Sunday, October 14, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 13 (Strewe na Geestelike Volwassenheid)




Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

1.    INLEIDEND:
       Toe ons met die Hebreërbrief begin het, het ek gesê dat hierdie brief verskeie waarskuwings bevat wat gerig was tot die Jode wat op die punt gestaan het om gelowige Christene te word, maar ter gelykertyd word hierdie waarskuwings ook gerig tot die Joodse gelowiges – enersyds om hulle te waarsku teen geestelike verval, maar andersyds ook as bemoediging om te volhard op die geloofpad waartoe hulle deur Jesus Christus geroep is. Hierdie bemoediging was nodig, omdat hierdie jong gelowiges onder geweldige druk verkeer het om te swig onder die versoeking om terug te keer na die Judaïsme, a.g.v. kritiek, twyfel en veral vervolging. Die primêre motief met hierdie waarskuwings is egter om die ongelowige Jode wat die Evangelie gehoor en geken het, te waarsku.

       Ons het die eerste waarskuwing in 2:1-4 gekry, waar dit gegaan het oor die verwaarlosing van die Evangelie en die tweede was in 3:7-10 wat die verhardheid van hul harte aangespreek het.

       Die derde waarskuwing wat ons in vandag se Skriflesing aantref gaan oor geestelike onvolwassenheid en word steeds gerig tot Jode wat waarskynlik al heelwat kennis dra van die Evangelie en sommige mag selfs al iets van ’n belydenis t.o.v. ’n geloof in Jesus Christus gehad het, maar wat hulleself nog nie volkome oorgegee het aan ’n volwaardige geloof in Christus Jesus nie. Die Hebreërskrywer wil nou vir hulle (en natuurlik ook vir die gelowige Jode) vertel van die gevaar wat daaraan verbonde is om nie die beloftes van die Nuwe Verbond te aanvaar nie, want daarsonder kan hulle nie die ewige lewe beërwe nie – hulle kan só naby wees en tog nog só ver! 



 2.    SKRIFLESING:
       Hebr.5:11 – 6:3 ~ In verband hiermee het ons baie te sê wat moeilik is om aan julle te verduidelik, aangesien julle so traag is om te leer. 12Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig. ’n Mens moet julle met melk voed en nie met vaste kos nie. 13Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog ’n kind. 14Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei. 6 Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap. Ons wil nie opnuut die fondament lê deur te praat oor die bekering uit ’n leefwyse wat tot die dood lei nie, of oor geloof in God, 2die leer van die doop en die handoplegging, die opstanding van die dooies en die ewige oordeel nie. 3Ons sal dus verder gaan as God dit toelaat.

2.    MELGISEDEK / ONBEGRIP:
       In die voorafgaande gedeelte het die Hebreërskrywer na Melgisedek verwys en begin verduidelik dat Jesus volgens die orde van Melgisedek as Hoë Priester aangestel is, maar dit is asof hy homself eers hier in v.11 en verder aan, in die rede val, omdat hy besef dat daar talle van sy lesers is wat nog nie geestelik ver genoeg gevorder het om te verstaan waarvan hy gaan praat, as hy sou voortborduur daarop om Christus se bediening met dié van Melgisedek te vergelyk nie, daarom dat hy in v.11 sê dat dit moeilik gaan wees om dit aan hulle te verduidelik, omdat hulle so traag is om te leer.

       Paulus verduidelik hierdie feit baie mooi in 1 Kor.2:14 wanneer hy sê ~ Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word en dit is presies waar hierdie Jode was – hulle kon nie verstaan nie, a.g.v. die feit dat hulle nie die Gees van God het nie. Die rede waarom hulle nie die Gees van God in hul lewe het nie, is omdat hulle nie wederbaar was nie, of andersyds, diegene wie wel wederbaar is, laat nie toe dat die Heilige Gees hulle verder leer nie.

       Hierdie situasie wat die skrywer hier mee te doen het, is hoegenaamd nie vreemd aan ons dag nie, want vandag kry ons steeds derduisende mense wat die Evangelie hoor, maar hulle nie daaraan steur nie; of wat emosioneel opgewel word deur een of ander prediking, of konferensie, of iets dergeliks, maar steeds is hulle nie bereid om ’n pad van oorgawe en toewyding aan Jesus Christus te loop nie. Natuurlik is daar ook gelowiges wat nie veel aan hul eie saak doen ten einde geestelik te vorder en te groei nie. Die probleem met sulke mense is dat hulle met verloop van tyd al hoe verder weg dwaal en geestelik al hoe meer veragter en/of verhard.

