Sunday, April 13, 2014

Psalm 22 (“Dawid se Templaat vir die Evangelie”)

1.     INLEIDING:
       Ons staan midde in die tydperk van die Paasfees – vandag voer kerke regeoor die wêreld, Palmsondag; e.k. Vrydag is dit Goeie Vrydag – die dag waarop Jesus gekruisig is. Volgende Maandag is dit die derde dag nadat Jesus gekruisig is – die dag waarop Hy opgestaan het uit die dood. Veertig dae na Jesus se kruisiging vind die Hemelvaart plaas en nog tien dae later is dit Pinksterdag – die dag waarop die Heilige Gees uitgestort is.

       Hierdie volgende klompie weke is dus ’n baie belangrike tydperk op gelowiges se kalender. Alles rondom Christus se bediening hier op aarde het ’n klimaks tydens hierdie tyd  bereik, maar daar was een moment; een oomblik in Jesus se bediening hier op aarde wat Sy bediening afgerond het; Sy bediening saamgevat het – die hoogtepunt van Sy bediening – die hoogtepunt van ons feesvieringe – een oomblik waar alles vir ons as gelowiges verander het en waar ons geloof vasgesement is in die geskiedenis van die heelal – die oomblik toe Jesus gevra het: “My God, my God, waarom het U My verlaat” – en ons weet dat Jesus kort daarna die antwoord op Sy uitroep self gegee het, toe Hy uitgeroep het: “Tetelestai” – dit is volbring! – daardie oomblikke word vir ons pragtig saamgevat en beskryf in Psalm 22.

2.     SKRIFLESING:
Ps.22:1-32 ~ Vir die koorleier: op die wysie van “Die wildsbok van die daeraad”. ’n Psalm van Dawid.
2My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? 3My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie. 4U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink! 5Op U het ons voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered. 6Hulle het na U om hulp geroep en hulle is bevry; op U het hulle vertrou en hulle is nie beskaam nie. 7Maar ek is ’n wurm, nie ’n mens nie. Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag. 8Almal wat my sien, spot my, hulle steek vir my tong uit en knik met voldoening die kop en sê: 9“Laat dit aan die Here oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry as Hy dan so baie van hom hou.” 10U het my die eerste lewenslig laat sien, my veilig laat rus aan die bors van my moeder. 11Van my geboorte af is ek onder u sorg, van die begin van my lewe af is U my God. 12Moet tog nie so ver van my af weg bly nie, want die nood is naby en daar is niemand wat help nie. 13’n Wreedaardige klomp mense het my omsingel, soos beeste uit Basan staan hulle my toe. 14Soos verskeurende, brullende leeus storm hulle met oop bekke op my af. 15Ek is soos uitgestorte water, al my bene het uitmekaar geval, my hart het soos was geword, dit smelt weg in my. 16Ek is so min werd soos ’n potskerf, my tong kleef aan my verhemelte, U laat lê my asof ek dood is. 17Soos honde omsingel hulle my, die bende misdadigers sak op my toe, hulle bind my hande en voete vas. 18Al wat been in my is, kan ek tel; hulle kyk na my met leedvermaak. 19Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel. 20En U, Here-moet tog nie so ver bly nie, Bron van my krag, help my tog gou! 21Red my van die swaard, my kosbare lewe uit die mag van die honde. 22Red my uit die bek van die leeu en tussen die horings van die wilde beeste uit. U het my gebed verhoor! 23Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente, U in die volle vergadering prys. 24Julle wat die Here dien, prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob! Betoon Hom eerbied, nageslag van Israel! 25Die nood van die hulpelose het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie, Hom daarvan nie teruggetrek nie, maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor. 26My loflied in die volle vergadering kom van Hom af, my geloftes sal ek nakom voor die mense wat Hom dien. 27By dié offermaaltyd sal die armes genoeg hê om te eet, en sal dié wat na die wil van die Here vra, Hom prys. Mag hulle lank en gelukkig lewe. 28Mense oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer. Alle volke sal Hom as koning erken, 29want die koningskap behoort aan die Here; Hy heers oor die volke. 30Al die rykes van die wêreld sal ook aan dié maaltyd deelneem en Hom as koning erken, ja, alle mense, sterflik en verganklik, sal voor Hom kniel. 31Die nageslag sal Hom dien, en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag. 32Dié sal dan aan die volk wat nog gebore moet word van hierdie verlossingsdaad getuig: die Here het dit gedoen.

