Sunday, July 24, 2011

Die Evangelie van Johannes - 03 (Die Vleesgeworde Christus)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

1.     SKRIFLESING: 
Joh.1:14-18 ~ Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.  Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.15Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.” 16Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18Niemand het God ooit gesien nie.  Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.

2.    INLEIDING:
In v.9 word die lesers van die Johannes Evangelie voorberei op die koms van Jesus Christus en hier in v.14 word hierdie profetiese woorde ’n realiteit – die Woord (Jesus Christus) het inderdaad na die wêreld gekom as mens – Hy het vlees geword!  En in vv.16-18 vind ons die rede; die somtotaal; die kulminering (of hoogtepunt) vir Sy vleeswording.

Jesus die Woord is deel van die hemelse werklikheid, maar nou word Jesus die aardse werklikheid en hierdie geestelike en menslike werklikhede t.o.v. Jesus, staan in skrille kontras tot mekaar en dit konfronteer ons met die, wat ons in die teologie noem, die leer van die Goddelike-Drie-Eenheid aan die eenkant en die Vleeswording van Jesus Christus aan die anderkant.  Hierdie gedeelte waarna ons vanoggend kyk is dan ook ’n pragtige inleiding tot lg. leerstuk, nl. die vleeswording van die Seun van God, Jesus Christus.

3.    DIE MENS SE PROBLEEM:
Waarom is dit belangrik dat ons sal kyk na die vleeswording van Christus, m.a.w. waarom was dit belangrik dat Jesus Mens geword het?  Die antwoord lê o.a. opgesluit in vv.16-17 van ons Skriflesing ~ Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Dit gaan dus primêr oor jou en my redding. 

Die probleem waarmee die mens egter gesit het (en steeds sit), is tweërlei van aard:
·           Eerstens lê die mens se probleem op ’n ontologiese vlak.  Om hierdie "groot woord", baie eenvoudig te verklaar, kan ons sê dat dit gaan oor die kennis van die aard en bestaan van ’n wese.  En dit is op hierdie vlak dat die mens "in die moeilikheid raak", want daar bestaan so ’n geweldige gaping tussen God en die mens t.o.v. kennis, dat dit vir die mens onmoontlik is om God werklik te ken, behalwe as God self iets daaraan doen om om Hom aan ons bekend te maak en ons sien in v.18 dat dit presies is wat God gedoen het  ~ Niemand het God ooit gesien nie.  Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.  God moes dus Sy Seun stuur ten einde Hom (die Vader) aan ons bekend te maak.
·           Tweedens lê die mens se probleem op ’n geestelike- en morele vlak en hierdie probleem is deur die mens self veroorsaak en dit is die sonde wat in Adam gepleeg is en soos ons reeds weet, word dit die erfsonde genoem.  Die mens kan homself dus nie losmaak van sy eie sonde, ten einde in die teenwoordigheid van God te kan kom nie.

As ons egter in hierdie sondige toestand bly voortbestaan, kan en sal ons nooit in die teenwoordigheid van God kan kom nie en is dit dus nodig dat ons op een of ander wyse met Hom verenig moet word.  Soos ons egter reeds in vv.16 en 17 gesien het, het God ook hier ingegryp en Jesus na die wêreld as Mens gestuur – ons praat van Jesus se vleeswording en deur hierdie vleeswording van Jesus het God en Mens een geword.  Wat ons egter altyd moet onthou is dat Jesus nooit regtig een van ons geword het nie.  M.a.w. die mensdom is nie nou skielik geheilig of gered nie.  Nee, dit beteken bloot dat Jesus tegelykertyd God en Mens geword het, maar Mens sonder sonde – Hy het dus mens geword, sonder om Sy Goddelikheid prys te gee.

4.    DIE VLEESGEWORDE CHRISTUS:
Daar is meer as genoeg Bybelse getuienis dat Jesus volkome Mens was terwyl Hy hier op aarde was.  Hy is in ’n vrou (Maria) verwek en hy is gebore nes enige ander mens en is groot gemaak nes al die ander kinders van Sy tyd.  Hy het dus nie net op ’n dag skielik uit die niet verskyn nie.  Ja, ons weet dat Maria se swangerskap uniek was in dié sin dat geen man by Jesus se verwekking betrokke was nie, maar behalwe vir dit was Jesus as fetus en tot en met sy geboorte niks anders as enige ander mens nie – Hy het dus beskik oor ’n menslike liggaam.

Jesus het ook beskik oor ’n geslagsregister of stamboom soos enige ander mens.  Matteus en Lukas verskaf aan ons die genealogiese lyn waaruit Jesus gebore is.  Hy het dus voorouers gehad en waarskynlik ook bepaalde gene, net soos enige ander mens, van hulle ontvang.

Jesus se ganse lewe hier op aarde getuig daarvan dat Hy ook oor ander menslike eienskappe beskik het.  Ons lees bv. in Luk.2:52 ~ En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.  Hy het verstand gehad; Hy het oor liggaamlike eienskappe beskik en Hy het ’n aangename en gewilde persoonlikheid gehad.  Sy liggaam was waarskynlik meer volmaak as ons s’n, omdat Hy nie gebuk gegaan het onder die gevolge van die sonde nie en gevolglik nie fisies afgetakel is nie- maar Hy het ’n liggaam gehad.

Ons lees in Matt.4:2 ~ Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.  Jesus het dus honger geword.  Jesus het dors gehad (Joh.19:28); Hy het moeg geword nadat Hy ver gereis het (Joh.4:6 ~ Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit).  Die feit dat Jesus na Homself verwys in Joh.8:40 as man (sien N.I.V., N.A.S.B., E.S.V., ens. – die Grieks: ἄνθρωπος [anthropos /anth·ro·pos/]) is verder bewys dat Hy waarlik mens was.  Johannes getuig daarvan dat Jesus ’n fisiese liggaam gehad het ~ Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak... (1Joh.1:1)

Jesus openbaar emosies – Matt.9:36 ~ Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry....  In Matt.26:37 sien ons dat Jesus bedroef en beangs geraak het, maar Hy het ook vreugde ervaar (Joh.15:11).  Hy het kwaad geword (Mark.3:5) en verontwaardig geraak (Eng. = "indignant") (Mark.10:14).  Ook het hy verbaas gestaan oor die geloof wat die hoofman oor ’n honderd in Luk.7:9  geopenbaar het.

