Sunday, May 4, 2014

Die Boodskap van Daniël – 16 (“Daar’s ’n Storm op pad”)

1.     INLEIDING:
       Ek het die vorige keer gesê dat hoofstuk 11 van Daniël, die toppunt van die visioene is wat Daniël ontvang het. Dit is ’n baie lang visioen en baie teoloë maak hierdie hoofstuk af as bloot net ’n uiteensetting van geskiedkundige gebeure en met die eerste oogopslag en die lees van hierdie gedeelte wil dit ook so voorkom en is baie mense geneig om bloot net hierdie gedeelte te ignoreer en die wat dit tog lees voel dat hulle verwoed aantekeninge moet maak om al die karakters en gebeure en lande uit te pluis en mooi sistematies voor hulle uiteengesit te sien. Ons vind egter in hierdie hoofstuk, die belangrikste visioen wat Daniël ontvang het en daarom gaan ons dit nie net bloot oorslaan en/of ignoreer nie.

       Wat ons egter die heeltyd in gedagte moet hou, is dat profesie, soos hierdie profesie, geskiedenis is wat vooruit geskryf is en dat die meeste van die inhoud van profesieë reeds vervul is, maar toe Daniël hierdie profesie ontvang het, het hy en veral die mense wat dit gelees het, waarskynlik min daarvan verstaan, maar namate hierdie profesieë vervul is, het dit al duideliker geword. Die wete dus dat profesieë, geskiednis is wat vooruit geskryf is, help ons om op te hou spekuleer oor profesieë wat nog nie vervul is, indien dit nie klinkklaar duidelik is nie.

       Tweedens moet ons besef dat profesie vir volgende geslagte geskryf word. Hierdie profesie in hoofstuk 11 is aan Daniël gegee in 536 v.C. en die vervulling het 6 jaar later in 530 v.C. begin en vv.21-35 is eers in 150 v.C. vervul en die vervulling van die einde van hoofstuk 11 en die begin van hoofstuk 12, is eers na die koms van Christus vervul.

       Wat is die doel met profesieë? Dit was om God se kinders van daardie tyd, voor te berei op krisisse wat aan die kom was. Die eerste is opgeteken in Dan.11:2-35 en dit het gegaan oor die vervolging van God se volk deur Antiochus Epifanus  e.a. Die tweede krisis handel oor die vervolging van God se volk deur die Antichris. Wat hierdie lg. betref is daar twee uitgangspunte, nl. dié van die A-millennialiste wat sê dat hierdie gedeelte handel oor die verdrukking van God se volk net voor die tweede koms van Christus en dit is opgeteken in Dan.11:36-12:3. Daarteenoor word hierdie gedeelte vanuit ’n Post-Millennialistiese oogpunt verklaar in die lig van die gebeure rondom die val van Jerusalem en die Tempel in 70 n.C. (Daar is natuurlik nog die Pre-Millennialiste wat sê dat God se kinders hierdie vervolging gaan vryspring deur die “wegraping”).

2.     VAN KONINKRYK TOT KONINKRYK:
       Omdat hierdie so ’n lang Skrifgedeelte is en een visioen wat Daniël ontvang het, gaan ek nogtans die gedeelte in perikope verdeel om dit makliker te maak – ek gaan nie alles lees nie maar wel iets oor elke gedeelte sê. Daar bestaan ’n verskeidenheid van versindelings vir hierdie gedeelte, maar ek gaan die versindeling gebruik wat vir  my die gemaklikste is, nl. vv.5-20; vv.21-35; vv.36-39 en vv.40-45.

·           Veldslag op veldslag (vv.5-20):
       Daniël 11:2 ~ Wat ek jou nou gaan vertel, staan vas. Daar sal nog drie konings oor Persië regeer, en dan ’n  vierde, wat ryker as al die voriges sal wees. As hy deur sy rykdom magtig geword het, sal hy die hele wêreld teen die Griekse ryk opsweep.

       Ons het verlede week gesien dat dit Christus self is wat hier aan Daniël verskyn en Hy gee opnuut weer vir Daniël die versekering dat dít wat Hy vir Daniël vertel, die absolute waarheid is.

