Monday, July 20, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (19 Julie 2009)

“Die Brief aan die Efesiërs - 02” (In Christus Uitverkies) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ek wil net dat ons vlugtig ’n paar punte herhaal wat ons verlede week gesê het, t.o.v. Ef.1:1-2. Ons het o.a. na drie kenmerke van ’n gelowige gekyk en ons het gesien dat gelowiges,....
· Heilig is, of te wel opsy gesit en afgesonder is;
· Gelowiges is getrou – dit beteken dat hulle getrou is in die uitlewing van hulle geloof. En ons het gesien dat geloof uit drie elemente bestaan, nl. ’n intellektuele element; ’n emosionele element en ’n element van wilskrag. Die feit dat gelowiges getrou is, impliseer ook dat hulle sal volhard in die geloof.
· Gelowiges is in Jesus Christus.

Laastens het ons gekyk na die pragtige seëngroet waarmee gelowiges mekaar destyds gegroet het, deur vir mekaar te gesê het: Genade en vrede vir jou.

2. SKRIFLESING:
Die teksverse waarna ons vanoggend gaan kyk is, Ef.1:3-6 ~  Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 4 So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5 In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6 Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het.

Dit is baie interessant om te weet dat Ef.1:3-14 een aanmekaar sin in die Grieks is. Dit maak sin as ’n mens na verse 4-14 kyk, omdat die inhoud daarvan, ’n verduideliking van vers 3 is. Vers 3 bring lof en eer aan die Vader vir wonderlike seën wat in Christus ontvang is. In verse 4-14 vertel Paulus nou vir ons wát hierdie seën alles behels. Hy spreek in verse 4-14 die volgende onderwerpe aan:
· Verkiesing;
· Effektiewe Roeping;
· Regverdigmaking;
· Vergifnis van sonde;
· God se einddoel;
· In Christus deur die Heilige Gees beseël, en
· Ons erfenis.

As ons na hierdie punte kyk, moet u saamstem, dat ons hier (soos verlede week gesê), te doen het met ’n mini-kursus in die teologie.

Kom ons kyk egter eers na vers 3 ~ Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.

3. SLEGS IN CHRISTUS:

Die laaste gedeelte van vers 3 sê vir ons, dat al hierdie geestelike seëninge wat ons ontvang, in Christus ontvang word. Ons het verlede week gesien hoe belangrik en prominent hierdie uitdrukking, nl. om in Christus te wees, in Efesiërs spesifiek is, maar ook oor die algemeen in al Paulus se skrywes, want dit is slegs deur ons eenwording met Christus, m.a.w. om in Christus ingeplant te wees, dat ons al hierdie seëninge wat ons so pas genoem het, kan ontvang. Hierdie is dan waarskynlik die heel belangrikste uitdrukking in die ganse Nuwe Testament en omdat dit enersyds so ’n belangrike begrip is en andersyds ’n baie moeilike begrip is om te verstaan, gaan ons kort-kort terug kom na hierdie uitdrukking, nl.: In Christus.

Wat ons heel eerste moet besef, is dat hierdie seën waarvan Paulus in die Efesiërbrief skryf, slegs aan ons gegee kan word deur Christus Jesus – as Christus nie “in die prentjie” is nie, is daar nie sprake van hierdie seën nie.

Ja, die Woord praat van baie seëninge wat alle mense ontvang, bv.: Matt.5:45b ~ ...Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. Hierdie tipe seën wat oor alle mense (gelowig en heiden) uitgestort word, noem ons God se algemene genade, Paulus hanteer egter nie algemene genade, of algemene seën wat oor alle mense uitgestort word in hierdie gedeelte nie. Nee, hy hanteer hier, wat ons noem, spesifieke genade (of toegespitste genade) – daardie genade en seën wat slegs deur gelowiges geniet kan word en mense struikel baie dikwels oor hierdie waarheid, maar die Skrif is baie duidelik hieroor.

Paulus skryf hier in Efesiërs aan gelowiges en hy skryf oor die toegespitste genade wat gelowiges te beurt val en hy wil hê dat hulle sal verstaan wat hierdie toegespitste genade en -seën presies behels, wat hulle in Christus deelagtig kan word, en daarom beklemtoon hy die feit dat hierdie seën slegs van Christus afkomstig is. Jy kan dus nie ’n gelowige wees as jy nie in Christus is nie. Christus is die begin en die einde. Hy is die Alfa en die Omega. Daar is geen seën vir gelowiges buite Christus nie.

