Lees
Joh.2:12-22:
Vers 12 begin deur te sê ~ Hierna het Hy, sy moeder, sy broers
en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar
gebly nie.
As ons na die voorafgaande gedeelte kyk, sien ons dat hier gepraat word van
Jesus wat in Kana was, waar Hy by ’n bruilof, water in wyn verander het.
Na Kanaän het Jesus saam met Sy moeder, sy broers en die
dissipels, ’n vlugtige besoek gebring aan Kapernaum – die Woord gee nie aan ons
’n aanduiding waarom hulle daarheen is nie. Nadat hulle aangedoen het by
Kapernaum, is hulle, soos só baie Jode, Jerusalem toe vir die Paasfees (v.13). In Jerusalem
aangekom is Jesus reguit na die Tempel.
1. Gebeure tydens
die Pasga:
Die Paasfees of die "Die
Pasga" staan ook bekend as die "Seisoen van Vrymaking" en die
"Seisoen van Vreugde" en beide hierdie benaminge hou verband met die
Hebreërs se verlossing uit Egipte gedurende die maand Nissan (Maart-April).
Die
Pasga as eerste feesseisoen is ook onderverdeel in drie subfeeste, nl.
"Die Pasga"; "Die Fees van die Ongesuurde Brode" en
"Die Fees van Eerstelinge".
Die laaste twee sal ons D.V. volgende Sondag behandel.
2. SKRIFLESING:
Eks.12:1-14, 43-48
~ In Egipte het die Here vir Moses en Aäron gesê: 2“Hierdie maand
is vir julle die belangrikste maand; dit moet die eerste maand van die jaar
word. 3Sê vir die hele gemeente van Israel: Elkeen moet sorg dat hy
op die tiende van hierdie maand ’n lam vir sy gesin het, vir elke huisgesin
een. 4As ’n huisgesin te klein is vir ’n lam, kan ’n man en sy
naaste buurman dit onder mekaar verdeel volgens die getal persone. Julle moet
die lam deel volgens elkeen se behoefte. 5Dit moet ’n jaaroud
rammetjie wees, sonder liggaamsgebrek, ’n skaap of ’n bok. 6Julle
moet hom goed oppas tot die veertiende van hierdie maand, en dan moet die hele
gemeente van Israel teen laat middag slag. 7Julle moet van die
bloed smeer aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis waar
julle die lam gaan eet. 8Nog dieselfde nag moet julle die vleis
eet. Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter kruie. 9Julle
moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor die vuur gebraai, met
kop, pootjies, binnegoed en al. 10Julle mag niks daarvan tot die
volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende môre tog iets oor is, moet
julle dit verbrand. 11Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die
reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die Paasfees van die
Here. 12“Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die
eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese
gode sal Ek afreken. Ek is die Here! 13Die bloed aan die huise
waarin julle is, sal ’n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis
oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie
tref nie. 14“Hierdie dag moet vir julle ’n gedenkdag wees. Julle
moet dit as ’n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit ’n
vaste instelling wees wat hulle moet vier. Ook vv.43-48 ~ Die Here het vir Moses en Aäron
gesê: “Dit is die voorskrifte in verband met die Paasfees: geen nie-Israeliet
mag daarvan eet nie; 44’n slaaf wat deur iemand gekoop is, mag eers
daarvan eet nadat hy besny is; 45geen bywoner of huurling mag
daarvan eet nie. 46Dit moet geëet word in die huis waarvoor dit
bedoel is. Van die vleis mag niks buitentoe geneem word nie. Geen been van die
Paaslam mag gebreek word nie. 47Die hele gemeente van Israel is
verplig om die fees te vier. 48Die vreemdeling wat jou beskerming
geniet en die Paasfees van die Here wil vier, moet besny word, hy en al die
mans en seuns by hom. Dan eers is hy soos ’n gebore Israeliet en kan hy daaraan
deelneem. Iemand wat nie besny is nie, mag nie daarvan eet nie.
