Sunday, July 19, 2015

Die Profeet Sagaria - 12 (“Die Twee Herders”)

1.   INLEIDING:
      Ons het in die voorafgaande gedeeltes van Sagaria (spesifiek hoofstukke 9 & 10) gesien dat die Israeliete as volk, vir hulleself baie moeilikheid op die hals gehaal het, deur vals profete aan te hang en die ware en enigste lewende en heilige God te verwerp. Hulle het doelbewus gekies om die Goeie Herder te verwerp.
      In ons Skriflesing vandag, gaan ons te doen kry met hierdie twee herders, nl. die bose- en die Goeie Herder en ons sal sien hoe die volk van Israel (weereens) die Goeie Herder verwerp het en wat hulle lot is as gevolg daarvan.  
2.   SKRIFLESING:
      Sag.11:4-17 ~ 4So het die Here my God gesê: Gaan wees n herder vir die slagskape. 5Hulle eienaars self slag hulle sonder skuldgevoel, of verkoop hulle en sê: Prys die Here, ek word ryk! Ook die skape se herders gee vir hulle niks om nie. 6Ek gee ook nie meer om vir die inwoners van die land nie, sê die Here, Ek gee hulle oor in mekaar se mag en in die mag van hulle koning. Die land sal uitmekaar geslaan word, maar Ek sal niemand red nie. 7Ek het toe n herder geword in diens van dié wat met die slagskape handel dryf. Ek het twee kieries gevat, die een Vriendelikheid genoem en die ander Vereniging, en ek het vir die skape n herder geword. 8Binne een maand het ek van drie herders ontslae geraak. Maar ek het ongeduldig geraak met die skape, en hulle het ook vir my moeg geraak. 9Ek het gesê: Ek gaan julle nie meer oppas nie. Laat dié wat wil doodgaan, doodgaan. Laat dié wat wil wegraak, wegraak. En laat dié wat oorbly, mekaar opvreet. 10Ek het my kierie Vriendelikheid gevat en dit stukkend geslaan om so die ooreenkoms wat ek met al die volke gehad het, te verbreek. 11Die ooreenkoms het dieselfde dag opgehou om te bestaan en die kleinveehandelaars wat my dopgehou het, het geweet dat die Here dit so beveel het. 12Ek het vir hulle gesê: As julle wil, gee my my loon; as julle nie wil nie, laat staan dit. Hulle het toe my loon afgeweeg, dertig stukke silwer. 13Die Here het vir my gesê: Gooi dit vir die pottebakker! En dit was nogal die kosbare loon wat hulle gemeen het ek werd is! Maar ek het die dertig stukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi. 14Ek slaan toe ook my ander kierie, Vereniging, stukkend om so die broederskap tussen Juda en Israel te verbreek. 15Toe sê die Here vir my: Vat weer vir jou herdersgereedskap, maar nou dié van een wat alles verkeerd doen. 16Ek gaan nou n herder in die land aanstel wat niks omgee vir dié wat wegraak nie, nie die lammers soek nie, nie dié wat seergekry het, dokter nie en die gesondes nie kos gee nie, maar wat die vleis van die vetstes eet en die ander se kloue afruk. 17Ellende wag vir die herder wat alles verkeerd doen en die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm en sy regteroog tref! Mag sy arm heeltemal verdor, mag sy regteroog heeltemal blind word!  

3.   DIE GOEIE- EN DIE BOSE HERDER (vv.4-14):
      Hierdie gedeelte is nie maklik om te verklaar nie as gevolg van die  ietwat onduidelike betekenis en n grootlikse gebrek aan onmiddellike historiese konteks - so bv. is daar nêrens regtig getuienis, of verduideliking van die rede, of betekenis van die drie herders waarvan daar in een maand bv. ontslae geraak is nie.

      Verder dra die twee rolle wat Sagaria in hierdie verhaal speel ook nie by tot die beter verstaan van die verhaal nie - hy word bv. in vv.4-14 beskryf as n goeie herder wat omsien na die volk, terwyl hy in vv.15-17 beskryf word as n waardelose- of bose herder. Wanneer ons egter in gedagte hou dat hierdie boek n profesie is wat heenwys na Christus die Verlosser wat sowat 500 jaar later sou kom, dan val alles baie mooi in plek en sien ons n pragtige beskrywing van Jesus die beloofde Messias. Sagaria word dus geskets as n tipe van Christus, ten einde die fokus op Christus Jesus te vestig.

