1.
INLEIDING:
Wanneer ons kyk na hierdie gedeelte
uit Openb.19, het ons voorwaar nodig om ’n paradigma skuif te maak (sommige
in elk geval). Vir baie
jare en uit die meeste oorde word hierdie gedeelte gesien as die tweede koms
van die Here Jesus Christus, wat nog iewers in die toekoms lê. Hierdie gedeelte
bring dan ’n radikale onderskeid tussen hoofsaaklik vier hoofdenkrigtings in
die teologie, nl. aan die eenkant, die Pre-Millennialistiese siening (of
"dispensationalism") en
die Historiese Pre-Millennialisme en aan die anderkant, die A-Millennialisme en
Postmillennialisme.
Die dispensasie-siening leer dat
Christus na ’n tydperk van erge verdrukking wat sewe jaar sal duur, sal
terugkeer – dit lê dus nog steeds in die toekoms. Nadat Hy gekom het, sal Hy Sy
Koninkryk op aarde setel en vir ’n duisend jaar hier regeer. Wat egter
belangrik is, is om ook te noem, dat die gelowiges "weggeraap" ("rapture")
sal word voor die sewe
jarige verdrukking op aarde sal losbars (aldus die "Dispensasionaliste"
of Pre-Millennialiste).
Daar is egter ook verskeie strominge in hierdie siening – sommige sê dat
gelowiges ’n ietsie van die verdrukking sal beleef en dan weggeraap sal word;
andere (die oorgrote meerderheid) sê dat die gelowiges voor die
verdrukking weggeraap sal word en dan is daar ook ’n groepie wat leer dat die
gelowiges aan die einde van die verdrukking, weggeraap sal word. Een ding
waaroor hierdie groepe egter saamstem, is dat die wegraping en die wederkoms
van Christus baie duidelik onderskeibaar sal wees en dat die wederkoms sal
plaasvind ná ’n toekomstige "groot verdrukking". Dit is belangrik om
te beklemtoon dat hierdie groep mense glo dat Christus se Koninkryk, eers ná Sy
tweede koms gevestig sal word – Sy Koninkryk bestaan reeds, maar Hy moet nog
eers ingehuldig word as Koning en Sy aardse heerskappy hier op aarde sal vir ’n
1000 jaar duur. Hierdie groep word in ons dae, veral verteenwoordig deur die
Charismatiese- en Pinkstergroepe en dan word talle kerkgangers en oningeligte
gelowiges in ons tradisionele Gereformeerde kerke (bv.
N.G.-, Gereformeerde- en Hervormde gemeentes), op sleeptou geneem deur ’n geweldige aanslag wat
geloods word deur boeke en films wat die Pre-Millennialistiese teologie
verkondig (boeke soos bv. die "Left-behind"
reeks en letterlik duisende ander).
Die klassieke Pre-Millennialisme (klassieke
"Dispensasionaliste"),
glo dat die wegraping en die wederkoms ter gelykertyd gaan plaasvind, maar
hulle stem saam met die Pre-Millennialiste, dat Christus se Koninkryk vir ’n
duisend jaar ná die wederkoms, hier op aarde gevestig sal wees.
Die A-Millennialiste en Postmillennialiste
(wat lg. aan betref hys ek my vlag hier), stem saam met die klassieke
Pre-millennialiste, nl. dat die wegraping en die wederkoms tegelykertyd sal
geskied ~ Wanneer die bevel gegee word en die
stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal.
Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; 17daarna
sal ons wat nog lewe, saam met hulle op
die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons
altyd by die Here wees
(1Tes.4:16-17).
Daar bestaan egter ’n fundamentele verskil wat betref die siening oor God se
Koninkryk. Die A- en Postmillennialiste sê dat Christus nié ná die wegraping,
of anders gestel, ná Christus se tweede koms (wederkoms), Sy Koninkryk hier op aarde kom voortsit
of vestig vir ’n 1000 jaar nie. Nee, ons glo dat Christus sal kom om Sy reeds
bestaande Koninkryk te voltooi, of beter gestel, te vervul. Christus het rééds
Sy Koninkryk betree, met die hemelvaart en Hy sit stééds op Sy troon en regeer tans
vanuit die hemel. Sy wederkoms aan die einde van tyd, sal Sy Koninkryk vervul,
waarop die ewigheid onmiddellik sal volg – sonder ’n tussentydse millennium (1000
jaar tydperk) dus.
