Sunday, May 11, 2014

Die Boodskap van Daniël – 17 (“3½ is nie 7 nie!”)

1.     INLEIDING:
       Ons het verlede week gesien dat die uitdrukking “laaste dae”, dui op die tydperk vanaf Jesus se eerste koms, tot en met Sy tweede koms en die Skrifgedeelte waarna ons vanoggend kyk handel hoofsaaklik oor hierdie tydperk, ...of doen dit?

2.     SKRIFLESING:
       Dan.12:1-13 ~ In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ’n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word. 2Baie van dié wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting. 3Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre. 4“En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die eindtyd toe. Baie mense sal oor die gebeurtenisse navraag doen om begrip daarvan te probeer kry.” 5Ek, Daniël, het toe twee ander persone by die Tigrisrivier sien staan, een aan die duskant en een aan die anderkant. 6Een van hulle het aan ’n man wat linneklere aangehad het en bokant die water gestaan het, gevra: “Hoe lank sal hierdie onbegryplike gebeurtenisse nog aanhou?” 7Toe hoor ek die man praat wat die linneklere aangehad het en bokant die water gestaan het. Hy het sy regter- sowel as sy linkerhand na die hemel toe opgesteek en ’n eed afgelê by Hom wat ewig lewe, en het geantwoord: “Die hele vasgestelde tyd. Wanneer die gewyde volk se mag heeltemal vernietig is, sal al hierdie dinge ophou.” 8Ek het dit gehoor maar dit nie verstaan nie. Daarom het ek gevra: “Meneer, waarop gaan dit alles uitloop?” 9Toe sê hy: “Jy moet nou gaan, Daniël, want die woorde is verseël en word geheim gehou tot die eindtyd toe. 10Baie mense sal gesuiwer, gereinig en gelouter word, maar die goddeloses sal goddeloos bly. Nie een van die goddeloses sal verstaan nie, maar die verstandige leiers sal verstaan. 11Van die tyd dat die daaglikse offer afgeskaf is en die ding opgerig is wat ’n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, sal daar twaalf honderd en negentig dae verloop. 12Dit sal goed gaan met wie geduldig bly tot dertien honderd vyf en dertig dae verby is. 13Maar hou jy aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvang in die eindtyd.”  

3.     GOD SE OORBLYFSEL (vv.1-3):
       Die eerste twee verse van Dan.12, is twee baie interessante verse en twee verse waaroor daar ook ig baie meningsverskil bestaan. N.a.v. ons destydse studie oor Openbaring gaan ek nie vandag weer alles herhaal ter motivering van wat ek nou gaan sê nie, maar dit is baie duidelik dat hier in vv.1-2, ’n baie duidelike verwysing is na die groot verdrukking wat in 70 n.C. in en rondom Jerusalem plaasgevind het en ’n baie duidelike verwysing na hierdie tydperk, is die laaste gedeelte van v.1, wat lees ~ ...In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word en ons weet dat hier verwys word na die eerste gelowiges wat uit Jerusalem gelei was na Pella, waar hulle veilig bewaar is en die slagting van die Romeinse leer op die inwoners van Jerusalem, vrygespring het.

       Ons het egter op die oog af, hier met ’n probleem te doen wanneer ons v.2 lees ~ Baie van dié wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting. Daar is geen getuienis dat afgestorwenes tydens die slagting in Jerusalem, uit die dood opgestaan het nie en dan klop dit nie met die standpunt wat ek gemaak het toe ek gesê het dat hierdie gebeure wat Daniël in sy visioen sien, gedurende 70 n.C. afgespeel het nie.

       Hoe moet ons dan nou hierdie oënskynlike teenstrydigheid verstaan, of gaan dit tog op die ou einde hier oor die kort tydjie voor Christus se tweede koms, en wat nog in die toekoms lê, of wil Daniël vir ons leer dat die opstanding van die reeds afgestorwenes gedurende 79 n.C. plaasgevind het? Dit kan tog nie!

       Daniël, soos wat ek verlede week reeds genoem het, beeld vir ons in hierdie gedeelte, Israel uit as ’n “begraafplaas”, of “doodsakker van God se gramskap” – van Sy wraak. Israel is as een gesamentlike liggaam in die stof van die aarde (OAV). Hierdie woord “stof” is dieselfde woord wat in Gen.3:14 gebruik word, toe God die slang veroordeel het en vir hom gesê het ~ Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. Ook in God se veroordeling van die mens (Adam), hoor ons dieselfde woord “stof” ~ In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer (Gen.3:19).

