Sunday, May 17, 2015

Die Tweede Brief van Petrus - 07 (“Christus kom Weer!”)

1.   INLEIDING:
      Die afgelope Donderdag was dit hemelvaartdag en n mens dink onwillekeurig terug aan Lukas se weergawe in Handelinge van Jesus se hemelvaart ~ Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en 'n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. Dié sê toe vir hulle:"Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het (Hand.1:9-11).

      Ons Verlosser, Jesus Christus kom weer en dit is presies waaroor Petrus skryf in die volgende hoofstuk van 2 Petrus waardeur ons tans werk.

      In hoofstuke 1 en 2 van die tweede brief van Petrus, het hy sy mond uitgespoel oor, en sy lesers gewaarsku teen, ketters en dwaalleraars, maar nou in die laaste hoofstuk van hierdie brief, fokus hy daarop om sy lesers, te midde van swaarkry, te bemoedig - te bemoedig met Jesus wat weer gaan kom - net soos wat die twee mans in wit klere op Hemelvaartdag belowe het.

2.   SKRIFLESING:
      2 Pet.3:1-10 ~ 1) Geliefdes, dit is al die tweede brief wat ek aan julle skrywe. In albei het ek geprobeer om julle weer helder te laat dink deur julle te herinner aan 2) die woorde wat vroeër deur die heilige profete verkondig is, asook aan die gebod van die Here en Verlosser wat deur julle apostels aan julle oorgedra is. 3) Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewe net deur hulle eie begeertes beheers word. Hulle sal spot 4) en sê: "En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms? Ons vaders is al dood, en tog bly alles nog net soos dit was van die begin van die skepping af." 5) Hiermee vergeet hulle moedswillig dat daar lank gelede 'n hemel en' n aarde was wat deur die woord van God uit water en deur water ontstaan het. 6) En dit is ook deur water dat die wêreld van daardie tyd oorstroom is en vergaan het. 7) Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word. 8) Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. 9) Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. 10) Maar die dag van die Here sal so onverwags soos 'n dief kom. En op dié dag sal die hemel met' n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.

3.   PETRUS SE PASTORALE HART (vv.1-2):
      Petrus begin hierdie gedeelte van sy brief, deur sy lesers aan te spreek as geliefdes en hy roep hulle op om weer (daarom dat hy die woord weer in v.1 gebruik) - dat hulle wéér die woorde van die profete in herinnering sal roep en oordink, asook die gebod van die Here en hy doen dit spesifiek omdat hy hulle wil beskerm teen ketters en dwaalleraars, want hoe beter jy die Woord van God ken, des te beter kan jy vals leraars - wolwe in skaapklere, onderskei.

      Petrus se aanspreekvorm, nl. geliefdes staan in skrille kontras met sy eerlike en openlike agressie in die vorige twee hoofstukke, maar enersyds het en moes hy die dwaalleraars ontbloot, omdat dit sy oorsprong het in sy opregte pastorale- en omgee hart vir sy lesers en hy bewys dit deur hulle nou aan te spreek as geliefdes, trouens hy spreek hulle nie minder nie as vier keer op hierdie wyse in hoofstuk 3 aan (sien ook vv.8, 14 en 17) en daardeur beklemtoon hy die feit dat hy pastoraal opreg lief is vir hulle en waarlik omgee en besorgd is oor hulle geestelike welsyn.

4.   SPOTTERS (vv.3-4):
      In vv.3-4 motiveer Petrus (weer) waarom hy hierdie ernstige oproep tot sy lesers rig, want sê hy, daar gaan in die laaste dae mense wees wat gedryf deur hul eie begeertes, n bespotting gaan maak van die Christelike godsdiens en dan spesifiek oor die wederkoms van Christus en let op dat v.3 begin met die woord veral en daarmee wil hy vir hulle sê, dat hulle nie hierdie saak ligtelik moet opneem nie - hulle moet bedag wees daarop dat hierdie leuenaars n realiteit is - hulle kan nie sommer maar net afgelag word nie.

      Hy verwys ook in v.3 na die laaste dae en ons moet vir onsself uitmaak wanneer, of waarna hierdie laaste dae verwys - is dit die laaste dae voor die val van Jerusalem in 70 n.C.? Is dit die dae of oomblikke voor Christus se wederkoms, of is dit n ander moment of tydperk, tussen die tyd dat hy die brief geskryf het en die oomblik wanneer Jesus weer gaan terukeer?
     
