Sunday, April 27, 2014

Die Boodskap van Daniël – 15 (“Ons gebede en die geesteswêreld”)

1.      INLEIDING:
       Soos wat die hoofstukke in Daniël vorder, raak die visioene al hoe langer en meer gedetailleerd en die visioen in hoofstuk 11 is geen uitsondering nie, trouens hoofstuk 10 waarna ons vanoggend gaan kyk, is ’n voorwoord vir die visioen in hoofstuk 11 en hoofstuk 12 vorm weer iets van ’n naskrif vir 11 se visioen.

       In hoofstuk 11 gaan ons te doen kry met ’n groot konflik, trouens 10:1 begin dadelik daarmee. Ons kan dit ongelukkig glad nie sien in die NAV nie, maar die OAV lig die sluier so effens ~ IN die derde jaar van Kores, die koning van die Perse, is ’n woord geopenbaar aan Daniël wat Béltsasar genoem is, en die woord is waarheid maar groot swarigheid; en hy het die woord verstaan en insig gehad in die gesig. Die ESV verwys daarna as verwys reeds daarna wanneer dit sê ~ ...and it was a great conflict.

       Die doel met hoofstuk 10 is o.a. dat ons as gelowiges moet verstaan dat die lewe hard en moeilik is, asook waarom dit moeilik en hard is, maar dit verskaf ook aan ons die sekuriteit dat ons nie alleen in hierdie stryd is nie. Dit is derhalwe belangrik dat ons, ons sal voorberei op hierdie konflik en ook insig sal hê in hierdie konflik en hoe om dit te hanteer.

2.      SKRIFLESING:
       Dan.10:1-11:1 ~ In die derde regeringsjaar van koning Kores van Persië het Daniël wat Beltsasar genoem word, ’n openbaring ontvang. Dit was ’n egte openbaring, maar dit was moeilik om te verstaan. Tog het Daniël dit begryp nadat die betekenis daarvan in ’n visioen aan hom geopenbaar is. 2In daardie tyd het ek, Daniël, drie weke getreur. 3Ek het die volle drie weke geen lekker kos geëet nie, my mond nie aan vleis of wyn gesit nie en geen reukolie gebruik nie. 4Op die vier en twintigste dag van die eerste maand was ek by die groot rivier, die Tigris. 5Toe ek opkyk, sien ek ’n man met linneklere aan en met ’n gordel van fyn goud uit Ufas om sy lyf. 6Sy liggaam het geskitter soos ’n edelsteen, sy gesig het gestraal soos weerlig, sy oë het geskyn soos brandende fakkels, sy arms en bene het geblink soos gepoleerde brons, en sy woorde het geklink soos ’n harde dreuning. 7Net ek, Daniël, het die visioen gesien. Die mense by my het dit nie gesien nie. Tog was hulle so skrikbevange dat hulle gevlug en weggekruip het 8en ek alleen agtergebly het. Toe ek hierdie indrukwekkende visioen sien, het ek magteloos en doodsbang geword en het ek geen krag meer gehad nie. 9Toe hoor ek die man praat, en terwyl ek hom nog hoor praat, het ek bewusteloos vooroor op die grond geval. 10Daarna het ’n hand my gevat en my op my knieë en hande laat staan, terwyl ek gebewe het. 11Die man sê toe vir my: “Daniël, jy vir wie God liefhet, gee ag op wat ek vir jou gaan sê, en staan regop. Ek is na jou toe gestuur.” Toe hy dit vir my sê, het ek bewend regop gaan staan. 12Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël, want van die eerste oomblik af dat jy jou ingespan het om insig te kry en jou voor jou God verootmoedig het, is jou gebede verhoor. Ek het gekom in antwoord op jou gebede. 13Die engel van die Persiese ryk het my een en twintig dae lank teruggehou, maar toe het Migael, een van die vernaamste engele, my te hulp gekom en ek was nie meer nodig teen die Persiese konings nie. 14Ek het gekom om jou in te lig oor wat in die toekoms met jou volk gaan gebeur, want ook hierdie visioen sien op die tye wat kom.” 15Terwyl hy dit vir my sê, het ek sprakeloos my kop na die grond toe laat sak. 16Toe het iemand wat soos ’n mens gelyk het, my lippe aangeraak, en ek kon weer my mond oopmaak en praat. Ek het vir die een wat voor my gestaan het, gesê: “Meneer, die visioen het my so ontstel dat ek geen krag meer het nie. 17Hoe kan ek, u dienaar, met iemand soos u praat, Meneer! My kragte het ingegee, ek kan skaars nog asemhaal.” 18Toe het hy wat soos ’n mens gelyk het, my weer aangeraak en vir my krag gegee. 19Hy het vir my gesê: “Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!” Terwyl hy met my praat, het ek weer sterk gevoel en gesê: “U kan maar praat, want u het vir my krag gegee.” 20Hy het toe vir my gesê: “Nou weet jy waarom ek na jou toe gekom het. En nou moet ek teruggaan om teen die engel van Persië te gaan veg, en as ek met hom klaar is, sal die engel van Griekeland kom. 21Maar eers sal ek jou vertel wat in die Boek van die Waarheid opgeteken is. Daar is niemand wat my teen hulle bystaan nie behalwe julle engel Migael. 11 “In die eerste regeringsjaar van Darius die Mediër het ek opgetree om hom te bemoedig en te beskerm.