       Die gebruik van hierdie beeld deur Daniël van die dood, grafte en die dooies, is dieselfde beeld wat Esegiël gebruik in sy profesie in Eseg.37:1-2 van dooie beendere ~ Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in ’n laagte. Die laagte was vol bene. 2Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog. Hierdie dooie beendere weet ons, was verteenwoordigend van Israel se geestelike toestand – hulle was geestelik dood tydens die Babiloniese verstrooiing.

       In Daniël se visioen in Dan.12, sien ons dat baie wat “ontslaap” het, sou opstaan en hulle sou die volle krag en mag van God se gramskap ervaar, terwyl andere weer gespaar sou word van hierdie veroordeling van God en Sy genade ervaar, deur die ewige lewe te ontvang. Hierdie is dinge wat op daardie oomblik sou gebeur. Die feit dat Daniël sê dat mense die ewige lewe sou ontvang, impliseer nie dat hulle op daardie oomblik weggeneem sou word en die ewige lewe op daardie oomblik beërwe nie – net soos wat ons die ewige lewe reeds ontvang het, maar nog nie daar is nie, net so het die gelowiges na wie hier verwys word, die ewige lewe ontvang, maar nog nie letterlik in ontvangs geneem nie.

       Simeon, in Luk.2:34 het ook oor hierdie gebeure geprofeteer, toe hy gesê het ~ Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word.

       Jesus het self ook na die gelowige Jode verwys in Matt.4:16 ~ Die volk wat in duisternis woon, het ’n groot lig gesien; hulle wat in die skemerland van die dood lewe, vir hulle het die lig opgegaan. Ons weet uit die geskiedenis, asook Matt.24:22 dat die gelowige Jode die slagting in Jerusalem vrygespring het ~ En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort. Die res van die Joodse gemeenskap sou egter nie so gelukkig wees nie ~ Waar die aas ook al lê, daar sal die aasvoëls bymekaarkom (Matt.24:28). Wat meer is, die stad Jerusalem sou ook verwoes word ~ En heel laaste van almal het die vrou ook gesterwe (Matt.22:7) – onthou, ons het hier met beeldspraak te doen en ons het al vantevore gesien dat daar na Jerusalem verwys word as die “slegte vrou”. Baie het gedurende daardie tyd gesterf en ’n handjievol gelowiges is gered ~ Baie is immers geroep, maar min is uitverkies (Matt.22:14).

       In die boek van Openbaring is die parallelle temas van Goddelike seën en Goddelike oordeel – van lewe en dood, ’n deurlopende tema, al word dit aan die hand van verskillende beelde gedoen. Ons lees ook in Openb.7:1-9 van die engele wat die gelowiges beskerm het ~ Moenie die land en die see en die bome tref nie. Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël (v.3). Ons sien ook in Openb.14:1-5 dat die gelowiges veilig was ~ Toe het ek die Lam op Sionsberg sien staan en by Hom honderd vier en veertig duisend mense met sy Naam en sy Vader se Naam op hulle voorkoppe geskrywe (v.1) en in vv.17-20 lees ons van andere wat nie veilig was en gespaar is nie – ek lees net vv.19-20 ~ Die engel het toe sy sekel op die aarde ingesteek. Hy het die wingerd op die aarde afgeoes en die oes in die groot parskuip van God se toorn gegooi. 20Die parskuip, buitekant die stad, is getrap. Uit die parskuip het daar bloed uitgekom wat tot aan die tooms van die perde geraak en sestien honderd kilometer ver gestrek het.

       Daniël pas hier, die toekomstige en letterlike opstanding simbolies toe op die gebeure gedurende die eerste eeu in Jerusalem, want hy skets vir ons hier ’n prentjie van ’n simboliese opstanding van die gelowige Jode deurdat hulle gered gaan word uit Jerusalem en die ongelowige Jode wat deur die Romeine verwoes enuitgedelg gaan word – hierdie herinner weer, sterk aan Esegiël se droë bene, behalwe dat Esegiël besorgd was oor Israel as geheel, terwyl Daniël se profesie aandui dat daar hoop is vir die gelowige oorblyfsel van Israel.

4.     DANIËL SE MOND GESNOER (v.4):
       In v.4 ontvang Daniël ’n opdrag om hierdie visioen geheim te hou en dat die boek verseël moet bly tot en met die eindtye. Dit beteken dat die toepassing en uitvoering van die inhoud van hierdie profesie uitgestel word tot na die koms van die Messias (die eindtye dus). In die Openbaring aan Johannes kry ons presies die teenoorgestelde opdrag, wat tot gevolg het dat die hele boodskap van Openbaring ontsluit word en binnekort in vervulling sou gaan ~ Verder sê hy vir my: “Moenie die woorde van hierdie profetiese boek geheim hou nie, want die eindtyd is naby (Openb.22:10). Ons moet dit natuurlik saam lees met Openb.1:1 ~ Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak... en wat daarop volg.