      In vv.4-14 word die fokus gevestig op die Goeie Herder en ses dinge word hier van Hom gesê:
       Die Herder se Opdrag (v.4-6): In v.4 ontvang Sagaria n
simboliese opdrag om n herder vir die volk van die Here te wees - n volk wat geoormerk is om geslag te word - om geoordeel te word. Hulle is uitgelewer aan gewetenlose handelaars en herders en vir hierdie uitgelewerde volk moet Sagaria nou lei as herder.

      Ons sien in vv.5 en 6 dat die volk se leiers en sesifiek hul geestelike leiers, nie n snars vir hulle omgee nie - hulle word nie meer versorg deur die leiers nie; hulle word ook nie gewaarsku of voorberei vir wat vir hulle voorlê nie en in die proses verhard die volk ook hulle harte teenoor die Here.

      Daar is egter nog n groter probleem en oordele wat op die volk wag en dit sien ons in v.6, nl. dat die Here God sê dat Hy ook klaar is met die volk. So asof die Here vir Sagaria sê: Die volk se leiers gee niks om vir die volk nie en daarom gee Ek ook nie meer vir hulle om nie en daarom Sagaria, moet jy nou maar op jou eie hierdie volk vertroetel en versorg - Ek is klaar met hulle. Dit moes n geweldige opdrag aan Sagaria gewees het, want niemand gee om vir die volk nie - nie eers die Here nie. Wat n eensame roeping ontvang hy nie van die Here nie - net Sagaria moet omgee vir mense wie nie eers deur die Here versorg word nie - Sagaria staan alleen! Is dit  regverdig dat die volk so gestraf moet word vir hul leiers se goddeloosheid - die leiers wat nie omgee nie en nou verlaat die Here húlle ook nog - waarom? Maar ten minste is daar een mens wat nog vir hulle, in opdrag van die Here, omgee - Sagaria!

      Dit laat n mens nogal dink aan die mensdom ná Adam se val in die Tuin - hy oortree en sondig, maar alle mense word ná hom oor dieselfde kam geskeer - ook hulle is ter dood veroordeel - niemand gee om vir die mensdom nie - hulle het geen leiers wat vir hulle omgee nie en selfs God sê vir hulle ~ Ek gee ook nie meer om vir die inwoners van die land nie, sê die Here, Ek gee hulle oor in mekaar se mag en in die mag van hulle koning. Die land sal uitmekaar geslaan word, maar Ek sal niemand red nie (v.6).

      Alle mense word dus in sonde ontvang en gebore (n belangrike element wat verlorenes moet besef wanneer die Evangelie met hulle gedeel word) Ps.51:7 ~ Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het. Ook Job het uitgeroep in Job 14:4 ~ Wie kan rein uit onrein laat voortkom? Niemand nie. En dan natuurlik Rom.5:12 ~ DAAROM, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.

      Die volk is verwerp, maar die Here God roep vir Sagaria om n herder vir hulle te wees - n eensame herder, met n eensame roeping - net so is Jesus Christus ook geroep om n eensame roeping te vervul ten einde n Herder te wees vir n uitverkore volk wat aanvanklik van God verlate was, a.g.v. die erfsonde. Jesus het hierdie eensame roeping van Hom aan die kruis bevestig toe Hy gesê het ~ Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Matt.27:46)

      Sagaria het nie een oomblik gehuiwer om uitvoering te gee aan God se opdrag aan Hom om n herder vir die volk te wees nie en dit laat n mens óók dink aan Jesus wat in Joh.10:11 gesê het ~ Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

      Ten spyte van Sagaria se toegewyde werk en herderskap onder sy mense, het die meeste van sy eie mense hom verwerp en daarom het die volk verdien om uiteindelik soos slagskape geslag te word deur die vyand (o.a. die Babiloniërs) en ook in ballingskap weggevoer te word. Hoor wat word in Joh.1:11 van Jesus gesê - Hy wat ook verwerp is: Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. En wat is die uiteinde van hulle wat Jesus verwerp? Matt.25:46 ~ En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe, asook o.a. Rom.2:5-8 ~ Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God wat elkeen sal vergeld na sy werke: aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid soek die ewige lewe; maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is  - grimmigheid en toorn.  

       DIe Herder se Twee Kieries (v.7):
      In v.7 lees ons dat Sagaria sy roeping opgeneem het en n herder vir die volk geword het en dan lees ons ook van twee kieries wat hy geneem het en hy gee name aan hulle - die een noem hy Vriendelikheid [נֹעַם namen]. Die OAV vertaal hierdie naam met, Lieflikheid en die ESV en NASB, met Favour. In die konteks waarin hierdie naam geskryf is, verkies ek eerder die Engelse vertaling, m.a.w. Guns of selfs Genade. Die ander staf of kierie noem Sagaria, Vereniging. Die OAV = Samebinding en die Engels = Union.  

