Sunday, June 22, 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 33 (“Algemene riglyne vir ’n lewe as Gelowige - 02”)

1.     INLEIDING:
       Ons sal in ons Skriflesing vandag, die tweede gedeelte van die gelowige se optrede en gedrag t.o.v. homself en andere vind.

       Ons het verlede week in vv.1-3, riglyne gevind t.o.v. ons optrede en gedrag jeens medegelowiges en daar het ons spesifiek stil gestaan by ons liefde wat ons vir ons broers aan die dag moet lê. Ons het ook gekyk na gasvryheid en ook na ons gesindheid jeens gevangenis en bedelaars.

       Vandag gaan ons na riglyne kyk t.o.v. die huwelik, ons besittings en ook standvastigheid in ons geloof.

2.     SKRIFLESING:
Heb.13:4-6 ~ Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom. 5Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?” 7Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het. 8Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. 9Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike nie. Dié wat hulle aan hierdie gebruike gehou het, het niks daarby gebaat nie.

3.     DIE HUWELIK (v.4):
       In v.4 spreek die Hebreërskrywer die huwelik aan en ’n mens mag wonder waarom hy dit doen? Die rede was dat gelowiges gedurende die eerste eeu, teenoor die res van die gemeenskap uitgestaan wat betref die huwelik, omdat hulle ’n heel teenoorgestelde gesindheid gehad het t.o.v. die huwelik en die seksuele.

       Die gelowiges van die eerste eeu was gekonfronteer met ’n moreel vervalle en siek wêreld – die huweliksverbond het niks beteken nie; seksuele omgang oor huweliksgrense was aan die orde van die dag en so ook buitehuwelikse omgang en homoseksualiteit was niks snaaks nie (“what’s new?”).

       Hierdie toestand van die wêreld het tot gevolg gehad dat sommige gelowiges oorreageer het. Van diegene wat oorreageer het, het gesê dat seksuele reinheid só belangrik is, dat gelowiges eerder in selibaatskap moet leef en sommige het selfs so ver gegaan en gesê dat gelowiges eerder ’n asketiese lewe moet lei (iemand wat hom afsonder en ’n streng, vroom lewe sonder enige sinlike genot lei) en daarom behoort gelowiges nie te trou, of enige iets met die seksuele te doen hê nie en selfs hul liggame ru behandel.

       In die lig van die toestand waarin die wêreld verkeer het en waarin die gelowiges hulself bevind het, sê die skrywer nou vir sy lesers dat hulle die huwelik eerbaar moet hou en dat egpare getrou aan mekaar moet bly.

       Die huwelik as instelling is deur God ingestel en dit is nie toevallig dat Hy Sy eerste wonderwerk juis by ’n huwelik gedoen het nie, trouens die Here ag die huwelik so belangrik en heilig dat Hy die huwelik as beeld voorhou vir hoe die Kerk moet wees en daarom mag geen mens dit mag minag nie – met die enkele uitsonderings wat die Skrif natuurlik vir ons gee.

       Dit is baie interessant om te sien dat die Woord van God ten minste drie redes vir die instelling van die huwelik vir ons gee:
·           Die voortbring van kinders. Die mens het al so vroeg soos in Gen.1:28a die opdrag hiertoe ontvang ~ Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit.
·           Tweedens is die huwelik ingestel juis om seksuele sondes te verhoed ~ ...maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man (1 Kor.7:2).
·           Kameraadskap en vriendskap is ’n derde motivering vir die huwelik ~ Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke” (Gen.2:18).

       Die Amplified Bible (AB) vertaal die Grieks baie mooi wanneer dit sê dat die huwelik hoog geag moet word – dat dit agtingswaardig is en dat dit gerespekteer sal word – nie net as instelling nie, maar dat man en vrou mekaar ook sal respekteer in alle opsigte – mekaar se gevoelens, mekaar se menswaardigheid, emosies, voorkeure, wense en begeertes, ens.

       Die huwelik is ook kosbaar en ’n groot skat uit die hand van God en daarom moet dit ten alle koste bewaar en gekoester word.

       In die lig hiervan gaan die Apostel dan verder en sê hy in v.4b, dat die huwelikslewe impliseer dat man en vrou getrou aan mekaar sal wees. Die vraag is ten opsigte waarvan moet  hulle getrou aan mekaar wees? Die volgende sin verklaar dit, maar kom ons kyk net eers hoe die OAV dit vertaal ~ ...Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees... en dan hierdie woorde, ...en die bed onbesmet (v.4). Die ESV sê ~ ...and let the marriage bed be undefiled en die NKJV ~ ...and the bed indefiled.

       Die Grieks wat hier gebruik word vir “bed” is κοίτη [koite /koy·tay/]. Wat ’n direkte verwysing na seksuele gemeenskap is. Die res van v.4 sê dan ~ ...want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom. Dit gaan dus hier oor mans en vrouens wat hul huweliksbeloftes minag en seksueel betrokke is by iemand buite die huwelik. Paulus waarsku ook in 1 Kor.6:18, wanneer hy sê ~ Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ’n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam.

       Die wêreld waarin die Hebreërs geleef het, was behep met die seksuele en so ook die wêreld waarin ons vandag leef. Kyk maar net rondom jou wanneer jy in inkopiesentrums loop, of op paaie ry – jy word aanhoudend (en veral mans) gebombardeer met wellustige, popmooi, volmaak gevormde meisies wat daarop ingestel is om die “dier in ’n man wakker te maak”. Bykans elke rolprent, program en sepie op TV het gedurig subtiel tot banale seksuele tonele wat die mens se moraliteit aftakel totdat jy op ’n punt kom waar alles aanvaarbaar is – immoraliteit en pornografie is nie net al meer en meer aanvaarbaar nie, maar word al meer en meer beoefen en goedgekeur – waarom? Omdat die media dit as aanvaarbaar en baie aanloklik en bevredigend aanbied.

       Binnehuwelikse gemeenskap is deur God aan die mens gegee en daarom is dit mooi en edel, kreatief en vervullend, maar buitehuwelikse seks is vuil, lelik, onvervuld, vernietigend en veroordelend, daarom dat Jesus ook waarsku en sê ~ ...want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom (v.4b).

