“Die Brief aan die Efesiërs - 01” (Inleiding, Geadresseerdes en Groetewoord) [1]
Indien u hierdie boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.
1. INLEIDING:
Ons gaan vanoggend begin met ’n “reis” deur die brief aan die Efesiërs. ’n Brief wat deur baie beskou word as die mees praktiese brief in die Nuwe Testament. Andere weer sê dat hierdie brief die hoogtepunt is van al Paulus se geskrifte en dat dit die kroon span op sy teologie – dat dit die finale uiteensetting van Paulus se teologie is.
Baie mense het deur hierdie brief tot Christus gekom en ’n menigte gelowige is deur hierdie brief aangespoor tot goeie werke. John Mackay (’n voormalige president van die Princeton Theological Seminary) was so ’n persoon en hy het op ’n keer gesê: Never ... was the reality of Revelation more obvious and the reflective powers of the Apostle’s mind more transfigured than in the great book which is known by the title, The Epistle to the Ephesians. Hierdie was ook Calvyn se gunsteling brief.
Wanneer ’n mens sulke opmerkings oor ’n Bybelboek of ’n brief uit die Nuwe Testament hoor, kan jy nie anders as om opgewonde te wees en uit te sien daarna om deur dit werk nie. My gebed en vertroue is dat ons as gemeente saam, net so opgewonde oor hierdie brief sal raak en saam net so erns met hierdie brief sal maak as soveel duisende ander broers en susters in die geskiedenis van die kerk.
Die groot en oorheersende tema van hierdie brief is aan die eenkant Christus en aan die anderkant, die Kerk – as Bruid van Christus.
In hierdie brief kry ons te doen met ’n ryk teologie of leerstellinge t.o.v. die kerk en sal ons weldra sien dat die kerk nie ’n organisasie of instituut is nie, maar ’n lewende organisme wat saamgestel is uit baie afhanklike dele wat in noue verhouding tot mekaar staan. Christus is die Hoof van hierdie liggaam en die Heilige Gees is (in groot piëteit gesê), die lewensbloed van hierdie liggaam.
Die Nuwe Testament gebruik baie metafore om die Kerk te beskryf, metafore wat in die Ou Testament gebruik is vir die volk Israel. Beide word bv. Sy Bruid genoem (Hos.1:2; Jer.3:20; Openb.21:2). Die kerk (en Israel) word ook genoem, die familie of gesin van God (Ps.107:41; Jer.31:1; Ef.2); en ’n kudde (Jes.40:11; Ps.23; Luk.12:32; Hand.20:28-29). Daar word van die gemeente (en van Israel) gepraat as die druiwetakke, of die -lote (Jes.5:1-7; Joh15:5). Dit is egter belangrik om daarop te let dat die Ou Testament nooit na Israel verwys as God se liggaam nie. Daarteenoor praat die Nuwe Testament gereeld van die gemeente (die gelowiges) as Sy Liggaam (bv.1Kor.10:17 of 12:12).
Hierdie Liggaam van Christus (die Kerk) funksioneer deur die gebruikmaking van geestelike gawes en deur die verantwoordelikheid wat elke lidmaat het t.o.v. gemeensaamheid en gesamentlike aanbidding.
Daar bestaan geweldige wanopvattings oor wat die kerk van ons dag behoort te wees, en beslis ook onder ons eie Evangeliese Christene. Die probleem lê nie op die vlak van Bybelse terminologie en beskrywings nie, maar eerder op die vlak van wie is die Hoof van die Kerk? Hoe moet die kerk funksioneer? Kan ons die kerk bestuur soos ons wil? Waarvoor is daar iets soos die Kerk? Of, is dit om soos in Ef.3:10-11 gestel, dat die Kerk ...aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend (te kan maak)?
Wat die antwoord of antwoorde ook al mag wees, een ding wat soos ’n paal bo die
water uitstaan, is dat die kerk van ons dag oor die algemeen, té mensgesentreerd is en dat daar bitter min aandag aan God se eer geskenk word.
Dit is dan ook presies by hierdie punt waar die Brief aan die Efesiërs begin, nl. by die werk van die Goddelike Drie-Eenheid – Die Vader, Seun en die Heilige Gees.
