Sunday, May 1, 2011

DIE FEESTYE VAN GOD SE VOLK - 05 (Die Eerste Feesseisoen - Die Fees van die Ongesuurde Brode en die Fees van die Eerstelinge)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.     SKRIFLESING:
Lev.23:1-8 ~ Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir die Israeliete: Die feeste wat julle tot my eer moet vier, moet gewyde byeenkomste wees. Die volgende is my feeste: 3“Ses dae moet julle werk, maar die sewende dag is ’n rusdag, ’n Sabbat waarop julle ’n gewyde byeenkoms moet hou. Dan mag julle geen werk doen nie. Julle moet die Sabbat aan die Here wy, waar julle ook al woon. 4“Verder is daar ook die volgende feeste tot my eer, gewyde byeenkomste wat julle op vasgestelde tye moet vier: 5“Op die veertiende van die eerste maand teen skemer moet julle die Paasfees vier tot eer van die Here. 6Op die vyftiende van dieselfde maand begin die fees van ongesuurde brood tot eer van die Here. Sewe dae moet julle ongesuurde brood eet. 7Op die eerste dag moet julle ’n gewyde byeenkoms hou: julle mag dan geen werk doen nie. 8Sewe dae lank moet julle offers aan die Here bring. Die sewende dag moet julle weer ’n gewyde byeenkoms hou, en niemand mag werk nie.

2.     INLEIDING:
Ons het die afgelope paar weke gekyk na die Feestye van God se Volk en dan spesifiek na hoe Christus Jesus, hierdie feestye vervul het en waar ons as Nuwe Testamentiese gelowiges staan t.o.v. die onderhouding van hierdie feeste al dan nie.

Eerstens het ons na die derde fees gekyk, nl. die Loofhuttefees, met sy drie subfeeste, nl. die Fees van die Basuine; die Versoendag en derdens die Loofhuttefees.  Daarna het ons na die tweede fees gekyk, nl. die Pinksterfees en verlede week het ons na die eerste feesseisoen begin kyk, toe ons na die eerste subfees gekyk het, nl. die Pasga.  Vandag gaan ons kyk na die laaste twee subfeeste van die eerste Feesseisoen en wel die Fees van die Ongesuurde Brode en laastens die Fees van die Eerstelinge.

3.    DIE FEES VAN DIE ONGESUURDE BRODE:
Tydens die eerste feeseisoen van die Pasga, het duisende Hebreërs na Jerusalem gegaan ten einde die Pasga te gedenk en die seremoniële Paaslam te slag en te eet.  Ons het ook gesien dat Jesus gedurende hierdie selfde fees, ondersoek en gekruisig is, trouens ons het gesien dat Jesus op presies dieselfde tyd gekruisig is as wat die Paaslammers geslag was.  Ons het ook gesien dat nie een van Jesus se bene gebreek was tydens die kruisigingsproses nie en dat dit in skrille kontras gestaan het met wat met die ander gekruisigde misdadigers gebeur het. 

Christus was en is dus voorwaar die ware Paaslam wat vir elkeen van ons se sonde gesterf het en Hy het die Pasga volledig en volmaak vervul.

Die ewige Paaslam, Jesus Christus, is dus vir elkeen wat in Hom glo, geoffer en daarom het elkeen wat in Jesus Christus glo, die reg om Kind van God genoem te word.  Hierdie feit word vir ons in Joh.1:12 bevestig waar daar staan ~ Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.  Elkeen van ons wat dus in Christus ingeplant is en kind van God geword het, het nou vrede by en met God, want ons is geregverdig.  Maar God wil egter nog meer as dit vir ons doen.  Hy wil hê dat ons sal groei en vorder op die pad van heiligmaking. Hy wil hê dat ons meer en meer soos Hy sal word – Hy wil ons verander na die Beeld en Karakter van Jesus Christus en Hy wil (as Hy dit nog nie gedoen het nie, of as jy Hom nie toegelaat het om dit tot nou te doen nie) nou reeds daarmee begin.  Om hierdie selfde rede het God nog twee feeste ingestel, nl. die Fees van die Ongesuurde Brode en die Fees van die Eerstelinge.  God wou hierdie twee feeste gebruik om aan die Jode te wys hoe Hy hulle geestelike toestand wou verander namate hulle in ’n verhouding met Hom staan en met Hom wandel.