       Ons moet ook vir geen oomblik dink dat nét die fisiese daad van egbreuk hier aangespreek word nie – Jesus sê in Matt.5:28 ~ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. Wanneer ons skuldig is aan hierdie waarskuwing van Jesus, is ons skuldig aan v.4 van ons Skriflesing van vandag, want of egbreuk in die reële wêreld plaasvind, of in die gedagtes – is dit een en dieselfde ding.

       Vrouens moet nie nou agteroor sit en dink dat hierdie net op mans van toepassing is nie. Die Hebreërskrywer tref nie hier ’n onderskeid nie en al word daar in die media primêr, of hoofsaaklik op mans gefokus (dink maar net aan bykans elke advertensie waar daar hoofsaaklik ’n vrou gedrapeer word oor of op of langs die objek wat geadverteer word), moet ons nie dink dat vrouens gevrywaar word nie. Ek het al baie keer gewonder waarom dit juis mans is wat hoofsaaklik geteiken word om te “val” vir die verlokking van “seksie-vrouens” en ek het dit vir myself uitgemaak dat dit is omdat mans die leiers is, of jagters is en dit is ook reg so en ook Bybels, maar ook dit verander vinnig, want ons sien al meer en meer hoe vrouens ook uitgebeeld word in die media as die jagters en die hele onbybelse en globale veldtog om gelyke regte aan vrouens te gee verhaas hierdie hele proses en ons sien dit reeds, maar ek dink dat ons al meer en meer “seksie mans” in advertensies sal sien (ook t.w.v. die hele “gay-agenda” wat geweldig sterk gepromoveer word in die media).

       Ons moet ons huwelike voortdurend aan hierdie vereistes vir die huwelik toets en kyk waar ons enersyds tekort skiet, maar selfs andersyds ook kyk of ons hoegenaamd ’n huwelik het en dan alles in ons vermoë doen om ons te bekeer waar nodig en ons huwelik weer terug te bring binne God se ordes vir die huwelik, want ons moet altyd in gedagte hou dat die huwelik ’n instelling van God is.

4.     VERGENOEGDHEID (vv.5-6):
Ons sien dat God in die Wet aan die Israeliete gesê het ~ Jy mag nie egbreuk pleeg nie, iets wat die Hebreërskrywer dus in v.4 herhaal, maar God sê direk na Eks.20:14 in v.17 ~ Jy mag nie begeer nie. Hy wys derhalwe hierdeur dat die jaloerse begeerte na materiële besittings, net so boos en onaanvaarbaar is as die boosheid van sondige seksuele begeertes en sonde.

       Die Hebreërskrywer wil in vv.5-6 vir ons wys op die sonde en onaanvaarbaarheid van begeerte in die algemeen, maar ’n begeerte na geld en materiële besittings in die besonder. Die apostel spreek dus in hierdie twee verse iets aan wat vir die meeste van ons maar ’n groot probleem is, nl. vergenoegdheid (contentment), m.a.w. om tevrede te wees met wat ons het, of anders gestel, dit is die teenoorgestelde van inhaligheid; begeertes; geldgierigheid, ens. (covetousness). Die Hebreërskrywer weet dat diegene wie lief is vir die wêreld en derhalwe vir geld, baie moeilik geestelik staande sal bly en daarom sê hy in vv.5-6 ~ Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?”

Enige vorm van begeerte word baie streng veroordeel deur die Woord, trouens dit word verbied. Jesus waarsku bv. in Matt.6:19-21 dat ons nie skatte hier op aarde bymekaar moet maak, waar mot en roes dit vernietig nie, maar eerder skatte in die hemel, want en dit is die waarskuwing, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Jesus het ook in Matt.6:24 gesê dat ons nie twee meesters kan dien nie, want hy sal die een liefhê en die ander een haat.

Meer en meer gelowiges glo in ons dag dat rykdom en die besit van materiële besittings – en selfs ʼn oorvloed daarvan, gelowiges se reg is. Hulle gaan selfs so ver as om te sê en te verkondig dat God dit van gelowiges verwag om daarvoor te vra en dit dan met geforseerde en self-opgeklitste “geloof” op te eis en te verwag as deel van Sy beloftes aan Sy kinders – so asof God (in groot piëteit gesê) ʼn “Genie-lampie” in ons hande is.

Dit is wel so dat beide die Ou- en Nuwe Testament leer dat God die getroues sal seën, maar die vraag is of hierdie “seën” noodwendig, materiële seën impliseer? Beteken dit dat alle gelowiges ryk kan wees? Daar is baie wat dit glo en verkondig – daarom dat daar soveel “godsdienstige lyke” op straat lê nadat hulle rykdom en/of voorspoed verwag het en dit nie gekry het nie en hulle dan deur hierdie voorspoedteoloë daarop gewys is dat hulle óf sonde in hul lewe het (asof hulle nie sonde het nie!), óf dat hulle geloof te klein is en dan tuimel hierdie arme misleide mense wat voorspoed beloof is, se “geloofskaartehuis” in mekaar.

  Paulus bv. meld voortdurend dat hy geseën en geroep was deur God, maar dan lees ons terselfdertyd van hoe swaar hy gekry het – hoe hy gely en beproef is, maar dat dit nooit sy vreugde gesteel het, of sy ervaring van die volheid van die lewe ontneem het nie, trouens – en dit is belangrik – hy skryf gereeld in sy sendbriewe dat sy lyding deel is van die getuienis dat hy geseën word; dat hy gered is; dat hy geroep is deur God – luister ~ In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; 9ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. 10Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. 11Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word. 12Dit beteken dat in ons die dood aan die werk is, maar in julle die lewe. 13Daar staan in die Skrif: “Ek het geglo, daarom het ek gepraat.” Ons het dieselfde Gees wat die geloof wek, en ons glo, daarom praat ons ook. 14Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel. 15Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer. 16Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig (2 Kor.4:8-18).

