Sunday, April 6, 2014

Wie is hierdie Jesus?

1.  SKRIFLESING:
Joh.1:1-18 ~ In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2 Hy was reeds in die begin by God. 3 Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4 In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5 Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie. 6 Daar was ’n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. 7 Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. 8 Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. 9 Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10 Hy wás in die wêreld-die wêreld het deur Hom tot stand gekom-en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11 Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13 Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore. 14 Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. 15 Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.” 16 Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17 God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18 Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.

2.  TEKSVERS:
Vv.1-2 ~ In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2 Hy was reeds in die begin by God.

3.  INLEIDING:
Wanneer ons hierdie vers lees, dink ek is dit ’n baie goeie vraag om te vra, nl.: “Wat beteken hierdie uitdrukking ‘Wóórd’?” Volgens die Verklarende Afrikaanse Woordeboek, beteken die woord, “woord”: 
1. ’n Eenheid van vorm en betekenis in taal wat selfstandig betekenis oordra of anders gestel, Die sigbare voorstelling (in skrif of druk) van ’n bepaalde gedagte.
2. Wat gespreek is, die gesprokene.
3. Belofte.
4. Die Woord - die Heilige Skrif. 
Is dit egter wat ons teksvers vir ons hier wil deurgee?  Nou ja, ek weet almal van ons weet dat dit nie is wat hierdie woord, “Wóórd” in hierdie konteks beteken nie – maar wat beteken dit dan werklik?

In die Grieks sien ons dat hierdie woord, λόγος (logos) is.  Die Grieke van destyds, het hierdie woord egter anders gebruik as wat ons dit vandag gebruik.  As ons vir ’n oomblik tegnies kan raak, het hulle hierdie woord op drie maniere gebruik, nl.:  logos prophorikos; logos endiathetos en logos spermatikos.  Wat ons teksvers betref, kan ons net na die eerste twee kyk:

*      logos prophorikos:
Hierdie uitdrukking is dieselfde as die woord wat ons in ons definisie gesien het, nl.: Die sigbare voorstelling (in skrif of druk) van ’n bepaalde gedagte.

*      logos endiathetos: 
Wat logos endiathetos betref, het ons glad nie ’n woord wat hierdie Griekse uitdrukking kan omskryf nie – dit was ’n woord wat nie geskryf of op enige manier geuiter is nie.  Dit was ’n woord wat net in die gedagtes bestaan het.

Kom ons probeer dit nog verder omskryf.  Die antieke Grieke het na die heelal gekyk en gesien dat daar orde was, m.a.w. daar was nie chaos rondom hulle nie.  Die son het elke dag op ’n gegewe tyd opgekom en weer onder gegaan. 
Heraclitus (een van hierdie Griekse filosowe) het bv. gesê dat die sterre in hul bane beweeg en weer op ’n gegewe tyd verskyn, net soos wat die Wiskundiges voorspel.  Die seisoene het gekom en gegaan.  ’n Boer het gesaai en op ’n bepaalde tyd het hy weer geoes.  Die Grieke het dus orde oral rondom hulle gesien.  Waarom?  Omdat daar, het hulle gesê, iewers in die heelal, ’n “Orde” bestaan het, wat hierdie orde in die heelal gereël en in stand gehou het. 

Vir hulle was daar dus iewers in die heelal, iets van ’n “Siel”.  En hierdie “Siel” was oneindig wys.  Hierdie logos endiathetos het daarom ook vir hulle onuitspreeklike wysheid geïmpliseer en daarom was God ook vir hulle die alomteenwoordige “Wysheid” wat alles beheer het.

Die Stoïsyne (’n latere groep Griekse filosowe) het egter gesê dat hierdie “Logos” of “Wysheid” nie ’n god , of persoon was nie, maar ‘n krag wat die heelal volgens natuurwette aan mekaar en in balans gehou het.

Johannes was natuurlik nie ’n volgeling van óf Heraclitus, óf die Stoïsyne nie en natuurlik ook nie diegene vir wie Johannes hierdie Evangelie geskryf het nie.  Johannes het egter besef dat wat hierdie filosowe sê, belangrik is om van kennis te neem en ook, dat hulle idees indruk gemaak het op die gewone man op straat.  Daarom sou die gewone leser nie gewonder het waarvan Johannes praat as hy praat van die “Woord” of die “logos” nie.

