Monday, March 8, 2010

Bybelstudie deur Kobus van der Walt gehou op 07 Maart 2010

Openbaring Ontsluit - 18 (Die Identiteit van die 144 000) [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:
Hoofstuk 7 stel ons bekend aan ’n baie interessante, maar baie belangrike groep mense, nl. die “144 000”. Net voor ons na ’n vers-vir-vers ontleding gaan kyk, wil ek net wéér meld, dat Openbaring ’n uitgebreide weergawe van die Olyfberggesprek van die Here Jesus is – daardie gesprek wat in Matt 24, Mark.13 en Luk.21 neergepen is. Openbaring, het ons ook gesien, is gegee om die kerk van die eerste eeu voor te berei op ’n aardskuddende gebeurtenis wat nog in hul geslag sou plaasvind, nl. die verwoesting van die Tempel, Jerusalem en Judaïsme, asook die verstrooiing van die oorblywende Jode.

As gevolg hiervan is hierdie boek gevul met, wat die “ooms met die dikbrille” noem, “dekonstruksionistiese taal” (bv.: die sterre wat nie lig gee nie; die son wat bloedrooi word en die maan wat swart word, ens. - “decreation language”). Hierdie taalgebruik word juis gebruik om aan te toon dat God van plan is om die “oue” met die “nuwe” te vervang. Die skrywer van die Hebreërbrief lewer iets van ’n kommentaar hierop wanneer hy in 12:22-27 sê, dat die aarde en die hemel geskud gaan word sodat die ou verbond verwyder kan word en die nuwe verbond gevestig kan word. Ons het ook gesien dat die Ou Verbond vernietig is met die verwoesting van die Tempel in Jerusalem in 70 n.C., toe 1.1 miljoen Jode oor ’n tydperk van 42 maande uitgedelg is. Soos iemand dit op ’n keer pragtig gestel het: The Revelation then, is the “curtain call” for Jerusalem. Judaism and the Old Covenant.”

Nog ’n aspek waaraan ek graag kortliks wil aandag skenk, is die vraag of dit regtig saak maak hoe ons Openbaring interpreteer? Eerstens is Openbaring deel van God se Woord en daarom is dit van die uiterste belang dat ons Openbaring korrek sal interpreteer. God het juis bedoel dat Openbaring op ’n bepaalde wyse geïnterpreteer moet word en daarom kan en mag ons nie ongeërg daarmee omgaan nie. Tweedens het ons eskatologie (die leer oor die laaste dinge), ’n diepgaande effek op ons lewens- en wêreldbeskouing en ons hantering van geskiedenis. Ek is vas van die oortuiging dat die interpretasie vanuit ’n Post-Millennialistiese oogpunt, die behoorlike en korrekte benadering is

2. VERS-VIR-VERS ONTLEDING:

· Openb.7:1-3 ~ Daarna het ek vier engele by die vier hoeke van die aarde sien staan. Hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat daar geen wind op die land en op die see en teen enige boom sou waai nie. 2 Ek het ook ’n ander engel van die ooste af sien kom met die seël van die lewende God. Hy het met ’n harde stem geroep na die vier engele aan wie mag gegee is om die land en die see te tref, 3 en het vir hulle gesê: “Moenie die land en die see en die bome tref nie. Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël.” In Openbaring 6 het ons van die eerste ses seëls gelees wat oopgebreek is en ’n mens sou verwag dat ons nou hier in hoofstuk 7 sou lees van die volgende seël – dit gebeur egter nie en het ons te doen met ’n onderbreking en sal ons eers weer in hoofstuk 8 na die volgende seël kyk wat gebreek word.

Ons het aan die einde van hoofstuk 6 gelees van die ongelowiges wat uitgeroep het ~ Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly? (6:17). Die ou verbond het ons gesien, moet verwyder word en die vraag ontstaan nou: Wie gaan staande bly?

Johannes sien vier engele by die vier hoeke van die aarde staan (v.1). Baie mense vertolk die aarde, as die hele planeet; andere weer vertolk dit as die land Palestina en soos voorheen reeds aangedui, moet ons altyd na die konteks kyk ten einde vas te stel watter vertolking die korrekte is.

