Monday, March 15, 2010

Bybelstudie deur Kobus van der Walt gehou op 14 Maart 2010

Openbaring Ontsluit - 19 ("Die Vrug van die 144 000 se Arbeid") [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:
In Openb.4-5, het Johannes ’n boekrol gesien wat met sewe seëls verseël was – hierdie boekrol verteenwoordig die nuwe verbond. Niemand was waardig genoeg om hierdie seëls te breek nie, totdat die Lam van God gekom het en die seëls begin breek het. Met die breek van elke seël, sien ons die ontvouing en voortgang van die Joodse Oorlog, asook die redes daarvoor. Die eerste vier seëls verteenwoordig verowering, oorlog, hongersnood en pes: die volgorde wat gevolg sou word tydens die Joodse Oorlog (Matt.23:29-36 ~ “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle hou die grafte van die profete in stand en versier die gedenktekens van die vromes, 30 en julle sê: ‘As ons in die dae van ons voorvaders gelewe het, sou ons nie medepligtig gewees het aan die vergieting van die bloed van die profete nie.’ 31 Op dié manier erken julle self dat julle nakomelinge is van die moordenaars van die profete. 32 Gaan maar aan, maak klaar wat julle voorvaders begin het! 33 “Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel? 34 Luister dus goed! Ek stuur profete, wyse manne en leraars na julle toe. Julle sal party van hulle doodmaak en kruisig, en party in julle sinagoges gesel en hulle van die een dorp na die ander vervolg. 35 So sal julle verantwoordelik wees vir die bloed van al die vromes wat op die aarde uitgestort is, van die bloed van die onskuldige Abel af tot by die bloed van Sagaria seun van Berekja, vir wie julle tussen die tempel en die altaar vermoor het. 36 Dit verseker Ek julle: Die straf vir al hierdie dinge sal op die mense van vandag neerkom”). Die sesde seël het God se finale oordeel oor Judaïsme ontketen. Soos reeds gesien, is die taalgebruik van die sesde seël, destruktief van aard, en dit verteenwoordig die verwydering van die ou verbond en die verplasing met die nuwe verbond. Dit is presies wat gebeur het met die vernietiging van die Tempel, want toe kon die ou verbond met sy offer rituele, nie meer in stand gehou word nie. Dit toon dus dat die nuwe verbond ten volle geïmplementeer is.

Ons het in ons vorige studie gesien dat die 144 000 die Kerk van die Here Jesus in Jerusalem verteenwoordig en dat dit hulle is wat die val van Jerusalem ontglip het, sodat nie een van die gelowiges in Jerusalem gesterf het nie (Matt.24:15-16 ~ Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding wat ’n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan-wie dit lees, moet dit goed begryp- 16 dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug). Hierdie opdrag van die Here Jesus klink vreemd, want gewoonlik het die Israeliete, wanneer vyandige troepe die land binnegeval het, na die veiligheid van die stadsmure van Jerusalem gevlug, maar Jesus gee die teenoorgestelde opdrag aan Sy kinders – Vlug die berge in! Die verwoesting van Jerusalem was ’n gegewe en die gelowiges weet dit (Jesus profeteer dit tog) en in hierdie geval was die logiese wel om uit die stad te vlug en historici vertel vir ons dat dit presies is wat gebeur het.

Johannes het gesien hoe dat vier engele, die oordeel van God teruggehou het, totdat die gelowiges veilig in Pella was. Ons het ook gesê, dat dit nie belangrik is om te weet of hierdie getal van 144 000 letterlik of figuurlik is nie, wat wel belangrik is, is dat die gelowiges gespaar is van die uiteindelike oordeel oor Jerusalem.

In die vorige perikoop (7:1-8) het ons dan die beseëling van die “Oorblyfsel” (“Remnant”) gesien, maar hier in Openb.7:9-17 gaan ons na die sukses van die “Oorblyfsel” kyk.

2. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
· Openb.7:9-10 ~ Hierna het ek ’n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. 10 Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!