Ons moet natuurlik besef dat sommige van hierdie emosies nie noodwendig bewys van Jesus se menslikheid is nie, want ons lees ook in die Woord, dat God die Vader bepaalde emosies openbaar (bv. liefde en medelye).  En tweedens moet ons ook besef dat sommige van hierdie emosies wat negatief mag voorkom, soos bv. dat Jesus kwaad geraak het, op so ’n wyse geskied het, dat Hy nie in die proses gesondig het nie ("heilige woede") (Matt.21:12-17).

Jesus het oor merkwaardige kennis beskik; Hy het vrae gevra; Hy het na die sinagoge gegaan en het oor ’n wonderlike gebedslewe beskik en so kan ons aangaan – Jesus het waarlik beskik oor menslike karaktereienskappe – Hy was voorwaar Mens.

Nog ’n aspek wat ons moet aanspreek wanneer ons na Jesus se vleeswording kyk is die hele kwessie t.o.v. Sy maagdelike geboorte.  Hierdie is ’n saak wat al meer en meer in ons dag (eintlik nog altyd) in die spervuur is, met mense soos Prof. Sakkie Spangenberg e.a. (die "Nuwe Hervormers") wat openlik verklaar dat Jesus nie uit ’n maagd gebore is nie.

Wanneer ons na die maagdelike geboorte van Jesus kyk, moet ons besef dat die klem nie soseer val op die feit of Jesus se geboorte maagdelik of nie maagdelik was nie, maar eerder of die swangerskap van Maria deur die Heilige Gees bewerkstellig is of nie – die klem val dus eerder op die ingrepe van die Gees al dan nie. 

Ons moet ook verder besef dat Jesus se maagdelike geboorte nie nodig was vir Hom om God te kon wees nie (ontologies), maar dit is nodig (kenteoreties) sodat ons as mense kan weet dat Jesus, waarlik God is.

Die leerstuk van die maagdelike geboorte van Jesus, word op hoofsaaklik twee teksgedeeltes gebaseer, nl. Matt.1:18-25 en Luk.1:26-38, asook Jesaja se profesie in Jes.7:14 ~ Daarom sal die Here self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immánuel noem.  Benewens hierdie twee verwysings uit die Nuwe Testament en Jesaja se profesie, is daar nie veel ander teksverwysings wat hierdie leerstuk ondersteun nie, maar omdat ons glo dat die Woord geïnspireer is, is hierdie paar verwysings en die enkele andere, voldoende bewys dat Jesus wel uit ’n maagd gebore is.

Die feit dat Jesus uit ’n maagd gebore is, is van kardinale belang.  Indien Jesus bloot net die produk sou wees van gewone menslike gemeenskap, sou Hy net gewoon mens gewees het en nie God-Mens nie.

Ons kan onsself die vraag afvra waarom die maagdelike geboorte dan werklik nodig was?  Ons kan dit opsom in vier punte:
·           Eerstens herinner Jesus se maagdelike geboorte ons daaraan dat ons wedergeboorte bo-natuurlik is.  Johannes sê in 1:13 ondubbelsinnig dat ons wedergeboorte nie ~ ...van nature (is) nie (en ook) nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar (ons) is uit God gebore.   Wat Johannes dus hier wil beklemtoon, is die feit dat ons wedergeboorte nie deur ons eie toedoen geskied nie en dat ons dus nie daarin kan roem nie.  Net so wys die maagdelike geboorte van Jesus vir ons daarop dat ons as mense nie eens die eerste stap tot redding, nl. die geboorte van Jesus, kon inisieer nie.
·           Tweedens herinner Jesus se maagdelike geboorte ons daaraan dat ons redding in totaliteit, ’n genadegawe is.  Maria was dus ook nie in hierdie proses enigsins ’n besondere vrou nie – sy was maar net ’n begenadigde deur wie God, Sy Seun Jesus in die lewe laat bring het.  Ja, dit is waar dat Maria besondere geloof en toewyding aan die dag gelê het (Luk.1:38), maar sy het niks besonders gehad om te bied nie, trouens sy het nie eens ’n man gehad nie en haar verloofde wou van haar skei toe hy hoor dat sy swanger was – Waarom?  Matt.1:19a ~ Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie.  Dit was ’n skande om ’n buite-egtelike kind in daardie dae te verwag het (soos wat dit vandag nog steeds die geval behoort te wees!) en die mense het ’n buite-egtelike swangerskap ernstig en op grond van die Wet van Moses veroordeel, trouens die ongelowige Jode het juis hierdie feit, nl. dat Jesus volgens hulle, buite-egtelik verwek is, teen Hom gehou toe hulle met Hom geredeneer het oor die feit dat Abraham hulle Vader was – hulle het o.a. vir Jesus gesê ~ Ons is nie uit owerspel gebore nie... (Joh.8:41).

Vir ’n jong vrou dus, wat op daardie stadium van haar ongetroude lewe, eintlik nie in staat was om swanger te raak nie, omdat al wat wet en morele opvatting daarteen ingedruis het, het die geboorte van Jesus as Genadegawe aan die mensdom ’n soveel groter realiteit gemaak.
·           Die maagdelike geboorte van Jesus is voorts ’n bewys van die uniekheid van Jesus die Redder.  Al kon God dit so gewil het dat Jesus se vleeswording sonder die maagdelike geboorte, geskied het, dien Jesus se bo-natuurlike wyse van geboorte op die uniekheid van Jesus as Mens wat op ’n uitsonderlike wyse afgesonder is deur God, vir ’n baie spesiale taak, nl. die volmaakte redding van diegene wat in Hom sou glo.
·           Laastens, is die maagdelike geboorte van Jesus, bewys van God se mag en soewereiniteit oor die mensdom.  Ja, dit is so dat God by verskeie geleenthede, die menslik onmoontlike vermag het deur bv. ’n Sara swanger te laat word, terwyl sy biologies gesproke al heeltemal te oud daarvoor was – dink maar net aan die geboorte van Samuel en ook dié van Johannes die Doper self, wie se ma, Elisabet onvrugbaar was.  Die maagdelike geboorte van Jesus beklemtoon dus God se almag en soewereiniteit teenoor die mens se onvermoë om iets soortgelyks te vermag.  Dit is waarom Jesus uit oortuiging kon sê ~ Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik (Matt.19:26).

