1. SKRIFLESING:
Matt.9:35-38
~ Jesus het
al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges
geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal
gesond gemaak. 36Toe Hy die menigtes sien, het Hy
hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie
’n wagter het nie. 37Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot,
maar die arbeiders min. 38Bid dan die Here aan wie die oes behoort,
om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”
2.
AGTERGROND:
In
die voorafgaande gedeeltes van Matteus het die apostel vir ons die reaksie van
verskillende mense op Jesus se derde reeks wonderwerke weergegee. Hy gaan egter
nou voort en gee hy ʼn verdere opsomming van Jesus se bediening in Galilea.
Galilea was ʼn gebied van nagenoeg 7000 km² – ʼn gebied van ʼn bietjie meer as ʼn
derde van die grootte van Gauteng (Gauteng is
nagenoeg 18000 km² groot),
waarin daar so om en by 200 stede en dorpies geleë was en as ʼn mens die
gemiddelde grootte van die stede, dorpies en nedersettings in ag neem, kan ons
bereken dat daar ongeveer 3 miljoen mense in Jesus se tyd, in Galilea was (in
vergelyking met 7,3 miljoen mense nou in Gauteng en 4,6 miljoen wittes in RSA).
Tydens
hierdie gedeelte van Jesus se bediening in Galilea, sien ons dat Hy oral in Galilea
rond gegaan het en soos v.35 dit stel, het ...Hy die
mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en
elke soort siekte en kwaal gesond gemaak.
Jesus
het baie tyd in die Sinagoges spandeer, waar hy die mense geleer het. Wat
interessant was van die sinagoges, is dat dit reeds gedurende die Babiloniese
ballingskap ontstaan het (vanaf nagenoeg 586 v.C.) en hierdie sinagoges het die middelpunt
van die Joodse gemeenskappe gevorm. Die Sinagoge was gewoonlik op ʼn heuwel of
naby ʼn rivier gebou en is tot ʼn groot mate sonder ʼn dak gebou, sodat die mense
kon opkyk na die hemel as deel van hulle aanbidding. Wat ook interessant is,
was dat daar gewoonlik ʼn lang paal by die Sinagoge opgerig is (amper
soos ʼn hedendaagse kerktoring – wat ook aan die verdwyn is!), sodat vreemdelinge baie gou hul weg
kon vind na die Sinagoge.
Bo
en behalwe die Paasfees en verskeie ander feesdae, het die lede van die
Sinagoge gewoonlik gedurende die Sabbatdag en ook op die tweede en die vyfde
dag van die week in die Sinagoge bymekaar gekom en dan is daar baie tyd
spandeer aan die voorlees van die Woord (die Wet van Moses
– eerste vyf boeke van die O.T.) terwyl
een van die Rabbi’s lering oor die gelese gedeelte gegee het. Omdat daar ook ʼn
beleid van “vryheid van die Sinagoge” bestaan het, kon besoekende Rabbis ook
vryelik die Woord uitlê en daarom het Jesus (en ook later Paulus)
hierdie situasie mildelik
uitgebuit en die Evangelie in die hart van die Joodse gemeenskap verkondig!
3.
JESUS
SE BEDIENING (Matt.9:35-36):
Wat was die kern van Jesus se bediening
in Galilea op hierdie stadium?
·
Lering: Hy het
die Skrifte in die Sinagoges en ander plekke vir die mense geleer. V.35b lees
as volg in die NKJV ~ …teaching in their synagogues…. Jesus
het dus lering gegee – Hy het dit gedoen omdat Hy geweet het hoe gebrekkig die
mense se kennis van die Skrifte was ~ ...want hulle was moeg en hulpeloos
soos skape wat nie ’n wagter het nie (Matt.9:36).
·
Prediking: Ons lees ook in v.35c dat Jesus, ...die evangelie van die koninkryk verkondig het. Die NKJV vertaal v.35c as volg ~ ... preaching the gospel of the kingdom….
