Sunday, May 8, 2011

DIE FEESTYE VAN GOD SE VOLK ~ 06 (Die Sabbat - 01)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.     SKRIFLESING:
Lev.23:1-3 ~ Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir die Israeliete: Die feeste wat julle tot my eer moet vier, moet gewyde byeenkomste wees. Die volgende is my feeste: 3“Ses dae moet julle werk, maar die sewende dag is ’n rusdag, ’n Sabbat waarop julle ’n gewyde byeenkoms moet hou. Dan mag julle geen werk doen nie. Julle moet die Sabbat aan die Here wy, waar julle ook al woon.

2.     INLEIDING:
Een van die mees betekenisvolle woorde in die Skrif is waarskynlik die woordjie "rus".  Hierdie woordjie het veel meer "om die lyf" as wat dit op die oog af mag klink, want dit beteken veel meer as om net te rus van ons daaglikse werk – ja, aan die eenkant is dit presies juis om te rus van jou werk, maar aan die anderkant beteken dit ook om in algehele vrede met die wêreld en met jouself, maar bowe al, met God te wees.  Wanneer jy hierdie vrede ervaar, weet jy waarlik wat die woordjie "rus" beteken.  Hierdie tipe van rus word nie deur elke gelowige ervaar nie en dit is waarom die Hebreërskrywer in Hebr.4:11 sê ~ Laat ons, ons dan beywer om in daardie rus in te gaan...

Hier in ons Skrifgedeelte uit Lev.23, sien ons dat God as deel van die feesdae wat die volk Israel moes onderhou, ook opdrag gee tot ’n ander fees, nl. die Sabbat.  Hierdie opdrag vind ons natuurlik nie net hier in Levitikus nie, maar op verskeie ander plekke in die Woord.  Ons vind die hele gedagte van "ses dae werk en een dag rus", reeds die eerste keer in Gen.2:2-3 waar ons sien dat God op die sewende dag na die skepping, klaar was met Sy skeppingswerk en Hy toe gerus het na al die werk wat Hy geden het.  En dan lees ons verder in v.3 ~ Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.

Ons lees daarna weer in Eks.20:8-11 van ’n rusdag ~ Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

In Mark.2:27 het Jesus die volgende gesê ~ Die Sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbatdag nie.  En in Luk.23:56 lees ons van die dissipels wat op die Sabbatdag gerus het.

Wat moet ons sê van al hierdie Skrifgedeeltes?  Hoe moet ons hierdie feesdag verstaan en wat moet ons hiermee maak?

Kom ons kyk eers wat God daarmee bedoel het, toe Hy aan die Hebreërs hierdie opdrag gegee het om die Sabbat te onderhou.

3.    DIE SABBAT EN DIE ISRAELIETE:
Wanneer ons na die opdrag om die Sabbat te onderhou in Eks.20 kyk, sien ons dat daar staan – en ek haal aan uit die O.A.V. omdat dit nader aan die oorspronklike teks is en ’n meer korrekte vertaling is ~ ...Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit heilig (Eks.20:8-11). Ek wil die klem hier plaas op die woord "gedenk", want dit dui vir ons duidelik aan dat die instelling van hierdie opdrag om die Sabbat te vier, sy grondslag of ontstaan, reeds vroeër moes gehad het, want die opdrag in Eks.20:8 sê "gedenk" of "herdenk" en ’n mens kan tog net iets gedenk, as dit nog nie voorheen plaasgevind het nie.  Ons sien dan dat die grondslag vir die onderhouding van die Ou Testamentiese Sabbat reeds tydens die skepping gelê is, toe God ses dae gearbei het en op die sewende dag gerus het (Gen.2:2-3).  Ons sien verder in Eks.20:11, dat ~ ...Die Here die hemel en alles daarin (in ses dae) gemaak (het), die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

Die idee van die Sabbat het dus nie sy oorsprong by enige mens gehad nie, maar by God self.  Die Sabbat is dus nié ’n instelling wat Moses gegee het nie.  Ook is dit nie die Jode of Israel se heilige dag nie.  Nee, dit is God se Sabbat; dit is God se heilige dag.

Nog ’n belangrike feit wat ons in gedagte moet hou, is dat God nié die Sabbat ter wille van Homself geseën het nie, want Hy het nie rus na die skepping nodig gehad nie – Hy is tog immers God en nie ’n mens nie.  Nee, Hy het hierdie rusdag van Hom, ter wille van die mens ingestel.  Jesus bevestig hierdie feit in Mark.2:27 wanneer Hy sê ~ Die Sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbatdag nie.  God het dus die Sabbat as geskenk aan die mens gegee. 

