van sy lewe was hy reeds ongeveer 85 jaar oud; sy volk was
steeds in ballingskap in 'n goddelose land; hyself kon waarskynlik nie veel van
sy geboorteland onthou nie, want hy is as jong seun weggevoer na Babilon. In sy
leeftyd het hy konings sien kom en konings sien gaan en die ergste van alles –
al sy insette; profesieë; sy getuienis, ens., het bykans niks gehelp nie, want
die konings en die Babiloniese volk was steeds 'n spul goddelose en wreedaardige
heidene.
Dit moes uiters frustrerend en selfs
ontmoedigend vir hom gewees het, om te kon ervaar dat hy wat in senior posisies
in die regering gedien het en wat waarlik "man van God" was, nie sy
volk uit ballingskap kon red nie en nêrens lees ons dat hy iemand "na die
Here gelei" het nie – hy was nie 'n Abraham vir sy volk nie en ook nie 'n
Moses nie, trouens wat dalk nog die hartseerste van alles was, is dat talle
Israeliete – volk van God, so ingesluk was deur die kultuur en goddeloosheid
van Babel, dat hulle, toe die volk heelwat later wel toegelaat was deur Kores,
om terug te keer na Israel, gekies het om in die land van afgode, in
ballingskap te bly! Bitter min mense het geleer van Daniël en wou leer
van Daniël – in mense se oë was hy selfs dalk 'n mislukking en as hy 'n
voorganger van 'n gemeente was, sou mense nie twee keer gedink het om na hom te
gaan luister nie, trouens hy was verafsku en 'n gehate man in sekere kringe; hy
was ook eenkeer ter dood veroordeel, máár – dit het nie vir Daniël om
Daniël gegaan nie – dit het vir Daniël oor God gegaan en Daniël was en is tot
vandag toe 'n toonbeeld van getrouheid – getrou aan God en nie aan homself nie.
4. BETROUBAARHEID:
Daniël het geweet dat sy God 'n getroue
God was en dat God ook van hom trou vereis het. Vir hom was die woorde van
Deut.32:4 nie net 'n troos nie, maar dit was ook vir hom 'n realiteit en hy het
onwrikbaar daaraan geglo – Hy
is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die
getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar. Let daarop dat Daniël nie hierdie
teksvers vir hom geneem het as belofte wat hom vertroos het nie; beloftes
waarop hy kon staan en waarhede wat hom kon dra in tye van moeilikheid nie – nee,
dit het sy fokus op God gevestig – God is die getroue God; God is die
regverdige God; Sý werk is volmaak; Hý is betroubaar en omdat God hierdie
getroue en regverdige God is, het hy wat Daniël is, geen ander keuse nie - nee,
wíl hy geen ander keuse hê as om getrou te bly aan hierdie wonderlike God nie.
·
Historiese Agtergrond:
Kom ons keer egter terug na die
historiese agtergrond en Daniël se situasie op hierdie stadium van sy lewe.
Volgens Dan.5:31 was Darius van die Mede,
ongeveer 62 jaar oud toe hy Babilon geannekseer het in 539 v.C. Darius was die
heerser van die Mediërs en die Perse in die huidige Iran (oos van Babilon),
of te wel die land van die Ariërs.
Ons lees egter aan die einde van
hoofstuk 5 in v.29 van Kores die Pers wat die regeerder was – hoe moet ons dit
verstaan – wie was dan nou eintlik die regeerder – Darius of Kores? Die
waarskynlikste verklaring hiervoor is dat die Mede die naam Darius gebruik het,
terwyl die Perse dieselfde man, Kores genoem het (amper soos my
oudste seun – hier in S.A. is hy Kobus en in Engeland waar hy die afgelope 14
jaar woon is hy James).
Darius alias Kores het na sy anneksasie
van Babilon, 120 goewerneurs- generaal aangestel en drie ministers (v.3) van wie Daniël
een van die ministers was. Op hierdie stadium was Daniël ongeveer 85 jaar oud
en het hy nog nie aan aftrede gedink nie, trouens hy was só betroubaar en
bekwaam dat hy kop en skouers bo die ander twee ministers uitgetroon het, sodat
koning Darius hom tweede in bevel van die koninkryk wou stel (v.4).