       Die Engel vertel dan vir Daniël dat drie konings in Persië gaan heers en ná hulle gaan ’n vierde kom wat baie ryk gaan wees. Daar word baie bespiegel oor wie hierdie konings was, maar die mees algemeen aanvaarde is dat dit Serubbabel (530-522 v.C.); Artisasta (522 v.C.), Darius I (522-486 v.C.) en dan  Xerxes, of te wel Ahasveros (486-465 v.C.) was, wat met Ester getrou het.

       In Ester hoofstuk 1 lees ons van Ahasveros se rykdom en sy geweldige Ryk waaroor hy regeer het. Ons lees bv. in Ester 1:4 ~ By dié geleentheid het die koning al die rykdom waarmee sy koninkryk kon spog, al die prag en praal daarvan, honderd en tagtig dae lank vertoon. Daarna het hy vir ’n week lank gespog oor sy militêre mag, maar hierdie mag sou nie lank duur nie, want Ahasveros raak betrokke in ’n oorlog met die Grieke en hy verloor hierdie oorlog en die uiteinde hiervan was die begin van die einde van die magtige Persiese Ryk – alles presies soos wat die Engel aan Daniël geopenbaar het en soos wat Daniël dan ook geprofeteer het in hoofstukke 2, 7 en 8 – meer nog, presies soos wat dit ook opgeteken staan wêreldse geskiedsliteratuur!

       Babilon sou dus gevolg word deur Persië as wêreldheerser en Persië sou die wêreld domineer vir ’n nagenoeg 150 jaar, tot en met die koms van Alexander die Grote (336-323 v.C.). Hierdie gebeure word ook vir ons akkuraat voorspel in Dan.11:3-4 ~ Dan sal ’n  dapper koning op die toneel verskyn wat oor ’n  groot ryk sal regeer en sal maak wat hy wil. 4Maar sy mag sal skaars gevestig wees of sy koninkryk sal opgebreek en volgens die vier windstreke verdeel word. Dit sal nie na sy nakomelinge oorgaan nie. Sy koninkryk sal omgekeer word en na heeltemal ander persone toe oorgaan, en hulle sal nie die mag hê waaroor hy beskik het nie. Daar was ook ’n akkurate profesie oor die regering van Alexander die Grote in Dan.8:5-8 en dit was hierdie einste Alexander die Grote wat Babilon in 330 v.C. oorwin het

       Daar is geweldig baie detail wat ’n mens kan gee oor elk van die heersers en koninkryke wat hierna verskyn en verdwyn het – so kan daar baie gesê word oor Alexander die Grote en sy opvolgers en al die ander, maar ek dink nie dit is die doel van ons boodskap vandag nie en daarom gaan ek nou verder net ’n kort samevatting van elk van die periodes gee.

       Ons sien dan dat die geskiedenis waarvan hier in Daniël 11 getuig word, strek van v.5 tot v.20 en dit handel oor die konflik tussen die Noorde en die Suide, vanaf hulle totstandkoming in 322 v.C. tot en met die sluipmoord op Seleucus Nicator IV.
      
       Hierdie gebeure word in baie groter detail in Daniël se profesie beskryf en die een regeerder se konflik word opgevolg deur ’n ander se veldslae en die een koninkryk word deur ’n ander magsgebied opgevolg. Daar was min sprake van vrede tussen gebiede en heersers en al hierdie veldslae en regeerders en koninkryke, word haarfyn in Daniël beskryf, maar die wonderlike daarvan is dat hierdie dinge aan Daniël geopenbaar word, jare voor dit plaasgevind het en dit word deur wêreldse geskiedenisboeke jare daarna bevestig!
       Al hierdie gebeure in die geskiedenis bewys maar net dat die Prediker se woord só waar is ~ Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs! Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son? Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan... ...alles tevergeefs (Pred.1:2-4). Hiermee saam is Ps.127:1-2 net so waar ~ As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs. 2Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ’n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap. Maar bo dit alles is dit maar net ’n bevestiging van God se soewereiniteit – ook oor nasies, volke en heersers. Geen land en geen heerser en geen individu kan God se werk vir Hom doen nie en dit ook nie vernietig nie. ’n Malema, of ’n Zuma, of ’n Obama, of ’n wie ook al, kan maar net doen wat God hulle toelaat om te doen en niks meer, of niks minder nie ~ Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, 28en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het (Hand.4:27-28).