3.     AGTERGROND:
Hierdie Psalm word in baie kringe, die vyfde Evangelie genoem, omdat hier so baie van die Evangelie weerspieël word en dan spesifiek wat die kruisgebeure betref. Van die dertien Ou Testamentiese aanhalings wat in die Kruisigingsoomblik aangehaal word, kom nege vanuit die Psalms en ons tref vyf van hierdie nege aan in Psalm 22.

Die Psalm bestaan uit twee gedeeltes wat opmerklik van mekaar verskil. Die eerste gedeelte (vv.1-22) is ’n klaaglied, terwyl die tweede gedeelte (vv.23-32) ’n loflied is (let op: Verse verskil in Engelse vertalings van die Afrikaanse vertalings).           

Hierdie Psalm is nie net ’n klaaglied en uitroep van Dawid om hulp nie, maar dit is ook ’n wonderlike profesie t.o.v. die Verlosser Jesus Christus se kruisiging en die seël wat Christus op Sy aardse bediening geplaas het.  

4.     DIE PSALMIS SE WEEKLAAG:
       Die eerste gedeelte van die Psalm (soos reeds aangedui) word gedomineer deur ’n weeklaag (“lament”) van Dawid en daar is drie klaagliedere, nl. in vv.1-3; 7-9 en 13-19 en elke weeklaag word elke keer opgevolg deur ’n verklaring van vertroue soos aangetref in vv. 4-6; 10-12 en 20-22.

·           Sy eerste weeklaag (vv.1-3):
       Dawid begin hierdie Psalm met die woorde ~ My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? Dawid ervaar verwerping en dit voel vir hom asof God hom nie hoor nie – so asof hy “teen die plafon vas bid” en hierdie uitroep van hom is ’n hoorbare, harde uitroep en ons weet dat dit hoorbaar is, omdat die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, dieselfde is as wat gebruik word in Sag.11:3 waar die gebrul van leeus beskryf word en ook die hoorbare uitroepe van konings wanneer hulle hul oorwinnings uitgeskreeu het (Eseg.19:7). Dawid ervaar dat Sy Hemelse Vader ver van hom is en hy roep hardop uit na God ~ ...waarom het U my verlaat? Maar tog, te midde van hierdie hoorbare uitroepe van Dawid in sy eensaamheid, erken hy nogtans deur sy uitroep dat hy glo en verseker weet dat God steeds sy God is, daarom dat hy uitgeroep het ~ My God, my God...

       Hierdie uitroep van Dawid is presies dieselfde woorde wat Jesus in Sy vierde kruiswoord geuiter het ~ Eli, Eli, lama sabachtani (Matt.27:46). Jesus se uitroep was ’n intieme uitroep deur ’n Seun wat daarna verlang het om weer Sy Vader se teenwoordigheid te kan ervaar. Die feit dat Jesus egter die woorde “My God” gebruik het i.p.v. “My Vader...”, dui vir ons daarop dat daar ’n breuk in die intimiteit van die Drie-Eenheid plaasgevind het.

       Hierdie ervaring van verlatenheid en verhoudingsbreuk was dieselfde wat mense in die Ou Testamentiese tyd ervaar het, wanneer God hulle daarvan beskuldig het dat hulle teen Hom gesondig het – bv. Rigters 10:31 ~ Maar julle was nou ontrou aan My, julle het ander gode gedien en daarom het Ek julle nie nou gered nie. Hierdie uitroep van Jesus was tydens die negende uur (15:00) en wel aan die einde van die drie uur periode van duisternis wat oor die aarde toegesak het (Matt.27:46).

