Sunday, July 21, 2013

Die Boodskap van Daniël - 04 (Daniël se Vaste Vertroue)


1.    SKRIFLESING:
       Daniël 2 is ’n baie lang hoofstuk en ons behoort dit eintlik in een sitting deur te lees, maar t.w.v. tyd gaan ons vanoggend net kyk na die eerste 23 verse.

       Daniël 2:1-23 ~ In die tweede regeringsjaar van koning Nebukadnesar het hy ’n droom gehad wat hom so ontstel het dat hy nie kon slaap nie. 2Toe het hy die towenaars, die voorspellers, die goëlaars en die sterrekykers laat roep om sy droom vir hom uit te lê. Hulle het toe voor die koning kom staan 3en hy het vir hulle gesê: “Ek is ontsteld oor ’n droom wat ek gehad het en ek wil weet wat die droom beteken.” 4Die sterrekykers het die koning in Aramees geantwoord: “Mag die koning baie lank lewe! Vertel ons die droom, dan sal ons dit vir u uitlê.” 5Die koning sê toe vir die sterrekykers: “Ek het klaar besluit: as julle my nie die droom en sy uitleg kan gee nie, sal julle aan stukke gekap word en sal van julle huise puinhope gemaak word. 6Maar as julle die droom en sy uitleg gee, sal julle baie geskenke en groot eer van my ontvang. Gee my dus die droom en sy uitleg.” 7Hulle sê toe weer vir die koning: “U Majesteit moet die droom vir ons vertel, dan sal ons dit uitlê.” 8Toe sê die koning: “Ek weet goed julle wil net tyd wen omdat julle sien ek het klaar besluit 9dat as julle die droom nie uitlê nie, daar vir julle net een straf voorlê! Daarom het julle afgespreek om vir my ’n klomp leuens te vertel totdat die omstandighede mag verander. Vertel vir my die droom dat ek kan weet of julle sy uitleg kan gee.” 10Die sterrekykers het die koning geantwoord: “Daar is geen mens op aarde wat aan u eis kan voldoen nie. Geen koning, hoe groot of magtig hy ook mag wees, het dan ook al so iets van enige towenaar, voorspeller of sterrekyker verwag nie. 11Wat u vra, is te moeilik, daar is niemand wat dit vir u kan doen nie, behalwe die gode, en hulle woon nie onder die mense nie.” 12Toe het die koning woedend geword en opdrag gegee om al die koninklike raadgewers van Babel om die lewe te bring. 13Daar is toe ’n proklamasie uitgevaardig dat die koninklike raadgewers doodgemaak moet word. Ook Daniël en sy vriende is gesoek om doodgemaak te word. 14Daniël het toe versigtig navraag gedoen by Arjok, die hoof van die koning se lyfwag, wat op pad was om die koninklike raadgewers dood te maak. 15Hy het vir Arjok, die offisier van die koning, gevra waarom die proklamasie van die koning so genadeloos is, en Arjok het dit vir hom verduidelik. 16Daniël het na die koning toe gegaan en uitstel gevra om die uitleg aan die koning te kan gee. 17Daarna is Daniël huis toe en het hy vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel wat aan die gang is 18en hulle gevra om die God van die hemel om genade te smeek oor die geheim van die droom sodat Daniël en sy vriende nie saam met die ander koninklike raadgewers doodgemaak sou word nie. 19Toe is die geheim aan Daniël geopenbaar in ’n nagtelike visioen, en Daniël het die God van die hemel geprys. 20Daniël het gesê: “Mag die Naam van God altyd geprys word, Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, 21Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, 22wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig. 23Ek loof en prys U, God van my voorvaders, omdat U aan my wysheid en mag gegee het. U het aan my bekend gemaak wat ons van U gevra het, U het aan ons bekend gemaak wat om aan die koning te sê.” bly.

2.    INLEIDING:
       Hierdie gebeurtenis speel homself af in die tweede regeringsjaar van koning Nebukadneser. Daniël en sy vriende het hulle opleiding voltooi en word nou in Nebukadneser se paleis ontplooi om in die koning se diens te staan. Hierdie oorgang van die jongmanne se opleiding na dienswerk in die paleis laat ons egter met ’n probleem.

       In Nebukadneser se eerste jaar as koning (Dan.1:1) het Daniël en sy vriende met hul drie jaar lange opleiding begin (Dan.1:18), maar nou sien ons hier in hoofstuk 2 dat Daniël en sy vriende reeds in Nebukadneser se tweede regeringsjaar hul opleiding voltooi het – hoe moet ons dit verklaar? Kan dit wees dat hulle, hul drie jaar opleiding in twee jaar se tyd voltooi het (het hulle dus ’n jaar "gespring", soos sommige skrander kinders in die ou dae hul standerds "gespring" het?). Die mees algemene en aanvaarbare verklaring is dat hierdie drie jaar tydperk nie 3 maal 12 kalendermaande tydperke was nie, maar bloot net drie periodes wat, of kursusse, of semester tydperke was, wat in twee jaar se tyd afgehandel is – ons kan selfs ook sê dat dit 3 keer 8 maande periodes, of -kursusse was.