Ons sien dat hierdie vier engele die vier winde van die aarde vashou. Om dit te verklaar moet ons Skrif-met-Skrif vergelyk en daarvoor moet ons eerste na die Ou Testament gaan kyk (omdat Openbaring die meeste na die O.T. verwys). Wind in die O.T. verwys oor die algemeen na God se oordeel. Bv.: Jer.13:24 ~ Ek sal julle verstrooi soos kaf wat verbywaai in die woestynwind. Nahum 1:3 ~ Die Here is lankmoedig, maar sy krag is groot: Hy laat geen skuldige ongestraf nie. Hy kom in rukwind en storm, wolke is die stof onder sy voete (sien ook Jer.51:1-3; 4:12-14; 22:22; Eseg.1:4; 13:11-16; Sag.7:14).

Dit is duidelik dat die winde van Openb.7, winde van oordeel is en ons sien dit in die woorde, sodat daar geen wind op die land en op die see en teen enige boom sou waai nie. God se oordeel word dus terug gehou, sodat “die bome” nie beskadig sou word nie. Hoogs waarskynlik is hierdie vier winde dieselfde as die vier perderuiters van Openb.6, maar hulle kan nie losgelaat word nie, want die dienaars van God (moet eers) op hulle voorkoppe gemerk word met die seël (7:3). Wat hierdie beseëling of bekragtiging ook al mag wees, dit moet eers plaasvind voor die oordeel kan plaasvind. Hierdie verposing vind plaas, omdat ’n ander engel (wat) van die ooste af (ge-)kom het met die seël van die lewende God, dit gekeer het (v.2). Hy keer die ander engele om God se oordele los te laat, ten einde ander engele die geleentheid te gee om eers hulle werk klaar te maak. Opdrag is dus gegee dat daar geoordeel moet word, maar dit word eers terug gehou tot op ’n latere stadium.

Hierdie oordeel word terug gehou totdat die dienaars van God op hulle voorkoppe (ge)merk (is) met die seël (v.3). Om behoorlik te verstaan wat met hierdie beseëling bedoel word, moet ons verstaan wie die 144 000 (“die land, see en bome” – 7:1) is waarvan vers 4 van hoofstuk 7 praat.

In die antieke tye is iemand of iets beseël, of het dit ’n seël ontvang, ten einde aan te toon dat daardie persoon of artikel opsy gesit is. Hierdie beseëling het verskillende vorme aangeneem, maar dit het aan die einde van die proses, definitiewe eienaarskap aangedui en dit het ook aangedui dat die persoon of artikel onder die beskerming van die eienaar verkeer het. Wanneer ons dan kyk na 7:3, sien ons dat die beseëling deur God (of dan Sy engele in hierdie geval) gedoen word, wat dus daarop dui dat die persone wat hierdie seël ontvang, aan God behoort en derhalwe onder Sy beskerming verkeer. Ons lees ook in Ef.1:13 van hierdie beseëling waar Paulus die volgende sê ~ Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Daar is ook baie duidelike Ou Testamentiese voorbeelde hiervan – dink bv. aan Gen.4 waar Kain vir Abel vermoor het – hy word deur God veroordeel. Kain is bang dat iemand hom dalk gaan teregstel vir die moord wat hy geplaag het. God maak dit egter duidelik dat Hy dit nie sal toelaat nie ~ Maar die Here sê vir hom: Nee! Wie vir Kain vermoor, sal sewe maal gestraf word.” Toe gee die Here vir Kain ’n teken sodat niemand wat hom raakloop, hom sou doodmaak nie (Gen.4:15 – sien ook Eseg.9:1-11).

Die vraag is: Was die teken of merk wat Kain ontvang het, ’n sigbare merk? Uiteraard kan ons nie met sekerheid sê nie, maar God het nogtans, op een of ander wyse, dit baie duidelik gemaak aan almal dat hulle nie hul hand teen Kain mog lig nie. Die punt met die teken is dat Kain onder die beskerming van God verkeer het en diegene wat sou poog om hom te dood is deur God se almagtige ingrepe verhoed om dit te doen. Dieselfde gebeur in Openb.7 – of die merk sigbaar gaan wees of nie, is nie duidelik nie, alhoewel ek glo dit nie ’n sigbare teken sal wees nie (sien “Die Identiteit van die Dier” – Openbaring ontsluit, nr. 15), en net soos die geval met Kain, sal ook die “Openb.7 persone”, onder God se beskerming staan.

