Monday, April 20, 2015

Die Tweede Brief van Petrus - 05 (“Ons Onuitblusbare Lamp”)

1.   INLEIDING:
      Die vorige keer wat ons na 2 Petrus 1:8-11 gekyk het, het ons gesien dat Petrus ons waarsku dat ons nie maar net agteroor kan sit na ons wedergeboorte en dink dat ons ge-arriveer het nie. n Gelowige wat dus min tot geen vrug tot sy geloof byvoeg en meer fokus op die dinge van die wêreld, as op die ewige, moet versigtig wees, want hy loop die gevaar om sy geloof te verloor - geloofsversaking m.a.w. (aposty).

      In vv.10-11 dring Petrus daarop aan dat ons, ons geloof vas sal maak en dit moet gedoen word deur ons verhouding met Christus te verinnig en wel deur vrug tot ons geloof by te voeg - om heiligmaking met erns dus na te jaag (vv.5-7).

2.   SKRIFLESING:
      2 Pet.1:12-21 ~ 12) Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is. 13) Ek ag dit immers my plig om julle aan te spoor deur julle hieraan te herinner so lank as ek nog lewe. 14) Ek weet dat my dood nie meer ver is nie. Ons Here Jesus Christus het dit trouens duidelik aan my bekend gemaak. 15) Daarom sal ek my daarvoor beywer dat julle ook ná my heengaan altyd hierdie dinge sal onthou. 16) Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien. 17) Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: "Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug." 18) Die stem uit die hemel het ons self gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was. 19) En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos 'n lamp wat in' n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte. 20) Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, 21) want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

3.   PETRUS SE BESORGDHEID (vv.12-15):
      Die tweede gedeelte van Petrus se brief begin, net soos die geval met die eerste gedeelte, met n verwysing na die apostel se besondere verhouding en verbintenis met sy lesers, maar ook sy verantwoordelikheid wat hy voel t.o.v. sy broers en susters en spesifiek t.o.v. die feit dat hulle nie sy basiese boodskap moet vergeet nie.

      Petrus se lesers het ál die basiese lering ontvang en gehoor, wat o.a. die tweeling-temas van geloof en werke en genade en inspanning, ingesluit het, maar dit was nodig om hulle weer aan al die Evangelie Waarhede te herinner. Enersyds omdat hulle oënskynlik baie gou en maklik vergeet het en anderyds omdat hulle in n tyd gelewe het waar mense onder die vaandel van God se genade en liefde, gedoen het net wat hulle wou (beide klink bekend nie waar nie?).  

      Ons ervaar in ons dag, presies hierdie selfde twee aanslae en ons sien dit daagliks meer en meer rondom ons. Modernisme neem hand-oor-hand toe in die Kerk van die Here Jesus waar alles aanvaar word en kompromie gedurig gemaak word, want die rede van die mens geniet deesdae hoër prioriteit as die Woord self - daar word gedurig gesê dat bepaalde Skrifnorme geïnterpreteer kan word soos wat die individuele gelowige dit wil  doen, want alles berus op persoonlike interpretasie en wanneer ons standpunt inneem daarteen, is ons skielik intollerant (onverdraagsaam) en fundamentalisties.
Fundamentaliste

      Dit waarteen Petrus sy lesers wil waarsku, is presies dit wat die afgelope klompie jare in ons eie land aan die gang is en dan spesifiek onder van ons leidende Afrikaanse denominasies en dit is nie maar net iets wat ons kan ignoreer nie, want soos in Petrus se tyd, smeer herdie tendens en tydsgees ook aan ons af en moet ons ook voortdurend herinner word aan die baisese beginsels en waarhede van die Skrif (vir n uitstekende beskrywing van wat in ons dag in Suid-Afrika onder van die Afrikaanse denominasies aan die gang is - luister gerus na John Piper se biografiese skets oor die lewe van J. Gresham Machen en Machen reaksie op Modernisme in die V.S.A. n paar dekades gelede - dit gee n utstekende verduideliking van modernisme en van wat hier by ons gebeur: www.desiringgod.org/biographies/j-gresham-machens-response-to-modernism).

      In die lig hiervan is Petrus gedetermineerd om sy lesers gedurig te herinner aan die gevare wat deur vals leraars versprei word, daarom dat hy in v.12 sê ~ ek sal julle altyd aan hierdie dinge herinner.