Voor ons kortliks kyk na wie die skrywer van hierdie brief is en wanneer die brief geskryf is, net nog die volgende: Dit is baie interessant om te weet dat die vroegste manuskripte van hierdie brief, nie die naam Efese in die eerste paar verse gehad het nie. Dit is waarskynlik omdat hierdie brief ’n algemene omsendbrief was aan die al die gemeentes in Klein-Asië en het dieselfde brief waarskynlik die name van elkeen van hierdie gemeentes gedra – bv.: die gemeente in Pergamum; die gemeente in Smirna; die gemeente in Efese ens. (Kommentators soos R. Kent Hughes en James Montgomery Boice deel hierdie standpunt).
Hierdie feit het onmiddellik tot gevolg dat hierdie brief ’n algemene omsendbrief is en daarom kan ons vandag ook óns naam hier in vers 1 inskryf – Aan die Gemeente van Antipas in Vereeniging, en ons kan elke vers hierna op ons van toepassing maak – hierdie is dus ’n hoogs persoonlike brief wat ook aan ons wat deel is van hierdie besondere liggaam van Jesus Christus, geskryf is! As ons dít besef en ons, ons naam (Antipas) elke keer inskryf wanneer ons Efese sien, sal ons die werk van God ín ons én ons gemeente soveel beter verstaan en sal ons persoonlik ook bemoedig en versterk word.
Hierdie brief is dus ’n mini-kursus in die teologie wat aan óns as gemeente gerig word. John Stott het hierdie pragtige woorde as samevatting vir Efesiërs geskryf ~ The whole letter is thus a magnificant combination of Christian doctrine and Christian duty, Christian faith and Christian life, what God has done through Christ and what we must do in consequence.
Kom ons kyk dan nou na die eerste twee verse van hierdie wonderlike brief.
2. SKRIFLESING:
Ef.1:1-2 ~ Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God. Aan almal in Efese wat aan God behoort en in Christus Jesus glo. 2 Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
3. DIE OUTEUR:
Ons sien dus dat vers 1 begin met die woorde ~ Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God. Kom ons kyk net kortliks na wie die outeur van hierdie brief dan is. Die skrywer stel homself aan ons bekend as Paulus. Hierdie Paulus se oorspronklike naam was Saulus en hy was van die stam van Benjamin en hy was waarskynlik vernoem na die eerste koning. Saulus was goed geskoold in wat ons vandag die sosiale wetenskappe sal noem, maar sy mees uitstaande skoling het hy in die Rabbynse studies onder die beroemde Gamaliël deurloop (Hand.22:3). Hy het ’n hoogaangeskrewe Rabbi geword en was lid van die Joodse Sanhedrin (die regerende Joodseraad in Jerusalem). Wanneer ons na Handelinge 22:4-5 kyk, was hy waarskynlik ook die mees geharde antichristelike leier in Jerusalem. Hy het die volgelinge van Jesus Christus met toegewyde passie vervolg. Hy was juis oppad om sommige van die gelowiges in Damaskus te gaan arresteer, toe hy op wonderbaarlike en dramatiese wyse in sy spore gestuit is en terselfdertyd, soewerein wederbaar is (Hand.9:1-8).
Nadat Saulus drie jaar in die woestyn in Arabië deurgebring het, word hy herder en leraar saam met Barnabas, Simeon, Lucius en Manaen in die gemeente in Antiogië. Gedurende sy eerste jare in die bediening, het Saulus bekend geraak as Paulus (Hand.13:9) – Die onbekeerde Saulus word wederbaar en hy neem terselfdertyd ’n nuwe naam aan, nl. Paulus.
Van Antiogië af, het die Heilige Gees hom saam met Barnabas uitgestuur op sekerlik die grootste sendingpoging in die geskiedenis van die kerk. Paulus word dus op hierdie stadium, God se unieke apostel na die heidene (Hand.9:15; Rom.11:13).
4. DIE GEADRESSEERDES:
Ons vind in vers 1b die naam van die geadresseerdes van hierdie brief ~ Aan almal in Efese wat aan God behoort en in Christus Jesus glo. Soos reeds gesê, was die geadresseerdes van hierdie brief waarskynlik nie net eksklusief dié van die Efesiërs nie, omdat die woorde in Efese nie in die drie oudste manuskripte voorkom nie.
Sonder om in detail op die argumente in te gaan waarom die naam Efese uiteindelik ingesluit is in die finale teks van die Bybel, kan ons net sê dat die mees algemene redenasie dié een is dat die brief ’n algemene omsendbrief was aan die sewe gemeentes in Klein-Asië wat onder Paulus se bediening tot stand gekom het en dat Efese beskou is as die hoofstad van die sewe en dat die brief waarskynlik eerste na Efese gestuur was.