5.     DIE OORBLYFSEL BEWAAR (v.5-7):
       In vv.5-7 van ons Skriflesing, sien Daniël ’n visioen wat die basis vorm vir Johannes se visioen in Openb.10:5. ~ Die engel wat ek op die see en die land sien staan het, het toe sy regterhand na die hemel toe opgelig 6en ’n eed afgelê by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel en wat daarin is, die land en wat daarop is, die see en wat daarin is, geskep het. Hy het met ’n eed bevestig: “Daar is geen tyd meer oor nie. Op die dag wanneer die sewende engel op sy trompet gaan blaas, sal God se verborge bedoeling met alles bereik word, soos Hy die blye tyding aan sy dienaars, die profete, bekend gemaak het. Dan sien ons verder in Openb.11:2 dat die Here Sy oorblyfsel, die gelowige Jode sal beskerm en Hy sal dit vir 42 maande doen – Hy sal hulle veilig bewaar, soos belowe in Openb.12:14 ~ Maar aan die vrou is twee groot arendsvlerke gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek toe, kon vlieg. Daar word sy die hele vasgestelde tyd, weg van die slang af, versorg. Hierdie tydperk van 42 maande word dan ook in wêreldse geskiedskrywes bevestig as die tyd wat die verwoesting van die Jode en Jerusalem deur die Romeinse soldate geduur het!

6.     DIE MET INSIG (v.8-10):
       In v.8 sê Daniël dat hy nie verstaan nie – hy verstaan nie wanneer of hoe hierdie profesie vervul sal word nie, maar volgens Openb.10:6-7 sê die Engel ondubbelsinnig vir Johannes, wanneer en hoe hierdie profesie vervul sal word.

       Die opstanding waarvan Daniël in v.2 melding maak, het dus niks te doen met die uiteindelike opstanding wanneer Christus weer kom nie, maar hy gebruik beeldspraak ten einde te wys na die verwoesting van Jerusalem en die Tempel in 70 n.C. en die finale beëindiging van die Ou Verbond – die oomblik wanneer die ware Israel vanuit die ou Israel se graf sal opstaan – die oomblik waar die Ou Verbond finaal begrawe is en die Nuwe Verbond verrys het – die oomblik wanneer die Joodse gelowiges (die eerste gelowiges) uit hul geestelike dood sal verrys en opstaan in ’n nuwe lewe.

       Jy mag dalk vra hoe ek so seker daarvan is dat hierdie gedeelte verwys na die verwoesting van Jerusalem en die Tempel in 70 n.C.? Jesus se dissipels het hierdie selfde vraag in Matt.24:2-3 vir Hom gevra. Jesus antwoord hulle in Luk.21:20-24 ~ Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21Dan moet dié wat in Judea is, die berge invlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, 22want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid. 23“Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want daar sal groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf. 24“Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is. Jesus gaan egter in Matt.24:34 verder en Hy sê vir Sy dissipels presies wanneer dit alles gaan gebeur ~ Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur.   

       In v.8 vra Daniël vir die Engel waarop al hierdie dinge wat hy pas gesien het uiteindelik gaan uitloop. Die Engel is weer oppad terug van waar Hy gekom het en tog aarsel Hy ’n oomnlik en sê vir Daniël in v.10 dat... ~ Baie mense gesuiwer, gereinig en gelouter (sal) word, maar die goddeloses sal goddeloos bly. Nie een van die goddeloses sal verstaan nie, maar die verstandige leiers sal verstaan.

       Hierdie antwoord van die Engel mag op die oog af nie veel sê nie, maar tog sê dit baie, veral as ons dieselfde woorde in gedagte hou wat in Dan.11:21-35 t.o.v. Antiochus gesê is. Daardie gedeelte eindig met hierdie woorde ~ En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde—want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd (v.35). Die Engel wil dus vir Daniël sê, dat wanneer al hierdie dinge gebeur het – m.a.w. nadat die Nuwe Verbond ’n aanvang geneem het gedurende die eerste eeu na Christus én daarna, sal die verstandiges die Woord verstaan en tot geloof kom, maar die onverstandiges sal net voortgaan om boos te wees en boos op te tree. Waarom die vertalers van die NAV in v.10, die woordjie “leiers” bygevoeg het, weet g’n mens nie, want die korrekte vertaling is bloot net “die verstandiges”, of “die met insig”.

