Sunday, May 3, 2015

Die Tweede Brief van Petrus - 06 (“Vals Profete en -Leraars”)

1.   INLEIDING:
      In Kol.1:24 staan die volgende ~ Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk. John Piper sê in sy karakterstudie van Adoniram Judson die volgende hierop: We are called in our sufferings to complete the afflictions of Jesus. You really need to ponder that.  Thats a design for the ingathering and the upbuilding of the Church of the Living Christ and it does not mean you atone for anybodys sins or that His atoning death was in any way deficient. It means this, I believe: The sufferings of Jesus acted out by Him in fully sufficient atoning worth are meant to be displayed; portrayed; offered, through the sufferings of His Body on earth. Its a design. This is why I abominate the health, wealth and prosperity gospel, not just because it gets a few things wrong - it destroys the message of the Cross, which is designed to come through His suffering Church. It is therefore a Devine plan, or Divine design, that this Gospel spreading; Church planting purpose triumph through the suffering of His people…”

2.   SKRIFLESING:
      2 Pet.2:1-22~ 1) Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën. So sal hulle hulleself baie gou in die verderf stort. 2) Baie mense sal hulle losbandigheid navolg, en deur hulle toedoen sal mense kwaad praat van die Weg van die waarheid. 3) In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit. Maar hulle vonnis is lankal gevel, en hulle ondergang is onafwendbaar. 4) God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel. 5) Hy het ook die wêreld van die outyd nie gespaar nie, maar die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring. Net vir Noag wat die wil van God verkondig het, en sewe ander mense het Hy gered. 6) Die stede Sodom en Gomorra het Hy tot verwoesting veroordeel en tot as verbrand, en met hierdie voorbeeld het Hy getoon wat oor die goddelose mense gaan kom. 7) En tog het Hy vir Lot gered, 'n eerbare man wat gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense. 8) Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit n foltering was vir sy opregte gemoed. 9) Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou. 10) Veral húlle sal gestraf word wat toegee aan hulle wellustige vleeslike begeertes en wat die gesag van die Here verag. Hierdie leraars is uitdagend en verwaand en huiwer nie om hemelwesens te beledig nie. 11) Selfs die engele, wat tog baie sterker en magtiger is, bring nie voor die Here lasterlike aanklagte teen hierdie wesens in nie. 12) Maar hierdie mense praat lasterlik van dinge waarvan hulle niks verstaan nie. Hulle is soos verstandlose wilde diere wat voortgebring word om gevang en doodgemaak te word. Soos wilde diere sal hulle ook verdelg word. 13) Vir hulle goddeloosheid sal hulle die loon van die goddelose ontvang. Hulle verlustig hulle daarin om helder oordag swelgpartye te hou. Wanneer hulle saam met julle eet, is hulle 'n smet en n skande omdat hulle hulle aan uitspattighede te buite gaan. 14) Hulle oë is die ene wellus, en aan sonde kry hulle net nie genoeg nie. Hulle verlei onstandvastige mense en is bedrewe geldwolwe, die vervloektes! 15) Hulle het die reguit pad verlaat en verdwaal geraak. Hulle het die weg gevolg van Bileam seun van Beor wat daarop uit was om vir geld onreg te pleeg, 16) maar wat oor sy oortreding bestraf is. 'n Stom rydier het met die stem van' n mens gepraat en 'n einde gemaak aan die onsinnige optrede van die profeet. 17) Hierdie mense is droë fonteine, miswolke wat deur' n stormwind voortgejaag word. Vir hulle word in die diepste duisternis plek gehou. 18) Hulle is aanmatigend en sê sinlose dinge. Met wellus en losbandigheid verlei hulle die mense wat pas vrygekom het uit die kring van dié wat op dwaalweë verkeer. 19) Hulle belowe vryheid aan hierdie mense, al is hulle self slawe van die verderf; want as iets jou in sy mag het, is jy sy slaaf. 20) Mense wat vandie besmettinge van die wêreld vrygekom het deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en wat weer daarin vasgevang en daardeur oorweldig word, is aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin. 21) Dit sou vir hulle beter gewees het as hulle die wil van God nie leer ken het nie as dat hulle dit wel leer ken het en daarna afgewyk het van die heilige gebod wat aan hulle oorgedra is. 22) Van hulle is die spreekwoorde waar:"'n Hond gaan terug na sy braaksel toe" en "' n Vark wat gewas is, gaan rol weer in die modder.

