Sunday, May 29, 2011

GOD SE OFFERWETTE ~ 02 (Brandoffers)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.     SKRIFLESING:
Lev.1:1-17 ~ Die Here het vir Moses geroep en uit die tent van ontmoeting vir hom gesê: 2 “Praat met die Israeliete en sê vir hulle: Wanneer een van julle vir die Here ’n offer wil aanbied, kan hy dit aanbied uit sy beeste of uit sy kleinvee.
3 “As dit ’n brandoffer uit die beeste is, bied die man ’n bul aan sonder liggaamsgebrek. Hy bied dit aan by die ingang van die tent van ontmoeting sodat dit vir die Here aanneemlik sal wees. 4 Daarna sit hy sy hand op die offerdier se kop sodat dit aanvaar sal word as versoening vir hom. 5 Dan slag hy die bul daar in die teenwoordigheid van die Here, en die Aäronitiese priesters bring die bloed en sprinkel dit rondom teen die altaar by die ingang van die tent van ontmoeting. 6 Die man slag die offerdier af en sny dit in stukke op. 7 Die Aäronitiese priesters maak dan vuur op die altaar en sit hout op die vuur. 8 Dan sit hulle die stukke vleis, die kop en die niervet op die hout op die altaarvuur. 9 Die man was die binnegoed en die pote af, en ’n priester verbrand alles op die altaar. Dit is die brandoffer, ’n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word. 10 “As dit ’n offer uit die kleinvee is, ’n brandoffer uit die skape of bokke, bied die man ’n ram aan sonder liggaamsgebrek. 11 Hy slag die dier daar in die teenwoordigheid van die Here, aan die noordekant van die altaar, en die Aäronitiese priesters sprinkel die bloed rondom teen die altaar. 12 Dan sny die man die offerdier in stukke op, en die priesters sit die stukke vleis, die kop en die niervet op die hout op die altaarvuur. 13 Die man was die binnegoed en die pote af, en die priester bring alles op die altaar en verbrand dit. Dit is die brandoffer, ’n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word. 14 “As dit ’n brandoffer van voëls is wat iemand vir die Here wil offer, bied hy ’n tortelduif of ’n ander duif aan. 15 Die priester bring dit op die altaar, knyp die kop af en verbrand dit op die altaar. Die bloed word eers teen die kante van die altaar uitgedruk; 16 dan verwyder die priester die krop en die vere en gooi dit langs die altaar aan die oostekant op die plek vir die as, 17 en nadat hy die duif tussen die vlerke oopgeskeur het sonder om dit heeltemal middeldeur te skeur, verbrand hy dit in die vuur op die altaar. Dit is die brandoffer, ’n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.”

2.     INLEIDING:
Male sonder tal sien ons in die Woord van God, dat Hy nie ’n behae het in vals godsdiens nie – ons sien dit bv. Jes.1:11-17 waar God vir die volk sê, dat Hy ~ ...sat (is) van die brandoffers van ramme en die vet van voerbeeste.  Hy sê verder dat Hy ...’n afsku (het aan die volk se) wierookoffers, hulle nuwemaansfeeste, sabbatsvierings en die uitroep van feesdae.  En dan waarsku Hy hulle, deur vir hulle te sê ~ As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak.  Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie...  God gaan egter verder in v.16 van Jes.1 en Hy sê by implikasie aan die volk, dat indien hulle, hulself was en reinig, kan hulle voor Hom verskyn en sál Hy hulle vergewe.  Opregte aanbidding – opregte offerandes lê dus aan die wortel van ware aanbidding[2].

Ons het verlede week gesien dat God Israel uitgekies het om Hom as volk te dien en te aanbid en uiteindelik tot seën vir ander nasies te wees, daarom het Hy verskeie offerwette ingestel waarop die volk hul godsdiens en aanbidding moes skoei en bedryf.

Ons het ook vlugtig gesien dat die volk nie in die teenwoordigheid van God kon kom sonder die een of ander vorm van offerande wat hulle gebring het nie en dan kon hulle dit ook net deur die priesters gedoen het.

Offers het dan ook ’n velerlei doel gedien – daardeur het die volk erkenning aan God gegee dat Hy die enigste ware en lewende God is.  Ook dat Hy die Gewer van lewe is, maar hulle het terselfdertyd deur hul offers, hul afhanklikheid van Hom bekend gemaak, asook hulle onwaardigheid[3].

Hierdie verskillende rites het ook die onreinheid van die volk beklemtoon en derhalwe die noodsaak aan reiniging[4] beklemtoon en hierdie bewustheid van onreinheid en behoefte aan reiniging het gelei tot opregte offerandes wat vir God aanneemlik was.  Dit is dan ook presies dít wat nié in Jes.1 die geval met die volk was nie.  Indien die volk of individu homself in opregtheid gereinig het, kon hy met vrymoedigheid voor God verskyn het, met dié wete dat hulle offerandes aanneemlik vir God sou wees en dat God hul gebede sou verhoor.

Hebr.11:6 is ook baie duidelik daaroor, wanneer dit sê ~ As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloonSonder geloof wat o.a. manifesteer in rein en toegewyde lewens, kan geen mense werklik tot God nader nie[5].

Die ritueel van offerandes het dus nog altyd ’n sentrale rol gespeel in die lewens van God se volk.  In Gen.4 het Kaïn en Abel offers gebring aan God en Kaïn se ongeloof het tot gevolg gehad dat God nie sy offer aanvaar het nie.  Vir Kaïn mag dit voorgekom het, asof sy ritueel genoeg was om God te plesier en tevrede te stel, maar leë en onopregte- of vals offerandes was nog altyd beskou as offerandes wat God óf probeer manipuleer, óf om ander mense te probeer beïndruk en sulke offerandes verhoor God nie, want Hy vereis opregte geloof wanneer offers gebring word.

