Monday, March 1, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 28 Februarie 2010

“Vra, Soek en Klop!” [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ek het verlede week navrae ontvang n.a.v. ’n preek wat oor die Internet versprei is en ek wil graag vanoggend daarop reageer en wel d.m.v. ’n preek, omdat ek glo dat ons as gemeente gerus ook weer na hierdie Skrifgedeelte (en ander) kan kyk t.o.v. gebedsverhoring. Hoe moet ons, ons Skrifgedeelte van vanoggend verstaan, asook verse soos:
· Joh.14:13-14 ~ Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14 As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”
· Joh.15:7 ~ As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.
· Joh.16:24 ~ Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.
· 1Joh.5:14 ~ En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra.

Impliseer dit dat alle gebede van gelowiges te alle tye verhoor moet of sal word en indien nie – waar lê die fout?

2. SKRIFLESING:
Matt.7:1-12 ~ “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; 2 met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word. 3 “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 4 Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ’n balk in jou eie oog? 5 Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal. 6 “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.” 7 Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, 8 want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. 9 “Watter mens onder julle sal vir sy seun ’n klip gee as hy brood vra, 10 of ’n slang as hy vis vra? 11 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra? 

3. VRA, SOEK EN KLOP:
Ons Skrifgedeelte kom natuurlik uit die welbekende Bergpredikasie van ons Here Jesus. Wanneer ons na vers 7 kyk, nl. ~ Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, dan mag u dalk wonder waarom ek verse 1-6 gelees het. Ek het dit gedoen omdat verse 1-6, ’n absolute eenheid vorm met verse 7 tot 11. Regdeur Jesus se prediking in Matt.5-7, het die een deel na die ander, ’n logiese ontwikkeling en opeenvolging van gedagtes gehad en daarom kan ons nie aanvaar dat verse 7-11 nou skielik ’n nuwe tema is wat niks te doen het met die vorige gedeeltes en dan spesifiek ook verse 1-6 nie. In verse 1-6 praat Jesus oor die verhouding tussen mense en in vers 12 praat hy steeds oor hierdie onderwerp, daarom moet ons, wanneer ons verantwoordelike eksegese doen, tog aanvaar dat Jesus nie nou hier tussenin (vers 7-11) so ’n terloopse onderwerp aansny wat niks met die onderwerp van onderlinge menseverhoudinge te doen het nie.

In verse 1-5 waarsku Jesus Sy toehoorders, om nie andere te veroordeel nie, maar aan die anderkant is dit ook nodig dat sommiges veroordeel moet word, daarom dat Hy in vers 6 sê ~ Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.

Gelowiges moet dus beoordeel of mense dít wat kosbaar is vir hulle, nl. die Woord van God en die Evangelieboodskap, gaan verwerp en selfs bespot, en indien wel, moet ons nie aanhou om dit met hulle te deel nie. En ten einde vas te stel of ons besig is om dít “wat heilig is, vir die honde te gooi”, sê Jesus vir ons dat ons seker daarvan moet maak, deur daaroor te bid en dan sê Hy ook hoé ons daaroor moet bid: Vra, soek en klop!

Maar sekerlik gaan hierdie opdrag van Jesus tog nie nét daaroor om te onderskei wie die Evangelie vertrap of nie? En die antwoord hierop is tweërlei van aard, nl. In die enger sin van die woord is die antwoord: Ja, hier in hierdie Skrifgedeelte is dit presies waaroor dit gaan, maar in die breër sin van die woord, is dit nee. En aangesien ons onderwerp vanoggend oor gebedsbeantwoording handel, wil ek dus hê dat ons na die breëre sin van hierdie opdrag van die Here Jesus kyk. En hoe doen ons dit? Ons kyk na Luk.11:9-10, waar hierdie selfde opdrag oor hoe ons moet bid, aangetref word ~ Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10 Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. In hierdie opdrag van Jesus gaan die konteks glad nie oor onderskeiding van wie die Evangelie gaan vertrap en wie nie, maar oor die twee-en-sewentig wat Jesus twee-twee uitgestuur het en Hy vir hulle gesê het, dat hulle nie bekommerd moet wees nie, want daar sal in elke nood en veral geestelike nood, waaroor hulle mag beskik, voorsien word.