3.      AGTERGROND (v.1-3):
Hoofstuk 10 verskaf ook, soos reeds gesê, agtergrond vir die visioen wat ons in hoofstuk 11 aantref. Daniël is op hierdie stadium besig om te vas en te treur oor ontberinge wat sy volk gaan deurmaak – beproewing wat God aan hom gewys het, wat op hande is. Hierdie gebeure speel hulself af in die regeringstyd van Kores (v.1) en dit moes dus gedurende die jare 536 tot 534 v.C. gewees het – net ’n paar jaar voor Daniël se dood en een tot twee jaar nadat die eerste groep Israeliete terug gekeer het na Jerusalem met Serubbabel wat as Persiese goewerneur oor Jerusalem regeer en Josua as hoëpriester.

     Gedurende die herfs van 536 was die terrein van die vroeëre tempel skoon gemaak en kon die daaglikse offerandes weer ’n aanvang neem en die fondament vir die tweede tempel was gelê, maar skielik op ’n dag is werksaamhede gestaak en vir die volgende 15 jaar is daar glad nie verder aan die tempel gebou nie (Esra 3-4) – bouwerk is eers weer hervat nadat Haggai (een van die klein profete) vir hulle opdrag gegee het om dit te doen.

     Daniël het waarskynlik gehoor van die staking van bouwerk en dit het hom ontstel.

4.      ’n HEMELWESEN (vv.4-19):
Daniël vas vir drie weke en tydens hierdie vastyd het hy o.a. gevas van vleis en wyn en reukolies (reukolies was o.a. gebruik om ’n mens se vel sagter en vogtiger te maak in die droë en warm woestynklimaat). Ons sien ook in v.4 dat hierdie vastyd gedurende die Joodse Paasfees was, want hy het tien dae na die Paasfees (die vier en twintigste dag van die eerste maand) op die wal van die Tigrisrivier gestaan, toe hy hierdie visioen ontvang het. Die feit dat hy gedurende die Paasfees gevas het, dui verder vir ons daarop hoe ernstig hy was oor sy toewyding om te treur en te vas en sy gebed om algehele verlossing van sy volk uit die ballingskap in Persië, maar ook vir die wat reeds terug gekeer het na Israel se beproewing en swaarkry in Israel.

Hierdie optrede en vereenselwiging van Daniël met sy volksgenote is in ooreenstemming met Paulus se woorde in 1 Kor.12:26 ~ As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Hierdie optrede van Daniël spreek my nogal ernstig aan oor my apatie oor die lyding en swaarkry van gelowiges in bv. ander lande.

Daniël staan nou op die wal van die Tigris en skielik sien hy in v.5 ’n engel en in die res van vv.5-6 beskryf hy hoe die engel lyk. Ons sien in v.7 dat net Daniël hierdie engel gesien het, maar sy metgeselle was so onder die indruk van die teenwoordigheid van hierdie wese, dat hulle weggevlug het. Dit laat my terug dink aan September 2000 toe ek en Jeanne ’n dorpie in die noord-ooste van Madagaskar by name Mandritsara, besoek het en ons die verskriklike teenwoordigheid van die bose in die lug rondom ons kon ervaar – dit was tasbaar en het rillings langs my ruggraat afgestuur.
    
Hier ervaar die metgeselle van Daniël die teenwoordigheid van ’n engel en dit is so verskriklik dat hulle wegkruip, maar selfs vir Daniël was hierdie ’n traumatiese ervaring en sê hy dat hy magteloos en doodsbang geword het en dat hy geen krag meer in hom oor gehad het nie (v.8), trouens in v.9 sien ons dat dit so erg vir hom was dat hy bewusteloos neergeval het op die grond, maar die engel het hom aan die hand geneem en hom opgehelp en vir hom gesê dat hy nie bang moet wees nie en dat hy moet luister, want God wat hom lief het, het die engel na hom gestuur en dat hy daarom nie bang hoef te wees nie.

       In v.12 sê die engel vir Daniël dat sy gebede tydens sy vastyd, van die eerste oomblik af al verhoor is en dat die engel nou gekom het in reaksie op Daniël se gebede.