In Gen.8:20-21 lees ons van ’n offer wat Noag gebring het, nadat hy en sy gesin veilig deur die sondvloed gebring is.  Noag se offer was hier ’n voorbeeld van ’n regverdige aanbidder wat ’n genadige God se oordele vrygespring het.

Die ou aartsvaders soos Abram en Jakob, het ook offerandes gebring, trouens Abraham het gereeld offerandes aan God gebring, waardeur hy sy nuutgevonde geloof in God verklaar het.

Moses weer, het bv. in Eks.8:27 aan die volk opdrag gegee om vir drie dae lank in die wildernis in te gaan ten einde offerandes aan God te bring en daardeur aan almal te toon dat hulle aan God behoort.

3.    OFFERANDES OMSKRYF:
Voor ons na die eerste tipe offer gaan kyk, moet ons net baie kortliks ook kyk na enkele van die algemene beginsels en wette t.o.v. offerandes.  Daar was hoofsaaklik twee tipes offerandes tydens offergeleenthede gebring:
·           Welriekende Offers  ("sweet-aroma") wat gewoonlik bestaan het uit brandoffers (Lev.1 – "burnt offerings"), graanoffers (Lev.2 – "grain offerings" - ) en maaltydoffers (Lev.3 – "peace offerings") – later meer oor elkeen.  Hierdie offers was aan God gebring om toewyding ("devotion") teenoor Hom te verklaar.
·           Nie-Welriekende- of Soenoffers ("Non-sweet-aroma sacrifices" or "expiatory offerings") en dit het bepaalde reinigingoffers of sondeoffers (Lev.4 – "purification offerings") ingesluit, asook genoegdoening-offers of te wel skuldoffers (Lev.5 – "reparation offerings or "guilt offerings"").

Soenoffers is gebring ná enige vorm van oortreding of sonde[6].

4.    SOORTE OFFERS:
Dan was daar hoofsaaklik drie hoofgeleenthede waartydens hierdie welriekende, of soenoffers gebring is:
·           Tydens offers wat daagliks gebring is – een in die oggend en een gedurende die aand (Num.28:3-10);
·           Gedurende die Nuwe Maan Fees (Num.28:11-15);
·           En laastens was daar offers wat tydens die Fees van Ongesuurde Brode (Num.28:16-25) gebring is, asook tydens die Fees van die Weke (Lev.23:16-20; Num.28:26-31); die Fees van die Basuine (Num.29:1-6); die Groot Versoendag (Lev.16; Num.29:7-11) en laastens, tydens die Fees van die Tabernakels (Num.29:12-38).

Benewens hierdie offers wat gedurende die heilige dae en die seisoenale feeste onderneem is, was daar ook ongeskeduleerde offerandes wat die persoon kon bring wanneer hy so gevoel het.  Dit is namens hom deur die priesters in die heiligdom van die Tabernakel gebring (Num29:39).

5.    DIE BRANDOFFERS:
Kom ons begin hierdie offerandes van naderby bekyk en ons begin met die Welriekende offers en dan spesifiek, die Brandoffers.

Waarskynlik die heel belangrikste vraag wat enige iemand kan vra wat opreg soek na die Here, is hoe dit moontlik is dat ’n onrein, sondige, verlore en sterflike wese toegang tot die heilige God kan verkry?[7]  Die Woord is baie duidelik daaroor en openbaar aan ons, dat God in Sy oneindige en genadige wysheid ’n wyse daargestel het vir die mens om wel in Sy teenwoordigheid te kán kom.  En ’n beduidende gedeelte van hierdie openbaring van God aan ons, ten einde in SY midde te kan kom, word aan ons deur die ritueel van die brandoffers verskaf.

God se wette t.o.v. die offerandes begin in ons Skriflesing en wel met die brandoffers.  Die feit dat hierdie offers, "brandoffers" genoem word, is omdat alles wat geoffer word in vlamme opgaan.  Geen deel van die offerdier is deur enige iemand geëet nie en behalwe vir die vel is die dier dus in geheel verbrand.  Die vel het die priesters toegekom, wat dit dan gewoonlik verkoop het.  Brandoffers was dan ook die mees algemene offers wat gebring is – daar was elke oggend en elke aand offers deur die volk gebring en dit was offers wat uitsluitlik op God gefokus was.

Omdat hierdie offer op God gefokus het, was daar groot sorg gedra dat die dier sonder gebrek moes wees (soos die geval met die Paaslam – Lev.1:10).  Die doel met ’n dier sonder gebrek was ook om ’n waardige en aanvaarbare plaasvervanger vir ’n onvolmaakte- en sonde bevlekte aanbidder te kon wees.  Ons sien in verse 12 en 13 dat die aanbidder die offerdier uitgesoek én geslag het (’n manlike dier).  Om die aanvaarbaarheid van die offerdier te simboliseer, het die aanbidder sy hand op die kop van die dier geplaas, terwyl hy die dier se keel afsny (later is hierdie funksie deur die priesters verrig).  Hierdie was ’n baie emosionele oomblik vir die aanbidder, want hy het besef dat as gevolg van sy sonde, dit eintlik sý bloed is wat teen die altaar gesprinkel moes word en sý liggaam wat so voor God in mekaar moes sak en sterf (In Lev.16:21 sien ons dat Aäron beide sy hande op die bok se kop geplaas het – dit was waarskynlik ’n versinnebeelding van die gewigtigheid van daardie spesifieke optrede en offerande wat gebring is).

Die priesters weer, het die vuur op die offeraltaar voorberei en terwyl die aanbidder die dier se keel afsny, het die priester die bloed opgevang in ’n spesifieke skottel en dit op seremoniële wyse op die vier kante van die altaar gesprinkel. 