Die Jode se verwysingsraamwerk en agtergrond, aan die anderkant, was anders as dié van die Grieke.  Vir hulle is die uitdrukking “Woord”, geassosieer met God se aktiwiteite en spreke.  So het hulle bv. presies verstaan wat daar in Ps.33:6 staan ~ Deur die woord van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame.  Of in Jes.55:11 ~ So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.

Ons sien dus dat Johannes hier op ’n baie slim manier, ’n woord gebruik wat vir beide die heidene, asook die Jode, baie besliste betekenis gehad het.

4.  DIE IDENTITEIT VAN DIE WOORD:
Wie of wat is hierdie “Woord” egter vir ons?  Net ’n “Krag”? Is dit “Orde” soos vir die ou Grieke?  Is dit die “Spreke” of “Woord” van God soos vir die antieke Jode? 

Nee, ons weet n.a.v. vers 14, dat die “Woord” verwys na Jesus Christus, die tweede Persoon in die Goddelike Drie-eenheid ~ Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

In die lig van wat ons dan netnou gesien het, t.o.v. die gebruik van die woord logos endiathetos gebruik Johannes dus hierdie uitdrukking op ’n baie wyse manier, om Jesus Christus aan sy lesers bekend te stel en hy doen dit op ’n ander manier as die ander drie Evangelies:
*      Tot ’n groot mate skets Matteus vir ons die Here Jesus Christus primêr as die Joodse Messias;
*      Markus daarenteen se doel is om Jesus as God se Dienskneg aan ons voor te stel;
*      Lukas weer, handel hoofsaaklik oor Jesus se vleeswording – Sy mensheid m.a.w.
*      Johannes aan die anderkant, openbaar Christus aan ons as die ewige , “vooraf-reeds-bestaande” Seun van God wat mens geword het, ten einde die Vader te openbaar en om aan die mens die weg tot saligheid te kom bied, deur Sy dood  en letterlike vleeslike opstandig.  En hoe weet ons dit?  Omdat Johannes in Joh.20:30-31 skryf ~ Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31 Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê. 

Wat sê Johannes dan hier vir ons?  Hy sê, dat Jesus Christus nog altyd daar was – Hy was met God en Hy is dus God self.  Hierdie openingsverse van Johannes beskryf dus vir ons die Godheid van Jesus.

Ons teksverse wil vir ons drie dinge sê t.o.v. die Goddelikheid van Jesus Christus: 
*      Die eerste, is dat Jesus “in die begin” reeds bestaan het.  M.a.w. Hy was reeds, nog voor enige iets geskape was. 

Ons moet egter ook kennis neem van die feit dat die uitdrukking “in die begin” op meer as een manier gebruik was.

In 1Joh.1:1 word hierdie uitdrukking gebruik om na die begin  van Jesus se aardse bediening te verwys ~ Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe.

In Gen.1:1 word hierdie selfde uitdrukking gebruik, maar dit verwys na die begin van die skepping ~ In die begin het God die hemel en die aarde geskep

Johannes daarenteen, gaan verder en hy sê eintlik, dat ons net reg kan laat geskied aan die Goddelikheid en Persoon van Jesus, as ons verder terug gaan as bloot net Sy aardse bestaan, ja selfs verder terug as die begin van die skepping, ons moet nog verder terug gaan – die ewigheid in, want dit is Wie Christus werklik is – Christus is voorwaar God self – Hy is die Tweede Persoon in die Goddelike Drie-eenheid – Hy is van ewigheid tot ewigheid (Hy was altyd daar en Hy sal altyd daar wees).

Die skrywer van die Hebreërboek vat hierdie laaste gedagte vir ons pragtig saam, wanneer hy in Hebr.1:1-2 sê ~ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2 maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.  Die Openbaringboek openbaar Christus as die Alfa en die Omega.....die Eerste en die Laaste (Openb.1:8,17).  En Paulus skryf in Fil.2:6, van Christus,  Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie....  Christus is dus God en Hy was nog altyd daar.

