Sunday, October 7, 2012

"Ter Helle Neergedaal



Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.    VOORAF:
       Ek wil vanoggend ’n onderwerp aanpak wat deur baie teoloë beskou word as een van die moeilikste teologiese onderwerpe in die ganse Woord. Aanvanklik het ek gedink dat dit tog voor die handliggend is, want die Woord moet mos vir ons die antwoorde hierop verskaf, maar hoe langer ek hiermee geworstel het, hoe meer het ek besef dat hierdie geen eenvoudige saak is nie en dat die teoloë reg is. Ek het egter ook besef dat dit nie ’n onderwerp is wat ek maar net daar eenkant kan "parkeer" en daarvan vergeet nie, want ek wou weet wat die verklaring is; wat die eindresultaat is. In my worsteling en soeke na antwoorde, het ek ook besef dat hier baie meningsverskil bestaan en dat nie een van ons waarskynlik ooit in hierdie lewe ’n "aller-antwoord" sal kry nie en dat ons aan die einde van ons soeke na ’n antwoord, waarskynlik moet besluit wat vir ons die regte standpunt is, maar terselfdertyd nie andere "afskiet", of selfs veroordeel as hulle die alternatief glo nie (let net op dat daar wel standpunte is wat lynreg téén die Woord indruis en daarna sal ek net kortliks verwys).

       Ons moet ook verstaan dat hierdie ’n geweldige omvangryke onderwerp is en waaraan ’n mens baie moeilik in een sessie reg kan laat geskiet, maar kom ons probeer....
 
       Die meeste van ons, indien nie almal nie, ken of het al ten minste gehoor van die "Twaalf Artikels" of te wel "Die "Apostoliese Geloofsbelydenis". Ons haal dit baie dikwels aan, of ons bid gereeld rondom dit, of wanneer ons getuig oor ons geloof, sal ons stellings maak wat, wetend of onwetend, presies ooreenstem met die "Twaalf Artikels" – uitsprake soos: (1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. (2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here... of die vyfde artikel wat sê: (5) ...wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood.

       Van ons ouer garde kan dalk ook onthou hoe ons die "Twaalf Artikels" in die kerk, hardop saam met die predikant opgesê het en, bygesê, hoeveel van ons het die volgende woorde nagesê, sonder om regtig daaroor na te dink: (4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel – spesifiek dan hierdie laaste uitdrukking, ... neergedaal het na die hel. Jesus neergedaal na die hel? Was Jesus regtig in die hel? God se Seun onder die heerskappy van die satan?  

       Net ’n laaste opmerking voor ons na hierdie artikel in die "Apostoliese Geloofsbelydenis" kyk. Die "Apostoliese Geloofsbelydenis" verwys nié na ’n spesifieke kerkgenootskap nie, maar ook is dit nié deur die Apostels opgestel nie. 'n Presiese datering vir die "Apostoliese Geloofsbelydenis" is nie moontlik nie, maar alle aanduidings is dat die geskrif teen ongeveer die derde eeu na Christus al baie algemeen en wyd bekend was in die vroeë-Christelike kerk. Dit kon moontlik 'n geskrif wees wat as antwoord moes dien op die dwaalleer wat sy kop aan die einde van die eerste eeu na Christus in die kerk uitgesteek het, naamlik die Gnostisisme (Teosofiese rigting wat al die elemente van die godsdiens bevat het, maar ook die filosofiese behoeftes wou bevredig).

Volgens oorlewering het elkeen van die 12 apostels van Jesus Christus een van die artikels in die "Apostoliese Geloofsbelydenis" opgelewer, vandaar die benaming, "Apostoliese Geloofsbelydenis" of "12 Artikels". Daar is egter nie genoegsame bewyse vir hierdie teorie nie. Hierdie belydenis word baie wyd in Christelike kerke van verskillende denominasies aanvaar en maak deel uit van die Algemene Belydenisskrifte van die Protestantse kerke. Verskillende vertalings van die dokument is in omloop, derhalwe kom daar verskille tussen kerke se inhoud van die Belydenis voor. Die kern van die Geloofsbelydenis bly egter in sulke gevalle behoue.


2.    SKRIFLESING:
       1 Pet.3:18-22 ~ Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ’n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. 21Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus. 22Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.

