Sunday, July 5, 2015

Die Handelinge van die Apostels - 04 (“Wag en Bid”)

1.   INLEIDING:
      Voor ons na vanoggend se Skrifgedeelte kyk, wil ek eers die vraag wat Liesl vier Sondae terug gevra het, aanspreek, nl. wat is die verksil tussen n dissipel en n apostel? Die vraag spruit voort uit die feit dat die Nuwe Testament op die oog af, nie baie duidelik hieroor is nie, want in die Evangelies word daar na manne soos Johannes en Petrus en Jakobus, ens. verwys as deel van Jesus se twaalf dissipels en later word daar skielik van hulle gepraat as apostels en om die verwaring nog verder te voer word daar ook na dosyne ander mense verwys as dissipels.

      Wanneer ons kyk na die voorwaardes vir apostelskap (soos reeds twee weke gelede aangespreek) wat o.a. vereis dat n apostel, saam met Jesus moes beweeg het en ook getuie moes wees van Sy opstanding, dan kan n mens nog verder verward raak as jy lees van die APOSTEL Paulus, wat nié aan al hierdie vereistes voldoen het nie - hoe moet ons dit alles verstaan?

   Dissipels:  Eerstens moet ons kyk na wat die woord dissipel beteken. Hierdie woord is in die Grieks, μαθητής (mathētēs), wat letterlik n leerder beteken. Wanneer ons egter na die Woord kyk, sien ons dat hierdie woord ook impliseer dat die leerder saamstem met wat die leermeester vir hom leer en hy aanvaar die leermeester as die leier in die situasie - hy onderwerp en aanvaar dus die onderwyser as die een met die meerdere kennis en as gesagsfiguur.

      Die Nuwe Testament verwys hoofsaaklik na Jesus se  dissipels, maar ons moet ook kennis neem van ander dissipels in die Woord. So het Johannes die Doper bv. dissipels gehad wat hom gevolg het (Matt.9:14). Ook die Fariseërs het dissipels gehad (Matt.22:16). Verder was die volgelinge van Jesus aanvanklik ook dissipels genoem en het hulle eers vanaf Hand.11:26 bekend gestaan as Chirstene ~ Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle twee het 'n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem [Grieks: Χριστιανός (Christianos)].

      Wat belangrik is om hier in gedagte te hou, is dat die apostels begin het as dissipels (Matt.10:1). Ons kan dus sê dat alle apostels, dissipels was, maar dat alle dissipels nie apostels was nie.

     Apostels: Die woord vir apostel in die Grieks is ἀπόστολος(apostolos) wat letterlik vertaal kan word met, n spesiale boodskapper en ambassadeur vir die Evangelie van Jesus Christus, wie met bonatuurlike magte begenadig was. Die twaalf apostels, ingesluit Mattias wat die verraaier Judas vervang het, het die simboliese sleutels tot die Koninkryk ontvang (Matt.16:19 ~ Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly). Wat was hierdie sleutels? Die apostels sou die leiers wees van die Nuwe Testamentiese Kerk waarvan Christus die fondasie gelê het en met die oorhandiging van die simboliese sleutels, gee Jesus aan die apostels die gesag om die deure van die hemel oop te sluit en mense te nooi om deur die deur te gaan en dit geskied natuurlik, net deur wedergeboorte.