      Petrus begin in hierdie hoofstuk en dan spesifiek van vv.1-9 deur te sê wat die lot van vals profete en -leraars is en dan herhaal hy dit weer in vv.10-19 en in vv.20-22 sê hy in geen onduidelike taal wat die uiteinde van sulke wolwe in skaapsklere is.

3.   VALS PROFETE (vv.1-9):
      Die geskiedenis van Israel is deurspek met uitstaande, betroubare en godvresende
profete, maar tog was daar gereeld vals profete wat in die midde van die volk opgetree het. Ons sien bv. in Deut.18:20 dat die Here die volgende opdrag aan Moses gee ~ 'n Profeet wat hom dit aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf. Dit geld ook van' n profeet wat in die naam van ander gode praat. Baie duidelik dus dat daar so vroeg as die vroeë Ou Testamentiese tydperk alreeds vals profete opgetree het (sien ook 1 Kon.18 en Jer.5) - net so praat Petrus ook oor vals profete wat in sy lesers se midde is - n pragtige voorbeeld van hoe geskiedenis homself herhaal.

      Daar was dus nog altyd vals profete soos ons pas gesien het in o.a. Deut.18:20, maar daar sal ook altyd vals profete in die toekoms wees ~ Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei (Matt.24:24). n Waarskuwing wat dus ook tot ons in ons dag gerig word.

      Petrus maak n baie interessante opmerking in v.1b wanneer hy sê ~ Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën. Op die oog af lyk dit asof hierdie vals profete op n stadium van hul lewens gered was en nou teruggeval het en uiteindelik verlore sal gaan - hoe strook dit met ons siening wat vashou aan die uitverkiesingsleer en wat o.a. glo aan, eenmaal gered, altyd gered?

      Ons moet daarop let dat Petrus twee groepe mense hier in gedagte het - eerstens, die gelowiges aan wie hy skryf, wat prooi is vir dwaalleraars en tweedens die dwaalleraars self.

      In Joh.10:28-29 lees ons die volgende ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.  Hier sien ons dus dat indien jy wederbaar is, jy nooit uit die hand van die Here sal val nie - dus verlore sal gaan nie. Petrus se lesers het in hierdie kategorie geval. Ten spyte van al die druk en vervolging sal die Here hulle instand hou - een maal gered, altyd gered!

      Die dwaalleraars daarenteen, is mense wat onder die dekmantel van Christenskap optree asof hulle vrygekoop is en wat openlik die leer van Christus verdraai en wil sien hoe ver hulle daarmee kan wegkom.

      Petrus sê in v.1b dat hierdie dwaalleraars wat deur die Here vrygekoop is, nie deur die Here vrygekoop is nie, maar hulle sê dat hulle vrygekoop is - dit is dus asof Petrus sarkasties is wanneer hy sê, Hierdie sogenaamde vrygekooptes - gmff! Hulle is so min vrygekoop soos die man in die maan, maar hulle dink en sê hulle is, maar dit is ook maar net waarby dit bly - praatjies, want jy sien geen vrug en heiligmaking in hul lewens nie, maar pasop liewe lesers - kyk na hulle lewe en hardloop ver weg van hulle, want hulle getuig van hul redding, maar hulle lieg!
      Petrus gaan nou voort en bo en behalwe die feit dat hy sê dat hierdie valsleraars, leuenaars en misleiers is, noem hy kortliks sommige van die karaktereienskappe en gedragspatrone van hierdie satansinstrumente.  