       1 Pet.4:4-6 ~ Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle. 5Hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat klaar staan om oor die lewendes en die dooies te oordeel. 6Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God lewe.

3.    INLEIDEND:
       Daar het deur die eeue heen en vandag nogsteeds, baie verklarings bestaan vir die uitdrukking, "ter helle neergedaal" en wat nie strook met die res van wat die Woord van God vir ons leer nie. Die Rooms Katolieke bv. (en talle Protestante) bely dat Jesus letterlik neergedaal het na die hel – dat Hy m.a.w. daar in die teenwoordigheid van die satan was, asook al die verlore siele en hulle grond hulle standpunt op ’n paar Skrifgedeeltes, maar spesifiek op die Skrifgedeeltes wat ons so pas gelees het en dan spesifiek op v.19 van hoofstuk 3 ~ En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig., asook en v.6 van hoofstuk 4 ~ Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God lewe.

       Natuurlik, is daar ook diegene wat glo dat Jesus nié
letterlik (of selfs figuurlk) neergedaal het na die hel nie. Die mees ontstellende is egter dat waarskynlik die grootste meerderheid van gelowiges net nooit regtig aandag aan hierdie verklaring gegee het en/of dit bevraagteken, of gesoek het na ’n verklaring van wat dit nou regtig beteken nie – tot my eie skande, moet ek erken, dat ek vir baie jare deel uitgemaak het van hierdie lg. groep.

       Wie is dan reg? Digene wat glo dat Jesus vir drie dae letterlik en fisies in die hel was – van die oomblik dat Hy Sy asem uitgeblaas het, tot en met Sy opstanding uit die dood, of is diegene wat sê dat daar ’n ander verklaring hiervoor is, reg? Indien lg. groep reg is, wat beteken hierdie uitdrukking dan, of anders gestel, moet ons dan nie liewer hierdie gedeelte uit die AGB ("Apostoliese Gloofsbelydenis") verwyder nie – soos wat baie gelowiges/kerke, ens. wel doen?

       Die vraag is: Waar en hoe moet ons begin om hierdie vrae te ontrafel? Wie is die geeste waarheen Christus gegaan het? Wanneer het Christus Sy oorwinning aan hierdie geeste verkondig? Wat was die inhoud van Sy proklamasie? Bloot net omdat ons nie vanoggend genoegsame tyd tot ons beskikking het nie, gaan ek ook nie aan al hierdie aspekte aandag gee nie, alhoewel sommige tog hopelik, indirek beantwoord sal word.

       Laat ons daarom, eers na ons twee Skrifgedeeltes kyk en dan spesifiek na 3:19 en 4:6 en veral moet ons kyk na die oorkoepelende gedagte van Jesus wat na die geeste in die gevangenis gegaan het (3:19) en die mense onder die oordeel (4:6). 

       Petrus stel dit onomwonde in v.18, voor hy met sy argument begin, dat Jesus se kruisdood nié op ’n nederlaag dui nie – Jesus het dus nié die knie gebuig voor die satan nie, want Petrus sê baie duidelik ~ maar (Jesus is) deur die Gees lewend gemaak. Jesus is die Oorwinnaar en nié die satan nie en nou dat Petrus dit onomwonde verklaar het, gaan hy voort en sê wat Christus gedoen het en waarheen Hy is, nadat Hy die laaste asem uitgeblaas het en gesterf het.