Die res van die ritueel word vir ons baie duidelik in ons Skrifgedeelte uiteen gesit, nl. dat hierdie slagproses aan die noordekant van die altaar plaas gevind het (1:5, 11), behalwe vir die voëls wat aan die priester oorhandig is en wat deur die priester nek omgedraai is (dalk omdat dit moeiliker vir die aanbidder was om ’n voël op die regte wyse, nek om te draai – 1:15).  Hierna, soos ons reeds gesien het, is die bloed in ’n bak opgevang en teen die altaar gesprinkel.  Omdat voëls se bloed so min was, is dit toegelaat om teen die kant van die altaar af te loop.  Nadat die dier geslag is, het die aanbidder die dier se vel afgeslag en die res van die dier in stukke opgesny (1:6, 12).  Hierna het hy die binnegoed en die pote gewas en dan het die priester die opgesnyde dier, asook die gewaste dele, op die vuur geplaas om geheel en al te verbrand (1:7-9, 12).

Eers nadat die hele dier tot as verbrand het, was die dier as vlekkeloos beskou en derhalwe ’n aanvaarbare offer in die oë van God te wees.

In die geval van voëls, is die krop en vere verwyder (1:16) en is die voël in twee geskeur, maar nie heeltemal uitmekaar nie (1:17).

Die voorskrifte was baie duidelik oor die bloed – so moes al die bloed uitgegiet en gesprinkel word teen die altaar – niks daarvan mag gebruik gewees het vir enige ander doel nie.  Hierdie uitgiet van die bloed en gevolglike dood van die "slagoffer-dier" was simbool van God se aanvaarding van die offer en derhalwe van die aanbidder[8].  In ander rituele en offers, is ’n bottel rooiwyn gebruik om as teken van bloed te dien. 

Dit is dus baie duidelik:  God vereis die stort van bloed ten einde versoening of vergifnis te skenk – daar is géén ander wyse om versoening tussen God en ’n sondige mens te bewerkstellig nie – die wraak en toorn van God wat op die sondige aanbidder rus, het dus met die bring van die offer, geheel en al verdwyn!

Hierdie wyse van offerandes mag moontlik vir ons as moderne gelowiges baie eienaardig, primitief en selfs brutaal voorkom, maar die waarhede wat God deur hierdie proses wou deurgee, was en is van die uiterste belang sodat Sy volk, asook ons vandag, Sy verlossingsplan beter kan verstaan.

’n Paar dinge het met die ritueel van die Brandoffer gepaard gegaan:
·           Eerstens het dit geïmpliseer dat niemand die heilige Here kon nader om boete ("atonement") te doen, of om versoening met God te soek, sonder ’n plaasvervangende offerdier nie.
·           ’n Lewe, wat simbolies deur die bloed van die offerdier verteenwoordig is, moes gegee word in ruil daarvoor dat die aanbidder in die teenwoordigheid van God kon kom.  Die volk moes dus besef dat die enigste gronde waarop hulle in God se teenwoordigheid kon kom, was omdat hulle gereinig was deur die plaasvervangende bloed van die offerdier.
·           Die primêre doel met die brandoffers was dus reiniging en versoening.  Deur die offer is die persoon gereinig van sy sonde en kon hy weer gemeenskap met God ervaar.
·           God het voorts die teken van bloed gekies ten einde die dood van die plaasvervanger (of plaasvervangende offerdier) te verseker, want bloed is die simbool vir lewe, tewens lewe is in bloed.  Die sprinkeling van die bloed teen die vier kante van die offeraltaar was ’n openbare getuienis dat die offer gebring is.
·           Volgens v.13b sien ons ook dat so ’n offer, God tevrede gestel het (...’n vuuroffer van lieflike geur aan die HereO.A.V.) – dit beteken dus dat die offer suksesvol was en dat versoening tussen God en die persoon of persone bewerkstellig is.
·           Ons het in ons Skriflesing gesien dat daar verskillende soorte diere vermeld word.  Dit was die geval omdat verskillende diere by verskillende ekonomiese vlakke van die gemeenskap van toepassing was – ’n bul moes geoffer word deur ’n ryk persoon; ’n skaap deur iemand uit die middelklas, terwyl ’n tortelduif deur ’n arme geoffer moes word, ens.  Die motief met hierdie reëling was dat alle mense, ongeag hul finansiële posisie, toegang tot God kon verkry.

6.    SAMEVATTING:
Om saam te vat, sien ons dus dat hierdie offerwette van God in Levitikus, met goeie nuus begin, want God laat mense – sondige mense, toe om in Sy teenwoordigheid te verskyn, maar natuurlik op voorwaarde dat hulle ’n plaasvervangende offer op die altaar bring. 

In v.2 staan daar ~ Wanneer een van julle vir die Here ’n offer wil aanbied....  Die betekenis van die Hebreeuse woord wat vir "aanbied" gebruik word, is dieselfde woord wat ons in Mark.7:11 in die Grieks vind.  Vers 11 lees as volg ~ Iemand kan vir sy pa of sy ma sê: Enige gawe wat u van my sou kon kry, is korban,’ dit wil sê: ’n offergawe vir God.  Die Griekse woord hier is korban (korban) en beteken "’n offergawe vir God".  So ’n offer dui op volkome oorgawe aan God deur die aanbidder en wil die aanbidder God behaag en vind hy dan ook uiteindelik, volkome aanvaarding by God.

Die primêre doel met die brandoffers was egter nie om vergifnis van sonde te ontvang nie, maar eerder om gemeenskap met God te kon bewerkstellig en om algehele toewyding aan God deur die aanbidder te simboliseer.

Dit is ook belangrik om daarop te let, dat dit nie die bloed spesifiek, of die optrede van die aanbidder was wat vergifnis en versoening bewerkstellig het nie, maar wat die offerdier in God se oë verteenwoordig het.  Vergifnis en gemeenskap was genadiglik deur God uitgestort op die individu wat homself in geloof en gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die offerwette, onderwerp het en let wel, die voorwaarde vir aanvaarding deur God, was geloof by die aanbidder.