Hierdie twee subfeeste wat tydens die Pasga gevier was, het sewe dae geduur en wel van die 15de tot die 21ste van die maand Nissan (Maart/April).  Ons kan hierdie feeste gedurende die Pasga dus skematies as volg voorstel (lw.: Die nuwe dag het volgens ons tydsindeling om 18:00 begin, m.a.w. Maandag het om 18:00 op ons Sondag begin):
10
So../Ma.
Offerlam uitgesoek en vir 5 dae bewaar en ondersoek
Jesus gaan Jerusalem binne en word vir 5 dae ondervra
11
Ma./Di.
Dag 2
Dag 2
12
Di./Wo.
Dag 3
Dag 3
13
Wo./Do.
Dag 4
Dag 4
14
Do/Vr..
Die Pasga – Die Paaslam word geslag
Jesus word gekruisig
15
Vr./Sa.
Fees van Ongesuurde Brode begin

16
Sa./So.
Fees van Ongesuurde Brode
Jesus staan op uit die dood
17
So./Ma.
Fees van Ongesuurde Brode
wFees van die Eerstelinge

18
Ma./Di..
Fees van Ongesuurde Brode

19
Di./Wo.
Fees van Ongesuurde Brode

20
Wo./Do.
Fees van Ongesuurde Brode

21
Do./Vr.
Fees van Ongesuurde Brode


Kom ons kyk net weer na Lev.23:6-8 ~ Op die vyftiende van dieselfde maand begin die fees van ongesuurde brood tot eer van die Here. Sewe dae moet julle ongesuurde brood eet. 7Op die eerste dag moet julle ’n gewyde byeenkoms hou: julle mag dan geen werk doen nie. 8Sewe dae lank moet julle offers aan die Here bring. Die sewende dag moet julle weer ’n gewyde byeenkoms hou, en niemand mag werk nie.”

Die volk moes tydens hierdie fees, ongesuurde brood eet.  Brood sonder suurdeeg is nie suur nie.  Die suurdeeg in brood was simbolies van die Jode se ou lewenswyse van slawerny in Egipte. Hierdie Fees van die Ongesuurde Brode, was dus ’n herinnering aan die volk se verlossing en wegbreek van slawerny uit Egipte. God het Sy volk uit Egipte geroep en weggevoer om ’n outonome en afsonderlike nasie vir Hom te word.  Hierdie fees moes hulle dus altyd daaraan herinner dat God hulle uit Egipte verlos het en dat hul lewens daar deel is van hul oumens.  Moses sê in Eks.13:3-8 ~ Moses het vir die volk gesê: “Onthou die dag waarop julle uit Egipte, uit die plek van slawerny, weggetrek het, want dit is deur sy groot mag dat die Here julle daaruit bevry het. Julle mag op dié dag niks met suurdeeg in eet nie. 4Julle vertrek vandag, op hierdie besondere dag in die maand Abib. 5Die Here het met ’n eed aan julle voorvaders belowe om vir julle die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Hewiete en Jebusiete te gee. Wanneer Hy julle bring in die land wat oorloop van melk en heuning, moet julle die volgende verpligting in hierdie maand nakom: 6sewe dae lank moet julle ongesuurde brood eet, en die sewende dag is ’n feesdag tot eer van die Here. 7Dit moet beslis ongesuurde brood wees wat julle die sewe dae lank eet. Dan mag daar geen gis of enige suurdeeg by julle in julle hele gebied wees nie. 8Op die feesdag moet elkeen vir sy kinders vertel: 'Dit is oor wat die Here vir my gedoen het toe ek uit Egipte getrek het'.  Vers 7 is baie duidelik daaroor dat geen gesuurde brood naby enige van die volk gesien mag word nie en dat dit vir 7 dae vanaf die 14de dag van Nissan nie geëet mag word nie.  Die Jode het hierdie saak so ernstig opgeneem (selfs die Ortodokse Jode tot vandag toe) dat hulle dae en selfs weke voor die fees, hul huise skoon gemaak het om seker te maak dat daar geen suurdeeg in die huis is nie – selfs kombuisgereedskap en eetgerei waarmee daar aan suurdeeg geraak is, word in die tyd behoorlik skoon gemaak, deur dit o.a. in water te kook. 

Ten einde die hele gesin te betrek by hierdie proses van skoonmaak, het een van die gesinslede, enkele dae voor die Pasga, krummeltjies van gesuurde brood oral in die huis geplaas.  Die Pa gaan dan van vertrek tot vertrek om hierdie suurdeeg op te spoor.  Die gesinslid wat die krummels gestrooi het, loop met ’n brandende kers, saam met die Pa, ten einde te onthul waar die krummels is.  Wanneer die Pa die suurdeeg vind, sal hy baie versigtig wees om nie daaraan te raak nie en daarom sal hy die krummels met ’n veer in ’n houtlepeltjie vee.  Nadat al die krummels opgevee is, sal dit saam met die veer en die houtlepel, asook die kers, in ’n doek toegevou en met ’n toutjie vasgebind word, waarop dit alles verbrand is en daarna begrawe word.  Sodoende is die hele huis gereinig en was die gesin gereed vir die viering van die Pasga.