       Kom ons kyk ook net vlugtig na vier verskillende verklarings of uitgangspunte vir hierdie gedeelte:
·           Die eerste groep verkondig dat Christus gedurende die tydperk van Sy dood (Vrydagmiddag tot Sondagoggend met Sy opstanding), na die realm van die dood gegaan het en daar vir Noag se tygenote gepreek het. Hierdie denkrigting kan egter verder in twee subgroepe verdeel word, nl.:
o      Christus het aan die afgestorwenes, verlossing gaan aanbied – Hy het hulle m.a.w. nog ’n kans gaan gebied om gered te word – Rooms Katolieke.
o      Die tweede subgroep reken dat Christus deur Noag, die mensdom voor die Sondvloed, opgeroep het tot bekering (Gen.6-8), maar hulle het hulle nie aan Noag gesteur nie en dat Christus nou weer ’n verdere oordeel oor hierdie mense gaan uitspreek het.
o      Die derde subgroep leer dat Christus Goeie Nuus gaan verkondig het, aan die afgestorwenes wie reeds gered is – so asof Hy hulle redding gaan bevestig.
·           Die tweede hoofgroep van verklaarders, sê dat Petrus hier verwys na die vooraf-reedsbestaande Christus, wat in Noag se tyd oordele uitgespreek het oor Noag se tydgenote
·           Die derde hoofgroep sê dat Christus tydens die drie dae vanaf Sy kruisiging en sterwe, Sy oorwinning teenoor die gevalle engele (satan en die demone), asook Noag se veroordeelde tydgenote, geproklameer het (die Lutherane bv.). Hulle sê verder dat hierdie proklamsie plaasgevind het...:
o   Tydens die tydperk dat Hy neergedaal het na die hel, of...
o   ’n Tweede groepering sê dat dit plaasgevind het tydens Christus se hemelvaart.
·           Vierdens is daar ’n groep wat mynsinsiens, naaste aan die waarheid aangaande hierdie saak is, alhoewel hulle tog van mekaar verskil en aan hierdie twee standpunte wil ek nou aandag skenk, waarna ek ter afsluiting, ’n gevolgtrekking wil maak.

4.    CALVYN EN ANDERE:
       Van hierdie twee groeperinge, wat ek glo die naaste aan die waarheid is, wil ek t.w.v. ons redenasie, opskrif, "Calvyn en Andere" gee.
·           Calvyn: Johannes Calvyn het reeds in 1534 die standpunt gehuldig dat Jesus letterlik en fisies neergedaal het na die hel. Voor hom het enkele ander teoloë dit ook verkondig (bv. Nicolaus van Cusa en ook Pico della Mirandola). Calvyn sê o.a. die volgende t.o.v. die "AGB": ..."Dan volg  daar in die geloofsbelydenis dat Hy (Christus) gesterwe het en begrawe is. Hierin kan ons weer sien hoe Hy homself in alle opsigte in ons plek gestel het om die prys van ons verlossing te betaal. Die dood het ons onder sy juk (die dood) vasgeknel gehou; Christus het Homself in ons plek aan die mag van die dood oorgegee om ons daarvan te verlos" – waarvan te verlos? Van die mag van die dood. Calvyn gaan voort en hy sê - ...So verstaan die apostel (Petrus) dit wanneer hy skryf dat Hy (Christus) die dood vir almal gesmaak het. Want deur te sterwe het Hy veroorsaak dat ons nie sal sterf nie, of – en dit is dieselfde – deur Sy dood het Hy vir ons die lewe gekoop." Dan gaan hy verder aan en sê ~ Kortom: om hom wat oor die dood gesag gehad het (dit is die duiwel), deur die dood te vernietig en dié wat deur die vrees vir die dood hulle lewe lank aan die slawerny van die dood onderworpe was, daarvan te bevry (Hebr.2:15)" [2].

       Wat Christus se "neerdaal na die hel" betref, gaan hy voort en hy sê dat Christus se "neerdaal na die hel van groot belang is. Hoewel dit n.a.v. die geskrifte van die ou skrywers blyk dat die artikel in die Geloofsbelydenis nie so algemeen in die kerk gebruik was nie, moet daar in die behandeling van die ’n samevatting van die leer tog daarvoor plek ingeruim word".

       Waarom sê hy dat daar nie in die vroeë kerk veel aandag hieraan gegee is nie? Dit is omdat daar nêrens in die Woord melding gemaak word van Christus wat ter helle neergedaal het nie – dit is nie hy wat dit sê nie – dit is ek wat dit sê, asook die meeste regsinnige teoloe en predikers van ons tyd - manne soos bv. Don Carson; Albert Mohler; John Piper; John MacArthur ens. Die Ou Puriteine het dit nie aangespreek nie, omdat hulle verstaan het wat daarmee bedoel was. Calvyn sê egter dat indien ons hierdie gedeelte van die belydenis agterweë laat, ons die geheel van ons verlossing en baie van die vrug van Christus se sterwe, wat van soveel waarde is, verlore sou laat gaan.