      Ten einde hierdie vraag te beantwoord moet ons na die Skrif kyk en probeer vasstel wat die Skrif hieroor te sê het en ons hoef nie ver en baie te soek nie - blaai saam met my na Hebr.1:1-2 ~ In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Kom ons kyk ook na Hand.2:17 waar Petrus op Pinksterdag aangehaal het uit die profeet Joël (Joël 2:28-32) en o.a. die volgende gesê het ~ Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense:julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom. Net nog n derde teksverwysing ~ julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos 'n vuur. Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is (Jak.5:3).

      Daar bestaan dus geen twyfel by die Nuwe Testamentiese skrywers dat die laaste dae reeds met Jesus se bediening op aarde begin het en steeds voortgaan in die tyd waarin ons leef - ons leef dus reeds in die laaste dae.

      Terug dan na Petrus - hy waarsku dat hierdie spotters en wolwe nie alleen in sy lesers se era sal voorkom nie, maar ook in ons tyd - in 2015 en hulle sal twyfel saai by mense (ook onder gelowiges), deur spottend die vraag te vra waarom ons Jesus nog nie gekom het nie en of dit ooit moontlik is dat Hy weer sal kom.

      Dit was nie net Petrus wat bekommerd was oor die verwarring wat kleingelowiges en spotters kon saai onder die gelowiges nie, Paulus was op presies dieselfde plek en het ongeveer 10 jaar vantevore die Korintiërs hierop gewys (1 Kor.15:23) en ook die gemeente in Tessalonika (1 Tes.2:19; 3:13; 4:15). Die probleem met die ongelowige Thomasse in Petrus se tyd was dat hulle Jesus se koms kort na Sy wonderwerke-tydperk op aarde, terug verwag het en die dwaalleraars (of gesante van satan) het hierdie onbybelse en/of onkundige verwagting uitgebuit om twyfel, ontnugtering en ongeloof te saai en dit is hieroor dat Petrus bekommerd is en sy lesers waarsku.

5.   GOD SE OORDELE (vv.5-7):
      In vv.5-7 wys Petrus op hierdie wolwe se onkunde en opsetlike sonde deur die spot te dryf met Christus se belofte van Sy wederkoms en daarom spreek hy hulle aan deur drie redenasies.

   Die Skepping (v.5):
      Eerstens gebruik hy die skepping as voorbeeld. Hy is baie subtiel wanneer hy hierdie redenasie gebruik, want hierdie dwaalleraars verwys self na die skepping. Petrus sê vir hulle dat die heelal sy ontstaan te danke het aan die spreke van God se Woord ~ Toe het God gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig (Gen.1:3). Petrus sê egter ook dat God uit water en deur water geskep het en die resultaat was die hemel en die aarde.

      Petrus sê dus in geen onduidelike taal nie, dat die wêreld deur God se Woord en uit en deur water geskep is en dat God daarom, die Bepaler van die geskiedenis van hierdie wêreld is.

   Die Sondvloed (v.6):
      Petrus gaan egter verder deur te sê dat God die Skepper, in teenstelling met Sy skeppingswoord, ook God die Regter is en deur Sy woord, die aarde en sy inwoners verdelg het vir hul volharding in sonde en weer is Sy Woord en water ter sprake, want Hy stuur die sondvloed om al die mense op aarde met die uitsondering van Noag en sy gesin, uit te wis (Gen.7).

      Die Oordeel (v.7):
      In v.7 wil Petrus hierdie dwaalleraars waarsku, deur vir hulle te sê dat hulle versigtig moet wees oor wat hulle sê, want die uiteindelike en finale oordeelsdag is op hande, wanneer God weer net n woord sal spreek en Christus sal kom om Sy kinders te kom haal en die goddeloses geoordeel gaan word, trouens wanneer dit gaan gebeur, gaan dit erger wees as met die sondvloed, want met die sondvloed het Hy water gebruik, maar wanneer Hy finaal kom om te oordeel, gaan Hy vuur gebruik en gaan daar nie weer uitkomkans vir die menseras wees soos met Noag die geval was nie n profesie waarvan ons in Openb.14:9-11 ook lees ~ 'n Derde engel het agter die eerste twee aan gevlieg en hard uitgeroep:"Wie die dier en sy beeld aanbid en' n merk op sy voorkop of op sy hand aanvaar, sal van die wyn van God se toorn moet drink. Dit word onverdun in die beker van sy oordeel ingeskink. In die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam sal hy met vuur en swael gepynig word. Die rook van hierdie pyniging styg tot in alle ewigheid op, en hierdie mense het dag en nag geen rus nie, hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en dié wat die merk van sy naam aanvaar. Die enigste mense wat gespaar sal word van hierdie oordeel, is hulle wie in Christus Jesus ingeplant is en in ewige saligheid in die hiernamaals sal wees.