       Die engel sê egter ook vir Daniël dat, terwyl hy gebid het, daar ander geestelike magte aan die werk was. Ons kan dus die afleiding maak dat die engel reeds aan die begin van Daniël se vastydperk (drie weke vantevore reeds) kon gekom het, maar a.g.v. hierdie geestelike magte, was hy opgehou en weerhou om te kom en hierdie geestelike mag wat die engel weerhou het om vroeër te kom, was die engel van die Persiese Ryk. Die engel Migael het hom (hierdie engel) egter tegemoet gekom en hom vrygestel van hierdie geveg, sodat hy na Daniël kon gaan. Hierdie engel sou egter sy stryd later moes voortsit en ons sien dit in v.20 waar die engel dit vir Daniël gesê het. Dit is dus baie duidelik dat hierdie mag, geweldig magtig is en dit is waarom die satan in Ef.2:2 dan ook ...die vors van die onsigbare magte... genoem word en waarom Paulus in Ef.6:12 sê dat ~ ...ons stryd nie teen vlees en bloed (is) nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.

       Ten spyte van hierdie geweldige magte wat agter die skerms aan die veg is, wil die engel vir Daniël die versekering gee dat God hom baie lief het en in die proses raak die engel hom aan en help hom op.
 
       Die engel sê in v.14 dat hy gekom het om vir Daniël ’n kykie te gee in wat met sy volksgenote in die toekoms sou gebeur, Daniël is egter aanvaklik sprakeloos, maar in v.16 hoor ons dat hy vir die engel sê dat iemand sy lippe aangeraak het en dat hy weer kan praat – dit herinner ’n mens aan Jesaja wie se mond met ’n gloeiende kool van die altaar aangeraak was deur een van die serafs (Jes.6:7) en wat uitgeloop het op die reiniging en die verkondiging van die Woord

       Voor ons enige detail oor die visioen kan lees en voor die engel weer vertrek sê Daniël vir hom dat hy baie ontsteld is en dat hy geen krag meer in hom oor het nie. Die engel bemoedig Daniël nog ’n keer, deur hom weer die versekering te gee dat God hom lief het (v.19). Net soos Elia van ouds wat doodmoeg was (1 Kon.19:5-8), is Daniël ook doodmoeg, maar die engel raak Daniël weer aan en hy herhaal sy opdrag aan Daniël, dat hy sterk moet wees en Daniël getuig onmiddellik daarvan dat hy wel versterk is (v.19).

       In die laaste gedeelte van die hoofstuk waarna ons vanoggend kyk, word die vorige openbaring bevestig wat Daniël ontvang het t.o.v. die koninkryke wat sou kom en gaan, maar nou in hierdie laaste openbaring of visioen wat Daniël ontvang, word meer detail verskaf oor hoe hierdie gebeure, God se kinders gaan raak. So gaan Persië bv. uiteindelik verplaas word deur Griekeland (die geveg tussen hoofstuk 8 se ram en bok) ens.

5.      DIE GEESTESWÊRELD:
       Ons lees in ons Skrifgedeelte dat dit hier om meer as net ’n visioen van aardse koninkryke gaan, want ons lees o.a. ook hier van ~ …Migael, een van die vernaamste engele (v.13) en in v.20 lees ons ~ ... En nou moet ek teruggaan om teen die engel van Persië te gaan veg, en as ek met hom klaar is, sal die engel van Griekeland kom.

       Daar is nie baie inligting in die Woord oor die geesteswêreld nie en in hierdie verse kry ons maar net enkele flitse in die onsienlike wêreld rondom ons, maar dit is tog belangrik dat hier in hierdie gedeelte net genoeg geopenbaar word, wat nodig is vir ons om te weet.

       Wat egter ook waar is, is dat daar meer as ’n honderd verwysings is na engele in die Ou Testament en in die Nuwe Testament word daar nagenoeg 160 keer na engele verwys en hulle word meestal, “Boodskappers van God genoem” en dit is dan ook presies wat die woord “Engel” beteken. Engele sien ons verder in die Woord, is onsterflike (immortal) wesens en daar is geweldig baie van hulle, trouens ons lees in Openb.5:11 ~ Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene.

       Engele beskik oor bepaalde elemente van persoonlikheid, want hulle is betrokke in intelligente aanbidding van God, maar daar bestaan ook ander uitdrukkings in die Skrif om hulle te identifiseer. Ons lees bv. in Luk.2:13 dat hulle ook ~ ...’n menigte van die hemelse leërskare genoem word. In Kol.1:16 word hulle ~ ...trone sowel as heerskappye en owerhede en magte genoem. In enkele gevalle word hulle selfs gode genoem, omdat hulle God se heerlikheid reflekteer ~ Ek wil U met my hele hart loof. Laat die gode maar hoor; dit is tot u eer dat ek sing (Ps.138:1).