*     Hul Karakter (v.1):
      Eerstens kyk Petrus na hierdie vals leraars se karakter en wys
hy sy lesers daarop dat hierdie wolwe, verderflike dwaalleer insmokkel (of op subtiele manier verkondig). Petrus gebruik baie sterk woorde in v.1b wanner hy sê (waarna ons netnou na gekyk het) ~ die Here wat hulle vrygekoop het, verloën. Die uitdrukking Here wat hy  hier gebruik is in die Grieks δεσπότης [despotēs] en beteken letterlik die Soewereine God. Petrus sê dus dat hierdie wolwe se boodskap lynreg indruis teen wie God werklik is - in hulle prediking verwerp hulle dus die soewereine God en bring hulle so n ewige oordeel oor hulleself. Paulus sê in Fil.3:19 van diesulkes ~ Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind.

*     Hul Invloed (vv.2-3a):
      Hierdie valsleraars kry dit nogtans reg om groot getalle aanhangers te lok - aanhangers wat uitgebuit word deur hierdie vals leraars se verdraaide self-opgediste stories met n baie mooi, oënskynlike geestelike vernis lagie en dit alles word primêr gedryf deur hulle sug na status, mag en rykdom.

      Petrus beskryf hierdie wolwe se invloed verder in vv.2-3, wanneer hy sê dat hierdie probleem
      -     Wyd voorkom en dat baie sulke leraars sal navolg (so is Joel Osteen se kerk in Amerika bv. die grootste gemeente in die VSA. Nog een voorbeeld: Creflo Dollar wat vra vir $60 miljoen sodat hy vir hom n Gulfstream G650 privaat straler kan koop - sy motivering, sodat hy en sy gesin die Evangelie vinniger wêreldwyd kan verkondig - hy besit alreeds, o.a. 2 Rolls Royces en dan praat ons nie eens van sy vaste eiendomme nie).

      -     In v.2 (NAV) lees ons ook van losbandigheid wat die dissipels van dwaalleraars navolg. Die OAV vertaal dit met verderflikhede en die meeste Engelese vertalings praat van sensuality. Die Grieks wat hier gebruik word is ἀσέλγεια [aselgeia] wat letterlik n onbeheerste morele gesindheid en gedrag beteken. Hierdie leraars en hul volgelinge steur hul derhalwe nie veel aan wat mense dink van hul morele standaarde nie - en ons moet nie net altyd dink aan die seksuele wanneer ons praat van morele standaarde nie - mense wat bekend staan as Christene, maar vir wie dit skaamteloos net gaan oor die self - bv. om volgelinge te mislei en sodoende hulself uit sulke volgelinge verryk, tree immoreel op.
      -     Deur hierdie vals profete- en leraars se toedoen sal mense Christus; Sy Koninkryk en Sy volgelinge belaster, in die woorde van Petrus, mense (wat) kwaad praat van die Weg van die waarheid. Is dit nie juis om hierdie rede dat mense vir wie heiligmaking n absolute Bybelse prioriteit is en vir wie elke jota en tittel in die Bybel die absolute Waarheid is, uitgeskel word as fundamentaliste en uit die oude doos nie? Ongelowiges lag vir die Christendom en sê dat dit n godsdiens is waarmee hulle niks te doen wil hê nie - het julle al gehoor dat mense sê, as dit is hoe n Christen optree, wil ek nie een wees nie? Sulke uitlatings kom gewoonlik van mense wat enersyds nie weet waaroor dit gaan nie (baie dikwels mense wat glo dat die Christelike godsdiens net soetsappig, emosioneel en net om die self gaan) of mense wat nie gered is nie. Dit kom ook van mense wat na hierdie vals leraars en hul volgelinge kyk en die Christendom met hulle vergelyk - groot skade word dus aan die Weg van die Waarheid gerig as gevolg hiervan.