Ons kry ’n soortgelyke situasie in Eseg.9:1-11, waar koning Nebukadneser die inwoners van Jerusalem gedood en uitgeroei het – behalwe, diegene wat beskerm is deur ’n merk op hul voorkoppe.

Die merk in Openb.7 is derhalwe ’n teken van lojaliteit van God en beskerming deur God. Ons het reeds vantevore gesien dat geen gelowige werklik ’n teken op hul voorkoppe het nie. Ons weet dat gelowiges ’n seël ontvang. Ons het netnou na Ef.1:13 verwys waar dit duidelik blyk dat gelowiges so ’n merk of seël ontvang. Ons sien dit ook in 2Kor.1:22; Ef.4:30 en ook 2Tim.2:19.

Met dit in gedagte, is dit dus duidelik dat die 144 000 (wie hulle ook al presies is), gelowiges moet wees, aangesien slegs gelowiges deur God beseël word. Ons kry tog in verse 4-8, ’n aanduiding van wie hierdie 144 000 gelowiges presies is.

· Openb.7:4-8 ~ Ek het die getal gehoor van dié wat gemerk is: daar was honderd vier en veertig duisend. Hulle was uit elke stam van die volk Israel: 5 uit die stam van Juda is daar twaalf duisend gemerk, uit die stam Ruben twaalf duisend, uit die stam Gad twaalf duisend, 6 uit die stam Aser twaalf duisend, uit die stam Naftali twaalf duisend, uit die stam Manasse twaalf duisend, 7 uit die stam Simeon twaalf duisend, uit die stam Levi twaalf duisend, uit die stam Issaskar twaalf duisend, 8 uit die stam Sebulon twaalf duisend, uit die stam Josef twaalf duisend, en uit die stam Benjamin is daar twaalf duisend gemerk. Johannes vertel vir ons presies hoeveel mense die seël gaan ontvang en hy verdeel hulle ook presies.

Die eerste leidraad wat ons ontvang oor die identiteit van hierdie 144 000, vind ons in die tydskaal van Openbaring.

Daar bestaan geen twyfel oor die feit dat die eerste eeuse gelowiges die vervulling van die profesie van Openbaring, reeds in hulle tyd verwag het (Openb.1:1-3; 2:5, 16; 3:11; 22:6, 7, 10, 12, 20). Ons het ook reeds gesien dat “binnekort” nie 2 000 jaar beteken nie – Wie hierdie 144 000 dan ook al is, dit moes eerste eeuse gelowiges gewees het.

Die tweede leidraad vind ons in die identifikasie van hierdie 144 000. Hulle word geïdentifiseer as gelowiges vanuit al 12 stamme van Israel. Ons kan dus aanvaar dat hierdie Joodse gelowiges was. Wanneer ons na Skrifgedeeltes soos Rom.2:28-29 en 9:6 kyk, weet ons dat daar ware Jode en vals Jode is – 9:6 ~ Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie. ’n Ware Jood, is ’n Jood wat Jesus Christus as Messias omhels het; ’n vals Jood is ’n Jood wat Christus as Messias verwerp, ongeag sy afkoms (stamboom – Rom.9:7 ~ ...nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie). Daar is baie kommentators wat sê dat die 144 000, deur alle volke verteenwoordig word, maar die uitspel van die verskillende stamme van Israel is net té duidelik hier in hoofstuk 7.