       Dit is egter ook belangrik om te onthou dat daar gevalle engele is wat saam met Satan uit die hemele gewerp is ~ God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel (2 Pet.2:4.). Hoor net hoe beskryf Mark.16:9 hierdie gevalle engele ~ Sondagmôre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn, uit wie Hy vantevore sewe bose geeste uitgedrywe het (sien ook Luk.8:2), en net om ’n idee te kry dat daar ook derduisende gevalle engele is, sien ons in Luk.8:30 dat die bosegees (of gevalle engel) homself aan Jesus openbaar as “Legio” (Grieks = λεγιών – legiõn), of te wel “legioen” en hierdie woord is ’n militêre uitdrukking wat in die Nuwe Testament net vir nie-menslike wesens gebruik word en wat op duisende toegepas word – engele en in hierdie geval dan, demone of te wel gevalle engele – dit verwys na derduisende en uitermate ongekende, kragtige wesens wat die mens kan beheer.

       Satan en sy demone, lei die mens weg van gehoorsaamheid wat hy aan God verskuldig is en sodoende terselfdertyd God beroof van die eer wat Hom toekom en die mens uiteindelik in die ewige verderf te laat beland. Hy doen dit deur met sy leuens die waarheid van God te beveg, die mens se verstand te verstrik met dwaling, haat tussen mense te verwek en oorlog en twis te stook.

       Ons moet egter altyd onthou dat Satan ondergeskik is aan die mag van God en word hy gedwing om aan God gehoorsaam te wees. Hy kan niks vermag as dit nie God se wil is en God se goedkeuring wegdra nie en ten spyte van die aanslae van die bose, sál die gelowiges uiteindelik oorwin.

       Hier in Daniël sê die Engel vir Daniël dat hy teen bose engele moet gaan veg en daarom kan ons aanvaar dat God se engele en demone waarskynlik op gelyke vlak met mekaar meeding, maar die leier van die gevalle engele is nié God die Almagtige nie en daarom kan ons saam met Daniël aanvaar dat hierdie Engel wat aan Daniël verskyn het, die oorwinning sal behaal, want ook die gevalle engele is onderworpe aan God, Wie ook hulle Skepper is. Meer nog, God is alomteenwoordig en die engele en daarom ook Satan en sy gevalle engele is nie. Ook is God alwetend, terwyl die satan nie is nie.

       Wie was hierdie Engel wat enersyds met Daniël gepraat het en andersyds deur die bose opgehou is? Die kort en die lank hiervan is dat die meeste gesaghebbende kommentators saamstem, dat hierdie Engel niemand anders as Jesus self is nie en hulle grond dit op Josua 5:13-15 waar Josua, net voor Jerigo se mure geval het, gekonfronteer was deur ’n soortgelyke engel wat beskryf word as ’n man met ’n ontblote swaard”. Dit blyk dan ook duidelik dat hierdie engel die tweede Persoon in die Goddelike Drie-Eenheid was, nl. Jesus Christus, die leëraanvoerder van God se engele.

       Wanneer ons na hierdie gebeure kyk wat met Josua en ook met Daniël gebeur het, herinner dit sterk aan ’n gebeurtenis wat in Hand.26 plaasgevind het – die dag met Paulus se bekering, toe hy ’n helder lig op pad na Damaskus gesien het  en hy met blindheid geslaan was. Wie het met Paulus gepraat? Wie is U, Here?’ vra ek toe. ‘Ek is Jesus,’ sê die Here (Hand.26:15). Niemand anders in die geselskap het Jesus se stem gehoor nie – net Paulus.

       Dit is dus duidelik dat dit ook Jesus is wat hier met Daniël gepraat het – Jesus die Christus, wat die leier is van God se engele wat die stryd voer teen die satan en sy engele, daardie duistere engele wat Paulus in Ef.6:12 noem ~ ... magte en gesag, en geeste wat heers oor hierdie sondige wêreld en bose geeste in die lug. Christus is die aanvoerder van God se engele   

       Indien hierdie engel dan Christus self was, hoe is dit moontlik dat Hy wat terselfdertyd almagtige God is, deur die satan weerhou kon word om met Daniël te kom praat, want ons sien Hy sê vir Daniël in v.13 ~ Die engel van die Persiese ryk het my een en twintig dae lank teruggehou? Indien Jesus ook God is, kon Hy tog immers die satan in ’n oomblik verwoes het? Die antwoord hierop is bloot net dat ons nie God se weë altyd volkome verstaan nie en dit maak ook nie saak as ons dit nie kan verklaar nie, want die punt is, dat Christus verheerlik is en nou aan die regterhand van God sit en Hy sit daar, soos Paulus dit in Ef.1:21-23 beskryf ~ ...hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. 22Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.  Dit is vanuit hierdie verhoogde en verheerlikte posisie dat Christus regeer en dat Hy ons bystaan en ondersteun wanneer ons in gevegte met die bose betrokke is en dit is vanuit hierdie posisie dat Hy met ons deur Sy Woord praat en dit is vanuit hierdie ereplek dat Hy ons versterk wanneer ons dit nodig het, trouens dit is hier waar Hy ook intree vir ons by die Vader en voorbidding vir ons doen!

