Sunday, July 26, 2015

Die Profeet Sagaria - 13 (“Jerusalem se Bevryding”)

1.   INLEIDING:
      Die boek van Sagaria is in drie gedeeltes of -blokke verdeel. Die derde gedeelte is in twee gelyke dele verdeel, nl. hoofstukke 9-11 en hoofstukke 12-14. Ons kom dan vanoggend by die tweede tweede deel van die laaste- of derde gedeelte van die boek Sagaria.

      Hierdie twee dele begin elk met die woorde, “’n Uitspraak van die Here (Engels = oracle), of soos die OAV te vertaal, n Godspraak. In die eerste Godspraak (hoofstukke 9-11) het dit hoofsaaklik gegaan oor die eerste koms van die Here Jesus Christus, terwyl die tweede Godspraak waarna ons vanoggend gaan begin kyk, handel oor Christus se tweede koms, of te wel Sy wederkoms.

      In die eerste Godspraak, het ons gesien hoe dat die volk van die Here (die Israeliete, of te wel die Jode) die Messiaanse Herder verwerp, terwyl die tweede Godspraak (hoofstukke 12-14) vir ons sal aantoon hoe dat daar n geestelike vernuwing onder die nasies van die wêreld gaan plaasvind en hoe hulle dan uiteindelik die Messias sal erken en eer as Verlosser - hulle is die uitverkorenes vanuit alle volke, tale en nasies.

      Hierdie laaste Godspraak kan in vyf gedeeltes verdeel word: 
   Jerusalem se bevryding (12:1-9);
   Jerusalem ontvang genade (12:10-14);
   Jerusalem word gereinig van sonde (13:1-6);
   Die skape word verstrooi (13:7-9);
   God se heerskappy (14:1-21).

      Een van die sleutel frases in hierdie laaste gedeelte van Sagaria is die uitdrukking, daardie dag wat 17 keer voorkom en wat dui op Christus se tweede koms. Die ander twee woorde of uitdrukkings wat ook gereeld voorkom is, Jerusalem (22 keer) en die nasies (13 keer)

      In hierdie tweede gedeelte sal ons sien wat die Kerk in die nuwe bedeling (onder die Nuwe Verbond) sal ervaar, tot en met die wederkoms van Christus.

2.   SKRIFLESING:
      Sag.12:1-9 ~ n Uitspraak, n woord van die Here teen Israel. Die Here het dit gesê, Hy wat die hemelkoepel oopgespan en die aarde op sy fondamente gesit het, Hy wat die gees van die mens gevorm het: 2Ek gaan Jerusalem n bak wyn maak wat al die volke rondom laat slinger. Wanneer Jerusalem beleër word, sal die stede van Juda ook beleër word. 3Daardie dag gaan Ek Jerusalem n rotsblok maak vir al die volke. Elkeen wat hom probeer optel, gaan homself seer maak. Al die nasies op aarde sal saamstaan teen Jerusalem. 4Daardie dag, sê die Here, laat Ek die perde skrik en die ruiters paniekbevange raak. Ek sal my oog hou op Juda, maar die ander volke se perde sal Ek almal blind laat word. 5Dan sal die leiers van Juda vir hulleself sê: Die krag van die inwoners van Jerusalem lê in hulle God, die Here die Almagtige. 6Daardie dag maak Ek die leiers van Juda soos n bak vuur onder die hout, soos n vlam onder die afgesnyde koringare. Hulle sal al die volke rondom verteer, na alle kante toe. Maar Jerusalem sal nog staan waar hy was. 7Die Here sal die woonplekke van Juda eerste red, sodat die koningshuis van Dawid en die inwoners van Jerusalem nie méér eer ontvang as Juda nie. 8Daardie dag sal die Here die inwoners van Jerusalem beskerm. Selfs die swakste van hulle sal daardie dag soos Dawid word, en die koningshuis van Dawid sal soos n hemelwese word, soos die engel van die Here wat voor hulle uit gaan. 9Daardie dag begin Ek al die nasies uitroei wat vir Jerusalem kom aanval.