      In v.13-14 vind ons n verdere rede waarom Petrus sy lesers aanmoedig om die Evangelie Waarhede te onthou. Hy besef dat hy, net soos hulle, uiteindelik die dood tegemoet moet gaan en daarom moet hul fokus reg gefikseer wees. Hy het Jesus se profesie oor sy (Petrus se) lewe in Joh.21:18, hier in gedagte gehad ~ Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie. Jesus het hierdeur vir Petrus gesê dat hy n martelaarsdood gaan sterf (hy is onderstebo gekruisig) en daarom, omdat hy weet dat sy einde naby is, wil hy nou alles in sy vermoë doen om sy medegelowiges aan te moedig om die bekende leringe altyd in herinnering te roep, want net dít sal hulle staande hou.

      Net soos Petrus se tentwoning afgelê” gaan word en net soos Paulus ons ook in 2 Kor.5:1-4 waarsku dat ons tentwonings afgebreek gaan word, moet ons onsself voortdurend herinner aan die Bybelse waarhede en dit najaag en uitleef.

      Petrus se motivering om sy lesers te herinner, spruit verder ook uit die feit dat hy uit dure ervaring geleer het dat ons as glowiges nooit moet dink dat ons stewig en vas staan nie - hyself het Jesus nie lank tevore verloën nie en die vraag is, hoe ek en jy sal optree as ons onder durk verkeer en selfs gedreig word met die dood - sal ons Jesus verloën soos wat Petrus gedoen het? Trouens hy het Jesus drie keer verloën (Joh.18:15-27) - sal ons stewig genoeg geanker wees in die Evangelie om nie te swig onder druk nie?

      In v.15 het ons te doen met n baie moeilike uitspraak, wanneer Petrus sê ~ Daarom sal ek my daarvoor beywer dat julle ook ná my heengaan altyd hierdie dinge sal onthou. Wat het Petrus hiermee bedoel? Hoe gaan hy homself ná sy dood daarvoor beywer dat hulle hierdie dinge nog gaan onthou? Daar bestaan hoofsaaklik twee teorieë hieroor:
   Het hy bedoel dat hy nog iets sal skryf voor hy sterf en dat hulle dit dan as nalatingskap kan lees? Baie mense beweer dat hierdie opmerking van Petrus na die tweede eeuse Apokriewe boeke verwys, wat die sogenaamde handtekening van Petrus dra, maar omdat die Apokriewe boeke nie deel uitmaak van die kanon van die Bybel nie en omdat dit nie Gees geïnspireerd is nie, het Petrus beslis nie daarna verwys nie.
   Of het hy hier na die Evangelie van Markus verwys? Hierdie moontlikheid word oorwegend aanvaar as die verklaring vir sy opmerking in v.15.

      Kom ek verduidelik kortliks - In die Markus Evangelie self word daar nie gesê wie die skrywer is nie.  Baie vroeg reeds is die naam van Markus egter daaraan verbind en in die opskrif vermeld. Hy was die seun van Maria (Hand 12:12) in wie se huis die gelowiges in Jerusalem bymekaar gekom het en waar Jesus en sy dissipels ook vermoedelik die laaste keer die paasmaaltyd saam geëet het (14:13-15).

      Gedurende Paulus se tweede gevangenskap in Rome laat hy vir Timoteus weet dat Markus gehaal en na hom toe gebring moet word (2 Tim 4:11).  Ongeveer daardie tyd was Petrus ook in Rome en daar praat hy van Markus as "my seun" (1 Pet 5:13).  Hy was sy geestelike vader.  Markus was goed met Paulus en met Petrus bekend en kon op grond van hul getuienis, 'n betroubare Evangelie skryf.  Baie vroeg reeds word in die oorlewerings vertel dat Markus die tolk vir Petrus was. Petrus was dus instrumenteel in die skrywe van die Evangelie van Markus, alhoewel Markus die Evangelie geskryf het, was hy oënskynlik bloot Petrus se tolk of argivaris of sekretaris. Markus het volgens verdere tradisie, die Evangelie kort voor of net ná die dood van Petrus voltooi - dit moes dus teen die jaar 64 n.C. in Rome gewees het.
     