       In 10:20 en 11:1 word ’n toneel vir ons geskets van die geveg waarin die leërmag van die Here betrokke is – Christus veg teen die Prins van Persië – waarskynlik die satan self en die geveg gaan oor die siel en die wil van Kores. Ons sien in Jes.45:1-6 en 13 hoe God aan Kores belowe dat Hy die geveg vir ons sal veg en die Here veg hierdie geveg, omdat Hy Kores uiteindelik wil gebruik, om Sy volk uit ballingskap vry te laat, soos wat ons dan ook sien wat gebeur het en soos opgeteken is in Esra 1. Natuurlik weet ons dat die satan nie daarvan hou dat God se volk uit ballingskap vrygelaat moet word nie en daarom hierdie geveg wat hier in Dan.10:21 en 11:1 ter sprake is.
       Wanneer dit moeilik met ons gaan; wanneer dit vir ons voel asof ons die geveg teen die bose gaan verloor, kan ons saam met Miga uitroep ~ Moet jou nie oor my verlekker nie, my vyand, al het ek tot ’n val gekom, ek sal weer opstaan, al sit ek in die donker, die Here is my lig. 9Ek sal aanvaar dat die Here my straf in sy toorn, want ek het teen Hom gesondig. Wanneer Hy my saak verhoor en oor my uitspraak lewer, sal Hy weer lig bring in my lewe, sal ek ondervind dat Hy die oorwinning gee (Miga 7:8-9). Ons kan ook saam met Paulus uitroep ~ Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet (Rom.8:37). Te midde van geestelike gevegte, veg ons nog daagliks ook gevegte teen dinge soos versoekings, neerslagtigheid (depressie), ontnugtering, verhoudings konflikte, ens., maar ons moet besef dat ons nie alleen is nie, trouens ons gevegte word vír ons geveg, deur Hom wat ons lief het; Hy wat die aanvoerder is van God se engele is – Hy wat alreeds die oorwinning aan die Kruis vir ons gewen het! Onse God is alomteenwoordig, almagtig, alwys en daarom weet Hy van ons stryde en is Hy meer as in staat daartoe om ons te help om die oorwinning te behaal!
6.      TOEPASSING:
            Wat is die waarde en betekenis wat hierdie gebeure vir Daniël ingehou het en wat is die betekenis daarvan vir ons vandag?
·           Uit wat Daniël ervaar het en die openbaring wat hy van Christus self ontvang het, dui dit onteenseglik vir ons daarop dat die geskiedenis van hierdie wêreld nie deur mense geskryf word nie, maar deur God in die hemel self – Hy bepaal die weë en besluite en optrede van wêreldheersers, maar ook dié van gewone mense soos ek en jy. – Hy is in beheer van elke siel se lewe, omdat Hy soewerein is.
        Hierdie gebeure wat die heelal se geskiedenis bepaal vind in die geesteswêreld plaas waar ons nie kan sien nie – daar is voortdurend ’n stryd aan die gang tussen Christus en Sy leërmag en die Prins van Persië en sy gesante.
 ·           Net soos Daniël destyds is ons ook midde in ’n geestelike konflik betrokke – ons besef dit nie altyd en as ons dit sou besef en sien, sal ons ook net soos Daniël, geen krag oor hê nie en verstom staan.
        Daniël het gebid en dit het ’n hemelse aktiwiteit tot gevolg gehad, want nie net is sy gebed verhoor nie, daar het ’n hele kosmiese oorlog uitgebreek.
        Christus het na Daniël gekom om aan hom te sê dat sy gebed vir sy volk verhoor is (v.12), maar voor dit gebeur, is Christus vir drie weke opgehou deur die Prins van Persië (v.13), waarop Migael gekom het en by Christus oorgeneem het om die geveg te veg, sodat Christus na Daniël kon kom om vir hom te kom sê wat in die toekoms met hom en sy volksgenote gaan gebeur. Toe Daniël hoor wat alles gebeur het na sy gebed, het hy sy kop in sprakeloosheid na die grond laat sak.
 ·           Voortspruitend uit wat ek so pas gesê het, is dit baie duidelik dat gebed, ’n kragtige instrument in die hand van gelowiges is – so kragtig dat dit kosmiese rimpelings tot gevolg het! Ons moet nie gebed afskeep nie, trouens ons moet met hierdie wete wat met Daniël gebeur het, net meer gemotiveerd wees om meer in gebed te verkeer en met groter oortuiging en geloof te bid.
 -     Ek moet egter onmiddellik hier byvoeg en sê dat ons nooit ooit moet dink dat die krag van gebed in ons gesetel is nie, m.a.w. dat ons oor hierdie geweldige kragte beskik en daarom die magte van die hemele in aksie kan bid nie – nee, daardie krag is in God en God alleen gesetel. Paulus waarsku ons juis hieroor in 2 Kor.4:7 wanneer hy sê ~ Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.
-     ’n Tweede kwalifikasie vir kragtige gebed, is dat dit slegs gereserveer word vir gelowiges, soos Jakobus dit in Jak.5:16 stel ~ Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking (daarom bluf die deelnemers aan die huidige realiteitsprogam “Survivor” hulleself wanneer hulle voor bepaalde take, eers gou saam bid!).

