Sunday, September 12, 2010

Die Eerste Brief van Petrus - 12 [1]

(Ons Troos in Christus Jesus)

1. SKRIFLESING:

1Pet.3:13-22 ~ Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? 14 Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ’n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. 15 In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. 16 Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het. 17 As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen. 18 Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19 En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20 Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ’n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. 21 Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus. 22 Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.

2. INLEIDING:

In hierdie gedeelte beweeg Petrus na ’n sentrale tema wat sal geld vir die res van sy brief, nl. die hele kwessie van gelowiges se lyding en vervolging.

Petrus sê in v.13 iets wat baie maklik as vreemd kan oorkom, nl.: Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? Hoe is dit moontlik dat Petrus dít aan mense kan skryf wat reeds op daardie stadium gebuk gegaan het onder erge vervolging? Die ontvangers van hierdie brief het o.a. in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië gewoon (die grootste gedeelte van die huidige Turkye het hierdie gebiede ingesluit) en hulle ervaring was dat daar van owerheidskant vervolging was, maar ook talle ander mense het hulle leed aangedoen.

Die boodskap wat Petrus egter aan hierdie gelowiges wil deurgee, is dat al poog mense en selfs die satan, ook hoe hard om hulle as gelowiges leed aan te doen, hulle net soos Christus, nie permanente leed aangedoen kan word nie.


3. VREES GOD MEER:

Die N.A.V. het ongelukkig die woordjie “en” aan die begin van v.13 weggelaat en dit is baie belangrik dat dit wel daar geskryf staan, want dit skakel v.13 aaneen met die vorige gedeelte. Petrus sluit die voorafgaande gedeelte af met ’n aanhaling uit Ps.34:13-17. Ten einde v.13 beter te verstaan moet ons na hierdie Psalm kyk ~ Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen. Wat sê die Psalmdigter hier? Vroeër in die Psalm vind ons Dawid in ’n benarde situasie, waar sy lewe in gevaar is en hy hom na die Here wend in gebed. God spaar Dawid se lewe en sy omstandighede het drasties begin verander en daarom kon hy hierdie woorde in Ps.34 uitspreek.


Dit impliseer natuurlik nie dat God noodwendig altyd ons uit moeilike omstandighede sal red nie, maar solank dit binne Sy soewereine wil is, sál Hy ons lewe spaar en sál Hy ons omstandighede verander – en as Hy dit nie doen nie? ...Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil... (Matt.26:39). Ons leer egter uit hierdie Psalm, dat God se oë en ore gerig is op die regverdiges – hulle wat hulle beywer vir dit wat goed is. Hy sien ons nood raak en Hy hoor ons hulpgeroep.


Hierdie Psalm praat egter ook van die lewe na die dood en dat, indien ons nie in hierdie lewe uitkoms en verligting ervaar nie, die ewigheid vir ons voorlê, waar ons onuitspreeklike vrede en verligting sal ervaar. Hierdie is dan ook ’n beklemtoning van die uiteindelike vervulling van die beloftes van die Evangelieboodskap. Verligting en verlossing van ons vervolgers in die hier en die nou is goed, maar wat belangrik is en hierop moet ons as gelowiges fokus, is dat ons verlos word van die ewige straf wat ons verdien op ons sonde. Vir hierdie uiteindelike verlossing, moet ons oë gerig wees op Jesus Christus. Die eerste gedeelte van v.23 van Ps.34 sê ~ Die Here maak sy dienaars vry. Hoe maak Hy sondaars vry? Deur die dood en opstanding van Jesus Christus. Die tweede gedeelte van v.23 sê ~ Wie by Hom skuil, sal nie as skuldige behandel word nie. Waarom sal diegene wat by Hom skuil, nie as skuldige behandel word nie? Omdat Jesus Christus ons straf op Hom geneem het! Dít is genade en daarvoor kan en mag ons God nooit genoeg dank nie!


Petrus wil dan nou n.a.v. hierdie Psalm vir ons sê, dat ons, ons moet beywer vir wat goed is en wanneer ons dit doen, sien God ons omstandighede raak en hoor Hy ons hulpgeroep.


Hierdie feit laat ’n mens dadelik dink aan die woorde van Paulus in Rom.8:31 ~ As God vír ons is, wie kan teen ons wees? (O.A.V.). Die Hebreërskrywer stel dit nog mooier ~ Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6 Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen? (Hebr.13:5-6). En Rom.8:38-39 sê ~ Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.


