Sunday, July 12, 2009

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 12 Julie 2009

“Openbaring Ontsluit - 07” (Briewe aan Sewe Gemeentes ~ Tiatira [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons briewebesteller het, nadat hy die brief wat aan die gemeente in Pergamum gerig was, afgelewer het, sy reis voort gesit en nou in oostelike rigting, die binneland in, koers gekies. Hy het nog vier briewe in sy possak gehad en die adres op sy volgende koevert was dié van die gemeente in Tiatira.

2. DIE GEMEENTE IN TIATIRA (2:18-29):
· Die Geadresseerde Gemeente:

Openb.2:18a ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Tiatira. Tiatira was een van die kleiner gemeentes in Klein-Asië, maar die gemeente wat die langste brief van die sewe gemeentes ontvang. Dit was soos reeds gemeld in die binneland geleë en was afhanklik van handel vir sy voortbestaan.

Nie veel is bekend oor die totstandkoming van hierdie gemeente nie. Dit is egter heel moontlik dat die gemeente se totstandkoming iets te doen gehad het met ’n vrou met die naam van Lidia, ’n purperverkoopster (’n duur en luukse pers wolmateriaal), of lede van haar huishouding, wat in Tiatira woonagtig was en wat die Evangelie van Jesus Christus op ’n handelsbesoek aan Filippi gehoor het, terwyl Paulus daar langs die rivier gepreek het (Hand.16:14-15). Dit kan egter ook wees dat Paulus die gemeente daar tot stand gebring het op een van sy sendingreise (Hand.19:10). Die geestelike klimaat in Tiatira was ook nie veel anders as sy buurman na die weste toe, nl. Pergamum. Immoraliteit en afgodery het ook hier hoogty gevier.

· Die Beeld van Christus:
Openb.2:18b ~ So sê die Seun van God, wie se oë soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is. Dit gebeur nie dikwels dat Christus Homself voorstel as die Seun van God nie – Hy verkies gewoonlik eerder om Homself bekend te stel as die “Seun van die Mens”. Met hierdie bekendstelling verkies Hy egter om die ongewone benaming te kies en wanneer Hy dit doen is dit asof Hy vir ’n oomblik die sluier lig oor Sy persoonlikheid, ten einde Homself baie duideliker en prominenter as die Tweede Persoon in die Goddelike Drie-Eenheid te onthul.

Dit was nodig dat die gemeente in Tiatira duidelik moes weet dat Christus, God self is, omdat hulle bepaalde omstandighede hierdie sekuriteit van Christus se Goddelikheid, broodnodig gehad het.

Eerstens vind ons Sy karaktereienskap van alwetendheid en geregtigheid. Dit word weerspieël deur die feit dat Sy oë soos ’n vuurvlam is – Hy sien alles en Hy kyk noukeurig na alles – ook na hulle omstandighede, maar ook na hulle diepste motiewe (v.23) en omdat Hy sonde veroordeel, word Sy oë beskryf as vlammende vuur.

Verdere karaktereienskappe van Christus word uitgebeeld deur die uitdrukking voete soos geelkoper. Hierdie beeld verwys na Sy almag en Sy alomteenwoordigheid. Met “vlugtige voete” is Christus op elke plek met onbetwisbare mag. Vir die regskapenes (eerlikes en opregtes) is hierdie ’n bron van inspirasie (Hy is altyd daar), maar vir die sondaars en boosaards is hierdie feit, rede tot siddering.

· Christus se Aanprysing:
Openb.2:19 ~ Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore. Hier word vyf dinge vermeld, waarmee die Hoof van die Kerk (Jesus Christus) baie in Sy skik mee is en Hy sê aan hulle, dat Hy weldeeglik bewus is van hulle positiewe pogings om hierdie vyf eienskappe uit te leef.

- Eerstens sê Christus aan hulle dat Hy deeglik bewus is van hulle werke – Ek weet alles wat julle doen. Hierdie was dus ’n gemeente wat op wonderlike wyse die onderskeie behoeftes van haar lidmate aangespreek het en wat meer is, daar is groei in hierdie werke, m.a.w. elke keer as ’n mens vir ’n tydjie weg was en jy kom terug na hierdie gemeente, kon jy sien en ervaar dat hierdie pragtige werke met groter intensiteit en ywer uitgeleef en toegepas word - ...Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore (19c). Dit is voorwaar ook só, nl. dat goeie werke nie staties moet wees nie.