       Ons vind ’n tweede interessantheid in v.4, nl. dat die sterrekykers, of te wel die Chaldeërs, die koning in Aramees geantwoord het – Aramees was die taal van die dag – ’n internasionale taal en hoofstukke 2-7 was dan ook in Aramees geskryf, terwyl hoofstuk 1 en hoofstukke 8-12 in Hebreeus geskryf was – waarom was die boek dan in twee tale geskryf? Die verduideliking hiervoor is in kort dat die Hebreeuse gedeelte (1 en 8-12) handel oor die geskiedenis van die Hebreërs as nasie en God se baie spesifieke betrokkenheid by hulle as uitverkore volk, terwyl die middelste gedeelte (2-7) die doel van God met die wêreldgeskiedenis omskryf en hoe Hy Sy wil en doel met die wêreld bereik.

       Die beelde en simboliese taal wat in hierdie middelste gedeelte gebruik word, dui vir ons die koms en val van groot Ryke aan (bv. die Romeinse Ryk, ens.). Dit blyk dus duidelik uit hierdie gedeeltes, dat God nie Sy Koninkryk vestig op mistiese wyse en in ’n "buitewêreldse" sfeer nie, maar Hy vestig Sy Koninkryk deur mense van vlees en bloed en op hierdie aarde. God gebruik dan ook die drome van Nebukadneser om vir ons Sy wonderlike doel en wil te openbaar – ja selfs deur die heidense Nebukadneser.
      
3.    NEBUKADNESER SE DROOM:
       In. v.1 sien ons dat Nebukadneser ’n droom gehad het wat hom baie ontstel het en hy roep die hulp van al ...die towenaars, die voorspellers, die goëlaars en die sterrekykers (v.2) in om sy droom vir hom uit te lê. Nebukadneser is egter uiters onredelik, deurdat hy van hulle verwag om nie alleen die droom uit te lê nie, maar ook vir hom te sê wat hy gedroom het – waarskynlik was hy ontstemd deur die droom, maar soos wat dit maar dikwels ook met ons gebeur, kon hy nie regtig die detail van die droom onthou nie, maar aan die anderkant het hy dalk juis die detail van die droom onthou, maar wou hy vasstel of die klomp voorspellers regtig insig en kennis het. Hoe dit ook al sy, hierdie grote koning was in sy hart van harte net so onseker soos ’n kind.

       Uiteraard kon nie een van hierdie ...die towenaars, en voorspellers, en goëlaars en sterrekykers, die koning help nie. Trouens hulle reaksie is verstommend, want hulle waag dit om vir die koning te sê dat ...daar geen mens op aarde (is) wat aan u eis kan voldoen nie. Geen koning, hoe groot of magtig hy ook mag wees, het dan ook al so iets van enige towenaar, voorspeller of sterrekyker verwag nie (v.10). Wat hulle eintlik vir Nebukadneser gesê het, was dat hy van hulle verwag wat net God kan openbaar en dat hulle maar net mense is en nie God nie.

       Die koning is woedend en hy gee opdrag dat al sy raadgewers om die lewe gebring moet word (v.12) – natuurlik sou dit ook Daniël-hulle ingesluit het (v.13), maar voor ons daarby kom, is dit baie interessant om te sien, dat Nebukadneser twee eienskappe in sy optrede openbaar wat ons tot vandag toe nog by mense aantref – mense wat God nie dien nie, nl.:
·           Onsekerheid: Nebukadneser het beskik oor alles wat die hart begeer: rykdom; mag; status; ens., maar ’n eenvoudige en gewoonlik onsinnige droom, laat hierdie magtige man onseker en angstig. Die rede hiervoor was dat hy vir die hier en die nou geleef het en waarmee hy nie rekening gehou het nie, is dat hierdie lewe met al sy projekte en doelwitte en uitdagings, altyd aan die verander is, trouens dit was blootgestel aan die uiteindelike verdorwenheid van hierdie lewe, soos wat die Prediker in Pred.2:11 sê ~ Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, ’n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie. Die Here Jesus het in Mark.4:19 self ook gesê ~ ...maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug – presies dít was Nebukadneser se probleem en daarom was hy onseker en onvergenoegd.

       Solank as wat Nebukadneser sy sekuriteit en sy hoop gebou het op hierdie aardse dinge, sou hy teleurgestel word en sal hy voortleef in onsekerheid en dit is presies wat vandag nog met die mens gebeur.
·           Ongenaakbaarheid en Vyandigheid: Tweedens sien ons ’n ongenaakbaarheid en ’n vyandige gesindheid in Nebukadneser se optrede. Toe die raadgewers nie vir hom kon vertel wat hy gedroom het nie – praat hy nie eens van die interpretasie daarvan nie en gee hy opdrag dat hulle dood gemaak moet word (v.12).

       Ons sien hier ’n bose kringloop in aksie - as die mens in onvrede met die wêreld leef, kan hy nie vrede in homself hê nie en wanneer hy nie vrede in homself het nie, sal hy vyandiggesind wees jeens die wêreld. Trouens as jy nie vrede in jou self het nie, sal jy kwaad wees vir God en dit is presies wat ook hier met Nebukadneser gebeur, want die raadgewers sê vir hom dat dit wat hy van hulle verwag, net die gode kan doen en natuurlik weet ons dat dit net God Almagtig is wat dit kan doen (v.11) en wat is die reaksie by Nebukadneser? Toe het die koning woedend geword en opdrag gegee om al die koninklike raadgewers van Babel om die lewe te bring (v.12). Nebukadneser bal sy vuis in die gesig van God Almagtig, omdat hy nie sy sin kan kry nie, omdat hy steeds in onsekerheid verkeer; omdat hy sy vertroue in die wêreld vestig; omdat hy ongenaakbaar en vyandiggesind is.