As ons dan kyk na God se oplossing vir die mens se benarde posisie waarin hy hom bevind a.g.v. die erfsonde, nl. Christus se vleeswording, is daar ’n vyfde aspek wat van kardinale belang is en waaraan Jesus moes voldoen ten einde die volmaakte offer te kon bring en dit is Sy sondeloosheid.  As Hy nie sondeloos was nie, sou Hy nie die volmaakte "Offerlam" kon gewees het wat die volmaakte offer wat God vir eens en vir altyd tevrede sou stel, gebring het nie.

Daar bestaan hoegenaamd geen twyfel daaroor dat Jesus sonder sonde was nie.  Ons vind verskeie Skrifuitsprake oor Sy sondeloosheid.  Kom ons kyk na ’n paar:
-        Hebr.4:15 ~ Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.
-        Petrus wat baie na aan Jesus was sê in Joh.6:69 die volgende (en hier is die N.A.V. ’n beter vertaling as die O.A.V.) ~ En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.  En in 1Pet.2:22 verklaar hy dat Jesus geen sonde gedoen het nie.
-        Ook Paulus het in 2Kor.5:21 verklaar dat Jesus sonder sonde was.
-        Die belangrikste getuienis aangaande Jesus se sondeloosheid, of anders gestel, Sy volkome heiligheid, kom uit Sy eie mond toe Hy met die Jode wat Hom wou doodmaak, in gesprek was en Hy by implikasie in Joh.8:46a verklaar dat Hy sonder sonde is – Hy het gesê ~ Wie van julle kan sonde by My aanwys?   
-         Jesus het ook Sy dissipels geleer om hulle sonde te bely en om vergifnis daarvoor te vra (Matt.6:12), terwyl daar nêrens in die Skrif getuienis daarvoor is dat Hy ooit enige sonde erken of bely het nie.

Die enigste sonde waarvan die Skrifgeleerdes Jesus beskuldig het, was godslastering, toe Jesus vir die verlamde man wie Hy genees het, gesê het dat sy sonde vergewe word, maar omdat Jesus self ook God is, weet ons dat ook dit nie godslastering en derhalwe sonde was nie (Matt.9:3)

-        Selfs Judas, die dissipel wat Jesus verloën het, het verklaar dat Jesus niks verkeerd gedoen het nie (Luk.23:41).

Jesus het menige keer in situasies verkeer waar Hy sou kon sondig as Hy nie God self en daarom sondeloos was nie, maar Hy het nie en Hy sou ook nie.  Dit is dus baie duidelik op grond van Skrifgetuienis, dat Jesus sondeloos was.

5.    DIE IMPLIKASIES VAN JESUS SE VLEESWORDING:
As ons dan sê dat God die Vader se oplossing vir die gevalle mens se verlore toestand, die vleeswording van Jesus was, moet ons logieserwys vir ons self vra, wat die implikasies dan van Jesus se vleeswording vir ons is.

·           Ons moet eerstens besef dat Jesus se soendood volkome is.  Gedurende die Ou Testamentiese offers, moes die Hoë Priester versoening doen namens die volk se sonde en hy moes in die proses ’n lam sonder gebrek gebruik het.  Ons het egter ook gesien dat selfs die Hoë Priester nie sonder sonde was nie en dat die lam ook nie voldoende was nie en daarom moes die offer op gereelde basis herhaal word, MAAR, Jesus is self Hoë Priester ~ Vir ons was so ’n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele (Hebr.7:26).  Wat meer is, Jesus was ook dié volmaakte Lam.  Johannes het op ’n keer in Joh.1:29 en 36 gesê ~ Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!  Jesus  het dus die volmaakte offer gebring wat die Vader eens en vir altyd tevrede gestel het – Sy offer was dus volkome.
·           Jesus het as Mens, alles (en selfs veel meer) beleef as wat ons as mens ooit kan ervaar en daarom kan Hy, benewens die feit dat Hy God is, beter met ons identifiseer en empatie met ons hê as wat enige mens ooit kan droom om te hê.  Wanneer ons eensaam is; wanneer ons honger het; wanneer ons vervolg word; wanneer ons gepynig word (beide fisies, sowel as emosioneel); wanneer ons hartseer is; ens., het Christus volle begrip daarvoor, want Hy het self ook deur al hierdie dinge gegaan – Hebr.4:15 leer ons ~ Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.
·           Omdat Jesus vir ons in die Woord sê hoe ’n mens behoort te wees – omdat Hy dit self voorgeleef het, openbaar Hy aan ons wie ons werklik is en hoe ver ons tekort skiet en dit moet ons motiveer om meer en meer soos Hy te word.  Dit help ons dus om te vorder op ons pad van heiligmaking.  Dit is dan ook waarom Paulus in Kol.3:9-10 sê ~ Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.

Geliefdes, ons kan vandag steeds saam met Johannes jubel, omdat ons weet dat Die Woord mens geword (het) en onder ons kom woon (het).  Ons het Sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (v.14).