3. DIE PASGA:
In
hierdie gedeelte lees ons van die instelling van die Pasga en hierdie
gebeurtenis in Egipte, is vir my persoonlik sekerlik dié belangrikste
gebeurtenis in die ganse Ou Testament, omdat dit die verlossing van die
gelowige, so pragtig uitbeeld.
Elke
man moes op die tiende dag van die maand Nissan (Maart-April)
’n lam sonder gebrek vir sy huisgesin neem (vv.3-5). Hierna moes die lam vir vyf dae bewaar word,
waartydens daar baie seker gemaak word, dat hy sonder gebrek was (v.6).
Op
die veertiende Nissan moes hierdie lam by die huis se deurpos geslag word –
verkieslik om 3 uur in die middag, sodat dit teen 18:00 (die
aanvang van die 15de dag) geëet kon word (v.6). Die bloed moes opgevang word en aan die
bo-kant en aan beide kante van die deur se kosyn, aangebring word – die hele
deurkosyn was dus bedek met bloed (v.7).
Die
huisgesin moes nou binne-in die huis gewees het ten einde beskerming te geniet
teen die Doodsengel wat deur die land sou trek en al die eersgeborenes sou tref
met die dood. Die Doodsengel sou dus by
elke huis verbygaan waar daar bloed aan die deurkosyne was – vandaar die
Engelse benaming, "pass-over" (v.13).
Terwyl
die man van die huis, die lam voorberei het, mag hy geen been van die lam
gebreek het nie (v.46) en ten einde die
lam te braai volgens die voorskrifte, moes die lam op ’n spit geplaas word,
sodat die lam oopgevlek (oopgesprei) kon
wees. Of ’n mens, soos so baie ander,
regtig hieraan enige waarde moet heg, betwyfel ek ten sterkste, maar dit is tog
interessant om te weet dat die spit in die vorm van ’n kruis was, ten einde die
lam oop te spalk en te braai. Nadat die
lam klaar gebraai was, moes die hele lam deur die familie opgeëet word – hulle
mag niks gebêre het vir die volgende dag nie (vv.8-10).
’n
Laaste voorwaarde rondom die Pasga, was dat geen mens wat nie besny was, aan
die Pasga kon deelneem nie (v.48). Besnydenis was die uiterlike teken dat die
persoon in God se verbond ingesluit is – daar was dus ’n bloedverbond
gesluit. Indien hy dus besny was, was hy
geregtig op die voordele van die verbond.
Baie
jare later, nadat die tempel in Jerusalem gebou was, het die mans die lammers
na die tempel gebring en daar geslag, i.p.v. by hulle eie deurposte. Nog later het die Leviete, lammers geteel in
Jerusalem en hulle dan tydens die Pasga verkoop aan diegene wat na Jerusalem
gekom het vir die fees.
Die
Pasga was ’n tyd van groot vreugde, aanbidding en lof aan God. Die Leviete het die feesgangers gelei in die
sing van o.a. die psalms van Dawid (bv. Ps.113 en
-118). Hierdie singery
is begelei deur talle musiekinstrumente, soos trompette, harpe, fluite,
tamboeryne, simbale, ens.
4. CHRISTUS SE VERVULLING VAN DIE PASGA:
Die heel
wonderlikste aspek egter van die Pasga, was hoe dat Jesus Christus vir ons
hierdie fees vervul het. In Joh.12:1
sien ons dat Jesus na Betanië gegaan het en ons lees in Joh.12:12-13 ~ Die
volgende dag het die groot menigte mense wat na die fees toe gekom het, gehoor
dat Jesus na Jerusalem toe kom. 13Hulle het palmtakke gevat en Hom
tegemoet gegaan en uitgeroep: “Prys Hom!
Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en: “Die Koning van Israel!”
Jesus se intog in Jerusalem vind op die tiende dag van Nissan plaas (die
Pasgalam is ook op die 10de dag van Nissan uitgesoek om 5 dae later geslag te
word).