4.    DANIËL SE REAKSIE:
       Daniël kom gou te hore wat hulle lot gaan wees en as ons in gedagte hou dat hy en baie van sy volksgenote minder as drie jaar vantevore op hardhandige, en traumatiese wyse uit hul vaderland weggevoer is, kan ’n mens maar net dink hoe hierdie jongman skielik met angs vervul kon gewees het, maar Daniël tree, in teenstelling met hoe die wêreld sou reageer, vinnig op en hy tree in wysheid en met geloof in God op. Hy rig ’n versoek tot Nebukadneser om die voltrekking van die vonnis uit te stel, omdat hy die koning se droom sal uitlê. Voor hy egter dadelik met ’n uitleg vorendag kom, wend hy homself eers tot Sy hemelse Vader vir genade en leiding om die droom te kan uitlê. Hier is geen sprake van arrogansie en grootdoenerigheid by Daniël te bespeur nie. Nee, hy maak sy absolute afhanklikheid van God Almagtig bekend en hy bid saam met sy vriende tot die Here om hulp – en die uitkoms?

       Wat hier opval, is dat Daniël se smeek om genade (v.18), ’n ego is van Salomo se gebed tydens die toewyding van die Tempel in 1 Kon.8:50 en dat dieselfde Hebreeuse woord in beide gevalle gebruik word, nl. rahamim en die betekenis van beide hierdie gebede is ’n versoek; ’n smeking, dat God getrou aan Sy Woord en beloftes sal wees en hulle in hul oomblik van nood, uit die hand van hul vyand sal red. Net soos Salomo, het ook Daniël en sy vriende, God onvoorwaardelik geglo en vertrou dat Hy hulle wel sou verlos.

       Die Here openbaar Sy almag, deur Nebukadneser se hart sag te maak vir Daniël se versoek om uitstel, want toe die wêreldse raadgewers, "gespeel" het vir tyd het Nebukadneser woedend geword, maar nou gee hy toe en verleen uitstel aan Daniël.

       Die Here toon verder Sy liefde en genade vir Sy kind, deur alles aan Daniël te openbaar wat nodig is om die koning tevrede te stel en om hom en sy vriende se lewens te spaar. Wat Daniël natuurlik nog nie geweet het nie, is dat hierdie gebeure die begin was van baie groter dinge wat op hom en sy vriende gewag het (vv.19-23).   

5.    DANIËL BESING GOD SE KARAKTER:
       Nadat die Here die geheim van Nebukadneser se droom aan Daniël geopenbaar het, het Daniël in vv.19-23, God geloof vir Sy mag en wysheid.

       Ons moet verstaan en Daniël het verstaan, dat God en net God alleen oor die mag beskik om wêreldgebeure te beheer. Die toekoms van Babel het nie in die hande van die Babiloniese afgode gelê nie – daardie gode wat nie oor die vermoë beskik om te seën, óf te vervloek nie, trouens daar is geen aardse god wat vergelyk kan word met die lewende en ewige Skepper God nie, trouens Hy sê self in Jes.46:5-10 ~ Met wie kan julle My vergelyk, aan wie kan julle My gelykstel, met wie kan julle My op een lyn stel, wie kan ’n vergelyking met My deurstaan? 6Mense gooi goud uit hulle geldsak uit en weeg silwer op ’n skaal af; hulle huur ’n goudsmid, en hy maak daarvan ’n afgodsbeeld. Dan buig hulle voor hom en aanbid hom. 7Hulle tel hom op hulle skouers en dra hom, hulle sit hom op sy plek neer en hy staan daar, hy kan nie van daardie plek af padgee nie. As iemand na hom roep, antwoord hy nie, hy help hom nie uit sy nood nie. 8Dink hieraan en luister, neem dit ter harte, julle oortreders. 9Dink aan wat vroeër gebeur het, lank gelede; Ek is God, daar is geen ander nie; Ek is God, daar is niemand soos Ek nie. 10Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek. Daniël het geweet dat daar geen ander god soos die lewende God is nie en daarom het hy homself in die eerste plek na Hom gewend en nou loof en prys hy die enigste ware God vir Sy verlossing.

       Ek het gesê dat God wêreldgebeure beheer, maar Hy openbaar dit ook aan Sy diensknegte. Hy skenk wysheid  aan die wat dit nodig het en Hy openbaar dit wat nodig is t.o.v. die toekoms aan Sy kinders, soos in Daniël se geval. Hierdie feit staan so in skrille kontras met dít wat die Babiloniese raadgewers vir Nebukadneser gesê het, toe hulle in v.11 gesê het ~ Wat u vra, is te moeilik, daar is niemand wat dit vir u kan doen nie, behalwe die gode, en hulle woon nie onder die mense nie... "behalwe die gode" – en hulle woon nie onder mense nie, m.a.w. hulle gode is so ver verwyder van hulle af, dat hulle nie eers met die mens kan praat nie. Daniël se God lewe egter en Hy kán met Sy kinders praat en Hy doen dit inderdaad ook. Daar ís maar net een God en niemand is soos Hy nie.