Prediking is nie dieselfde as lering nie. Lering is onderrig en verklaring van
die inhoud van die Skrif, terwyl prediking meer fokus op die boodskap van die
Woord en daarom sluit dit ook die praktiese toepassing van die Woord in. Gebalanseerde
prediking sou ek (ek besef dat hierdie ʼn aanvegbare definisie is) dus definieer as lering oor die gelese gedeelte in
die Woord, met ʼn sterk, praktiese toepassing van die gedeelte op die
toehoorders se lewe, maar die twee kan beslis ook apart van mekaar staan en in
die geval van v.35 het die Here Jesus ʼn duidelike onderskeid tussen die twee
gemaak.
Wat is die inhoud van Jesus se prediking?
Die Evangelie van die Koninkryk is
die Goeie Nuus van Redding en versoening met God die Vader deur die Middelaar
en Messias, Jesus Christus en daarvoor het Jesus deurgaans vanuit die
Ou Testament die Evangelie gepreek en het Hy die Skrif vir hulle oopgemaak,
sodat hulle deur die Profete, die Messias kon raaksien.
·
Genesing: Derdens
het Jesus het ook volgens v.35d, ...elke soort
siekte en kwaal gesond gemaak. Die
feit dat Jesus siektes genees het, was o.a. bewys daarvan dat Hy waarlik die
Messias was, dit is waarom Hy later vir die dissipels van Johannes die Doper
gesê het ~ En Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: Gaan vertel aan
Johannes wat julle hoor en sien: blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses
word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die
evangelie verkondig (Matt.11:4-5).
Jesus het egter nie net fisiese siektes
genees ter wille daarvan dat Hy Sy Goddelikheid daardeur wou bewys nie – nee,
Hy het deurentyd ʼn ander genesing in gedagte gehad – die genesing van verlore
siele. Wat die mensdom die meeste nodig het, is vergifnis van ons sonde en
versoening met God en dit is die kruks van Jesus se sending na die wêreld en
dit is presies wat Hy aan die Kruis bewerkstellig het – dit is die ware Goeie
Nuus van die Koninkryk wat Jesus gebring het. Dit is wat Hy vir elkeen van ons
wat hier teenwoordig is en wie in en deur Hom gered is, gegee het – vrywaring
van God se wraak; die verlossing van ʼn ewige verdoemenis in die hel; ʼn geskenk
van ewige vrede en versoening met God die Vader – hoe kan ons stil bly daaroor;
hoe kan ons selfsugtig daaroor wees as derduisende rondom ons verlore gaan –
ons durf nie stilbly nie, want dan is ons uiters selfsugtig.
4.
JESUS
SE MEDELYE (vv.37-38):
In vv.37-38 vind hier egter ʼn keerpunt in
Jesus se bediening plaas, want soos wat Hy deur Galilea beweeg het, was Hy diep
getref deur die nood wat daar onder die inwoners bestaan het en ons het in v.36
gesien dat Hy ...hulle innig jammer gekry het. Hierdie eienskap
van Jesus se persoon, is sekerlik dié uitstaande kenmerk van Sy karakter, nl.
empatie en intense medelye (compassion).
Wanneer ons kyk na Jesus se empatie en
dan spesifiek na Sy medelye in hierdie bepaalde situasie, sien ons dat Hy diep
getref was deur die massa mense se nood en die primêre rede daarvoor was die
feit dat hulle geteister en afgeknou en gebreek en hulpeloos gelaat was, omdat
hulle leierloos was – net soos skape sonder ʼn herder – dwalende; drywend en
hulpeloos en daarom is hulle blootgestel aan die aanslae van die wêreld; van
die wolwe van hierdie wêreld en van die bose!
Die vraag is, waar is die massas se
leiers – is hulle regtig leierloos? Die hartseer is dat baie van hulle wel
leiers het, maar dat hulle leiers in dieselfde toestand verkeer en baie dikwels
selfs in ʼn erger toestand, omdat hulle as misleiers optree met of sonder
bymotiewe en as ek sê “sonder bymotiewe”, dan is dit omdat hulle self oor min
of geen kennis beskik, of selfs geen verhouding met die Here Jesus Christus het
nie – hierdie leiers is dus geen leiers nie – leiers wat nié voldoen aan die
voorskrifte soos o.a. uiteengesit in Titus 3 nie en daarom nie in ʼn posisie om
hul volgelinge te lei nie.