*      Ons sien tweedens, dat Christus by God was ~ Hy was reeds in die begin by God (1:2).  Johannes konstateer hier vir ons op ’n baie subtiele wyse, die afsonderlike persoonlikheid van Christus.  Johannes sê dat Jesus ten volle God is, want Jesus het self in Joh.14:9 gesê ~ Wie My sien, sien die Vader.  Johannes is egter ook, as hy hier skryf, deeglik bewus van die feit dat die Goddelike Drie-eenheid hier ter sprake is.

*      In die derde plek stel Johannes dit ondubbelsinnig, dat Jesus ten volle God is, wanneer hy sê ~ ....en die Woord was self God (1:1b).  Dit beteken dat alles wat van God die Vader gesê kan word, ook van God die Seun, Jesus Christus gesê kan word.  Al die wysheid, heerlikheid, mag, liefde, heiligheid, geregtigheid, goedheid en waarheid wat daar in God die Vader teenwoordig is, is net so teenwoordig in Jesus.  Deur Jesus kan ons dus vir God die Vader ken.  Johannes som hierdie stuk lering van hom op in vers 2, deur te sê ~ Hy was reeds in die begin by God.

5.  PRAKTIESE TOEPASSING:
Die vraag wat u moontlik mag vra, is:  “Wat maak dit nou regtig saak om te sê dat Jesus Christus, God is?”

Daar is vier baie belangrike redes waarom dit wel belangrik is om te weet en te glo dat Christus, God is:

*      Wanneer ons dit weet en glo, kan ons nou waarlik, die waarheid t.o.v. God ken.  Ons kan dus wéét Wie die Vader is – ons kan Hom ken.  Is God, die god van die Moslems?  Is God die god van Plato, of die Stoïsyne?  Is God nie dalk die god van die filosowe en sielkundiges en “Post Moderniste
Sonder Christus Jesus sal ons nie werklik weet nie en kan ons die Vader nie werklik ken nie.  Daarom is dit so belangrik dat ons Christus sal ken, want dan sal ons die Vader ken en sal ons weet dat die God wat ons aanbid – die God van die Woord, waarlik die enigste ware God is, omdat ons Hom deur Jesus Christus ken.  Daar bestaan dus geen kennis van God, sonder die kennis van Jesus nie.

Hoe hartseer is die verhaal in Joh.14 nie, waar die dissipels bykans aan die einde van Jesus se bediening hier op aarde, Hom steeds nie geken het vir Wie Hy waarlik is nie en daarom ook steeds nie Wie die Vader werklik is nie.   As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.” 8 Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” 9 En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? 10 Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11 Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self (Joh.14:7-11).

As ons wil weet Wie en wat God die Vader is, moet en kan ons slegs die lewe en Persoon van Jesus Christus bestudeer.

*      Die tweede rede waarom dit belangrik is om te weet dat Christus, God is, is die feit dat God nog altyd soos Jesus was.  Waarom is dit belangrik om dít te weet?  Omdat, ons as mense neig om te dink, dat God die Vader nog altyd net ’n heilige, onbuigsame, hardvogtige en wraakgierige God is en dat Jesus, God se woede in liefde verander het en dat Jesus, God se gesindheid jeens die mensdom verander het.  Dit is egter glad nie waar nie, want die hele Nuwe Testament leer ons, dat God die Vader, nog altyd soos Jesus Christus die Seun was.

Het Jesus sonde gehaat?  Ja, o ja, Hy het!  Jesus het egter vir ons, in die woorde van William Barclay, ’n venster kom oopmaak, ten einde God se ewige en onveranderlike liefde raak te sien.  Trouens, God het die sonde só intens gehaat, dat ons almal sou moes omkom, máár aan die anderkant, het Hy ons só oneindig lief, dat Hy ’n weg moes beplan, ten einde ons te red van die ewige verdoemenis.