·
Betroubare Daniël:
Ons lees in v.5,
dat die ander amptenare rede gesoek het om 'n saak te bou teen Daniël sodat die
koning hom nie sou bevorder nie. Daniël het egter ook geglo soos Paulus in
Fil.3:20 ~ Maar ons is burgers
van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag en omdat hy 'n burger van die hemel
was, het hy dit wat die Here oor sy pad gebring het om te doen, gedoen en hy
het dit gedoen soos wat Paulus later aan die gemeente in Efese geskryf het, hoe
hulle hul werk moet doen ~ Moenie
net werk om deur julle eienaars raakgesien te word en so in mense se guns te
kom nie; werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen. Al is
julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie (Ef.6:6-7). As die werksmag in ons land maar
hierdie gesindheid aan die dag kan lê (en dan praat ek nie eens
van die regeringslui en staatsamptemare nie), sal ons hierdie land op sy kop draai.
Ons lees egter in v.4 dat die ander
regeerders niks, absoluut niks teen Daniël kon vind om hom in diskrediet by die
koning te bring nie – geen luiheid; geen wanadministrasie; geen bedrog; geen omkopery;
geen nepotisme; niks nie en daarom moes hulle 'n "Plan B" in aksie
stel.
5. DIE WET VAN MEDE EN PERSE:
Die amptenary het besef dat indien Daniël
moes kies tussen sy God en die koning van die Perse, die koning van die Perse
beslis nie die keuse sou wees nie en daarom moes hulle konflik tussen die wet
van God en die wet van die Perse te beweeg bring en dit was hulle "Plan
B", want hulle het gedink dat Daniël se sterkste punt, nl. sy godsdiens,
sy achilleshiel gaan wees en daarom besluit hulle om 'n voorstel aan die koning
te maak ~ Al u ministers (let op hoe lieg
hulle – die waarheid was dat slegs twee van die drie ministers so besluit het) en al die goewerneurs, goewerneurs- generaal,
raadgewers en administrateurs het met mekaar ooreengekom dat daar 'n koninklike
dekreet uitgevaardig moet word. Die dekreet moet baie streng bepaal dat
enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid behalwe vir u, U
Majesteit, in ’n leeukuil gegooi moet word (v.8).
Koning Darius was gevlei – hy gaan aanbid
word! Hy bekragtig onmiddellik die dekreet (v.9). Die arme man se ego was so gestreel,
dat hy nie besef het wat hy doen nie – totdat hy besef dat sy getrouste
onderdaan en minister, die eerste gaan wees wat in die leeukuil gegooi sal moet
word en toe hy die dekreet wou omdraai, herinner sy slu ministers hom daaraan
dat ’n wet van
Mediërs en Perse,
onherroeplik was (v.13).
6. DANIËL SE REAKSIE:
Wat was Daniël se reaksie toe hy van
hierdie dekreet hoor? Sekerlik het die gedagte van kompromie by hom opgekom,
want hy moes Jer.25 en 29 goed geken het en daarin kon hy sien dat die einde
van sy en sy volk se ballingskap in sig was – wat sou so ’n bietjie kompromie
nou regtig saak gemaak het? Die Here sal Sy jarelange en getroue dienskneg tog
sekerlik hierdie een keer oorsien en vergewe en dan kan hy bly lewe om saam met
sy volk terug te keer na die land van melk en heuning – wat meer is, hierdie
dekreet is slegs vir 30 dae geldig en dis mos nie so lank nie, net so ’n kort
rukkie kompromie maak, wat meer is, eintlik was dit nie eers regtig nodig om
kompromie te maak nie – hy kon maar steeds net in die geheim voort gaan om te
bid – agter toe deure; snags in sy bed – wie sal weet? – dit kan mos nie so erg
wees nie, maar nie Daniël nie. Nee, hy bly openlik bid – drie keer per dag en
die implikasie van vv.11-12 was dat hy dit openlik gedoen het, want sy vyande
moes hom gesien het en daarom storm hulle sy huis binne en sleep hom voor die
koning. Daniël skaam hom nie vir sy God nie; hy skaam hom nie vir sy godsdiens
en sy oortuigings nie – hy is bereid om die prys te betaal – selfs al is die
beëindiging van die ballingskap op hande!