Die doel van ons studie vandag, is
egter nie om in detail in te gaan op die verskillende eskatologiese modelle nie
– waarom nie? Baie eenvoudig: Omdat Openb.19:11-21 niks te make het met Jesus Christus se wederkoms nie! Dit klink dalk ’n
bietjie vergesog en radikaal vir sommige, maar ek glo ek sal daarin slaag om
dit te bewys en ook aan te toon dat Christus se Koninkryk reeds meer as 2000
jaar gelede gevestig is – "hê dus
net ’n bietjie geduld met my".
Ek sê dus, dat hierdie verse niks te
doen het met Christus se tweede koms nie, maar dit het alles te doen met Jesus
se antwoord op die dissipels se vraag oor gebed in Matt.6 en Luk.11 en dan
spesifiek t.o.v. van die woorde ~ ...laat u koninkryk kom... (Matt.6:10a;
Luk.11:2).
Openb.19 begin met ’n glansryke
visioen van die Here Jesus Christus as Oorwinnende Regter – hierdie gedeelte,
net soos die res van Openbaring, handel dus oor Jesus Christus ~ Toe het ek voor sy voete op my knieë
neergeval om hom te aanbid. “Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is ’n
mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat
Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het,
en dit is die Gees wat die profesie gegee het.” (Openb.19:10). Christus se Koninkryk is ten volle
van stapel gestuur en Hy regeer voorwaar en in Openb.19:11-16 sal ons ten
minste twee heerlike waarhede t.o.v. hiervan sien.
Vandag gaan ons na twee fasette van
Christus kyk, nl. Christus die Oorwinnaar en Christus die Regeerder.
2. CHRISTUS
DIE OORWINNAAR:
·
Openb.19:11
~ Toe het ek gesien die hemel is oop.
Daar was ’n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met
regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. Hier word van Christus gepraat en ons sien dat Hy
getrou is en dat Sy oordele regverdig is. In die Bybel word die woord
"perd" gebruik om oorlog of ’n veldslag te simboliseer en ’n wit perd
is simbool van oorwinning. Christus word derhalwe hier in v.11 gesien as die
Oorwinnaar wat op Sy wit perd ry. Hoe weet ons dat hier na Christus verwys
word? In Openb.1:5 word daar spesifiek na Christus verwys as die geloofwaardige getuie (die getroue getuie – O.A.V.) en in 3:14 as die geloofwaardige en ware getuie (getroue en waaragtige Getuie – O.A.V.). Hy wat die Getroue en Waaragtige
genoem word, het met regverdigheid (geregtigheid) gekom om te oordeel en oorlog te voer.
Die Ou Testament is vol van soortgelyke "oordeel-taal" en dan
spesifiek verwysende na Jesus Christus, bv. Ps.72:2 ~ ...sodat hy regverdige beslissings oor u volk sal vel
en aan die verdruktes reg laat geskied, so ook bv. Ps.96:11-13 ~ Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig, die see en alles daarin
moet druis, 12die veld en alles daarop moet jubel, al die bome in
die bos moet hulle verheug 13voor die Here, want Hy kom, Hy kom
om oor die aarde te heers. Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid,
oor die volke met billikheid.
Hoor
net wat Jesaja t.o.v. Christus geskryf het ~ ’n
Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ’n loot uit sy wortels sal
vrugte dra. 2Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat
wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis
verleen en eerbied vir die Here. 3Die takkie sal vreugde vind in
die diens van die Here. Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie en
nie oordeel volgens hoorsê nie. 4Hy sal die armes billik verhoor en
die ootmoediges in die land regverdig oordeel. Hy sal die goddeloses in die
land hard oordeel, met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring.5Hy
sal regverdig en betroubaar regeer (Jes.11:1-5). Jeremia het iets soortgelyks gesê ~ Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek vir
Dawid ’n regverdige spruit sal laat opskiet, ’n koning wat verstandig sal
regeer. Hy sal die reg eerbiedig en regverdig regeer in sy land. 6In
sy tyd sal Juda gered word en sal Israel veilig woon. Sy naam sal wees: Die
Here regeer regverdig oor ons (Jer.23:5-6).
Tot
hier sien ons dus dat, ongeag van watter gebeurtenis hier in Openb.19 gepraat
word, dit duidelik is dat Christus gaan kom as die volmaak, getroue, ware en
regverdige Regter – Hy is die absoluut Betroubare!
3.
CHRISTUS DIE REGEERDER:
·
Openb.19:12-16
~ Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy
kop was daar baie heerserskrone. Daar was ’n Naam op Hom
geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self. Hy
het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: “Die
Woord van God. 14Die
leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan
gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad. 15Uit sy mond het
daar ’n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref,
en Hy sal hulle met ’n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap
vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige. 16Op sy klere, by
sy heupe, was daar ’n Naam geskrywe: “Die Koning van
die konings en die Here van die heersers.”