      Wat is die betekenis van hierdie twee kieries of stawwe wat Sagaria gevat het? Die stawwe sinspeel op die instrumente waarmee skaapherders hulle skape beheer het en dit was ook simbool van leierskap in die Bybelse wêreld. Dit laat n mens ook dadelik dink aan Ps.23:4 ~ Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

      -     Die eerste staf dui op God se seën soos beskryf in Ps.90:17 ~ Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe: hou die werk van ons hande in stand, ja, die werk van ons hande, hou dit in stand. Dit is ook simbool van en verwys na die besondere verbond wat tussen God en die volk Israel bestaan het.

      -     Die tweede staf (Vereniging of Samebinding) het wetlike betekenis en implikasies en dui op die formele verbintenis en eenheid tussen twee partye. Hierdie tweede staf is in hierdie geval, simbool van die twee Hebreeuse stamme wat weer een geword het gedurende koning Dawid se heerskappy (2 Sam.5:1-3).

      Hierdie stawwe dui ook op die besondere verhouding wat daar tussen God en Sy kinders bestaan - n staf van genade en guns wat Hy onverdiend en voortdurend op ons uitstort en n staf wat dui op die ewige verbond wat Hy in en deur Christus Jesus met al Sy kinders gesmee het.

       Die Herder se Optrede (v.8):   
      Ons lees in v.8 dat Sagaria baie vinnig (binne n maand) ontslae geraak het van drie van die leiers van die post-ballingskap Israel. Sy optrede was nie baie goed ontvang deur die volk nie en het hulle hom ook die rug gekeer en in die proses het Sagaria ongeduldig (sien Num.21:4) en moeg geraak vir die volk en lê hy sy herderskap neer - sy herderskap wat deur God aan hom opgelê is.

      Hierdie gebeurtenis is n weerspieëling van die wedersydse gevoel tussen God en die volk en is ook n waarskuwing aan alle mense dat God Sy guns en genade (algemene genade) kan en sal onttrek as hulle in opstand kom teen God se aangesteldes en/of as hulle volhard in sonde. Gelowiges moet dus let daarop dat hulle nie deur hul sonde en moedswilligheid en onderlinge struwelinge, hulle herders so moedeloos maak dat hulle ook hul herderskap neerlê nie, want die gevolge vir die moeilikheidmakers is rampspoedig - dink maar net aan Paulus se opdrag in 1 Tes 5:12-13 ~ Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Dan hierdie woorde Leef in vrede met mekaar.

       Die Herder se Uitspraak (v.9):   
      In v.9 spreek Sagaria n geweldige oordeel uit oor die volk wanneer hy sê ~ Laat dié wat wil doodgaan, doodgaan. Laat dié wat wil wegraak, wegraak. En laat dié wat oorbly, mekaar opvreet. Simbolies is hierdie n baie duidelike beeld van wat God doen met die volk en mense in die algemeen, wat vohard in hul verwerping van Hom as God - hulle wat die rug keer op Jesus Christus die Verlosser.

      Hierdie uitspraak het n paar honderd jaar later (70 n.C.) n realiteit geword met die val van Jerusalem in 70n.C. en nagenoeg 1,5 miljoen Jode in n bloedige slagting deur die Romeine afgemaai is.

      Jesus Christus het alles wat nodig was, gedoen om versoening en vrede en geregtigheid tussen God die Vader en n verloregaande mensdom te bewerkstellig, maar diegene wie nie uitverkore is nie, bly hardnekkig en verwerp Jesus se aanbod tot redding en vergifnis en sal daarom uiteindelik ook afgemaai en soos n lam geslag word - die verskriklike  oordele van n ewigheid in die hel is hul uiteinde. Dit wat Jesaja in Jes.53:3 geprofeteer het van Jesus, gebeur steeds in ons dag ~ Hy was verag en deur die mense verstoot, 'n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. Hierdie verwerping het gebeur en gebeur steeds, ten spyte van die Vader se versorging en voorsiening (weereens Sy algemene genade) ~ Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie (Matt.23:37).

       Die Herder se Onttrekking (vv.10-11):     
      Hoor net wat doen Sagaria na sy uitspraak van dood en verwoesting ~  Ek het my kierie
Vriendelikheid gevat en dit stukkend geslaan om so die ooreenkoms wat ek met al die volke gehad het, te verbreek. Die simboliese breek van die staf het geweldige gevolge, nl. dat die verbond wat tussen hom en die volk bestaan het, meteen verbreek is.

