Sunday, December 8, 2013

Die Boodskap van Daniël – 11 (“Die Ewige Heerser en Koning”)

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 08 Desember 2013

1.     INLEIDING:
       Ons kom vanoggend by die tweede gedeelte van Daniël 7 – – ’n gedeelte wat deel vorm van die visioen wat Daniël van God ontvang het en waarna ons verlede week begin kyk het, nl. vv..1-8 waar dit gegaan het oor die vier verskriklike diere wat die verskillende koninkryke verteenwoordig het, nl. die Babiloniese Ryk (die leeu met arendsvlerke – v.4); die Mede-Persiese Ryk (’n beer met ribbebene in sy bek – v.5); die Griekse Ryk (’n luiperd met vier vlerke en –koppe – v.6) en dan natuurlik laastens die Romeinse Ryk net voor en net na Jesus.

2.     SKRIFLESING:
Dan.7:9-28 ~ Terwyl ek kyk, is daar trone reggesit, en Hy wat ewig lewe, het op sy troon gaan sit. Sy klere was so wit soos sneeu, sy hare soos skoon wol. Sy troon was van vuurvlamme met wiele van vuur. 10Vuur het uit die troon gestroom en verder gevloei. Duisende der duisende het Hom gedien, miljoene het daar voor Hom kom staan. Die hofsitting het begin, en die boeke met die aanklagte is oopgemaak. 11“Terwyl ek kyk, is die een dier oor die verwaande gepraat van die horinkie doodgemaak en is sy liggaam vernietig deur dit in die vuur te gooi. 12Ook die ander diere se heerskappy is van hulle weggeneem, maar hulle lewens is nog ’n tyd lank gespaar. 13“My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. 14Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie. 15“Ek, Daniël, het beangs geraak hieroor; die visioen wat ek gesien het, het my laat skrik. 16Ek het na een van dié wat daar gestaan het, gegaan en hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe vir my soos volg uitgelê: 17Die vier groot diere staan vir vier koninkryke wat op die aarde sal ontstaan. 18Maar die heiliges van die Allerhoogste sal die koninklike heerskappy ontvang en dit vir altyd besit. 19“Toe wou ek weet waarvoor die vierde dier staan, wat anders was as al die ander, buitengewoon skrikwekkend, met ystertande en bronskloue, wat al wat voorkom, verslind en vermorsel het en wat met sy pote vertrap het wat oorgebly het. 20Ek wou ook weet wat die tien horings op sy kop beteken, en waarvoor die ander een staan wat uitgekom het nadat daar drie uitgeruk is, die horing wat groter geword het as die ander en wat oë gehad het en ’n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het. 21Terwyl ek kyk, het daardie horing begin oorlog maak teen dié wat aan God behoort het, die horing het hulle oorweldig. 22Toe het Hy wat ewig lewe, gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het aangebreek dat die heiliges van God die koninklike heerskappy sou ontvang. 23“Dit is vir my soos volg verklaar: Die vierde dier is ’n vierde koninkryk wat op die aarde sal ontstaan en wat anders sal wees as al die ander koninkryke. Hy sal die hele wêreld insluk, dit verwoes en vertrap. 24Wat die tien horings betref: in daardie koninkryk sal tien konings een na die ander regeer, en ná hulle sal daar een kom wat heeltemal anders sal wees as die voriges, en hy sal drie konings onderwerp. 25Hy sal teen die Allerhoogste laster en die heiliges van die Allerhoogste vervolg. Hy sal probeer om die godsdienstige feeste en wette te verander, en die heiliges van die Allerhoogste sal in sy mag oorgegee word vir die hele vasgestelde tyd. 26Dan sal die hof sit en sal daardie koning se heerskappy van hom af weggevat en vir goed vernietig en beëindig word. 27Die heerskappy en mag en grootheid van al die koninkryke op aarde sal gegee word aan die heilige volk van die Allerhoogste. Sy koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die regeerders sal Hom dien en Hom gehoorsaam wees. 28“Hier eindig my vertelling. Ek, Daniël, het baie geskrik toe ek hieroor dink, en dit het my baie ontstel. Maar ek het alles vir myself gehou.”  

