Sunday, April 5, 2015

JESUS, DIE OPGESTANE CHRISTUS

1.     SKRIFLESING: 
Hand.17:1-4 en 16-34 ~ Paulus-hulle het deur Amfipolis en Apollonië na Tessalonika toe gereis, waar daar n Joodse sinagoge was. 2 Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy daarheen gegaan en op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer. 3 Hy het die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan. Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, het hy gesê, Hy is die Christus. 4 Party van die Jode het oortuig geraak en by Paulus en Silas aangesluit. n Groot aantal godvresende Grieke en n aansienlike getal vooraanstaande vroue het ook nog bygekom. 16 Terwyl Paulus in Atene vir Silas en Timoteus wag, het hy baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is. 17 Hy het in die sinagoge met die Jode en die godvresendes geredeneer en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat. 18 n Paar wysgere, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gestry. Party het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander het gesê: Dit lyk of hy n boodskapper van vreemde gode is. Dit was omdat Paulus die evangelie van Jesus en sy opstanding verkondig het. 19 Hulle het hom na die Areopagus toe geneem en gesê: Kan ons te wete kom wat hierdie nuwe leer is wat jy verkondig? 20 Party van die dinge wat jy sê, klink vir ons vreemd, en ons wil graag weet wat dit beteken. 21 Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie. 22 Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. 23 Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook n altaar gekry waarop geskrywe staan: Aan n onbekende god. Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. 24 God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hy is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25 Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26 Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27 God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, 28 want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: Ons stam ook van Hom af.e 29 Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding. 30 God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, 31 want Hy het n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan. 32 Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: Ons sal jou weer hieroor wil hoor. 33 So het Paulus van hulle af weggegaan. 34 n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, n lid van die Areopagus, en n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.

2.     INLEIDING:
Onder al die groepe wat deurgaan as Christene, is daar verskillende fokuspunte, wanneer dit kom by Christelike feesdae:  So is daar groepe wat net die klem lê op Christus se geboorte (Kersdag) en alhoewel dit n uiters belangrike faset van God se reddingsplan met die mens is, is daar nog n faset wat uiters belangrik is, en dit is Christus se kruisiging. 

Baie gelowiges steek by hierdie punt vas en skenk gedurende hierdie tyd van die jaar, nl. die Pase, hoofsaaklik aandag aan die kruisiging van Jesus en natuurlik is dit ook n geweldige belangrike faset in God se plan. Ons sien dieselfde tendens in die kunswêreld en in loodglasvensters in katedrale oor die wêreld heen ook daar sien ons hoofsaaklik twee tonele uitgebeeld, nl. Jesus in n krip met donkies en die Wyse Manne rondom Hom en die ander toneel, is dié van die gekruisigde Jesus, maar n derde toneel word omtrent nooit uitgebeeld nie en dit is dié van die opgestane Christus en indien ons God se volledige plan vir n verloregaande wêreld wil aanskou, móét ons na hierdie derde gebeurtenis van God se reddingsplan kyk én dit verkondig, want sonder hierdie faset is God se reddingsplan onvolledig.

3.     PAULUS IN ATHENE:
In ons gelese gedeelte, sien ons n Paulus wat die Atheners in die skadu van die Akropolis-toespreek en sy boodskap sentreer rondom die tema, Jesus, die opgestane Christus.  Hierdie boodskap, is sekerlik díé belangrikste waarheid aangaande die Christendom, want hierdie realiteit, is juis díé een aspek, wat die Christendom onderskei van álle ander godsdienste in die wêreld.  Alle ander godsdienste, het óf n leier wat reeds gesterf het, óf wat besig is om te sterf.

Op pad na Athene, het Paulus o.a. in Thessalonika gepreek waar ʼn opstand onder die Jode uitgebreek het ná sy prediking.  Daarna het hy in Berea, dieselfde boodskap aan die Jode aldaar gebring.  Ook daar het die Evangelieboodskap die Jode so ontstel, dat Paulus in die nag uit Berea na Athene gebring moes word. Ook hier in Athene bring hy eers sy boodskap van Jesus Christus aan die Joodse inwoners in die sinagoge, maar kort voor lank, sien ons n prekende Paulus op die markplein. 