Ons sien egter ook in Eks.20:11, dat God die Sabbat of rusdag, geheilig het.  Hy het dit dus afgesonder van die ander dae van die week.  Ons lees dat God die dag geheilig het – dit is dus nie bloot maar net ’n dag waarop die mens nie gewerk het nie – dit is geheilig en afgesonder.  Die gedagte was dus dat Adam en Eva en hul nageslag, op die Sabbat fees moes vier.  Waaroor moes daar fees gevier word?  Oor die feit dat God die Skepper van hemel en aarde is – God moes dus verheerlik word op hierdie dag, maar dit moes ook geestelike vrug in die lewe van God se kinders tot gevolg gehad het.  Hierdie Sabbatdag was dus ’n instelling van God vir Sy skepsele en omdat dit vóór die sondeval ingestel was, was dit nie ’n opdrag wat net vir Israel gegeld het nie, maar vir alle mense.  Die Eksodus-opdrag was dus net ’n herbevestiging vir die volk Israel van hierdie skeppings-instelling deur God. 

Wanneer ons na die opdrag om die Sabbat te onderhou in Eks.20 kyk, sien ons dat dit een van die gebooie is wat waarskynlik die grootste seën tot gevolg het, indien dit onderhou word.  Hierdie is dus ’n gebod met ’n positiewe bemoediging, eerder as ’n negatiewe verbod of ontmoediging.  Waar die eerste gedeelte van die Dekaloog (Die Tien Woorde/Gebooie) handel oor God en die tweede deel oor ons naaste, vorm hierdie vierde gebod, wat handel oor die Sabbatsonderhouding, ’n brug tussen die twee dele van die Wet – dit spreek beide God en ons naaste aan.  Hierdie gebod was dan ook altyd ’n baie goeie barometer om die verhouding tussen Israel en God te bepaal – wanneer Israel afgewyk het van die onderhouding van hierdie gebod, het dit ook duidelik geblyk dat hulle weggedwaal het van God.  Die kere dat Israel se verhouding met God goed was, het hulle die Sabbat goed onderhou en wanneer hul verhouding swak was, het hulle die Sabbat swak onderhou.  

Ons sien in die "tweede Wet" in Deut.5:1-2, dat die Sabbatsonderhouding ook ’n verbondsteken tussen God en Sy volk was en dan sien ons ook in v.15 hierdie woorde ~ Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte ’n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die Sabbatdag te onderhou.  Nie net was die Sabbat ’n lofprysing tot God oor Sy skepping nie, maar dit het ook ’n teken van die Israeliete se verlossing uit Egipte geword.  Reeds met hierdie teksvers en gedagte kan ons sien waarop dit aankom:  Ons as 21ste eeu gelowiges moet ook op die Rusdag aan ons "geestelike Egipte" terugdink en God loof en prys vir Sy genadige verlossingsdaad deur Jesus Christus wat ons uit geestelike slawerny bevry het!

Op die Sabbatdag was die Israeliete verbied om enige werk te doen, trouens, dit moes ’n dag van heilige rus en lofprysing gewees het – hulle moes rus van alle werk, ten einde verfris te word na liggaam en gees.  Die Sabbat moes ’n dag van dank en lofprysing gewees het – lofprysing oor God se skepping en dank oor God se genade en verlossing uit Egipte. 

Enige persoon wat op die Sabbat gewerk het, het effektief daardeur aangedui dat hy God as Skepper verwerp, maar hy verwerp ook God as Verlosser.  Volgens Eks. 31:14 moes so ’n persoon dood gemaak en afgesny word van die Verbondsvolk.  Dit is hoe ernstig God oor die Sabbat gevoel het. 

Die offerandes moes op die Sabbat verdubbel word (in die oggend en die aand) en aanbidding het ’n prominente plek gedurende die hele dag ingeneem (Num.28:1-10; 1Kron.16:39-40)

Dit is verder belangrik om daarop te let dat die Sabbatsvieringe in die Ou Testament heel anders daar uitgesien het, as wat dit die geval was in Jesus se tyd op aarde, want in Jesus se tyd, het die Rabbi's die Sabbat so verander dat die lofprysing en feesvieringe verander het in ’n dag van rou en die vryheid het verander in wettisisme en allerlei verpligtinge, soveel so dat die Rabbi's teen ongeveer die jaar 200 n.C. die Talmoed die lig laat sien het, waar wettiese reël, op wettiese reël verskyn het te einde die Jode se lewe te reguleer. 

So is daar bv. honderde reëls neergelê oor wat werk op die Sabbat behels en wat nie.  Daar is bv. bepaal dat geen Jood op die Sabbat verder as 2000 armlengtes (ongeveer 900m. tot 1km.) ver van sy huis af mag loop nie, want dan is dit beskou as werk. 

Dit was egter altyd moontlik om hierdie wettiese reëls te oorkom – wat die Jode dus gedoen het, was om die aand voor die Sabbat, kos sowat 2000 armlengtes van sy huis af te gaan neersit en as hy dan op die Sabbat tot daar loop word dit beskou asof hy nog in sy huis is, want daar is mos nog van sy kos beskikbaar en dan kan hy nog ’n verdere 2000 armlengtes loop.  Hulle mag ook nie ’n sakdoek gedra het nie, want dit was beskou as werk ("dra"), maar as die sakdoek met ’n speld aan die broek vasgemaak was, kon hulle loop, want dan dra hulle dit nie meer in die sak nie – die sakdoek hang net aan die broek!.  Jy kon op ’n donkie gery het op die Sabbat, mits jy hom die vorige dag reeds opgesaal het.  Hulle kon ’n radys in sout gedoop het, maat hulle kon dit nie te lank daarin doop nie, want dan piekel hulle die radys en dit is werk, ens!