      Tussen die jare 1947 en 1956 is die Dooie See Rolle in die Qumrngrotte in die Wesbankwoestyn in Palestina ontdek. Spesifiek in Grot 7 is n fasinerende ontdekking gemaak - daar is o.a. n papirus fragment (genommer 7Q5) van Mark.6:52-53 ontdek wat as volg lees ~ want hulle het nie werklik verstaan wat die vermeerdering van die brood beteken nie; hulle kon dit nog nie begryp nie. Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan In dieselfde grot is fragment 7Q10 ontdek (ek vertrou dat ek en Jeanne  hierdie twee fragmanete D.V. aan die einde van die jaar in London sal kan sien!) en hierdie fragment was heel moontlik n deel van 2 Pet.1:15 wat as volg lees ~ Daarom sal ek my daarvoor beywer dat julle ook ná my heengaan altyd hierdie dinge sal onthou Daar bestaan dus n groot moontlikheid dat 2 Petrus saam met die Evangelie van Markus na die gemeenskap van Qumran vir veilige bewaring gestuur is - hierdie grot is in 68 n.C. afgelsuit, net voor die Romeine in 68 of kort daarna, die gemeenskap en dorpie in geheel verwoes het.

      Volgens die tweede eeuse Irenaeus het Markus hierdie Evangelie na die dood van Paulus en Petrus die lig laat sien en op hierdie wyse - deur die Evangelie van Markus, het Petrus  dus weer die Evangelie waarhede aan sy lesers bevestig en beklemtoon en dit wil dus voorkom asof die Dooie See Rolle hierdie teorie t.o.v. die verklaring vir 2 Pet.1:15 ondertseun.

4.   PETRUS SE GETUIENIS (vv.16-18):
      In vv.16-18 verdedig Petrus homself teen bepaalde beskuldigings wat waarskunlik deur valsleraars teen hom ingebring is. Wat is hierdie beskuldigings? Alles gaan oor die woord μῦθος (muthois), wat letterlik, fabels of storietjies beteken en gewoonlik handel oor bonatuurlike wesens, -gebeure, of kulturele helde.

      Petrus word daarvan beskuldig dat hy stories, of verdigsels opgedis het oor n sogenaamde wederkoms. Hierdie beskuldiging wat teen Petrus se kop gegooi was, was niks nuuts nie, net soos wat dit vandag nogsteeds niks nuuts is nie. Ons lees reeds in Eseg.20:49 dat Esegiël oor dieselfde ding kla teenoor die Here ~ Toe sê ek:"Ag, Here my God, hulle sê ek praat net altyd in raaisels.

      Petrus sê in geen onduidelike taal vir sy lesers dat toe hy en die ander apostels oor die wederkoms van Christus getuig het, dit die absolute waarheid was. Die vals leraars en twyfelaars het nie n probleem met Jesus se aardse bestaan gehad nie, want daar was net té veel getuienisse rondom die feit van Jesus se aardse bestaan. Hierdie ongelowiges se probleem het egter veel dieper gelê as Jesus se fisiese teenwoordigheid op aarde - hulle probleem het in hulle begrip en insig t.o.v. die doel met Jesus se aardse missie gelê; met die doel waarom Hy bestaan en gekom het - hulle beskuldig Petrus derhalwe daarvan dat hy n vals teologie oor die wederkoms fabriseer en saamflans.

      Petrus getuig van sy eie en die ander apostels se eerstehandse ervaring toe hulle self die Messias gesien het - hulle was ooggetuies van Jesus se heerlikheid ~ Petrus en die ander het intussen vas aan die slaap geraak, en toe hulle wakker word, sien hulle die hemelse glans van Jesus en ook die twee manne wat by Hom staan (Luk.9:32).

      In v.17 gaan Petrus voort en getuig hy daarvan dat God die Vader self getuig het dat Jesus, Sy Seun is, want terwyl hy en van die ander apostels op die Berg van Verheerliking was, het hulle Jesus in Sy hemelse heerlikheid aanskou en het Petrus vir Jesus gesê dat hulle vir Jesus, Moses en Elia, hutte moes bou en terwyl dit alles gebeur, hoor hulle die Vader se stem vanuit die hemel wat sê ~ Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom (Matt.17:5). Hierdeur het die Vader natuurlik self getuig van Sy Seun se krag en gesag en majesteit en daarom ook dié van die Evangelie boodskap.