            Hoor wat sê Paulus ook in 2 Kor.6:10 ~ Ons ontvang eer en oneer, ons word beledig en geprys. Ons word behandel as verleiers, en tog is ons betroubaar; 9as onbekendes, en tog is ons goed bekend; as sterwendes en, soos julle sien, ons lewe; as gestraf, maar ons is nie doodgemaak nie; 10as bedroefdes, en tog is ons altyd opgeruimd; as armes, maar ons maak baie ander ryk; as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles. In Efese was hy in die tronk en tog skryf hy van sy rykdom waaroor hy in die Evangelie beskik – dít is waaroor rykdom gaan; dít is die rykdom waaroor die “welvaartsteoloë” veronderstel is om te preek – nee, waaroor hulle móét preek, maar hulle het die spreekwoordelike “kat aan die stert beet” wanneer dit kom by Skrifuitleg – ons rykdom en oorvloed lê in die Evangelie van Jesus Christus opgesluit en nié in materiële besitting nie!

Paulus impliseer deurgaans dat rykdom en voorspoed nie noodwendig ʼn teken van God se seën is nie, maar tevredenheid is wel (“contentment”). In FIl.4:4 sê Paulus ~ Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! – en in Fil.4:4-7 sê hy ~ Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Dit is derhalwe baie duidelik dat vergenoegdheid of te wel tevredenheid en vreugde en vrede die karakter eienskappe van ʼn ryk gelowiges is en nie materiële besitting nie – soek dus jou vreugde en vrede en tevredenheid en vervulling – ja jou rykdom, in die Evangelie van Jesus Christus ~ As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees (1 Tim. 6:8). Jesus sê ook in Luk.12:15 ~ Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.

Wanneer Jesus tydens Sy aardse bediening gepraat het oor ons navolging van Hom, het Hy veel-veel meer gepraat oor lyding (“suffering”) as wat Hy lering gegee het oor vergifnis en liefde en nederigheid ens.
 
Dit is dus duidelik dat die Nuwe Testament materiële rykdom veel eerder sien as ʼn gevaar, eerder as ʼn seën – waarskynlik die bekendste teksvers in die verband is dié in Luk.18:24-25 ~ Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. 25Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom.

  Wat presies het Jesus bedoel toe Hy in Matt.6:20 gepraat het van skatte wat ons in die hemel bymekaar moet maak waar mot en roes dit nie kan vernietig nie? Wat Jesus hier wil sê, is dat ons, ons aardse rykdom so moet aanwend dat dit vir ons dividende in die hemel sal oplewer. Dit gaan dus daaroor dat ons nie moet terughou wanneer dit kom by vrygewigheid nie – selfs al is dit ook uit die min wat ons moontlik mag hê.

Net ʼn laaste opmerking oor “welvaartsteoloë” wat sê dat ons ryk moet wees en behoort te wees. Hoe verklaar hulle die arm weduwees van Hand.6 in die eerste gemeente in Jerusalem – ongeloof? Hoe verklaar hulle die behoeftiges waarvan Paulus in 2 Kor.8 praat – sonde? En asof dit nie genoeg is nie – net twee van die sewe gemeentes in Openbaring wat nie tereg gewys is nie, was gemeentes wat in die oë van die wêreld nie materieel voorspoedig was nie!

Ek wil egter ook net sê, dat daar beslis ook plek in die Koninkryk en die Kerk vir ryk mense is – dink aan Abraham (Gen.13:2), Barsillai (2 Sam.19:32), die Sunemmitiese vrou (2 Kon.4:8), Josef van Arimatea (Matt.27:57), en vele meer. Om die luukshede wat welvaart vir jou kan koop is ook nie noodwendig verkeerd nie, maar dit is opmerklik dat al vier hierdie mense wat ek genoem het, bekend gestaan het vir hul vrygewigheid. Ryk gelowiges kan Christus derhalwe verheerlik deur veral nederig, vrygewig en godvrugtig te wees. Daarteenoor kan en moet arm gelowiges die Here Jesus eer en verheerlik deur tevrede te wees, vol geloof en ook vrygewig met die bietjie wat hulle het – om dus godvrugtig in en deur hul armoede te wees. Mense met hierdie karaktereienskappe word deur die Woord van God beskryf as voorspoedig, ryk en geseënd.

Ons moet altyd Paulus se woorde in 1 Tim.6 onthou waar hy sê dat ʼn heilige lewe veel meer belangrik is as rykdom. Jesus is vir ons dié voorbeeld in hierdie verband ~ Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word (2 Kor.8:9) en Fil.2:7 ~ ...maar Hy (dit is Jesus) het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

5.     VOLHARDING (vv.7-9):
       In die laaste drie verse van ons Skriflesing moedig die Hebreërskrywer sy lesers aan om te volhard in die geloof, maar hy waarsku hulle ook terselfdertyd deur aan hulle drie dinge te noem wat hulle in gedagte moet hou en waaraan hulle vas moet hou in hul poging om te volhard tot die einde toe:
·        Onthou julle Voorgangers: Hy verwys eerstens na hulle voorgangers. Nou op die oog af lyk dit asof die skrywer hier verwys na die huidige voorganger wat op daardie stadium in diens van die Here in die Kerk staan, maar let mooi op wat hier staan ~ ...en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het... – ”gestel het” – verlede tyd. Die OAV stel dit nog beter ~ ...aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. Dit gaan dus hier oor leiers uit die verlede wat aan die einde van hul lewens gekom het. As ek hierdie vers kan parafraseer sou dit as volg kon lees ~ In die verlede het julle wonderlike leiers gehad. Dink aan hulle. Hulle was manne van geloof en bekend daarvoor dat hulle die Waarheid verkondig het en dit opgevolg het met godvrugtige lewens. Dink weer na oor hul lewens, in plaas daarvan dat julle jul geloof versaak en die lewe wat hulle vir julle voorgeleef en geleer het om na te volg. Leef hulle geloof na en volg hulle lewensvoorbeeld. In kort, boots hulle na. In v.17 wat ons nou nie vandag gaan aanspreek nie, sê die apostel egter ook vir sy lesers wat hulle gesindheid teenoor hul huidige leier(s) moet wees.
·        Onthou Jesus Christus: Ten einde te volhard tot die einde toe, sê die Hebreërskrywer tweedens in v.8 dat ons ook Jesus Christus in gedagte moet hou.