Terwyl Jesus in
Jerusalem was, het die godsdienstige leiers van die Jode, Jesus ondervra ten
einde die skare se uitroepe en aansprake dat Jesus die koning van die Jode is,
te ondersoek. Uiteindelik het hulle
Jesus aan Pontius Pilatus oorhandig vir uitspraak, waarop Pilatus in Joh.19:4
gesê het ~ Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan
weet dat ek geen skuld in hom vind nie. Jesus was onskuldig – Hy was sonder gebrek (nes
die Paaslam). Maar
tog word Jesus op die 14de Nissan (na 5 dae se
deeglike ondersoek) gekruisig – net soos die Pasgalam word
ook Jesus om 09:00 gekruisig en sterf Hy om 3 uur in die middag!
Die bloed van die
lam wat gevloei het en aan die deurposte aangebring was, kon slegs die volk se
sonde bedek en hulle teen ’n fisiese dood beskerm. Die Paaslam van God, Jesus Christus
daarenteen, neem die sonde heeltemal weg en red die betrokkenes van ’n geestelike
dood.
Ons lees in
1Pet.1:18-21 die volgende ~ Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele
soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19Inteendeel,
julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en
sonder liggaamsgebrek is. 20Reeds voor die skepping van die wêreld
is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd
gekom. 21Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en
aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.
Jesus het Homself
dus oorgegee om gedood te word t.w.v. van ons sonde.
Ons het gesien dat
die Paaslam se bene nie gebreek mag word nie.
Wanneer ons na Jesus se kruisiging en die gebeure rondom ’n misdadiger
se kruisiging in daardie dae kyk, sal ons sien dat ’n gekruisigde se bene
altyd, net onder die knieë gebreek is deur dit met ’n ysterstaaf af te
slaan. Dit is gedoen om die
sterwensproses te verhaas, ten einde seker te maak dat die misdadiger voor
18:00 sou sterf, want die Jode het geglo dat daar ’n vloek oor die land sou kom
as ’n gekruisigde na 18:00 nog sou lewe.
Die wonder met
Jesus se kruisiging was egter dat nie een van Sy bene gebreek is nie –
Joh.19:31-33 ~ Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame
op die Sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie Sabbatdag was ’n
groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is,
se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die
soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede
een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom
en sien dat Hy al klaar dood is, het
hulle nie sy bene gebreek nie.
Jesus het Sy doen
en late so gereël dat Hy gedurende die Fees van die Pasga in Jerusalem sou wees
– dit sou ooreenstem met die uitkies, die voorbereiding en die slag van die
Paaslam. Hy het dit spesifiek so gedoen,
sodat die Jode daartoe in staat sou wees om te kon sien en verstaan Wie Jesus
werklik was, nl. hulle Paaslam – hulle Messias!
Jesus was dus bestem om gekruisig te word op die presiese dag en uur
waarop die Jode hulle Paaslammers vir nagenoeg 1 500 jaar lank al, geslag en
voorberei het.
Jesus se kruisiging
op dieselfde dag en uur as die Paaslammers is reeds deur Jesaja in Jes.53
voorspel en tog het die meeste Jode die vervulling van hierdie Messiaanse
profesie nie raakgesien nie.
5. TOEPASSING:
Net soos met die
Hebreërs in Egipte, kom klop die doodsengel ook aan ons deure en as "die
bloed van die Paaslam nie aan ons deurkosyne geverf is nie", sal ons
sekerlik sterf, soos wat elkeen in Egipte wat nie deur die Paaslam se bloed
beskerm was nie, gesterf het.
Omdat ons, soos wat
Paulus in Rom.3:23 en 6:23 gesê het, ...almal gesondig (het), en (daarom) nie deel (het)
aan die heerlikheid van God nie (3:23), moet ons weet dat die ...loon wat die sonde gee, die dood (is) (6:23a). Wat Paulus dus hier sê, is dat ons almal in
sonde ontvang en gebore word en daarom is ons in die spreekwoordelike
"huise sonder bloed aan die kosyne" – ons almal was dus geestelik
dood. Ons het dus almal die bloed van
die Paaslam nodig om die geestelike dood vry te spring. Paulus sê egter verder in Rom.6:23b dat die
Paaslam se bloed ook vir ons beskikbaar was om teen ons deurkosyne te verf, toe
hy gesê het ~ ...die
genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here. God die Vader het vir ons ’n uitweg gegee –
1Joh.1:7 ~ Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het
ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy
Seun, ons van elke sonde.