4.    CHRISTUS VERVUL DIE SABBATSFEES:
Teen hierdie agtergrond kom Jesus dan bykans 2000 jaar gelede na die aarde en moet ons vir onsself die vraag afvra of Christus ook hierdie Fees van die Sabbat vervul het soos die geval was met die ander feeste?

Ons vind in Mark.2:27-28 ’n baie bekende gedeelte waar Jesus en Sy dissipels in ’n koringland loop en die dissipels koringare pluk, waarop die Fariseërs – die einste Fariseërs met hul duisende voorskrifte en wette oor die Sabbat – Jesus konfronteer oor dit wat hulle gedoen het.  Eerstens het hulle waarskynlik verder as 2000 armlengtes geloop en die Fariseërs het ook die pluk van die koringare gesien as werk.  Jesus het dan die woorde in v.27 (wat ons netnou ook gelees het) aan hulle gesê ~ Die Sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbatdag nie.  Uit hierdie woorde van Jesus spruit daar drie baie belangrike sake:
·           Eerstens sien ons dat die Sabbat gemaak is.  Die Griekse woord vir "maak" is ginomai (ginomai) en beteken letterlik "om te ontstaan" en in Joh.1:3,10 word dieselfde woord gebruik en dui dit op "om iets te skep" en neem die betekenis van hierdie woord ons onmiddellik weer terug na die skeppingsverhaal in Gen.2.
·           Tweedens was die Sabbat vir die méns gemaak.  Die mens was nie vír die Sabbat gemaak nie.
·           Derdens was die Sabbat vír die mens gemaak, m.a.w. dit was tot voordeel en die welsyn van die mens ingestel en nie om allerlei beperkings en reëls en regulasies op hom af te dwing nie.

Jesus het die Fariseërs dus nie terug geneem na die Wet nie, maar na die skeppingsverhaal – soos dit hoort.  Die dag was dus gemaak om die menseras te seën.  Christus en Sy dissipels het dus nie die Sabbat ontheilig deur hul optrede of dit wat Jesus gesê het nie – Hy en die dissipels het wel die kleinlike reëls en regulasies van die Fariseërs oortree, maar beslis nié die gees en gedagte van die Sabbat nie, trouens Jesus wou juis deur hierdie optrede die doel van die Sabbat beklemtoon, nl. dat dit tot eer van God en tot voordeel van die mens deurgebring moes word.

Net soos met die ander Joodse feeste het nie Paulus of enige van die ander Apostels, ooit aan enige persoon of gemeente gesê dat die Sabbat as Joodse fees gehandhaaf moet word nie, trouens ons weet en het die afgelope tyd alreeds gesien, dat al die Joodse feeste, tekens of afbeeldings was van die komende Messias – soos wat Kol.2:17 dan ook sê ~ Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.  Daarom was die Sabbat, nes die ander feeste, dus in Christus Jesus se koms na die aarde vervul.  

5.    SONDAG – DIE CHRISTEN SE RUSDAG:
Die Christene se Rusdag is reeds sedert so vroeg as die eerste eeu verskuif na die Sondag, in plaas daarvan om dit ook op die Saterdag soos die Jode te hou en die rede (sonder om in detail te verval) was o.a. om hulle te onderskei van die Jode, sodat daar nie ook van hulle gesê kon word dat hulle net maar nóg ’n Joodse sekte was nie.   

Maar nog meer belangrik was die feit dat Christus op die Sondag opgestaan het, en die vroegste gelowiges die opstanding dan ook op die Sondag gedenk het.  ’n Week na die opstanding, verskyn Christus aan Sy dissipels – ook ’n Sondag.  Dit was óók die dag waarop die Heilige Gees op die Kerk uitgestort is – voorwaar ’n vervulling van Ps.118:24 ~ Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.

Ons sien ook in 1Kor.16:2 dat Paulus die kerk in Korinte aanmoedig om die offergawe op te neem wanneer hulle vergader – Op watter dag?  ’n Sondag.

6.    AFSLUITING:
Ons moet vir onsself afvra hoe ons oor ’n Sondag dink.  Dink ons wetties oor hierdie "dag van die Here", of is ons oortuiging op die Woord gegrond?  Ons moet ook vir ons self afvra tot watter mate word ons oortuigings beïnvloed deur die samelewing en tot watter mate word dit deur Woord gerig?  Het jy en ek die "Sabbat" nodig?  Wat beteken dit om te rus op die "Sabbat"?  Hoe kan en moet ek rus om God daardeur te verheerlik en te loof en prys? 

As dit die Here se wil is, wil ek hê dat ons volgende Sondag sal kyk na hoe ons die Sondag moet deurbring en wat ons gesindheid t.o.v. ’n Sondag behoort te wees.


1.     Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 08 Mei  2011