Hoe het Efese daaruit gesien? Soos ons ’n paar Sondagaande gelede gesien het in ons studie van Openbaring, was hierdie gemeente in ongeveer 60-63 n.C. deur Paulus gestig en “gevoed” (Hand.18:19-21; 19:1; 20:16-38). Hierdie brief word dan ook gedurende hierdie eerste jaar of twee na die stigting van die gemeente aan hulle gestuur.
Hierdie was ’n gemeente wat in ’n uiters bevoorregte posisie verkeer het – die “grootte Apostel Paulus” het hierdie gemeente begin en die eerste groep gemeentelede het aan Paulus se voete gesit! Voorgangers van statuur het daar bedien en gedien en gehelp om die fondasie van hierdie gemeente te lê – o.a. ook mense soos Akwila (Hand.18:19,26), Apollos (18:24-28) en Timoteus (1Tim.1:3) – Dink jou in: Jy sit aan hierdie formidabele manne se voete om van die Woord te leer! En asof dit nie genoeg is nie, ontvang hierdie gemeente ook nog Paulus se eerste brief wat hy vanuit die tronk (waarksynlik in Rome – Ef.3:1) geskryf het (ongeveer 60 n.C. - Ef.1:1).
Ons het dus hier te doen met ’n gemeente waarvan die fondasies baie deeglik in die Woord gelê is. Dit is verder ’n gemeente wat in ’n ryk, bekende en vooruitstrewende stad geleë was – ’n stad wat bekend was vir sy handel, maar ook vir die Tempel van Diana – een van die sg. Sewe wonders van die wêreld (Hand.19:23-27). ’n Reuse opelug stadion wat nagenoeg 25 000 toeskouers kon neem, was ook hier geleë en gereelde strydwa wedrenne en gevegte met diere is hier gehou.
Met soveel weelde en oorvloed is korrupsie en sonde, natuurlik ook dikwels die natuurlike gevolg en te midde hiervan het die gelowiges in Efese gelewe en dit is aan hulle wie Paulus sy brief rig.
5. DIE HEILIGES IN EFESE:
Wanneer ons na vers 1b in meer besonderheid wil kyk, moet ons ongelukkig weer na die O.A.V. gaan kyk, omdat die N.A.V. baie gebrekkig vertaal is. Die O.A.V. lees ~ ...aan die heiliges wat in Éfese is, en die gelowiges in Christus Jesus. Beide die E.S.V. en die N.K.J.V. lees ~ To the saints who are in Ephesus, and are faithful in Christ Jesus. Ons sien dus dat die klem hier op die woord “heiliges” val. Wat sê die Grieks? Die Grieks praat nie hier, soos wat die N.A.V. dit vertaal, van “almal” in Efese nie, maar óók van die “heiliges”, of te wel hagios.
Die boodskap van die Bybel is van die begin tot die einde geskryf ten einde ons as mense terug te bring na God en onsself te help om ons voor God te verootmoedig en om ons te help om onsself te sien vir wie ons werklik in Christus Jesus is. Dit is dan ook die groot deurlopende tema van hierdie brief aan die Efesiërs en daarom begin Paulus ook die brief in vers een om hierdie saak aan te spreek, wanneer hy sê dat hy sy brief skryf aan die heiliges wat in Éfese is, en die gelowiges in Christus Jesus. Die heiliges! Die gelowiges! Diegene wie in Christus Jesus is! Ons vind dus hier, drie kenmerke van ’n gelowige – kom ons kyk daarna.
· Gelowiges is Heiliges:
Die Bybelse betekenis van die woord “heilige” is totaal anders as wat die wêreld daarvan maak. In die Rooms Katolieke Kerk bv. word daar verwys na ’n heilige, as iemand wat verantwoordelik was vir bepaalde “wonderwerke” of verskeie goeie dade – bv. Moeder Theresa, of Saint Christopher, ens. Die wêreld weer verwys dikwels na ’n “goeie persoon” as ’n heilige. Dit is egter ver verwyder van die Bybelse betekenis van ’n heilige. Bybels beteken die woord “heilige” om opsy gesit te wees, maar nie opsy gesit deur mense nie – nee, opsygesit deur God self – dit is iets wat geen mens dus kan doen nie – slégs God kan dit doen.