      Ons sal later in Handelinge 1 sien wat die voorwaardes vir apostelskap was, maar wanneer ons daarna gaan kyk, sal ons onmiddelik vra, maar hoe kon o.a. Paulus dan n apostel genoem word? Ons moet verstaan dat Jesus aanvanklik twaalf dissipels opgelei het om die eerste apostels te wees (met die uitsondering van Judas natuurlik) en hulle aanvanklike primêre roeping was om die Evangelie aan die Jode te verkondig, maar later was o.a. Paulus aangewys om die Evangelie aan die heidene te verkondig ~ Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as 'n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg nie (1 Tim.2:7). Paulus het nooit gesê dat hy deel was van die aanvanklike twaalf nie (en ons weet ook dat hy nie was nie), maar hy maak dit baie duidelik dat hy wel deur die Here Jesus aangestel is as apostel - so sê hy bv. in Gal.1:1 ~ Van Paulus, 'n apostel, en van al die broers wat by my is. Dat ek' n apostel is, dank ek nie aan mense nie. Ek is ook nie deur 'n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het. In 1 Kor.9:1a spreek hy ook die kwalifikasie aan, nl. dat n apostel die Here Jesus moes gesien het ~ Is ek nie vry nie? Is ek nie 'n apostel nie? Het ek nie vir Jesus, ons Here, gesien nie? Hier sê Paulus o,a, dat hy nie net deur Christus aangestel is as. So ook Hand.26:16 ~ Maar staan op, staan regop. Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien.

      Ons weet ook dat daar enkele ander apostels was, alhoewel ons nie veel van hulle weet nie, behalwe dat hulle aangestel, bemagtig en utgestuur was deur gemeentes met n spesifieke missie - bv. Barbabas (Hand.14:14); Andronikus en Junias (Rom.16:7).

      Laastens moet ons besef dat ons nêrens in die Woord lees (en daarom kan ons nie die aanname maak dat dit wel die geval was nie) - nêrens lees ons in die Woord dat die apostels ná hul dood, vervang is deur ander apostels nie. Jesus het die apostels aangestel om die Kerk van stapel te stuur en stewige fondasies vir Sy Bruid te lê - dit was nie nodig om die fondasies oor en oor te lê nie en, in teenstelling met sovele wat in ons dag op die titel van apostel, aanspraak maak en dit dan gepaard gaan met wonderwerke, was die apostels se primêre taak ook nie om wonderwerke te verrig nie, maar om die Evangelie te verkondig en  ja, dit hét gepaard gegaan mettekens en wonders en kragtige dade (2 Kor.12:12), maar soos gesê, hulle primêre roeping was om die fondaseis vir die Kerk te lê - daarom dat ons dan ook regdeur die Nuwe Testament lees van hoe die Kerk moet funksioneer en daaruit sien - een maal die fondasies gelê - klaar gelê; eemaal die handleiding geskryf - klaar geskryf.

        Net n laaste opmerking: Dit was net Apostels wat die Nuwe Testament geskryf het, maar nie al die Apostels was Nuwe Testamentiese Bybelboekskrywers nie. Eenmaal Apostels; nie weer Apostels nie.

2.   SKRIFLESING:
      Hand.1:12-14 ~ 12) Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan van die berg af. Dit is die Olyfberg, vlak by die stad, 'n sabbatsreis ver. 13) In die stad aangekom, is hulle na die bovertrek toe waar hulle gewoonlik vertoef het. Dit was Petrus en Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Tomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot en Judas seun van Jakobus. 14) Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met 'n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus. Sy broers was ook by.

3.   DIE DISSIPELS WAG IN JERUSALEM:
      In opdrag en in gehoorsaamheid aan Jesus, keer die dissipels na die hemelvaart, terug
na Jerusalem. V.12 sê spesifiek dat hulle van die Olyfberg af terug gekeer het na Jerusalem. Die stad was slegs n Sabbatsreis ver van die plek vanwaar Jesus opgevaar het na die hemel (Sabbatsreis - net onder n kilometer - Jos.3:4).

      Dit is hier in Jerusalem waar hulle vir die volgende tien dae sou wag op die belofte van die Here (die Gawe van die Heilige Gees).  Hulle het in die bovertrek gewag. Bykans al die huise het destyds n bovertrek gehad en dit was bloot maar net die vertrek waar die inwoners gebly het. Ons kan nie met sekerheid sê nie, maar dit was moontlik deselfde huis se bovetrek waar Jesus aan Sy dissipels verskyn het na Sy opstanding en waar Hy ook die Nagmaal ingestel het. Hierdie huis moes ook ná aan die oostelike hek van die stad gewees het, want ons weet dat die Olyfberg oos van die stad geleë is en as die dissipels nie verder as n Sabbatsreis terug geloop het na Jesus se hemelvaart nie, moes die huis aan die kant van die Olyfberg gewees het.