       Die Psalmis ervaar ook iets van hierdie eensaamheid – natuurlik nie naastenby in dieselfde intensiteit as Jesus nie – hoe kon hy tog? Daarom dat hy voortgaan in v.2 deur vir die Here te vra waarom Hy so ver weg is, dat Hy hom wat Dawid is nie kan help of red nie – die NAV is swak vertaal hier en gebruik die woord “hoor”, maar Dawid vra die Vader waarom Hy hom nie kom help of red nie. God is baie ver vir Dawid – soveel so dat hy dit in vv. 12 en 20 herhaal.

·           Sy tweede weeklaag (vv.7-9):
       Ons vind ’n tweede weeklaag van Dawid in vv.7-9. Hier verwys hy na sy voorvaders wat ook op tye uitgeroep het na God en na wie Hy dan geluister het en hulle bevry het. Dawid daarenteen ervaar dat God hom nie hoor nie – soveel so, dat mense rondom hom, hom gespot het daaroor en hy soos ’n wurm gevoel het – verneder! Dawid is in hierdie geval ’n voorafskaduwing van dit wat met Jesus sou gebeur, terwyl Hy aan die kruis gehang het ~ Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud 40en gesê: “Jy wat die  tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!” (Matt.27:39).

       Hierdie haat en smaadwoorde wat Jesus toegesnou was, was reeds deur Jesaja in Jes.53:3-8 geprofeteer. Hierdie haat van die verbygangers was tekenend van diegene wie Jesus gekruisig het en min wetend het hulle presies dieselfde opgetree en dieselfde dinge gesê as Dawid se spotters in Ps.22:9 ~ Laat dit aan die Here oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry as Hy dan so baie van hom hou

·           Sy derde weeklaag (vv.13-19):
       Dawid se derde weeklaag vind ons in vv.13-19. Hier beskryf Dawid hoe hierdie aanval teen hom voel en hy gebruik op ’n pragtige manier allerlei metafore vanuit die diereryk om sy vyande te beskryf – beeste, leeus en honde. Hierdie diere versinnebeeld vir hom sy benarde posisie waarin hy verkeer met geen uitkom kans nie – geen ontsnaproete nie, trouens hy sien homself soos ’n dooie liggaam wat op die punt staan om uitgelê te word vir sy begrafnis – hy is fisies en emosioneel op sy einde en die feit dat sy tong aan sy verhemelte vaskleef dui op sy desperate laaste oomblikke voor hy gaan sterf – hy is onbeskryflik dors!

       Klink dit bekend? Joh.19:28 ~ Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” Hierdie gespot en gehoon van die verbygangers teenoor Jesus was ’n weerspieëling van die absoluut gevalle toestand van die mensdom en hoe ironies was dit dat die Skepper van hemel en aarde – van water o.a., so van God verlate kon voel, dat Hy uitgeroep het: Ek is dors.

       Dawid was gereed om te sterf en so ook Jesus – Hy het geweet dat Sy soewereine Vader dit so beskik het dat Hy moes sterf.

       Daar is ’n verdere pragtige ooreenkoms tussen Dawid en Jesus in v.17 – net so jammer dat die NAV heeltemal die pot hier missit. Jesus se hande was deurboor deur spykers en dit is ook in Jes.53:5 geprofeteer ~ Oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom. Die OAV vertaal v.17b van Ps.22 as volg ~ ...hulle het my hande en my voete deurgrawe, maar die ESV (V.16) is nog nader aan die korrekte vertaling en hier kan ons die pragtige ooreenkoms sien ~ ... They pierced my hands and my feet.