*     Hul Oordeel (vv.3b-9):
      In vv.3b-9 brei Petrus volledig uit oor die gevolge van hierdie vals profete- en leraars se optrede en die gepaardgaande oordeel wat op hulle wag.
      -     Die Feit van hul Oordeel Gekonstateer (v.3b):
      Uit v.3 is dit baie duidelik dat die valsleraars se lot reeds bepaal is, trouens Petrus sê dat dit reeds lank tevore gekonstateer is en dat daar geen wegkomkans vir hulle is nie - die vonnis is reeds gevel!
      -     Die Feit van hul Oordeel Gemotiveer (vv.4-8):
      Wanneer ons v.4 lees herinner dit ons aan Judas 6 ~ Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag. Petrus wil vir ons daarop wys dat vals profete en dwaalleraars nie moet dink dat daar enige verskoning vir hulle is nie, want hoe sal die Here engele wat in die hemel gerebelleer het en nie daarmee weggekom het nie, aardse wesens met sulke verfoeilike dwaalleer laat wegkom?

      In v.5 wys Petrus ook daarop dat goddelose mense in Noag se tyd nie gespaar was nie en die Here het Sy oordele so sterk en ernstig oor die sondaars laat kom, dat daar net agt oorgebly mense het - dit maak dus nie vir God saak of die hele wêreld uitgewis word, met die uitsondering van slegs agt mense nie - straf sal Hy hulle straf.

      Net soos in v.5, kontrasteer Petrus die sonde-gevalle mense met die regverdiges in vv.6-8 wanneer hy verwys na die inwoners van Sodom en Gomorra wat almal gesterf het onder God se oordeel, terwyl Lot se lewe gespaar is - Lot wat die sonde van die inwoners van Sodom en Gomora moes aanhoor en deurstaan, maar omdat hy by die Waarheid gehou het, is hy gespaar.
      -     Die Feit van hul Oordeel Gewaarborg (v.9):
      Petrus maak n baie interessante opmerking in v.9 ~ Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red - Hy red Sy dienaars UIT beproewing - dit impliseer dus dat gelowiges nie gespaar sal word van beproewing nie, maar die Here sal hulle daaruit red - ons sal dus nogsteeds beproewing ervaar, maar die Vader sal ons daardeur dra en heelhuids anderkant uitbring (Kol.1:24 en Piper aan begin) Petrus sê egter terselfdertyd dat daar geen alternatief vir die sondaars - die dwaalleraars en vals profete is nie - hulle gáán gestraf word, hulle - wat toegee aan hulle wellustige vleeslike begeertes en wat die gesag van die Here verag.

4.   VALS PROFETE (vv.10-22):
      In vv.10-19 herhaal Petrus die lot van die valsleraars en hoe hul karakters lyk.

*     Hul Karakter (vv.10-16):
      ln vv.10-16 verwys hy na hulle, vleeslike begeertes.

      Hy gee ook sy lesers terselfdertyd die versekering dat die valsleraars steeds onder die oordele van God staan, a.g.v. hul immoraliteit. Petrus verwys spesifiek hier na die dwaalleraars se immoraliteit omdat hy met n moeilike situasie te doen gehad het, want daar was baie mense in die kerk van destyds wat ook immorele lewens gelei het en dit geregverdig het met allerlei redenasies, trouens hulle het so ver gegaan as om nie aan die oordele van God te glo nie en hulle het selfs die Bybelse Waarheid t.o.v. Christus se wederkoms afgelag. Petrus wil juis hierdie selfde aspek van die dwaaleraars se prediking beklemtoon en daarop wys dat hulle geoordeel gaan word, nes die mense in die Kerk geoordeel gaan word vir hul immoraliteit (Petrus gaan hierdie hele saak van oordeel en wederkoms in hoofstuk 2 in groter besonderheid aanspreek).