4.    JESUS VERVUL OOK HIERDIE FEES:
Ook word hierdie Fees van die Ongesuurde Brode deur Jesus vervul!

Ons sien op talle plekke in die Woord dat suurdeeg as ’n metafoor (voorbeeld) gebruik word om sonde aan te dui, want suurdeeg het die vermoë om a.g.v. die gistingsproses, oral in te dring.

Daar word ook na Jesus Christus verwys as die Brood van die Lewe wat neergedaal het van die hemel.  Ons lees bv. in Joh.6:32-35 waar Jesus self so na Hom verwys ~ Dit verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. 33Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”34Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.” 35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

In Joh.6:47 sê Jesus ~ Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. 48Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. 50Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ’n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. 51Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het.  As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.

Wat egter baie belangrik is om in gedagte hou, is dat Jesus, Brood sonder suurdeeg was – Hy was dus sonder sonde ~ Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie(1Joh.3:5).  Hy sou nie ons sonde kon wegneem as Hy ook, soos ons, vol sonde was nie, want Hy moes die volmaakte Pasgalam sonder gebrek wees (soos ons verlede week gesien het).

Dit is baie duidelik dat Jesus hierdie feit dat Hy die Brood van die Lewe is, baie sterk wou beklemtoon, want daardeur het Hy aan ons getoon dat Hy "gesuurde brood" vir ons geword het – die suurdeeg (die sonde) wat in ons geheers het, het Hy in Hom ingeneem en deur Sy dood, is ons geestelike huise gereinig van die "suurdeeg".  Hy moes egter ook begrawe word, soos die verbrande gesuurde krummels van die Jode wat met die veertjie opgevee was.

Jesus het ook tydens die laaste Pasga met Sy dissipels in die Bo-vertrek, Sy liggaam vergelyk met die gebreekte brood.  In Luk.22:19 lees ons die volgende van Jesus ~ Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.

Die persoonlike waarheid t.o.v. hierdie Fees van die Ongesuurde Brode, is dat ons as gelowiges voortdurend die "suurdeeg" van ons lewens moet aflê – daardie "suurdeeg" wat saam met Jesus Christus gekruisig en begrawe is.

God het d.m.v. die Fees van die Ongesuurde Brode vir Sy volk gedemonstreer hoe hulle hulself moes afsonder, of afskei van Egipte.  Ons wat verlos is van die wêreld deur die Bloed van Jesus Christus, moet ons ook afsonder en afskei van die sonde van hierdie wêreld.  Ons moet in die wêreld wees, maar nie ván hierdie wêreld nie en dit word gedoen deur ons heiligmakingsproses.

Omdat Christus beide die Pasga en die Fees van die Ongesuurde Brode vervul het, weet ons dat die Paasfees vir ons daarop dui dat ons geregverdig is in en deur Christus en nou verwag Christus van elkeen van Sy dissipels om ernstig te wees oor ons heiligmakingsproses.  Ons moet soos Petrus dit in 1Pet.2:11 stel ~ ...nie aan sinlike begeertes toe(gee) nie.   Dit verwoes net ’n mens se lewe.

Wat is hierdie sinlike begeertes?  Wat is hierdie afgode van hierdie wêreld?  Paulus gee vir ons die antwoord in Gal.5:19-21a ~ Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge.

Wanneer ons hierdie Skrifgedeelte lees, is die vraag of jy en ek afgesonder is van hierdie wêreld?  Het ons opgehou om deel te hê aan die sinlike begeertes van hierdie wêreld?  Het ons gevlug van hierdie wêreld se afgode?

Paulus moedig ons in 2Kor.6:15-17 aan om ons af te sonder van die afgode van hierdie wêreld en nie aan te raak wat onrein is nie, trouens hy sê dat ons daarvan moet vlug, want ~ ...Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het:“Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk weesEn die belofte, indien ons dit doen?  Vers17 se laaste gedeelte ~ Dan sal Ek julle aanneem.  Indien ons hieraan gehoor gee, sê Petrus in 2Pet.1:4 ~ ...het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.

God stel nie nét belang in ons regverdigmaking (wedergeboorte), of te wel ons posisie nie, maar ook in ons heiligmaking of ons toestand, daarom dat Hy in 1Pet.1:16 vir ons sê ~ Wees heilig, want Ek is heilig.

5.    DIE FEES VAN DIE EERSTELINGE:
Die feit dat God ook belangstel in ons toestand, bring ons ten slotte by die Fees van die Eerstelinge.  Hierdie fees is die derde en laaste fees van die Feesseisoen van die Pasga.

Die Fees van die Ongesuurde Brode het ons geleer om op te ruim – om ons lewens op te ruim en sonde uit ons lewens te weer en te streef na heiligmaking.  Die Fees van die Eerstelinge handel dan spesifiek oor hierdie heiligmakingsproses, of te wel ’n lewe van toewyding.