- Tweedens was hierdie gemeente by uitstek gekenmerk deur hulle liefde. Beide gemeentelede én besoekers het die onderlinge liefde in die gemeente geniet en waardeer. Daar is weliswaar nie baie mense wat sal kla oor aandag en omgee-liefde nie!

- Derdens het hierdie gemeente bekend gestaan as ’n gemeente met geloof. Die gemeente se vertroue in God om hul doelwitte te bereik was merkwaardig. Selfs tydens tye van swaarkry en terugslae (wat alle gemeentes maar van tyd tot tyd ervaar) was hulle geloof in die Here, onwrikbaar.

- Vierdens was hierdie gemeente nie suinig in haar beoefening van diensvaardigheid nie. Oënskynlik was talente nie skaars onder gemeentelede nie en hierdie talente was vrylik aangewend tot diens en opbou van andere. Dit is ook te betwyfel of hierdie ’n gemeente was waar net ’n handjievol van die gemeente al die werk gedoen het en dit wil voorkom asof al die aktiwiteite van die gemeente goed bygewoon is deur al die lidmate.

- Vyfdens was die Tiatiragemeente ook ’n groep gelowiges wat volhard het. Hoogs waarskynlik het hulle gedurende moeilike tye en tye van vervolging, die aangesig van God gesoek en gevra om wysheid en op Sy getroue leiding en versorging gewag. As ’n mens in ag neem wat die gelowiges in Klein-Asië beleef het t.o.v. ekonomiese welvaart en vervolging, was hierdie gemeente heel waarskynlik baie vergewingsgesind en geduldig.

Hierdie was ’n gemeente wat voorwaar die Vader geken het. Dit is selde dat ’n mens ’n gemeente raakloop waar al hierdie pragtige eienskappe gelyktydig aangetref word - liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding. En wat meer is, hulle het steeds gegroei wat hierdie eienskappe aan betref.

· Christus se Bestraffing:
Openb.2:20-23 ~ Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet. 21 Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie. 22 Kyk, Ek gee haar aan ’n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding-as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. 23 Haar volgelinge sal Ek deur ’n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late. Nadat ons gehoor het wat se uitmuntende gemeente hierdie was, kom Christus se bestraffing en besef ons dat ook hier maar probleme was ten spyte van al die goeie en die mooie – geen kerk kan en sal dus ooit ’n “vyfster-kerk” wees nie.

Net soos die gemeente in Pergamum, was die gemeente in Tiatira se een groot probleem ’n gebrek aan dissipline en die uitoefening daarvan. Uitermate geduld is betoon teenoor ’n vrou met die naam van Isebel. Hierdie was waarskynlik ’n bynaam ten einde ’n ooreenkoms te tref met die bose dade wat die vrou van koning Agab, koning van Israel, gepleeg het (Agab seun van Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers. 31 Dat hy voortgegaan het met die sondes van Jerobeam seun van Nebat was nog die minste; hy het ook met Isebel dogter van koning Etbaäl van die Sidoniërs getrou en die god Baäl begin dien en hom aanbid - 1Kon.16:30-31).

Presies wat was die sonde van Isebel?
- Eerstens moet ons daarop let, dat daar gedurende hierdie tydperk baie mense was wat hulle voorgedoen het as profete en is allerlei dwaalleer op hierdie wyse verkondig en versprei. Sommige het dit selfs op ’n voltydse basis bedryf en ander weer op ’n aan-en-af basis soos bv. Kajafas in Joh.11:49-52. Ook Isebel het haarself voorgedoen as ’n profetes en op dié manier haar eie sienswyses gepropageer. Hoogs waarskynlik het sy dit op ’n aan-en-af basis beoefen. Dit is duidelik uit Christus se bestraffing, dat Isebel, wat lidmaat was in Tiatira, haar –opgehou het met gru sonde en dat sy haar sonde geregverdig het deur as profetes op te tree – so asof sy haar sondige dade mag verrig omdat sy ’n profetes is en wat meer is, sy het medelidmate by hierdie sonde betrek en verlei.