      In die openingsgedeelte van hierdie laaste Godspraak van Sagaria, sien ons hoe dat Israel n fisiese oorwinning oor sy vyande behaal, maar dit gaan gepaard met innerlike en n geestelike vernuwing wat volg op berouvolle harte.

      In v.9 vind ons n verbinding tussen die inleidende gedeeltes van die tweede gesig wat Sagaria ontvang het (veral 2:1-5 en hoofstuk 8), terwyl die uitstorting van die Heilige Gees wat lei tot bekering in v.10 weer Sagaria se oproep tot bekering in 1:1-6 verbind. Verder is dit ook interessant om te sien dat Sagaria se hernieude oproep tot geestelike vernuwing van God se volk, help om sy twee Godsprake te verbind met die groter Haggai-Sagaria en Maleagi bundel of corpus.

      Ek het aan die begin genoem dat die sleutelwoorde in hierdie gedeelte van Sgaria, die uitdrukking, daardie dag is en omdat hierdie uitdrukking voortdurend voorkom, is dit duidelik dat hierdie gedeelte, enersyds n eenheid vorm, maar dat die hele gedeelte ook teen die agtergond van Christus se tweede koms gesien moet word - dit het dus baie besliste apokaliptiese betekenis, soos die geval met Openbaring - vol van beelde met diepere betekenis dus en wat in hierdie geval, gesien moet word teen die agtergrond van die wederkoms.

3.   JERUSALEM SE BEVRYDING (12:1-9):
      Ek moet dadelik sê dat hierdie gedeelte n baie moeilike gedeelte is om te verklaar en ek voel totaal en al onbekwaam om deur te druk en oor hierdie gedeelte te preek, máár dit is die Woord van God en daarom móét ek hieroor preek. Daar bestaan geweldig uiteenlopende verklarings vir hierdie gedeelte. Eerstens is daar baie kommentators wat net eenvoudig hierdie gedeelte ignoreer en spring hulle in hul kommentare van hoofstuk 11 af, direk na hoofstuk 13 toe, of hulle skryf nie veel oor hierdie gedeelte nie.

      Die meerderheid van Evangeliese gelowiges in Amerika leer dat hierdie gedeelte wys op toekomstige gebeure in Israel en dat die Jode aan die einde van die dae as nasie, tot bekering gaan kom en hulle verbind dit dan ook met die slag van Armaggedon, waar die vyande van God wat n aanslag loods op Jerusalem, finaal verslaan gaan word (dispensasionalisme - John MacArthur bv.). Dit kan egter nie die Bybelse verklaring wees nie, want so n standpunt neem nie in ag hoe die Nuwe Testament, Jerusalem se betekenis en belangrikheid negeer nie - in kort, dit gaan nie meer oor die Jode as nasie nie, maar wanneer daar gepraat word van God se volk, of Jerusalem, word daar direk verwys na die Kerk van die Here Jesus Christus (dit is nie net ek wat so glo nie, maar die oorgrote meerderheid van die vroeë Kerkvaders en die Gereformeerde teoloë deur die eeue heen volg hierdie oortuiging).

      Hierdie boodskap (soos die res van Sagaria en die Ou Testament) is van belang vir alle gelowiges deur al die eeu heen en daarom is dit ook van belang vir ons. Ons moet altyd in gedagte hou, dat die Here nie meer spesifiek in die midde van die volk Israel woon nie en dat Israel nie meer Sy uitgesoekte en afgesonderde volk is nie - Hy woon nou deur die Heilige Gees in die midde van Sy uitverkore volk, die Kerk van die Here Jesus Chirstus ~ waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle (Matt.18:20). Net so is die beloftes wat aan Jerusalem en Juda gemaak is, van belang vir elke gelowige en dan spesifiek wat vandag se gedeelte betref, is die belofte wat aan Jerusalem tydens hul beproewing gemaak is, derhalwe op ons van toepassing.