      Ons moet nie vergeet dat Petrus besig is om aan gelowiges te skryf nie en daarom moet sy lesers en alle gelowiges deur die eeue heen (ons dus ook), hierdie waarkuwing in n ernstige lig beskou, want deur hierdie waarskuwing aan die dwaalleraars, is daar ook n verskuilde oproep wat tot ons gerig word, nl. dat ons nie ligtelik moet omgaan met die Almagtige God wat skep en oordeel nie; wat daarstel en terselfdertyd verwoes nie, want ons leef reeds in die eindtye en die finale oordeel en herstel is vinnig aant kom. Petrus roep ons dus op om heilige lewens te lei. 

6.   CHRISTUS SE WEDERKOMS (vv.8-10):
      Die spotters wie Petrus in hierdie gedeelte aanspreek spot oor Christus se wederkoms en in n sekere sin kan n mens dit verstaan, want gelowiges het n voortdurende verwagting dat Christus enige oomblik kan kom - en dit hou al eeue aan en aan en steeds kom Chirstus nie en ongelowiges wat dit hoor kan nie anders as om te dink dat dit n vals verwagting is nie, maar Petrus verduidelik verder in vv.8-10 waarom dit menslik gesproke so lank duur.

   Tyd (v.8):
      In v.8 wys Petrus sy lesers daarop dat die spotters vergeet (v.5), maar dat ons as gelowiges nie moet vergeet nie en wat moet ons nie vergeet nie? Ons moet nie die woorde van Moses in Ps.90:4 vergeet nie ~ Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag. Petrus sê dus dat God tyd anders sien en hanteer as ons. Ons meet tyd teen tyd, terwyl God tyd teen ʼn ewigheid meet. Vir ons voel en lyk tyd lank, omdat ons oor absolute beperkte perspektief beskik, daarom dat dit vir die mens so verskriklik lank voel voor Christus weer kom.

      Omdat ons tydgebonde is en beperkte insig het t.o.v. tyd, het ons n kragtige en bonatuurlike werk van die Heilige Gees nodig om aan ons n ewigheidspersektief te gee en ons moet kort-kort die nou reeds bekende woorde in ons midde bid, nl; Lord paint eternity on my eyeballs.

      Geduld (v.9): 
      ’n Tweede rede waarom dit so lank voel voor Christus weer kom, is omdat Hy wil hê dat al die uitverkorenes eers gered moet word. Hierdie rede moet nie gesien word asof die Here gaan wag totdat die ganse menseras tot bekering gaan kom nie - die Skrif is tog duidelik daaroor dat die weg tot saligheid smal is en dat baie verlore sal gaan. Jesus het self in Matt.7:14 gesê ~ Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min. Die Woord (soos in ons gelese gedeelte ook) is baie duidelik dat daar n oordeelsdag is wat tog impliseer dat alle mense nie uiteindelik gered sal word nie.

      Beteken hierdie wag van Christus dan dat Hy mense nog kans gee om n besluit te neem, om Hom aan te neem (Arminianisme dus)? Nee, die Here wil so graag hê dat alle mense gered sal word en Hy wag geduldig dat dit moet gebeur,  want Hy het alle mense lief - hulle is tog immers deur Hom geskape, maar bekeer gaan almal hulle nie bekeer nie - dit gaan nie gebeur nie (en Hy weet dit in Sy alwysheid). Dit was presies dieselfde met die verlore en veroordeelde mense in Noag se tyd ~ Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net 'n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered (1 Pet 3:20).

      Ook Paulus praat in Rom.2:4 van God se geduld ~ God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie. God is geduldig met sondaars, maar omdat hulle hardkoppig is en hulle, hulle nie bekeer nie, gaar hulle, in die woorde van Rom.2:5, straf op vir die oordeelsdag, wanneer God Sy regverdige oordeel oor hulle sal uitspreek.

      Geen mens is derhalwe instaat om self te kies om gered te word nie, soos Paulus tereg in Rom.3:10 sê ~ Daar staan immers geskrywe: Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie (o.a. n aanhaling uit Ps.14:2-3).

      Weereens lê hier vir ons n les opgesluit, nl. dat ons die Here se geduld met die mensdom moet gebruik (ek wil amper sê, uitbuit) om seker te maak dat ons verhouding met Christus op die regte plek is, veral dié van ons wie dalk op wankelrige geestelike-bene staan. Dit is nie genoeg dat ons bloot terugkyk en onsself herinner aan ons kennis van God nie, maar dat ons, onsself sal uitstrek na wat voorlê (n ewigheidsperspektief dus); om ons toe te spits op die verheerliking van God in en deur ons lewens. 