       Hierdie waarheid het groot waarde vir elkeen van ons individueel, wanneer ons allerlei onsekerhede en konflik in ons persoonlike lewens ervaar, want dan moet ons aan hierdie waarheid vashou, nl. dat God soewerein en in beheer is – Jesus belowe in Matt.10:28-31 ~ Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan. 29Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. 30Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

·           Die tydperk van Antiochus (vv.21-35):
       Na ’n tydperk van nagenoeg 15 jaar waarin verskeie konings oor ’n groot gebied geregeer het (die Griekse gebied, Sirië en die suidelike dele van Klein-Asië), fokus vv.21-35 hoofsaaklik op die heerskappy van Antiochus IV.

       Eintlik was Antiochus nie die volgende koning in die lyn van heersers tot nou toe nie, maar wel Seleucus IV (’n Siriese koning). Na Seleucus se dood het Antiochus egter op agteraf wyse, die troon bestyg – ons lees daarvan in vv.21-22 ~ Hy sal opgevolg word deur ’n  veragtelike persoon wat geen koninklike status besit nie, maar wat sy weg sal baan terwyl die mense niks vermoed nie en wat die mag sal kry deur slinksheid. 22Hy sal die leërs van die instromende mag voor hom wegvee en uitwis, ook die leier van die verbondsvolk.
      
       Antiochus het allerlei bondgenootskappe gesmee, maar dit behou net so lank as wat dit hom gepas het – soos wat ons bv. in v.23 sien ~ Die veragtelike persoon sal troubreuk pleeg teen die bondgenootskappe wat met hom aangegaan word en hy sal groot en sterk word, al is sy nasie klein. As iemand hom teëgestaan het, het hy hulle net eenvoudig uit die weg geruim (v.22)., insluitende
die Joodse Hoë Priester van daardie tyd, Onias III wat moontlik die “leier van die verbondsvolk” was, waarna v.22 verwys.

       Oorlog tussen die suide en die noorde sou gedurende hierdie tydperk weer opvlam (v.25).

       Antiochus het egter op sy neus gekyk toe hy Egipte wou oorwin en hy hom bloedneus geloop het teen die Romeine, omdat die Romeinse aanvoerder hom oortuig het dat hy die stryd gaan verloor en hy die aftog geblaas het. Terwyl Antiochus egter nog in Egipte was het ’n gerug dat hy selfmoord gepleeg het, Juda bereik en het die Jode onmiddellik in opstand gekom oor hul onderdrukking. ’n Lewendige Antiochus het egter Jerusalem binnegeval en die dodetal in die heilige stad was geweldig groot. Hy het alle Joodse gebruike summier verbied – soos bv. die besnydenis en die daaglikse offerandes by die Tempel en in plaas daarvan het hy bv. varkvleis op die offeraltaar begin offer; hy het die Allerheiligste onteer en die Tempel toegewy aan die afgod Zeus ~ Van die koning se troepe sal die heiligdom en die vesting ontheilig. Hulle sal die daaglikse offer afskaf en ’n  ding oprig wat ’n  gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig (v.31). Sommige van die Jode het ingegee onder die druk van vervolging en kragte saamgesnoer met Antiochus, terwyl andere getrou volgehou het met hul aanbidding van God, met die gevolg dat ons die volgende van hulle in v.33 lees ~ Verstandige leiers van die volk sal leiding gee aan baie mense, maar ’n tyd lank sal hulle doodgemaak, verbrand, gevange geneem en geplunder word.
      
·           Van sleg tot slegter (vv.36-39):
       Dit is nie baie duidelik in vv. 36-39 of daar steeds van Antiochus of dalk ’n nuwe regeerder gepraat word nie, maar wat wel seker is, is dat dinge onder Antiochus baie sleg gegaan het, maar later sou dit selfs nog slegter gaan in die wêreld.