6.    AFSLUITING:
Broer en suster, vriend en vriendin, kan ek weer soos verlede week vir jou sê, dat die wêreld op een van twee maniere gereageer het op die Vleesgeworde, Jesus Christus – sommige het hulle rug op Hom gedraai, terwyl ander Hom in geloof ontvang het.  Hieruit blyk dit dus baie duidelik, dat wanneer mense se pad met dié van die Vleesgeworde Jesus Christus kruis, hulle nooit meer dieselfde is nie, want Jesus konfronteer hulle met ’n keuse – óf vir Hom, óf teen Hom!  Niemand wat met Jesus gekonfronteer word, kan Hom ignoreer nie – jy móét ’n keuse maak en hierdie keuse het geweldige implikasies tot gevolg, trouens dit het ewige – letterlik, ewige implikasies – van die oomblik dat jy die keuse maak tot in ewigheid.  Watter keuse maak jy?  Watter keuse maak jy vandag, want as jy nog nooit vantevore met Hom gekonfronteer is nie, word jy nou op hierdie oomblik met Hom gekonfronteer – Kies jy vir Hom, of kies jy teen Hom?  En as jy vir Hom kies, of reeds in die verlede gekies het, moet jy besef dat ons almal ...Uit sy oorvloed, ...genade op genade ontvang (het)... en daardie ...genade en waarheid het deur Jesus Christus gekom.  Wat maak ek en jy met daardie genadegawe wat ons onverdiend uit God die Vader se hand ontvang het?  Leef ons asof dit nie deel is van ons lewe nie, of leef ons met dit as primêre fokus en missie vir ons lewe?  Leef ons ’n dankbaarheidslewe vir daardie genade?  Leef ons in oorwinning oor daardie genade?  Getuig ons van daardie genade in ons lewe, maar ook daardie genade wat beskikbaar is vir ’n verloregaande wêreld?

Onthou die woorde van Paulus wat ek ook verlede Sondag aan jou voorgehou het – Rom.10:9-10 sê ~ As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.  Laat ons dan saam met die Woord en saam met Johannes die Doper, getuig van die ware Verlosser en Messias – die Lig, die Vleesgeworde Jesus Christus!


[1]  Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 24 Julie 2011

Sunday, July 17, 2011

Die Evangelie van Johannes - 02 (Die Aankondiging)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.     SKRIFLESING: 
Joh.1:6-13 ~ Daar was ’n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. 7Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. 8Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. 9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10Hy wás in die wêreld—die wêreld het deur Hom tot stand gekom—en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.

2.    INLEIDING:
In v.6 sien ons iemand wat skielik op die wêreldtoneel verskyn, maar dit is nie sommer so ’n man nie!  Dit is ’n man met ’n baie spesifieke roeping en opdrag.  Hy was ook ’n voorbeeld van uitnemende nederigheid en ons sien dit wanneer hy bv. van Jesus sê ~ Hy moet meer word en ek minder (Joh.3:30).  Hierdie man se naam is Johannes die Doper en hy was deur God gestuur om te getuig van die Lig wat sou kom.  En waarom moes hy van hierdie Lig getuig?  Ten einde die mensdom voor te berei vir dié Een se koms deur wie hulle tot geloof en redding kon kom.

Hierdie Johannes was nie die outeur van die Evangelie van Johannes nie.  Hierdie Johannes was ’n baie eksentrieke man.  Hy was van priesterlike afkoms – sy Pa was die priester van Abia (1Kron.24:10) en sy ma was Elisabet wat een van die dogters van Aäron was (Luk.1:5).  Sy geboorte is deur ’n engel aangekondig en hy is ses maande voor Jesus gebore.  Hy het sy jare voor die koms van Jesus, in die berge tussen Jerusalem en die Dooie See deurgebring.  Hy het skielik in die openbare oog gekom na Jesus se geboorte, maar voor Jesus bekend geraak het. 

Johannes die Doper was ’n prediker en het groot gehore aangetrek en mense uit al die uithoeke het na hom kom luister.  Die sentrale tema van sy prediking was die noodsaak aan bekering en hy het in die proses, dosyne mense gedoop.  Hy was ’n uitgesproke man en het nie geskroom om die Sadduseërs en die Fariseërs, "Addergeslag" te noem nie (Matt.3:7).

Ook Jesus het van "Die Doper" gehoor en na hom gekom om gedoop te word, waarop Johannes, Jesus aangedui het as die lang verwagte Messias wat sou kom om die volk van hul sonde te verlos (Matt.3:13-14).

Na ongeveer ses maande se openbare bediening, het dit baie skielik tot ’n einde gekom toe hy Herodes die heerser oor Israel, tereg gewys het oor die feit dat Herodes met sy broer se vrou Herodias getrou het (Luk.3:19), waarop Herodes hom in die tronk gegooi het en waar hy kort daarna in opdrag van Herodes, onthoof is.  Johannes se volgelinge het sy koplose liggaam gaan begrawe en Jesus het by die aanhoor van die nuus van Johannes se dood gesê ~ Hy was die lamp wat gebrand en geskyn het, en julle was gewillig om julle ’n rukkie in sy lig te verheug (Joh.5:35).

3.    JESUS CHRISTUS DIE LIG:
Terug by die Apostel Johannes, skrywer van hierdie Evangelie.  Ons sien in hierdie openingsverse van ons Skriflesing, dat Johannes nie veel aandag skenk aan "die Doper" nie, want soos ons verlede week gesien het, is hy nie werklik geïnteresseerd in allerlei historiese detail nie, maar eerder in die Vleesgeworde Christus se missie en lering.

Johannes sê vir ons dat Johannes die Doper gekom het, om te getuig van die Lig – hy is dus nie self die Lig nie, maar slegs getuie van die Lig wat aan die kom was.  Wat of wie is hierdie Lig?  Ek het 21 kommentare geraadpleeg en almal gaan van die veronderstelling uit dat die Lig na Jesus verwys, maar ek wou weet hoe hulle daarby uitkom – hoe weet hulle dat die Lig nou spesifiek Jesus is.  Die antwoord lê opgesluit in vv. 9-13 wat saam gelees moet word ten einde aan ons te sê wat of wie hierdie Lig is.  Kom ons kyk dus weer daarna ~ Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10Hy wás in die wêreld—die wêreld het deur Hom tot stand gekom—en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.  Die Lig waarvan Johannes moes getuig, was Skepper van hemel en aarde.  Hierdie Lig was die Een wat deur Sy eie mense (Israel) verwerp was.  Dit begin al meer klink asof hierdie Lig, Jesus kan wees, nie waar nie? 