Dit is wat Jesus voor Hom gesien het en
Sy hart gaan uit na hulle, dit is waarom Hy in Luk.1:52-53 Sy eie missie
definieer met die volgende woorde ~ Die wat gesond is, het die
geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Jesus is dus by uitnemendheid die Herder vir die herderlose.
Dit is egter belangrik om daarop te let
dat Jesus se medelye met hierdie “dwalende skape” nie tot gevolg het dat Hy
hulle onvoorwaardelik vergewe, of oorsien nie – nee, dit sal kontra Sy
heiligheid wees. Die lydende massas het dus geen verskoning nie, maar Jesus wil
iets omtrent hulle situasie doen en juis daarom het Hy na die wêreld gekom. Die
engel wat aan Josef verskyn het toe Josef homself voorgeneem het om van Maria
te skei oor haar swangerskap, het Jesus se sending na die wêreld baie mooi
opgesom toe hy vir Josef in Matt.1:18 gesê het ~ ...jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal
verlos. Hy wil
die siekes; die lydendes; die verwarde skare, verlos van hul geestelike siekte,
nl. hul gevalle toestand, deur hul sonde te vergewe.
Jesus weet dat Hy nie meer lank op aarde
sou wees om, om te sien na die massas nie en Hy het nie net medelye met die
massas en daarby eindig dit nie – nee, Hy rig Homself tot Sy dissipels en rig
twee versoeke – nee, opdragte tot hulle (is ek
en jy nie ook dissipels van Jesus nie? Daarom rig Hy Hom ook vanoggend opnuut
weer tot ons).
In reaksie op Jesus se medelye met die
verwarde en verdwaalde mense verander Hy Sy metafoor van verdwaalde skape, na ʼn
oes wat ryp en gereed is om van die lande gehaal te word. Hy sê in v.37-38 vir
Sy dissipels ~ Die oes is groot, maar die arbeiders min.
Wanneer
Jesus hier verwys na ʼn “oes”, verwys Hy nié na oestyd wat gewoonlik in die
Woord verbind word met die oordeelsdag nie – dink hier bv. aan Openb.14:15-16 ~
En ’n ander
engel het uit die tempel gekom en met ’n groot stem geroep na Hom wat op die
wolk sit: Slaan u sekel in en maai, want die uur het vir U gekom om te maai,
omdat die oes van die aarde oorryp geword het. En Hy wat op die wolk sit, het
sy sekel oor die aarde laat gaan, en die aarde is afgemaai, of
bv. Joël 3:13 ~ Steek die sekel in, want die oes
is ryp! Kom trap, want die parskuip is vol, die kuipe loop oor! Want hulle
boosheid is groot. Die oes waarvan Jesus hier praat is ʼn oes
van ʼn menigte mense wat gereed is om die Evangelieboodskap te hoor. Die lande
van uitverkorenes is dus gereed om geoes te word – om die boodskap van
verlossing in en deur Christus Jesus, te hoor.
As
dit dan die geval is, wat moet gedoen word? Moet Jesus se dissipels kursusse
doen in Evangeliese metodiek? Moet ons sendelinge begin werf en ondersteun? Moet
ons groot bedrae geld begin bymekaar maak ten einde sendelinge te kan uitstuur?
Hierdie is moontlik die regte stappe om te volg, maar dit is sekondêre stappe wat
eers later gevolg moet word, maar eers moet die primêre stap gevolg word – v.38
~ Bid dan die
Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes –
gebed! Gebed is die beginpunt – gebed waarin ons vra dat die Here werkers sal
oprig om die oes in te bring.
Die
probleem is dus dat daar nie genoeg werkers is om die oes in te bring nie. Die
werkers is min en daarom moet ons bid dat nog meer werkers opgerig sal word ten
einde die oes in te bring.