Hier word baie uitdruklik gepraat van 12 000 uit elke stam (x12 stamme = 144 000). Die vraag is nou, of ons hierdie getal letterlik moet neem? Om dit te beantwoord, kan ons begin deur te sê dat ons weet dat daar talle getalle in Openbaring genoem word en ons het ook al teen hierdie vasgestel het dat ons dit nie letterlik kan neem nie, maar dat ons dit simbolies moet sien. Daar word bv. in Openb.1:7 na die Heilige Gees verwys as die sewe Geeste voor (God) se troon. Dit is nie onmoontlik dat God presies 12 000 gelowiges uit elke stam kon red nie, maar dit is hoogs onwaarskynlik dat dit so ’n presiese getal sou wees. Die simboliese aard van getalle in Openbaring laat ’n mens dus eerder voel dat ook hierdie getal simbolies van aard is. Die getal 12, is ’n baie betekenisvolle getal vir Israel en die getal 1 000 word dikwels in die Skrif op simboliese wyse gebruik. As ons bv. na Ps.50:10 kyk, kan ons vir onsself die vraag afvra, of God dan die vee op net ’n 1 000 heuwels besit en iemand anders die ander? Natuurlik nie – Asaf gebruik die getal 1 000 juis om aan te dui dat God die vee op al die heuwels besit. Dieselfde geld vir Salomo wat nie een regverdige onder ’n duisend man kon vind nie – bedoelende dat hy nie ’n enkele regverdige man op die ganse aarde kon vind nie. Die getal 1 000 word dus gebruik om ’n groot hoeveelheid, of ’n kwantitatiewe geheel aan te dui.

Die getal 144 000 is dus hoogs waarskynlik nie ’n letterlike getal nie (natuurlik is dit nie onmoontlik vir God om dit presies so uitwerk en te beskik nie).

Voor ons dan bepaal wie hierdie gelowiges presies was, moet ons net vir ’n wyle ook kyk na die stamme wat Johannes hier noem. Dit is baie interessant om te sien dat die stamme van Dan en Efraim nie hier genoem word nie (die ander is Juda, Ruben, Gad, Aser, Naftali, Manasse, Simeon, Dan, Issaskar, Sebulon, Efraim en Benjamin), hulle is vervang met die stam van Levi, wat nie ’n amptelike stam van Israel was nie, asook Josef, Eerstens kan ons sê dat Josef maar net ’n ander naam was vir Efraim, want Josef se stamme was verdeel in twee, nl. Efraim en Manasse. Manasse is egter vermeld en die enigste ander stam van Josef wat oorbly is dié van Efraim en hulle is reeds genoem. Dan is egter heeltemal weggelaat. Wat het dan van Dan geword? Ons kan waarskynlik nie met sekerheid sê nie, maar verskeie aanduidings word vir ons in die Ou Testament gegee. In Deut.19:14-20 het God ’n baie streng waarskuwing gerig tot Sy volk, nl. dat diegene wat hulleself oorgee aan afgodery, uitgewis en uitgesluit sou word uit die hemel. Ons sien dan ook dat die stam van Dan keer op keer betrokke was by afgodery (bv. Rigters 17-18) en is hul waarskynlik as gevolg hiervan, uitgesluit.

Dit laat ons egter nog steeds met ’n onbeantwoorde vraag: Wie is hierdie 144 000? Wel, aangesien Openbaring ’n uitbreiding van die Olyfberggesprek is, moet ons dalk daar gaan soek na ’n antwoord. Kom ons kyk na Luk.21:17-24 ~ En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar 18 daar sal selfs nie eens ’n haar van julle kop af val nie. 19 Deur julle volharding moet julle julleself red.” 20 “Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21 Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, 22 want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid. 23 “Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want daar sal groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf. 24 “Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is.” Matteus se parallel word aangetref in Matt.24:15-22, waar die Here verwys na die Romeinse magte as ’n gruwel vir God (v.15). Wie sal die woorde van die Here hier gehoorsaam? Wie sal vlug voor die Romeinse weermag? Die Joodse gelowiges natuurlik en dit is hierdie Joodse gelowiges – die kerk in Jerusalem, wat die seël van God op hul voorhoofde ontvang het ten einde die val van Jerusalem vry te spring en gespaar te word – en hulle was verteenwoordigend van al die stamme van Israel, met die waarskynlike uitsondering van Dan, soos gesien het.

Ons sien in Openb.11:8 dat Jerusalem ook Sodom en Egipte genoem word ~ Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem (“sinnebeeldig” = “geestelik”). In Eks.12 het diegene wie bloed aan hul deurkosyne geverf het, die oordeel vrygespring wat God oor Egipte uitgestort het. Hulle was “beseël” vir verlossing. En nou sien ons hier in Openbaring dat Jerusalem, Egipte is. Israel gaan omkom onder die oordele van God en net die gelowige Jode – hulle wie onder die bloed van die Lam, Jesus Christus is, gaan hierdie oordeel vryspring, net soos wat Israel die oordeel in Egipte vrygespring het en Lot die oordeel in Sodom. Die regverdigverklaardes word dus nie saam met die ongelowiges uitgedelg nie. Of hierdie 144 000 dus ’n letterlike of figuurlike getal is, is nie die punt nie – die punt is, dat God Sy “beseëldes” bevry en verlos van die oordeel wat oor Jerusalem sou losbreek.