       Óf Antiochus óf die volgende koning of konings, sou maak nes hy wou en hy sou homself verhef bo selfs die gode van daardie tyd – hyself sou hom beskou as ’n god, groter as die ander vals gode; hy sou selfs laster teen God Almagtig, want hoor wat sê v.36 ~ Die koning van die noorde sal maak soos hy wil en sal hom verhef en hom groter hou as enige god. Selfs teen die ware God sal hy ongehoorde dinge sê. Hy sal daarmee aanhou totdat die tyd van God se toorn oor sy volk verby is, want wat besluit is, sal gebeur.

·           Die laaste dae (vv.40-45):
       Wat wel duidelik uitstaan, is dat daar in vv.40-45 ’n duidelike verandering in Daniël se taalgebruik plaasvind wat beslis dui op ’n tydperk ná Antiochus – ’n tydvak wat oorgegaan het van ’n vorige reeks konings tot ’n finale, laaste koning en ons sien dit in die beskrywing van die dood van die koning in hierdie laaste verse van Daniël se visioen – ’n beskrywing van die dood van die heerser van daardie tyd, wat nie die dood van Antiochus pas nie, want Antiochus is dood tydens ’n klein veldslag teen die Persiese Ryk in 164 v.C. en nie tussen die see en Jerusalem soos die laaste verse aandui nie en dit is belangrik om hiervan kennis te neem, omdat die voorafgaande verse presies soos beskryf, vervul is en daarom kan hierdie laaste verse nie op Antiochus se dood dui nie en beskryf dit gebeure wat nog moet kom – kom ons lees dit egter eers ~ In die eindtyd sal die koning van die suide hom aanval, maar hy sal teen die koning van die suide opruk met strydwaens, ruitery en baie skepe en sal die een land na die ander oorval soos ’n  oorstroming. 41Hy sal selfs die beloofde land inval. Baie lande  sal voor hom val, maar Edom, Moab en die beste dele van Ammon sal uit sy mag ontkom. 42Hy sal sy mag uitbrei oor baie lande, en selfs Egipte sal nie ontkom nie. 43Hy sal oor Egipte se skatte, sy goud, sy silwer, al sy kosbare dinge, beheer hê en hy sal ook die Libiërs en die Kussiete onderwerp. 44Dan sal gerugte uit die ooste en die noorde hom ontstel, en hy sal woedend optrek om baie mense dood te maak en uit te roei. 45Hy sal sy koninklike tente opslaan tussen die see en die pragtige berg waar die heiligdom staan. Maar dan sal hy aan sy einde kom en niemand sal hom kan help nie.

       Hier is sprake van die welbekende uitdrukking, “die eindtyd” en wanneer baie mense die woord “eindtyd” hoor, dink hulle onmiddellik aan dinge soos die “wegraping”; die “Antichris”; Jesus se tweede koms, ens. So hoor ons nou al weer uit allerlei oorde dat ons (al weer?) in die eindtye leef en dat Obama die Antichris is, omdat daar nou sprake daarvan is dat hy aangekondig het dat alle Amerikaners ’n mikroskyfie moet kry ten einde te kwalifiseer vir mediese dienste.
 
       Wanneer en wat is die “laaste dae”? Die “Despensasie-literatuur” (Charismatiese- en Pinkstergroepe) en uitsprake wat ongelukkig aan die orde van die dag is en wat handel oor dinge wat sg. gaan gebeur net voor en tydens Jesus se koms (bv. die wegraping; groot verdrukking; millennium tydperk van Christus se regering vanuit Jerusalem, ens.) wys duidelik daarop dat hierdie groepe, gryp na allerlei politieke gebeurtenisse en natuurverskynsels in ons tyd om te waarsku dat dit nou “sulke tyd” is (hulle doen dit al vir dekades lank en dit hou net aan en aan).

       Die Bybelse fokus van die “laaste dae” val egter op heeltemal ander gebeure – dit fokus op die lewe van Jesus Christus, wat die meeste Ou Testamentiese profesieë vervul het met Sy vleeswording en wat sentraal staan in die hele verlossings geskiedenis van die mensdom. Die Ou Testament getuig van die profesieë aangaande die Verlosser en die Nuwe Testament getuig van die vervulling daarvan, daarom dat Jesus in Joh.5:46 sê ~ ...dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Christus is dus die skeidslyn in die wêreld se geskiedenis, daarom dat die wêreld (selfs die heidense wêreld!) die afkortings v.C. en n.C. gebruik.