       Calvyn gee terselfdertyd toe, dat die woord "hel", tergelykertyd "graf" kan beteken, maar dan gaan hy voort en sê dat Christus se dood niks sou gebaat het, as Hy bloot net ’n liggaamlike dood gesterf het nie, want Christus moes ook die onverbiddelike (ou Argaiëse Afrikaanse woord wat vir my baie beskrywend is = "gestrengheid") wraak van God ervaar, ten einde Sy toorn af te wend en aan Sy reverdige oordeel te voldoen. Daarom moes Hy ook met die magte van die hel en die verskrikking van die ewige dood hand teen hand worstel. As daar dus gesê word dat Hy na die hel neergedaal het, is dit nie iets eienaardigs nie, aangesien Hy die dood verduur het wat God in Sy toorn op sondaars lê. Die doel hiervan alles, sê Calvyn, is dat ons kan weet dat nie alleen Christus se liggaam as losprys vir ons oorgelewer is nie, maar dat daar ’n groter en uitnemender prys was, nl. dat Hy in Sy siel die verskriklike foltering van ’n verdoemde en verlore mens gedra het, terwyl Hy in die hel was.

       Net ’n laaste opmerking of twee t.o.v. Calvyn se standpunt, is dat hy sy standpunt baie sterk gegrond het op Matt.27:46b wat nie noodwendig die korrekte interpretasie vir hieride Skrifgedeelte is nie, nl. ~ Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat.

       Calvyn e.a. grond hulle standpunt op teksverse soos o.a. Hand.2:27; Rom.10:6-7; Ef.4:8-9; 1 Pet.3:18-20 en 1 Pet.4:6. Net iets kortliks oor die laaste twee Skrifverwysings:
o   1 Pet.3:18-20: Hier kry ons die woorde in vv.19-20 ~ En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ’n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. Om egter hieruit af te lei dat Christus neergedaal het na die hel, is nie goeie eksegese nie, omdat dit nie in die teks self verduidelik word nie en ook nie in die konteks nie. Waarom sou Christus net vir die ongelowiges van Noag se tyd gaan preek het en nie andere ook nie en in elk geval het geen sondaar wat reeds verdoem is tot die hel, enigsins ’n kans om daaruit te ontsnap nie, want daarvaoor is daar genoeg teksverse om dit te bevestig, bv. Luk.16:26 ~ En buitendien is daar ’n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie (sien ook Hebr.10:26-27).
o   1 Pet.4:6 ~ Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God lewe. Ook wat hierdie verse betref, kan ons sê dat dit ’n weerspreking van o.a. Luk.16:26 sal wees.

       Wie is hierdie dooies dan waarvan hier gepraat word? Wayne Grudem stel dit baie mooi in sy "Systematic Theology" (p.592), wanneer hy sê: "Thus 'the dead' are people who have died and are now dead, even though they were alive and on earth when the gospel was preached to them." Die N.I.V. vertaal hierdie vers baie mooi ~ For this reason the gospel was preached even to those who are now dead.

·           Andere:
       Die ander teologiese groepering (teenoor Calvyn) wat ek "andere" noem se standpunt berus baie sterk op die Heidelbergse Kategismus, Sondag 17, vraag en antwoord 44 en wat as volg lui:
Vraag: Waarom volg daar (n.a.v. die Apostoliese Geloofsbeydenis): en neergedaal het na die hel?
Antwoord: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (a). Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het.

Ons moet daarop let dat daar geen melding in die Kategismus gemaak word van enige soenlyde van Christus na Sy sterwensoomblik nie. Selfs Sy begrafnis (Heidelbergse Kategismus, Sondag 17, v/a 41) is bevestiging daarvan dat Hy gesterf het, en nog bevestigende deel van sy vernedering, maar nie meer deel van sy soenlyde vir ons sondes nie

’n Vraag wat ons vir onsself moet vra is: "Wat is die hel en wie is baas van die hel?" Volgens Matteus 25:41 sê Jesus dat Hy met sy wederkoms die mense sal oordeel en vir die vervloektes sal sê: "Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele berei is". Dit beteken dat God die ongelowiges en die duiwel en al sy engele in die hel sal straf – in die hel wat Hy vir hulle berei – nie Christus nie, maar die vervloektes. In Openbaring 20:10 vertel Johannes van sy gesig, nl. dat die duiwel wat die nasies verlei het, in die poel van vuur en swawel gegooi is...hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. En in 20:15 word dit ook gesê van die mense wie se name nie in "Die Boek van die Lewe" geskryf is nie.