Jesus herhaal dus dieselfde boodskap of opdrag in Lukas t.o.v. gebed, as wat Hy in Matteus gedoen het, nl. vra, soek en klop. Hierdie opdrag is dus ook van toepassing op algemene gebede van gelowiges.

Kom ons kyk net eers wat word bedoel met hierdie drie opdragte, vra, soek en klop. Die gedagte wat hier deurgegee word, is dat ons moet aanhou en aanhou soek en aanhou en aanhou klop. In hierdie drie werkwoorde wat gebruik word vind daar dus progressie van intensiteit plaas. Hier vind dus ’n progressie van intensiteit plaas, in hierdie drie werkwoorde wat gebruik word. Dit is asof Jesus wil sê dat ons moet vra, waarna ons nog meer aggressief moet soek en daarna selfs nog meer aggressief moet klop – in kort, ons moet dus nie besig wees met passiewe gebed nie. Bv.: Wanneer ons Hom vra om werk, moet ons Hom nie net vra nie, maar ons moet terselfdertyd gaan soek vir werk en hiermee saam moet ons aanhou vra en aanhou soek, soos iemand wat klop en klop aan ’n deur (ons gee tog nie net een tikkie met die kneukel aan ’n deur wanneer ons klop nie – daar is repetisie). Dit is ook interessant dat Jesus, elke keer as hy een van hierdie werkwoorde gebruik, vir ons sê hoe dat hierdie gebed beantwoord gaan word: Vra – En ons sal ontvang; Soek – En ons sal kry; Klop – En daar sal vir ons oopgemaak word. Nog meer interessant is dat hierdie opdragte en beloftes, nét so in die volgende vers (v.8), herhaal word en eintlik nóg sterker gestel word, deurdat Hy die woord “want” gebruik, tesame met die woorde, “want elkeen wat...vra”, ens. So asof Jesus wil sê, dat elkeen wat hierdie opdrag gehoorsaam, nié teleurgestel sal word nie, want sy gebed sál verhoor word!

Hierdie versekering dat ons gebede – wanneer dit gebid word soos wat Jesus hier beskryf, verhoor sal word, word in verse 9-11 gekoppel aan ’n voorwaarde, nl. dat hierdie gebed in geloof gebid moet word. Soos wat ’n seun onwrikbaar glo dat sy Pa vir hom brood sál gee, net so onwrikbaar moet ons glo, wanneer ons bid.

Jy sê dalk vir my dat jy wél so bid, maar dat jou gebede steeds nie verhoor word nie – waarom nie? Wel, ek glo die antwoord lê juis vir ons opgesluit hier in verse 9-11:
· Wanneer ’n seun sy pa ’n brood vra.... Net soos wat ’n aardse vader vir sy seun sal gee wat hy nodig het, net so sal die Hemelse Vader vir ons gee wat ons nodig het – Hy sal nie vir ons ’n slang gee, wanneer ons ’n vis vra nie – Hy sal vir ons gee wat vir ons goed en reg is. Jesus wil egter ook vir ons hierdeur sê dat die Vader nie apaties staan teenoor ons fisiese en geestelike behoeftes nie – Hy sál aan ons gee wat ons nodig het – v.11b ~ hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?
· Die Vader sal aan ons goeie gawes gee: Die Vader sal ons nie teleurstel nie en Hy sal gee, maar dit impliseer nié dat Hy noodwendig enige iets wat ons van Hom vra, vir ons sal gee nie – Hy sál gee, maar slegs dít wat goed is vir ons – dít wat binne Sy wil vir ons lewe val. En as ons na Luk.11:13 kyk, sien ons dat die Vader aan ons die Heilige Gees sal gee, met al die geestelike voordele wat daarmee gepaard gaan.
· Hierdie gebedsaksie van vra, soek en klop, gaan egter verder, want hier is sprake van ’n Vader wat omgee en daarom moet ons besef, dat die Vader in elk geval aan ons gee wat ons nodig het, al vra ons nie eens daarvoor nie – net soos wat ’n aardse vader aan sy ondankbare, rebelse, ongehoorsame, ens. kinders sal gee.
· Aan die anderkant gee die Vader selfs meer as wat ons vra en daarom behoort ons nog meer te vra. Jakobus sê in Jak.4:2 ~ Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. Jesus gee die positiewe kant van hierdie opmerking wat Jakobus gedoen het ~ Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word (v.7).