Jesus Christus, ons Paaslam se bloed het vir ons gevloei en is ons
gereinig van al ons sonde. Ons hoef die
dood nie meer te vrees nie, want ons Paaslam het die mag van die dood verbreek,
toe Hy uit die dood opgestaan het.
Wat ’n wonderlike
en bemoedigende Woord is hierdie nie! As
ons Jesus Christus as ons Paaslam aanneem, ontvang ons vrywaring van God se
oordeel en gaan die "doodsengel by ons huis verby", want ... God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus
vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Aangesien ons nou
vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons
deur Hom ook van die straf van God gered sal word
(Rom.5:8-9).
Ons het in
Eks.12:48 ook gesien dat geen persoon aan die Pasga kon deelneem, as hy nie
besny was nie. Wanneer ons na Deut.10:16 kyk, sien ons dat God eintlik in iets
veel meer as die fisiese besnydenis belangstel en dit is die besnydenis van die
hart ~ Besny dan die voorhuid van julle hart en
verhard julle nek nie verder nie
(O.A.V.).
In Joh.3:1-7 noem Jesus hierdie besnydenis van die hart, die
wedergeboorte ~ Daar was ’n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die
party van die Fariseërs behoort en was ’n lid van die Joodse Raad. 2Een
nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ’n
leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens
doen wat u doen, as God nie by hom is nie.” 3Daarop sê Jesus vir
hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die
koninkryk van God nie sien nie.” 4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan
’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy
moeder se skoot kom en gebore word nie?” 5Jesus het geantwoord:
“Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy
nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is,
is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas
wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie.
In die geval van
die Hebreërs (of die Jode), was die
besnydenis dus eintlik net ’n simbool van die ware geestelike besnydenis. Wanneer ons weergebore is en derhalwe die
Gees van God ontvang het, het ons volgens Paulus in Fil. 3:3, die ware
besnydenis ontvang. Dit is dus van
kardinale belang dat jy vir jouself die vraag sal afvra, of jy waarlik van hart
besny is; of jy weergebore is; of jy vrede met God het?
Indien jy wel
weergebore is en jou hart besny is, is dit ook nodig dat jy hierdie heuglike
waarheid sal gedenk deur die Nagmaal gereeld te gebruik, want die Nagmaal is ’n
herinneringsmaal – ’n maal waartydens ons herinner word aan die ware Paaslam
wat vir ons geslag en geoffer is.
Wanneer ons die
Nagmaal gebruik en ons eet die brood, moet ons in gedagte hou, dat die brood ’n
teken daarvan is, dat Jesus se liggaam waaragtig aan die kruis geoffer is vir
ons. Met die eet van die brood, word ons
daaraan herinner, dat net soos wat ons lewe put uit die eet van die brood, daar
ook ewige lewe aan ons verskaf is deur Christus wat Sy liggaam vir ons "geoffer"
het.
Net so is die
wyn/druiwesap ook teken van Jesus se bloed wat gestort is aan die kruis en ons
daardeur volkome vrygekoop het van die ewige dood in die hel.
Daar is egter ook ’n derde aspek verbonde aan
die Nagmaal: Net soos wat die Hebreërs
as gesin en as volk, saam die Paasmaal geniet het, net so geniet ons as gesin (as kerkfamilie) ook die Nagmaal saam, ten einde ons onderlinge verbondenheid aan mekaar
te betoon. Daarom moet ons as gelowiges
wat wederbaar is deur die volmaakte soendood van die volmaakte Paaslam, Jesus
Christus, ook die brood eet en die wyn drink uit dankbaarheid vir wat Hy vir
ons gedoen het aan die kruis. Wanneer
ons dan die Nagmaal saam geniet – moet ons dit saam doen in opgewondenheid en
uit dankbaarheid en in herinnering aan Jesus Christus ons Paaslam.