- Tweedens moet ons na die kern van haar profesie kyk. Dit was baie eenvoudig en op die man af – in haar lering het sy mense aangemoedig om onsedelikheid en spesifiek, allerlei vorme van seksuele immoraliteite te pleeg, soos hoerery, owerspel, ens. Dit gaan ’n mens se verstand te bowe oor hoe dit moontlik is dat mense wat enersyds so vol liefde en diensbaarheid is en die vrug van die Heilige Gees uitleef, andersyds toe kan gee en mislei kan word deur dwaalleer, deur seksueel losbandig te leef – en tog het dit gebeur en gebeur dit steeds en sal dit steeds in die toekoms gebeur. Waarskynlik het die skuldige lidmate hulle sonde vergeestelik, want ons moet onthou dat seksuele losbandigheid en – sonde in daardie dae, sosiaal aanvaarbaar was (bv. tempelprostitute), soos wat egskeiding, saamblyery, homoseksualiteit, buite-egtelike verhoudings ens. vandag sosiaal aanvaarbaar is. Let net daarop dat hierdie algemeen aanvaarbare onsedelike optrede nie geduld is die kerk van destyds nie – hier kan verwys word na die besluit wat in Jerusalem geneem is in Hand.15:28-29 ~ Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie: 29 dat julle nie vleis moet eet wat aan ’n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg. Hartlike groete. Waarskynlik was dit baie moeilik vir jong gelowiges wat uit ’n wêreld van aanvaarbare immoraliteit gekom het, om skielik gehoor te gee aan hierdie “Jerusalem-besluit”.

Die subtiliteit waarmee die slinkse Isebel hierdie sonde geregverdig het, het die aanvaarbaarheid van hierdie dade bevorder. Net soos Balak (sien die brief aan Pergamum) het Isebel ook die leer van God se genade op so ’n slinkse wyse gemanipuleer, dat dit selfs sonde soos afgodery en owerspel, geestelik aanvaarbaar en aanloklik laat voorkom het. As ons kyk na v.24 sien ons dat sy met ’n besondere vermoë van profetiese vaardighede, verklaar het dat God diep geheimenisse aan haar geopenbaar het. Christus verklaar ondubbelsinnig dat hierdie geheimenisse van die Satan is.

In Pergamum het ons kennis gemaak met die “troon van Satan”; hier in Tiatira kom ons egter iets wat nog meer boosaardig teë, nl. die “dieptes van Satan”. Hierdie “dieptes” het hoogs waarskynlik iets te doen gehad met die dwaalleer van die Gnostici. Die Gnostici was ’n stroming in die Christelike kerk wat hulleself beskou het as deel van ’n hoër geestelike stand – mense wat dieper dieptes in die waarhede en geheimenisse van die Woord kon bereik – hulle was die sg. intelligentsia van die kerk. Hulle het beweer dat hulle ’n uitgelese groepie was wat nuwe openbaringe van God ontvang het, terwyl die meerderheid ander gelowiges uitgesluit was van hierdie kennis. Hierdie uitgelese groepie was “die mense van die dieptes” Hierdie “dieptes” het hulle geglo, het hulle in staat gestel om selfs sonde na te jaag, sonder dat dit enige skadelike uitwerking op hul siele sou hê, terwyl die ander “minderwaardige gelowiges”, die sonde ten alle koste moes vermy, want indien hulle in aanraking daarmee sou kom, sou dit hulle oorheers, maar die intelligentsia – die “mense van die dieptes”, moes die sonde najaag, sodat hulle dan bewys kon lewer van hulle heerskappy oor die sonde. Húlle was dus die mense binne die kerk wat die “dieptes van Satan” beproef het. En Isebel was die profetes wat hulle in hulle kwaad gesterk het. G’n wonder dat Christus in Sy bekendstelling aan die gemeente, gesê het dat Hy oë soos vuurvlamme het wat oral kan sien, want daardeur wil Hy ook vir hulle sê: Ek weet wat julle besig is om aan te vang!