       Die tydperk wat Jesus op aarde was, word ook die Messiaanse era genoem en die Woord verwys gedurig na hierdie tydperk as die Nuwe Verbondstydperk en ook “die laaste dae”. ’n Goeie verwysing hier is bv. Dan.2 waar dit handel oor Nebukadneser se droom en hoe die Rots, Jesus Christus uiteindelik al wat koninkryk is, gaan vernietig (vv.34-35). Daar word deurgaans in die Ou Testament geprofeteer oor die “laaste dae” en dan word daar deurgaans verwys na die eerste koms van die Messias – die “laaste dae” het dus begin met die eerste koms van Jesus en hou steeds aan tot in ons dag.

       Toe Christus die eerste keer gekom het, het die “volheid van tyd” plaasgevind. Gal.4:4 (OAV) verwys dan ook o.a. hierna ~ Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur... (sien ook Matt.4:17; Mark.1:15). Ons vind nog ’n pragtige voorbeeld hiervan in Hebr.1:1-2 ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.  Jesus Christus het dus gekom ten einde die era van die “laaste dae” in te lui en daar seker geen beter bewys daarvan as Paulus se woorde in 1 Kor.10:11 is nie (ek lees van v.9 af) ~ Laat ons Christus nie uittart nie, soos sommige van hulle Hom uitgetart het, en hulle het deur slange omgekom. 10En moenie teen God in verset kom nie, soos sommige van hulle in verset gekom het, en hulle het deur die engel van die dood omgekom. 11Hierdie dinge het oor hulle gekom as ’n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef. Hierdie “laaste dae” (meervoud) sal aanhou tot op die “laaste dag” (enkelvoud) en wanneer is hierdie laaste dag? Joh.6:39 ~ En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan – die dag wanneer Christus weer gaan kom (Sy tweede en finale koms).

       Die eerste gelowiges het dus alreeds in die “laaste dae” geleef en hierdie laaste dae duur voort en daarom leef ons ook tans nog in die “laaste dae” en dit sal aanhou tot en met die “laaste dag” wanneer Christus weer op die wolke gaan terugkeer – daar gaan dus geen nuwe era wees nie – geen millennium tydperk van groot vrede en vreugde wanneer Christus vir ’n duisend jaar saam met die gelowiges vanuit Jerusalem gaan regeer nie – daar is nie drie tydperke in die wêreldgeskiedenis nie – daar is net twee en ons leef in die tweede – die “laaste dae”!  (dit is dus nie nodig om skuldig te voel dat julle nie Hebreeus leer soos so vele van ons Charismatiese broers nie, want Christus gaan vanuit ’n hemelse Jerusalem regeer!).

       Maar terug na Dan.11:40-45. Wanneer ons na hierdie gedeelte kyk, moet ons 12:1-2 hiermee saamlees ~ In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ’n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word. 2Baie van dié wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting. Dit gaan hier, sonder om hoofstuk 12 nou vooruit te loop, oor die feit dat Israel die begraafplaas van God se oordele oor Israel gaan word. Luk.2:34 verwys ook na hierdie tydperk ~ Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word. Sommige sal in Jesus glo en andere nie en dan natuurlik ook Matt.24 waar ons sien dat Jerusalem en die Tempel en daarmee saam die Ou Verbond uiteindelik vernietig sal word in 70 n.C.

3.     TOEPASSING:
       Wat moet ons as huidige gelowiges egter uit hierdie profesie en geskiedenis neem?

       Gedurende hierdie tydperk waaroor Dan.11 se profesie gaan, sien ons hoe gelowiges swaargekry het – selfs gedood is vir hul geloof – ons het dit vanaf Ester gesien en reg deur die eeue heen tot en met Christus se koms. As ons, ons lewe vergelyk met hulle s’n, dan moet ons, ons koppe in skaamte laat sak oor ons dikwelse opstand en ongelukkigheid wanneer ons bietjie swaarkry, maar die lesse wat hierdie profesie vir Daniël en sy volksgenote en ook die geslagte ná Daniël wou leer, is net so van toepassing op ons in ons omstandighede, hoe gering, of hoe ernstig ook al.