Ons sal weldra sien waarom God die “Oorblyfsel” gered het. Hulle het ’n taak gehad om te verrig! Natuurlik sê ons nie hierdeur dat God hulle nie ook lief gehad het nie – natuurlik het Hy hulle lief gehad, maar dit was nie die hoofrede waarom Hy hulle gespaar het nie. Hulle het ’n taak op hande gehad: Hulle moes die Evangelie na elke nasie, volk, stam en taal neem (7:9) – dit dan is die hooftema van Openb.7:9-17, want Johannes sien ’n ontelbare hoeveelheid heiliges voor die troon van God staan. Hierdie is dan ’n profesie van die Evangelieboodskap wat oor die wêreld sou versprei ná die val van Jerusalem. Ons sien die gevolge van hierdie profesie vandag nog, want mense word steeds by die kerk gevoeg.

Hierdie ontelbare hoeveelheid, of ’n groot menigte, wat Johannes sien mag miskien vreemd en amper misterieus voorkom, maar ons sal weldra sien wie hulle is, namate ons aangaan met die ontvouing van die visioen.

Daar is ten minte drie dinge wat Johannes sien:
· ’n Vermeerdering;
· ’n Verskeidenheid;
· ’n Transformasie.

· Voorheen het Johannes 144 000 gesien – ’n definitiewe getal, maar nou sien ’n hy onnoembare getal. Die resultaat dus van die 144 000 se werk, is ’n uiteindelike onnoembare getal (waarvan ek en jy deel is!) – Daar is vermeerdering in die getal van die Kerk van die Here Jesus!

· Tweedens het Johannes ’n verskeidenheid gesien – Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal. Die visie van die 144 000 was baie “Hebreeus”, want diegene wat gered is, was op daardie stadium almal Jode, maar nou lyk die prentjie totaal anders – nou is dit universeel. Johannes gebruik omtrent elke denkbare beeld of uitdrukking om die verskeidenheid van die “nuwe Kerk” te verbeeld – Hy beskryf die multi-etnisiteit van hierdie groep, deur gebruik te maak van ’n Griekse woord "polus”, wat die meeste van die tyd in Openbaring as byvoeglike naamwoord gebruik word, wanneer daar na die stamme van Israel verwys word – soos wat daar dus ’n groot verskeidenheid onder die twaalf stamme van Israel was, so is daar ’n groot verskeidenheid van mense in die Kerk van die Here Jesus Christus.

· Derdens sien Johannes ’n transformasie (verandering). Johannes sien weereens ’n “baie Joodse” prentjie. Die verwysing na Christus as “die Lam”, is Joods, want die lam as ’n offerdier was intens verbind met die Joodse godsdiens. Die wit klere kan ons herinner aan die geregtigheid wat deur Christus toegereken word aan die gelowiges, maar wanneer ons dit so sien, wyk ons af van die eg Joodse prent wat Johannes vir ons hier skilder. Die wit klere moet dus eerder deurgetrek word na die priesterskap van die ou verbond. Ons moet onthou dat die priestersamp slegs beskore was vir Israeliete en nog meer spesifiek, vir die Leviete. Wanneer ’n man beweer het dat hy ’n Leviet was en dat hy opgeneem wil word as priester, was hy onderwerp aan ’n baie deeglike ondersoek – o.a. is daar 123 vrae aan hom gevra ten einde vas te stel of hy vlekkeloos was, wat sy karakter betref. Indien hy nie die toets geslaag het nie, het hy ’n swart mantel ontvang, maar indien hy geslaag het, het hy ’n wit mantel ontvang.

Die palmtakke dra ook ’n Joodse tema. Hierdie woord “palmtakke” word net op een ander plek in die Nuwe Testament gebruik en wel in Joh.12:23 waar Jesus se intog in Jerusalem beskryf word. Ons met ook daarop let dat die mense wat die palmtakke in Joh.12 gewuif het, almal Jode was. Hierdie Jode was vol verwagting, nl. dat verlossing deur hul Messias, vir hulle op hande was.