       Hierdie feit geld egter nie net vir ongelowiges wat baie na aan die Waarheid leef of wat met die Waarheid gekonfronteer word nie – natuurlik geld dit ook (soos ek reeds aangedui het) vir gelowiges, want meer as een van ons (indien nie almal nie) het al ervaar hoe dat ons veragter in die geloof, of al hoe meer afgestomp raak as ons bv. ons gebedslewe of "stiltetyd" afskeep. Dieselfde geld egter ook as ons nie daarop ingestel is om ons kennis, geloof en oortuigings met andere te deel nie. Ons moet wees waar Paulus was toe hy gesê het ~ ...want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie (Hand.20:27).

       In 5:12 verwys die skrywer na die grondwaarhede van die Woord en hierdie grondwaarhede, is ’n verwysing na die Ou Testament – hy sê dat die Jode dit nie eers na behore ken nie en daarom kon hulle nie die skrywer se redenasie volg t.o.v. Melgisedek en Jesus nie.

       In teenstelling met die N.A.V. lees v.11 in die O.A.V. as volg ~ ...omdat julle traag geword het om te hoor. Die meeste Engelse vertalings bevestig hierdie vertaling deur te sê ~ ...you have become dull of hearing. Die implikasie hiervan is dat hulle op ’n tyd anders was – hulle het m.a.w. op ’n stadium, oor meerdere kennis beskik – hulle is dus nie soos babatjies wat gebore word met ’n natuurlike en instinktiewe behoefte aan melk nie – hulle het daardie behoefte alreeds op ’n stadium gehad, maar hulle het teruggeval en het dit nou weer nodig.

       Die skrywer wil egter ook vandag vir ons deur hierdie verse sê dat ons ook voortdurend daarna moet streef en sal toesien dat ons behoorlik onderrig sal word in die grondwaarhede van die Woord, maar dat ons verder as dit sal groei, sodat ons kan onderskei waarop dit aankom – wat reg en verkeerd is. ’n Geestelike babatjie is nie gewoond aan ordentlike en voedsame vaste kos nie en daarom moet hy groei in geestelike waarhede, sodat hy uiteindelik vaste kos kan hanteer.

       Ons moet onsself voortdurend vra, of ons die elementêre waarhede goed genoeg ken sodat ons dit met andere kan deel? Ons moet ons self voortdurend toets en vasstel of ons nog ’n lus het om meer te leer – of ons gemotiveer is om meer te leer van God se Woord? Ons moet ons deurentyd die vraag afvra of ons steeds geestelik groei, of het daar stagnasie in ons geestelike wandel pos gevat? Indien ons met eerlikheid kan sê dat ons, onsself leerstellig en met die Woord bemagtig en toerus, moet ons nog steeds vasstel, of ons dit wat ons leer, in en deur ons lewe toepas al dan nie, want as ons nie ons kennis toepas en uitleef nie, is ons soos wat Paulus in 1 Kor.13:1 sê ~ ...’n stuk klinkende metaal en baat dit ons alles net mooi niks.

3.    BASIESE ELEMENTE VAN DIE OU VERBOND:
       In 6:1-2 vind ons ’n aanmoediging wat die skrywer rig tot sy lesers, deur vir hulle te sê dat hulle nie moet stilstaan by die "eerste dinge", of te wel die basiese beginsels van die geloof nie, want dit is nie nodig om weer na hierdie basiese dinge te kyk nie en dan noem hy die ses basiese eienskappe of elemente van die Ou Verbond, nl.: bekering van dooie werke; geloof in God; die reinigingswette; handoplegging; die opstanding van die dooies en die ewige oordeel.

       Die apostel gaan van die veronderstelling uit dat sy lesers vertroud is met die basiese eienskappe van die Ou Verbond. Hy insinueer egter dat dit noodsaaklik is dat elkeen wat nié vertroud is daarmee nie, sal toesien dat hulle dit onder knie kry, alvorens hulle kan verwag om enigsins, geestelik verder te groei. Die skrywer sê egter dat hulle hierdie basiese dinge mos ken en daarom moedig hy hulle aan om eerder "na ’n volgende rat oor te skakel" en om met die hulp van die Heilige Gees, te groei na geestelike volwassenheid.

       Voor ons egter aangaan, laat ons net vlugtig kyk na hierdie ses basiese elemente van die Ou Verbond:
·           Bekering van dooie werke:
       Esegiël sê in Eseg.18:4b ~ ...Dit is die mens wat sondig wat sal sterf en Paulus stel dit op ’n ander manier in Rom.6:23, nl. ~ Die loon wat die sonde gee, is die dood. Die Ou Testament het die Jode dus geleer dat hulle hul rug moes keer op die sonde en bose werke, asook wettiese en -dooie werke en dat hulle, hulself moes bekeer. Die probleem met hierdie leerstelling was dat dit ál was wat die Israeliete onder die Ou Verbond geweet het – "draai weg van die sonde". Selfs in Johannes die Doper se tyd is slegs bekering gepreek ~ Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (Matt.3:2). Dit is eers in Jesus Christus dat hierdie leerstelling rypheid bereik het, soos wat ons dan ook lees in Hand.20:21 ~ Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo – Glo in Jesus Christus!

