Monday, November 5, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 15 ("God se belofte kan vertrou word")


Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.

1.    SKRIFLESING:
            Hebr.6:13-20 ~ Toe God aan Abraham die belofte gemaak het, het Hy niemand groter as Hyself gehad by wie Hy dit met ’n eed kon bevestig nie. Daarom het Hy dit met ’n eed by Homself bevestig 14en gesê: “Ek sal jou beslis ryklik seën en jou ’n baie groot nageslag gee.” 15En so het Abraham dan, nadat hy geduldig gewag het, gekry wat aan hom beloof is. 16Mense lê ’n eed af by iemand groter as hulleself. Vir hulle is dit die bevestiging van ’n saak, en dit sluit alle teëspraak uit. 17En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met ’n eed gewaarborg. 18Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ’n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. 19Hierdie hoop besit ons as ’n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. 20Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.

2.    INLEIDING:
       Die Hebreërskrywer het die voorafgaande paragraaf waarna ons die vorige keer gekyk het, afgesluit met ’n vurige wens dat sy lesers end-uit dieselfde ywer in hul geestelike- of geloofpad, aan die dag sal lê, as wat hulle gehad het toe hulle tot geloof in Jesus Christus gekom het – dat hulle met ywer in heiligmaking sal bly groei totdat die dinge waarop hulle, hul hoop gevestig het en wat aan hulle belowe is, in vervulling gekom het.

       Wat was hierdie hoop wat hulle gehad het? Waarna het hulle gestreef? Wat was hierdie belofte? Wat wou die Hebreërskrywer hê, moes hul dryfveer in die lewe wees, wat dan terselfdertyd tot gevolg sou hê dat hulle sou groei in heiligmaking? Ons as gelowiges kyk vooruit met ’n vaste hoop om eendag in die volmaakte en ewige teenwoordigheid van Christus Jesus te wees en om ook die volmaakte vreugde en heerlikheid van die ewige lewe te ervaar – dít is ons hoop en dít is die belofte wat God aan ons in en deur Jesus Christus gegee het – Jesus Christus is dus ons hoop, soos wat Paulus dan ook in 1 Tim.1:1 sê.

       Die Hebreërskrywer kom nou in ons gelese gedeelte en hy verduidelik en motiveer waarom hierdie belofte, m.a.w. God se belofte van redding, in vervulling sal kom vir elke individuele gelowige en hy gebruik twee voorbeelde om dit te verduidelik en te motiveer – eerstens gebruik hy ’n voorbeeld vanuit die Woord van God en dan spesifiek vanuit die Ou Testament, nl. God se belofte aan Abraham en tweedens gebruik hy ’n voorbeeld vanuit die alledaagse lewe, waar hy God se belofte van redding vergelyk met dié van ’n skip wat ’n hawe binnevaar.


3.    ABRAHAM SE VOORBEELD:
       Al het die skrywer vir sy lesers herhaalde kere gesê dat hulle nie moet terugkeer na die Judaïsme nie, beklemtoon hy nogtans die feit dat die uitstaande kenmerk van die Ou Testament, vertroue en geloof in God was. In Rom.4:11b sien ons bv. dat een so ’n gelowige uit die Ou Testamentiese tydperk, selfs die "Vader van alle gelowiges" genoem word ~ Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo. In Gal.3:7 word sy naam nog meer eksplisiet genoem ~ Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is. Die "Vader van alle gelowiges" is dus Abraham en dit is Hy wat die Hebreërskrywer gebruik as voorbeeld van iemand wat onwrikbaar aan God se belofte vasgehou het.

       Ons lees in die boek Genesis van die verbond wat God met Abraham gesluit het ~ Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. 2Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ’n seën wees. 3Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.” (Gen.12:1-3). Ons lees verder, dat Abraham toe ná die verbond wat God met hom gesluit het, uit die heidense stad Ur, na die land Kanaän getrek het. Op pad daarheen, het hy vir ’n paar jaar oorgebly in Haran, tot en met die dood van sy Pa Tera (Gen.11:27-32). Ons sien in Gen.12:5 dat Abraham getroud was met Sarai en dat hy 75 jaar oud was toe hulle verder van Tera af getrek het. Op daardie stadium van sy en Sarai se lewens, was hulle nog kinderloos. Hierdie verbond wat God met Abraham gesluit het, is weer ’n keer herhaal nadat Lot en Abraham se paaie geskei het en steeds is Abraham kinderloos ~ Nadat Lot van Abram af weg is, het die Here vir Abram gesê: “Kyk tog rond, kyk van hier af waar jy is, na die noorde en die suide, na die ooste en die weste. 15Die hele land wat jy sien, gee Ek vir altyd aan jou en jou nageslag. 16Ek sal jou nageslag so baie maak soos die stof van die aarde. As iemand die stof van die aarde kan tel, sal jou nageslag ook getel kan word. 17Trek nou deur die land, deur sy lengte en sy breedte, want Ek gee dit vir jou.” (Gen.13:14-17).