       So, presies wat antwoord die Engel hier vir Daniël as hy in v.8 vra, waarop al hierdie gaan uitloop? Die Engel sê vir hom dat hy nie nou hoef te verstaan nie, maar diegene met insig (die gelowiges) sal in die toekoms verstaan wanneer hierdie dinge gebeur.

7.     3½ is nie 7 nie (vv.11-12):
       Verse 12 en 13 kom amper as ’n verassing, want hier is iets van ’n kort en bondige en nuwe, maar tog ook laaste openbaring wat aan Daniël gegee word.

       Oor hierdie twee verse se interpretasie bestaan daar baie menings en ek wil graag enkele opmerkings oor een of twee hiervan maak:
·           Die meeste Dispensationaliste reken dat die 1290 dae wat hier vermeld word, letterlike dae is en voeg dit dan by Daniël se 70ste week (Dan.9:23-27), maar sonder om in detail hierop in te gaan, sien ons dat die Dispensasionaliste se berekeninge op die ou einde sit met ’n ekstra maand wat nie inpas by gebeure nie en dan spekuleer hulle oor wat gedurende hierdie tyd kon gebeur het, maar hulle doen dit sonder enige substansie en hulle standpunt kan dus nie aanvaar word nie.
·           Tweedens is daar kommentators wat ook sê dat hierdie 1290 dae letterlike dae is, maar dat dit strek vanaf die dae waarop die openbare offerandes (hoofstuk 11) deur Antiochus verbied is in 168 v.C., tot en met die reiniging van die Tempel deur Judas in 165 v.C. Hierdie standpunt kan ook nie aanvaar word nie, omdat daar weereens een maand teveel is en waarvoor daar nie ’n verklaring bestaan nie.
·           Die standpunt wat die mees aanvaarbare is, is dié waar hierdie getalle beskou word as simboliese getalle – soos bv. met die meeste getalle in Openbaring.

       Wanneer Daniël praat van 1290 dae, dui dit op ’n volledige tydperk van fel vervolging. Die vraag is net waarom word die woord “dae” en nie “tye” of “tydperke” gebruik soos gewoonlik die geval wanneer simbolies getalle gebruik word nie? Die gesaghebbende kommentator Edward Young (wat in 1968 oorlede is), se antwoord hierop, is dat die gebruik van “dae”, eerder as “tye”, die idee deurgee dat hierdie tydperk van verdrukking, nie onbepaald sal aangaan nie, maar dat daar ’n bepaalde einddatum bepaal is – hierdie tydperk is dus reeds deur God uitgemeet.

       Volgens v.12 word hierdie tydperk dan met 45 dae verleng, wat die totale aantal dae dan bring op 1335 dae. Wanneer hierdie tydperk dan verloop het, sal volmaakte seën aanbreek. Hierdie tyd van vervolging en verdrukking word dus nie net beperk tot die regeringstydperk van Antiochus nie, maar vir die hele tydperk van teenkanting teen God se Koninkryk.

       Waarom dan twee getalle? Die eerste een (1290) dui op die volle tydperk van verdrukking, maar net op die mees felle tydperke, nl. die tyd onder Antiochus en sy antitipes – m.a.w. daar sal tye wees dat daar leiers sal wees wat die Koninkryk van God minder ernstig sal teenstaan as andere en ander tye waar dit weer erger sal gaan.

       Young gaan voort en wys daarop dat 1290 dae ’n bietjie minder is as die helfte van 7 jaar en 7 weet ons, is die getal wat voltalligheid aandui (’n volheidsgetal). Wat ons derhalwe hieruit moet leer, is dat die fel verdrukking korter sal wees as die volledige tydperk. Selfs die getal 1335 dae is nie so lank as die 7 jaar nie en daarom sal die totale tyd van swaarkry, korter wees as die volledige tyd van seën.
      
       Jesus sê vir ons in Matt.24:13 ~ Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. Hierdie belofte van Jesus is in ooreenstemming met die woorde in Dan.12:12 ~ Dit sal goed gaan met wie geduldig bly tot dertien honderd vyf en dertig dae verby is. Hierdie belofte van Jesus in beide Daniël en Matteus is waarskynlik die beste opsomming van die hele Daniël en daarmee saam Matt.24:46 ~ Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind – ’n Goddelike en ewige seën wag op diegene wat getrou bly gedurende en ten spyte van die vervolging en beproewing en verdrukking wat hulle in hierdie lewe mag verduur!