      Kom ons kyk egter wat word hier in ons Skriflesing deur Sagaria beskryf. Die volk van die Here het terug gekeer uit ballingskap en is weer in die stad Jerusalem, maar rondom Jerusalem het talle nasies saamgetrek en word die inwoners van Jerusalem bedreig, want hulle is by verre in die minderheid.

      Die Here (Hy wat hemel en aarde geskape het, deur slegs n woord te spreek) Hy gryp in en verdryf en verslaan die vyand en wel tot so n mate dat almal erken dat dit God was wat die stad bevry het ~ So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is (Rom.14:11).

      Die wyse waarop die Here die vyand verdryf en oorwin, is deur hulle o.a. te laat drink uit n bak wyn. Ons lees in Ps.57:9 (Eng. - v.8) ~ Want in die hand van die Here is n beker, en die wyn skuim; dit is oorvloedig gemeng, en Hy skink daaruit; ja, die afsaksel daarvan moet al die goddelose van die aarde opslurp, uitdrink. In Jes.51:17 het Israel van hierdie wyn gedrink ~ ONTWAAK, ontwaak, staan op, Jerusalem, jy wat uit die hand van die Here die beker van sy grimmigheid gedrink het; die kelk van bedwelming het jy uitgedrink, uitgesuig. Hier in Jesaja het God Sy wraak uitgestort oor Israel en was Sy wraak teen die volk se sonde soos n bedwelmende drank wat die drinker uiteindelik laat val, maar nou hier in Sagaria, is dit nie Jerusalem (die volk) wat drink nie, maar haar vyande. Dit sluit baie mooi aan by Openb.14:9-10 waar ons sien wat die uiteindelike lot van die dienaars van Satan gaan wees - hulle wat die rug op Chirstus keer ~ Wie die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorkop of op sy hand aanvaar, sal van die wyn van God se toorn moet drink. Dit word onverdun in die beker van sy oordeel ingeskink. In die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam sal hy met vuur en swael gepynig word. Alle ongelowiges sal drink uit die beker van God se oordeel.

      In teenstelling met die veroordeelde vyand van Jerusalem (en derhalwe van God), ontvang die inwoners van Jerusalem bevryding.

      Watter belofte kan die Kerk van die Here Jesus hieruit put? Die belofte wat ons hieruit put is dat, ongeag watter aanslag daar ookal teen die Kerk se suiwerheid of vrede ingebring word, die Kerk bewaar sal word en dat die Kerk se vyande uit die Skepper God se uiteindelike wynbak van oordeel sal drink.

      Dit het egter ook implikasies vir ons as individuele gelowiges, ongeag watter aanvalle of vervolging, of diskriminasie ons ookal in hierdie lewe mag ervaar, die Here sal dit nie ongesiens verby laat gaan nie. En ons moet nie dink dat so n moontlikheid dalk ver in die verskiet lê nie - vervolging teen ons as gelowiges hier in die weste is baie nader en n baie groter realiteit as wat ons dink. Ek verwys net na enkele gevalle wat die afgelope tyd in Amerika en in Suid-Afrika plaasgevind het en net terloops, die grootste en bloedigste opstande in die verlede het gewoonlik by en onder die jeug en studente begin - dink maar net hier aan die wêrldwye opstande deur studente in 1968. So ook die Ierse revolusie teen Britse oorheersing wat ook in 1968 begin is. Dink ook hier aan die studente opstand in SuidAfrika in 1976 in Soweto en Sharpeville (hier neffens ons); die bloedige Egiptiese rewolusie in 2011. Dink aan die EFF van Julius Malema en so kan ons aangaan.