Dit
is egter ook van kardinale belang om te besef dat ons nie net moet bid vir
werkers om uitgestuur te word nie, maar dat ons ook sal bid dat die régte mense
uitgestuur sal word en wie is hulle? Hier wil ek op die rug van my swaer ry (my “middel-seun” se skoonpa – Doug van
Meter) wat die afgelope Sondag tydens die afsluitingsboodskap van die
jaarlikse SOLA5 konferensie juis oor hierdie onderwerp gepreek het (“The Missionaries of Missions”) en
ek wil net sy hoofpunte herhaal sonder om in detail daarop in te gaan en hy het
dit gedoen aan die hand van Hand.13:1-3 ~ EN daar was in die plaaslike gemeente in Antiochíë sekere profete
en leraars, naamlik Bárnabas en Simeon wat Niger genoem word, en Lúcius, die
Cirenéër, en Manáen, wat saam met Herodes, die viervors, grootgeword het, en
Saulus. En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die
Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk
waarvoor Ek hulle geroep het. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die
hande opgelê het, laat hulle hul gaan.
·
Wat duidelik uit hierdie gedeelte blyk, is
dat sendelinge, eerstens lede van die plaaslike gemeente moet wees ~ EN daar was in die plaaslike gemeente....
·
Tweedens moet hulle betrokke lidmate wees
wat in die gemeente bedien – volwasse en geestelike ryp lidmate – nie die
oortollige, onbetrokke, geestelik onvolwasse en onproduktiewe lidmate nie, maar
die bestes (lees
hiervoor maar net weer Hand.11).
·
In die derde plek moet hierdie manne beskik
oor die kwaliteite van ʼn ouderling en daarom moet hulle kan preek en leer en in
staat wees om gemeentes te plant.
·
Vierdens sien ons in Hand.13:3 dat die
gemeente hulle moet uitstuur en derhalwe ook moet versorg. Doug het in sy preek
gesê: “It is costly to send out
missionaries, because they are the best men in your Church” en omdat hulle
die beste is, moet hulle ook behoorlik en voldoende versorg word.
·
Hiermee saam moet ons laastens besef dat
mense wat uitgestuur word, geroepenes is wie ʼn geweldige taak op hul skouers
het. Eseg.22:27-31 skets vir ons ʼn soortgelyke agtergrond waarteen Jesus na die
skare voor Hom gekyk het en hoor dan wat die Here vir ons sê wat die primêre
taak van ʼn ware “sendeling” is ~ Die amptenare in die land is soos
verskeurende wolwe. Hulle moor, hulle laat mense doodgaan, hulle maak oneerlike
wins. 28Die profete in die land pleister alles toe: hulle sien
gesigte wat nie daar is nie, verkondig leuens as waarsêery en sê: ‘So sê die
Here my God,’ terwyl Ek niks gesê het nie. 29Die burgers van die
land verdruk en beroof mense. Hulle buit armes en mense in nood uit en hulle
verdruk die vreemdeling asof daar geen reg bestaan nie. Dan veral hierdie
gedeelte ~ ...30Ek
het iemand tussen hulle gesoek wat ’n muur sou bou en vir die stad in die bres
sou tree dat dit nie vernietig word nie, maar Ek het niemand gekry nie. 31Daarom
laat Ek my toorn oor hulle losbreek en vernietig Ek hulle met die vuur van my
gramskap. Ek laat hulle kry wat hulle verdien,” sê die Here my God.
In
hierdie geval kon God nie iemand kry wat voldoen het aan Sy vereistes nie, maar
ons leer wel uit hierdie gedeelte wat God van so ʼn man verwag, nl. dat ook hy
in die bres moet staan vir die verloregaande massas – hy moet derhalwe in die
eerste en laaste plek, ʼn voorbidder wees. Hier kan ons ook dink aan Moses toe
die volk die goue kalf aanbid het en Moses ingetree het vir die volk by God en
gevra het dat Hy hulle nie sal uitwis nie, maar genade teenoor hulle sal
betoon.