       In teenstelling met mense wat kom en gaan en mense wat so veranderlik is, aanbid ons Jesus Christus die Verlosser, Koning, Skepper en ewige Rots – hy wat ~ ...gister en vandag dieselfde (is) en tot in ewigheid – in Hom moet ons, ons vertroue plaas, Hom moet ons navolg; Hom moet ons in gedagte hou – elke dag en elke nag! Hy wat opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel waar Hy nou as Hoë Priester vir jou en my intree by die Vader!
·        Onthou die Waarheid: Die logiese volg uit hierdie waarheid van v.8 wanneer die Hebreërskrywer nog ʼn faset van die gelowiges se lewe aanspreek waaraan hulle/ons ernstig aandag moet gee ten einde te volhard tot die einde toe.
      
       Een van die tragieste en hartseerste dinge wat sekerlik in die Christelike wêreld kan gebeur – en ons sien dit daagliks en veral die afgelope klompie jare rondom ons en dit neem net in intensiteit toe, is dat gelowiges al meer en meer ingesuig word deur vals leer. Dit is egter iets wat van die vroegste tye van die Kerk gebeur het, daarom dat Paulus die opmerking in Gal.1:6-7 maak ~ Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ’n ander evangelie aanneem. 7Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat
die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring.

       Baie gelowiges val vir elke vals en misleidende leer, solank dit net ʼn geestelike klankie het en soveel te meer nog as dit aanskoulik en opwindend is, daarom dat hulle al wat boek in sekere “geestelike Boekwinkels” verslind en verslaaf raak aan allerlei “Tele-predikers” (ja ook op Afrikaanse TV-programme), maar die probleem is dat hulle geen onderskeid het tussen wat waar en vals is nie en nie behoorlik gevestig is in die leer van die Woord nie – hulle is nog geestelike babatjies en die tragiek is, hulle bly babatjies! Ons moet soos Paulus in 1Tim.4:6 sê, ons voortdurend... ~ voed met die woorde van die geloof en die goeie leer.

6.     AFSLUITING:
Ons het die onveranderlike Jesus Christus as voorbeeld om na te volg. Waarom soek na opwinding in vals lering; in “profete” en charismatiese leiers; in “worship” en allerlei “profesieë” en “glitter” en “wonderwerke”? Nee, jaag die Waarheid in God se Woord na en dien Christus en Christus Jesus alleen!

Laat Jesus steeds die Onveranderlike wees in jou lewe en laat die fundamentele geloofsvertrekpunte van die sestiende-eeuse Reformasie steeds ʼn realiteit in jou en my lewe wees, nl.: die eer van God alleen, Christus alleen, die Skrif alleen, genade alleen en geloof alleen. Amen.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 22 Junie 2014

1. SOLI DEO GLORIA - DIE EER VAN GOD ALLEEN Alles wat God beplan het en in die geskiedenis uitvoer (niks wat is of gebeur, is uitgesluit nie), het een finale doelwit, nl. om Homself te verheerlik. Die najaging van hierdie doel is dan ook elke mens se hoogste en onontkombare roeping. Om vir jouself te leef, is die wese van sonde
2. SOLUS CHRISTUS - CHRISTUS ALEEN Hierdie genade wat God aan miljoene sondaars deur alle eeue betoon het, was nog altyd volledig gebaseer op die volmaakte middelaarswerk van Sy Seun, Jesus Christus, en daarop alleen.
3. SOLA SCRIPTURA - DIE HELE SKRIF EN NET DIE SKRIF Die hele Bybel, en net die Bybel, is God se besondere en geïnspireerde openbaring aan die mens. Daarom is dit algeheel betroubaar en die universeel gesagvolle norm vir leer en lewe.
4. SOLA GRATIA - GENADE ALLEEN As 'n sondaar gered word, dan is dit geheel-en-al te danke aan God se vrye genade, en daaraan alleen.
5. SOLA FIDE - GELOOF ALLEEN God verklaar enige en elke sondaar regverdig wanneer die vanuit sy of haar geestelike en morele bankrotskap volledig op die middelaarskap van Jesus Christus staat maak ten einde vir God aanvaarbaar te wees. Daar is geen ander manier om met God versoen te word nie. Geen menslike verdienste, van watter aard ook al, kan Christus se verdienste aanvul nie; trouens, die Woord waarsku uitdruklik dat enige poging daartoe diskwalifiserend is.


Besoek gerus die volgende Webtuiste:
 http://www.huffingtonpost.com/pastor-rick-henderson/osteen-meyer-prosperity-gospel_b_3790384.html


Sunday, June 15, 2014

Die Brief aan die Hebreërs – 32 (“Algemene riglyne vir ’n lewe as Gelowige - 01”)

1.     INLEIDING:
       Ons kom nou by die laaste hoofstuk van ons prediking uit die brief aan die Hebreërs en tot nou het ons gesien hoe die skrywer Jesus Christus verheerlik deur sy skrywe, maar ook die seën wat diegene ontvang wie Hom dien. Hy het voortdurend in die brief gepleit dat ons moet volhard tot die einde toe, maar hy het homself ook nie terug gehou in sy waarskuwings aan ons oor die gevolge wat op ons wag indien ons nie volhard in die geloof tot die einde toe nie. Die apostel begin egter nou in hierdie laaste hoofstuk om sy brief af te sluit en hy doen dit deur bepaalde praktiese riglyne vir ’n lewe as gelowige aan sy lesers te gee.
      
       In die eerste 6 verse gee hy vyf baie praktiese riglyne wat teenwoordig moet wees in elke gemeente van die Kerk van die Here Jesus Christus. Hy gee ’n verdere sewe riglyne in vv.7-19 t.o.v. die gemeente se verhouding jeens hul leiers, asook ’n persoonlike oproep tot gebed. In vv.22-25  sluit hy sy brief finaal af, met bepaalde laaste versoeke en groetewoorde.

       Wees ook gewaarsku dat ekself vandag baie prakties gaan wees.