Dit was natuurlik ook God se prerogatief (voorreg) om vergifnis op die navolging van hierdie voorskrifte te skenk, omdat Hy dit so bepaal en besluit het en Hy het dit gedoen omdat Hy geweet het, dat Hy in die toekoms die volmaakte soenoffer sou stuur, nl. Sy enigste Seun, Jesus Christus.

7.    TOEPASSING:
Dit is jammer dat die N.A.V. v.17b as volg vertaal het ~ ... Dit is die brandoffer, ’n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.  Die O.A.V. vertaal die laaste gedeelte met ~ ...’n  vuuroffer van lieflike geur aan die Here.  Die meeste Engelse vertalings, vertaal dit met ~ ...an aroma pleasing to the Lord.  Hierdie is belangrik, omdat dit bevestig dat die offer, aangenaam en aanvaarbaar was vir God ("He loved it") – dit het plesier aan Hom verskaf.

Die sentrale gedagte van Levitikus 1 kan as volg opgesom word:  Dit verskaf plesier aan die Here God, om elkeen in Sy midde te ontvang wat in geloof, ’n bloedgegote en plaasvervangende soenoffer aan Hom gebring het  ("The Lord accepts with pleasure whoever comes into His presence by the substitutionary atonemnet through the shedding of blood").  Hierdie is die kruks van God se offerwette en daarom is dit ook die kruks en basis vir die uiteindelike Evangelie.

Die feit dat ’n plaasvervangende soenoffer toegang tot God verleen het, was hier in die vroeë Ou Testamentiese-era, nog in saad vorm wat uiteindelik ten volle sou ontkiem en tot volle wasdom sou kom in die koms, kruisiging en opstanding van Jesus Christus.

Hierdie ritueel van die Ou Testamentiese volk van God, was ’n baie gereelde instelling en was dus deel van die voortgaande heiligmakingsproses van die volk en derhalwe die instandhouding van God se volk se geestelike lewe. 

Benewens die feit dat die basis vir die brandoffers, versoening en gemeenskap met God was, was daar ook talle ander aspekte van die volk se geestelike lewe wat uit hierdie brandoffers voortgespruit het.  

Ons as hedendaagse gelowiges kan vandag die betekenis van die brandoffers baie duidelik raaksien en weet ons dat dit vooruit gewys het na Christus, die beloofde Messias ~ ...wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo (Rom.3:25).  Ook weet ons dat, net soos met die soenoffers, Christus se kruisdood namens ons, ook God se wraak op ons sonde, volkome bevredig het, omdat ...Hy Sy lewe as losprys vir ons gegee (Matt.20:28).

Net soos wat die offerdiere in die tydperk van soenoffers, volmaak moes wees, weet ons dat Christus volmaak was, want volgens 1Pet.2:22 was Hy sonder sonde en derhalwe volmaak.  Ons het die sondelose Jesus uit genade en as volmaakte offer ontvang en daarom volkome vergifnis en aanvaarding by God die Vader verkry!  Geen wonder dat Paulus in Ef.5:26-27 sê ~ Dit het Hy (Jesus) gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, 27sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.

Ons ganse lewe as gelowiges moet dus gebaseer wees op die vaste wete (geloof) dat die offer wat Jesus gebring het volkome en volmaak was en dat ons daarom aanvaarbaar is vir God en derhalwe, vrye toegang tot God het.  Anders gestel:  Sonder geloof in die soenoffer wat Jesus Christus aan die kruis gebring het, is daar nié vryspraak en toegang tot die Vader nie.


1.     Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 29Mei 2011
2.     Toepassingsgedagte: Ons moet eers ons eie skuld en sonde voor God bely voor ons met vrymoedigheid in gebed met Hom kan verkeer
3.     Toepassingsgedagte: Ons moet ook erken dat ons sonder God hulpeloos en verlore is en derhalwe intens afhanklik van Sy genade is
4.     Toepassingsgedagte: Ons moet eers ons eie skuld en sonde voor God bely voor ons met vrymoedigheid in gebed met Hom kan verkeer
5.     Toepassingsgedagte: Indien ons nie opreg glo in God-Drie Enig en die soendood van Jesus Christus nie, is ons "godsdiens" en ons gebedslewe nutteloos
6.     Toepassingsgedagte: Ons moet elke keer wat ons sondig, ons sonde bely en vergifnis daarvoor vra,
7.     Toepassingsgedagte: Die feit dat ons (alle skepsele) verlore en wegwerplik voor God is, is en moet die kruks van alle Evangelistiese gesprekke wees – mense moet besef dat alle mense verlore en wegwerplik voor God is, anders sal jy kort voor lank die opmerking hoor:  "Maar hoe kan 'n God wat LIEFDE is, my laat verlore gaan!"
8.     Toepassingsgedagte: Net so is die bloed van Jesus genoegsaam om ons aanvaarbaar voor God te maak!

Monday, May 23, 2011

Openbaring Ontsluit - 35 (Volharding tot die Einde)

Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.       INLEIDING:
Openb.13 het oor die Diere gegaan en was ’n donker en verdoemende prentjie geskilder.  Die prentjie verander egter drasties in Openb.14, want hier vind ons ’n pragtige en sterk visie van oorwinning.  Hier sien ons die Lam saam met die 144 000 op die Berg Sion staan.  Ons het die eerste keer in Openb.7 te doen gekry met die 144 000 en hulle het steeds in oorwinning gestaan ten spyte van fel opposisie in die hoofstukke tussen hoofstukke 7 en 14.

In die skadu van die verwoesting van Jerusalem, leer ons in hierdie hoofstuk dat die kerk nie alleen gaan oorleef nie, maar dat sy van krag tot krag sal gaan.  Hierdie hoofstuk is ook ’n illustrasie van wat met ons as individuele gelowiges kan gebeur en dien hierdie hoofstuk ook as bemoediging vir ons te midde van afvalligheid, ateïsme en staatsinmenging.