4. IN CHRISTUS UITVERKIES:
Dit is wonderlik om te hoor van hierdie seën wat gelowiges te beurt val, maar die vraag is hoe word dit deel van ons? Ons vind die antwoord in verse 4 tot 6, nl. ~ So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5 In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6 Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het.

Dit is baie duidelik dat hier gepraat word van uitverkiesing. In die Woord van God, word die woord uitverkies, op drie maniere gebruik:
· God se teokratiese verkiesing van die volk Israel – Deut.7:6 ~ Jy is ’n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees. Hierdie uitverkiesing het niks te doen gehad met persoonlike redding nie. Paulus verduidelik dit mooi in Rom.9:6b-7a ~ ...almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie; 7 en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie. Om ’n biologiese afstammeling dus van Abraham te wees, het nie geïmpliseer dat iemand ook gedeel het in Abraham se geloof nie.
· ’n Tweede tipe van verkiesing lê op die vlak van arbeid of spesiale dienswerk aan God – ’n roeping (of beroep) dus. So het God die stam van Levi geroep om Sy priesters te wees. Die Leviete was egter ook nie a.g.v. hierdie roeping verseker van redding nie. So het Jesus bv. ook twaalf dissipels gekies, maar net elf van hulle het redding ontvang.
· Die derde vorm van verkiesing of uitverkiesing, het met redding te doen. Dit is die tipe verkiesing en redding waarvan Jesus in Joh.6:44 praat ~ Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. Die uitdrukking “na My toe trek”, dra die betekenis van ’n onweerstaanbare krag en was in die Grieks gebruik om ’n desperaat honger persoon te illustreer wat nie kos wat voor hom neergesit word, kan weerstaan nie, of demone wat met onweerstaanbare krag na diere aangetrek is, as hulle nie mense kon beset nie. Die heel beste manier om hierdie onweerstaanbare trekkrag waarskynlik te vergelyk, is met dié van ’n elektromagneet (hyskraan met elektromagneet aan punt wat staal optel) – wanneer die krag aangeskakel word kan dit nie anders nie – metaal word aangetrek.

Wanneer ons na verse 4-6 kyk, vind ons twee werkwoorde wat vir ons hierdie gedagte van uitverkiesing verduidelik.

Die eerste vind ons in vers 4, nl. "eklegomai", wat beteken dat God óns gekies het. Hierdie werkwoord dui daarop, dat God op ’n spesifieke stadium in die verlede en wel voor die grondlegging van die aarde, ons in Hom uitverkies het, sodat ons heilig en sonder blaam voor Hom in liefde kan staan. Dit beteken verder dat dit Sý keuse was.

Die tweede werkwoord vind ons in vers 5, nl. "proorizo", ’n woord wat saamgestel is uit die voorsetsel "pro" (voor) en "oorizo", wat “om te bepaal”, beteken. M.a.w. dit dui op ’n keuse wat vooraf gemaak word. Dit kan vergelyk word met ’n dekreet wat ’n koning uitvaardig (sien ook: Rom.8:29; Matt.24:22,31; Luk.18:7; Hand.4:28; Rom.29,33; 9:11; Ef.3:11; 2Tim.2:10; Jak.2:5; 1Pet.1:2,20).

Regdeur die Woord van God, lees ons van Sy soewereiniteit en aan die anderkant lees ons ook van die mens se vrye keuse en –wil. Toe Petrus op Pinksterdag oor Christus gepraat het, het hy die volgende gesê ~ God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak (Hand.2:23). Hier sien ons in een vers, beide hierdie beginsels wat bymekaar uitgebring word – Aan die eenkant, die soewereine doel van God wat Sy Seun opoffer, sodat die mensdom geseën kan word met redding en aan die anderkant, vind ons die menslike keuse en verantwoordelikheid, wat die Seun van God, kruisig.

’n Vraag wat talle gelowiges vra, indien nie almal op ’n stadium in hulle lewe, is: Kan ’n mens weet – verseker weet dat hy een van die uitverkorenes is? Ten einde ’n antwoord op hierdie tergende vraag te kry, moet ’n mens na die brief aan die Romeine gaan kyk.

Eers nadat jy halfpad deur Romeine gelees het kry jy te doen met die onderwerp van uitverkiesing. Die rede hiervoor is dat Paulus eers die gevalle toestand van die mens wil beskryf, m.a.w. dat ons almal onder die juk van die erfsonde staan en dat ons derhalwe skuldig voor God staan. Daarna beskryf hy die hele kwessie van regverdigmaking deur die geloof, sonder werke deur die afgehandelde werk van Christus. En dan beskryf hy hoe die mens bevry word van die heerskappy van sonde en hoe die mens verlos word van hierdie sondeskuld. Die gevolg hiervan is dat daar geen veroordeling meer is vir diegene wat in Christus glo nie en dan getuig die Heilige Gees in ons, dat ons kinders van God is (Rom.8:16). Dan kom Paulus eers in die tweede helfte van hoofstuk 8 en praat hy oor die uitverkiesing ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29 Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30 Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik (Rom.8:28-30).