Toe Paulus voor koning Agrippa verskyn het, het hy die basiese leerstellinge van die Ou Verbond herhaal, toe hy gesê het ~ Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe deur die hele Judea en daarna vir die heidennasies gepreek dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God moet bekeer; en dit moet hulle bewys met dade wat by die bekering pas (Hand.26:20). Hy gaan egter voort in v.26, deur te sê dat ~ ...Christus moes ly en die eerste (was) wat uit die dood op(ge)staan (het). Daardeur sou Hy aan die Jode en aan die heidennasies die lig bring. Paulus gaan dus verder as om net bekering te preek – Hy fokus op die soendood van Jesus Christus – dít is waar die fokus van ons bekering moet lê – nie om beter mense te wees nie; nie om uit die moeilikheid te bly nie; nie om seën te kan ontvang nie – nee, Jesus Christus! Hy ís en móét die middelpunt; die dryfveer, van ons bekering wees. Bekering is dus totaal betekenisloos sonder Jesus Christus, daarom dat Jesus self in Joh.14:6 gesê het ~ Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Bekering is bloot net ’n aksie waar die oortreder wegdraai van die bose en enige mens kan dit doen en dit is nie verkeerd nie, maar ware bekering eindig nie daar nie, want dit word slegs effektief wanneer die oortreder na Jesus Christus kom en in Hom rus.

Dit is asof die Apostel vir sy lesers vra (en daarom ook vir ons): Weet jy waar en hoe jou lewe as gelowige begin het? Weet jy wat die wedergeboorte behels? Trouens, is jy waarlik wederbaar? Maak seker jy verstaan dit sodat jy kan aanbeweeg en verder groei.

·           Geloof in God:
       Die tweede element wat in v.2 genoem word, is geloof in God.  Wat belangrik is om hier te verstaan, is dat dit die mens niks baat om in God te glo, maar nie ook in Jesus Christus nie. Daar is geen aanvaarding vir enige mens by God, sonder geloof in Jesus Christus nie – Hand.4:12 ~ (dit is Jesus) bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.

·           Die reinigingswette: Die derde element t.o.v. die Ou Verbond word vir ons in Afrikaans (en selfs sommige Engelse vertalings) vertaal met "die leer van die doop". Hierdie uitdrukking of vertaling is egter ietwat misleidend, want dit is nie presies wat in die oorspronklike teks staan nie. Die Griekse woord wat hier gebruik word, is βαπτισμός (baptismos). Hierdie woord kom vier keer voor in die Nuwe Testament en drie keer verwys dit na "afwassing" ("washing/cleansing") en eenkeer verwys dit na die doop. Die klem val egter op die reiniging van sonde en nie die handeling of uitvoering van die sakrament van die doop (βαπτίζω / baptizō) nie. Hierdie woord dui dus eerder op die seremoniële reiniging wat voorgeskryf was vir talle seremonies, handelinge, ens.

       By die ingang van elke huis was daar bv. ’n kom met water en moes elkeen wat die huis binnegaan hul hande "βαπτισμός" (baptismos). Dit is hierdie seremoniële optrede en –wette wat die apostel sê, hulle van moet vergeet en eerder begin fokus op daardie dinge wat van belang is vir hulle geestelike groei.

       Dit is interessant om te sien dat selfs die Ou Testament voorspel het dat die seremoniële reinigingswette uiteindelik deur God self vervang sou word met ’n geestelike een ~ Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery (Eseg.36:25).

·           Handoplegging: Die volgende element is dié van "handoplegging". Gedurende die Ou Verbond moes elke persoon wat ’n offer bring, sy hande op die kop van die offerdier plaas, om daardeur sy vereenselwiging met die offer te simboliseer, maar ook om die oordra van sy sonde na die dier te simboliseer (Lev.1:4; 3:8, 13) – die dier wat geoffer gaan word.

       Ons identifisering met Jesus Christus vind nie plaas deur Hom aan te raak, soos die Rooms Katolieke dikwels doen met beelde van Christus nie, maar dit vind plaas wanneer ons deur die Gees en in geloof, ín Jesus Christus ingedoop word (die wedergeboorte) en hierdie Doop met die Heilige Gees (Matt.3:11; Hand.1:5; 1 Kor.12:13) word verbind met die "oplê van hande". Wanneer verkore mense vir bepaalde take afgesonder was, was hulle egter ook "die hande opgelê" – dink bv. hier aan Barnabas en Saulus toe hulle uitgestuur is op hul eerste sendingreis ~ Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan (Hand.13:3). Bemagtiging en Doop met die Heilige Gees word dus in die Nuwe Testament, geassosieer met handoplegging – ons kan dit m.a.w. ook bekragtiging, of bemagtiging deur die Heilige Gees noem.