      Terug na vervolging teen gelowiges. Die afgelope week of wat is meer as een Christenstudent fel vervolg vir hul geloof. Die American Center for Law & Justice (ACLJ) is tans besig met bv. twee studente (Brandon Jenkins en Dustin Buxton) wie toelating tot nagraadse studies in n Radio Terapieprogram by die College of Baltimore County geweier is. Hoor wat was die rede waarom Brandon toelating geweier is: When he was asked in an interview what the most important thing in his life is, he simply replied, My God. In rejecting his application, Director Dougherty informed Brandon, I understand that religion is a major part of your lifehowever, this fied is not the place for religion. If you interview in the furture, you may want to leave your thoughts and beliefs out of the interview process. The college unapologetically doubled down on this stentiment, stating that Doughertys statement  is not bad advice, and that students, when interviewing for secular positions, would be better advised to have a concrete reason for wanting to undertake the training at hand than to say only that God directed one to do it. Nadat Dustin op dieselfde vraag geantwoord het, My faith, is n 85 jaar verbod op enige her-registrasie by dieselfde akademiese inrigting op hom gelê.

      ’n Ander student by Sonoma State Unversity is gevra om haar hangertjie met n kruis te verwyder, omat dit aanstoot aan ander studente kan gee. So kan ons aangaan en talle ander voorbeelde noem (lees gerus die artikel met ander voorbeelde by: http://aclj.org/religious-liberty/exposed-christian-students-rejected-failed-and-expelled-for-their-faith-by-state-colleges-end-universities). Ander studente kan egter alles glo wat boos is en hulle openlik daaroor uitspreek; T-hemde met embleme daaroor dra; reënboogvlae swaai, ens. en dit word maar net aanvaar en geduld, maar nie n kruisie nie! 

      Hier in Suid-Afrika het die aanslag ook reeds begin. Enkele weke gelede is die ondervoorsitter van die studenteraad van die Unversiteit van Kaapstad (Zizipho Pae) uit haar pos verwyder, omdat sy haar uitgespreek het oor gay-huwelike (http://www.iol.co.za/capetimes/uct-homophobe-gets-booted-out-1.1889325#.VblX29Cd6ZY). Zizipho het ook Vrydag geregstreer vir die SOLA 5-konferensie (http://sola5.org/sola5-annual-conference-2015-2/). Daar is ook onbevestigde berigte wat die ronde doen dat ses skole binnekort in die hooggeregshof in Johannesburg moet verskyn omdat hulle Godsdiensonderrig in hul skole aanbied.

      Vervolging teen ons as gelowiges - teen die kerk van die Here Jesus, is nie meer iets wat in Paulus se tyd of in Irak, of ver van ons plaasvind nie - dit is hier in ons voorkamers en die vraag is of ons gereed is daarvoor en hoe gaan ons dit hanteer wanneer ons direk daardeur geraak word? Trouens v.2b van ons Skriflesing sê dat ons op een of ander wyse vervolging vir ons geloof sál ervaar.

      Een ding is seker en dit is dat hierdie vervolgers, as God hulle nie genadig is met wedergeboorte nie, hulle uiteindelik Sy beker van bedwelming sál drink.

      En ons wat vervolg word - wat het gebeur met Jerusalem? In v.3 sien ons dat daardie dag van verlossing gaan kom, trouens dit het reeds in Christus gekom en strek vooruit tot en met Sy tweede koms. Dit is waarom Paulus in 2 Kor.5:17 sê ~ Daarom, as iemand in Christus is, is hy n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. Christus se Jerusalem gaan uiteindelik verlos word, deurdat Hy van Sy kinders n rotsblok sal maak teen wie hul vyande hulself te pletter sal loop. Die Kerk se vyande grawe hul eie gat ~ Die heidene het gesink in die kuil wat hulle gemaak het; hulle voet is gevang in die net wat hulle gespan het (Ps.9:16).

      Ons hoef egter nie bekommerd te wees dat ons die vyand self sal moet pak nie, want v.4 is dudelik daaroor dat die Here self die geveg vir ons sal veg ~ Daardie dag, sê die Here, laat Ek die perde skrik en die ruiters paniekbevange raak. Ek sal my oog hou op Juda, maar die ander volke se perde sal Ek almal blind laat word.