2.     SKRIFLESING:
       Hebr.13:1-3 ~ As broers moet julle mekaar altyd liefhê. 2Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. 3Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.

3.     LIEFDE VIR MEDEGELOWIGES (v.1):
       Die Hebreërskrywer het in die voorafgaande twaalf hoofstukke vir ons in duidelike taal twee uitstaande karakter eienskappe van God geskets – aan die een kant die God wat ’n  verterende vuur is – die verterende vuur van die Berg Sinai – die verterende vuur van oordeel en gramskap. Aan die anderkant het ons egter ook die God van die Berg Sion gesien – ’n God van verterende liefde – van oorvloedige; onverstaanbare en vanuit ons perspektief, onverdiende liefde. Die God van die Wet is dus dieselfde God as die God van die Evangelie.

       Die vraag wat ons as gelowiges dan vir onsself behoort te vra en voortdurend behoort te vra, is hoe ons dan in die lig van die feit dat God beide ’n verterende vuur, maar ook ’n God van verterende liefde is – hoe ons behoort te leef ten einde te kan volhard tot die einde toe?

       Die apostel mors nie tyd wanneer hy vir ons riglyne begin gee ten einde hierdie belangrike vraag wat ons, onsself moet afvra, te verskaf nie. Hy sê in v.1 ~ As broers moet julle mekaar altyd liefhê.        Die liefde waarvan hy hier praat is in die Grieks, φιλαδελφία [philadelphia /fil·ad·el·fee·ah/] en dit word deurgaans vertaal met “broederlike liefde”.  Die skrywer begin dus deur vir ons te sê dat gelowiges, broers is – dít is die feit wat hy wil konstateer, m.a.w. daar is nie gelowiges wat mindere of meerdere broers van ons is nie – gelowiges ís ons broers en dit is nie net ons broers in dieselfde gemeente waar ons aanbid nie, maar alle gelowiges oor die wêreld heen – selfs hulle wat ons nie baie gek oor is nie – geen uitsonderings nie en as dIt dan die geval is, moet ons mekaar lief hê, met ’n “philadelphia”- liefde – broederlike liefde.

       Hierdie oproep deur die apostel is ’n deurlopende tema regdeur die Nuwe Testament, so sê Paulus bv. in Rom13:8 ~ Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. Petrus is nóg meer spesifiek t.o.v. sy opdrag aan gelowiges, wanneer hy sê ~ Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid  gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê (1 Pet.1:22). Hoor wat sê Johannes in 1 Joh.2:10 ~ Wie sy broer liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie.

       ’n Ander woord in v.1 wat ons nie uit gedagte moet verloor nie, is die woordjie “altyd”. Die OAV is kort en kragtig wanneer dit sê ~ Die broederliefde moet bly. Eerstens impliseer dit dus dat daar alreeds liefde bestaan en dit word bevestig deur Paulus in Rom.5:5 waar hy sê ~ ...want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.  Tweedens egter en veral as ons na die Griekse woord kyk wat hier gebruik word, dan sien ons dat dit dui op ’n voortgaande aksie, m.a.w. ons moet mekaar aanhoudend, deurlopend en altyd lief hê, tot die einde toe. 

       Ons as gelowiges is deel van ’n geestelike familie wat saamgevoeg is deur die Evangelie – die bloed van Jesus Christus; deur ons gedeelde geloof in Jesus Christus. Ons moet Christus nadoen in alles, want Hy is die volmaakte toonbeeld van liefde vir ons as gelowiges.

4.     GASVRYHEID (v.2):
       Ons as gelowiges moet mekaar liefhê (“philadelphia-liefde”) – dit is duidelik, maar wat moet ons gesindheid en optrede jeens vreemdelinge, of te wel, ongelowiges wees? V.2a ~ Moenie nalaat om gasvry te wees nie.... Die Engelse vertalings is dalk nog duideliker, wanneer dit sê ~ ...Do not neglect to show hospitality to strangers. Die Grieks vir gasvryheid wat die Hebreërskrywer hier gebruik is φιλοξενία (philoxenia) wat, indien dit direk vertaal word, gasvryheid teenoor vreemdelinge beteken.

       Die probleem met baie gelowiges en baie gemeentes is dat
hulle mekaar só lief het en só na binne leef, dat hulle daarin gefaal het om betrokke te wees en betrokke te bly by die wêreld daarbuite en ons sal ons baie deeglik self moet ondersoek om vas te stel of dit nie dalk ook met ons die geval is nie.

       Die wêreld “daarbuite” moet leer van hierdie liefde van Christus en dan praat ek nie in die eerste plek van onderlinge liefde nie, maar van Christus se liefde vir verloregaande siele en daarom gaan die skrywer voort deur te sê en let op, hy skryf nie hierdie opdrag nét aan sy destydse lesers nie – nee, hy skryf dit aan alle lesers, van alle tye – ons derhalwe ook – hy skryf dat ons gasvry teenoor vreemdelinge ook moet wees – net “goeie” vreemdelinge? Nee, sondaars (en alle vreemdelinge in hierdie konteks is sondaars) – sondaars van alle soorte. As ons na Jesus se woorde in Matt.5:43-44 kyk sal ons sien dat hierdie opdrag om gasvry te wees, ook ons vyande insluit ~ Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg.

       Wat beteken dit? Wat is die implikasies hiervan vir ons? As ons na 1 Tim.3:2 en Titus 1:8 kyk, sien ons dat een van die voorvereistes om ’n ouderling te kan wees, is om o.a. gasvry te wees en daarom moet ouderlinge en voorgangers van gemeentes, se deure oopstaan vir alle mense, sodat gasvryheid teenoor hulle betoon kan. Máár,  gasvryheid word egter nie net beperk tot ouderlinge nie, want die Hebreërskrywer wys daarop dat alle gelowiges, gasvry moet wees – die Griekse woord wat vir gasvry in v.2a gebruik word is φιλοξενίας (philoxenias)  wat letterlik beteken om gasvry teenoor vreemdelinge te wees. Wat meer is, Paulus sê ook in 1 Tim.5:10, dat ’n geestelike vrou ~ ...bekend (moet) wees om haar goeie dade, naamlik dat sy haar kinders goed opgevoed het, vreemdelinge gehuisves het, die voete van die gelowiges gewas het, die verdruktes gehelp het en goed gedoen het waar sy kon. Met ander woorde, gasvryheid moet ’n kenmerk en basiese karaktereienskap van alle gelowiges wees.