Hierdie
voorbeeld van voorbidding sluit baie mooi aan by dit wat Jesus gesê het, Sy
dissipels moet doen, nl. om vir die verdwaalde skape te bid, maar natuurlik
impliseer hierdie feit nié dat ons niks anders sal doen as om te bid nie; dit
beteken eerder dat ons níks sal doen sonder gebed nie. Ons moet derhalwe altyd
onthou dat wat ook al gedoen word in ons uitreiking na die verdwaalde skape,
dit in die eerste en laaste plek, God se werk is.
5. TOEPASSING:
Die
vraag waarmee ons nou gekonfronteer word, is of ons as “gewone gelowiges” net
opgeroep word om te bid vir “arbeiders in die oes” en of ons self ook betrokke
moet raak?
Eerstens
wil ek maar net weer sê dat ons nié ons verantwoordelikheid en Jesus se opdrag
aan ons om te bid oor en vir arbeiders in die oes, mag ignoreer nie, maar
tweedens wil ek dit ook kategories stel dat ons as lidmate van die plaaslike
kerk, ʼn Bybelse opdrag én mandaat het om die Evangelie met andere – met “die
verdwaalde skape” rondom ons, te deel. Op grond waarvan sê ek dit?
·
ʼn
Begeerte as gelowiges om gehoorsaam te wees: In Matt 28:19 gee Jesus opdrag aan
Sy dissipels om dissipels van alle nasies te maak – dit sluit ook “die
Suid-Afrikaanse nasie hier rondom ons” in en daarom het nie een van ons ʼn
verskoning omdat ons te oud is, of nie geroep is, of wat ook al nie, want die
“verre lande” is hier reg rondom ons.
Petrus
sê in 1 Pet.3:15b ~ ...Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen
wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe (sien ook Kol.4:6).
Dit impliseer egter nié dat ons agteroor kan sit en wag tot iemand na ons toe kom
en vrae aan ons vra nie – nee, ons moet getuig teenoor almal wat vrae in hul
gemoed ronddra (dit is by
implikasie al die “verdwaalde skape”) en daarom moet ons sensitief en
biddend uitreik na verlore mense – ons moet gereed wees om te alle tye en onder
alle omstandighede, gereed te wees om te getuig – om te evangeliseer – maar ook
nie net om gereed te wees nie, maar om dit ook inderdaad te doen!
·
Ons moet in die tweede plek besef dat die mensdom se grootste behoefte is om gered
te word. Liefde vir die verloregaandes moet dus my dryfveer wees waarom ek
uitreik na andere – waarom? Omdat Christus my so lief gehad het dat Hy Sy lewe
vir my afgelê het. 1 Joh.3:1 ~ Kyk watter groot liefde die Vader
aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die
wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie. In Matt.7:12 sê Jesus dat ons,
ons naaste lief moet hê en as dit die geval is, moet ek huil oor sy verlore
toestand en daarom, op grond van my liefde vir hom en op grond van Christus se
liefde vir my, moet ek uitreik na hom met die Evangelieboodskap.
·
Ons hoogste en finale rede waarom ons moet
evangeliseer, is God se liefde vir my en my verantwoordelikheid om Hom in en
deur my lewe te verheerlik en die toppunt hiervan is wanneer ons die Waarheid
aangaande Christus Jesus met ander deel.
Daar
is nog vele ander redes waarom ons die Evangelie met andere moet deel, maar a.g.v.
ʼn gebrek aan tyd kan ons Woensdagaand tyd aan die ander redes spandeer.
Ons
mag nooit agteroor sit en dink dat evangelisasie die werk van sendelinge of die
ouderlinge van die gemeente is nie – indien ons so sou redeneer is ons niks
anders as arrogant en ongehoorsaam nie. Ons mag nooit ongeërgd wees hieroor
nie, want duisende gaan hel toe en hulle móét die Evangelie hoor.