Christus is nie alleen betroubaar nie, maar Hy is ook die
Onbegryplike en dit sien ons hier in v.12 (...wat niemand anders ken nie...).
Jesus word hier beskryf as Een met oë wat soos ’n vuurvlam is (O.A.V.). Dit spreek van Christus se rein en
alsiende oog van oordeel – Hy ken ons harte deur en deur. Hy weet as ons
bitterheid koester, of vreugde, of haat, onreinheid, of hartseer, ens. Ons moet
besef dat Hy glad nie verander het sedert die visioen aan Johannes gegee is nie
– Sy oë is steeds soos vuur – en dit is op ons gerig!
Vers 12 sê ook vir ons dat daar baie
heerserskrone op Sy kop is. Die Grieks vir "krone" in hierdie
teksvers, is διάδημα (diadēma), wat spreek van ’n koninklike kroon
en is tekenend van oorwinning. Ons het al vantevore hierdie selfde woord
gesien, maar toe was dit gebruik t.o.v. God se vyande (bv.
Openb.12:3; 13:1), maar
in daardie gevalle het dit gedui op valse gesag – Christus alleen beskik oor
alle gesag op aarde en in die hemel ~ Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel
en op die aarde (Matt.28:18
– sien ook Ef.1:20-21; Fil.2:9; 1Pet.3:22).
Jesus is die Heerser oor die
konings van die aarde (Openb.1:5). Wanneer ons aan hierdie waarheid
t.o.v. Christus se gesag en Koningskap dink, hoef ons nooit enige heerser of
despoot te vrees nie [selfs in ons werksituasie – of
huwelike(?)] – Christus
is die "aller" Heerser.
In
Openb.19:16 sien ons dat die naam, ...Die Koning van die konings en die Here van die
heersers, op
Christus se klere en wel by Sy heupe geskrywe was en in v.13 sien ons dat Sy
Naam, Die Woord van God is, maar nou sien ons hier in v.12 dat
daar ’n naam op Hom geskrywe is, wat niemand anders ken nie. Wat beteken dit?
Het ons hier te doen met ’n teenstrydigheid, of is dit bloot net nog ’n naam
wat niemand ken nie? Die woord "ken" wat hier gebruik word, beteken dikwels
om iets te besit. Wat hierdie gedeelte in v.12 dus wil sê, is dat ons as
gelowiges Hom kan ken as ...die
Woord van God, of ...Die Koning van die konings en die Here van die heersers ens.,
maar ons sal nooit in hierdie lewe, die volle omvang en betekenis van Sy Name
en daarom Sy karakter kan ken nie, ons beskik bloot net nie oor die nodige
verstand en insig om dit te begryp nie – Net Christus en Hy alleen kan die
volle betekenis daarvan verstaan en verduidelik, want Hy is die Besitter van
daardie Name – net Hy kan die volle omvang en betekenis van die majesteit van
Sy wese verstaan.
Christus
is derhalwe ook die Onbegryplike, maar dank die Here – ons kan Hom ook ken! Ons
kan Christus reeds in hierdie lewe ken as Here en Redder, maar eendag in die
ewigheid sal ons Hom ten volle leer ken in al Sy heerlikheid! Die voorwaarde
vir lg. is egter die wedergeboorte.
·
Johannes
sê vir ons dat die klere wat Jesus aangehad het, in bloed gedoop was (O.A.V.). Ons kan tereg vra waarom hier
gepraat word van Christus se klere wat met bloed deurweek is. Kom ons kyk na
Jes.63:1-6 en dit behoort aan ons ’n antwoord te verskaf ~ Wie is dit wat daar aankom uit Edom, wat
daar uit Bosra kom met bloedrooi klere aan? Wie is so indrukwekkend met
daardie rooi klere aan, so vol krag? Dit is Ek, die Here, Ek wat oorwinning
aankondig, wat magtig is om te red. 2Waarom is u klere so rooi, waarom
lyk dit soos dié van iemand wat die wynpers trap? 3Ek alleen het
die wynpers getrap, niemand van die volke het My bygestaan nie. Ek het op
hulle getrap in my toorn, Ek was woedend
en Ek het hulle getrap. Hulle bloed het op my klere gespat, en Ek het my
klere daarmee rooi gemaak. 4Ek het besluit om nou my vyande te straf; die tyd van verlossing vir my volk het aangebreek. 5Ek het rondgekyk, maar daar was niemand
om te help nie, Ek was ontsteld toe niemand My bystaan nie. Ek het self
opgetree, my woede het My bygestaan. 6Ek het volke getrap in my
toorn, Ek het hulle laat steier deur my woede, Ek het hulle bloed oor die
grond laat vloei.