      ’n Verdere les wat vir ons opgesluit lê in die oënskynlike uitstel van Jesus se wederkoms, is dat ons die Evangelie onverpoosd, so wyd en syd as moontlik sal verkondig.

     Belofte (v.10a):
      In v.10 maak Petrus geen geheim daarvan dat Jesus weer gaan kom nie. Al is God se geduld met sondaars onmeetbaar, is daar ook perke aan Sy geduld en gaan die dag van Oordeel soos n dief in die nag op almal toesak en die probleem met die ongelowiges, is dat hulle nie weet wanneer Christus gaan kom nie en die meeste is nie eens daarvan bewus dat Hy enigsins gaan terug kom nie (Openb.3:3). By implikasie sê Petrus dus vir die verdwaaldes - hulle wat toegegee het aan die verlyding van die dwaalleraars, dat hulle nog n kans het om hulle te bekeer en terug te draai na Christus, maar hulle beter gou maak, want die volgende oomblik kan dit te laat wees.

      Paulus verwys ook na hierdie onverwagse en beslissende oomblik in die geskiedenis van die mensdom, trouens die ganse kosmos, wanneer hy in 1 Tes.5:2 sê ~ Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos 'n dief in die nag.

      Die Here Jesus het hierdie selfde feit aan Johannes in o.a. Openb.16:15 gegee, toe Hy gesê het ~ Kyk, Ek kom onverwags soos 'n dief. Geseënd is die een wat wakker bly en sy klere reghou, sodat hy nie kaal hoef te loop en die mense sy skande sien nie. God belowe dus dat Jesus beslis gaan terugkom.

      Dit is baie interessant om te sien dat daar spanning tussen vv.8-9 aan die eenkant en v.10 aan die anderkant bestaan - in vv.8-9 maan Petrus sy lesers om die Here se bepaling van wanneer die wederkoms gaan plaasvind in Sy hande te laat, want net Hy en Hy alleen weet wanneer dit gaan gebeur - dit is amper asof Petrus sê (met groot piëteit gesê) - moenie die Vader aanjaag nie,  hy weet wat Hy doen, maar eendag is eendag dan gaan Hy sê, nou is dit lank genoeg! Aan die anderkant moet ons nie apaties staan teenoor die feit dat Jesus weer gaan kom nie - ons moet n verwagting hê, maar ons moet geduldig wees en terselfdertyd die tyd wat ons tot ons beskikking het, uitkoop om onsself voor te berei vir die wederkoms, maar ook vir andere te vertel van Sy wederkoms en die wat nie hierdie boodskap gaan hoor nie, of die spot daarmee dryf is so dwaas soos iemand wat sy huis se deure en vensters ooplaat as hy met vakansie gaan - dis n oop uitnodiging vir diewe om in te klim en te steel - n skok wag vir die eienaar wanneer hy terugkeer na sy huis.

     Tekens (v.10b):    
      In die tweede gedeelte van v.10 beskryf Petrus vir ons wat gaan gebeur op die dag van Christus se tweede koms en hy doen dit aan die hand van verskillende beelde vanuit die Ou- en Nuwe Testament:
      -     Eerstens sê hy dat die hemel op dié dag met n groot gedruis sal verdwyn - die Amplified Bible beskryf dit mooi wanneer dit sê: the heavens will vanish (pass away) with a thunderous crash.      Hierdie spesifieke woord kom net hier in die Nuwe Testament voor, maar dit word algemeen in die Ou Testament gebruik - o.a. om die geswiep van n pyl uit n boog te beskryf; of die geknars van n vuur.

      Petrus wil hiermee vir ons sê dat God alles gaan oordeel en alles gaan herskep. Wat word bedoel met herskep? Hoe gaan die heelal daar uitsien wanneer die hemel met n gedruis gaan verdwyn? Ons sal nou daarna kyk.