Indien ’n mens dus ’n beskrywing van jouself in die derde hoofstuk van Romeine vind, is jy ’n sondaar wat onder veroordeling staan en is jy afhanklik van regverdigmaking deur geloof in Jesus Christus, want ... Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Rom.3:23). So ’n persoon is nie uitverkies nie en hoogs waarskynlik gee hy ook nie om of hy uitverkies is nie.

Indien jy egter jouself beskryf kry in hoofstuk 8 van Romeine en jy is reeds ’n gelowige, weet jy dat jy uitverkies is en dat jy vooruitbestem is vir ewige redding en saligmaking.

God se soewereine uitverkiesende genade en die mens se reaksie daarop is integraal deel van mekaar in die proses van redding, MAAR, die belangrike punt wat Paulus wil maak, is dat géén mens daarop kan roem dat hy uit homself gered is nie, of dat hy gered is omdat hy so gekies het nie. Die mens se redding is dus slegs ’n reaksie op die feit dat God se keuse op hom geval het, of anders gestel, geen mens sou gekies het om Christus as Saligmaker na te volg, as God hom nie uitverkies het nie – die eerste en laaste aksie in die redding van die mens berus dus by God – Hy kies ons en omdat Hy ons gekies het, het ons geen ander keuse as om Hom te wil kies – in die teologie praat ons van die onweerstaanbare genade. God stort Sy reddingsgenade oor my uit en daardie genade-geskenk is so groot, dat ek nie anders kan as om te kies om Hom te volg – dit is dus ’n onweerstaanbare uitnodiging.

5. STANDPUNTE T.O.V. DIE UITVERKIESING:
Ons het die afgelope klompie maande reeds meer as een keer na die Leer van die Uitverkiesing gekyk en daarom wil ek nie veel meer sê oor die leer self nie, behalwe dat ons net nog moet kyk na enkele besware en standpunte wat teen hierdie leer geopper word, ten einde ons toe te rus om sinvol en Bybels oor hierdie leer te kan praat.

Dit is so dat baie mense ’n probleem met die Leer van die Uitverkiesing het, maar voor ons daarna kyk, moet ons net kortliks kyk na die drie verskillende standpunte wat bestaan t.o.v. uitverkiesing:
· Die eerste groep verwerp die hele gedagte aan God wat soewerein besluit dat sekere mense uitverkies is en andere derhalwe verlore is. Hierdie groepering leer dat God ’n genadige God is, deurdat Hy Jesus Christus vir ons sonde laat sterf het, maar dáár eindig Sy genade betreffende verlossing, omdat die onus nou by die mens berus of hy hierdie verlossingsaanbod aanvaar of verwerp – die keuse om gered te word, berus dus by die mens.

Hierdie leer pas die mens baie goed, omdat die mens geneig is om ’n baie hoë premie te plaas op sy eie sukses en -vermoëns. Die probleem met hierdie siening is dat die Bybel, of ons daarvan hou of nie, en soos wat ons nou reeds gesien het, wél die Leer van die Uitverkiesing verkondig. John Stott sê, election is a devine revelation, not a human specualtion. D. Martin Lloyd-Jones sê dat die Leer van die Uitverkiesing, ’n verklaring is en nie ’n argument nie.

· Tweedens is daar mense wat sê dat uitverkiesing wel deur die Woord geleer word, maar dat dit op voorafkennis berus, m.a.w. God het in Sy alwysheid, vooruit gesien wie Hom gaan kies en daarom is hulle uitverkies.

Die probleem met so ’n redenasie is dat dit nie regtig “uitverkiesing” is, as God vooruit sien wie Hom gaan kies nie. God voorordineer dus nie so ’n persoon se redding nie, maar die mens doen dit self.

So ’n standpunt klop ook nie met wat die Woord leer t.o.v. die mens se hopelose en gevalle toestand nie, want geen mens, in sy gevalle toestand kan en wil vir God kies nie – hy kies voortdurend die sonde. Ons moet verder ook besef, dat God die Gewer van geloof is en daarom is ook Hy alleen die Gewer van Redding. Watter goed kon God dus sien in die mens se verdorwe hart?