Tog
moes Daniël bekommerd gewees het, want toe hy hoor van die bevel, lees ons in
v.11, het hy gaan bid – nie net het hy dit gedoen om die goddelose amptenary te
wys dat hy nie skrik vir mensgemaakte wette nie, maar ten diepste moes hy tog
immers ook bekommerd gewees het en vra hy God om hulp en ons weet dat die
gebed van 'n gelowige 'n kragtige uitwerking (het) (Jak.5:16). Daniël het nie hierdie gebed gebid omdat hy
gedink het dat hy onbesproke voor God gestaan het nie, want hy het sekerlik die
woorde van Dawid geken wat gesê het ~ As daar sonde in my hart
was, sou die Here nie geluister het nie (Ps.66:18), trouens Daniël bid self later in Dan.9:18 ~ Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien
tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is. Ons
pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u
groot barmhartigheid. 19Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons
en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. Hy het dus geweet dat hy niks, absoluut niks
gehad het om op staat te maak nie, behalwe God se genade en soewereine wil.
Daniël is ’n enkele man wat op sy eie gestaan
het vir die Waarheid en hierdie een man se gehoorsaamheid en lojaliteit, sal
ons sien, gaan ’n ongekende impak hê – massas is nie noodwendig nodig om
"die aarde te laat bewe nie".
Daar
was egter nog een aspek waaroor Daniël beskik het en dit was geloof. Dit is
goed en wel om te bid, maar as jou gebed nie gepaard gaan met geloof nie, dra
dit nie veel krag nie. Jesus het nie verniet in Mark.11:22-24 gesê ~ Julle
moet geloof in God hê! Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg
sê:`Lig jou op en val in die see, 'en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar
glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle:
Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal
vir julle so wees.
7. DANIËL
EN GOD SE ENGEL:
Daniël
word egter gearresteer en Darius moet by die wet hou en sy getroue minister
moet in die leeukuil gegooi word. Gewapen met geloof; met die Waarheid en
gehoorsaamheid, word Daniël in ’n kuil met honger leeus gegooi en om seker te
maak dat hy nie ontsnap of hulp van buite kry nie, word die opening met ’n klip
en die koning se kenteken op sy ring, verseël. Daniël word aan homself en sy
eie lot oorgelaat en tog, net voor hy in die put gegooi word, kom daar ’n
vertroostende en selfs bemoedigende woord vanuit ’n totaal onverwagse oord –
Darius, waarskynlik onder die indruk van Daniël se getrouheid en
geloofsgetuienis sê hy vir Daniël ~ Mag jou God wat jy met soveel volharding
dien, jou red (v.17b).
Nadat
Daniël se lot oënskynlik in die leeukuil verseël is, ervaar die twee menslike
hoofkarakters in hierdie drama daardie nag, twee interessante en absoluut
uiteenlopende ervarings. Darius kon nie slaap, eet of enige iets doen nie – en
Daniël? Daniël se reaksie in v.23 laat dit klink asof hy ’n wonderlike nag se
rus agter die blad het en ook geen wonder nie, want die leeus was so mak soos
lammetjies, maar nog meer wonderbaarlik, daar was ’n engel in Daniël se
teenwoordigheid en dié het die leeus se bekke gesluit gehou – wat ’n ervaring!
Die
koning wat nie kon slaap nie haas hom die volgende oggend na die leeukuil om te
sien of Daniël nog lewe! Het jy al so daaroor gedink: Waarom sou hy dit doen?
Honger leeus; ’n man word tussen hulle ingegooi; daar is nie uitkom kans nie?
Ten diepste moes koning Darius tog besef het dat Daniël se God lewe en dat Hy
almagtig is, trouens in v.21 noem hy God, die lewende God – wat ’n getuienis het
Daniël nie teenoor hom uitgeleef nie!
Nadat
die koning na Daniël roep, getuig Daniël weer teenoor Darius ~ My God het
sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks
kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook
teenoor u het ek niks verkeerds gedoen nie, U Majesteit (v.23). Daniël sê
eintlik vir Darius: Dit is die hemelse
regbank wat oor my lot besluit het en nie ’n aardse koning nie – die Almagtige
God is die Groot Regter en nie ’n aardse koning nie. Hoe ironies ook dat
Daniël die koning groet met die woorde ~ Mag die koning baie lank lewe! (v.22), terwyl die
heidense Darius sê ~ Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig;
sy koninkryk sal nie vernietig word nie, sy heerskappy sal nooit eindig nie. 28Hy
red en bevry, Hy doen tekens en wonders in die hemel en op die aarde
(vv.27-28).
Weer soos in die geval van Nebukadneser bring ’n aardse en heidense koning, eer
aan God in die hemel (4:37)!
Vol
blydskap en dankbaarheid laat die koning Daniël dadelik vry, maar terselfdertyd
laat hy almal wat Daniël verkla het, in die leeukuil gooi en die honger leeus
het ’n feesmaal – hul bekke is nie meer gesnoer nie – die engel is weg.