       In v.19 sien ons hoe Dawid nogeens profeteer oor presies wat met Jesus se klere gaan gebeur ~ Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel. Dit is natuurlik in ooreenstemming met Matt.27:35 waar die soldate, nadat hulle Jesus gekruisig het, presies dieselfde gedoen het – hulle verdeel Sy klere, want Hy was alreeds so goed soos dood, maar dit dra ook verder by tot Sy vernedering – half nakend, gestroop van die meeste van Sy klere, hang Hy voor die mensdom aan ’n misdadigerskruis – voor Sy moeder en voor Sy vriende!

       Vir Dawid het hierdie beproewing waardeur hy gegaan het waarskynlik net op ’n emosionele vlak gelê, maar vir Jesus het dit op alle vlakke van Sy bestaan gelê – fisies, emosioneel en geestelik. Ons sien Jesus aan die kruis – ons sien Sy pyn; Sy is dors; die bloed wat uit Sy wonde vloei; Sy ledemate is uit lit getrek van die hang aan die kruis; Hy word gespot en gespoeg en verneder; Hy hang aan ’n kruis wat net gereserveer was vir die ergste misdadigers; Sy kragte vloei uit Hom uit – en tog lees ons in Jes.53:10a ~ Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel; om hom die pyn te laat ly, waarom? ...v.10b ~ As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.

5.     DIE PSALMIS SE VERTROUE:
       Die Psalmis mag dalk teen die spreekwoordelike planke wees, maar hy gee steeds nie moed op nie. Al kan hy nie verstaan waarom die Here hom oënskynlik verlaat het, laat hy nie toe om in ongeloof te verval nie. In sy benarde posisie dink hy terug aan wie en wat God is en wat Hy vir hom gedoen het.

·           God se karakter (v.4):
       In v.3 sien ons dat hy verklaar dat God die Heilige is. God heers steeds oor die heelal, al swyg Hy op hierdie  stadium teenoor Dawid. Dawid verklaar egter ook dat God die Heilige is, omdat Hy in regverdigheid en geregtigheid heers en daarom het God die Vader ook Sy gesig verberg van Jesus en Hom verlaat toe Hy aan die kruis gehang het en Hy sonde vir ons geword het – Dawid het verstaan, net soos wat Jesus verstaan het, dat die heilige God, nie gemeenskap het met sondaars nie en in Jesus se geval het Hy die wêreld se sonde op Hom gelaai gehad.

·           God se mag (vv.5-6):
       Dawid weet egter ook dat God woon waar die volk se lofsange is. Sy voorvaders het hul vertroue en daarom geloof, in God gestel en God het hulle nie teleur gestel nie – Hy het hulle telkens verlos, soos wat Ps.44 dan ook van getuig.

       In Matt.27:43 sien ons hoe die verbygangers by Golgota ook verklaar het dat Jesus op God vertrou het en dit is wat Hy inderdaad gedoen het – Hy het geweet dat Hy moes sterf, want Hy het Homself oorgegee aan die wil van die Vader, maar Hy het ook geweet dat Hy sou opstaan – dat die Vader Hom sou opwek en net soos met die Israeliete, Hom ook verlos van die ewige dood (Matt.20:18-19; 26:31-32).

·           God se doel (v.10):
       Al verkeer Dawid in die dieptes van ellende, verwens hy nie sy dag van geboorte soos Job nie (Job 3:1). Nee, hy bely dat God ’n doel gehad het met sy geboorte, want dit is God wat hom uit sy moeder voortgebring het.

       Ons sien in beide Matteus en Lukas dat Jesus se geboorte uit die Maagd Maria ook ’n baie spesifieke doel gedien het ~ Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word (Gal.4:4-5)

·           God se voorsiening (vv.11-12):
       In vv.11-12 bepeins Dawid steeds God se voorsiening en versorging in sy lewe en omdat God hom so getrou versorg het, kan hy nie anders as om God te vertrou vir ’n  uitkoms nie.

       In Matt.26:42 doen Jesus presies dieselfde toe Hy in die Tuin van Getsémané gebid het en Hy Homself totaal aan God se wil oorgelaat het ~ My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.