Behalwe dat Petrus sy lesers daarvan wil verseker dat niks en niemand hulle regtig leed kan aandoen nie, wil hy sekerlik meer as net trooswoorde hier in v.13 tot hulle rig, want waarom sê hy ~ ... as julle julle beywer vir wat goed is? Hy stel dus ’n voorwaarde hier en dan ook ’n bepaalde voordeel wat ons kan put uit die nakoming van hierdie voorwaarde. Petrus sê dat hulle navolgers van die goeie moet wees. Die Griekse woord vir navolger is “mimetai”. Ons kan dit ook vertaal met “nabootsers”. Petrus sê dus dat dit goed is as ons nabootsers is van dit wat goed is. Wie is daar beter en meer volmaak om na te volg as Jesus Christus self! Wanneer ons dan vol van Sy genade is, is ons die naaste aan wat dit beteken om ’n navolger van Christus te wees.


Om hierdie genade van Christus in en deur ons lewe te sien, het ons maar net een bron om ons daarin te leer en te begelei en dit is die Woord van God. Wanneer ons die Woord van God bestudeer en navolg – wanneer ons, ons lewe laat rig deur die Woord van God, volg ons na wat goed is.


Petrus praat egter van mense wat hulle beywer om goed te doen. Hierdie woord “beywer” is ’n swaar gelaaide woord en is dus meer as net om goed te doen. Iemand wat hom beywer om goed te doen; jaag dit na; doen alles in sy vermoë om dit te doen. Pythagoras het gesê: The end of man is to become like God. Dit moet dus ons begeerte; ons motief; ons strewe; ons droom wees, om soos Christus te word. En soos netnou gesê – om ons te beywer om goed te doen en dus te groei in heiligmaking is om Christus se voorbeeld na te volg – Paulus som dit pragtig op in Ef.5:1-2 ~ Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. 2 Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was.


Wat het ons dan nou tot hier gesien?

· God sien ons swaarkry raak en Hy hoor ons hulpgeroep.

· God sal ons uit ons swaarkry verlos as ons, ons beywer vir wat goed is.

· Ons moet nie swaarkry sien as die teenoorgestelde van seën nie, trouens Jesus het self gesê dat diegene wat ly t.w.v. geregtigheid, geseën sal word ~ Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil (Matt.5:11).

· Iemand wat hom beywer om goed te doen, jaag dit na; doen alles in sy vermoë om dit te doen.


Petrus wil dus deur sy skrywe, die vervolgde gelowiges bemoedig en vertroos, om nie alleen die vervolging te verduur nie, maar ook om deur hul vervolging, die geleentheid aan te gryp om te getuig van God se genade en goedheid. Ons as gelowiges moet dus ons vrees vir mense neerlê en God eerder vrees.


4. ONS HOOP IN CHRISTUS:

Hierdie selfde Petrus het ’n paar jaar van tevore sy beskuldigers gevrees en Jesus verloën toe hy tydens Jesus se verhoor, aan die diensmeisie in die binnehof gesê het dat hy Jesus nie ken nie (Matt.26:69-75). Maar noudat Petrus saam met die ander gelowiges, vervolging in die oë staar, vrees hy God meer as sy vervolgers. Petrus het sekerlik hier die woorde van Jesus in herinnering geroep, toe Hy gesê het ~ Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan (Matt.10:28). Dit is presies wat hy dan ook nou aan sy lesers in v.15 sê ~ In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.


Vir ons as gelowiges is alle vrees uit die weg geruim, omdat ons die dood van die fisiese liggaam nie meer hoef te vrees nie – want Jesus die Christus, het die dood oorwin toe Hy uit die dood opgestaan het en daarom hoef ons nie meer oorlog, of vervolging of kanker, te vrees nie. En as ons dit nie meer hoef te vrees nie, waarom moet ons tydelike veragting van mense wat in die duisternis wandel, vrees? Dit is van verbygaande aard – dit is net tydelik. Ons beskik dus oor ’n lewende hoop – hoop in Christus Jesus.


5. PERSOONLIKE GETUIENIS:

Petrus gaan egter verder en hy sê in v.15b, dat die gelowiges ...altyd gereed (moet wees) om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van (hulle) ’n verduideliking eis oor die hoop wat in (hulle) lewe. Ons as gelowiges moet dus nie skroom om van Jesus Christus te getuig en Sy Naam te bely voor ongelowiges nie en ons moet altyd gereed wees om dit te doen, máár ons moet ook die woorde van Matt.7:6 in gedagte hou, nl. ~ Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap. Wanneer ’n bepaalde groep mense (bv. kollegas) dus daarop uit is om ’n bespotting te maak van jou getuienis – hou op daarmee en leef maar net jou getuienis as gelowige uit in spreke en gedrag en bid maar net vir hulle. Wees egter gereed om te getuig teenoor enige persoon wat dit nodig het en wat daaroor navraag doen.