      Dit is in hierdie huis waar die dissipels gaan wag het op die belofte waarvan Jesus gepraat het.      Was die dissipels alleen hier byeen, of was daar ook ander mense by hulle? Ons sien in v.15 dat daar nagenoeg honderd-en-twintig mense in die huis byeen was (v.15). DIt was dus n groot vertrek in n groot huis. Dit versterk die vermoede dat dit die huis was van Maria die Ma van Johannes Markus waar groot getalle gelowiges later byeen sou kom om te bid (Hand.12:12).

      Onder die nagenoeg honderd-en-twintig mense wat daar byeen was (v.15), was die elf dissipels (v.13) wat oor was na Judas, die verloëner, se selfmoord (hy het homself gehang - Matt.27:5). Met die vermelding van die elf dissipels se name wil Lukas die toneel voorberei vir die verkiesing van n twaalfde dissipel. Wat egter ook baie interessant is van Lukas se vermelding van die dissipels se name, is die volgorde waarin hy hulle noem. Hier in v.13 groepeer hy die dissipels anders as wat hy in Luk.6:14-16 gedoen het, toe Jesus die twaalf dissipels aangewys het - die volgorde was toe eerste die pare broers, nl. Simon en Andreas, gevolg deur Jakobus en Johannes ens. Nou verander Lukas die volgorde, deur die apostels wat n leidende rol gaan speel in die verstiging van die Kerk en die Evangelie, eerste te noem. Hy verbreek ook die afparing van broers, deur hulle deurmekaar te noem, ten einde daardeur n nuwe band van broederskap aan te dui.  Hy begn dus met Petrus, dan Johannes, dan Jakobus en dan Andreas. Die res van die apostels word in pare genoem, maar geen verduideliking word gegee vir hierdie afparing nie.

      Ons sien in v.14 dat daar ook n klompie vroue, waaronder Jesus se moeder Maria, saam met die dissipels byeen was, asook Jesus se broers. Die res van die mense waaruit die honderd-en-twintig bestaan het, word nie gespesifiseer nie.  

      Ons moet besef dat hierdie mense nie hier in die huis vir tien dae ledig rond gesit het nie, hulle was aktief besig en hulle het o.a. baie tyd spandeer aan gebed. Lukas beskryf hierdie gebede van die dissipels as gebede wat uit twee hoofelemente bestaan het en Calvyn het gesê dat hierdie twee elemente, noodsaaklike elemente vir ware en opregte korporatiewe gebed is:

   Hul was eensgesind in gebed (v.14.): Wat die eerste element aan betref, sien ons in v.14 dat die mense wat in die huis byeen was, eensgesind was in gebed. Hierdie uitdrukking eensgesind [ὁμοθυμαδόν (homothymadon)] is n gunsteling uitdrukking wat Lukas nie minder nie as tien keer in Handelinge gebruik, terwyl dieselfde woord net eenkeer in die res van die Nuwe Testament gebruik word. As die uitdrukking vertaal word, kan dit óf beteken dat die dissipels by dieselfde plek byeen was, wat ons weet die geval was, óf dit kan beteken dat die dissipels dieselfde ding gedoen het, nl. om saam te bid (wat ons weet, ook gebeur het).

      Later sal ons sien dat die woord in Hand.4:24 gebruik word om eensgesindheid van gebed te beskryf en nog later, om n eenparige besluit te neem (Hand.15:25). Wanneer ons hierdie twee betekenisse en beide gebruike in ag neem, is dit derhalwe duidelk dat Lukas met die gebruik van hierdie uitdrukking in v.14, vir ons wil sê dat die dissipels nie bloot maar net bymekaar was in dieselfde plek en/of dat hulle saam gestem het oor wat hulle bid nie, máár dat die dissipels een van hart was en met een verstand gebid het en met een doel voor oë (hulle was dus eensgesind, sonder enige verskille onderling).