Kom ons blaai na Lev.23:9-14 en kyk na God se opdrag aan die volk t.o.v. hierdie fees ~ Die Here het verder vir Moses gesê: 10“Sê vir die Israeliete: Wanneer julle in die land kom wat Ek aan julle gee, en julle samel die graanoes in, moet elkeen die eerste ryp are van sy oes na die priester toe neem. 11Hy moet die are as beweegoffer vir My, die Here, aanbied sodat julle vir My aanneemlik sal wees. Die priester moet dit die dag ná die Sabbat doen. 12Wanneer julle die are as beweegoffer aanbied, moet julle ook ’n jaaroud lam sonder liggaamsgebrek as brandoffer aan die Here bring, 13sowel as ’n graanoffer van drie kilogram meel aangemaak met olyfolie. Dit is ’n offer wat deur My, die Here, aanvaar word. Daarby moet een liter wyn as drankoffer gebring word. 14Voor hierdie dag waarop julle die offer aan julle God bring, mag julle nog niks van die nuwe graan gebruik nie, nie gebak of gebraai of rou nie. Dit moet ’n vaste instelling vir julle hele nageslag wees, waar julle ook al woon.

Hierdie fees moes gehou word op die dag ná die Sabbat, m.a.w. op die 17de dag van Nissan en die eerste dag van die week, nl. Sondag volgens ons kalender.  Hierdie is ’n baie belangrike feit, want dit was juis op die eerste dag van die week, ná die Sabbat wat op Christus se kruisiging gevolg het, dat Hy uit die dood opgestaan het.

Die doel met die fees vir die Jode was om die garsoes aan die Here te wy.  God het aan hulle die land voorsien en eintlik behoort die volle oes dus aan die Here, want nie net het Hy die land aan die volk gegee nie, maar Hy het ook die oes laat groei.  Die volk was dus net rentmeesters van die opbrengs van die oes en deur die oes aan die Here op te dra, het hulle daardeur erkenning aan God gegee dat Hy die eintlike Gewer van die oes is en dat die hele oes eintlik aan Hom behoort.

6.    CHRISTUS VERVUL DIE EERSTELINGFEES:
In 1Kor.15:20-23 verduidelik Paulus aan ons hoe Christus ook hierdie fees vervul het ~ Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. 21Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. 22Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. 23Maar daar is ’n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. Jesus het die Fees van die Eerstelinge vervul, die oomblik toe Hy opgestaan het uit die dood.  Sy opstanding het die begin ingelui van die oes van baie siele wat aan God gewy sou word.  Jesus was die menslike gerf wat God uitgesoek het vir die doel om die dood te oorwin en die ewige lewe te voorsien aan almal wat in Hom sou glo as Here en Verlosser – aan diesulkes was Hy die Eersteling wat opgewek is om nooit weer te sterf nie.

Ons het dus gesien dat Jesus gekruisig was en sodoende die Pasga vervul het.  Daarna het Hy gesterf en is Hy begrawe ter vervulling van die Fees van Ongesuurde Brode.  Toe het Hy opgestaan uit die dood as Eersteling ter vervulling van die Fees van die Eerstelinge.  Jesus sou ook opvaar na die hemel waar Hy Homself aangebied het as Eersteling uit die dode en dit op presies dieselfde dag waarop die eersteling gerwe voor die aangesig van die Here beweeg is as beweegoffer.

Jesus was voorwaar die vervulling van al die Ou Testamentiese feeste!

7.    AFSLUITING EN TOEPASSING:
Wanneer ’n koring- of garsoes gereed is om geoes te word, sal die boer die graan ondersoek en indien die eersteling gerwe aanvaarbaar vir hom is, is die res van die oes gereed en aanvaarbaar om afgehaal te word.  Vir God die Vader was die Eersteling Gerf  (Jesus Christus) aanvaarbaar, daarom kan ons seker wees dat Hy ook vir ons wat in Jesus Christus ingeplant is, sal aanvaar, daarom dat Paulus in Rom.8:11 vir ons sê ~ Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Die Fees van die Ongesuurde Brode leer vir ons dat ons met Christus gekruisig en begrawe is, m.a.w. ons is dood vir die sonde en daarom moet ons, ons afsonder van hierdie wêreld – ons moet die ou-mens aflê en ons beklee met die nuwe-mens.

Die Fees van die Eerstelinge leer vir ons dat ons gees saam met Christus opgewek is uit die dood en dat dit dieselfde pad is wat ons liggame gaan volg.  Ons moet onsself egter aan God bied as ’n lewende "beweegoffer" (ons heiligmaking) en op daardie wyse bevestig dat ons aan Hom behoort.


1.     Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 01 Mei 2011