Daarom dat ons in die Ou Testament sien, dat God sê, dat daar ’n weg tot verlossing móét wees en kom en dat Hy in die Nuwe Testament sê:  Dáár ís die Weg tot vergifnis van sonde!”   

En wanneer ons by die huidige kom, en die Woord deur ons gelees word en dit gepreek word, vind ons hoe dat God tot ons harte spreek en vir ons sê: Dit wás die versoening van sonde.  Glo dit en word gered! 

God was nog altyd soos Jesus.

*      Derdens:  Dit is vir ons uiters betekenisvol, dat Christus juis as God, aan die kruis gesterf het, want op daardie wyse het Hy vir ons die algenoegsame en volkome aanvaarbare offer vir die mens se sonde geword.

Ons is sondaars en verdien dus die ewige dood en geen ander mens is volmaak genoeg om namens ons, ons straf te dra nie – slegs iemand wat volkome heilig en sonder sonde is, is by magte om God tevrede te stel as plaasvervangende offer vir ons.  En net Christus, omdat Hy God self is, is sonder sonde en daarom is net Hy by magte om diegene wat in Hom glo, se sonde permanent te verwyder

*      Laastens:  Omdat Jesus, God is, impliseer dit, dat slegs Hy wat almagtig is, daartoe in staat is om al die behoeftes van ons hart, te bevredig.

Ef.3:18-19 spreek vir ons hierdie realiteit pragtig aan.  Ons sien ook in hierdie gedeelte al vier dimensies van God se liefde, nl. die breedte-, die lengte-, die diepte- en die hoogte van Sy liefde en omdat God se liefde so omvangryk en so volmaak is, kán Hy voorsien in ál ons behoeftes ~ Mag julle in staat wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, 19 en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God (O.A.V.).

6.  TEN SLOTTE:
Die verhaal word vertel van ’n klompie van Napoleon se soldate, wat ’n gevangenis in Spanje ontbloot het, wat tydens die Spaanse Inkwisisie onder die grond  in kerkers was.  In een van hierdie doolhowe het hulle afgekom op die geraamte van ’n gevangene met die ysterklem en ketting nog om sy enkel.  Bokant sy kop was daar teen die klipmuur, ’n ruwe kruis met ’n yster voorwerp uitgekrap en by elk van die punte van die kruis, was die hoofgedagtes van Ef.3:18 & 19 in Spaans, uitgekrap, nl. breedte, lengte, diepte en hoogte.  Dit is baie duidelik dat hierdie sterwende gelowige homself getroos het en krag geput het uit die wete dat God self, in Sy volmaakte liefde en almag, hom deur sy beproewing sou dra!

Ons het aan die begin gevra:   “Wie is hierdie Woord?”  “Wie is hierdie Christus Jesus?”  Hierdie vraag is regdeur die Nuwe Testament gevra.  So het die mense in Matt.21:10, op Palmsondag, vir mekaar gevra ~ “Wie is hierdie man?” . Die dissipels het in Mark.4:41 nadat Jesus die storm stil gemaak het, gevra ~  Wie kan Hy tog wees?  En in Luk.9:9 vra Herodes ~ Wie is hierdie man?  En in Luk.5:21, nadat Jesus die sonde van die parapleeg vergewe het, vra die Skrifgeleerdes en Fariseërs ~ Wie is Hy? 

Dít is die vraag wat die mensdom – wat jy, vandag vir jouself moet afvra:  “Wie is hierdie Jesus?”  Is Hy slegs ’n mens?  Indien Hy is, kan jy maar vergeet van Hom!  Indien Hy egter wel God is, dan vereis Hy van jou en my om in Hom te glo en maak Hy aanspraak op jou volkome toewyding, gehoorsaamheid en lojaliteit.

Glo jy in Christus Jesus?  Glo jy dat Hy God is?  Indien jy dit glo, kan jy saam met Thomas uitroep, “My Here en my God!” (Joh.20:28b).

Om weg te skram van hierdie belydenis, is om vir ewig te vergaan in die helse verdoemenis.  Om dit egter te glo en te bely en te  leef, is om die ewige lewe binne te gaan!


Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 06 April 2014