Hier is egter een verskil en dit lê in sy gehoor. Paulus se toehoorders is nou nie meer uitsluitlik Jode nie, maar bestaan nou hoofsaaklik uit n klomp heidene, máár, hy wyk nie af van sy boodskap wat hy tot nou toe aan die Jode gebring het nie, nee, hy bring presies dieselfde boodskap, nl. Jesus, die opgestane Christus

4.  DIE BETEKENIS VAN CHRISTUS SE OPSTANDING:
Hierdie was dan ook die sentrale tema van al die vroeë Christene se boodskappe.  Weer en weer, het hulle gepreek oor Jesus se opstanding uit die dood.  Lukas het dit pragtig opgesom in Hand.4:33 ~ Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal.  Hierdie boodskap wat die Apostels gepreek het, was natuurlik in direkte opdrag van Jesus self ~ Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Hand.1:8)

n Teksvers wat ook baie insiggewend in hierdie verband is, is Hand.1:22, toe die Apostels n ander apostel in die plek van Judas moes aanwys, was die voorwaarde, dat daar ~ ...nog n getuie van Jesus se opstanding by (hulle) gevoeg (moes) word.

Waarom was dit nodig om die boodskap van die opgestane Jesus te verkondig?  Omdat Christus se opstanding, bo alle twyfel bewys het, dat Jesus van Nasaret, wel die Seun van God, die Messias, die Christus, die Beloofde Een was.

Dit was dan ook juis Petrus se redenasie tydens die eerste opgetekende preek, wat in Jerusalem, op Pinksterdag gepreek is (Hand.2:14-36) ten einde te bewys dat Christus die Messias was.  Hy het verskeie Ou Testamentiese Skrifgedeeltes, so wel as van die toe onlangse gebeure rondom Jesus, asook Sy opstanding, tydens hierdie preek aangehaal.  Wat egter interessant is, is dat Petrus, Christus se opstanding as n gegewe aanvaar het. 

Alhoewel die opstanding die sentrale punt van sy boodskap was, was dit nie gebruik om die mense te oortuig van die opstanding nie, maar is die opstanding gebruik as argument om Jesus se Messiasskap te bewys, m.a.w. daar is algemeen aanvaar dat almal in Jerusalem bekend was met die feit dat Jesus opgestaan het uit die dood, want net té veel mense het die kruisiging van Jesus aanskou en Hom ná Sy dood, weer gesien en al het almal Hom nie gesien nie, het hulle iemand geken wat Hom wél gesien het.

Die kruks waarom dit dus gegaan het, was níé om te bewys dat Christus opgestaan het nie, maar wat die betekenis van Sy opstanding was. 

Daarom dan, dat Petrus tydens die Pinksterdag preek, hierdie wonderlike gebeure van die opstanding gebruik het om te bewys dat Christus waarlik die Messias is en dat die Koninkryk van God deur Hom gekom het. Dít was die boodskap die Goeie Nuus, wat Petrus en die ander Apostels gebring het.  Ons sien dit in Hand.8:12 ~ Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop (Hand.19:8; 20:25; 28:23; 28:31).

Die mense wat geglo het dat Jesus die opgestane Christus was, was volgens Hand.11:26, vir die eerste keer Christene genoem ~ Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle twee het n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.

        Waarom die Opstanding?
Wanneer ons fokus op Christus se opstanding, is dit nodig dat ons kortliks ook sal kyk na wat gebeur het tydens en net na die opstanding en wat die betekenis daarvan vir ons is:
o     Die opstanding is volgens Ef.1:19-20 n demonstrasie van God se almag ~ ...en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20 wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het

Die betekenis vir ons lê daarin, dat die kloof wat bestaan het, tussen die ewige dood waartoe ons almal gevonnis was, en die vernuwing en herskepping van n nuwe wedergebore lewe, nou oorspan is en is dit moontlik om die ewige dood vry te spring.
o     Ten einde te bewys dat Christus se soendood volkome en afgehandel was, was dit noodsaaklik dat Hy uit die dood moes opstaan Rom.4:22-24 ~ Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.  Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het.
o     God word verheerlik deur Christus se opstanding Rom.6:4 ~ Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in n nuwe lewe kan wandel (OAV).
o        Vir Christus het Sy opstanding geïmpliseer, dat Hy voldoen het aan Sy Vader se opdrag Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem....  Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het (Joh.10:17, 18c).
o        Die Vader het Jesus se gebed beantwoord In Joh.12:27 het Jesus uitgeroep ~ Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur.  Die opstanding was die Vader se beantwoording van hierdie gebed.
o        Volgens Hand.2:36 het God deur die opstanding, Jesus beide Soewereine Oorwinnaar en Verlossser gemaak ~ Die  hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!
o        Deur die opstanding het Christus die Hoof van die Kerk geword ~ Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. (Kol.1:18).
o      Die opstanding en hemelvaart moes plaasvind, sodat die Heilige Gees uitgestort kon word ~ Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur (Joh.16:7).
o      Deur Christus se opstanding, toon God aan ons dat Sy krag genoegsaam is om die grootste sondaar te kan red ~ ...en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het (Ef.1:19-20).
o      Sy opstanding bevestig ons vryspraak van God se straf op die sonde ~ Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word (Rom.4:25).
o      Christus moes uit die dood opstaan en opvaar na die hemel, ten einde vir ons in te tree by die Vader en daarom kan niemand ons meer by God aankla nie ~ Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.  Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons (Rom.33:34).
o      Volgens Kol.3:1 is ons as gelowiges reeds uit die dood opgewek, m.a.w. ons is oorgedra in n ander lewe, waar ons nie meer vleis en melk nodig het om van te leef nie en moet ons daarom gemotiveerd wees om heilig te leef.
o      Christus se opstanding skenk aan ons die nodige hoop en sekuriteit dat onsself ook uit die dood opgewek sal word ~ Nog net n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe (Joh.14:19).
o      Ons liggame sal soos Christus sn verheerlikte liggame wees, met Sy wederkoms.