·           Die gebeure rondom Daniël behoort ons geweldig te bemoedig omdat dit aan ons die versekering gee dat ons nooit alleen is nie, want die engele is soos wat die Hebreërskrywer in Hebr.1:14 sê ~ ...geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf...óns met ander woorde!  
      
            Die Here gee aan ons ’n wonderlike belofte in Hebr.13:5 en daaraan moet ons altyd vashou ~ Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 27 April 2014

Sunday, April 20, 2014

JESUS, DIE OPGESTANE CHRISTUS


1.     SKRIFLESING: 
Hand.17:1-4 en 16-34 ~ Paulus-hulle het deur Amfipolis en Apollonië na Tessalonika toe gereis, waar daar ’n Joodse sinagoge was. 2 Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy daarheen gegaan en op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer. 3 Hy het die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan. “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê, “Hy is die Christus.” 4 Party van die Jode het oortuig geraak en by Paulus en Silas aangesluit. ’n Groot aantal godvresende Grieke en ’n aansienlike getal vooraanstaande vroue het ook nog bygekom. 16 Terwyl Paulus in Atene vir Silas en Timoteus wag, het hy baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is. 17 Hy het in die sinagoge met die Jode en die godvresendes geredeneer en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat. 18 ’n Paar wysgere, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gestry. Party het gesê: “Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?” Ander het gesê: “Dit lyk of hy ’n boodskapper van vreemde gode is.” Dit was omdat Paulus die evangelie van Jesus en sy opstanding verkondig het. 19 Hulle het hom na die Areopagus toe geneem en gesê: “Kan ons te wete kom wat hierdie nuwe leer is wat jy verkondig? 20 Party van die dinge wat jy sê, klink vir ons vreemd, en ons wil graag weet wat dit beteken.” 21 Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie. 22 Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. 23 Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook ’n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan ’n onbekende god.’ “Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. 24 God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hy is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25 Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26 Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27 God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, 28 want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’e 29 Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding. 30 “God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, 31 want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.” 32 Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.” 33 So het Paulus van hulle af weggegaan. 34 ’n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ’n lid van die Areopagus, en ’n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.

2.     INLEIDING:
Onder al die groepe wat deurgaan as Christene, is daar verskillende fokuspunte, wanneer dit kom by Christelike feesdae:  So is daar groepe wat net die klem lê op Christus se geboorte (Kersdag) en alhoewel dit ’n uiters belangrike faset van God se reddingsplan met die mens is, is daar nog ’n faset wat uiters belangrik is, en dit is Christus se kruisiging. 

Baie gelowiges steek by hierdie punt vas en skenk gedurende hierdie tyd van die jaar, nl. die Pase, hoofsaaklik aandag aan die kruisiging van Jesus en natuurlik is dit ook ’n geweldige belangrike faset in God se plan. Ons sien dieselfde tendens in die kunswêreld en in loodglasvensters in katedrale oor die wêreld heen – ook daar sien ons hoofsaaklik twee tonele uitgebeeld, nl. Jesus in ’n krip met donkies en die Wyse Manne rondom Hom en die ander toneel, is dié van die gekruisigde Jesus, maar ’n derde toneel word omtrent nooit uitgebeeld nie en dit is dié van die opgestane Christus en indien ons God se volledige plan vir ’n verloregaande wêreld wil aanskou, móét ons na hierdie derde gebeurtenis van God se reddingsplan kyk én dit verkondig, want sonder
hierdie faset is God se reddingsplan onvolledig

3.     PAULUS IN ATHENE:
In ons gelese gedeelte, sien ons ’n Paulus wat die Atheners in die skadu van die Akropolis-toespreek en sy boodskap sentreer rondom die tema, “Jesus, die opgestane Christus”.  Hierdie boodskap, is sekerlik díé belangrikste waarheid aangaande die Christendom, want hierdie realiteit, is juis díé een aspek, wat die Christendom onderskei van álle ander godsdienste in die wêreld.  Alle ander godsdienste, het óf ’n leier wat reeds gesterf het, óf wat besig is om te sterf.

Op pad na Athene, het Paulus o.a. in Thessalonika gepreek waar ʼn opstand onder die Jode uitgebreek het ná sy prediking.  Daarna het hy in Berea, dieselfde boodskap aan die Jode aldaar gebring.  Ook daar het die Evangelieboodskap die Jode so ontstel, dat Paulus in die nag uit Berea na Athene gebring moes word. Ook hier in Athene bring hy eers sy boodskap van Jesus Christus aan die Joodse inwoners in die sinagoge, maar kort voor lank, sien ons ’n “prekende” Paulus op die markplein. 