Met
Daniël het dit verder goed gegaan (v.29) en ons is nie seker daarvan nie, maar waarskynlik het
Daniël nie lank hierna nie, terug gekeer na sy land van geboorte.
8. AFSLUITING:
Wat
’n wonderlike verhaal is hierdie van Daniël en die leeukuil nie! Ons het baie
meer Daniëls in hierdie land van ons nodig (en mag ek sê in ons gemeente ook?) – Daniëls
wat gewillig is om "hul vensters oop te maak" en openlik eer aan God
te bring, sodat die wêreld – ook ons vyande dit kan hoor en sien.
Dit
is ook wel so dat baie gelowiges nie soos Daniël uit die bekke van die leeus
gered word nie, want ook ons ervaar beproewing en vervolging. In Hebr.11:33
lees ons van geloofshelde ...deur (wie se) geloof hulle
koninkryke verower (het), die reg van God gehandhaaf en verkry (het) wat God
beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop (’n waarskynlike verwysing
na Daniël), maar net twee verse verder lees ons van gelowiges wat doodgemartel
is (v.35); ander
weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap (v.36) en in v.37 lees
ons van gelowiges wat met klippe doodgegooi, in stukke gesaag en met die swaard
vermoor is. Andere weer wat rondgeswerf het in skaapvelle en in bokvelle. Hulle
het gebrek gely, is verdruk en mishandel, maar die woorde in v.35b was hul
diepste verlange ~ ...hulle wou die opstanding tot
'n beter lewe deelagtig word – sommige gelowiges word dus deur God
geroep om te getuig en te wen deur te leef, ander weer om te wen deur te sterf,
maar aan die einde van die dag wen ons almal ~ As ons lewe, leef
ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of
ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here (Rom.14:8).
Ons
moet nie moedeloos word as ons getuienis oënskynlik nie suksesvol is nie – ons
moet gehoorsaam en getrou wees en soos Daniël ons geloof ten alle tye uitleef,
want al kom net een persoon deur ons lewe tot bekering, was dit die moeite
werd. Daniël (en
moenie sy vriende vergeet nie) was sy lewe lank sy lewe lank ’n
geloofsreus in Babilon, maar nêrens lees ons van massa bekerings; van ’n
herlewing in Babilon nie – nie eens onder sy eie mense nie – net twee mense wat
ons van weet, het n.a.v. Daniël se betrokkenheid, die lewende God geprys en
erken as Here – Nebukadneser en Darius.
Daar
is egter ’n paar lesse wat ons uit hierdie verhaal van Daniël kan neem en ek
noem ’n paar:
·
Die mens se mag is beperk en word gegee en
weggeneem deur God.
·
Die belangrikheid en krag van gebed word vir ons
pragtig in vandag se Skrifgedeelte beklemtoon.
·
Of ons beskerm word of nie, ons het ’n ewigheid
waarna ons kan uitsien en waarheen ons met vertroue op pad is.
·
Dikwels word ons deur beproewing juis bemoedig
en versterk in ons geloof – kan julle dink hoe moes Daniël op die
spreekwoordelike wolke geloop het na sy nag se ervaring met ’n engel van God en
rustige en vreedsame leeus? As God Daniël uit ’n brandende oond en nou weer uit
’n leeukuil kon red, hoeveel te meer kan en sal Hy ons nie uit ons "brande
oonde en leeukuile" red wanneer ons Hom daarom vra nie?
·
Hierdie verhaal van Daniël is vir ons ’n
voorafskaduwing van iets veel-veel groter – van Een wat ook valslik beskuldig
was, maar anders as Daniël, het geen engel Sy moordenaars gestop nie en het Hy
die hoogste prys betaal – vir ons! Net soos Daniël hoef ons geen aardse regter
te vrees nie, want God is ons Regter en deur Jesus se soendood is ons reeds
vrygespreek.
Wanneer
ons, ons vertroue plaas in Jesus Christus vind iets merkwaardigs plaas.
Dieselfde krag wat Daniël gered het – dieselfde krag wat Christus uit die dood
opgewek het, word ons ook deelagtig ~ ...en hoe geweldig groot sy krag
is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag
wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel
aan sy regterhand laat sit het... (Ef.1:19-20). Hierdie selfde krag het ons
reeds uit ’n geestesdood opgewek, maar sal ons ook opwek uit die fisiese dood wat
op ons almal wag, waarna ’n ewige saligheid op ons wag!
[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente
(Drie Riviere) – Sondag 24 November 2013