-     Tweedens sê Petrus dat die hemelliggame gaan brand en verdwyn op die Groot Dag wanneer Jesus gaan terugkeer. Die woord hemelliggame wat hier in die NAV gebruik word, word in die OAV, die Direkte Vertaling en die meeste Engelse vertalings, vertaal met elemente. Hierdie woord elemente verwys na die elemente waaruit die aarde en hemelliggame bestaan en dit gaan volgens die meeste vertalings verbrand word en vergaan, maar die Grieks wat hier gebruik word kan óók ontbloot i.p.v. vergaan, beteken. M.a.w. alles op aarde en in die hemel gaan ontbloot word en alles sal gesien word vir wat dit werklik is en dan sal die gevolge van die sondeval weggebrand word - anders gestel, alles wat sleg en lelik en aanstootlik is - alle sonde dus en alles wat geraak is deur die sonde, sal ontbloot word en dan sal dit verwyder word - iets nuuts; iets reins sal dan na vore tree.
     
      Hierdie vertolking is waarskynlik die mees aanvaarde, omdat dit ook ooreenstem met teksverse soos o.a. Openb.21:27 ~ En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.

      Antonie Hoekema in sy boek, The Bible and the Future sê: dat indien die kosmos wat deur God geskep is, totaal en al verwoes word, sal Satan n geweldige oorwinning behaal het. God het die kosmos en alles daarin, volmaak geskep en Hy was tevrede daarmee - dit was dus volmaak geskape - die satan het die kosmos deur die sondeval kom skaad en as God nou die kosmos vernietig net omdat dit geskaad is, sal dit n kapitulering van die Almagtige en Skepper God wees, en sal Hy daardeur sê dat die Satan daardie deel van die geveg gewen het. Nee, Satan gaan niks wen nie, inteendeel ons lees in Openbaring presies wat met hom gaan gebeur - Openb.20:10 sê ~ En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid

      John Piper sê dat God nie materie geskep het, net om dit weg te gooi" nie. Hy sê verder, dat wanneer Openb.21:1 en 2 Pet.3:10 sê dat die teenswoordige aarde en hemele met n gedruis sal verdwyn, beteken dit nie dat dit sal ophou bestaan nie, maar beteken dit hoogs waarskynlik dat daar n verandering sal wees, in soverre dat die huidige toestand sal verdwyn. Piper vergelyk dit met n wurm wat n papie word en waarna die dop van die papie weer verdroog, sodat n pragtige skoenlapper te voorskyn kan kom.

      Wat dus gaan gebeur, is dat alles wat sleg was a.g.v. die sondeval; alles wat verwronge geraak het; alles wat lelik geraak het, herskep gaan word - bv. die lug is nou besoedel, maar dit gaan met die wederkoms herskep word en daar gaan geen besoedeling meer wees nie - daar gaan steeds lug wees, maar dit gaan volmaak skoon en helder wees soos in Adam se voor-sondeval tyd - dink net hoe gaan die hemelruim in die nag lyk - triljoene meer sterre gaan gesien word!.

      Andy Alcorn (in sy boek, "Heaven") sê weer dat die aarde gaan herrys tot n nuwe lewe en bestaan, net soos wat ons liggame gaan herrys in verheerlikte liggame.

      As Petrus dan sê dat die aarde en die hemel gaan verdwyn en vergaan, bedoel hy daarmee dat dit nie soos mis voor die son gaan verdwyn om nooit weer gesien te word nie - nee, dit gaan hernuwe word. In 2 Kor.5:17 gebruik Paulus dieselfde gedagte wanneer hy sê dat die gelowiges, nuwe skepsele gaan word - ons gaan anders wees, maar tog ook dieselfde.

      Alcorn sê: The Greek word kainos (waarvan Paulus en Openbaring praat) - the Greek word kainos translated new, indicates that the earth God creates wont merely be new as opposed to old, but new in quality and superior in character.  Van n wurm tot n vlinder!

7.   AFSLUITING:
      Ons kan nie met ons menslike en sondebesoedelde verstand hierdie verskriklike dag bedink nie en tog wil Petrus deurgee dat dit nié n verskriklike dag vir ons as gelowiges moet wees nie, want verskuild in en deur sy beskrywing van wat tydens Christus se wederkoms gaan gebeur, lê daar n wonderlike gebeurtenis vir ons voor - die ongelowiges gaan geoordeel word en saam met die satan in die hel gewerp word, maar ons, ons gaan nuwe kainos-skepsele word wat hier op n kainos-aarde vir ewig in die heerlike teenwoordigheid van Christus ons Koning gaan deurbring!


      Hierdie boodskap móét tot gevolg hê dat ons besonder gemotiveer moet wees om die Evangelie na n verloregaande wêreld sal uitdra. Dit móét ons ook geweldig bemoedig en tot groot dankbaarheid stem, omdat God ons by die naam geroep en uitverkies het - ons wat dit nie een verdien nie!

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptostegemeente - Sondagoggend 17 Mei 2015