       Hierdie is nie ’n feit wat net gegeld het vir Daniël en sy vriende nie – hierdie is ’n waarheid wat ons in ons dag ook moet vashou wanneer ons na antwoorde en oplossings soek, want daar is soveel stemme; soveel wêreldse wysheid en krag wat ons denke en ons fokus – ons geloof, so maklik kan verduister en besoedel. Soms kom dit in die vorm van mense wat God openlik verag en verwerp; soms in die vorm van vroom godsdienstigheid; of waar gesê word dat die seisoen van die Woord en prediking verby is en daar nou op mistiese en "New Age-wyse" gemediteer word en jou innerlike self verlig kan word deur te teer op allerlei Oosterse geloofservarings en metodes. Soms is dit in die vorm van wêreldse seminare en "quick-fix" planne wat aan ons opgedring word; in "postive confession", ens. Die wêreld se wysheid en oplossings lyk baie dikwels so mooi; so goed; so aantreklik; so eenvoudig, dat ons maklik "val" daarvoor – veral as bekendes en vooraanstaandes en selfs teoloë aan bekende universiteite dit propageer.

       Wat hierdie mense vergeet, is dat hul planne en "wysheid" en pogings, gegrond word op presies dieselfde verganklike idees as dié waarop Nebukadneser en sy sterrewiggelaars hul planne en "wysheid" gegrond het – dit kom alles tot niks! Hoe kan dit tot enige iets kom as hulle die bestaan en die soewereiniteit van God Almagtig ontken en ignoreer – Hy wat alles geskep het en alles beheer ~ Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag (Spr.1:7).

       Daniël loof en prys die Here egter ook vir die feit dat God dié Een is wat ...tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel (v.21a). Daniël het hierdie feit geken, nl. dat konings kom en gaan, omdat hy die woorde van die profesie van Jesaja goed moes geken het en daarom loof hy die Here vir Sy soewereiniteit ~ God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane. Hy span die hemel oop soos ’n tentdoek, oop soos ’n tent vir die mense om onder te woon. 23Hy maak die vername mense tot niks, die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie. 24Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars het hulle wortelgeskiet, of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor, die stormwind vat hulle weg soos stoppels. 25Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige (Jes.40:22-25). God is in beheer van alles en almal – ook die alledaagse, maar ook van ’n regering wat ons, in ons dag moontlik mag frustreer ~ Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. (En dan hierdie woorde) – Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God (Rom.13:1).

       Daniël het egter nie net God se almag besing nie – in v.22 besing hy ook die feit dat God alwetend is. Daniël loof die Here omdat Hy, ...ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is. Verborge en ondeurgrondelike dinge soos die mens (ons) gedagtes wat weggesteek kan word vir andere, maar nie vir God nie. Hieroor sê Dawid in Ps.139:4-6, o.a. die volgende ~ Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. 5U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. 6Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.
      
       Nebukadneser het gedink dat hy sy droom geheim gehou het vir selfs die waarsêers, maar hy het nie rekening gehou met die alwyse en alwetende God nie!

       Die besef dat ons Here alwetend en alwys is, behoort vir ons geweldig vertroostend en versterkend te wees, want wanneer ons nie herwaarts of derwaarts weet nie, sal Hy ons lei, want Hy weet wat Sy wil vir ons is. Al weet ons nie wat die toekoms inhou nie, weet ons dat Hy die toekoms in Sy hande hou.

       Ons moet egter ook terselfdertyd besef dat God te alle tye die duistere dinge in óns lewe raaksien en daarom moet ons o.a. Paulus se oproep in Kol.3:8-10 baie ernstig opneem ~ Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper.

       In v.23 sien ons dat die Here reageer op Daniël se gebedsversoek en sy lofuitinge en Hy het nie alleen die inhoud van die droom aan Daniël geopenbaar nie, maar Hy gee ook die uitleg van die droom aan Daniël en daarvoor loof en prys Daniël Hom.

       Hoe openbaar God Homself aan ons in hierdie dae? Deur Sy Woord en die vraag is: Wat maak ons met God se openbarings aan ons? Vertrou ons dit? Glo ons dit? Eer ons Sy Naam daarvoor? Pas ons dit toe in ons lewe? 

6.    AFSLUITING:
       Nog iets wat ons uit hierdie optrede van Daniël kan en moet leer, is dat hy die oomblik toe hy gekonfronteer was met ’n krisis in sy lewe, hy nie gedoen het wat ons so dikwels doen nie – nee, hy het heel eerste na Sy Hemelse Vader gegaan. Vir hom was die aanhaling van Jonathan Edwards ’n absolute waarheid en realiteit: Lord, stamp eternity on my eye-balls".

       Ons is so geneig om altyd eers die heel ergste in die situasie te sien en allerlei nagmerries oor die uitkoms van die situasie te sien en te bedink. Of ons maak gou ons eie plannetjies en neem besluite, sonder om ons Hoë Priester eers daaroor te raadpleeg. Ons mors ure en dae en weke en maande en soms selfs jare om ongelukkig te wees; bitter te wees; tyd te mors op wêreldse dinge wat nie is nie en wat nooit sal wees nie (’n beter werk; "potholes"; korrupsie; mense wat my teleurstel; ens., ens.). In werklikheid bal ons ook die vuis teen God soos wat Nebukadneser gedoen het, in plaas daarvan om alles teen die agtergrond van die ewigheid te sien en ons te onderwerp aan God se soewereine wil en plan met ons lewe en Sy eer in die proses te soek.

       Ons moet ten alle tye, ongeag hoe groot of hoe klein ons krisis is; of die besluit wat ons moet neem, heel eerste na ons Voorspraak en Hoë Priester, Jesus Christus gaan.