Vers 12 sê dat die Lig, die Een is wat die reg gee aan diegene wat in Hom glo, om kinders van God genoem te word en ons weet tog op grond van die Skrif, dat net Jesus Christus by magte is om lewe te gee aan diegene wat Hom aanneem en wat weergebore word deur God (1:12).  Hierdie Lig waarvan Johannes getuig is dus niemand ander as Jesus die Christus nie.

Joh.3:19-21 ondersteun hierdie getuienis ~ En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.

Lig en duisternis is herhalende temas in Johannes en volgens 1Joh.1:5 is God die Lig ~ Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.  Johannes sê voorts in Joh.12:35-36 ~ Toe sê Jesus vir hulle: “Nog net ’n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie. 36Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.” Dit het Jesus gesê en daarna van hulle af weggegaan en Hom skuil gehou.  Jesus verwys hier na Homself as die Lig.

Hierdie Lig is ’n verwysing na Jes.49:6 waar daar ook oor die Lig gepraat word ~ Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is om die stamme van Jakob te herstel en om die Israeliete wat gered is, terug te bring nie; Ek maak jou ’n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik. Asook 1Joh.2:8 ~ Tog is dit ook ’n nuwe gebod wat ek aan julle voorskrywe. Dat dit werklik so is, is te sien in Jesus en ook in julle, want die duisternis is aan die verbygaan, en die ware lig skyn alreeds  – ’n duidelike verwysing dus na Jesus die Christus.

Ons het ook verlede week gesien dat Jesus, die Woord genoem word en hier in v.14 sê Johannes baie duidelik, dat die Woord – Jesus by ons kom woon het, want dit is net Hy wat enersyds die Woord is, maar andersyds ook Seun van die Vader is.

4.    ONS GETUIENIS:
Johannes getuig dus van Jesus Christus die Verlosser wat gekom het om Homself aan ons te openbaar, sodat ons deur die genade van die Vader en die werking van die Heilige Gees, in Hom kon glo en sodoende wederbaar kon word en kinders van God kon word.

Wat baie belangrik is t.o.v. Johannes se getuienis en waarvan ons baie duidelik kennis moet neem, is die feit dat hy onomwonde verklaar dat hý nie die Lig is nie (v.8), maar wel Jesus Christus, trouens hy sê in Joh.1:27 (O.A.V.) ~ ...dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie.  Hierdie feit is belangrik en ons moet deeglik daarvan kennis neem, sodat ons nie sal begin roem in onsself wanneer ons suksesvol getuig van Jesus nie, of wanneer mense onder ons bediening tot bekering sou kom nie.  Net soos wat Johannes maar net instrument in die hand van die Here was, net so is ons ook as ons "suksesvolle" bedieninge het, of as ons "suksesvol" getuig van Hom.  Wanneer ons in onsself sou begin roem, sal die Here ons getuienis stop sit.

Tweedens moet ons besef dat Johannes nie net ’n lewende getuienis was nie.  M.a.w. hy het nie net ’n heilige lewe gelei en sodoende van Jesus getuig deur sy optrede, spreke en voorbeeld nie.  Nee, hy het getuig.  Die woord "getuig" is in die Grieks, μαρτυρέω [martureo /mar·too·reh·o/] en beteken letterlik om te getuig t.o.v. toekomstige gebeure en ons kan tog nie oor toekomstige gebeure (soos in die Woord verstrek) getuig, as ons dit nie mondelings doen nie.  Die Here Jesus het self ook in Matt.28:20 vir ons gesê dat ons nie stil moet bly nie en Paulus sê in Rom.10:14 ~ Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek?  En hierdie woord "preek" (κηρύσσω / kēryssō) verwys in die Grieks na iemand wat die Evangelie van Christus proklameer of uitdra, met die doel om te oortuig – dus nie net leraars nie.  Ons, wat onsself Christene noem, het dus almal ’n verantwoordelikheid om te getuig – om die Blye Boodskap uit te dra.  

Derdens moet ons getuienis van so aard wees dat die eindresultaat by die persoon teenoor wie getuig word, geloof in Jesus Christus tot gevolg sal hê.  Johannes ...moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom (1:7).

5.    DIE DOPER SE GETUIENIS:
Ons moet egter ook na ’n ander kardinaal belangrike gedeelte in ons Skriflesing kyk en dit is vv.12-13, maar net voor ons daar kom, net enkele opmerkings oor vv.10-11. 

Johannes praat hier van mense wat Jesus sou verwerp.  Wie is hierdie mense?  Ons kan hierdie mense in basies twee groepe verdeel, nl. die Jode wat bly vaskleef het aan die ou verbond – hulle wat Jesus verwerp het en vandag nog steeds uitsien na die koms van húlle messias, maar hom nooit sal vind nie.  Aan die anderkant vind ons die heidene wat met Jesus, óf deur Sy algemene openbaring (die getuienis van die skepping), óf Sy spesifieke openbaring (Evangelisasie; die Woord, God se spesifieke openbaring van Homself, ens.) gekonfronteer word en Hom nogtans verwerp as Verlosser.  Joh.3:19 verduidelik dit vir ons baie mooi ~ En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg.

Kom ons kyk egter na vv.12-13.  In die Johannes Evangelie vind ons ses vorme van getuienis:
·           Eerstens is daar die getuienis van Jesus Christus self – Hy sê in Joh.8:14 ~ Al getuig Ek ook oor Myself, is my getuienis geldig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie.
·           Tweedens sien ons in Joh.8:18 dat God die Vader ook getuig en die N.I.V. stel dit baie mooi en duidelik ~ I am one who testifies for myself; my other witness is the Father, who sent me.  Ook 1Joh.5:9 ~ Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig, en die getuienis handel oor sy Seun.
·           Die derde Persoon wat oor Jesus getuig, is die Heilige Gees ~ Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig (Joh.16:13-14).
·           Ons weet ook dat die Woord getuig oor Jesus Christus.
·           Ons sien ook hier in ons Skriflesing dat Johannes die Doper spesifiek geroep en gestuur was om van Jesus te getuig.
·           En laastens is daar die getuienis van gewone gelowiges, soos jy en ek.