Hier in Jesaja sien ons Christus as Seun van God wat red wie
Hy wil en dan spesifiek hier is dit die bloed van hulle wat Hom verwerp, wat op
Sy klere spat en dit is hierdie selfde bloed – dié van diegene wie Jesus
verwerp as Verlosser, wie se bloed, Christus se klere deurweek het in
Openb.19:13. Ons moet na die konteks kyk hier en ons sien dat dit in hierdie
gedeelte gaan oor Christus wat in ’n geveg betrokke is, daarom dat ons sê dat
die bloed hier, dié van die veroordeeldes is.
Die leërs in die hemel wat Christus op wit perde gevolg het,
kan verwys na die engele, maar dit is meer waarskynlik dat hier verwys word na
die Kerk – die Kerk in die hemel. Hierdie moontlikheid word dan ook deur die
meeste kommentare ondersteun.
Soos wat Christus op Sy triomftog ry,
sien Johannes ’n skerp swaard wat uit Sy mond kom en waarmee Hy die nasies
gaan tref, waarna Hy hulle met ’n
ystersepter gaan regeer. Omdat die swaard uit Sy mond kom, is dit duidelik
dat dit nie ’n fisiese swaard is nie, maar ’n uitbeelding van God se gesproke
Woord. In Ef.6:17 word God se Woord dan ook as ’n swaard beskryf ~ ...en vat die swaard van die Gees, dit is
die woord van God.
Die oorlog waarvan hier ter sprake is, is dus ’n geestelike oorlog en die
uiteinde van hierdie geveg is dat Christus die oorwinning gaan behaal en die
nasies met ’n ystersepter gaan regeer. Hierdie beeld kom direk vanuit Ps.2:9 ~ ... Jy sal hulle verpletter met jou
ystersepter, hulle flenters slaan soos ’n kleipot, asook Ps.110:2 ~ As die Here die septer, simbool van u mag,
uit Sion aan u oorhandig, heers dan oor u vyande!
En die naam wat op Christus se heupe
geskryf staan ~ ...Die Koning
van die konings en die Here van die heersers (v.16)? Hierdie is presies dieselfde naam as wat in 1Tim.6:15b
aan Hom toegeken word.
4.
AFSLUITING:
Hoe vind ek en jy vanoggend baat by
hierdie gedeelte uit Openbaring? As ons sê dat hierdie Skrifgedeeltes in
Openb.19 aansluit by Matt.6 en Luk.11, dan moet ons tog uit vanoggend se
boodskap vir onsself kan sê wat dit vir ons beteken. Ons het begin deur te sê
dat Hy die Oorwinnaar is en ons sê ook dat Hy die Regeerder is. Daarmee saam
bely ons ook dat Hy die Getroue; Geloofwaardige; Betroubare; Alsiende Regeerder
is wat reeds in hierdie tyd regeer as Oorwinnaar en Koning. Wat egter besonder
belangrik is, is dat ons in ons persoonlike lewe moet fokus op Sy Getrouheid;
Sy Geloofwaardigheid en verder Hom in totale oorgawe moet toelaat om in ons
lewens te regeer.
Die Nagmaal is dan juis ook 'n simbool
van die feit dat Christus in Sy getrouheid, op geloofwaardige wyse aan die
kruis vir ons sonde gesterf het en deur die Nagmaal vandag te gebruik,
proklameer ons teenoor mekaar; teenoor die wêreld en teenoor die geesteswêreld,
dat Christus die dood oorwin het en dat Hy derhalwe as Oorwinnaar vandag vir
ons 'n plek berei in die hemel waar Hy as Regeerder vandag steeds regeer en dat
Hy ons as Betroubare weer eendag sal kom haal.
Daar kan laastens ook geen twyfel
bestaan oor die feit dat hierdie gedeelte handel oor die komende Messias nie,
maar die vraag is: Na watter koms word hier verwys? Is dit ’n verwysing na Sy
finale terugkeer na die aarde, of is hierdie ’n verwysing na ’n geestelike
"wederkoms"? Soos aan die begin gesê, sal die meeste mense sê dat
hierdie ’n verwysing is na Christus se tweede en finale koms – die wederkoms,
maar die vraag is: Pas die beeldspraak van hierdie gedeelte by ’n tweede
wederkoms-beeld? Ek glo nie. Om hierdie vraag op te klaar sal ons egter moet
wag tot volgende keer.
[1] Boodskap
gebring deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek
Gereformeerde Baptistegemeente.
Vereeniging – 29 September 2013