       As ons, ons harte en ons gedrag, of optrede wil laat beïnvloed en verander deur die Evangelie, is dit belangrik dat ons, ons gevoelens en gedagtes en emosies, op die regte wyse sal hanteer – ons moet ons gedagtes rig op God se ordes – op Sy Woord met ander woorde. Ongelukkig mis ons so baie, want ons het in ’n groef verval deur maar sommer alles net gou-gou self uit te sorteer en/of ons emosies die loop te laat neem oor die situasie. C.J. Mahaney som dit baie mooi op as hy sê: "We let our feelings tell us what is true, instead of letting the Truth transform our feelings." Wanneer ons, ons gevoelens en eie idees oor ons omstandighede vertroetel gee ons ’n groter prioriteit daaraan as aan die geskrewe Woord.

       Die opneem van my kruis BEGIN waar ek my gevoelens; my emosies; my onsekerhede en my worstelinge, onderdanig maak aan God en Hom vra en vertrou dat Hy Sy Woord en wat Hy sê, my sal laat beheer  en nie sal toelaat dat my eie gedagtes en gevoelens dit  doen nie.

       Laat ons die Psalmdigter se woorde in Ps.42:12 ons eie maak ~ Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God! Kom ons bid ook die woorde van Dawid in Ps.43:3-5 gereeld vir onsself en vir mekaar ~ Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei en my bring na u heilige berg, na u woning! 4Laat my ingaan na die altaar van God, die God oor wie ek wil jubel en juig, dat ek U kan loof met die lier, o God, my God! 5Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 21 Julie 2013

Sunday, July 14, 2013

Die Boodskap van Hooglied - 02 (Eerste Siklus – Hartstogtelike Verwagting - 02)


1.    INLEIDING:
       In die eerste gedeelte van hierdie Eerste Siklus van die boek van Hooglied, het ons gesien dat die koning en sy geliefde in gesprek met mekaar was. Ons het ook gesien dat die minnaar se soene in v.2, verwys na die gelowige se genieting van Christus se liefde; die geur van sy parfuum in v.3 verwys na die voortreflikheid van Christus se Naam en in v.4 het ons gesien dat die privaatheid van sy kamer, vir ons dui op die intimiteit daarvan om in Christus se teenwoordigheid te wees.

       Kom ons kyk dan nou na die tweede gedeelte van hierdie eerste siklus.

2.    SKRIFLESING:
       Hooglied 1:7-17 ~ “Sê my, jy wat ek liefhet, waar laat jy jou kleinvee wei, waar laat jy hulle rus op die middag? Hoekom moet ek my agter ’n sluier wegsteek en by die veetroppe van jou vriende rondsoek?”
Hy:
8Hy: “As jy dit nie weet nie, mooiste van al die vroue, loop maar net op die kleinvee se spore en laat jou bokkies wei by die veewagters se tente. 9“Soos ’n spogperd in die farao se strydwa, so is jy vir my, my liefling, 10met jou lieflike wange tussen jou oorbelle, jou nek met sy kettinkies om. 11Ons sal vir jou oorbelle van goud maak, met silwerknoppies daarin.”
Sy:
12“So lank die koning op sy rusbank gelê het, het my nardusparfuum se geur versprei. 13Die man wat ek liefhet, is vir my ’n sakkie mirre wat tussen my borste lê. 14Die man wat ek liefhet, is vir my ’n bos hennablomme uit die wingerde van En-Gedi.”
Hy:
15“Jy is mooi, my liefling, jy is mooi, jou oë is duiwe.”
Sy:
16“Jy is mooi, man wat ek liefhet, baie aantreklik. Ons bed is die groen blare, 17ons huis se balke is die seders, sy daklatte is die
sipresse.

3.    DIE BEMINDE SE VERLANGE (vv.7-8):
Ons as gelowiges gaan gedurig deur fases in ons geestelike lewe waar ons o.a soms onsekerheid ervaar oor ons posisie in Christus en selfs van tyd tot tyd, of ons régtig aanvaarbaar in die oë van die Vader is.                                         Hierdie selfde onsekerheid het ons by die beminde in vv.5-6 gesien, toe sy gesê het ~ Moet my nie so aankyk omdat ek donker is nie, omdat die son my gebrand het nie: my broers het my so bruin laat brand, hulle het my die wingerde laat oppas; ek kon my eie wingerd, myself, nie versorg nie. Die beminde gaan in v.7 voort deur haar onsekerheid te verwoord, wanneer sy vra ~ ...waar laat jy jou kleinvee wei, waar laat jy hulle rus op die middag? Hoekom moet ek my agter ’n sluier wegsteek en by die veetroppe van jou vriende rondsoek?

       A.g.v. haar onsekerheid, verlang die beminde na haar minnaar se teenwoordigheid, of voortgesette teenwoordigheid en sy spreek hom aan met die gebruiklike antieke bynaam van die destydse liefdespoësie, nl. "my skaapherder". Sy sê dan ook dat indien sy nie saam met hom kan wees nie, sy soos ’n versluierde vrou sal moet optree. Soos verlede keer reeds aangedui, kan hierdie sluier op óf ’n prostituut dui (Ragab bv. – Gen.38:14-15), óf dit dui op ’n vrou wat in rou verkeer – ’n vrou wat rou omdat haar geliefde nie by haar is nie (Eseg.24:17, 22). Beide hierdie betekenisse dui op haar karakter en haar hartsbegeerte.
Karakter: Sy wil nie agter die man van haar drome aanloop soos ’n "slegte vrou" nie.
Hartsbegeerte: Sy is ook totaal "uitverkoop" aan hom en wil daarom by hom wees, omdat hy haar gelukkig maak.