Waarom noem ek hierdie ses voorbeelde van getuielewering?  Omdat ons bemoedig en gemotiveer moet word daardeur, want die Here ag jou getuienis waardevol genoeg om deel uit te maak van die vyf ander monumentale vorme van getuienis teenoor die wêreld oor die Persoon en werk van die Here Jesus Christus.

Hier in vv.12-13 vind ons dan Johannes die Doper se getuienis aangaande Jesus die Messias en wat hy hier in enkele woorde sê, is in werklikheid ’n mondvol.

In die eerste 9 verse van Johannes sien ons hoe dat die heerlikheid van Jesus Christus besing word, maar in skrille kontras daarmee vind ons terselfdertyd die mens se verwerping van die Verlosser; die Logos; die Woord; die Lig – Jesus Christus.  Die mensdom in geheel het Hom verwerp en die Jode wat van beter moes geweet het, a.g.v. die feit dat hulle tot nou "volk van God" was, het Hom ook verwerp.  Vir wie het Hy dan gekom?  Waarom getuig die Doper dan – is alles nie puur verniet nie?  Nee, daar is goeie nuus saam met die duistere prentjie wat Johannes skilder – daar was tóg ’n klein groepie mense wat uiteindelik, deur die eeue heen tot derduisende sou groei, wie Jesus nié verwerp het nie.  Johannes noem hulle in v.12 ~ Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.  Daar was dus tog ’n groep mense wat Hom nie verwerp het nie - ... dié wat in Hom glo!

Hierdie vers is sekerlik een van dié verse in die Bybel – iets soos ’n goue sleutel wat die res van die Skrif en die Ewige Lewe oopsluit vir diegene wat deur God uitverkies is!

Die kruks van hierdie vers lê opgesluit in die tweede gedeelte waar ons sien dat God die mense wat in Hom glo, die reg gee om Sy kinders te word.  Die implikasie van hierdie uitdrukking is dus dat die mens nie uit eie wil kan of wil glo in Jesus nie.  God besluit wie Hy gaan toelaat om in Hom te glo.  Die mens kan dus nooit self die inisiatief in hierdie "proses" neem nie – nee, God neem die inisiatief!  Matt.22:14 sê ~ Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.  En Paulus sê in Ef.1:4 ~ So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.  Petrus sê in 1Pet.1:2 ~ Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.  God kies dus uit, wie Hom gaan dien en in Hom glo en dan eers, nadat die Heilige Gees dit in ons harte gewerk het, glo ons in Jesus Christus. 

Ons moet dus besef dat geen mens uit homself weergebore kan word nie – dit is presies die fout wat Nikodemus begaan het toe hy vir Jesus in Joh.3:4 gevra het ~ Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?  Nee, dit is waarom v.13 vir ons sê ~ Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.  N.a.v. hierdie vers sien ons dus dat ons nie as gelowiges, gebore kan word nie – ons word nie as goeie mense gebore nie; ons kan nie deur die kerk gered word nie; ons kan nie op grond van ons ouers se geloof gered word nie; ons kan nie op grond van ons eie besluit gered word nie – net God kan ons red!

Joh.1:12 sê egter ook ~ Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo.... Ons moet Hom dus ook aanneem en ons moet ook glo – dit vra dus ook optrede van ons kant – God en die mens werk dus gelyk in sy of haar wedergeboorte.  Of anders gestel, God werk nooit buite die mens om nie – daar is tog nêrens enige gelowiges wat deur God gered is en nie in Hom glo nie; wat nié sy lewe onder God se beheer plaas nie; wat nié van Jesus Christus getuig nie; wat nie oorloop van vreugde en dankbaarheid teenoor God vir die genade wat Hy in die gelowige se lewe uitgestort het, ten einde hom te red nie – die gelowige moet ook glo!

6.    AFSLUITING:
Die wêreld het op een van twee maniere gereageer op die Lig, Jesus Christus – sommige het eenvoudig hulle rug op Hom gedraai, terwyl ander Hom in geloof ontvang het.  Hieruit blyk dit dus baie duidelik, dat wanneer mense se pad met dié van Jesus Christus die Lig kruis, hulle nooit meer dieselfde is nie, want Jesus konfronteer hulle met ’n keuse – óf vir Hom, óf teen Hom!  Niemand wat met Jesus gekonfronteer word, kan Hom ignoreer nie – jy móét ’n keuse maak en hierdie keuse het geweldige implikasies tot gevolg, trouens dit het ewige – letterlik, ewige implikasies – van die oomblik dat jy die keuse maak tot in ewigheid.  Watter keuse maak jy?  Watter keuse maak jy vandag, want as jy nog nooit vantevore met Hom gekonfronteer is nie, word jy nou op hierdie oomblik met Hom gekonfronteer – Kies jy vir Hom, of kies jy teen Hom?  En as jy vir Hom kies, of gekies het, moet jy besef dat daar nêrens in die Skrif sprake is van gelowiges wat swyg oor hulle kindskap nie – hulle getuig daaroor en hulle getuig voortdurend daaroor, omdat hulle nie genoeg kan kry van God se genade in hulle lewe en die feit dat Hy hulle uitverkies het nie, daarom dat Rom.10:9-10 sê ~ As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.  Laat ons dan saam met die Woord en saam met Johannes die Doper ook getuig van die ware Verlosser en Messias – die Lig, Jesus Christus!