Die punt wat ek wil maak, is dat alles in hierdie vers na die Jode verwys. Hoewel God se plan van die begin af was dat Hy ’n multikulturele kerk wou saamstel, was dit hoofsaaklik die Jode wat die seën onder die ou verbond ontvang het. Die Meeste Jode het egter hul rug op God gedraai en daarom stel Hy ’n nuwe verbond saam en wys Openbaring hier vir ons, dat Jood en heiden nou deel word van die nuwe verbond. God se redding is dus nie meer net vir Israel nie, maar vir alle volke, daarom dat Openb.1:6 sê dat ons almal priester van God is en 1Pet.2:9 sê ~ Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Johannes (en ons) sien dus dat die Kerk (beide Jood en heiden) getransformeer word tot die ware Israel (Gal.6:16).

Johannes het egter nie net iets gesien nie (die menigte mense) – hy het ook iets gehoor ~ Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam! Ook hierdie frase herinner aan die uitroep wat opgegaan het met Jesus se triomftog in Jerusalem in Joh.12:13 ~ Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en: “Die Koning van Israel!” Dit herinner verder ook aan Ps.118:25-19.

· Openb.7:11-12 ~ Al die engele het rondom die troon, die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan. Hulle het toe voor die troon gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid 12 en gesê: “Amen! Die lof en die heerlikheid, die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan ons God tot in alle ewigheid. Amen!” Ons moet baie mooi kyk wat hier gebeur – konteks dus. Ons sien in v.10 dat dit die gelowiges is wat uitroep, ...ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam, waarop die engele neerkniel en bevestigend antwoord op dit wat die gelowiges uitroep – daarom dat hulle sê Amen. Dit was nie die ouderlinge en die vier lewende wesens wat dit uitgeroep het nie, maar die engele – kyk weer mooi na die vers: Al die engele het rondom die troon, die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan – die troon en die ouderlinge en die vier lewende wesens word hier genoem, net om aan te dui rondom wat en wie die engele gestaan het, voor hulle (die engele) gekniel en bevestigend in ’n loflied beaam dat die lof en die heerlikheid aan God behoort. Die beeld wat Johannes dus hier sien, is die gelowiges wat ’n lofsang tot God bring vir hul redding en wat deur die engele beaam word met hul eie doksologie (lofsang). Hierdie gebeure is ’n sterk herinnering aan Luk.15:10 ~ Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer. Waarvoor dank en loof die engele God? Hulle dank Hom vir genade (God se reddingsgenade) – iets wat hulle nog nooit ervaar of ooit sal ervaar nie. Hulle besef egter dat genade iets wonderbaarliks moet wees, want toe hulle hoor hoe die gelowiges God prys vir reddingsgenade, is hulle so verwonderd daaroor dat hulle op hul gesigte val en God in ’n sewevoudige loflied besing! As die engele verwonderd staan oor God se genade – hoeveel te meer nie ons nie!

· Openb.7:13-14 ~ Een van die ouderlinge vra toe vir my: “Hierdie mense met die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?” 14 “Ek weet nie, Meneer,” sê ek vir hom, “maar ú weet.” Hy sê toe vir my: “Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam. Johannes staan verwonderd oor die gesig wat hy sien, waarop een van die ouderlinge na hom kom en sy onuitgespreekte vraag vir hom vra en waarop Johannes vir hom sê ~ Ek weet nie, Meneer, “maar ú weet. Johannes sê hierdeur vir die ouderling dat hy graag by die ouderlinge sou wou weet wie die mense is wat hy sien. En dan antwoord die ouderling hom deur vir hom te sê, dat dit die mense is wat deur die groot verdrukking gekom het. Hierdie uitdrukking word slegs op twee ander plekke in die Nuwe Testament gebruik, nl. Matt.24:21 ~ ...want in daardie tyd sal daar so ’n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie, asook in Openb.2:22 (O.A.V.) ~ Kyk, Ek werp haar neer op ’n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ’n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie.