       In v.8 ontvang die beminde ’n reaksie en antwoord op haar onsekerheid en minderwaardigheid, maar eers wil ek net daarop wys dat hierdie vers nie noodwendig ’n weergawe van die minnaar se antwoord op haar vraag is nie. Baie mense sê dat dit die minnaar se reaksie moet wees, maar daar is waarskynlik ’n groter moontlikheid dat hierdie reaksie eerder van haar vriendinne gekom het – daarom dat die OAV en die meeste Engelse vertalings nie die woordjies "hy" en "sy" in hierdie gedeelte van die dialoog gebruik nie. Die rede hiervoor is omdat die reaksie té afsydig klink om van die minnaar te kom. Hierdie vers kan dus as volg geparafraseer word: Indien jy, van alle mense, nie weet waar jou geliefde homself bevind nie, moet jy eerder na die ander skaapherders gaan, want jy sal hom daar vind.

Wat sou hierdie reaksie en antwoord op die beminde se versugting beteken?
·           Eerstens, dui dit vir ons daarop dat die beminde nie een oomblik sonder haar minnaar wil wees nie.
·           Dit kan egter ook impliseer dat hy nie op daardie oomblik by haar is nie, maar wel by sy vriende – die ander herders en dat hy besig is om te werk, of om net bietjie die alleenheid van die natuur opsoek. Almal van ons het tog alleen tye nodig om dinge te oordink en sommer maar net eenkant te wees.

       In beide hierdie gevalle is daar vir ons as gelowiges ’n les te leer. In v.8 word daar aan die beminde gesê dat sy maar net op die kleinvee se spore moet loop. Ons word dus aangemoedig om op dieselfde geloofpad te loop as al die ander gelowiges voor ons – Abraham, Isak en Jacob het op hierdie geloofpad geloop. So ook Johannes en Paulus en Jakobus. Ons moet in die woorde van Jer.6:16 vra na die regte pad wat na die Here lei ~ So sê die Here: Staan by die kruispaaie en kyk, en vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en loop dit, dan sal julle rus vind. Of in die woorde van Hebr.6:12
~
Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.

       Net soos wat die beminde uitgegaan het, op soek na haar geliefde, moet ons ook in die woorde van Hebr.13:13-15 ~ ...uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het, 14want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige. 15Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.

4.    DIE MINNAAR SE LOFLIED (vv.9-11):
       In vv.9-11 praat die minnaar weer met sy beminde en hy noem haar sy "liefling" en hy vergelyk haar ook met ’n paar dinge.
·           My Liefling: Eerstens noem hy haar dan "my liefling". Die betekenis van hierdie Hebreeuse woord kan ook dui op "my vriend", of "my sielsgenoot", of "my kameraad". Hierdie uitdrukking is die eerste van nege keer wat dit in hierdie lied voorkom. Dit dui dus vir ons daarop, dat ons gedurig in die Here Jesus se gedagtes is en dat ons voortdurend op Sy lippe is. Christus se liefde vir ons is onbeskryflik groot en intens – Sy liefde is opreg; onveranderlik; sterk en ewig. Ons vind ’n mooi samevatting daarvan in die woorde van Ps.86:13 ~ ...want u liefde vir my was groot: uit die dieptes van die dood het U my gered.

       Hierdie herhaling van die uitdrukking, "my liefling" dui ook vir ons daarop dat ons voortdurend op die lippe van die Here Jesus is – Hy is m.a.w. voortdurend besig om vir ons in te tree by die Vader ~ Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons (Rom.8:34).

       Die wortelbetekenis van hierdie woord "liefling" is ook om te bewaar en om te gee op vir iemand, maar dan spesifiek met die klem op die genot daarvan om te bewaar en om te gee – dit is hoe die Here Jesus oor ons voel – dit verskaf aan Hom plesier om ons te bewaar en om vir ons om te gee!

·           ’n Spogperd: Die minnaar vergelyk sy beminde voorts met die Farao se spogperde. Egipte was bekend vir haar uitstaande gehalte en mooi, sterk en statige perde. Salomo moes ook ’n voorliefde vir spogperde gehad het, want ons lees in 2 Kron.1:16-17, dat hy van hierdie Egiptiese perde ingevoer het ~ Sy perde was afkomstig uit Egipte en Kewé. Die handelaars van koning Salomo het hulle in Kewé gaan koop vir die prys waarop ooreengekom is. 17Uit Egipte is ’n strydwa vir net minder as sewe kilogram silwer ingevoer en ’n perd vir een en ’n driekwart kilogram. Dieselfde pryse is aan al die Hetitiese en Aramese konings betaal. Die invoer het deur bemiddeling van die handelaars geskied. Salomo vergelyk sy beminde met hierdie pragdiere van hom en is dit ’n geweldige kompliment vir haar om met sulke pragdiere vergelyk te word, want perde was vir mans in daardie tyd ’n kosbare besitting – iets wat getuig het van koninklike status en van skoonheid – iets waarop die eienaar geweldig trots was.

       Wat leer hierdie vergelyking egter vir ons as gelowiges? 1 Pet.2:9-10 verwys na ons as gelowiges as volg ~ Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 10Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.

       Soos hierdie perde teen ’n hoë prys vanuit Egipte af ingevoer was, net so is ons as gelowiges teen ’n baie duur prys gekoop en die eiendomsvolk van Jesus Christus gemaak – 1 Pet.1:18-20a ~ Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. 20Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem.