·           God se belofte (vv.20-22):
       Met die Psalmis se derde weeklaag, het hy die bodem bereik van sy kragte – hy het nie meer krag oor nie, maar steeds erken hy God as sy God en daarom noem hy nou in vv.20-22 die Here, sy Bron van krag en gee hy erkenning aan God, nl. dat net Hy hom kan red van sy vyande.

       Die lys van vyande wat hy in sy derde weeklaag genoem het (vv.13-19), herhaal hy hier, maar hierdie keer in teenoorgestelde volgorde, nl. honde, leeus en wilde beeste. Deur hierdie omruiling van volgorde wil Dawid sê, dat God en net God alleen, sy situasie kan omdraai en regstel en daarom gee hy homself volkome oor aan God.

       Ons lees in Luk. 23:46 van Jesus wat in Sy sewende kruiswoord gesê het ~ Vader, in u hande gee Ek my gees oor. Ook Jesus het Homself aan God toevertrou, toe Hy aan die einde van Homself aan die kruis was en Hy het dit gedoen omdat Hy geweet het dat slegs God Hom deur die volgende drie dae – van Sy kruisiging tot en met Sy opstanding, sou dra.

6.     DIE PSALMIS SE GEDAANTEVERWISSELING:
       In vv.23-32 sien ons ’n dramatiese gedaanteverwisseling in Dawid plaasvind – hy het in die voorafgaande gedeelte sy vertroue in God bevestig en nou fokus hy op God se eer alleen.

·           Sy gelofte (vv.23-27):
       Dawid onderneem om God se Naam te verheerlik en van God se goedheid te getuig en moedig almal aan om die Here te verheerlik. Hy gebruik die beeld van ’n feesmaal waar die behoeftiges genoeg sal hê om te eet en versadig sal raak (v.27).

       Net soos wat die swaarkry en lyding van Dawid tot gevolg gehad het dat vele fees kon vier en die hongeriges versadig kon raak, net so het Jesus se lyding tot gevolg dat ’n menigte geseën kon word met verlossing en geestelike versadiging.

·           Sy visie (vv.28-32):
       Dawid visualiseer wat in die toekoms gaan gebeur en hy sien in sy geestes oë hoe die nageslag van Jakob, God gaan vereer – hierdie is ’n direkte verwysing na die eerste gelowiges (Jode – Rom.1:16), asook die nageslag van Israel en die verlossing wat op van hulle wag.

       Toe Jesus Sy twaalf dissipels in Matt.10:5-6 uitgestuur het, het Hy vir hulle gesê ~ Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ’n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel.    Die Evangelie was eerste verkondig aan die Jode en dit is hierdie Jode wat Dawid in v.31 noem, die nageslag van die Jode, wat Jesus moet verheerlik vir verlossing uit die duisternis en uiteindelik sal die res van die volke wat verlos gaan word, eer aan God bring. Dit herinner aan Paulus se woorde in Fil.2:10-11 ~ ...sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

7.     DIE PSALMIS SE MAATPLAAT:
       Uit wat ons tot nou gesien het, dien Ps.22 as ’n pragtige maatplaat (“template”) of uitbeelding van die kruisiging van die Here Jesus Christus – niks anders dus as ’n profesie van die Evangelie.

·           Jesus en God se stilswye:
o  Jesus se kruiswoorde:
       Terwyl Jesus aan die kruis gehang het, het Hy tot Sy Vader uitgeroep ~ ...My God, my God, waarom het U my verlaat? Met die uitspreek van hierdie woorde het Jesus Homself geïdentifiseer met Dawid se weeklaag, waar hy tot God uitgeroep het en God net geswyg het. Jesus het regdeur Sy aardse bediening in ’n baie nou verhouding met Sy Vader gewandel, maar nou in Sy uur van doodsangs het God Hom verlaat. Jesus het die spanning tussen die ervaring van ’n liefdevolle en naby Vader teenoor die stilswyende en oënskynlike afwesige Vader wat ons as mens so dikwels ervaar, in die oortreffende trap ervaar – Hy het ervaar wat ons as sondaars, maar verloste sondaars sou ervaar het, indien ons ’n ewigheid in die hel sou moes deurmaak en wat deur miljoene mense wel ervaar sal word – algehele afsondering van God! My God, my God, waarom het U My verlaat?  