4. BELOFTE EN VOORWAARDE:
Wanneer ons bg. gedoen en in gedagte gehou het, moet ons steeds na 1Joh.5:14 gaan kyk ~ En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. Hierdie woorde van Johannes gaan nou saam met sy woorde in Joh.15:7 ~ As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. Asook Joh.16:24 ~ Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees. Wat beteken dit alles? Dit beteken dat wanneer ons met vrymoedigheid na die Vader in gebed gegaan het en gevra, gesoek en geklop het, die Vader ons gebede sál verhoor. Hier word egter ’n paar dinge beklemtoon:
· Hieruit blyk dit duidelik, dat God nie sommer net enige iets waarvoor ons bid, aan ons sal skenk, net omdat ons daarvoor gevra het nie – selfs al het ons indringend “gevra en gesoek en geklop.” Ons moet volgens en in lyn met God se wil bid en vra. Dit gaan dus nooit oor ons eie sondige en vleeslike begeertes nie, maar oor dít wat die alwyse, ewige en heilige God begeer vir ons lewe.

Natuurlik beteken dit nie dat ons nié persoonlike dinge van die Vader mag vra nie, maar ons moet ons onderwerp aan Sy soewereine wil vir ons lewe en daarom aanvaar dat Hy beter weet wat goed is vir ons en wat nie. Johannes het bykans dieselfde ding gesê, toe hy in 1Joh.3:21-22 die volgende geskryf het ~ Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; 22 en wat ons vra, kry ons van Hom, maar dan hy gaan hy voort deur te sê ~ ... omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind. Johannes sê dus dat ons kan vra en soek en klop, indien ons gehoorsaam is aan God en Sy Woord en indien ons vra en soek en klop volgens Sy wil.

Jesus het dieselfde dinge gesê toe Hy ons geleer het oor gebed. Hy het o.a. gesê, dat wanneer ons bid, ons in Sy Naam moet bid (Joh.14:13); dat ons in Hom moet bly (Joh.6:56); dat Sy woorde in ons moet bly (Joh.15:7).

Wanneer ons bid moet ons dus in ooreenstemming met Sy wil bid en hoe stel ons vas wat Sy wil is, sodat ons daarvolgens kan bid? Wel, Johannes en Jesus gee vir ons die antwoord: ... omdat ons sy gebooie gehoorsaam (1Joh3:22) – ons moet dus gehoorsaam wees aan God se Woord. Dit is waarom Jesus dan ook sê ~  As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry (Joh.15:7). Sy Woorde (die Woord van God) moet deel wees van ons lewe – ons moet die Woord ken, dan sal ons weet wat Sy wil vir ons lewe is en as ons dan daarvolgens bid, sál ons gebede verhoor word.

5. TEN SLOTTE:
En ten slotte moet ons altyd pynlik bewus wees van Johannes se woorde in Joh.14:13-14 ~ Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14 As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” Wat is die gevolg van gebede wat in Christus se Naam gebid word en volgens die wil van die Vader? God se Naam word daardeur verheerlik. Dít moet ons eerste en laaste motief wees wanneer ons bid, nl. om God te verheerlik deur ons gebed – Hý moet die eer kry; Hý moet geloof en geprys word; Hý moet verheerlik word! Ons gebede en ons gesindhede moet in ooreenstemming wees met dié van Jesus, toe Hy o.a. Sy Hoë Priesterlike gebed gebid het ~ Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. 5 Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het (Joh.17:4).

Selfs Paulus en Johannes en Petrus en Calvyn en Jonathan Edwards en sovele ander, het ook siek geword en het ook gely en het uiteindelik ook gesterf. Gaan ons wanneer ons sterf dalk sê, God het nie ons gebede verhoor nie? Nee, ons moet bid wat Jesus in Matt.26:39 gebid het ~ My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 28 Februarie 2010