       Hierdie perde het vir koning Salomo groot plesier verskaf en net so is ons ook ’n vreugde vir die Here, daarom dat Hy reeds na ons in die vorige vers verwys het as "my liefling".

       Perde is ook baie wild wanneer hulle jonk is, maar mettertyd word hulle ingebreek en onderwerp ’n perd hom aan sy eienaar en werk hulle in ’n eenheid saam wanneer hulle voor die koning se strydwa ingespan word. Dieselfde met ons as gelowiges – ons is een in Christus Jesus en ons moet ons ook aan Hom onderwerp en in eenheid met mekaar staan, sodat ons Hom deur ons onderwerping en eenheid kan verheerlik ~ Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe (Ef.4:3) en Fil.1:27 ~ ...dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie.

       Die kerk van die Here Jesus mag nooit soos ’n trop wilde perde wees nie, maar soos perde wat ingebreek is en in eenheid saam aan die strydwa trek.

·           Haar Fisiese Skoonheid:
       Nog ’n aspek van hierdie koninklike perde, was dat hulle gesigte, nekke en maanhare, pragtig versier was met allerlei kleurvolle linte en krale, ens. Die minnaar gaan voort in v.10 en hy vergelyk sy beminde met die pragtig versierde perde en verwys na haar pragtige wange en nek wat net so mooi versier is. Vrouens het hulle graag versier in daardie dae met kettingkies, juwele, nek- en kopbande, neusringe; armbande; grimering, ens. Hulle het o.a. ook linte in hul hare ingevleg.

       Die geestelike toepassing van hierdie beeld, is dat ons na die beeld van Christus geskep is en dat ons Sy skoonheid en heerlikheid in hierdie wêreld uitstraal, d.m.v. die Vrug van die Gees (Gal.5:22-25), asook die opdragte soos vervat in Jesus se Bergpredikasie (Matt.5:1-12), of in die woorde van Paulus in Kol.3:12-17 ~ Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 14Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 16Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

       Dit is so dat al hierdie geestelike genadegawes in ons harte ontspring en daarom verwys Salomo na sy beminde se pragtige wange en nek, want dit is haar innerlike skoonheid wat weerklank vind in haar uiterlike voorkoms – dit is waarom Jesus ook in Matt.5:14-16 vir ons geleer het dat ons ’n ...lig vir die wêreld (is). ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik. Wanneer ons dit sê, moet ons terselfdertyd besef dat hierdie skoonheid nie deur onsself opgeklits kan word nie en dat dit ook nie letterlik uit uiterlike versiersels bestaan nie, maar dat dit uit genade aan ons geskenk word en voortspruit uit ’n opregte en nou wandel met die Here Jesus Christus ~ Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie. 4Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde (1 Pet.3:4).

       Christus sluit hierdie huidige gedeelte af deur in v.11 in die meervoud te praat – nou sê Hy ~ Ons sal vir jou oorbelle van goud maak, met silwerknoppies daarin. "Ons" – waarom die meervoudsvorm? Die Here wil ons daaraan herinner dat ons heiligmaking, ’n heilige en genadige werk is deur al drie die Persone van die Goddelike Drie-Eenheid – die Vader, die Seun Jesus Christus en die Heilige Gees. Dit is ’n tipiese verbondswerk. Ons kan nie self hierdie ...oorbelle van goud, met silwerknoppies daarin maak nie, want dit sal net op chaos en mislukking uitloop, omdat ons vlees dit net nie sal toelaat nie. Nee, net God-Drie-Enig kan dit in ons bewerkstellig. Hy berei ons voor, want Hy doen dit, ...om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, 27sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik (Ef.5:26-27).

5.    DIE BEMINDE SE HEERLIKE GEUR (vv.12-14):
       Die verwysing na ’n "rusbank" in v.12, is nie ’n beskrywing van ’n rusbank soos ons dit ken nie, maar eerder ’n beskrywing van die minnaar se omgewing waar hy graag tyd deurbring – die weivelde; die gras en die bome. Ons vind ’n beskrywing van hierdie "rusbank" in 1:16-17 ~ Jy is mooi, man wat ek liefhet, baie aantreklik. Ons bed is die groen blare, 17ons huis se balke is die seders, sy daklatte is die sipresse.

       Die minnaar se loflied in vv.9-11 en sy poging om haar nog meer en mooier te versier, het uiteraard ’n effek en reaksie by die beminde tot gevolg – sy vind haar minnaar onweerstaanbaar en sy dink terug aan die kere dat sy en haar minnaar tyd alleen in die natuur spandeer het (sy "rusbank") en sy dink spesifiek aan die duur parfuum en lekker reukgoed wat sy aan haar gehad het. Sy verwys in v.12 na die nardusparfuum wat sy aan haar gehad het. Die nardusolie wat sommige vroue gebruik het, was ’n baie duur en skaars olie wat afkomstig was van ’n plant wat in die Himalajagebied in Indië aangetref is. Die skaarsheid, en derhalwe die waarde van hierdie eksotiese reuk, het hierdie olie baie gesog gemaak, veral as ’n liefdesgeur.