Ons sien wonderlike en positiewe dinge wêreldwyd wat aan die gang is in die kerk.  Jesus Christus is steeds besig om voort te gaan om Sy Bruid, die kerk, te bou en iets van die triomf in Openb.14 steeds te ervaar.

Ons sien drie aspekte t.o.v. die kerk wat in hoofstuk 14 uitstaan.  Die eerste wat ons in vv.1-7 gesien het, was die kerk wat van krag tot krag gaan en God loof en prys vir haar verlossing (14:2-3).  Die rede waarom sy oorwin het, is omdat sy suiwer is en in toewyding die Here Jesus Christus navolg, deur die Woord van God, getrou te verkondig (14:4-5).

Die tweede aspek vind ons in vv.8-13.  Hier sien ons die kerk wat volhard ten spyte van die oordeel wat oor Jerusalem uitgespreek word.  Ons sal ook sien dat hier ’n baie sterk kontras geskets word tussen die navolgers van Die Lam (die gelowiges) en die navolgers van die Dier (die ongelowiges).

2.     VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
Ons volgende gedeelte verskaf aan ons die versekering dat die oordele van God op diegene wag wat die Evangelie verwerp, maar terselfdertyd ontvang diegene wie die Evangelie aanvaar, ’n besondere belofte.  ’n Skrille kontras word m.a.w. getref tussen diegene wat die Lam dood en die wie die Lam verhoog.  Dit alles begin egter met ’n verdoemende aankondiging:
·            Openb.14:8-11 ~ ’n Tweede engel het agter die eerste aan gevlieg en uitgeroep: “Geval, geval het die grote Babilon wat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink het.” 9’n Derde engel het agter die eerste twee aan gevlieg en hard uitgeroep: “Wie die dier en sy beeld aanbid en ’n merk op sy voorkop of op sy hand aanvaar, 10sal van die wyn van God se toorn moet drink. Dit word onverdun in die beker van sy oordeel ingeskink. In die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam sal hy met vuur en swael gepynig word. 11Die rook van hierdie pyniging styg tot in alle ewigheid op, en hierdie mense het dag en nag geen rus nie, hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en dié wat die merk van sy naam aanvaar.”  Hierdie aankondiging van verdoemenis, is ’n aanhaling uit Jes.21:9 ~ Daar kom ’n man op ’n strydwa,’n strydwa met perde.  Hy hou aan roep: Geval, geval het Babel, al sy afgodsbeelde lê stukkend op die grond!”

Wanneer ons na hierdie gedeelte kyk, is daar twee uitdrukkings wat ons moet verklaar.  Die een is, wie of wat is Babilon en die ander is die uitdrukking, "geval, geval".  Kom ons begin egter eers by laasgenoemde.

Hierdie uitdrukking "geval, geval", beteken letterlik dat dit wat hier beskryf word, nog nie plaasgevind het nie, máár dit gaan wel so seker plaasvind, dat ’n mens eintlik al kan sê dat dit reeds plaasgevind het.  In die Griekse taalkunde praat ’n mens van die "profetiese aoristus" (bv. Rom.8:28-30) vorm.  Ons kan dus sê dat hierdie uitdrukking “geval, geval” nog nie plaasgevind het nie, máár dit gaan só seker gebeur dat dit eintlik al so goed as plaasgevind het.  M.a.w. vernietiging (in hierdie geval) is bo alle twyfel verseker – dit is net ’n kwessie van tyd.

Nou waarom is die val van “Babilon” dan so seker?  Die antwoord word vir ons in v.8b gegee ~ ... Babilon wat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink het.

Wie Babilon ook al is (sal nou daarna kyk), sy was skuldig daaraan dat sy al die nasies tot onsedelikheid gelei het.  Die O.A.V. vertaal hierdie gedeelte met ~ ...die grimmigheid van haar hoereryDie woord grimmigheid hier is letterlik in die Grieks, “hartstog”, of “drif”, of “voorliefde” en die woord “hoerery”, is in die Grieks, “geestelike afvalligheid”, of “geestelike ontrouheid”.  ’n Mens sou dus hierdie vers ook vertaal met:  ... Babilon wat al die nasies tot geestelike afvalligheid en ontrouheid gelei hetDie res van die Skrifgedeelte waarna ons nou kyk, impliseer dan, dat die volke wat deur “Babilon” verlei word om ook geestelik afvallig te raak, se vernietiging is net so seker soos “Babilon” s’n – net so sal hulle ook van die wyn van God se toorn moet drinkHoe sal hierdie wyn daar uitsien?  Dit word onverdun in die beker van sy oordeel ingeskink (v.10)Hier word ’n paar keer van wyn gepraat – wat is die betekenis hiervan?  Toe Jesus aan die kruis gehang wou hulle vir Hom wyn gee met mirre daarin (Mark.15:23).  Die mengsel van wyn en mirre is aan die misdadigers wat gekruisig is, gegee en het as ’n soort verdowingsmiddel of narkose gedien.  Omdat ’n kruisdood, geweldig traumaties en pynlik was, is die misdadigers hierdie mengsel van wyn en mirre aangebied ten einde die pyn en trauma te verlig.  Hierdie mengsel is dan ook deur almal met dankbaarheid aanvaar, al was hierdie ’n seker teken van die dood wat baie binnekort sou intree.  Jesus het egter hierdie mengeldrank geweier, want Hy wou die volle wraak van God op Hom dra en daardeur ook die volle prys vir ons sonde dra.  Ons kan dus praat van hierdie wyn wat aangebied en gedrink word, as ’n voorspel tot die dood.  Dit is dan ook heel waarskynlik so dat hierdie “wyn” in ons verse onder bespreking, ’n teken was van die sekere vernietiging (dood) van “Babilon” en dat “Babilon” die vernietiging en dood van al die nasies wat saam met haar van hierdie “wyn” gedrink het, verseker het.  M.a.w. daardie nasies wat deel gehad het aan “Babilon” se geestelike ontrouheid, wat niks anders as afgodery nie, sal net so vernietig word.  God se oordeel oor “Babilon” en die ander nasies wat deur Babilon verlei is, was dus onafwendbaar.