Daar is egter ’n ander faset betrokke by die hele gedagte daarvan om jou getuienis uit te leef en dit is dat ons moet besef dat ons woorde nie die Here sal eer as ons woorde nie ondersteun word deur ons dade nie. Verse 16-17 is baie duidelik hieroor. Ons lewens moet die boodskap van die Evangelie te alle tye reflekteer. Ons getuienis en ons optrede moet so in harmonie wees, dat die Heilige Gees nooit ons gewete sal aankla nie – ons gewetens moet dus te alle tye onbesproke wees. Paulus onderskryf hierdie feit wanneer hy in Hand.24:16 sê ~ Daarom doen ek ook my uiterste bes om altyd ’n skoon gewete voor God en die mense te hê. Wanneer ons ’n skoon gewete het oor ons oortuigings en ons getuienis en ons lewe, kan mense maar spot en terg en beskuldig soos hulle wil – my gewete is skoon en ek weet dat ek weet dat my getuienis en optrede gegrond is op die Woord van God en my geloof wat deur die Heilige Gees in my gewek is. En wanneer ons teëstanders voortgaan om die spot met ons te dryf, of ons die rug te keer, of soos v.16 sê, wanneer hulle kwaad van my praat en ons ly, dan moet ons die Here eer daarvoor (al is dit hóé moeilik), want Christus Jesus ons Verlosser, het nog erger gely toe Hy gekruisig is en let op wat v.18 sê: Christus is onskuldig gekruisig vir skuldiges.


Ek het verlede week in Harare, o.a. gesê dat die Jode verantwoordelik was vir Jesus se kruisiging, maar wat ons moet besef, is dat ons nog meer skuld het aan Sy kruisiging, want die Jode was nie deel van God se uitverkorenes nie en het Hy derhalwe nie vir hulle sonde gesterf nie – hulle was bloot net instrumente. Ons is egter die uitverkorenes en daarom was ons die oorsaak van en rede vir Christus se verskriklike kruisdood. Ek het ook die woorde aangehaal uit ’n lied wat Horatius Bonar geskryf het – woorde wat hierdie feit pragtig illustreer (ek vertaal dit vry):

Dit was ek wat Sy kosbare bloed vergiet het;

Ek het Hom teen die kruis vasgespyker;

Ek het die Christus van God gekruisig;

Ek het gedeel in die gespot....


As ek so daaraan dink, tesame met die feit dat ek deur Sy bloed skoon gewas is, het ek geen rede om te kla oor ’n gespot en belastering nie, trouens dit behoort my inderwaarheid te vul met diepe dankbaarheid dat ek op so ’n wyse kan identifiseer met my Verlosser! Christus was verneder, maar Hy was ook verhoog en verheerlik. Christus se lyding behoort ons dus met nederigheid te vervul, maar Sy verheerliking, behoort terselfdertyd ook aan ons durf en moed te verskaf ten tyde van vervolging. Christus se kruisiging het dus nederigheid, maar terselfdertyd durf en moed in ons lewe tot gevolg.


6. GEESTE, NOAG EN DIE DOOP:

In vers 19 lees ons van geeste in die gevangenis. Daar bestaan uiteenlopende menings oor wie of wat hierdie geeste is. As ons na 2Pet.2:4-5 kyk, wil dit voorkom asof hierdie geeste, die gevalle engele is ~ God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel. 5 Hy het ook die wêreld van die outyd nie gespaar nie, maar die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring. Net vir Noag wat die wil van God verkondig het, en sewe ander mense het Hy gered.


Volgens hierdie verklaring het Christus dus ná Sy kruisiging aan die gevalle engele en die magte en owerhede en kragte, Sy opstandingsoorwinning aangekondig, maar terselfdertyd ook hul finale oordeel.


Indien ons dit so verklaar, word ons egter gekonfronteer met die woorde in v.20, nl. ~ Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Ons lees nêrens in die Woord dat daar ná die skepping en so laat as in Noag se tyd, nog steeds engele was wat in opstand gekom het teen God en wat deur God neergewerp is nie. Wie dan is hierdie geeste?


Noag het met groot geduld, God se geregtigheid aan die sondaars rondom hom verkondig, maar ons weet en sien ook hier dat niemand behalwe sewe andere saam met Noag gered is nie (2Pet.2:5). Wanneer ons dan na die konteks kyk, sien ons dat hierdie geeste die sondaars is wat in Noag se tyd, hul rug gedraai het op die wekroep van God en deur die vloed verswelg is. Hierdie geeste is dus nie gevalle engele nie. ’n Beter vertaling vir vv.19-20, sou dus iets soos volg gewees het: Hy het na die gebonde geeste van die afgestorwe en verlorenes wat in Noag se tyd hul rug op God gedraai het, gegaan en Sy opstandingsoorwinning aangekondig, maar terselfdertyd ook hul finale oordeel.