8.     VOLHARD (v.13):
In die laaste vers van Daniël sê die Engel vir Daniël ~ Maar hou jy aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvang in die eindtyd.” Hierdie is bemoedigende woorde wat vir Daniël gegee word, want die Here sê vir hom dat hy wat Daniël is, moet volhard tot die einde toe – tot sy dood toe en dan sal hy opstaan in heerlikheid en in geregtigheid. Hierdie is wonderlike woorde wat Daniël uit die mond van die Here self hoor, want die Engel sê vir hom hierdeur, “Daniël jy is gered en daarom moet jy nie bang wees om te sterf nie, want jy gaan opstaan uit die dood en die ewige lewe beërwe – hou net vas aan die Waarheid en volhard tot die einde toe!” Toe die Engel hierdie woorde vir Daniël gesê het, moes hy beslis terug gedink het aan die woorde van die profeet Jesaja in Jes.57:2 ~ Dié wat die reguit pad loop, kom waar daar vrede is, hulle rus in die graf.

9.     AFSLUITING:
       Die boodskap van Daniël suggereer nêrens dat ons dit maklik gaan hê in hierdie lewe nie, trouens dit voorspel juis dat dit moeilik in hierdie lewe sal gaan. Daniël het voortdurend vrae gevra oor die lewe – vrae soos, “Hoe lank nog Here?” “Waar is U Here?” “Waarom, waarom...”? Dit is baie duidelik en uit ervaring weet ons dit ook, dat hierdie wêreld waarin ons leef, ’n gebroke wêreld is en dat dit nodig is dat hierdie wêreld herstel moet word – dat die gebrokenheid en die seer en die onvolmaaktheid herstel en herskep moet word. Dit is dan presies ook hierdie vrae en hierdie feit van gebrokenheid wat Daniël 12 aanspreek en beantwoord.

       Daniël het o.a. vasgehou aan die belofte in Jes.65:17-19 ~  Ek gaan ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie. 18Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep: Ek gaan ’n Jerusalem skep wat vol blydskap is, sy inwoners sal vreugde hê. 19Ek sal jubel oor Jerusalem, Ek sal bly wees oor my volk. Daar sal in Jerusalem nie meer iemand gehoor word wat huil of om hulp roep nie.

Jeremia het dieselfde verwagting verkondig in Jer.31:33 ~ Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. Luister ook na Eseg.36:26-27 ~ Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee. 27Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.

As ons na hierdie boodskappe van belofte luister en ook na die boodskap van Daniël en dan veral in hoofstuk 12, dan kan ons juig, want ons weet dat God in beheer is en ons kan juig in die wete, dat hierdie onvolmaaktheid nie vir altyd sal aanhou nie, want “3½ is nie 7” nie! Daar gaan dus ’n einde kom aan hierdie swaarkry en verdrukking en as dit nie in hierdie lewe is nie, dan wanneer Jesus weer gaan kom. Die hele boodskap van Openbaring gaan dan ook daaroor dat Christus die Here uiteindelik al Sy vyande, insluitende die Satan, sal verslaan en verdelg. God se volk, wat aan Hom getrou bly, sal die nuwe hemel en die nuwe aarde beërf en hulle sal aansit by die bruilofsmaal van die Lam en ewig in die nuwe Jerusalem woon.

       Die vraag wat ons vir onsself moet vra en sekerlik gereeld vra, is “Hoe moet ons in hierdie gebroke wêreld leef?”

       Ek sou die volgende aan die hand doen:
·           Ons moet eerstens erken en besef dat ons in ’n gebroke wêreld leef.
·           As gebroke mense, moet ons erken dat ons in ’n oorgangstyd leef – ’n tydelike lewe wat sal oorgaan na ’n volgende ewige lewe en daarom word ons net soos in die geval van Daniël, opgeroep om te volhard en goed te doen tot die einde toe en daarvoor het ons gebed nodig – Paulus sê o.a. in 1 Thes.3:13 ~ Wat julle betref, broers: Moenie moeg word om goed te doen nie.
·           Ons moet troos en bemoediging put uit die feit dat God soewerein en almagtig is en dat Hy die “Skrywer” van die geskiedenis is – die geskiedenis van die wêreld, maar ook ons
eie geskiedenis en daarom kan ons die vaste versekering hê dat ons arbeid en ons stryd en ons beproewing in hierdie lewe nie verniet en onnodig is nie ~ Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie (1 Kor.15:58).
·           Ons moet ons verheug in die opstanding van Christus, want daardeur is ons as gelowiges se vergifnis en uiteindelike verheerliking verseker – daarsonder het ons geen sekuriteit nie.
Ons moet ons voortdurend verheug in die feit dat ons reeds ’n ewige lewe beërwe het – ons moet ’n ewigheidperspektief ontwikkel en voortdurend vertroetel ~ Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God (Hebr.12:2).

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 11 Mei 2014