Hierdie
opmerking bring my by ʼn laaste opmerking of vraag. Baie Gereformeerdes wat onvoorwaardelik
glo aan die uitverkiesing redeneer en sê dat indien mense uitverkies is, is dit
mos nie nodig om die Evangelie te deel nie, want diesulkes sal mos nog “inkom”.
As ons so redeneer, dan is ons waar John Ryland was toe hy vir die ywerige en
gereformeerde sendeling, John Carey gesê het: Sit down, young man; when God wants to convert the heathen, he’ll do it
without your help and mine.
Ook
wat hierdie redenasie betref, kan ons baie redes aanvoer waarom dit steeds
nodig is om te evangeliseer ten spyte van ons oortuiging oor die uitverkiesing.
Net kortliks die volgende:
Soos
ons reeds gesien het, het Christus ons die opdrag gegee om uit te gaan met die
Evangelie (Matt.28:18-20). God
sál Sy uitverkorenes “inbring”, maar Hy doen dit deur die verkondiging van die
Evangelie – Rom.10:13-17 ~ ...want elkeen
wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. 14Maar hoe kan ’n
mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie
van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15En
hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe
wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.
Ten
diepste dink ons baie dikwels dat die redding van mense afhang van ons kennis;
ons optrede en ons inspanning. So ʼn opvatting is natuurlik nie alleen ʼn mistasting
nie, maar dit is ook onbybels, want andere se redding hang nie van ons kennis
of tegnieke af nie – Hy red en Hy red soewerein – Hy beskik dus oor die besluit
wie Hy red en wie nie en tweedens besluit Hy oor hoe dit gedoen word en deel
daarvan is dat Hy ons wil gebruik in die proses.
Laat
ons die woorde van Paulus ernstig opneem en deel van onsself in hierdie verband
maak ~ Wat my
betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid
van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid
gekom nie. 2Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te
praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Kor.2:1-2). Om die Evangelie te deel met
andere het dus niks te doen met my intelligensie of kennis of metodes nie, dit
het net en alles te doen met die mededeling, of verkondiging van die Waarheid –
die Evangelie beskik self oor die krag en mag om te red en nie ons nie (Rom.1:16-17) – die Heilige Gees sal deur die
verkondiging van die Evangelie werk ten einde die uitverkorenes te red. Die
enigste rede waarom ons die Evangelie dus deel, is omdat ons opdrag van
Christus self ontvang het om dit te doen – ongeag....
As
ons sê dat ons navolgers van Jesus is, moet ons begin wegkyk van onsself en na
andere rondom ons en met medelye en empatie uitreik na die hulpeloses wat soos skape sonder ’n wagter is.
6.
AANHALINGS:
Ek
wil graag afsluit met enkele aanhalings:
"The Great Commission is not an option to be considered; it is a command to be obeyed" — Hudson Taylor
“The spirit of Christ is the spirit
of missions. The nearer we get to Him, the more intensely missionary we
become.” ― Henry Martyn
“Don't complain to yourselves that
you can't go to the mission field! Thank God for bringing the mission field to
you!”
― Brother Andrew, God's Smuggler
― Brother Andrew, God's Smuggler
"Lost people matter to
God, and so they must matter to us." — Keith Wright
"The Bible is not the basis
of missions; missions is the basis of the Bible" — Ralph Winter, missiologist
"Any church that is not
seriously involved in helping fulfill the Great Commission has forfeited its
biblical right to exist." — Oswald J. Smith
"We talk of the Second
Coming; half the world has never heard of the first." — Oswald J. Smith
"The evangelization of
the world waits not on the readiness of God but on the obedience of
Christians." -- Bill M. Sullivan
"The gospel is only
good news if it gets there in time" — Carl F. H. Henry
"The best remedy for a
sick church is to put it on a missionary diet." — Unknown
"The Church must send
or the church will end." — Mendell Taylor
"A God-centered theology has to
be a missionary theology" –– John
Piper
"Someone asked Will the heathen
who have never heard the Gospel be saved? It is more a question with me whether
we – who have the Gospel and fail to give it to those who have not – can be
saved." – Charles Spurgeon.
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 14 September 2014