      ’n Verdere eienskap van hierdie valsleraars is dat hulle uitdagend en verwaand is. Die OAV sê dat hulle vermetel en aanmatigend is en die ESV voeg nog moedswillig ook by.

      Wanneer Petrus die valsleraars se uitdagende en verwaande optrede veroordeel omdat hulle daardeur die hemelwesens  (vv.10-11) beledig - hulle wat nie eens die Here belaster nie, dan verwys hy nié na engele in die hemele nie, maar na die valsleraars se verwerping van alle vorme van gesag wat oor hulle aangestel is en meer spesifiek verwysende na kerklike leierskap (OAV - Openb.2:1 ~ Skryf aan die engel van die gemeente in Éfese) en boweal die gesag van die Here.  

      In vv.12-16 vaar Petrus verder uit teen die wolwe en verwys o.a. na hul uitsprake oor dinge waarvan hulle geen kennis het nie.  Hierdie valsleraars het die opwinding en sensasie van dierlike instinkte verwar met die teenwoordigheid van die Heilige Gees, want hulle het waarskynlik hul uitsprake en optrede toegeskryf aan Geesvervuldheid.

      Ook die wolwe se uitspattige lewenstyl en geldgierigheid word deur Petrus uitgelig as deel van hul swak karakter en hy gaan verder en vergelyk hulle met Bileam seun van Beor (Balaam in Engels) - Bileam was liewer vir geld as vir die Here en sy sug na geld was groter as Sy onderwerping aan God (Num.22:5-24:25). Bileam het ook immoraliteit  verkondig - hoor wat sê Openb.2:14 van Bileam ~ Maar Ek het enkele dinge teen jou:dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer (sien ook  Num.31:16)

      As ons kyk na Num.22:27-35 sal ons sien dat Bileam aangespreek was deur n donkie, asook deur n engel van die Here en as Petrus die dwaalleraars vergelyk met Bileam, wil hy daardeur sê dat n donkie oor meer geeste insig beskik as hierdie wolwe in skaapklere.

*     Hul Invloed (vv.17-19):
      In vv.17-19 wys Petrus weer op hierdie mense se invloed op liggelowiges en vergelyk hy hulle in v.17 met n droë fontein - dit is in skrille kontras met Joh.4:13-14 ~ Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe. Net Jesus Christus alleen is die Bron van die lewe en dan gaan Hy voort en sê in Joh.7:37b-38 ~ As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. Wanneer ons by die Ware Bron van Lewende Water drink, sal strome van lewende water ook uit ons binneste vloei, maar Petrus waarsku en sê dat dít wat die valsleraars vir hul volgelinge gee, geen lewe verskaf nie en is sulke volgelinge geestelik dood.

      Een van die skokkendste invloede wat vals leraars het op hul volgelinge, is dat hulle hul toespits op jong bekeerlinge en hulle mislei en verlei, deur sinlose dinge te sê (v.18) en die gevolg daarvan is dat mens geen vrug in hierdie nuwe bekeerlinge se lewens kan sien nie (hulle mag dalk oor n skyn van godsaligheid beskik, maar daar is geen diepte en opregtheid nie).

      In v.19 sê Petrus dat hierdie vals profete preek oor vryheid en godsdiens, maar hulleself ken Jesus Christus nie - hulle en hul volgelinge is nie waarlik vry nie, want hulle is nie in en deur Christus Jesus vry gemaak nie ~ As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees (Joh.8:36).

*     Hul Oordeel (vv.20-22):
      In vv.20-22 verwys Petrus na mense wat vry gekom het van hierdie wêreld, omdat hulle Christus leer ken het, maar nou weer in die wêreld vasgevang geraak het - van wie praat hy hier - van die valsleraars; van die jong en onstandvastige gelowiges, of van beide? Soos reeds vroeër aangetoon, gaan dit oor die valsleaars.