3.      “HY WAT EWIG LEWE”:
       In teenstelling met die groot onstuimige see met die vier verskriklike gediertes, vind daar nou skielik ’n wending in Daniël se visioen plaas. In Dan.7:9 verwys die Engelse vertalings na “the Ancient of days” en die OAV van “die Oue van Dae” – die NAV verwys hier na “Hy wat ewig lewe”. Ek verkies eerder die NAV se vertaling van hierdie woord (vir ’n verandering!), omdat die OAV se vertaling vir my heeltemal te familiêr klink en God Almagtig aftrek na ons vlak (dis maar net my persoonlike voorkeur en gevoel) – dit is waarom mense sommer praat van die “Oubaas daarbo”, of as hy/sy oor God praat, sal hulle sommer sê: Ek het vir God gesê, JY moet sommer dit of dat..., of JY moet my nou help...” God is net eenvoudig té heilig om Hom af te trek op ons persoonlike “pêllie-pêllie” vlak en so met Hom en van Hom te praat!

       In v.9 dan, verrys “Hy wat ewig lewe” en hierdie is ’n duidelike omskrywing van God die Vader wat op Sy hemelse troon sit en Hy is gereed om te oordeel.

       Eerstens het Hy op die middelste troon gesit (onthou v.9 dui vir ons aan dat daar meer as een troon in Daniël se visioen was). Sy klere was so wit soos sneeu (v.9), ’n toonbeeld van ongekende en volmaakte reinheid – om te dink, ’n vergelyking van hoe ons eendag in verheerlikte toestand, ook daar gaan uitsien ~ Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol (Jes.1:18).

       Die troon waarop God sit, het uit vuurvlamme bestaan, met wiele van vuur en vuur het, amper soos ’n rivier, uit die troon gevloei (v.9-10). Terwyl Hy op Sy troon sit, het miljoene voor Hom kom staan en is Hy deur duisende der duisende gedien – wat ’n gesig! Hierdie vuurvlamme is teken van God se teenwoordigheid terwyl Hy oordeel – die Engels druk dit vir my mooi uit – Fire is the symbol of God’s presence in judgement and in mercy. Ons vind voorbeelde hiervan in verskeie dele van die Woord, bv. Gen.3:24 ~ Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook ’n vlammende swaard wat heen en weer beweeg. Moses se eerste ontmoeting met God in Eks.3:2 ~ Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ’n vlam binne-in ’n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. Die bekende woorde van Johannes die Doper in Matt.3:11 ~ Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.

            Waarom sou daar wiele van vuur by die troon wees? Dit spreek van beweging en van dinamika – ons kry dieselfde gedagte in Ps.97:3 ~ ’n Vuur trek voor Hom uit en verteer sy vyande aan alle kante.

       Daniël sien ook dat God se hare so skoon soos wol is – ook ’n simbool van reinheid en dalk ook wysheid. Dit laat ’n mens egter ook dink aan die woorde in Ps.20:29 ~ Die trots van jongmanne lê in hulle krag; (en dan hierdie woorde) die versiering van oumense is hulle grysheid.

       Ons sien dus hier ’n Regter wat oor die reinheid en wysheid beskik om te onderskei tussen reg en verkeerd, tussen heilig en boos; om die regte te kies, maar terselfdertyd ook oor die mag beskik om Sy oordele uit te spreek en uit te voer!

       Hierdie visioen is iets besonders, veral as ons in gedagte hou hoe min daar oor God (behalwe sy attribute/karaktereienskappe) se voorkoms in die Woord aan ons gegee word. In Eksodus bv. het Moses in die teenwoordigheid van God verskyn, maar hy het bykans niks gesien nie en eerder ’n beskrywing van homself gehoor ~ Die Here het in ’n wolk afgekom en daar by Moses kom staan en die Naam “die Here” uitgeroep. 6Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. 7Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag” (Eks.34:5-7).

       In Jesaja weer, het die profeet God in die Tempel sien sit, maar weer word bitter min van God se onbeskryflike grootsheid beskryf – Jes.6:1-2 ~ In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ’n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. 2By Hom was daar serafs om Hom te dien. En dan gaan hy voort om die aandag op die serafs te vestig en o.a. hoe hulle sy mond aangeraak het met ’n gloeiende kool.