Moses moes bv. in Eksodus, in opdrag van die Here, die waskom en die altaar in die Tabernakel, heilig. Dit beteken nié dat Moses een of ander towerkuns beoefen het, deurdat die materiaal waaruit hierdie waskom en altaar gemaak was, nou skielik verander het in iets anders nie. Dit het ook nie heiliger geword nie. Dit beteken net dat hierdie artikels opsy gesit is – afgesonder is, vir die heilige tempeldiens. Dieselfde gebeur wanneer Jesus in Joh.17:17 bid ~ Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid (O.A.V.) en die N.A.V. sê ~ Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. Jesus het met hierdie gebed gebid dat ons opsygesit sal word, omdat Hy versoening vir ons sonde aan die kruis bewerkstellig het. ’n Gelowige word dus opsy gesit, of geheilig, wanneer God uitreik na die mens deur die krag van die Heilige
Gees; Hy hom wederbaar en so ’n wedergeborene dan in die Liggaam van Christus (die kerk) ingeplant word.
In die lig hiervan is elke gelowige dus ’n geheiligde en elke heilige is ’n gelowige. In ’n sekere opsig is elke gelowige dus ook afgeskei van die wêreld. Dit beteken natuurlik nie dat ons uit hierdie wêreld geneem is nie – dit beteken dat ons nie aan hierdie wêreld en sy magte behoort nie. Indien ons waarlik aan Christus behoort, beteken dit dat ons ’n nuwe geaardheid het; dat ons nuwe prioriteite het; dat ons nuwe doelwitte het. Ons behoort dus aan ’n totaal ander koninkryk as die koninkryk van hierdie wêreld.
Ons moet egter ook besef dat indien ons heilig verklaar is, impliseer dit nié dat ons nou sonder sonde is nie, maar dat ons beter af is as wat ons voor ons wedergeboorte was. Ons sal in hoofstuk 2 sien dat ons gered word uit genade en deur geloof alleen en nie op grond van goeie werke nie. Ons sal egter ook sien dat diegene wie gered is, deur God se genade werking, vooruit bestem is om goeie werke te doen. Anders gestel, ons word gered deur geloof alleen, maar ons word nie gered deur geloof wat alleen staan nie. Alle gelowiges is heiliges, maar alle gelowiges moet meer en meer heilig word.
· Gelowiges is Getrou:
In Ef.1:1b groet Paulus die gelowiges in Efese en noem hy hulle ook gelowiges . Die woord in die oorspronklike teks wat saam met gelowiges gebruik word is pistos. Wat daar dus eintlik in die Grieks staan is, ...aan die heiliges wat in Éfese is, en die getroue gelowiges in Christus Jesus. Ons sien dus in die tweede plek dat Paulus sê dat gelowiges, getrou is. En wanneer Paulus sê dat gelowiges getrou is, het hy twee dinge in gedagte: Die eerste en dit is ook die belangrikste, is dat gelowiges getrou in die uitlewing van hulle geloof sal wees. Dit impliseer dus dat ’n persoon wat die Evangelie van God se genade in Jesus Christus hoor, nou geloof in daardie Evangelie plaas, of te wel, daardie Evangelie glo.
Hierdie geloof bestaan uit drie elemente:
- Eerstens is daar ’n intellektuele element. Geloof impliseer dat dit uit inhoud sal bestaan. Vir geloof om te bestaan, moet daar inhoud wees wat verkondig word en wat verstaan en aanvaar moet word.
- Tweedens het geloof ’n emosionele element. Indien die inhoud van die geloof reg verstaan word, is dit nie iets wat maar sommer net van kennis geneem word en dan eenkant geplaas word en afgemaak word as interessant nie. Nee, geloof behels die dood van God se Seun, Jesus Christus vir my en jou. Wanneer ons dit verstaan en toe-eien, kan dit nie anders as om ons emosioneel te raak en het dit ’n diep en opregte liefde vir God tot gevolg.
- Die derde element van geloof is wilskrag. Wanneer iemand die evangelie hoor; daardeur aangeraak word en wedergeboorte plaasvind, sal die ware gelowige ’n persoonlike verbintenis (“commitment”) aangaan met Christus wat vir hom gesterf het en dit vra wilskrag en deursettingsvermoë van so ’n gelowige.
Tweedens moet gelowiges volhard in die geloof – volhard tot die einde toe. Jesus sê in Matt.10:22 ~ Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word (en dan hierdie woorde): Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word. Dit is so dat ons as Gereformeerde Baptiste glo in die uitverkiesing wat impliseer dat God nie een van ons verlore sal laat gaan nie en dat God m.a.w. “met ons sal volhard” en dit is alles goed en wel, máár dit impliseer ook dat ons sal volhard – sal volhard in getrouheid aan Hom.