      Hierdie vers is in verbondstaal geskryf, want ons sien bv. dat die woorde skrik en paniekbevange en blindheid, deel is van die vloek wat in Deut.28:28 belowe word vir verbonds- ongehoorsaamheid ~ Die Here sal jou tref met kranksinnigheid en blindheid en waansin. Op daardie dag (die wederkoms) sal die Here se straf op verbonds-ongehoorsaamheid egter nie meer van toepassing wees op Sy volk (Sy Kinders; Die Kerk) nie, maar dit sal omgekeer word en toegepas word teen Sy vyande - teen die Kerk se vyande.

      Die troos wat ons uit v.4 kan put, is dat die Here sê dat Hy Sy oog hou op Juda. Wanneer ons swaar sal kry en dit dalk selfs ondraagkik vir ons sal raak, is Sy oë oop en sal Hy ons in so n tyd te hulp kom, soos in die verhaal met Hagar in Gen.21 toe Abraham haar en sy kind by haar (Ismael), weggestuur het die woestyn in en toe haar water opraak, het God ingegryp en ons lees in v.19 ~ Toe het God haar oë oopgemaak en sy het 'n put met water gesien.

      Uit dit wat ons in v.4 leer (en dan ook uit die verhaal van Hagar - en sovele ander voorbeelde in die Skrif), moet ons ook weet dat dit soms vir ons mag lyk dat die Here van ons vergeet het, maar Hy sal altyd op die regte tyd - Sy tyd, ons te hulp kom en ons uitred en deur ons omstandighede dra. Ons moet dit net glo en Hom daarvoor vertrou.

      Sagaria bevestig hierdie feit weer in v.5 wanneer hy sê dat ons krag in God die Almagtige gesetel is en nie in onsself nie.

      Ons kry met n interessante beeld in v.6 te doen. Hier is sprake van n bak vuur onder die hout en koringare. Hierdie beelde is o.a. ontleen aan Rigters 15 waar Simson driehonderd jakkalse gevang het en hulle sterte twee-twee aan mekaar vasgemaak het en tussen elke twee sterte n fakkel vasgemaak het en dan lees ons in v.5 ~ Hy het toe die fakkels aan die brand gesteek en die jakkalse tussen die graan van die Filistyne losgelaat. Hy het die miedens en die graan op die land aan die brand gesteek, ook die wingerde en die olyfboorde (sien ook: Eks.22:6; 2 Sam.14:30).

      Die beeld wat hier vir ons geskets word is hoe God se teenstanders, asook die kerk se vyande, verbrand sal word, terwyl hulle, wie hulle voor Hom verootmoedig, verhoog sal word. N.a.v. hiervan skryf Lukas in Luk.13:30 ~ Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees.

      In vv.7-8 word Juda vergelyk met Jerusalem en dit is belangrik dat ons hiervan kennis sal neem en dan spesifiek t.o.v. die volgorde van redding uit die hand van die vyand. T.w.v. agtergrond net kortliks: Juda was baie jaloers op Jerusalem en Jerusalem op haar beurt het weer baie meerderwaardig opgetree teenoor Juda. Ons sien egter in vv.7-8 dat die Here die Judeërs éérs red en daarna die Godstad, Jerusalem (die Koninkryk van Dawid) - waarom hierdie volgorde?    

      Bo en behalwe die feit dat die Judeërs mindwerwaardig gevoel het teenoor Jerusalem, moet ons ook hier in gedagte hou wie en wat Dawid was - behalwe vir die feit dat hy die koning was en behalwe vir die feit dat die Messias uit sy nageslag gebore sou word, was hy in sommige opsigte n baie swak koning - sy manskappe veg op die front, terwyl hy as koning wat die magte moes aanvoer, lekker knus in sy paleis sit en sonde doen. Hy vertroetel wellus in sy binneste; hy pleeg egbreuk; hy verwek n kind buite die eg; hy laat moord pleeg; hy is n leuenaar; hy is n swak pa en tog - en tog sê die Here van Dawid in Hand.13:22 ~ Ek het in Dawid seun van Isai 'n man na my hart gevind.