       Waarom gee Daniël meer inligting oor God se voorkoms aan ons deur? Ons sal nie regtig weet nie, maar moontlik juis om enersyds die kontras tussen redding uit genade en verdoemenis aan die anderkant te beklemtoon – om aan ons wat gered is, die heerlike en pragtige ewigheid te beklemtoon, maar andersyds ook die verskriklike en intensiteit van die verlorenes te skilder. Beslis word dit ook gegee om o.a. God se oorwinning oor die bose en Sy heerlikheid en heerskappy te beklemtoon – om Hom as aanbiddenswaardige God aan ons voor te hou, want gelowiges wat hierdie beeld van God voor oë hou, sal nooit alleen en geïsoleerd voel nie – ongeag ons omstandighede – Hy is die Almagtige; Hy is die Verheerlikte en ons kan met vertroue en afwagting te alle tye by Hom skuil, maar ook met verwagting uitsien na die “Nuwe Lewe” in Sy teenwoordigheid ~ Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. 21Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees (Fil.3:20-21).

       Ek glo dit word egter ook aan ons gegee om ons toewyding aan God te versterk ~ Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel (Kol.3:1-5).

4.     DIE HEMELSE HOFSITTING:
Daniël het in hierdie visioen van hom heel eerste ’n kykie gekry in die werklikheid van die duiwelse mag waaroor die mensdom beskik, maar God gee nou aan hom ’n blik op die teenoorgestelde werklikheid van die Goddelike mag en heerskappy en oorwinning – een van rustigheid, wysheid, lig en Sy algehele soewereiniteit.

God sit op Sy troon in die hoogste hemele – hierdie is nie ’n vreemde gedagte aan die Bybel nie, ongeveer 200 jaar voor Daniël se visioen het Miga die volgende in 1 Kon.22:19 gesê ~ En Miga praat verder: “Hoor die woord van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan. Met die roeping van Jesaja as profeet sien ons ook in Jes.6 hoe dat God op Sy hemelse troon sit terwyl die serafs o.a. uitroep ~ ...Heilig, heilig, is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid (v.3) en God dan in v.8 vra ~  Wie kan Ek stuur?

Wat Daniël egter nou sien, nadat God aan hom die aardse magte o.l.v. die satan gewys het, is dat daar ’n hemelse hofsitting begin en in hierdie hemelse “hofsaal”, is daar nie net die een troon waarop God die Vader sit nie, maar daar is trone (meervoud) wat beset word deur die lede van die hemelsehof. Om presies te wees – daar was vier-en-twintig ander trone – hoe weet ons dit? Omdat hierdie gedeelte, in ooreenstemming met Openb.4:4 is ~ Reg rondom die troon was daar vier en twintig ander trone, en op die trone het daar vier en twintig ouderlinge gesit. Hulle het wit klere aangehad, en op hulle koppe was daar goue krone

Tydens hierdie hofsitting sit daar benewens God, vier-en-twintig ouderlinge wat deelneem aan hierdie hofsitting. Die fokus in Daniël se visioen is egter op Hom wat op die sentrale troon sit – Hy wat ewig lewe.

In v.10 van ons Skriflesing sien ons hoe dat die hofsitting begin, terwyl daar miljoene voor God kom staan. Daniël moes geweldig bemoedig gewees het deur hierdie gesig van duisende wat by God staan – hy wat Daniël is, wat sovele kere stoksielalleen gestaan het – daar is andere en nie net twee of drie nie – duisende, wat ook die Here God aanbid en dien saam met hom! Hy moes besef het dat die woorde van Paulus in Kolossense 3 nie ’n leë aanmoediging is nie, maar dat dit waar is en dat sy “alleen staan” dae op die ou einde die moeite werd gaan wees en daarom moet ons vanoggend saam met Daniël bemoedig word, om die stryd te stry tot die einde toe – Paulus sê in Kol.3:1-4 ~ Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel. Daarmee saam, Paulus se bemoediging in 2 Kor.4:17 ~ Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. En wanneer dit vir ons voel asof ons, soos Daniël, alleen staan, moet ons ook vashou aan die belofte van die Here aan Jesaja in Jes.26:5 ~ ...Vertrou altyd op die Here, want die Here God is ’n veilige toevlug.

