Wednesday, May 18, 2011

Prediking in die afwesigheid van God

Prediking in die afwesigheid van God.

’n Mens vind hierdie neiging veral in kerke waar Psalms nie meer gesing word nie – dit word verplaas met "evangeliese liedere" waar die fokus bykans uitsluitlik op Jesus geplaas word (in isolasie van God dus).

Lidmate mag dus die indruk kry dat geloof in Christus die geloof in God vervang het, of nog erger dalk, dat geloof in Christus by ’n geloof in God gevoeg word – so asof dit die hoeveelheid "items" wat benodig word vir ware geloof vermeerder – amper iets van, "hoe meer items hoe beter word jy gered".

’n Baie belangrike Nuwe Testamentiese beginsel wat ons altyd in gedagte moet hou, is dat Christus nie geskei kan word van God nie.  Of anders gestel, dat Christus verhef word bo God.

Ons moet altyd in gedagte hou, dat Jesus deur God gestuur is.  Dat Jesus, God se werk/opdrag moes kom uitvoer.  Dat Jesus altyd God se eer gesoek het.  Ons sien bv. ook dat Paulus se prediking nooit net oor Jesus gegaan het nie – hy het God dus nooit geïsoleer nie.

Verskeie Skrifgedeeltes kan aangehaal word om hierdie feit te konstateer. Bv. 1Kor.1:23-24 ~ ...maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God; 2Kor.5:18-20 ~ Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het (met wie versoen het?  Met God) en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou. 20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! en Ef.3:8-12 ~ Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig. 9Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. 10Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, 11soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring. 12In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.
1Kor.15:24 en 28 is ewe belangrik ~ Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. 25Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. 26Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.”  Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is. 28Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles.

Jesus sê ondubbelsinnig in Mark.1:14 ~ Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.

Jesus sê in Joh.1:18 ~ Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.  Johannes sê dus dat Jesus se koms na die aarde was om Sy Vader bekend te maak.

Jesus sê voorts in Joh.6:44 ~ Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie....  En in Joh.12:44-45 sê hy ~ Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het. 45En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het.

En dan die baie belangrike Joh.17:3-4 ~ En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. 4Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen.

Die Evangelie het dus in die eerste en die laaste plek te doen met God. Die Christelike geloof  is dus primêr ’n geloof in die Een God, Skepper, Redder, en Regter.  Die skrywers van die Nuwe Testament het nooit eers die gedagte daaraan geskenk om Christus as alternatief vir God aan te bied aan hul lesers nie – as ’n algenoegsame "objek" om te aanbid nie.  Aanbidding wat by Jesus eindig en nie voortgaan en by God eindig nie, is nie ware Christelike aanbidding nie.

Die Nuwe Testament leer ondubbelsinnig dat Christusgesentreerde prediking te alle tye moet konvergeer (uitloop) op God.  In Rom.10:14-15 vra Paulus ’n klomp vrae ~ Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.  Van Wie praat Paulus hier?  En wat is hierdie goeie nuus?  Hy het hier aangehaal uit Jes.52:7 en daar staan ~ Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” – in Engels ~ ...Your God reigns! 

John Piper sê ~ The great design and intention of the office of a Christian preacher is to restore the throne and dominion of God in the souls of men – dit is só waar!


Vry vertaal en saamgestel uit Sidney Greidanus se boek, "Preaching Christ from the Old Testament", pp.178-181 (ANTIPAS Gemeente - Woensdagaandbyeenkoms – 18 Mei 2011)