Die kruks van hierdie hele saak, is dat Jesus se profesie oor Jerusalem tot vervulling gekom het. Hy hét gesê dat Hy Jerusalem sou verwoes in Sy geslag en dat Sy kinders gespaar sou word.

Op Pinksterdag word Petrus en diegene wat geglo het , gedoop met die Heilige Gees en begin hulle in tale praat, waarop die omstanders hulle spot en sê dat hulle dronk is. Petrus verseker hulle dat dit nie die geval is nie en hy sê toe voorts ~ Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het: 17 Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom. 18 Ja, op my dienaars en my dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal as profete optree. 19 Ek sal tekens bo in die lug en wonders onder op die aarde gee: bloed en vuur en rookwolke. 20 Die son sal pikdonker word en die maan bloedrooi voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. 21 So sal dit dan wees: elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. ... Met nog baie ander woorde het Petrus getuig en hulle aangespoor: “Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit” (Hand.2:16-21, 40).

Ook Petrus het onteenseglik op Pinksterdag, toe die Heilige Gees uitgestort is, gepraat oor die verwoesting van Jerusalem en die Tempel, maar ook die belofte dat die gelowiges gespaar sou word ~ ... elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Slegs diegene wat Jesus Christus aanroep en in Hom glo sou die val van Jerusalem vryspring en Openbaring verwys na hulle as die 144 000.

3. AFSLUITING:

Wat moet ons as 21ste eeuse gelowiges uit hierdie hele saak t.o.v. die 144 000 leer – wat beteken dit vir ons? Is dit bloot maar net ’n interessante stuk geskiedenis?
· Eerstens moet ons leer en weet dat hierdie verskriklike dinge wat geprofeteer is, nie deurgetrek kan word na ons tyd, of selfs na die toekoms nie. Sou ons dit van toepassing maak op ons tyd, of die toekoms, is ons besig om Christus in oneer te bring (en dit is ’n geweldige sonde), want dan sê ons dat Sy profesie nie in vervulling gegaan het in Sy geslag soos Hy gesê het nie. Ons sê m.a.w. dan, dat Christus verkeerd was – dat Hy gelieg het! Hy het nié gelieg nie – Israel ís gedurende die 1ste eeu gestraf – selfs die wêreld se geskiedenisboeke rapporteer dit en argeologiese opgrawings bevestig dit.
· Tweedens sien ons dat die Woord van God betroubaar is en wat meer is, dat ons dit kan verstaan. Indien ons toelaat dat Skrif, Skrif verklaar, word alles duidelik.
· Derdens moet ons aandag skenk aan die hele kwessie van die geo-politiese Israel. Ek het die afgelope week te doen gehad met ’n Afrikaanssprekende man uit die Kaap wat aan ’n gemeente met die naam van "The Lighthouse Church in Kuwait” behoort en wat (volgens hom) ’n sterk saak daarvoor uitmaak dat God ’n plan met die Kerk van Jesus Christus het, maar ’n afsonderlike plan vir Israel. Punt is net, dat God nie twee planne het nie, want ook die Jode het Jesus Christus as Messias nodig – daaroor is die ganse Woord tog klinkklaar helder en duidelik – redding is slegs en alleen moontlik deur Jesus Christus. Daar was en is nie twee planne vir verlossing in die Woord beskryf nie – een vir die heidene en een vir die Jode nie. Nee, net een plan vir ALMAL.