       Paulus leer ons in Gal 6:10 die volgende ~ Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges. Dit beteken dus dat ons primêre verantwoordelikheid by ons broers in Christus lê, maar ons verantwoordelikheid eindig egter nie daar nie, want die Skrif is duidelik daaroor dat ons gasvry teenoor alle mense moet wees.

       Ons vind in v.2b ’n baie interessante opmerking en ’n opmerking wat ek glo deur baie gelowiges verkeerdelik gesien en hanteer word ~ ...sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. Daar is mense wat gasvryheid betoon omdat hulle bang is dat dit dalk ’n engel is wat by hul voordeur staan – dit mag nooit ons motief wees nie.

       Maar, beteken dit nie tog dalk dat ons soms getoets word deur engele wat aan ons deure klop en (ek sê dit met die grootste piëteit) met ’n “Flip File” daar staan en kollekteer vir een of ander Tehuis vir verwaarloosde kindertjies nie, of ’n ou wat oor die interkom by die hek vra vir ’n geldjie om huis toe te kan ry met die trein, want hy het hier werk kom soek en nou het hy nie geld om terug te gaan huis toe nie? Dit mag dalk so wees, wie weet, maar dit moet nooit ons uitgangspunt wees om te wonder of hierdie “gladde mond ou” dalk ’n engel is en daarom moet ek nou op my hoede wees en vir hom gee soos hy vra nie. Nee, my motief moet wees om liefde te betoon t.w.v. diegene wie ek help, maar veral t.w.v. die eer van die Here – natuurlik moet ek steeds en veral in hierdie dae met groot omsigtigheid te werk gaan, want ons leef nie meer in die tyd van die Hebreërskrywer, toe daar enersyds, nie gastehuise, ens. was nie en reisigers by enige huis kon aanklop en oornagplek kon kry nie en andersyds, toe bedelaars nog opreg was in hul afhanklikheid van aalmoese en hulp van andere – maar ons moet daarop let, dat die beginsel van liefde en gasvryheid steeds in ons dag van toepassing bly.

       Toe die drie vreemdelinge by Abraham se tent in Gen.18 verby geloop het, was sy gesindheid nie een van wag en sien wat gebeur, of selfs een waar hy hulle geïgnoreer het nie, maar een waar hy na hulle uitgereik het en vir hulle gesê het ~ Menere, u sal my ’n guns bewys deur nie by my verby te gaan nie. 4Laat ek eers ’n bietjie water laat haal sodat u u voete kan was, en kom rus dan onder die boom. 5U is nou eenmaal op pad hier by my verby, en daarom wil ek ’n stukkie brood vir u gaan haal dat u weer nuwe krag kan kry (Gen. 18:3-5) ... en raai wie was dit wat Abraham hier bedien het? Gen.18:15 ~ ...Maar die Here het gesê... ...en ons sien dit weer ’n paar keer in vv.17-33, waar die Here met Abraham praat. Dit was die Here Jesus Christus en twee engele wat Abraham besoek het. Abraham se gesindheid was om te gee en goed te wees en lief te hê en te bedien en nie om te sien wat hy daaruit kan kry, of sodat hy geseën kan word nie – veral as dit “dalk net per ongeluk, ’n engel” was nie.

       Dit is wel so dat ons in ’n sekere sin tog gasvryheid en goedheid en liefde teenoor Christus betoon, elke keer as ons dit teenoor ons naaste doen, want Christus sê in Matt.25:40 ~ Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen, maar ons motief mag nooit wees – wat gaan ek hieruit kry nie, of is dit dalk ’n engel nie. Nee, my motief moet diensbaarheid en gehoorsaamheid wees, ten einde lof en eer aan God te bring en liefde teenoor my naaste te betoon.

5.     DIE GEVANGENIS (v.3):
       Vers 3 roep ons op om aan die gevangenis te dink. Ek moet eerlik wees as ek sê dat ek tien kommentare geraadpleeg het – van die 18de en 19de eeuse teoloog John Brown, tot en met huidige kommentators soos Stuart Olyott, R. Kent Hughes e.a. en almal gaan van die veronderstelling uit dat hier verwys word na gelowiges wat in die tronk is. Ek het egter gesoek en probeer vasstel of dit régtig is wat hier geskryf staan – moet ons nie net neem wat daar staan en aanvaar dat ons ’n opdrag het om aan alle gevangenis te dink nie?

       Ek glo dat Hebr.10:34 vir ons meer lig werp op hierdie vraag, nl. van watter tipe gevangene hier gepraat word – álle gevangenis, of net gelowige wat in die gevangenis is?  Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ’n beter en blywende besitting in die hemele het (OAV – Hebr.10:34). Die Hebreërskrywer het homself vroeër in gevangenisskap bevind en hier verwys hy na sy medegelowiges wat aan hom gedink het terwyl in die tronk was en ons kan aanvaar dat hy oor sy geloof in die tronk was.

       Net t.w.v. ’n klein bietjie agtergrond – gevangenis was baie sleg behandel gedurende die eerste eeu en was die meeste van die tyd afhanklik van vriende en familie vir hul mees basiese versorging en dit is presies van hierdie versorging waarvan die apostel hier getuig.

       Ek dink dat wanneer ons dus na die konteks van die Hebreërbrief kyk, kan ons aanvaar dat die skrywer hier gelowiges in gedagte het wanneer hy van gevangenis praat – gelowiges wat net soos hy, vir hulle geloof in die gevangenis is. Ek dink dit is dan ook die rede waarom al die kommentators van hierdie uitgangspunt uitgaan – ek vind dit net jammer dat nie een van hierdie tien wat ek geraadpleeg het motiveer waarom hulle aanvaar dat dit gelowiges is waarvan die apostel praat nie.