       In v.13 verwys sy na mirre wat ’n welriekende gom was wat van bome in Suid-Arabië afkomstig was. Hierdie reukmiddel was die hoofbestanddeel in die reukwerke wat in die Tabernakel gebruik was (Eks.30:23-33). Ook was dit geassosieer met die balsemingsproses van lyke destyds. Mirre was gewoonlik in vloeistofvorm in klein houertjies gedra, maar ook in vaste vorm, sodat dit in ’n sakkie onder vroue se klere gebruik kon word.

       Die hennaplant waarna in v. 14 verwys word, is ’n struik wat volop in Palestina voorgekom het en wanneer die blare fyn gedruk was, het daar ’n oranje-rooi tot geel kleurstof gevorm waarmee vroue hul naels en hare gekleur het, maar die beminde verwys egter hier na die reuk van die hennaplant.

       Sy maak ook melding van die En-Gedi ("plek van die wilde-bokke"). Dit was ’n welige oasis langs die suidelike kusgebied van die Dooie See en was veral bekend vir sy pragtige wingerde en allerlei ander pragtige tropiese plante waarvan eksotiese speserye en grimering en parfuum gemaak is en net soos wat Farao se perde die heel beste was, was die produkte van die En-Gedi die heel beste.

       Hierdie geurmiddels wat die beminde aan haar het, laat ’n mens dink aan Joh.12:3 ~ Toe het Maria ’n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie. Maria se motief met haar optrede was om haar liefde vir Jesus te betoon, nadat Jesus oorvloedige liefde aan haar en haar familie betoon het. Haar liefdesdaad het getuig van onselfsugtige en oorvloedige liefde. Haar optrede het egter ook getuig van ’n onselfsugtige liefde, waar sy haarself verneder en neerlê – sy het nie net haar eie kosbare en duur olie op Jesus uitgegooi nie, maar sy het dit ook met haar hare afgedroog – sy kon haar diensknegte gevra het om Jesus se voete af te droog, maar sy doen dit self – met haar hare – daardeur toon sy haar nederigheid en onderwerping aan Jesus.

       God die Vader se Gesalfde moet ook ons Gesalfde wees – laat ons ook ons "olie van opregte en oorvloedige liefde" op Hom uitstort en laat ons onsself verneder deur Hom in opregtheid en oorgawe te dien. Laat ons ook die lieflike geur van Jesus Christus in ons huise duidelik laat ruik, sodat diegene wat in ons huise inkom, ook daardie heerlike "geur van Jesus" kan ruik.

       Is ons bereid om onsself tekort te doen, t.w.v. Christus Jesus? Is ons bereid om ons beste vir Hom te gee? Ons gemeenskap met Hom gaan nie net oor onsself nie – dit gaan oor Hom, sodat die genadegawes in ons kan toeneem; sodat ons opregte berou oor ons sonde sal hê; sodat ons geloof in Hom kan groei; ons liefde vir Hom; ons vreugde in Hom; ons hoop op die ewigheid saam met Hom; sodat ons Hom meer en meer kan verheerlik in en deur ons lewe.

       Is ons na aan Jesus? Is ons verhouding so intiem met Hom, soos die sakkie mirre wat tussen die beminde se borste lê
  
       Hierdie drie verse waar die beminde praat van die koning se omgewing waar hy graag deurbring en haar reukmiddels en grimering wat sy gebruik (vv.12-14), dui vir ons as gelowiges op die beste en baie spesiale en intieme gemeenskap wat ons met ons Here Jesus geniet.

6.    LAASTE LOFUITINGE:
       Die dialoog tussen die minnaar en sy beminde sluit in vv.15-17 af met twee kort sinsnedes. Eerstens sê die Minnaar ~ Jy is mooi, my liefling, jy is mooi, jou oë is duiwe. Weereens is dit Jesus wat hier van Sy Bruid, die Kerk praat en Hy sê nie mooi dinge vir ons sodat ons goed en selfvoldaan daaroor kan voel nie, maar dat ons moet besef dat daar besondere skoonheid in ’n heilige lewe opgesluit lê en dat Hy besondere genoeë daarin vind as ons goeie werke aan die dag lê – goeie werke wat uit genade voortgebring word.

       Hy verwys na oë wat so mooi soos dié van duiwe is – die duiwe van die Midde-Ooste het groot oë en dit verteenwoordig die prominente eienskappe van die beminde se skoonheid. Verwysings na en vergelykings met duiwe in die Woord, word geassosieer met o.a. opregtheid (Matt.10:16 ~ Wees...opreg soos duiwe...); met sagtheid, reinheid en eenvoud – en dít is wat die Here Jesus in ons sien en wil sien.                                                                                                                                                      
                                                                              
       Die beminde antwoord haar minnaar in vv.16-17. Hierdie is die kerk wat haar waardering vir Christus se genade en liefde uitspreek. Die Israeliete het hierdie uitspraak verwoord, toe hulle in Eks.15:11 gesê het ~ Wie van die gode is soos U, Here? Wie is soos U, so hoog geëer en heilig? In lofsange word U vereer, Bewerker van wonderdade!   

7.    AFSLUITING:
       Die Here Jesus Christus het ons oneindig lief en Hy kommunikeer dit daagliks en onophoudelik aan ons. Die vraag is, of ons op Sy liefdesuitsprake reageer en hóé reageer ons daarop? Het ons Hom waarlik lief? Tree ek in hierdie wêreld, maar ook in my binnekamer op soos iemand wat Hom waarlik lief het? Verlang ek daarna om saam met Hom op Sy rusbank te wees? Hy noem ons Sy liefling – kan ons dit waarlik ook vir Hom sê?


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 14 Julie 2013