·           Die opstanding van die dooies en die ewige oordeel: Oor die laaste twee elemente, nl. die opstanding van die dooies en die ewige oordeel, word daar nie baie in die Ou Testament geskryf nie (die opstanding: Job 19:23-27 en Dan.12:1-3 en die oordeel: Gen.18:25; Jes.33:22 en Dan.7). Daar word egter baie aandag aan hierdie twee onderwerpe in die Nuwe Testament gegee en deurentyd is Jesus Christus in die middelpunt van hierdie twee onderwerpe, daarom dat Hyself in Joh.11:25 sê ~ Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook. Die opgestane liggaam word o.a. ook vir ons in detail in 1 Kor.15 beskryf en dan staan daar spesifiek in vv.42-44 die volgende ~ So is dit ook met die opstanding van die dooies; wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek; 43wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek. 44’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Aangesien daar ’n natuurlike liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam. In 1 Joh.3:2 sê Johannes ~ ...ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. (N.A.V.) Omdat ons Hom sal sien soos Hy is (O.A.V.).

       By implikasie sê die Hebreërskrywer vir sy lesers: Waarom wil julle by die gebrekkige lering van die Ou Testament t.o.v. hierdie onderwerp bly vassteek as daar soveel meer te lere is oor ons opgestane liggame? Nee man, groei uit die melkkossies uit en begin vaste voedsel inneem!         
       Jesus is egter terselfdertyd ook die Regter wat veroordeel, trouens wat ook die ewige oordeel uitspreek oor diegene wie nie in Hom glo nie ~ Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad (2 Kor.5:10). Die Nuwe Testament se lering t.o.v. God se oordele is nie ’n gewilde boodskap nie, maar dit is ’n boodskap waaraan die wêreld gereeld herinner behoort te word en as ons dink aan God se oordele, behoort dit groot dankbaarheid by ons tot gevolg te hê, want ons beskik oor sekuriteit waaroor die res van die wêreld nie beskik nie ~ Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Rom.8:1).

       Kom ons keer net vir ’n oomblik terug na die ses basiese elemente van die Ou Verbond, dan is dit baie interessant om te sien hoe die Hebreërskrywer alreeds met die skryf van hierdie brief, onwetend (?) drie teologiese studievelde hier afgebaken het en dan plaas hy die twee onderafdelings by elk nog boonop bymekaar! Bekering en geloof, is beide die studieveld van die (wat ons in die teologie noem) Soteriologie (die leer oor Christus as die Saligmaker); reiniging en bekragtiging deur die Heilige Gees, word beide in die studieveld van die Pneumatologie (die leer omtrent die Heilige Gees) behandel en laastens maak die opstanding en oordeel deel uit van die Eskatologie (die leer van die laaste dinge).

 4.   AS GOD DIT TOELAAT:
       Die laaste vers van die gedeelte waarna ons vanoggend kyk is 6:3 en lees soos volg ~ Ons sal dus verder gaan as God dit toelaat. Hierdie is ’n kort, maar kragtige vers – wat beteken dit? Wat die Hebreërskrywer verlang, is dat sy lesers sal voortbeur en na meer vaste kos soek, maar hy is pynlik bewus van die feit dat God hulle sal moet help en net Hy en Hy alleen sal hulle verstande en harte kan verlig deur die werking van die Heilige Gees ~ ...want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (Fil.2:13). Hy erken dus die feit dat sy lesers van nature nie wil groei in die geloof nie, maar terselfdertyd besef hy dat dit net die Heilige Gees is wat hulle sal kan leer en meerdere insig kan laat verkry.

       Hy sê egter vir hulle, dat hulle ’n besluit moet neem; die regte besluit moet neem, ten einde te wil groei in hulle kennis van die Woord, maar dat so ’n besluit in afhanklikheid van die Here geneem sal moet word – ons is voortdurend afhanklik van Hom, vir motivering om in die Woord te wees; te studeer; te groei, maar ons is ook afhanklik van Hom om die Woord vir ons oop te maak, sodat ons kan verstaan en dan die heel belangrikste – dit baat ons niks as ons oor al die kennis beskik, maar nie toepas en uitleef wat ons leer nie en daarvoor is ons intens afhanklik van Hom, om ons die krag en onderskeiding en wysheid te gee ten einde in gehoorsaamheid aan God en Sy Woord te leef.

            Geliefdes, beskik julle oor ’n behoefte om geestelik te groei en is julle bereid om te groei? Of is julle tevrede met hoe julle geestelike lewe en kennis op die oomblik daaruit sien? Paulus moedig ons aan – trouens, hy waarsku ons in Rom.12:1-2 met die volgende woorde ~ En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.