       Daniël wil ons vier imperatiewe (opdragte) leer, nl. glo, weerstaan, bid en onderrig.
·           Glo:  Ons lees in Dan.11:32 ~ Die koning sal dié wat aan die verbond ontrou is, deur vleiery verlei tot afvalligheid, maar die mense wat hulle God ken, sal vasstaan. Dit is diegene wie God die Vader ken, wat vas sal staan in tye van swaarkry. Geloof in God se soewereine mag soos geopenbaar in Daniël se profesie, is die basis vir volharding; vir ons hoop; vir ons oorwinning. Geskiedenis is dus nie maar net ’n weergawe van ’n klomp deurmekaar gebeure en sketse van ’n klomp korrupte en vervloë mense en heersers nie – nee, dit is God-geskrewe en God-bepalende gebeure wat vir ons gegee word om God se soewereine hand in wêreldgebeure raak te sien. Ons moet God beter leer ken deur die Woord en dit glo, ten einde vas te kan staan in tye van beproewing. 
·           Weerstaan:  Ons word tweedens geroep om te alle tye versoekings te weerstaan en getrou te bly aan God en Sy Woord. Ons het gesien hoe die Jode onder Antiochus kompromie gemaak en hul geloof versaak het. Mag en getalle kan baie aanloklik lyk ~ Die koning sal dié wat aan die verbond ontrou is, deur vleiery verlei tot afvalligheid, maar die mense wat hulle God ken, sal vasstaan (Dan.11:32). Diegene wie God ken en in Hom glo en versoeking en vleiery weerstaan, sal volhard tot die einde toe, selfs al het ons getrouheid, martelaarskap tot gevolg – Jesus sê in Matt.10:28 ~ Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.
·           Bid:  Ons moet verstaan dat die geveg teen onderdrukkers en ons eie emosies en beproewing, nie gewen word deur staat te maak op bloot net ons eie krag en insig nie, maar dit moet gepaard gaan met gebed. Daniël het gebid en die hemele is in beroering gebring en sy gebed is verhoor en God het hom te hulp gekom.
·           Onderrig:  Ons word in laaste plek opgeroep om almal rondom ons te onderrig. Ons naaste behoort te weet dat geskiedenis – Bybelgeskiedenis spesifiek, deur God bepaal word om 'n baie goeie rede en ons word geroep om dit aan hulle te vertel – Dan.11:33 ~ Verstandige leiers van die volk sal leiding gee aan baie mense. Ons word daagliks omring deur mense wie net ingestel is op die huidige en dit wat rondom hulle aan die gang is – ons het ’n roeping om aan hulle te vertel dat God se Woord ook oor die toekoms praat – ’n toekoms waarin diegene wie volhard in hul ongehoorsaamheid aan God, geoordeel gaan word.

       Ek het Donderdagoggend ’n wonderlike getuienis gelees wat ons só sterk moet motiveer om die boodskap van redding uit te dra en ek weet dit gaan nou meer tyd as gewoonlik in beslag neem, maar ek móét dit ter motivering met julle deel – ek gaan dit kort probeer hou en opsommend aan julle deurgee, maar die volledige getuienis kan gelees word by: http://thegospelcoalition.org/blogs/tgc/2014/04/30/the-storm-is-coming/.
Die titel van die stuk is “The storm is coming” deur Betsy Childs en sy vertel in hierdie artikel hoe sy opgegroei het in Alabama (V.S.A.) waar dodelike tornado’s in 2011, 238 mense dood agter gelaat het. Sy vertel dat Tornado-waarskuwings gereeld in daardie area gegee word en omdat sy daar groot geword het, het sy, net soos die meeste ander, haar nooit regtig aan die waarskuwingseine en –berigte gesteur nie – jy raak afgestomp daarvoor, maar sedert Maart 2011 het haar gesindheid radikaal verander, nadat sy die dodelike- en verwoestende gevolge van 199 tornado’s in ’n paar dae in Alabama ervaar het.