Die volgende vraag wat ons moet beantwoord:  “Wie is “Babilon”?  Daar bestaan verskeie verklarings hiervoor.
·            Sommige meen dit is Rome (o.a. die Reformation Study Bible).  Daar bestaan egter bitter min tekskritiese bewys vir so ’n standpunt en word so ’n standpunt hoofsaaklik gebaseer op tradisionele opvattings.
·            ’n Tweede verklaring is die van verskeie Puriteine wat uitdrukking gevind het in die “Westminster Confession of Faith”, wat gesê het dat “Babilon” ’n simbool vir die Rooms Katolieke Kerk is.  So ’n verklaring is egter totaal vreemd aan die teks  Die korrupsie van die R.K.K. sou eers ’n paar eeue later plaasgevind het.  Op hierdie stadium dat Johannes hierdie openbaring ontvang het, was die kerk in Rome nog suiwer (Rom.1:8 ~ Allereers dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal, want in die hele wêreld praat die mense oor julle geloof) en sou die oorspronklike lesers van hierdie brief dus glad nie verstaan het wat Paulus hiermee bedoel het, indien hy sou sê dat die kerk in Rome, die groot misleier (“Babilon”) is nie.
·            Nog ’n moontlike verklaring is dat “Babilon”, die huidige Irak is (die ligging van die destydse Babilon). Skrywers soos Tim LaHaye e.a. hang hierdie siening aan en sê dan ook dat Irak, eendag die middelpunt van wêreldgeskiedenis gaan wees en dat ons reeds (volgens LaHaye e.a.) die realisering daarvan begin sien (dit is natuurlik gesê voor die val van Sadam Hoesein!). So ’n stelling is egter niks meer as blote bespiegeling, wensdenkery en fiksie nie.
·            Andere weer (insluitende John MacArthur) sê dat “Babilon” na ’n nuwe wêreldorde of wêreldsisteem verwys, wat in opposisie met God staan.  Hulle grond hulle stelling op die feit dat Babel destyds tekenend was van ’n sisteem wat in opposisie teenoor God gestaan het (Gen.11).  Openb.14 se “Babilon” is derhalwe die herlewing van ’n toekomstige “antichristelike wêreldsisteem”.  Ook so ’n standpunt moet en kan op grond van tekskritiek, bevraagteken word.
·            Daar is egter nog ’n moontlike verklaring met sterk Bybelse grond vir so ’n verklaring (en ek stem met hierdie verklaring saam) en dit is dat hierdie “Babilon” niks anders is as die stad Jerusalem nie.  Kom ons kyk na Bybelse ondersteuning vir so ’n standpunt.

Aan die einde van Petrus se Sendbrief, dra hy groete wense van verskeie individue en gemeentes, aan sy lesers.  ’n Spesifieke gedeelte lees ~ Silvanus, wat na my mening ’n getroue broer is, het vir my hierdie kort briefie aan julle op skrif gestel. Ek het geskrywe om julle te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan hierin vas! 13 Die gemeente in Babilon, ’n uitverkore gemeente net soos julle, asook Markus, my seun, stuur vir julle groete (1Pet.5:12-13)Die plek waar hy vandaan skryf noem hy “Babilon” en Silvanus (Silas) en Markus is saam met hom.  Benewens Openbaring is hierdie die enigste plek in die Nuwe Testament waar “Babilon” vermeld word.  Bitter min teoloë (indien enige) sal instem dat Petrus van die letterlike Babel af geskryf het.  “Babel” in hierdie geval moet dus ’n gekodeerde naam vir ’n ander plek wees. 

Tradisie vertel dat Petrus onderstebo in Rome gekruisig is en daarom beweer sommiges dat “Babilon”, Rome moet wees, maar weereens is dit tradisie wat praat en al is daar sterk getuienis dat Petrus wel onderstebo gekruisig is, bestaan daar nie sterk getuienis dat dit in Rome plaasgevind het nie, trouens dit blyk uit die Skrif dat Petrus bitter min buite Jerusalem was.  En dit word gegrond op die volgende:
-        Ons weet dat die Apostels in Jerusalem was toe die Heilige Gees uitgestort is (Hand.1:12-13; 2:1-5).  Ons weet ook dat die vroeë “Handelinge-kerk” in die plaaslike Tempel byeen gekom het (Hand.3:1; 5:12, ens.).  Toe die eerste golf van vervolging teen die kerk in Jerusalem uitgebreek het, was ...die gelowiges behalwe die apostels uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en SamariaDie apostels (insluitende Petrus) was steeds in Jerusalem na die eerste vlaag van vervolging. 
-        In Hand.9 vind Paulus se bekering plaas en na ongeveer drie jaar in die wildernis in Arabië, gaan hy na Jerusalem om Petrus te sien (Gal.1:18).  Later gedurende die gebeure in Hand.11 (die gesig wat Petrus ontvang het van die doek uit die hemel) het Paulus en Barnabas weer na Jerusalem gereis waar hulle Petrus ontmoet het (Gal.2:1-9).  In Hand.12 sien ons weer dat Petrus in Jerusalem is gedurende Jakobus se martelaarsdood en die gebeure daarna (Petrus gevang en die engel wat hom uit die tronk bevry, ens.).  Petrus word vlugtig in Samaria, Sesarea en Antiogië gesien, maar ons lees nêrens dat hy ooit in Rome was nie.
-        Daar is verder ook getuienis in 1 Petrus dat Petrus steeds in Jerusalem was.  Hy skryf in 1Pet.4:17 ~ Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God. En as ook ons geoordeel word, en dit is nog maar die begin, wat sal die uiteinde dan wees van hulle wat nie na die evangelie van God wou luister nie?  Die “huis van God” hier, is bo alle twyfel ’n verwysing na die Tempel in Jerusalem.  Let op dat Petrus hier praat van “ons” wanneer hy verwys na die “tempel”.  Indien hy in Rome was, sou dit sekerlik meer van pas gewees het, as hy na “hulle” verwys het toe hy van die tempel in Rome gepraat het.  Wanneer hy praat van “ons” wil dit voorkom asof hy eerder wil sê dat hy by sy "tuis-tempel" in Jerusalem is.  Petrus noem ook Silas en Markus in 1Pet.5:12-13.  Beide manne was van Jerusalem (sien ook Hand.15:22 t.o.v. Silas en Hand.12:12 t.o.v. Markus).    Alhoewel beide manne, Paulus op sommige van sy sendingreise vergesel het, was nie een van die twee saam met hom tydens die laaste gedeelte van Paulus se bediening nie (2Tim.4:11 ~ Net Lukas is by my...).  Dit blyk dat beide hierdie manne uiteindelik terug gekeer het na Jerusalem om Petrus by te staan in sy bediening.
-        Dit word ook algemeen aanvaar dat Markus baie tyd saam met Petrus spandeer het en sy materiaal vir sy Evangelie, direk van Petrus ontvang het.