· Gelowiges is in Jesus Christus:
Laastens groet Paulus die gelowiges in Efese met die woorde, ... wat aan God behoort en in Christus Jesus glo. Weereens is die N.A.V. nie ’n goeie vertaling hier nie en is die O.A.V. ’n meer letterlike vertaling van die oorspronklike teks, want daar staan, ...en die gelowiges in Christus Jesus. Hierdie is ’n baie belangrike gedagte, maar ons sal later in die brief in meer detail hierop ingaan, aangesien hierdie gedagte, die hart van hierdie brief is. Hierdie uitdrukking kom nege keer in Ef.1:3-23 voor en dit kom 164 keer voor in al die geskrifte van Paulus.
Hierdie uitdrukking beteken veel meer as net om in Christus te glo, of om gered te wees deur Sy soendood. Dit beteken in kort, om verenig te wees met Christus in een geestelike liggaam, sodat wat waar is van Hom, ook waar kan wees van gelowiges. In hierdie lig gaan Paulus so ver as om bv. in Ef.2:6 te sê ~ ...Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee. Hierdie is ’n baie moeilike begrip en die Woord gebruik verskeie beelde om dit aan ons te verduidelik – o.a. met die beeld van eenwording van man en vrou in die huwelik (Ef.5:22-33); die eenheid van die wingerdstok en die takke (Joh.15:1-17); die eenheid van die geestelike tempel waar die Christus die hoeksteen is en elke gelowige ’n steen (Ef.2:20-22); die eenheid van die Hoof, Christus en die ander ledemate van die liggaam in een organisme (1Kor.12:12-27), ens.
Of ons dit op hierdie stadium verstaan of nie, eenwording met Christus is in ’n sekere sin, die wese van ons redding, want sonder eenwording met Christus verkeer ons in ’n hopelose toestand, maar in Hom is ons toestand en ons hele wese een van heerlike oorwinning en vrede. Maar later meer hieroor.
6. SEËNBEDE:
Nadat Paulus die gemeente gegroet het, kom hy nou in vers 2 en hy spreek ’n seënbede uit oor die gemeente ~ Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! Hierdie was ’n algemene manier van groet in die vroeë kerk. Genade (in Grieks = charis) beskryf God se liefde en goedheid jeens diegene wat God se guns, onverdiend ontvang het, en wie hulle geloof in Christus Jesus geplaas het. Eers kom die genade van verlossing en dan volg die vrede wat tussen ons en God deur Christus aan die kruis bewerkstellig is.
Om ’n broer of suster in die geloof op hierdie wyse te groet, is veel swaarder gelaai as om hom/haar bloot net op ’n algemene welwillendheidswyse te groet. Dit is terselfdertyd ’n erkenning van die feit dat die een wat groet en die een wat gegroet word, gesamentlike lede is van die Liggaam van Christus.
Iemand het eenkeer gesê dat genade die fontein is waaruit vrede vloei – vrede is dus die stroom. Omdat ons genade van God ontvang het, het ons vrede met God, daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan (Ef.4:7). Die Nuwe Testamentiese “vrede” is die ekwivalent van die Ou Testamentiese “shãlôm” wat in sy volste sin, geestelike welstand en volledigheid impliseer. Wanneer ons mekaar dus groet en die een vir die ander sê ~ Genade en vrede vir jou, sê ons dus eintlik vir mekaar: My broer, ek erken jou as ’n medegelowige in Christus Jesus en mag dit geestelik met jou baie goed gaan – mag jy geestelik groei en mag jy die vrede wat daar in Christus Jesus is, elke dag in jou lewe ervaar – daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan. En hierdie seënbede kom van God die Vader en van Jesus Christus, Wie een is met die Vader.
Dit is dus asof Paulus wil sê: Ek Paulus groet julle (aan die begin van vers 1) en dan gee hy ’n kort boodskappie (die res van vers 1 en die eerste twee woorde van vers 2) en dan sluit hy af deur al die eer aan die Here te gee, omdat die ganse boodskap van die brief; Sy Apostelskap en die feit dat die geadresseerdes in Christus gered is, alles van God die Vader en Jesus Christus kom!
Genade en vrede (ook) vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 12 Julie 2009