Petrus wil dus deur hierdie hele gedeelte vir ons as gelowiges die versekering gee, dat al ervaar ons die spot en hoon en vervolging van die wêreld, Christus reeds die oorwinning behaal het en dat ons wat in Jesus Christus glo, die ewige lewe sál beërwe. Die satan en sy gesante mag miskien nog steeds soos ’n brullende leeu hier op aarde rondloop (5:8), maar hy kan diegene wie hul skuiling by God vind, nie vernietig nie en daarom sê Petrus ook in 5:7 ~ Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.


Petrus wil gelowiges wat swaarkry, herinner aan die tydperk voor die Sondvloed, toe God Sy oordele uitgestel het en Sy lankmoedige genade betoon het. Hy het egter uiteindelik Sy oordele uitgestort oor die sondige wêreld. Noag en sy gesin is gered van die bose tyd waarin hy geleef het, omdat hy ’n regverdige man was en omdat God Sy genade oor Noag uitgestort het (Gen.6:9; Hebr.11:7). En tog was die oordeel wat met die vloed gekom het, net voorlopig en Noag se redding was ook net ’n heenwysing na die uiteindelike en permanente en ewige verlossing in Jesus Christus wat later sou plaasvind. Die verskriklikheid wat gepaard gegaan het met die sondvloed is ’n heenwysing na die verskriklike dood wat Christus vir ons sou sterf. Hy het vleeslik gesterf, maar Hy is lewend gemaak en Hy het opgestaan in die krag van die Gees. Dit is met hierdie selfde krag waarmee Hy ons nou red.


Diegene wat die Evangelieboodskap verwerp en bespot, plaas hulleself onder die oordeel van God wat uitgestort gaan word met die wederkoms van Christus. Maar diegene wat verenig word met Christus word gered deur dieselfde beloftes wat Noag en sy gesin gered het.


As ons dan ’n laaste woord aan die “swyne” wat ons bespot en verag, wil rig voor ons eerder stilbly, is dit dat ons vir hulle kan waarsku dat hulle God se ewige oordele oor hulself bring met hul gespot en hul verwerping van die Evangelie, anders moet hulle, hul bekeer.


Vers 21 wys vir ons daarop, dat net soos die ark Noag gered het van ’n water dood, net so word ons gered deur water in die vorm van die doop. Nou, onmiddellik moet ek kwalifiseer wat ek so pas gesê het en wat Petrus hier skryf. Petrus self verduidelik ook baie vinnig wat hy met hierdie uitdrukking ~ ...die doop, waardeur julle ook nou gered word, bedoel. Hy sê dat die water slegs die vuil van die liggaam kan afwas en dat die doop derhalwe slegs ’n simbool is van berou en sondebelydenis teenoor God en ons geloof in Jesus Christus. Die doop is dus ’n baie ernstige stap, wat simbool is van die dood en begrafnis en opstanding in ’n nuwe lewe van die gelowige – dit is nie alleen ’n weerspieëling van wat met Christus gebeur het nie, maar dit is ook getuienis van die lewegewende en reddende werk van die Heilige Gees in elke gelowige se lewe. Die doop is dus veel, veel meer as bloot net ’n seremonie waartydens die gedoopte toelating tot die kerk ontvang.


7. AFSLUITING:

Petrus sluit hierdie perikoop en hoofstuk af met v.22, waarin hy verwys na Christus se plek en posisie in die hemel op hierdie oomblik, nl. dat Hy nou aan die regterhand van God (is ) nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het. Let op die feit dat hierdie vers in die teenwoordige tyd geskryf is. Christus is dus die Een wat steeds volkome in oorwinning is, m.a.w. Hy is die ewige Onoorwinlike en alles en almal is aan Hom onderworpe. En die goeie nuus wat hieruit voortspruit vir elkeen van ons wat in Christus Jesus is, is dat wanneer ons vervolging en bespotting ervaar, ons aan Christus se kruisiging kan dink en ons troos in die feit dat ons kan identifiseer met die smaad wat Hy ervaar het en dat ons swaarkry nie ’n “druppel in die emmer” is vergeleke met Sy lyding nie. En tweedens, wanneer ons gespot en vervolg word en selfs wanneer die naderende dood ons bedreig, kan ons onsself herinner aan Sy opstanding en hierdie feit behoort aan ons geweldige hoop ten spyte van vervolging te verskaf.


[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagaand 12 September 2010