· Hierdie uitdrukking ... dié wat uit die groot verdrukking kom..., kan óf daarop dui dat hierdie mense met die wit klere, geleef het gedurende die verdrukking en dat hulle vervolg was – daarom die uitdrukking ... Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam.... Of dit kan beteken, dat dit die gevolg van die verdrukking is. M.a.w., hulle het, óf gelewe tydens die verdrukking, óf hulle was die vrug van die bediening van diegene wat die vervolging deurstaan het.

Die eerste moontlikheid is die meer gewilde standpunt, hoewel daar geen Skrifgronde daarvoor is nie en ons het al gesien dat daar ook geen wegraping voor die Pre-Millennialistiese wegraping gaan wees nie [sien Openbaring Ontsluit – 14 (Die Millennium)]. Die tweede opsie is dus die meer aanvaarbare opsie, nl. dat die ontelbare menigte, die vrug is van die 144 000 wat deur die verdrukking (aanvanklike vervolging en daarna die val van Jerusalem) gekom het. Hulle was verantwoordelik vir duisende bekerings en hulle bekeerlinge vir duisende en daardie duisende vir duisende der duisende. Die 144 000 is dus dié wat deur die Jerusalemse verdrukking (±67-70 n.C.) gegaan het en die ontelbare menigtes is diegene wat daarna deur verdrukking en lyding tydens hulle Christelike lewe sou gaan – 2Tes.1:5-6 ~ Dit alles is ’n bewys van die regverdige oordeel van God, naamlik dat Hy julle geskik geag het vir sy koninkryk, waarvoor julle nou ook ly. 6 God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly, asook 2Tim.3:12 ~ Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word. Alle gelowiges (die 144 000, asook deur die eeue daarna) gaan deur tye van verdrukking, maar sal staande bly, want ...hulle klere (is) gewas en dit (is) wit gemaak in die bloed van die Lam.