      V.21 beklemtoon die erns van afvalligheid wanneer Petrus sê dat diegene wie nooit van Jesus gehoor het nie, beter af sal wees op die oordeelsdag, as diegene wie Jesus ontmoet het, maar Hom nie navolg as Verlosser en Here nie.

      In v.22 sluit Petrus hierdie gedeelte af met n baie sterk veroordeling van valsprofete- en leraars deur twee spreuke aan te haal. Die eerste n Bybelse ~ Soos 'n hond wat na sy braaksel toe terugkom, so is' n dwaas wat dieselfde dwaasheid weer begaan (Spr.26:11). Die tweede n buite-bybelse aanhaling ~ “’n Vark wat gewas is, gaan rol weer in die modder. Beide honde en varke was in die Joodse kultuur as onrein bestempel en daarom wil Petrus deur hierdie twee aanhalings vir sy lesesr sê dat hierdie valsleraars onrein is en uiteindelik weer sal terugkeer na hul heidense misleiding, leuens en korrupsie en die realiteit is dat hulle talle mense saam met hulle in die braaksel en modder van die verderf sal intrek. 

      Ons moet ook besef dat predikante/leraars/dominees/pastore, nie noodwendig die engste misleiers is nie - dit kan ook gewone mense wees.

      Ons moet ook bedag wees daarop dat dwaalleraars en hul boodskap uiters geslepe, slinks en agteraf is en klink hul boodskap meestal só reg en aanvaarbaar - dit streel die ore!

5.   TOEPASSING:
      As toepassing wil ek net enkele punte met julle deel van hoe ons dwaalleraars en valsprofete kan identifiseer - hierdie sal maar net enkele wees:
*     Die heel belangrikste vraag wat ons altyd eerste moet vra is, oor wie die boodskap gaan - wat is die sentrale boodskap - God Drie-Enig en meer spesifiek, Jesus Christus, of die mens? As dit oor die mens gaan, sal die boodskap sentreer om dinge soos hoe kan ek gehelp word; hoe lief God my het; wat ek uit my verhouding met Hom kan kry; dat dit altyd goed met my sal/moet gaan - ek, my en myself dus. Die fokus moet altyd Jesus Christus wees ~ 2 Pet.1:16 ~ Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien.
*     Wat is die Bron van die leraar se boodskap - die Woord van God? 2 Pet.1:3 ~ Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Sy Woord dus.
*     Lei die boodkskap my na vryheid of gevangeskap? 2 Pet.1:19b ~ Hierdie boodskap is soos 'n lamp wat in' n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte. In teenstelling hiermee sê Petrus in 2 Pet. 2:19-20 ~ Hulle belowe vryheid aan hierdie mense, al is hulle self slawe van die verderf; want as iets jou in sy mag het, is jy sy slaaf. Mense wat van die besmettinge van die wêreld vrygekom het deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en wat weer daarin vasgevang en daardeur oorweldig word, is aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin.
*     Kyk na die leraar se karakter - Jaag hy waarlik 2 Pet.1:5-7 na ~ En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.
*     Wat is die impak van die boodskap op die luisteraars - wat is die vrug in hulle lewe? Is die opregte sug na en najaag van heiligaking deel van hul lewens - is hul harte fonteine van borrelende water (2 Pet.1:5-8; 2:17)?
* Wat sê die persoon oor Jesus Christus (Matt.16:15-16 ~ "Maar julle," het Hy gevra, "wie, sê julle, is Ek?" Simon Petrus het geantwoord:"U is die Christus, die Seun van die lewende God) en praat hy oor die Evangelie van Jesus Christus (1 Kor.15:1-4 ~ Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit:Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte)?


      Ons moet voortdurend bedag wees daarop en oral waar ons gaan en waar ons luister en wat ons lees, die boodskap toets en nogmaals toets!

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente - Sondagoggend 03 Mei 2015