      In v.11 word daar ook melding gemaak van herders wat Sagaria dopgehou het en dit verwys na die klein groepie gelowiges onder die volk wat op die koms van Christus die Messias gewag het. Wat meer is, hulle het geweet dat Sagaria in opdrag van God gehandel het en hulle sidder daaroor as hulle dink wat die uiteindelike en ewige lot van die hardnekkiges is.

       Die Herder se Vernedering (vv.12-13):     
      Ons moet onthou dat Sagaria as leier van die volk, volgens wet geregtig was op betaling (salaris as jy wil), maar die mense wat Sagaria verwerp het, het dit baie duidelik getoon deur hul reaksie toe hulle hom met slegs dertig stukke silwer vergoed het vir sy leierskap.

      Wat was Jesus se diens; Sy leierskap; Sy lering; Sy lyding werd vir Judas - Judas die verteenwoordiger van die ganse verlore menseras? Dertig stukke silwer (Matt.27) -  veel-veel minder as wat n slaaf werd was ~ As 'n bees 'n slaaf of 'n slavin doodstoot, moet drie honderd en veertig gram silwer aan die eienaar betaal word, en die bees moet met klippe doodgegooi word (Eks.21:32) - 340 stukke silwer vir n slaaf, maar net 30 vir Jesus - wat n vernedering!

      In opdrag van die Here gooi Sagaria die silwerstukke vir die pottebakker. Hierdie is n voortsetting van die profesie van Jeremia toe hy gesê het ~ Die woord van die Here het tot Jeremia gekom: 2Gaan af na die pottebakker se huis toe, Ek sal daar met jou praat.3Ek is toe af na die pottebakker se huis toe, en hy was juis besig om iets op die skyf te maak. 4Maar die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk, en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê. 5Toe kom die woord van die Here tot my: 6Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel. 7Een oomblik kondig Ek aan dat Ek n nasie, n koninkryk sal afbreek, sal uitroei, sal vernietig. 8Maar wanneer dié nasie hom bekeer van sy boosheid waaroor Ek hom wou straf, sien Ek af van die straf wat Ek oor hom wou bring, 9en die volgende oomblik kondig Ek aan dat Ek die nasie en die koninkryk sal bou en sal vestig. 10Maar wanneer hy doen wat verkeerd is in my oë en ongehoorsaam is aan My, sien Ek af van die goeie wat Ek aan hom wou doen (Jer.18:1-10). Beide hierdie profesië van Jeremia en die optrede van Sagaria word vervul in Matt.27 waar Judas se dertig silwerstukke aangewend was vir die koop van n stuk grond waar vreemdelinge voortaan begrawe sou word.

      Sagaria se weggooi van sy betaling is dus simbool van wat die Here God met die volk Israel gaan doen - n plek vir verwerpte en vreemde dooies.
     
   Die Herder Verbreek Eenheid (v.14):
      In v.14 breek Sagaria sy tweede staf (Vereniging) en daarmee saam word die eenheid tussen Juda en Israel weereens verbreek - ons kan amper sê, daarmee word die spreekwoordleike skape van die bokke geskei.

      Met die breek van die eerste staf is die geestelike verbond of verbintenis tussen God en die volk verbreek, maar nou word die staatseenheid ook verbreek. Daarmee word een van die beloftes van die Here voor die terugkeer uit ballingskap teruggetrek. Dawid het die twee koninkryke herenig, maar nou met die verwerping van die Seun van Dawid deur die volk, word die verenigde staat van Dawid (Eseg.37) ook verbreek - nooit weer sal daar eenheid wees nie en nooit kan daar eenheid wees tussen gelowiges en ongelowiges nie - nooit kan daar eenheid wees tussen God se Koninkryk en die koninkryk van Satan nie.

   Die Herder se Oordeel (vv.15-17):
      In hierdie laaste drie verse ontvang Sagaria n tweede simboliese opdrag, maar hierdie keer verteenwoordig hy die vals en bose herder.
     
      In teenstelling met Jesus wat Homself geoffer het vir Sy skape, offer hierdie bose herder sy skape vir sy eie voordeel - hy soek nie die verlore skape" nie - in teenstelling hiermee lees ons in Matt.15:24 van Jesus ~ Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur (Matt.18:12). Hierdie bose herder gee nie om vir die beseerde skape nie. Jesus daarenteen het juis gekom om vir die siekes genesing te bring ~ En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word (Jak.5:15).