Die mense wat ’n probleem met die Leer van die Uitverkiesing het, het nie in wese ’n probleem met hierdie leer nie – al dink hulle so – hulle het primêr ’n probleem met die leer t.o.v. die gevallenheid van die mens, of te wel Radikale Verdorwenheid wat gegrond word op o.a. Rom.3:10-12 ~ Daar staan immers geskrywe: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, 11 daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. 12 “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie (sien o.a. ook: Ef.2:1; Joh.6:44; Gen.6:5).

· Derdens is daar die standpunt dat die Leer van die Uitverkiesing eenvoudig en baie duidelik is. In kort net weer – Hierdie standpunt (wat óns dan ook onderskryf) leer dat die mens té verdorwe is om ’n keuse uit te oefen ten einde deel te kry in God se reddingseën. God het egter in Sy oneindige genade en barmhartigheid, óns uitverkies en Sy keuse effektief bekragtig, deurdat Hy Jesus Christus gestuur het om vir ons sonde versoening te doen. Daarna het Hy dit deur die werking van die Heilige Gees vir ons moontlik gemaak om positief te kon reageer op die waarheid en heerlikheid van die Evangelie.

Al die seën wat ons as gelowiges dus kan geniet, moet terug gelei word na God se soewereine uitverkiesing – en dit is presies wat Paulus ook vir ons in Ef.1:3 sê.

6. BESWARE TEEN UITVERKIESING:
Ek wil net nog iets sê t.o.v. besware teen die Leer van die Uitverkiesing, omdat ons gedurig met hierdie besware te doen kry wanneer ons met mense praat.

Die twee vernaamste besware teen die uitverkiesing is dat dit arbitrêr, of te wel willekeurig is en tweedens dat dit onregverdig is.

Wanneer mense sê dat die uitverkiesing willekeurig is, bedoel hulle daardeur dat God geen rede het waarom Hy sekere mense kies en andere nie. Dit impliseer dus ook, dat God kan kies om niemand te red nie. Wanneer iemand egter so redeneer, is sy redenasie lynreg teen Paulus se doel met die skryf van Ef.1:6, nl. ~ Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. Hierin sien ons dus dat God se doel met die uitverkiesing, juis is om heerlikheid aan Homself te bring, bv. Luk.12:32 (O.A.V.) ~ ...want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.

Ons weet nie waarom Hy een bo die ander verkies nie, maar dit is totaal anders as om te sê dat Hy geen rede het nie.

Ons sien dus dat die uitverkiesing nie willekeurig is nie, maar dat God ’n baie spesifieke doel met die uitverkiesing het en wanneer ons verstaan dat God ’n baie bepaalde rede en motief het waarom Hy mense kies, val ander vrae net weg - vrae soos, waarom hierdie een en nie daardie een nie?, of waarom nie alle mense nie? Hoe durf ons as mens, Sy keuse tot selfverheerliking in twyfel trek? As (met groot piëteit gesê) God kies om Bernard te red, omdat Bernard se redding meer lof en eer aan Hom gaan bring, as bv. dié van Adriaan – wie is ons om God as Skepper van die mens, se keuses in twyfel te trek?

Daar is ook, soos reeds gesê, mense wat sê dat die uitverkiesing onregverdig is – hierdie mense sê dat alle mense ’n gelyke kans behoort te staan om gekies te word. Hoe kan ons so redeneer, want die mens het alreeds ’n kans en ’n keuse gehad (Tuin van Eden)? Nee, so ver dit regverdigheid aangaan, is dit juis regverdig dat almal van ons die ewige dood verdien.

Dit is nie regverdigheid wat ons van God moet verlang nie – dit is genade! En genade kan nie beveel word deur die mens nie.

7. TEN SLOTTE:
Kom ons laat die strydvrae en vals leer t.o.v. die uitverkiesing daar en ons kyk ten slotte na iets wat eerder ons harte sal verbly.

Ons moet besef dat die uitverkiesing nie net die effek van die sondeval en die sonde self neutraliseer nie, dit gaan veel verder as dit. Ons het in vers 3 gelees, dat God ons in Christus geseën het. Ons lees o.a. in Rom.8:1 ~ Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Ons moet besef dat alle mense IN Adam is en omdat almal IN Adam is, beteken dit dat alle mense IN die ewige verdoemenis gaan beland. Maar, God het deur Sy genade ons as uitverkorenes uitgehaal en ons IN Christus INgeplant! Hy het ons oorgebring van die dood na die lewe.

Gelowiges is IN Christus en diegene van ons wat IN Christus is, sal nooit verlore gaan nie – Joh.10:28-29 ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29 Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.

[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 19 Julie 2009