Christus sê ook in vers 23 dat Hy diegene wat volhard in hierdie sonde, met ’n pessiekte ombring, maar net voor dit word so iets terloops ingevoeg wat ons baie maklik mis kan lees – en dit is God se genade. Te midde van die geweldige oordeel wat Christus uitspreek, sê Hy in vers 22b ~ ...as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. Soos wat Hy vir Isebel ’n kans gegee het om haar te bekeer, gee Hy ook vir haar “bedmaats”, steeds die geleentheid om hulle te bekeer, selfs nadat Isebel finaal geoordeel is – wat ’n genadige God dien ons nie! Selfs Isebel kan vergifnis ontvang en vernuwe word, deur slegs belydenis en bekering en geloof in Jesus Christus!

Maar ook oor diegene wat hulle egter nie bekeer nie word ’n oordeel uitgespreek. En waarom doen Hy dit? Sodat Sy naam geëer kan word in al die ander gemeentes ~ Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond (v.23b). En let op wat sê Hy aan die einde van hierdie vers ~ ...dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Christus deursoek ons gedagtes en ons begeertes. Dit herinner ons aan Hebr.4:12-13 ~ Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. 13 Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

· Christus se Raad:
Openb.2:24-25 ~ Maar vir julle ander in Tiatira, wat nie hierdie leer aanhang en nie die “diep geheimenisse van die Satan”, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verpligting nie; 25 hou net vas wat julle het, totdat Ek kom. Genadiglik is daar altyd ’n oorblyfsel (“remnant”) wat getrou bly. Net so het hier, in Tiatira ook ’n klompie getroue lidmate oorgebly, m.a.w. nie almal in die gemeente het onder Isebel se misleiding verval en deelgeneem aan haar sonde nie. Dit is dan aan hierdie groepie lidmate wat Christus raad gee en Hy sê aan hulle, dat Hy geen ander verpligting op hul skouers lê, behalwe om vas te hou aan wat hulle het – hulle moet net getrou bly aan die Waarheid. Dit is so asof Christus vir hulle wil sê: Julle het swaar genoeg gekry met al hierdie smerige leuens en sonde in julle midde, dat ek nie nog ’n klomp ander op julle wil laai nie – hou julle maar net vas aan die waarheid en lééf dit! Wanneer Christus egter die woord “vashou” gebruik, gebruik Hy die Griekse woord, “krateo”, wat daarop dui dat die pad nie maklik gaan wees nie.

· Christus se Belofte:
Openb.2:26-29 ~ Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee. 27 Hy sal hulle met ’n ystersepter regeer, hulle soos kleipotte stukkend slaan. 28 Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee. 29 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Christus sê dus vir die gemeentelede wat oorgebly het, dat indien hulle vashou aan die waarheid en al die beproewing en versoekinge deurstaan en derhalwe getrou bly aan Hom as Hoof van die kerk totdat Hy kom, Hy twee beloftes teenoor hulle sal nakom:
- Hy sal aan elkeen van hulle koninklike status verleen, soos wat Hý ontvang het. Reeds in hierdie lewe, sal hulle in die bevoorregte posisie verkeer om geestelike seën aan geestelike behoeftiges uit te deel, sodat nie net hulleself nie, maar ook diegene wat deur hulle geseën word, die ware lewe reeds hier op aarde kan begin ervaar en hulle sal dit doen deur vrede en vreugde en liefde en geloof en hoop aan alle mense en volke en nasies uit te deel. Dit sal o.a. gedoen word deur die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus, maar ook deur die voorbeeld wat hulle teenoor alle mense sal uitleef – in voorbeeld en in daad. Hierdie koninklike status wat aan hulle belowe word, moet ook gesien word in die lig van 1Kor.6:2a en 3a ~ Of weet julle nie dat die gelowiges oor die wêreld sal oordeel nie? ... Weet julle nie dat ons oor die engele sal oordeel nie? As konings gaan alle gelowiges saam met die Groot Regter, Christus Jesus, die wêreld en die engele oordeel!

- Die ander belofte wat Christus aan die getroue lidmate in Tiatira maak, is die belofte van die Môrester. Wie is hierdie Môrester? Dit is Jesus Christus. Wat beteken dit? 1Kor.13:12 verskaf aan ons die antwoord ~ Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. Ons sal Jesus Christus dus eendag ten volle ken in al Sy heerlikheid en ook in Sy heerlikheid deel. Ons sal verheerlik word en volkome geheilig word en ons sal volgens 1Joh.3:2, ...wanneer Jesus kom, soos Hy wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is!

[1] Bybelstudiereeks deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 12 Julie 2009