Hier is egter een verskil en dit lê in sy gehoor. Paulus se toehoorders is nou nie meer uitsluitlik Jode nie, maar bestaan nou hoofsaaklik uit ’n klomp heidene, máár, hy wyk nie af van sy boodskap wat hy tot nou toe aan die Jode gebring het nie, nee, hy bring presies dieselfde boodskap, nl. “Jesus, die opgestane Christus”

4.  DIE BETEKENIS VAN CHRISTUS SE OPSTANDING:
Hierdie was dan ook die sentrale tema van al die vroeë Christene se boodskappe.  Weer en weer, het hulle gepreek oor Jesus se opstanding uit die dood.  Lukas het dit pragtig opgesom in Hand.4:33 ~ Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal.  Hierdie boodskap wat die Apostels gepreek het, was natuurlik in direkte opdrag van Jesus self ~ Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Hand.1:8)

’n Teksvers wat ook baie insiggewend in hierdie verband is, is Hand.1:22, toe die Apostels ’n ander apostel in die plek van Judas moes aanwys, was die voorwaarde, dat daar ~ ...nog ’n getuie van Jesus se opstanding by (hulle) gevoeg (moes) word.

Waarom was dit nodig om die boodskap van die opgestane Jesus te verkondig?  Omdat Christus se opstanding, bo alle twyfel bewys het, dat Jesus van Nasaret, wel die Seun van God, die Messias, die Christus, die Beloofde Een was.

Dit was dan ook juis Petrus se redenasie tydens die eerste opgetekende preek, wat in Jerusalem, op Pinksterdag gepreek is (Hand.2:14-36) ten einde te bewys dat Christus die Messias was.  Hy het verskeie Ou Testamentiese Skrifgedeeltes, so wel as, van die toe, onlangse gebeure rondom Jesus, asook Sy opstanding, tydens hierdie preek aangehaal.  Wat egter interessant is, is dat Petrus, Christus se opstanding as ’n gegewe aanvaar het. 

Alhoewel die opstanding die sentrale punt van sy boodskap was, was dit nie gebruik om die mense te oortuig van die opstanding nie, maar is die opstanding gebruik as argument om Jesus se Messiasskap te bewys, m.a.w. daar is algemeen aanvaar dat almal in Jerusalem bekend was met die feit dat Jesus opgestaan het uit die dood, want net té veel mense het die kruisiging van Jesus aanskou en Hom ná Sy dood, weer gesien en al het almal Hom nie gesien nie, het hulle iemand geken wat Hom wél gesien het.

Die kruks waarom dit dus gegaan het, was níé om te bewys dat Christus opgestaan het nie, maar wat die betekenis van Sy opstanding was. 

Daarom dan, dat Petrus tydens die Pinksterdagpreek, hierdie wonderlike gebeure van die opstanding gebruik het om te bewys dat Christus waarlik die Messias is en dat die Koninkryk van God deur Hom gekom het. Dít was die boodskap – die Goeie Nuus, wat Petrus en die ander Apostels gebring het.  Ons sien dit in Hand.8:12 ~ Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop (Hand.19:8; 20:25; 28:23; 28:31).

Die mense wat geglo het dat Jesus die opgestane Christus was, was volgens Hand.11:26, vir die eerste keer Christene genoem ~ Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle twee het ’n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.

·           Waarom die Opstanding?
Wanneer ons fokus op Christus se opstanding, is dit nodig dat ons kortliks ook sal kyk na wat gebeur het tydens en net na die opstanding en wat die betekenis daarvan vir ons is:
o   Die opstanding is volgens Ef.1:19-20 ’n demonstrasie van God se almag ~ ...en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20 wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het