Tweedens wat beteken dit as die teks sê dat ons aan gevangenis moet “dink”? Weereens moet ons na die Griekse woord gaan kyk en die woord wat dan in die oorspronklike teks gebruik word, is μιμνησκομαι (mimnēskomai) en dit beteken letterlik om iemand in jou gedagtes te hou asof jy self in daardie persoon se situasie of posisie verkeer. M.a.w., gelowiges moet so met hul vervolgde medegelowiges  identifiseer, asof dit hulleself is wat daar is. Paulus het hierdie selfde versugting uitgespreek toe hy sy brief aan die Kolossense afsluit met hierdie woorde ~ Nou skrywe ek met my eie hand. Groete, Paulus. Dink aan my waar ek hier gevange sit. Die genade sal by julle wees – “dink aan my” (Kol.4:18).

       Hoe kan ons “dink” aan, of te wel identifiseer met ons broers wat in die tronk sit vir hul geloof in Jesus Christus? Daar is basies drie dinge wat ons kan doen:
·           Eerstens kan ons net daar wees vir hulle – baie dikwels is iemand se teenwoordigheid in so ’n situasie, meer as genoeg vertroosting en ondersteuning en bemoediging. Paulus gee vir ons ’n baie mooi getuienis hieroor in 2 Tim.1:16-18 toe hy in die tronk gesit het ~ Mag die Here barmhartigheid bewys aan die huisgesin van Onesiforus, want hy het my dikwels kom opbeur. Hy het hom nie daarvoor geskaam dat ek in boeie sit nie, 17maar toe hy in Rome kom, het hy ywerig na my gesoek tot hy my gekry het. 18Mag die Here gee dat hy by Hom ontferming vind op die dag dat Hy weer kom....
·           Tweedens kan ons direkte hulp verleen en sulke gelowiges fisies ondersteun. Weer gee Paulus vir ons ’n baie mooi  voorbeeld hiervan in Fil.4:14-16, toe hy swaar gekry en deur beproewing gegaan het en hy aan die gemeente in Filippi geskryf het ~ Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan. 15Julle in Filippi weet ook dat in die begin van my evangelieprediking, na my vertrek uit Masedonië, geen enkele gemeente behalwe julle ’n aandeel gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe nie. 16Ook toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur.
·           ’n Derde wyse waarop ons met sulke broers kan identifiseer, is om vir hulle te bid.

       Wat hierdie laaste punt betref, raak dit ons baie direk, want in ons dag en in hierdie land van ons waar ons godsdiensvryheid geniet, ken ons waarskynlik nie een enkele gelowige wat vir sy geloof in die tronk sit nie en daarom kan ons ten minste vir vervolgde gelowiges bid, trouens ons móét vir  hulle bid.

       Nie net is die Hebreërskrywer baie prakties in sy riglyne wat hy in hierdie laaste hoofstuk deurgee nie, maar gaan ek ook baie prakties wees en sonder om in te veel detail in te gaan, dink en voel ek dat dié van ons wat slimfone het, “Voice of the Martyrs” se “Toepassing” (“App”) moet aflaai. sodat ons elke dag opgedateerde nuus kan ontvang oor vervolgdes regoor die wêreld, vir wie ons kan bid (ons –“philadelphia-broers”!). Hierdie “Toepassing” is ook vir iPads beskikbaar (VOM Prayer Calender – wees net versigtig en maak seker dat jy die regte een kry, want radikale Moslems het soortgelyke “Apps”), of jy kan inskryf op “Voice of the Martyrs” se nuusbrief (Christian Mission International, Posbus 7157, Primrose Hill, 1417), of hul webtuiste gereeld besoek (baie aanskoulike  en praktiese webtuiste - http://www.persecution.com/).

       Ek het gesê dat ons waarskynlik nie martelare persoonlik ken nie, maar die Woord van God is nie net vir sekere mense geskryf nie, maar elkeen van ons en daarom moet ons gehoor gee aan hierdie oproep deur die Hebreërskrywer, deur dan ten minste te bid vir vervolgdes. Ons moet egter ook nie so gerus gestel lewe en dink dat ons en/of ons gelowige kinders, of familie en vriende nie dalk in die toekoms vervolging vir hul  geloof kan ervaar nie en daarom behoort ons ook “byvoorbaat” nou reeds te bid rondom so ’n moontlikheid – ja, ons moet ook gereeld ons dankbaarheid teenoor die Here betuig vir die vryheid wat ons geniet, maar ons moet ook bid dat hy ons en ons nageslag daarvan sal bewaar en indien ons en/of hulle ooit daaraan bloot gestel mag word, ons enersyds bereid sal wees om diesulkes te ondersteun, maar ook as ons dalk vervolg sou word, ons die krag en genade sal ontvang om deur dit te kan gaan en dat ons saam met Paulus, toe hy in moeilike omstandighede verkeer het (en hy het waarskynlik verwys na sy eie gevangesetting toe hy dit gesê het) – dat ons saam met hom sal kan sê ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Fil.4:13).

       Ons het nou na die eerste drie van die vyf praktiese riglyne gekyk, wat ek gesê het die Hebreërskrywer aanspreek in die eerste ses verse van sy laaste hoofstuk en dit het gehandel oor ons naaste. Tyd ontbreek ongelukkig om nou ook na die oorblywende twee te kyk wat handel oor onsself en ons sal liewer D.V. volgende Sondag daarna kyk, nl. ons gesindheid t.o.v. die huwelik en –geld (v.4, 5-6).