      Net so terloops: Daar is mense wat reken dat die 120 gebid het vir die uitstorting van, of die vervulling met die Heilige Gees en wat sommige teologiese strominge dan ook ongegrond navolg, nl. om te bid vir die doping met die Heilige Gees en dan baseer hulle dit op hierdie Skrifgedeelte. Daar is egter nooit gesê dat die dissipels, of enige iemand anders moet bid vir die vervulling met die Heilige Gees nie - die vervulling met die Gees is n belofte wat die Here Jesus gegee het en ons hoef dus nie daarom te vra nie en Sy koms is ook nie afhanklik van ons gebede, of selfs eendragtige gebede nie.

      Wat die doel presies met die 120-gelowiges se gebede was, word nie vir ons gesê nie, maar wat ons hieruit moet neem, is dat hulle eensgesind was - daar was nie onderlinge tweespalt nie; daar was nie onderlinge wedywering nie; daar was nie onderlinge verhoudingskrake, of - probleme nie; niemand was uitgeskuif, of het uitgeskuif gevoel nie; daar was op niemand neergesien nie; niemand het minderwaardig gevoel nie. As ons as gemeente daarna verlang dat ons gebede verhoor sal word, moet ons dieselfde gesindheid hê - moet ons op dieselfde wyse bid - in eensgesindheid - hartseenheid.

      Daar het n wonderlike eenheid tussen die broers en susters bestaan en dít was n uitstaande kenmerk van die vroeë Kerk - n hegte eenheid - dit is die enigste manier waarop die Kerk van Chirstus kan oorwin - deur eensgesind te wees; deur n gesamentlike front te vorm teen die vyand en die aanslae wat die vyand deur sy pionne in hierdie wêreld loods - ons het gesien wat die afgelope week of wat in die VSA gebeur het met die wettiging van Gay-huwelike. Derduisende gays en simpatiseerders met die Gay-agenda, verander hul Facebook Profielfotos, sodat die gayvlag n watermerk vorm oor hul fotos. Optogte word wêreldwyd gehou waar gays openlik die spot dryf met Chirstus en die Christelike godsdiens (ek wil natuurlik onmiddellik sê dat alle Gays nie hierdie ekstreme optrede en uitsprake ondersteun nie) - een plakaat het bv. gelees: I bet hell is fabulous. En wat gebeur hier in Suid-Afrika, kort op die hakke na die Amerikaanse besluit? Die hoofopskrifte in die Afrikaanse pers die afgelope week lees as volg: Nelus Niemandt (NGK Moderator) se pleidooi: Gooi NG Kerk óóp vir gays’”. Niemandt het o.a. gesê: Dit het tyd geword dat gay NG predikante nie meer gedwing word om selibaat te wees nie en dat gay paartjies se huwelike met die volle seën van die kerk voltrek word: My hoop is dat die lesbiese, gay, biseksuele en transseksuele (oriëntasie) genormaliseer sal word (binne die kerk). En die kersie op die koek: Stefan Joubert befaamde skrywer van godsdienstige boeke loof Nelus Niemandt vir sy waagmoed! 

      Wat is volgende? n Akademiese konferensie by die Universiteit van Cambridge het onlangs verklaar dat pedofelie n aanvaarbaar en natuurlike optrede in baie mans is en dat seksoortreders op hierdie gebied nie vervolg moet word nie, omdat dit natuurlik is. Waarom nie? Omdat dit natuurlik is! 

      Die aanslag teen die Kerk van die Here Jesus - teen ons, word al hoe feller en ons moet nie verbaas wees as erge vervolging vir ons om die draai lê nie en as ons wil staande bly, sal ons te alle  tye eensgesind moet wees. Hoe het die vroeë Kerk dit regkry om eensgesind te wees? Hulle was Christus-gefokus en nie Sannie-gefokus en myself-gefokus en Andries-gefokus nie. Dit is waar ons fokus moet wees in gemeente-verband; in ons persoonlike lewe en in ons gebedslewe - Christus-gefokus!