          Wanneer ons as gelowiges hierdie visioen van Daniël vir onsself toe-eien en besef wat op ons wag, nl. dat ons saam met duisendee, hard gaan uitroep ~ Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid, en dat ons saam met hulle die deure gaan laat rammel en die tempel vol rook gaan laat word, sal ons nie meer eensaam en alleen voel nie – ongeag... en maak nie saak wat nie!

Die hofgebeure begin met die oopmaak van die boeke met die aanklagte en Daniël sien hoe dat die diere van die eerste gedeelte van Dan.7 waarna ons verlede week gekyk het, verhoor en veroordeel gaan word. Nie net het hierdie eertydse koninkryke van destyds al tot ’n val gekom as deel van God se oordeel oor hulle nie, maar almal wat deel gehad het aan die ongeregtighede van daardie aardse Ryke, sal eendag finaal veroordeel word tydens die finale groot Hofsitting van God. Johannes beskryf hierdie laaste hofsitting vir ons in Openb.20:12-15 ~ Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. 13Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. 14Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. 15As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

            Soos ons reeds gesien het, is ”Hy wat ewig lewe”  (God die Vader) egter nie die enigste Een wat op die trone sit nie en benewens Openbaring se vier-en-twintig ouderlinge, sien Daniël nog Iemand – vv.13-15 ~ ...daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. 14Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie. Hierdie beeld moes waarskynlik verwarrend vir Daniël gewees het, want die Een wat hy hier sien beskik oor beide menslike, sowel as Goddelike eienskappe – iets wat hy nog nooit van gehoor óf gesien het nie. Tog aan die anderkant was dit dalk ook nie so vreemd vir Daniël nie, want hierdie antropomorfiese of menslike beskrywing van God is nie heeltemal vreemd aan die Ou Testament nie, want self hier in Daniël se visioen is daar menslike elemente rondom God (Hy sit bv.; Hy het klere en hare) en op ander plekke sien ons ook sulke menslike elemente wat aan God gekoppel word – bv. Eseg.2:8-9 ~ En jy, mens, luister na wat Ek vir jou sê. Moenie weerbarstig wees soos hierdie weerbarstige volk nie, maak oop jou mond en eet wat Ek jou gee.” 9Toe sien ek daar is ’n hand na my toe uitgesteek, en in die hand was ’n boekrol... en net ’n bietjie vroeër in dieselfde hoofstuk (v.1) word daar verwys na God se stem. Tog, is dit belangrik om daarop te let dat hier in Daniël (v.13) nou gepraat word van ...die Seun van ’n mens, (OAV) – Die NAV vertaal dit hopeloos om die minste daarvan te sê ~ ...iemand soos ’n menslike wese. Die meeste Engelse vertalings, vertaal dit met, ... One like a Son of Man”.  

Hierdie beskrywing van hierdie tweede Persoon in Daniël se profesie, laat ’n mens besef dat hier iets meer is omtrent hierdie Persoon, want Hy word beskryf as Iemand soos die Seun van die Mens, wat suggereer dat daar iets t.o.v. Sy menslike voorkoms is, wat meer is as bloot net ’n mens wat God se verskyning, aan ’n mens beskryf.

Verder lees ons in v.13 dat hierdie “Iemand soos die Seun van die Mens”, in die wolke aan gekom het en dit is ’n baie duidelike Ou Testamentiese simbool van Goddelike krag en teenwoordigheid. So lees ons bv. in Ps.68:4 dat God op die wolke ry en in Jes.19:1 lewer God uitspraak teen Egipte en dan lees v.1 verder as volg ~ Die Here ry op ’n vinnige wolk, Hy gaan na Egipte toe. En die baie bekende gedeelte in Eks.24 lees ons ~ Terwyl Moses die berg uitklim, het ’n wolk dit omhul. 16Die magtige teenwoordigheid van die Here het op Sinaiberg gebly, en ses dae het die wolk die berg omhul. Op die sewende dag het die Here uit die wolk uit na Moses geroep (Eks.24:15-16).