      Die feit dat Juda eerste gered gaan word en dan eers die Godstad, Jerusalem, dui vir ons daarop dat daar in die oë van die Here geen onderskeid is tussen meerderes en minderes in die Koninkryk van God nie - almal is gelyk voor Hom. Enersyds is dit n geweldige bemoediging en vertroosting vir ons - ek en jy staan nie agter in die ry as dit by God se redding en genade kom nie - jy word net soos ek gered en ek en jy word net soos Paulus of Calvyn gered. Jes.60:22 is hier n toepaslike teksvers vir ons ~ Die kleinste onder hulle sal duisende word, die swakste 'n sterk nasie. Wanneer die tyd daarvoor kom, doen Ek dit. Ek is die Here.

      Andersyds moet ons na hierdie verwysing na Juda en Jerusalem besef dat God die Een is wie genade betoon en red. Dit is Hy wat beskerm en vertroos en versterk en dit is Hy wie ons vyande en die eintlike groot vyand (die satan) oorwin en veroordeel - en nie ons nie! Ons het niks om op te roem nie - God en God alleen is die een wat ons red en Hy en Hy alleen kies wie Hy wil red en wie nie en Hy doen dit soos Hy dit wil doen (alles in Sy soewereiniteit - uitverkiesing) ~ Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie (OAV - Matt.20:15). in Hom in wie ons ook n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil (Ef.1:11).

      Sagaria sluit hierdie eerste gedeelte van sy laaste Godspraak in v.9 af deur sy openingswoorde in vv.2-3 op te som en te interpreteer ~ Verse 2-3 net weer ~ Ek gaan Jerusalem n bak wyn maak wat al die volke rondom laat slinger. Wanneer Jerusalem beleër word, sal die stede van Juda ook beleër word. 3Daardie dag gaan Ek Jerusalem n rotsblok maak vir al die volke. Elkeen wat hom probeer optel, gaan homself seer maak. Al die nasies op aarde sal saamstaan teen Jerusalem.

      Sagaria sê dat daar n laaste dag gaan aanbreek - daardie dag, wanneer al die swaarkry; al die vervolging; al die hartseer;al die konflik; al die boosheid, ens. tot n einde gaan kom, wanneer Hy Sy (en ons) vyande gaan oordeel ~ Daardie dag begin  Ek al die nasies uitroei wat vir Jerusalem kom aanval.  Haggai beskryf dit baie grafies in Hag.2:22 waneer hy sê ~ En Ek (dit is die Here) sal die koningstrone omverwerp en die mag van die heidense koninkryke verdelg; en Ek sal die strydwaens en die wat daarop ry, omverwerp, en die perde en hulle ruiters sal val, die een deur die swaard van die ander.

4.   AFSLUITING:
      Samuel sê in 1 Sam.17:47 ~ Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die Here nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die Here, en Hy sal julle in ons hand gee. Ons moet besef en ons sekuriteit moet daarin lê, dat die stryd (watter stryd ookal) wat oor gelowiges se pad kom, die Here se stryd is en dit sal veral waar wees wanneer daardie dag aanbreek.

      Geliefdes, ongeag die intensiteit van ons vervolging en beproewing, moet ons nooit in wanhoop verval nie, want die Here belowe ons dat Hy ons sál verlos van ons vyande (en dit sluit die satan en sy demoniese magte in) en dit maak nie saak hoe swak ons dalk mag wees nie, Hy sál ons die krag gee om te volhard en deur te druk tot die einde toe en ons uiteindelik beloon met die kroon van heerlikheid.

      Om swaar te kry; om beproewing te ervaar; om vervolg te word is deel daarvan om met ons Verlosser, Jesus Christus te identifiseer ~ TOE sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind (Matt.16:24-25).

      Paulus bemoedig ons ook met hierdie belofte ~ DAAROM gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir n oomblik is, bewerk vir ons n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig (2 Kor.4:16-18).


      Mag ons voortdurend uitroep ~ Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het (Gal.2:20).

[Boodskap: Kobus van der Walt (Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente, 26 Julie 2015)]