Die betekenis vir ons lê daarin, dat die kloof wat bestaan het, tussen die ewige dood waartoe ons almal gevonnis was, en die vernuwing en herskepping van ’n nuwe wedergebore lewe, nou oorspan is en is dit moontlik om die ewige dood vry te spring.
o   Ten einde te bewys dat Christus se soendood volkome en afgehandel was, was dit noodsaaklik dat Hy uit die dood moes opstaan – Rom.4:22-24 ~ Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.  Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het.
o   God word verheerlik deur Christus se opstanding – Rom.6:4 ~ Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel (OAV).
o   Vir Christus het Sy opstanding geïmpliseer, dat Hy voldoen het aan Sy Vader se opdrag – Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem....  Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het (Joh.10:17, 18c).
o   Die Vader het Jesus se gebed beantwoord – In Joh.12:27 het Jesus uitgeroep ~ “Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur.  Die opstanding was die Vader se beantwoording van hierdie gebed.
o   Volgens Hand.2:36 het God deur die opstanding, Jesus beide Soewereine Oorwinnaar en Verlossser gemaak ~ Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”
o   Deur die opstanding het Christus die Hoof van die Kerk geword ~ Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. (Kol.1:18).
o   Die opstanding en hemelvaart moes plaasvind, sodat die Heilige Gees uitgestort kon word ~ Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur (Joh.16:7).
o   Deur Christus se opstanding, toon God aan ons dat Sy krag genoegsaam is om die grootste sondaar te kan red ~ ...en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het (Ef.1:19-20).
o   Sy opstanding bevestig ons vryspraak van God se straf op die sonde ~ Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word (Rom.4:25).
o   Chritus moes uit die dood opstaan en opvaar na die hemel, ten einde vir ons in te tree by die Vader en daarom kan niemand ons meer by God aankla nie ~ Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.  Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons (Rom.33:34).
o   Volgens Kol.3:1 is ons as gelowiges reeds uit die dood opgewek, m.a.w. ons is oorgedra in ’n ander lewe, waar ons nie meer vleis en melk nodig het om van te leef nie en moet ons daarom gemotiveerd wees om heilig te leef.
o   Christus se opstanding skenk aan ons die nodige hoop en sekuriteit dat onsself ook uit die dood opgewek sal word ~ Nog net ’n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe (Joh.14:19).
o   Ons liggame sal soos Christus s’n verheerlikte liggame wees, met Sy wederkoms. Jesus het met dieselfde liggaam uit die graf gekom as waarmee Hy in die graf in is.  Hy het dus nie as ’n gees opgestaan nie, anders sou die graf nie leeg gewees het nie.  Wat meer is, Hy het oor ’n verheerlikte liggaam beskik

Die betekenis hiervan lê vir ons veral daarin, dat Christus weer in dieselfde liggaam sal terugkeer op die dag van die wederkoms. 

Ons gees en liggaam gaan geskei word tydens die dood, maar die dag wanneer ons opstaan, gaan ons liggame in verheerlikte vorm, weer  met ons gees verenig word in die hiernamaals ~ Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan;  daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees (1Tes 4:16-17)  Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees (Fil.3:21) Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees (1Kor.15:49).

5.  AFSLUITING:
Die opstanding van die Here Jesus Christus is nie deel van die Christelike geloof nie – dit is die hart van die Evangelie en daarom kan die opstanding van Christus nie alleen beperk word tot die Paassondag (of die Maandag nét na “Goeie Vrydag”) nie.

Die Jode het op die sewende dag van die week byeen gekom om God te aanbid ten einde God se Rusdag na die Skepping te gedenk – ons as gelowiges kom egter byeen op die eerste dag van die week ten einde God se skepping van nuwe lewe te gedenk. Jesus lewe en omdat Hy lewe, mag ons ook lewe en lewe ons inderdaad – Jesus het in Joh.14:9 gesê ~ Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’?

Die opstanding is goeie nuus. Vir ’n wêreld wat besig is om te sterf kan ons as gelowiges die Goeie Nuus deel, van ’n lewe in Christus. Die dood spreek vir gelowiges nie meer die laaste woord nie, want Jesus het opgestaan uit die dood en deur op te staan uit die dood het Hy lewe en onsterflikheid aan almal wat in Hom glo, geskenk. 

Iemand het op ’n keer gesê dat Christus se opstanding ’n nuwe pad oopgekap het deur die vallei van die skadu van die dood en deur geloof kan ons Hom nou volg na die ewige lewe. C.S. Lewis noem Christus, “the Pioneer of life”, omdat Christus die deur oopgeforseer het wat sedert die dood van Adam gesluit was.

Met dit alles in gedagte, is die opstanding dus nie net goeie nuus vir die toekoms nie, maar ook wonderlike nuus vir die huidige, want dieselfde krag wat in werking was om Christus uit die dood te week, is vandag aan die werk om ons teen sonde staande te hou; om ons deur beproewing te dra. Dit is waarom Paulus in Fil.3:10 gesê het ~ Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood en in Fil.4:13 getuig dan ook van hierdie krag wanneer hy sê ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Jesus gee ook aan ons die wonderlike bemoedigende woorde in Matt.28:20 ~ ...onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. Hierdie is wonderlike en goeie nuus vir ’n wêreld wat al hoe eensamer raak; wat al hoe meer gebuk gaan onder stress en allerlei soorte druk!

Voor ek afsluit moet ons ook net eers 2 Kor.5:14-15 aanhaal ~ Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

Indien ons bely dat Jesus gekruisig is en opgetsaan het en ons sê dat Hy dit vir ons gedoen het, moet ons in die lig van Paulus se woorde hier in 2 Korintiërs ook sê dat ons nie meer vir onsself lewe nie, maar vir Christus Jesus – as ons werklik ernstig nadink oor wat Hy vir my en jou gedoen het, móét ons slawe van Hom wees, want ons behoort nie meer aan onsself nie maar aan Hom.

Mag vandag as “Opstandingsondag” vir u besondere betekenis inhou.

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag, 20 April 2014






e Hierdie versreël kom uit ’n gedig van die Griekse digter Aratus, wat omtrent drie honderd en vyftien tot twee honderd en veertig v.C. gelewe het