Terwyl hierdie Persoon in die wolke aangekom het, gebeur daar nog iets meer merkwaardig – v.14 ~ En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie (OAV). Hierdie heerskappy en eer en Koningskap en koninkryk is nie maar net dieselfde as wat menslike konings ontvang nie – bv. soos in Dan.5:18 van Nebukadneser beskryf nie – nee, hierdie mag en eer en Koningskap behels veel meer as dit, want hierdie “Iemand soos die Seun van die Mens”, sal deur ~ ...al die volke, nasies en taalgroepe (ge)dien (word) en die OAV sê dat hulle Hom almal sal vereer. Hierdie “Iemand” kan dus nie bloot net ’n engel wees nie, want hierdie “Iemand soos die Seun van die Mens” ontvang ewige en onvernietigbare heerskappy – soewereiniteit dus, wat net aan God behoort en daarom is die beskrywing van hierdie tweede Persoon, die “Seun van die Mens”, so ’n raak beskrywing, want nie net alleen sou Hy mens geword het nie, maar Hy is terselfdertyd ook die Ewige, God Almagtig, daarom kon Hy toe Hy op aarde was, terselfdertyd o.a. saam met ’n prostituut eet, maar ook sondeloos bly soos God, omdat Hy self God is!

Natuurlik is dit vir ons veel makliker om hierdie benaming van Christus Jesus die Verlosser hier in Daniël te verstaan, want Jesus het alreeds in vlees na die aarde gekom, maar dit sou eers ’n paar eeue na Daniël gebeur en geen wonder daarom dat Daniël in v.15, beangs geraak het oor dít wat hy gesien het nie – die OAV stel dit vir my mooi ~ Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel (in sy totaliteit dus) verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik. 

Daniël ontvang nou van v.16 af ’n beskrywing van die gediertes wat hy gesien het en wat met hulle gaan gebeur en dan kom hierdie wonderlike woorde in v.22 ~ Toe het Hy wat ewig lewe, gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het aangebreek dat die heiliges van God die koninklike heerskappy sou ontvang. Die tydelik mag en heerskappy van hierdie wêreldheersers sou van hulle gestroop word (v.26) en eendag sal hulle ook in die parskuip van Openb.14:14-20 gegooi word en dan veral v.20 ~ Die parskuip, buitekant die stad, is getrap. Uit die parskuip het daar bloed uitgekom wat tot aan die tooms van die perde geraak en sestien honderd kilometer ver gestrek het hulle gaan geoordeel word vir hulle bose brutaliteit en Godloosheid.

Hoor egter wat staan in v.27 ~ Die heerskappy en mag en grootheid van al die koninkryke op aarde sal gegee word aan die heilige volk van die Allerhoogste. Sy koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die regeerders sal Hom dien en Hom gehoorsaam wees.

5.     DIE BETEKENIS VAN HIERDIE VISIOEN:
       Watter boodskap hou hierdie visioen van Daniël vir ons vandag in? Soos verlede week reeds gesê, leef ons steeds in die era van “wilde gediertes” soos o.a. die eerste eeuse gelowiges – nou net in ’n ander gedaante. Daar is steeds “gediertes” wat getroue gelowiges o.a. in Sudan; China; Saudi Arabië en in Noord-Korea, vervolg en doodmaak. Ons weet nie hoe ver ons “bees” in die verskiet lê nie (indien enige ooit), maar tog ervaar elkeen van ons ook ons eie unieke swaarkry en vervolging en gaan ons almal gebuk onder siektes en hierdie wêreld se sondegevalle gebrokenheid, wat ook maar ’n “dier” is, net in ’n ander gedaante as die “Daniël-gediertes”.

       Ons moet egter vashou daaraan dat ons nie vir altyd in hierdie wêreld sal woon nie en dat Christus se Koninkryk ’n ewige Koninkryk is en almal (ons inkluis) sál eendag, die knie voor Hom, die Seun van die mens, buig. Op daardie dag sal alles wat onaangenaam en lelik en skrikwekkend is; alles wat verkeerd en gebroke is, vir ewig verplaas word met die teenwoordigheid en heerlikheid van God Almagtig en die satan en sy meelopers sal op daardie dag gevonnis word in die Raadsale van die hemel en vir ewig verdoem word en in die ewige poel van vuur gewerp word (Openb.20:10).

       Op daardie dag van oordeel, sal en is ons enigste hoop, Hy wat op Golgota gesterf het en die dood en ewige oordeel vir ons oorwin het – Hy die ewige Koning en Heerser, Jesus Christus.