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 17 Julie 2011

Wednesday, July 13, 2011

Die God van die Bybel - 03 (Om God te Ken - 01)

1.    INLEIDING:
Wanneer ons ’n studie van die God van die Bybel doen, moet ons onsself afvra:  Waarom doen ek dit en hoe moet ek dit doen – waar begin ek?
·           Eerstens moet ek in gedagte hou, dat dit God se opdrag is – Sy wil, dat ons Hom sal ken.
o  So sê die HERE:  Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem , hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek 'n behae, spreek die HERE (Jer.9:23,24).
·           Tweedens sien ons dat kennis van God vir die mens lewe beteken.
o  En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het (Joh.17:3)
o  ...laat ons dit najaag om die HERE te ken...  (Hos.6:3)
o  ...wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie... (2 Tes.1:8)
·           Verder is dit noodsaaklik vir ons lewe as Sy kinders in 'n vyandige wêreld
o   My volk gaan te gronde weens 'n gebrek aan kennis... (Hos.4:6)
o   Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand  (Spr.9:10)
o   En omdat hulle dit nie van belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings... (Rom.1:28 N.A.V.)
·           Vierdens berei dit ons voor vir die ewigheid saam met Hom (ons heiligmakingsproses nou hier in hierdie lewe dus)
o  Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.  En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis... (2Pet.1:5 N.A.V.)
o  ...vanweë die hoop wat vir julle weggelê is in die hemele, .......Daarom hou ons ook nie op nie, ....., om vir julle te bid en te vra dat ........julle in die kennis van God mag groei... (Kol.1:5-10).

2.    ENKELE GRONDBEGINSELS:
Wanneer ons ’n studie van God doen, moet ons o.s. grondbeginsels, voortdurend in gedagte hou:
·           God het die Bybel (Sy Woord) aan ons gegee, sodat Hy deur Sy Woord met ons kan praat (en op geen ander wyse nie), ten einde aan ons kennis te gee, sodat daardie kennis kan lei tot ons verlossing en redding.
·           God is Here en Koning oor Sy skepping; Hy is in beheer oor alles en Hy beheer dit alles ten einde eer en heerlikheid aan Homself te bring.
·           Hy demonstreer Sy volmaaktheid deur alles wat Hy doen, ten einde mense en engele daartoe te dryf om Hom en Hom alleen te aanbid en te vereer.
·           God is Verlosser, deurdat Hy aktief in soewereine liefde en deur die Here Jesus Christus, gelowiges kan red van die skuld en mag van die sonde (die erfsonde – 1Kor.15:22 ~ Want soos hulle almal in Adam sterwe... - later meer hieroor) en hulle aan te neem as Sy kinders en hulle dienooreenkomstig te seën.
·           God is ’n Drie-Enige God; daar is in die Godheid m.a.w. drie Persone, nl. God die Vader, God die Seun Jesus Christus en God die Heilige Gees., en die verlossingswerk in diegene wat glo, is ’n gebeurtenis waar al drie persone van die Drie-Eenheid optree – die Vader wil verlossing; die Seun verseker verlossing en die Heilige Gees pas verlossing toe (later ook meer hieroor).

3.    ONS LEWENSDOEL:
Ons doel in hierdie lewe moet dus altyd wees om God beter te leer ken; om nader aan God te leef en in ’n persoonlike verhouding tot Hom te staan deur Jesus Christus, anders kan ons onsself nie gelowiges (Christene spesifiek) noem nie.

As ons God dan beter wil leer ken, moet ons eerstens weet wie of wat God is.  Ten einde ’n kort antwoord hierop te gee, wil ek J.I. Packer aanhaal[2] wanneer hy op p.17 van sy kosbare boek, "Knowing God", vir Charles Hodge aanhaal en hierdie vraag as volg antwoord:  What is God?  God is a Spirit, infinite, eternal, and unchangeable in His being, wisdom, power, holiness, justice, goodness, and truth (Ek sou dit as volg in Afrikaans vertaal: God is Gees en Hy is oneindig en ewig en overanderlik in Sy totale wese, wysheid, mag, heiligheid, geregtigheid, goedheid en waarheid).  Dit is hierdie God wat ons beter moet leer ken ten einde waarlik kind van God te wees.

Dit is egter ewe belangrik om in ons studie van God en Sy karakter, die volgende in gedagte hou:
·           Ons moet elke waarheid wat ons leer oor God omskep in 'n oordenking voor God, wat lei tot gebed en lofprysing tot God.
·           Ons moet onthou dat oordenking 'n aktiwiteit van heilige denke is, wat bewustelik in die teenwoordigheid van God uitgevoer word, maar altyd met die hulp van God, as 'n middel tot gemeenskap met Hom
·           Die gevolg daarvan is om ons nederig te maak, wanneer ons God se almag teenoor ons eie onbeduidendheid en sondigheid stel.
·           Dit vertroos ons en lei ons tot nederigheid as ons die onmeetlike rykdom van God se genade in die Here Jesus Christus oordink.
·           Soos ons meer en meer ervaring kry van hierdie proses van die ontdekking van ons eie nietigheid en ons (onverdiende) verhewe posisie in Christus, groei ons in die kennis van God.  Op hierdie wyse kan ons dus werklik tot 'n punt kom dat ons waarlik die HERE ken.
·           Heiligmaking is ’n verdere gevolg van kennis van God. Godsvrug of heiligmaking beteken om in vertroue en gehoorsaamheid, gebed en lof, onderwerping en diens op God se openbaring (deur die Woord) te reageer.  Die lewe moet gesien en geleef word in die lig van God se Woord.  Dit en niks anders nie, is ware godsdiens.  Oswald Chambers sê in sy kosbare boek, "My Utmost for His Highest" (11 Julie)[3], ’n Gelowige glo nooit dat sy omstandighede bloot per toeval so is nie – hy verdeel ook nooit sy lewe in sekulêre en geestelike kompartemente nie.  Hy sien elke situasie waarin hy hom bevind as ’n geleentheid om Jesus Christus beter te leer ken en openbaar altyd ’n gesindheid van onbeperkte oorgawe en totale afstand doen van die wêreldse.  Die Heilige Gees is vasberade dat Jesus Christus sal realiseer in elke area van my lewe en Hy sal my oor en oor na dieselfde put terugbring totdat dit ’n werklikheid word.  Hy gaan verder en haal Joh.13:3 aan en sê dat Jesus geweet het dat Hy van God kom en dat Hy na God gaan terugkeer.  Dit is presies wat ons optrede en gedrag ook moet weerspieël as ons sê dat ons gelowiges is!  