Al vertel tradisie dus vir ons dat Petrus in Rome gekruisig is, moet ons versigtig wees om nie tradisie die botoon te laat voer oor Skrifgetuienis nie – natuurlik nie om daardeur te sê dat ons nooit aandag aan tradisie moet skenk nie.  Kerktradisie kan dikwels baie behulpsaam wees om die vroeë kerkgeskiedenis saam te stel, maar indien die getuienis van die Woord, tradisie oorheers, moet die getuienis van die Woord aanvaar word – tradisie moet dus nie teruggelees word in die Woord in nie.

’n Verdere vraag wat gevra moet word:  Is daar  voorbeelde waar heidense stadsname of-gebiede toegeken kan word aan Jerusalem?  Na alles, was Jerusalem dan nie die “heilige stad” nie? (Neh.11:1, 18; Jes.48:2; 52:1; Matt.4:5; 27:53; Openb.11:2; 21:2; 22:13). Daar is egter talle voorbeelde in die Skrif self waar ’n ander naam aan Jerusalem of sy inwoners gegee word.  In Jes.1:9-11; 3:9-10; Jer.23:24-25; Klaagliedere 4:6; Eseg.16:44-56 en Amos 4:11, word Jerusalem en sy inwoners, “Sodom en Gomorra” genoem.  In Hos.7:11-12, 16 en Nahum 3:8-9, word Israel se boosheid vergelyk met heidense plekke soos Egipte, Kus, No-Amon, ens.  Ons vind in Openbaring, moontlik die beste voorbeeld hiervan ~ Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem (Openb.11:8).  Daar bestaan geen twyfel daaroor dat hier na Jerusalem verwys word, want dit was in Jerusalem dat Jesus gekruisig is. 

Om dus vir Johannes na Jerusalem as Babilon te verwys, is niks vreemds nie.  Trouens, Jerusalem het in Johannes se tyd, nes Babilon geword.  Die naam “Babilon” word nagenoeg 290 keer in die Ou Testament aangetref.  Dit kan stellig ook gesê word dat Babilon waarskynlik die grootste vyand van Israel gedurende Ou Testamentiese tye was.  Nou (terwyl Johannes hier skryf) het Jerusalem self haar eie, grootste vyand geword.  Jerusalem het ’n replika van die trotse, “afgodsdienende” vervolger van God se volk geword en dus God se oordele vir haarself op die hals gehaal.  Jerusalem word in Eseg.23:14-21 beskryf as ’n owerspelige en ontugtige hoereerder.

Kom ons keer egter terug na Openb.14 en kyk na wat ons tot nou geleer het.  Aangesien “Babilon” in hierdie gedeelte ’n verwysing na Jerusalem is, kom ons parafraseer dan die teks ~ ’n Tweede engel het agter die eerste aan gevlieg en uitgeroep: “Geval, geval het die grote “Jerusalem” wat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink hetDit is dan hoe Jerusalem hier deur Johannes beskryf word. 

Daar is egter nog ’n vraag wat beantwoord moet word, nl.:  Hoe lei Jerusalem die nasies daarin om vals gode te aanbid?  Dit mag vreemd klink dat die Jode andere in afgodediens kon inlei, maar dit is in werklikheid presies dít wat gebeur het in die tyd wat Johannes Openbaring geskryf het.  Volgens Gen.12:1-3 was Israel veronderstel gewees om ’n seën vir al die nasies te wees ~ ...In jou sal al die volke van die aarde geseën wees, maar Israel het gefaal in hierdie roeping – hoor wat sê Paulus in Rom.2:17-24 ~ Jy, jy sê jy is ’n Jood, jy verlaat jou op die wet van Moses, jy beroem jou daarop dat God jou God is, 18 jy ken sy wil en jy onderskei die dinge waar dit werklik op aankom, omdat jy deur die wet onderrig word. 19 Jy is daarvan oortuig dat jy ’n gids vir die blindes is, ’n lig vir dié wat in die duisternis is, 20 ’n leermeester van dié wat onkundig is, ’n onderwyser van dié wat niks weet nie, omdat die wet vir jou die samevatting is van kennis en waarheid- 21 jy dan, wat ’n ander leer, leer jy jouself? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy nie? 22 Jy wat sê ’n mens mag nie egbreuk pleeg nie, pleeg jy nie egbreuk nie? Jy wat ’n afsku het van afgode, beroof jy nie hulle tempels nie? 23 Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God nie oneer aan deur sy wet te oortree nie? 24 Inderdaad, soos daar geskrywe staan, “as gevolg van julle optrede word die Naam van God deur die heidennasies belaster.”