’n Belangrike vraag wat ons moet vra, is: Vind hierdie tweede verklaring enige ondersteuning vanuit die Olyfberggesprek van Jesus? Die antwoord is ’n onomwonde, “ja!” – Matt.24:15-31 ~ Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding wat ’n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan-wie dit lees, moet dit goed begryp- 16 dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug. 17 Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om sy goed uit die huis te gryp nie, 18 en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie. 19 “Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het. 20 Bid dat julle nie in die winter of op ’n sabbatdag hoef te vlug nie, 21 want in daardie tyd sal daar so ’n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie. 22 En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort. 23 “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. 24 Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei. 25 Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. 26 En as die mense vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ moet julle nie daarheen gaan nie; of as hulle sê: ‘Hy is in die slaapkamer!’ moet julle dit nie glo nie. 27 Die koms van die Seun van die mens sal wees soos ’n weerligstraal wat in die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig. 28 “Waar die aas ook al lê, daar sal die aasvoëls bymekaarkom.” 29 “Kort na die verdrukking van daardie tyd sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. 30 Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit. 31 Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.” Ons moet hierdie gedeelte deeglik bekyk, want hier het ons te doen met ’n profesie van Jesus wat 5 fases of tydperke beskryf – vv.15-22; 23-26; 27-28; 29-30 en v.31.
· Eerstens dan vv.15-22: Hierdie profesie van Jesus begin met ’n waarskuwing dat die gelowiges uit Jerusalem moet vlug wanneer die Romeinse soldate die stad omsingel. Hierdie gedeelte staan dan ook in parallel met Openb.7:1-8, waar ons gesien het dat die 144 000, geseël en beskerm word teen God se oordeel.
· Vv.23-26: Die Here waarsku voorts, dat daar tydens die besetting van Jerusalem, vals profete na vore gaan kom wat belowe dat God die inwoners gaan bevry. Aangesien die Here Jesus reeds die verwoesting van Jerusalem profeteer het, moes hierdie vals profete nie geglo word nie.
· Die ongelowige Jode het geglo dat die Messias Sy gesag sou uitoefen, deur die volk te bevry van die politieke onderdrukking onder die Romeine. Jesus sê egter dat Hy Sy majesteit sal bevestig oor hulle wat Hom gekruisig het, deur die verwoesting van Jerusalem – dit is wat bedoel word met vv.27-28. Die val van Jerusalem sal ’n gebeurtenis wees wat regoor die wêreld weerklank sou vind – net soos wat weerlig deur die hemelruim gesien kan word, net so sou die nuus van die val van Jerusalem oor die wêreld heen versprei.
· Matt.24:29-30 profeteer die val van Jerusalem, asook die val van die Tempel. Weer kry ons dekonstruksionistiese taal hier en hierdie gedeelte van die profesie handel oor die verwydering van die ou verbond wat verplaas gaan word met ’n nuwe verbond. Die verwoesting van die stad en die tempel sou dan ook die bewys wees dat Christus die Here is. Hierdie gebeure sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim wees, want dit is presies die oordeel wat Hy belowe het oor die wie Hom sou kruisig. Al was Hy nederig en sagmoedig op aarde, sou Hy nou in majesteit en heerlikheid en groot mag kom om die “heilige stad” te kom verwoes.
· Die parallelle gedeelte vir v.31, vind ons in Openb.7:13-14. Na die verwoesting van Jerusalem en die Tempel sal die “engele” gestuur word om die uitverkorenes van God van oor die wêreld heen, bymekaar te maak. Die woord “engele” hier, is “boodskappers” (aggeloõ = aggelos) en dit word op verskeie plekke in die Nuwe Testament so vertaal en beteken dus nie noodwendig hemelwesens nie (sien konteks van die volgende teksverse) – bv.: Mark.1:1-2 ~ Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só: 2 In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe: “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou regmaak (sien ook: Matt.11:10; Luk.7:24, 27; 9:52; 2Kor.12:7; Jak.2:25). Ons kan dus hier sê dat die Here Sy boodskappers sal stuur om Sy uitverkorenes van regoor die wêreld byeen te bring. Wie dan is hierdie boodskappers? Na die val van Jerusalem het die 144 000 uitgegaan en die Evangelie van Jesus Christus wyd en syd verkondig – die Goeie Nuus is “uitgetrompetter” en so het dit van geslag tot geslag voort gegaan, totdat ons hier aan die suidpunt van die aardbol, ook die Goeie Nuus ontvang het.

Ons kan dalk dink dat die Joodse gelowiges depressief kon wees na die val van Jerusalem, want dit kon vir hulle die einde geskilder het, maar Jesus het hulle bemoedig en die versekering gegee dat dit nié die einde is nie. Inteendeel, dit is slegs die begin, want nou vir reeds 1 940 jaar gaan die “engele” voort om die groot trompet (te laat) weerklink, en (Christus se) uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.”

Die chronologie van Openb.6:1-7:17, is presies dieselfde as die Olyfberggesprek in Matt.24 – eers die seël van oordeel; dan die verseëling en beskerming van die 144 000 en dan die verspreiding van die Evangelie na al vier die hoeke van die aarde. As gevolg van die Groot Verdrukking wat die 144 000 in Jerusalem verduur het, kon die Evangelie oor die wêreld heen versprei en vandag is daar ’n groot menigte wat niemand kon tel, voor die troon van God.

Die beswaar teen hierdie beeld is dat ons tog ommers hier te doen het met ’n hemelse situasie, want hoe kan ons wat nog lewe, nou in die hemel rondom God se troon staan? Die antwoord is eenvoudig: Ef.2:6 ~ Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee . Die O.A.V. vertaal dit pragtig en korrek ~ ...uit genade is julle gered - 6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus (sien ook Ef.1:3, 20; 3:10). Die Woord is baie duidelik daaroor, dat ons as gelowiges reeds op hierdie oomblik saam met Christus in die hemel sit! Ons as gelowiges in 2010, sit nou rééds saam met daardie oorspronklike 144 000 in die hemel!