Ek glo wel dat daar nog baie Jode tot bekering gaan kom, want as ons kyk na o.a. Rom.11, is God beslis nie klaar met die Jode nie, maar nêrens leer die Woord dat Jerusalem eendag die setel van die wêreldregering gaan wees en dat Jerusalem die tuiste van Christus se fisiese troon op aarde gaan wees nie. Daar gaan nie (en ons het dit reeds gesien – Openbaring Ontsluit # 14) ’n millennium wees waar alles net om Israel gaan sentreer nie (ons hoef dus nie skielik nou Hebreeus begin leer soos sommige groepe hier in die Vaaldriehoek en op ander plakke nie – maar net nog ’n nuwe “craze”!). Die Joodse volk het dus nie ’n land nodig nie, maar die Lam!
· In die vierde plek leer ons dat ons te alle tye op die Woord kan vertrou. Wat die Woord sê, gebeur altyd en is altyd die waarheid en ons leer in die Woord dat God omsien na Sy kinders en hulle versorg en beskerm en red.
· Vyfdens kan ons leer dat ons as gelowiges, te alle tye dapper en onbeskroomd (“bold”) moet optree en leer om God op Sy Woord te neem en om op Hom te vertrou. Ons moet leer om ons “staan te staan”. Dink aan die gelowiges in Jerusalem: Hulle het geweet dat die stad in hulle tyd verwoes gaan word, maar steeds vlug hulle nie by die aanhoor van Jesus se woorde nie – enersyds het hulle waarskynlik nog gebly om die Blye Boodskap aan hulle verlore volksgenote (die Jode) te proklameer, maar aan die anderkant het hulle heel waarskynlik geweet dat God hulle betyds sou red uit Jerusalem – Hy het dit tog immers op die Olyfberg gesê – Dus, waarom dinge vooruitloop en vlug? Hulle neem God op Sy Woord en hulle wag totdat Hý die volgende stap neem – daarom dat hulle voortgaan met hulle dag tot dag verantwoordelikhede en hulle staan te staan teen hulle vervolgers. Ons leer hier dat ons voortdurend moet staan op die Waarheid en nie ’n “aks” daarvan afwyk nie.
· In die sesde plek leer ons dat God altyd genoegsame en billike waarskuwings gee t.o.v. Sy oordele – God se oordele het eers 34 jaar na Jesus se profesie op Jerusalem geval. En gedurende hierdie 34 jaar het Hy voortdurend boodskappers gestuur om hulle te waarsku en redding aangebied deur oproepe tot sondebelydenis en
bekering tot hulle te rig. Ook ons ontvang deur die Woord en die verkondiging van die Woord, voortdurend waarskuwings, maar terselfdertyd aanbiedinge van redding en vergifnis, deur Jesus Christus. Die ongelowige Jode het in Jerusalem gewag op hulle Messias om te kom – en hulle is uitgedelg, omdat hulle deur hul eie ongehoorsaamheid verwoes is – en jy?
· Laastens sien ons dat God ernstig is oor Sy verbond en die nakoming van verbondsluitinge. Dit was omdat die Jode die verbond verbreek het en volhard het in hul verbreking van die verbond, dat God hulle uiteindelik verwerp en uitgedelg het. Wat van jy en ek? Hoe hanteer ons verbondsluitinge waarby ons betrokke is? Hoe hanteer ons, ons huweliksverbond; hoe gaan ons om met die verbond wat ons met God gemaak het t.o.v. soveel ander sake – jy weet wat dit is. Indien ons ooreenkomste wat ons met God en voor God aangaan, nie ernstig opneem, of ons nie bekeer van ’n afwyking daarvan nie, sal God dit nie ongestraf laat nie. As ons nie ons ooreenkomste ernstig opneem nie, neem ons Jesus Christus nie ernstig op nie. Jy sê dalk vir my dat jy net weet van een verbond – jou huweliksverbondsluiting. My vraag bly enersyds – kom jy dit Bybels na? Het jy nie dalk al beloftes gemaak t.o.v. jou kinders nie; t.o.v. Stiltetyd; t.o.v. jou diensbaarheid aan die gemeente; t.o.v. gesamentlike gebed in die gemeente; t.o.v. jou finansiële bydraes aan die kerk; t.o.v. jou lojaliteit aan jou werkgewer; t.o.v. jou gesindheid teenoor jou werk, ens., ens. God is ernstig oor verbondsluitinge! Hy het Sy ou verbondsmense verwyder, want hulle het hulle nie gesteur aan die verbond met hulle Vader nie – gaan lees gerus Paulus se waarskuwing in 1Kor.10:1-12 in hierdie verband.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 07 Maart 2010