      Ons sien in Ps.2:6-7 al n bevestiging daarvan dat Christus ongetwyfeld die Seun van God is ~ Dit is Ek wat hom as my koning gesalf het op Sion, my heilige berg." Ek wil vertel wat die Here aangekondig het. Hy het vir my gesê: "Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader.

      In v.18 roep Petrus vir Johannes en Jakobus in as getuies daarvan dat hulle God se stem op die Berg van Verheerliking gehoor het en dat hulle getuies was van dit wat reeds in Ps.2 geprofeteer was - hy is dus nie besig met verdigsels soos waarvan hy beskuldig word nie.

      Petrus is egter nie alleen besig om sy getuieinis te verdedig nie, hy is terselfdertyd besig om sy en die ander apostels se gesag as apostels en byvoorbaat die Nuwe Testament (wat nog nie op daardie stadium saamgestel was nie), te bevestig deur daarop te wys dat hulle getuies is van wat reeds deur die Psalmis en die profete in die Ou Testament getuig is. Dit is derhalwe asof hy wil sê: Lesers, dit wat ek vir julle vertel van Jesus se wederkoms, is waar en seker, want ek, saam met die ander apostels, is getuies daarvan en ons grond dit ook op die gesag van die Ou Testament waarin ons en julle tog immers met oorgawe glo - hierdie aantygings van die wolwe in skaapsklere is dus van alle waarheid ontbloot.

5.   PETRUS OOR PROFETIESE OPENBARING (vv.19-21):
      In die laaste drie verse van hoofstuk 1 (v.19-21) verskuif Petrus die die fokus van sy eie ooggetuienis na die Profetiese Woord van God. Wanneer Petrus verwys na die Profetiese Woord" verwys hy natuurlik na die Ou Testament en wend hy dit aan ter ondersteuning vir sy argument in vv.3-11, nl. dat die Evangelie die absolute Waarheid is.

      Ons het in v.17 gesien dat Petrus getuig het van wat hy op die Berg van Verheerliking gesien en ervaar het, nl. die verheerliking van Jesus en hy sê nou hier in die laaste verse, dat die verheerliking van Jesus nié die opheffing van die Ou Testament impliseer nie, maar juis die outensteit van die boodskap en profesië van die Ou Testament bevestiging. 

      Petrus se ervaring op die Berg van Verheerliking het al die profesië t.o.v. Jesus bevestig en dit het tot gevolg dat Petrus met verwagting uitsien na die wederkoms van Christus. Presies dit was dan ook die kruks van Petrus se boodskap op Pinksterdag (Hand.2:16-21). Hy is meer as ooit tevore daarvan oortuig dat sy en die ander Apostels se boodkskap waar en seker is, want net soos wat die Here in die Ou Testament deur Sy profete gespreek het, het Hy dit weer gedoen deur die verheerliking van Jesus op die Berg en waarvan hy natuurlik n ooggetuie was en daarom moet ons telkens terugkeer na die Ou Testament ten einde die vervulling daarvan in die Nuwe Testament te kan sien - maar waarom is dit nodig?

      Ons lees in v.19 dat die Ou Testament soos n skynende lig in die donker is. Hierdie metafoor is nie onbekend aan die Ou Testament nie - bv. Ps.119:105 ~ U woord is n lamp vir my voet en n lig vir my pad. Ons moet daarom met die lig of die lamp van die Woord deur hierdie donker lewe loop, totdat die helder Môrester in ons harte opkom. Wat beteken dit? Dit beteken dat ons met die lamp tot ons beskikking (die Woord), aandag sal skenk aan die teregwysing; die waarskuwings; die leiding en die bemoediging van die Skrif en dit sal daartoe lei dat ons veilig deur hierdie lewe sal gaan en nie oorweldig sal word deur die geestelike duisternis van hierdie wêreld nie, totdat Christus weer sal kom. Ons hele lewensloop moet dus beheer word deur die Woord van God, want dit is die Waarheid - dit is geprofeteer in die Ou Testament en bevestig deur sy en andere se ooggetuienis van o.a. die verheerliking van Jesus.