· Openb.7:15-17 ~ Daarom is hulle voor die troon van God en dien hulle Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly. 16 Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en ’n hittegloed ook nie, 17 want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog. Nie net is hierdie 144 000 vir ons geïdentifiseer nie, maar ook die diens wat hulle verrig. Net in kort: Die woord “dien” in hierdie verse kom van die Grieks, "latreuo" waar die woord liturgie vandaan kom en dit verwys na kerklike en/of seremoniële gebruike. Dit is dieselfde woord wat gebruik is vir die priesterlike diens in die tempel. Dit is dus duidelik dat die kerk (gelowiges) voortgaan om Christus dag en nag in sy tempel te dien – Hou 1Kor.3:16 in gedagte ~ Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? Soos wat die priesterlike diens onder die ou verbond gereserveer was vir die familie van Aaron, is alle gelowiges vandag priesters en dien ons Christus onder Sy nuwe verbond.

Johannes gaan voort en sê dat sekuriteit aan die menigte belowe word. En hier word spesifiek twee sake belowe:
- ’n Plek van beskerming en versorging: Die uitdrukking, “Hy sal by hulle bly”, beteken ook “om te Tabernakel”, of om “’n romp oor te gooi”. ’n Wonderlike voorbeeld van hierdie waarheid is die verhaal van Rut. En dan spesifiek Rut 3:9 (O.A.V.) ~ Ek is Rut, u dienares; brei dan u vleuel oor u dienares uit, want u is die losser. Die N.I.V. vertaal dit nog mooier ~ Spread the corner of your garment over me, since you are a kinsman-redeemer. Deur Boas te vra om sy vleuel oor haar uit te brei, het o.a. geïmpliseer dat hy volle verantwoordelikheid vir haar moet neem – wat hy ook gedoen het. Net so beloof Christus beskerming aan gelowiges van vandag – niks kan met ons gebeur buite God se soewereine wil nie – ons is veilig onder God se vleuels.
- ’n Belofte van Herderskap: Nie net word die menigte beskerm nie, maar hulle geniet ook Sy herderskap en versorging – sien v.16-17. Ja, dit is so dat God as Herder, ’n eg Joodse uitdrukking onder die ou verbond was, maar ons as gelowiges kan ook vandag met oortuiging en van harte die woorde van Ps.23 sing. God se versorging is dus nie meer, nét vir die Jode beskore nie, maar vir almal onder die nuwe verbond. Nie net word ons deur Hom versorg nie, maar Hy openbaar ook Sy wil aan ons – Hy lei ons dus. Hy vertroos ons egter ook (Fil.2:1; 2Tes.2:16). Hy is voorwaar ’n Herder vir ons.

3. AFSLUITING:
Wat beteken al hierdie dinge in Openb.7:9-17 vir ons vandag? Ons is deel van die vrug van die eerste 144 000 verseëldes se arbeid en daarom is ons deel van die vrug Openb.14:1-5 se 144 000 – ons is ook eerstelinge soos dié waarvan Jakobus in 1:18 praat. Ons is deel van daardie groep eerstelinge wat onder God se vleuels beskerming vind en deur Hom “geherder” word. Ons is deel van die vrug op die 144 000 se arbeid en daarom mag, kan en moet ons ook die Blye Boodskap van Jesus versprei na al die uithoeke van die aarde. Ons is deel van die Evangelie wat oorwin en wat red; ons is deel van die Evangelie wat steeds voortstu in hierdie wêreld en God se uitverkorenes byeen bring onder Sy vlerke – mag ons deel wees van hierdie arbeiderkorps wat die oes inbring.

Die vroeë kerk het nie veel besit nie en hulle was in getalle nie veel nie – net “144 000”, maar hulle het die mees kragtige ding op aarde denkbaar besit: geloof in die Lam van God wat op die troon sit. Indien ons deel in hulle onwrikbare geloof, sal ons selfs nog ’n groter oes sien inkom, want ons is veel, veel meer as die 144 000 van destyds – ons is deel van ’n ontelbare menigte. Mag God ons elkeen tot Sy eer en heerlikheid gebruik in die uitvoering van Sy Groot Opdrag!

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 14 Maart 2010