     Volhard in Gebed: Die tweede element t.o.v. die 120-gelowiges se gebedstyd en dan uiteraard van die apostels, was dat hulle volhard het in gebed. Hulle het tien dae geduldig gewag vir Jesus se belofte om in vervulling te gaan, maar hulle het deurentyd volhard in gebed - hulle het die woorde van Dawid in Ps.27:14 in praktyk uitgeleef ~ Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here.

      Ons moet van die apostels leer in hierdie verband en dit is dat ons nie maar net n gebed kan aframmel en verwag dat die Here ons gebed altyd, of dadelik moet beantwoord nie.

      James Montgomery Boice stel dit baie eenvoudig en mooi wanneer hy sê dat ons baie dikwels volgens die akroniem ACTS bid, nl. Adoration; Confession; Thanksgiving en Supplication en dan gaan hy voort en sê dat hy homself maar net kan indink in die dissipels se 10-dae wagtyd en dat hulle in wese moontlik ook volgens hierdie akroniem gebid het. Hy sê dat hulle beslis baie sou gebid het - onder die A van die akroniem (Adoration) - hoe kon dit ook anders gewees het, want hulle het so pas die onbesryflike en wonderlike ervaring gehad waar Jesus opgeneem is in die hemel; hulle het nie net die teenwoordigheid van die Here gevoel nie, maar hulle het dit gesien en saam met dit en net voor dit, ontvang hulle twee Goddelike beloftes: In Hand.1:4-5 ontvang hulle die belofte van die gawe wat die Vader belowe het en dit is in ooreenstemming met die belofte wat hulle in v.8 ontvang het ~ Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Hand.1:8). Hiermee saam het hulle n tweede belofte in v.11 ontvang ~ Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het. Hierdie twee beloftes het genoeg rede aan hulle veskaf om God te verheerlik en te loof en te prys. En raai wat? Hierdie twee beloftes is ook vir ons gegee en is steeds van krag vir ons - genoeg rede vir ons dus om ook die Here te loof en te prys.

      In die lig van die opdrag wat Jesus aan die dissipels gegee het  om die Blye Boodskap met die wêreld te gaan deel, moes hulle  ook pynlik bewus gewees het van hul tekortkominge en sonde alvorens hulle gehoor kon gee aan Jesus se oproep en daarom sou hulle onder die C van die akroniem (confession) baie gebid het oor hul sonde. As ons maar net ons eie lewe in oënskou neem, sal ons ook besef hoe skuldig ons voor die Here staan en behoort ons baie tyd in ons gebedstyd aan sondebelydenis te spandeer.

      Terselfdertyd moes die dissipels vol dankbaarheid gewees het (die T in die akroniem) oor God se genade en oorvloedige liefde in hul lewens. Dink maar net aan hoe hulle aan Jesus se voete gesit en leer het -  wat n voorreg! Bowe al moes hulle onuitspruiklike dankbaarheid gehad het oor die feit dat Jesus n soenoffer vir hulle (en elke gelowige daarna) gebring het. Ons het ook die voorreg om daagliks aan Jesus se voete te sit en te leer, want Hy het Sy Woord vir ons gegee en almal van ons besit Sy Woord en daarom kan ons elke dag ook van Hom leer - wat n voorreg!

      Laastens sou die dissipels waarskynlik ook bang en minderwaardig gevoel het om die
Groot Opdrag ten uitvoer te bring en daarom sou hulle baie tyd spandeer het aan smeking (S - supplication) - smeking om behoorlik toegerus te word vir hierdie grootse taak en so moet ons ook bid vir die nodige toerusting om die Evangelie met n verloregaande wêreld te deel.

      Ons sal egter ook D.V. n volgende keer sien dat daar ook iets anders was waaroor hulle daar in die bovertrek gebid het

4.   Afsluiting:
      Ons moet net soos die dissipels gehoorsaam wees aan die Here - aan Sy Woord; eensgesind volhard in gebed en wag op Sy leiding en mag Joh.16:23-24 steeds n realiteit wees wanneer ons bid ~ Dít verseker Ek julle:Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente - Sondagoggend 05 Julie 2015