      Wie is hierdie bose herder? Dit is nie aan ons bekend nie, maar wat wel belangrik is, is die feit dat hierdie herder net omsien na sy eie belange en dit is presies dieselfde as die herders waarvan Esegiël in Eseg. 34 praat, waar daardie leiers van Israel ook alles vir hulle eie belang gebruik en gedoen het - bv. vv.3-4 ~ Julle drink die melk, julle maak vir julle klere van die wol, julle slag die vetste kleinvee, maar julle sorg nie vir die kleinvee nie. 4Julle het nie die swakkes gehelp nie, julle het nie die siekes gedokter nie, julle het nie die wonde van dié wat seergekry het, versorg nie, julle het nie dié wat weggedwaal het, teruggebring nie, julle het nie dié wat weggeraak het, gesoek nie. Julle was harde en wrede regeerders. Wat was hierdie leiers se uiteinde? Vv. 8b-9 ~ So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek sal die herders straf. 9Hoor die woord van die Here, herders! 10So sê die Here my God: Ek gaan optree teen die herders: Ek eis my kleinvee van hulle terug, Ek maak n end daaraan dat hulle die kleinvee se herders is, hulle sal nie herders bly net om vir hulleself te sorg nie. Ek sal my kleinvee red en hulle nie deur die herders laat opeet nie.  Dieselfde lot wag op hierdie goddelose volk en goddelose leiers - hulle gaan geoordeel word. Die bose herder se lot is beseël - v.17 ~ Ellende wag vir die herder wat alles verkeerd doen en die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm en sy regteroog tref! Mag sy arm heeltemal verdor, mag sy regteroog heeltemal blind word! God se kinders gaan egter gered word, want Joh.10:11 sê vir ons ~ Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

4.   AFSLUITING:
      Ons Skrifgedeelte vir vandag is n baie somber gedeelte in n andersins positiewe en bemoedigende boek, maar hierdie gedeelte is terselfdertyd n nugtere weerspieëling van wat die gevolge van ongeloof en volhardende sonde is, spesifiek ongeloof wat lei tot die verwerping van Jesus Christus as persoonlike Here en Saligmaker.

      Uit wat Sagaria in hierdie gedeelte geskryf het, is dit baie duidelik dat daar twee herders is - die een boos - hy wat die misleier van die nasies is; hy wat geen tyd en simpatie vir sy onderdane het nie; hy wat sy volgelinge die ewige verderf inlei. Maar dan het ons aan die anderkant, die heilige en ewige Verlosser en Saligmaker - die goeie Herder wat Sy lewe vir Sy volgelinge aflê en wie die ewige lewe saam met Hom gaan deurbring - die Goeie Herder, Jesus Christus.

      Ons moet verstaan dat sonde altyd dwaasheid is en volhardende sondaars is dwase, want n ewige straf wag op diesulkes. Jesus het die lot van hierdie dwase as volg in Luk 13:28 beskryf ~ Daar sal julle huil en op julle tande kners wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete binne- in die koninkryk van God sal sien, terwyl julle self buitentoe weggejaag word. Paulus gee waarskynlik dié ergste beskrywing van die ewige verdoemenis (die hel) in 2 Tes.1:9 ~ Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. Nooit ooit sal diesulkes die teenwoordigheid van God kan en mag ervaar nie!

      Reg deur die eeue (ook in Sagaria se tyd) was daar n klein oorblyfsel  (die ware uitverkore gelowiges, of soos v.11 na hulle verwys as die herders wat Sagaria dopgehou het) wat deurentyd geweet en geglo het dat Jesus die ware Messias is en wat geweet en geglo het dat Hy van God die Vader was - dat Hy die Tweede Persoon in die Goddelike Drie-Eenheid is. Met hierdie klein oorblyfsel het Christus n verbond gesmee (en is Hy steeds besig om n verbond mee te smee) - n nuwe verbond van ewige trou en verlossing. Hierdie nuwe verbond was ingestel in en deur Sy bloed wat Hy gestort het vir die vergifnis van sonde en die versoening met God die Vader

      Almal wat na die Goeie Herder kom en deel word van Sy kudde word deel van hierdie nuwe verbond. Hulle hoor Sy stem en volg Sy Woord in gehoorsaamheid na.


      Die vraag vanoggend is of Jesus Christus waarlik jou Goeie Herder is? Is jy waarlik deel van die nuwe verbond? Word jy gevoed deur God se ewige Woord en Sy genade en word jy gelei deur die Heilige Gees? Hierdie is belangrike vrae. Nee, hierdie is lewens belangrike - ewige-lewe-belangrike-vrae, wat jy vir jouself moet afvra en waarop jy besliste en oortuigde antwoorde moet kry - en spoedig ook.

(Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente op 19 Julie 2015)