      Petrus het pas verwys na die profesië van die Ou Testament en hy volg dit nou op in vv.20-21, deur n kardinaal belangrike saak aan te raak, wanneer hy sê dat ~ geen profesie in die Skrif op grond van eie insig reg uitgelê (kan) word nie, 21) want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig. Hy sê dat geen profesie voortgebring is deur persoonlike interpretasie van die profeet nie. Geen profesie wat in die Ou Testament opgeneem is was gegrond op n vertolking, of die kennis en gevoelens van die profeet nie, maar dit is voortgebring deur die Here self en is onder leiding en die inspirasie van die Heilige Gees déúr die profeet gebring. Hierdie feit is ook deur die ander profete beklemtoon en bevestig. Lukas getuig ook hiervan deur bv. in Hand.3:21 te sê ~ God (het) van ouds af gespreek deur die mond van al sy heilige profete. Paulus weer het in 2 Tim.3:16-17 gesê ~ Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

      Iemand het hierdie feit baie mooi saamgevat toe hy gesê het, No scriptural prophecy is due to the will of man, but all came from men speaking from God when moved by the Holy Spirit. Prophecy is God's word, not the words of man.

      Petrus laat dus geen twyfel by sy lesers dat dít wat die valsleraars verkondig, van alle waarheid ontbloot is en dat hulle moet terugkeer na die Woord van God - Sy Woord wat die enigste Waarheid is - Sy Woord wat deur die profete verkondig is en wat deur die Nuwe Testament bevestig is, waarvan hy n ooggetuie was.

6.   TOEPASSING:
      Die primêre doel van Petrus met hierdie eerste hoofstuk van sy tweede brief is om ons roeping en verkiesing te bevestig en vas te maak en voortdurend in herinnering te roep (v.10). Hy wil hê dat ons die opregtheid van ons wedergeboorte moet geniet en dit te bevestig en te bewys deur goeie werke - n heilige lewe te leef en broederliefde en liefde vir ons naaste te lééf (vv.5-7), wat meer is, hy herinner ons daaraan dat God ons reeds die krag gegee het om so n heilige lewe te leef (v.3) en hy het ook gesê dat hierdie krag n realiteit word namate ons God se Woord meer en meer deel van ons lewe maak - daardie Woord wat keer op keer al bewys is as die enigste en hoogste Waarheid.

      Elkeen van ons het die onuitblusbare lamp van profesie (die Woord van God) op ons lewenspad nodig - lig wanneer ons donkertye ervaar; lig om ons voete in die regte rigting te rig, maar dit vra van ons dissipline en nederigheid en die hulp van die Helige Gees om die Woord pligsgetrou en toegewyd te bestudeer:
   Dissipline: Ons kan net God se wil ken as ons SY Woord toegewyd bestudeer en deel van ons lewe maak. John Piper het op n keer gesê: The more disciplined we are in construing meaning out of Scripture instead of pouring our ideas into Scripture, the better we will understand Gods promises and the more we can have godliness.
   Nederigheid:  Dit is slegs nederige mense wat hulle ten volle kan onderwerp aan die gesag van die Skrif - trotse mense plooi die Woord sodat dit hulle pas (dit is wat die moderniste doen na wie ek aan die begin verwys het).
   Die Heilige Gees: Net die Heilige Gees kan ons trotse harte en rebelse geaardheid verander om ons te onderwerp aan die gesag van die Woord.

      Laat ons daarom agslaan op Petrus se besorgdheid oor sy lesers wie hulle ore uitleen vir dwaalleraars; laat ons bewus wees van die feit dat die dwaalleer van modernisme en alles wat daarmee saamgaan, nie net van toepassing was op die eerste eeuse gelowiges nie, maar dat dit net so relevant in ons dag is, trouens met soveel meer mense in die wêreld as destyds en die geweldige impak wat die kuberwêreld op ons het, glo ek stellig dat die aanslag in ons dag soveel meer relevant en gevaarlik is as in Petrus se dag.


      Mag ons ook voortdurend terugdink en herinner word, en mekaar herinner, aan die onveranderlike Skrifwaarhede wat ons kan deurdra tot op die heerlike dag waarop Jesus Christus gaan terugkeer en die ewige en herskepte lewe vir ons sal aanbreek.

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente - Sondagoggend 19 April 2015