6.     BEDELAARS EN GELOWIGES:
 (en ironies genoeg, veral in die somer), nl. bedelaars en ons gesindheid in die lig van wat die Skrif hieroor te sê het.
      Ek wil egter net vir ’n oomblik en ten slotte stilstaan by iets wat ’n realiteit in ons tyd is, maar ook ’n wesentlike probleem, veral hier in ons omgewing

       Ek het gesê dat ons motief altyd moet wees om liefde te betoon t.w.v. diegene wie ek help, maar veral ook t.w.v. die eer van die Here. Wat moet ons gesindheid en optrede régtig wees teenoor die bedelaars wat by die verkeersligte staan? Die probleem is dat waarskynlik elkeen van ons al in die verlede teleurgestal was deur sulke bedelaars (ek en Jeanne het al bv. brood aan ’n bedelaar gegee om net te sien hoe hy dit ’n ent verder weggooi en nog later het ons dieselfde bedelaar en sy oënskynlike vrou sien inkopies doen en hulle kos koop wat ons nie eens kon bekostig nie). Ons weet dat van hierdie bedelaars die geld gebruik om drank te koop – ons sien dit aan hul pers gesigte en ons ruik selfs hulle alkohol asems soms – ons het almal dus negatiewe ervarings met bedelaars. Ons as gelowiges met egter uitvind wat in God se hart leef t.o.v. van hierdie oënskynlike probleem.

·           Eerstens: Die gevaar dat ons vir ’n “ride” geneem kan word, of om die bos gelei kan word deur hierdie bedelaars, of dat hulle vir ons lieg, mag nooit ons verskoning wees om nié te help nie.
·           Ons moet ons nugter verstand (“common sense”) gebruik wanneer ons besluit om te help, of nie te help nie en hoe ons dit gaan doen. Ons eerste uitgangspunt moet dus nie wees om aan planne te dink hoe ek hierdie bedelaar kan ontduik of vermy nie, maar hoe ek kan help én of dit verantwoordelik sal wees om in bepaalde gevalle te help.
·           Wanneer ons onseker is, behoort ons te help en dit in geloof doen, met die vertroue dat die Here die res van die situasie tot Sy eer sal hanteer.
·           In plaas daarvan dat jy of ons vir bedelaars en daarmee saam armes, geld of selfs kos by die verkeerslig gee, kan jy selfs daaraan dink om iets soos ’n sopkombuis by jou huis te begin, waar mense wat werklik honger is, sal kom eet (ek besef dat dit waarskynlik vir baie van ons nie moontlik is nie, want baie van ons bly in sekuriteitskomplekse waar so iets nie bedryf mag word nie).
·           In plaas daarvan om vir die “Flip File- draers” leë hande weg te stuur – dink daaraan om dalk vir hulle te bid – hulle kan dit nie weggooi nie – dalk net verwerp.
·           Dit is ongelukkig ook so dat die meeste van die wit bedelaars in ons tyd voldoen aan die beskrywing van Spr.20:4 ~ ’n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie en dan moet ons onmiddellik die woorde van 2 Tes.3:10 hier byvoeg ~ ...as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. Ek wil nie te gou oordeel en te kras wees in my beoordeling nie, maar ek dink dat die meeste wit bedelaars, gewoon net te lui is om te werk en dit is sonde – daar is steeds baie werk wat armes en werkloses kan doen (verkoop hangers; karwag, ens.) (Spr.6:6, 9-11; 10:4-5, 26; 12:24; 13:4; 15:19; 18:9; 19:15, 24; 20:4, 13; 21:25-26; 23:21; 24:30-31, 33-34; 26:14-16; Pred.4:5; 10:18; Jes.56:10; Eseg.16:49; Matt.20:6-7; 25:26-27; Rom.12:11; 2 Thes.3:10-11; 1 Tim.5:13; Hebr.6:10).
·           Nog ʼn probleem in ons dag, is misdaad en dit is ook iets wat ons in gedagte moet hou wanneer bedelaars ons nader – is dit nie dalk ʼn vangstrik nie?
·           Vir die Nuwe Testamentiese-kerk was die versorging van die armes ’n hoë prioriteit en Jesus en die apostels het ook nie die armes en bedelaars geïgnoreer nie – dink bv. aan die lam bedelaar in Hand.3 wat by die tempelpoort gebedel het en hoor net wat was Petrus se reaksie ~ Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop! Petrus het hom nie op fisiese wyse gehelp nie, maar wel op ʼn geestelike wyse.
·           Wanneer ons sê dat die versorging van die armes vir die Nuwe Testamentiese- kerk ’n prioriteit was, moet ons besef dat hulle eerste prioriteit by hul sorgbehoewende broers en susters
gelê het – dít is waar hulle primêr bedien het en ook nie almal in die gemeente het gekwalifiseer vir hierdie aalmoese nie – slegs diegene wie regtig daarvoor gekwalifiseer het – soos die weduwees wie niemand gehad het om hulle te versorg nie (1 Tim.5:3-6), maar daar was nog verdere kwalifikasies waaraan hierdie weduwees moes voldoen ~ ...’n Weduwee kan op die lys van dienende weduwees kom as sy minstens sestig jaar oud is en aan haar man getrou was. 10Sy moet bekend wees om haar goeie dade, naamlik dat sy haar kinders goed opgevoed het, vreemdelinge gehuisves het, die voete van die gelowiges gewas het, die verdruktes gehelp het en goed gedoen het waar sy kon. 11Jonger weduwees moet jy nie in die lys opneem nie... (1 Tim.5:9-11).
·           Ons prioriteit lê dus in die eerste plek by die gemeente, maar vanuit ons oorvloedige “ekstras” kan ons die bedelaars help op die voorwaardes en riglyne wat ek reeds gegee het.

       Wanneer ons oor hierdie saak nadink, moet ons Dawid se woorde in Ps.41:2-3 in gedagte hou ~ Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die Here sal hom red in die dag van onheil. Die Here sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie (OAV), maar hiermee saam ook, 1 Kor.13:3 ~ Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.

       Ons moet baie dink en bid oor hierdie saak en vir wysheid en onderskeiding vra; ons moet ons harte ondersoek en vasstel of ons huiwering om te gee, voortspruit uit selfsug of nie, maar ons moet ook vasstel of ons vrygewigheid nie gedryf word deur skuldgevoelens en/of ’n soeke na erkenning en seën nie – werke m.a.w.


       Laastens moet elkeen van ons dit vir onsself voor die Here uitmaak wat ons te doen staan wanneer ons gekonfronteer word deur ’n bedelaar en nie kyk wat die ander een doen nie.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 01 Junie 2014