Ons doel in hierdie lewe moet dus wees om God te ken – soos Johannes dit in Joh.17:3 dit stel ~ En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.

Prediker weer sê ~ En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid... (Pred.12:1).

Om God te ken behels dus:
·           Om na Sy Woord te luister en dit te ontvang soos die Heilige Gees dit vertolk vir toepassing in en deur jou lewe.
·           'n Toename van kennis t.o.v. God se karakter, soos geopenbaar deur die Skrif.
·           Om Sy uitnodiging t.o.v. kindskap aan te neem en in ’n verhouding met Hom te staan.
·           Sy bevele uit te voer.
·           ’n Herkenning van Sy liefde vir jou.
·           Om Hom te ken soos wat ’n seun sy vader ken; of ’n vrou haar man; ’n onderdaan sy meester; ’n skaap sy herder (al vier Bybelse beelde) – die beginsel is dat dié wat Hom
ken, deur Hom in liefde versorg word.

Ons met besef dat die enigste wyse waarop ons God kan ken, is deur Jesus Christus.  Jesus sê in Joh.14:6 ~ Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.  En in Joh.14:9 sê Hy ~ Hy wat my gesien het, het die Vader gesien.

Ons kan God dus net ken as ons in Christus Jesus is en diegene wie in Christus is verkeer in dieselfde intieme verhouding met Jesus, as wat Sy dissipels ervaar het, met die verskil dat ons vandag Sy teenwoordigheid net geestelik ervaar en nie in die vlees dus nie.  En die wyse waarop Hy met ons praat is nié deur nuwe woorde (of "profesieë") nie, maar deur die aanwending van die Woord (die Bybel) in ons gewete, daarom dat Hy in Joh.10:27-30 vir ons sê ~ My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.  My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal: en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.  Ek en die Vader is een.

Om God dan te leer ken en waarlik te ken, behels ’n persoonlike verhouding.  So ’n persoonlike verhouding is meer as om net van Hom te weet - om van Hom te weet is egter 'n noodsaaklike voorvereiste ~ ...hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? ...." (Romeine 10:14).

Ons moet besef dat 'n eenvoudige leser van die Bybel en preekhoorder, wat vol van die Heilige Gees is, sal 'n veel dieper verhouding met God ontwikkel as meer geleerde manne wat net  tevrede is met teologies-korrekte kennis.

 

Om God dus te ken behels persoonlike betrokkenheid.  Om 'n ander persoon te ken, moet jy jouself verbind tot sy geselskap en lewe.  Persoonlike betrokkenheid en daarom kennis van iemand is dus ’n belewing van daardie persoon.  Die Psalmdigter sê in Ps.34:9 ~ Smaak en sien dat die Here goed is (Psalm 34:9).  Ons moet Hom dus ervaar – dit is 'n proses waar ons ons harte vir mekaar oopmaak en die "kwaliteit" van die ander "proe".


Wanneer ’n mens persoonlik betrokke is in ’n vriendskapsverhouding, is daar uiteraard emosies by betrokke, maar die mens se intellek is ook betrokke (waar daar bv. ’n wilsbesluit gemaak moet word). 

Net so is emosies uiteraard betrokke wanner die mens in ’n verhouding met God staan:
·           Wanneer God geëer word, verheug die gelowige hom daarin.
·           Wanneer God onteer word is die gelowige in die dieptes van ongelukkigheid ~ My trane vloei sonder ophou omdat die mense u wet nie onderhou nie."  (Ps.119:136 N..A.V.).
·           Die gelowige is skaam en hartseer wanneer hy sy Here faal (Dawid se boetedoening in Ps.51).
·           Wanneer hy God se groot liefde vir hom besef, is die gelowige in die hoogtes van verwondering

4.    ENKELE SLOTOPMERKINGS:
Dit is uiters belangrik dat ons altyd sal onthou dat die inisiatief vir ’n vriendskap met God, by God lê en nié by ons as mense nie.  Dit is Hy wat deur die werking van die Heilige Gees die begeerte in ons harte plaas om Hom beter te leer ken – Hy maak dus vriende met ons, dit is waarom Paulus in Gal.4:9 sê ~ ...maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is....  Ons ken God dus omdat Hy ons "uitgesonder" het deur Sy genade ~ Toe sê die Here aan Moses:.....jy het genade gevind in my oë, en Ek ken jou by die naam (Eks.33:17) en Joh.6:37 ~ Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom....

 

Wat dus primêr saak maak, is nie of ek God ken nie, maar of Hy my ken - al my kennis van Hom is afhanklik van Sy voortgesette inisiatief om my te ken.  Hy is voortdurend besig om my te ken in liefde en hou wag oor my vir my beswil. 

 

Deel van hierdie genade is dat Hy uiters realisties oor my is:

·           Hy het voorkennis van die slegste oor my.

·           Hy ken al die verskuilde sondes en ongeregtigheid in my wat my medemens nie van weet nie.
·           Hy sien meer korrupsie in my as wat ekself van weet.
·           Ek is nooit uit sy gedagtes nie.
·           My naam (indien ek gered is) is in Sy handpalms ingegraveer (Jes.49:16). 
·           Ek ken Hom omdat Hy my eerste geken het (Gal.4:9).
·           Vir die een of ander onverklaarbare rede wil Hy my vir Sy vriend hê, begeer Hy om my vriend te wees, en het Hy Sy Seun gegee om vir my te sterf sodat hierdie doel verwesenlik kon word.

Ons kan God nie ken as ons nie Sy Woord oordink nie en daarvoor het ons Sy hulp nodig en wanneer ons Sy Woord bestudeer, moet ons dit altyd in nederigheid en afhanklikheid doen.


[1]Mannebybelstudie – Aangebied deur Kobus van der Walt van ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) te Meyerton op Dinsdagaand 12 Julie 2011
[2]PACKER, J.I.  1973.  Knowing God.  Hodder & Stoughton.  London : Kent.  317p.
[3]CHAMBERS, Oswald.   1935.  My Utmost for His Highest.   Dodd, Mead & Co.  New York.  375p.