       Sy sê dat die tragiese van die hele situasie was dat hulle geweet het dat tornado’s op pad was, want hulle was dae voor die tyd al deur o.a. die Weerburo gewaarsku, maar hulle het hulle nie daaraan gesteur het nie, want hulle wou eers regtig sien of dit gaan gebeur. Sommige het ná die eerste paar kleiner tornados, waarin slegs 3 mense dood is, nie die volgende waarskuwings gehoor nie, omdat hulle kragtoevoer vir dae lank onderbreek was en hulle nie TV kon kyk nie en hul selfone nie gelaai kon word nie, maar dan was daar andere wat steeds toegang toe die media gehad het en nogtans steeds die houding gehad het van, ons wil eers die tornado’s sien, voor ons dit glo en dan sal ons skuiling soek. Een persoon het na die tyd vertel dat hy dit net betyds gemaak het, soveel so dat die sinkplate en bakstene van geboue rondom hom, alreeds teen die valdeur van hulle skuiling begin val het, terwyl hy in die proses was om dit toe te maak – net betyds dus! 238 mense en nog meer beseerdes het dit op die oggend van 27 April 2011 waarskynlik ook gedoen, maar hulle was te laat.

       Betsy Childs gaan voort en vra wat dit met die Evangelie te doen het? Die Woord van God is vol waarskuwings van ’n “vernietigende storm” wat in ons rigting op pad is – die storm van God se gramskap (wrath) ~ Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom (OAV – Joh.3:36 – sien ook Rom.2:5). Daar is egter ’n “skuiling” beskikbaar wat deur God self voorsien is, nl. Sy Seun, Jesus Christus. Christus se bloed wat ons van God se gramskap sal beskerm, soos wat die Paaslam die Israeliete teen God se doodsengel beskerm het. Niemand sal egter skuiling soek in Christus as hulle nie weet dat “Sy tornado” op pad is nie en daarom moet ons die “weerberigte” en “waarskuwings” na hulle uitdra.

       ’n Verloregaande wêreld sal nie die realiteit van God se gramskap glo voor dit op hulle neerdaal en dit te laat is nie. Eerstens moet ons sorgdra dat ons nie ook onder hulle is nie, maar andersyds moet ons hierdie “waarskuwingseine” duidelik en helder “uitsaai” ~ ...Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding (2 Kor.6:2b).

       Ek vra myself en vir julle af: As ons in Alabama woon en ons sien die donkerwolk met sy slurp wat teen ’n geweldige spoed op ons afpeil en ons Tornado-skuilplek is tussen ons en ons bure, sal ons daarheen hardloop, sonder om vir ons bure al hardlopende te skreeu en te waarsku, of sal ons ook vir hulle skreeu om dadelik skuiling te soek, omdat hulle dalk nie die waarskuwingsboodskappe gehoor het, of hulle nie daaraan gesteur het nie?

       N.s.: Nog ’n pragtige vergelyking is dié wat Ray Comfort gebruik – hy skryf op sy webtuiste (www.livingwaters.com): When surfing first began, surfboards were much longer and surfers would kneel on their boards and paddle in that position, rather than lying down. In large surfs this had a great advantage, enabling us to stand on our boards to see if any large sets of waves were on the horizon.
One would often hear a surfer call out, “Big set coming!” Others would quickly begin paddling toward the horizon, because they didn’t want to get caught “inside,” and have gigantic waves break on them.
If a surfer found himself caught within the breaking area, he had a choice. He could either hold onto his board and allow tons of water to break upon him, or he could get off his board, thrust it away from his body, and dive deep into the water to escape the crushing power of the waves. If he choose to stay with his board, he took his life into his hands. If the board was ripped from his hands and hit his head, he could drown—so it was wise to push it as far away as possible.

For thousands of years the prophets have called, “Big set coming!” The coming of the great and terrible day of the Lord is closer than when we first believed. All human beings have a choice. They can either cling to their sins, or thrust them far from them and dive deep into the mercy of God, which is available only in Jesus Christ. Those who choose to hold onto their sins will find that what they love will turn against them, become evidence of their guilt, and be the death of them.
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 04 Mei 2014