Die hel is dus die aanduiding van God se straf op die sonde. En dit is presies wat Jesus reeds aan die kruis gedoen het, toe Hy die sonde van die ganse mensheid op Hom geneem het, en God se straf op ons sonde beleef het as dat Hy van God verlate is – hier, juis hier op hierdie oomblik het Hy die volmaakte offer vir ons gebring en daarom het Hy in gesê, "τελειόω" (teleioō) ~ Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen (Joh.17:4) –Christus se werk was afgehandel; Hy het nie nodig gehad om ook nog na die hel neer te daal nie.

Hy kon juis die sonde van die ganse wêreld dra omdat Hy ten volle mens geword het, om namens ons God se straf te dra, en Hy kon die onmoontlik sware vrag slegs dra omdat Hy God self is. So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy Seun gegee het (Joh.3:16). Christus het op die bestemde tyd vir die goddeloses gesterwe en God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom. 5:6,8).

Die hel is om sonder God te wees. In Rom. 1:18 sê Paulus dat God sy toorn openbaar oor die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid onderdruk. In vs. 24-32 word vertel wat dit behels, nl. dat God die mens oorgee aan sy eie begeertes en drange om te doen net wat hy wil. So vernietig die mens homself, maar as daar nie meer dood is nie, gaan die selfvernietiging vir ewig voort.

5.    SLOTSOM:
Die slotsom waartoe ek gekom het, is dat daar geen Skrifgronde is om te glo dat Jesus fisies "neergedaal het na die hel" nie. Trouens daar is een of meer teksverse wat vir ons op die teendeel wys, bv. Luk.23:42 waar die een misdadiger wat saam met Jesus gekruisig is, die volgende gesê het ~ Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom en waarop Jesus hom in v.43 geantwoord het ~ Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees. Hierdie is vir ons ’n baie duidelike aanduiding van wat met Jesus gebeur het tussen Sy sterwensuur op die Vrydagmiddag en Sy opstanding op die daaropvolgende Sondagoggend. Ek glo nié dat die misdadiger wat sy geloof en vertroue in Jesus Christus as Verlosser uitgespreek en derhalwe gered is, eers na die hel sou gaan en daarna na die "paradys" (die hemel/die ewige heerlikheid) nie. Ook sou Jesus nie in Sy sterwensoomblik die "hel", "paradys" genoem het nie. Jesus het dus, soos Hy tereg aan die misdadiger gesê het, op daardie selfde dag – die Vrydag, saam met die misdadiger na die hemel gegaan – Sý Paradys. 

Christus het in Sy laaste oomblikke hier op aarde, die geweldige verlatenheid van God die Vader ervaar, terwyl die sonde van die mensdom op Hom "ingebrand" het.

Hoe moet ons dan hierdie woorde in 1 Pet.3:19 verstaan? Ek glo van harte dat hierdie woorde ten diepste beteken dat die skokgolf van Christus se afgehandelde versoeningswerk aan die kruis en Sy opstanding uit die dood, tot in die hel weerklink het – ja, op daardie twee gewigtige oomblikke is die dood verslind en verplaas met ’n hemelse- en ewige oorwinning – 1 Kor.15:54-55 ~ En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. 55Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel? En dan een van my gnsteling teksverse ~ Ek (sal) my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt.16:18b – O.A.V.).

ooo   OOO   ooo

Die "Apostoliese Geloofsbelydenis", of Twaalf Artikels van die algemene ongetwyfelde, Christelike geloof
(Die Christelike Kerk noem hierdie Belydenisskrif die "Apostoliese Geloofsbelydenis", alhoewel die apostels dit nie opgestel het nie. Reeds vanaf die 2de eeu het dit sy ontstaan gehad en het verder ontwikkel totdat dit ongeveer die 4de eeu sy finale beslag gekry het (NGB, art.9).
(1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
(2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
(3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
(4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel
(of alternatiewelik: ...wat die lyding van die hel ondergaan het...);
(5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood;
(6) opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
(7) waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.
(8) Ek glo in die Heilige Gees.
(9) Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
(10) die vergewing van sondes;
(11) die opstanding van die liggaam
(12) en 'n ewige lewe.


[1]Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 07 Oktober 2012
[2]"Institusie van die Christelike Godsdien (1559) – Johannes Calvyn – Boek 2, Institusie 59, Hoofstuk 16 – 7:7.