Jesus het met dieselfde liggaam uit die graf gekom as waarmee Hy in die graf in is.  Hy het dus nie as n gees opgestaan nie, anders sou die graf nie leeg gewees het nie.  Wat meer is, Hy het oor n verheerlikte liggaam beskik

Die betekenis hiervan lê vir ons veral daarin, dat Christus weer in dieselfde liggaam sal terugkeer op die dag van die wederkoms. 

Ons gees en liggaam gaan geskei word tydens die dood, maar die dag wanneer ons opstaan, gaan ons liggame in verheerlikte vorm, weer met ons gees verenig word in die hiernamaals ~ Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan;  daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees (1Tes 4:16-17)  Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees (Fil.3:21) Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees (1Kor.15:49).

5.  AFSLUITING:
Die opstanding van die Here Jesus Christus is nie deel van die Christelike geloof nie dit is die hart van die Evangelie en daarom kan die opstanding van Christus nie alleen beperk word tot die Paassondag (of die Maandag nét na Goeie Vrydag) nie.

Die Jode het op die sewende dag van die week byeengekom om God te aanbid ten einde God se Rusdag na die Skepping te gedenk ons as gelowiges kom egter byeen op die eerste dag van die week ten einde God se skepping van nuwe lewe te gedenk. Jesus lewe en omdat Hy lewe, mag ons ook lewe en lewe ons inderdaad Jesus het in Joh.14:9 gesê ~ Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: Wys vir ons die Vader?

Die opstanding is goeie nuus en daarom kan ons as gelowiges die Goeie Nuus deel met n wêreld wat besig is om te sterf - die Goeie Nuus van n lewe in Christus Jesus. Die dood spreek vir gelowiges nie meer die laaste woord nie, want Jesus het opgestaan uit die dood en deur op te staan uit die dood het Hy lewe en onsterflikheid aan almal wat in Hom glo, geskenk. 

Iemand het op n keer gesê dat Christus se opstanding n nuwe pad oopgekap het deur die vallei van die skadu van die dood en deur geloof kan ons Hom nou volg na die ewige lewe. C.S. Lewis noem Christus, the Pioneer of life, omdat Christus die deur oopgeforseer het wat sedert die dood van Adam gesluit was.

Met dit alles in gedagte, is die opstanding dus nie net Goeie Nuus vir die toekoms nie, maar ook wonderlike nuus vir die huidige, want dieselfde krag wat in werking was om Christus uit die dood te week, is vandag aan die werk om ons teen sonde staande te hou; om ons deur beproewing te dra. Dit is waarom Paulus in Fil.3:10 gesê het ~ Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood en in Fil.4:13 getuig Paulus dan ook van hierdie krag wanneer hy sê ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Jesus gee ook aan ons die wonderlike bemoedigende woorde in Matt.28:20 ~ ...onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. Hierdie is wonderlike en goeie nuus vir n wêreld wat al hoe eensamer raak; wat al hoe meer gebuk gaan onder eensaamheid en hartseer en stress - allerlei soorte druk en beproewing dus!  

Voor ek afsluit moet ons ook net eers 2 Kor.5:14-15 aanhaal ~ Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

Indien ons bely dat Jesus gekruisig is en opgetsaan het en ons sê dat Hy dit vir ons gedoen het, moet ons in die lig van Paulus se woorde hier in 2 Korintiërs ook sê dat ons nie meer vir onsself lewe nie, maar vir Christus Jesus as ons werklik ernstig nadink oor wat Hy vir my en jou gedoen het, móét ons slawe van Hom wees, want ons behoort nie meer aan onsself nie maar aan Hom.

Mag vandag as Opstandingsondag vir u besondere betekenis inhou.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag, 05 April 2015



e Hierdie versreël kom uit n gedig van die Griekse digter Aratus, wat omtrent drie honderd en vyftien tot twee honderd en veertig v.C. gelewe het