o  Jesus se ervaring van die kruis:
       Terwyl Jesus aan die kruis gehang het, het Hy ervaar wat Dawid ervaar het. Dawid het ervaar hoe die mense hom gespot en gehoon het (v.8). Jesus het ook ervaar hoe die mense Hom gespot en gehoon het (Matt.27:40). In v.9 het die mense ’n bespotting van Dawid se geloof gemaak en in Matt.27:42 hoor ons hoe die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouderlinge bykans woord vir woord Dawid se spotters se woorde herhaal, en Jesus gespot en gesê het ~ Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo.  

       Ons vind nog drie merkwaardige ooreenkomste tussen Dawid se ervaring in Ps.22 en Jesus se ervaring aan die Kruis. In v.16 lees ons van Dawid se tong wat aan sy verhemelte vasgekleef het van die dors. In Joh.19:28 lees ons dat Jesus gesê het ~ Ek is dors.

       Tweedens was beide Dawid (v.17) en Jesus (Hand.2:23; Joh.20:20) se hande en voete deurboor.

       In die derde plek is beide Dawid (v.19) en Jesus se klere verdeel en wat merkwaardig is, is die feit dat die soldate nie alleen Jesus se klere verdeel het nie, maar hulle dra onwetend daartoe by dat die profetiese woorde in Ps.22:19 presies vervul word – luister na Johannes se weergawe in  Joh.19:24 ~ Ons moet dit (die klere) nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.” Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê: “Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot.

·           Jesus en God se verlossing:
       In Jesus se kruiservaring het Hy nie een keer God versaak nie en net voor Hy die laaste asem uitgeblaas het, roep Hy uit ~ Vader, in u hande gee Ek my gees oor (Luk. 23:46). In v.20 het Dawid uitgeroep ~ En U, Here-moet tog nie so ver bly nie, Bron van my krag, help my tog gou! God het voorsien in verlossing en uitkoms aan Dawid gegee – hy lewe, maar net so het God ook verlossing geskenk in Jesus se geval, want deur Sy dood skenk God lewe. Dawid se uiteindelike fisiese dood word uitgestel, maar Jesus se dood is volkome en afgehandel – wat meer is, die dood is vir Jesus oorwin, want Hy het opgestaan.

8.     AFSLUITING:
       Hierdie pragtige Psalm het begin met Jesus se vierde kruiswoord, nl. ~ Eli, Eli, lama sabachtani – My God, my God, waarom het U My verlaat? (Matt.27:46), maar hierdie Psalm sluit ook af met die gedagte van Jesus se sesde kruiswoord, nl. ~ Tetelestai Dit is volbring!  Of in Ps.22 se woorde ~ ...die Here het dit gedoen. 

       Dit was nodig dat God, Jesus moes verlaat, want Jesus het ons sonde op Hom gehad en daarom kon Hy in Sy sterwensuur nie in die teenwoordigheid van die Heilige God wees nie. Toe Jesus Homself egter oorgee aan die dood, het Hy geweet dat Sy dood nie verniet was nie, want dit was soos Dawid dit in v.32 stel ~ ...die verlossingsdaad waaroor God se volk wat nog gebore moet word, sal getuig.


       Christus Jesus het in Sy eensaamheid aan die Kruis – in Sy sterwensuur, vasgehou aan die woorde in Psalm 22 – mag jy en ek ook onder watter omstandighede ons onsself ook al mag bevind, altyd vashou aan die profesie in Ps.22 – ’n profesie wat getuig van Hom wat gekom het en al ons sonde op Hom geneem het, sodat ons vry kan staan voor God en ons ook op die belofte van Jes.1:18 kan staan  ~ Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag, 13 April 2014