Paulus het hier met mense gepraat wat gerus het in die wete dat hulle God se uitverkore volk was en hier sê hy nou vir hulle dat hulle veronderstel was om ’n gids vir die blindes te wees en ’n lig vir dié wat in die duisternis was.  Israel moes ’n leermeester (wees) van dié wat onkundig is en ’n onderwyser van dié wat niks weet nie, maar hulle het in plaas daarvan, hulleself skuldig gemaak aan die sondes waarteen hulle juis moes preek.  Die Jode het daarop geroem dat hulle afgode verag het, maar hulle het hulleself juis skuldig gemaak aan heiligskennis en afgodery, trouens deur hulle optrede, is hulle naam onder die nasies belaster (soos “Radio Family.com” en hulle verkondiging van 21 Mei as Oordeelsdag? – ’n belastering van God se naam onder die wêreldlinge!).  Die Jode was veronderstel om leiding aan die heidennasies te gee t.o.v. die navolging van God, maar hul uiteinde was dat hulle God geminag en belaster het. 

Dit is ook belangrik om daarop te let dat God deurgaans, deur ander volke gewerk het om Israel te straf vir hul oortredinge.  Een so ’n voorbeeld is toe die Assiriërs, Israel verower het.  Later is die Assiriërs deur die Babiloniërs verower en het lg. sodoende beheer oor Israel verkry.  Dieselfde het weer gebeur toe die Perse weer die Babiloniërs verower het.  Toe weer die Perse wat deur die Grieke verower is en uiteindelik is die Grieke deur die Romeine verslaan en het Rome beheer oor Israel verkry.  Natuurlik, nog later is die Romeine weer deur die Visgote ("Visgoths" – die Noorse volkere, of die heidense volke vanuit die Noorde) verower.  In elk van hierdie gevalle het die Israeliete ’n wonderlike geleentheid gehad om te kon getuig van God Drie-enig en sodoende ’n gids vir die blindes en ’n lig vir dié wat in die duisternis was, te kon wees.  Hulle het egter nie voldoen aan hulle roeping nie.  Ja, daar was die uitsonderings, bv. Daniël en vriende, maar vir die grootste deel van Israel se bestaan onder die Ou Verbond, was dit nie die geval nie en het hulle bloot net rede vir die heidennasies gegee om teen God te laster.  Dit laat my dadelik wonder oor ons eie roeping in die verband – waar staan ons?

Die kruuste voorbeeld van hierdie nalating en weiering van die Israeliete om hul roeping teenoor die heidennasies uit te leef, was waarskynlik tydens die Romeinse besettingstydperk.  Jesus, na wie die Israeliete so lank uitgesien het, het juis in die tyd van die Caesars gekom en steeds verkondig die Jode nie Jesus die Christus as die weg en die waarheid (Joh.14:6) aan die wêreld nie, trouens hulle laat Hom kruisig en lei so die heidene nog verder in afgodery in!  In plaas daarvan dat hulle die heidene help om die "wyn van God se genade" te drink, help hulle die heidene om die wyn van God se toorn te drink.  Geen wonder dat hulle deur God veroordeel word en Jerusalem, die Tempel en die ganse Ou Verbond in 70 v. vernietig word nie!

As ons so na hierdie vers kyk (Openb.14:8-11), is dit beslis meer Skriftuurlik en aanneemlik om "Babilon" as Jerusalem te vertaal, eerder as bv. Rome.

Miskien nog net vir oulaas – Wanneer ons na hierdie Skrifgedeelte in die O.A.V. en talle ander vertalings (o.a. die E.S.V.; N.A.S.B., ens.) kyk, sien ons dat "Babilon" in hierdie Skrifgedeelte ook genoem, ...Babilon die groot stad..., of " Babylon the great " genoem word.  Die K.J.V. vertaal dit met ~ "Babylon is fallen, is fallen, that great city".  Die uitdrukking " that great city " kom 17 keer voor in die K.J.V. en daar was slegs 3 stede, buiten Jerusalem, wat "that great city" genoem is – Gen.10:12 waar daar verwys word na Resen (...Resen tussen Nineve en Kalag. Resen was ’n groot stad...); Gibeon in Jos.10:2 (waar dit eintlik vertaal word met ~ belangrike stad) en Nineve in Jona 1:2; 3:2-3 en 4:11, waar daar ook na Nineve verwys word as ’n groot stad (in grootte – "size" dus).  Resen en Nineve was dus nie "groot stede" in belangrikheid nie, maar in oppervlakte (groot) en Gibeon was "groot in belangrikheid" = "great" (verskoon die anglisisme).

Behalwe vir hierdie drie uitsonderings word die woord "groot" (in belangrikheid) elke keer toegedig aan Jerusalem en geen ander stad nie, daarom kan ons nie anders as om Jerusalem te "lees" in die plek van "Babilon" (Babilon die groot stad).

In verse 9-11 word die oordele oor Jerusalem net nog verder uitgespel – Al het hierdie woorde van oordeel in 70 n.C. in vervulling gekom, moet hierdie gedeelte ons steeds aanspreek en dien as ’n waarskuwing oor die toekomstige oordeel.

·                     Openb.14:12-13 ~ Hier het die gelowiges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom en in Jesus bly glo.  13Toe het ek ’n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.”  “Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle.” 

Jerusalem ontvang God se oordele en word verwoes en selfs hulle (Rome) wat instrumenteel was in die verwoesting van Jerusalem, ontvang uiteindelik God se oordeel.  Daar is egter ’n wonderlike vertroostende boodskap vir diegene wat getrou bly aan die Here God en nie afvallig raak nie.  Baie het gesterf vir hulle geloof, maar het steeds vas bly staan – net so moet ons tot die dood toe vas bly staan t.w.v. ons geloof al gaan dit dikwels baie moeilik wees en daarom sê Johannes, dat die gelowiges volharding nodig sal hê, maar indien hy (ons) vas bly staan, sê die Here, sal die wat van nou af ín die Here sterwe, geseënd wees!