       Na tien jaar in die land Kanaän, het Abraham sy landgebied teen vier konings verdedig (Gen.14) en steeds was hy kinderloos. Op ’n dag het hy aan die slaap geraak en terwyl hy slaap, praat God met hom en sê vir hom ~ Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees (Gen.15:1). Vir Abraham is belonings op sy gevorderde ouderdom nie meer belangrik nie, trouens wat sal hy met enige beloning maak as hy nie ’n kind het aan wie hy dit kan bemaak nie. Trouens Abraham verwyt God eintlik so ’n bietjie, wanneer hy vir God sê, dat God nie ’n nageslag vir hom gegee het nie en die uiteinde daarvan is dat een van sy slawe op die ou einde met sy besittings en boonop met die beloning wat God aan hom wil gee, sal sit. God antwoord hom egter onmiddellik in Gen.15:4-5 ~ Daardie een (verwysende na die slaaf) sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees.” 5Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees. Abraham het hierop gereageer. Of hy dit onmiddellik gedoen het en of hy dit hardop gedoen het, weet ons nie, maar die gevolg van Abraham se reaksie was dat hy in die Here geglo het ~ Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het (Gen.15:6).
      
       Die feit dat Abraham geglo het, impliseer nie nét dat hy in God geglo het nie – hierdie geloof van hom dui ook daarop dat hy nou geglo het dat God aan hom ’n nageslag vanuit homself sou gee; dat hy ’n waardige erfgenaam sou hê en dat sy erfgenaam, ’n nageslag sou hê, trouens sy eie nageslag sou so veelvuldig wees, soos die sterre aan die hemel! Abraham het uiteindelik in God se belofte geglo; Hy het onwrikbaar in God se Woord geglo; Hy het in God se belofte gerus.

       Op grond van hierdie geloof van Abraham, is hy regverdig verklaar deur God. Wat egter nog meer opspraakwekkend en bevrydend is, is die feit dat Abraham reeds veertien jaar voor die instelling van die besnydenis (Gen.17), regverdig verklaar is en ’n paar honderd jaar voor die volk die Wet van God ontvang het – en dit alles op grond van God se genade en Abraham se geloof! Hierdie is waarskynlik een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van regverdigmaking en verlossing van die mensdom. Hierdie gebeurtenis, sien ons in v.17 van Hebr.6, het God bevestig deur ’n baie interessante opdrag aan Abraham, sodat sy erfgename bo alle twyfel kon weet en vertrou en glo dat God op Sy Woord geneem kon word – ons lees daarvan in Gen.15:9 ~ Toe beveel die Here hom: “Bring vir my ’n vers, ’n bok en ’n skaapram, almal drie jaar oud, en ’n tortelduif en ’n jong duif.”

       God het verder vir Hom gesê om die diere middeldeur te sny en die helftes teenoor mekaar te sit – net die voëls moes hy nie verdeel nie en toe dit donker word, het ...daar skielik ’n oond wat rook en ’n fakkel wat brand, tussen die stukke vleis deur (gegaan). Dan sluit die gedeelte af met die woorde in v.18 ~ Op daardie dag het die Here ’n verbond gesluit met Abram.

       Uiteindelik dan, het Abraham en Sara die vervulling van hierdie belofte ervaar, met die geboorte van hul eersteling Isak. Abraham is by uitstek ’n wonderlike voorbeeld vir ons van iemand wat God onvoorwaardelik vertrou het en geglo het dat Hy Sy beloftes sou nakom. Wat dus kenmerkend van Abraham se geloof was, was dat hy geen werklike bewyse gehad het dat God Sy beloftes sou nakom nie, behalwe dat hy God op Sy woord geneem het – Abraham het God onvoorwaardelik geglo en voortaan daarvolgens opgetree.

       Die Hebreërskrywer hou dan nou hierdie voorbeeld van Abraham se onwrikbare geloof in God aan sy lesers en aan ons voor as voorbeeld van hoe ons deur geloof en vertroue, God se beloftes deelagtig kan word.

       Ons moet steeds in gedagte hou dat die skrywer se lesers gebuk gegaan het onder vervolging en daarom gebruik hy hierdie voorbeeld van Abraham, om hulle te bemoedig en te herinner aan God se beloftes wat waar en seker is.

       Op grond van God se aard en karakter, kan Hy nie lieg nie – Hy beskik nie oor die vermoë om te lieg nie, want dit is presies Wie Hy is – Waarheid! Omdat Hyself Waarheid is, word Sy beloftes dus gewaarborg deur Sy volmaakte karakter en daarom, wanneer Hy ’n belofte maak, kom Hy dit altyd na, trouens op grond van Sy karakter, móét Hy dit nakom en dit is presies wat God doen in die lewe van Abraham.

4.    ’N ONBEWEEGLIKE LEWENSANKER:
       Die Hebreërskrywer verskaf ’n tweede voorbeeld aan sy lesers van God se belofte wat vas en seker staan, nl. dié van ’n anker (v.19). In hierdie geval moet ons egter nie dink aan ’n staal anker wat aan die voorkant van ’n skip aan ’n ketting hang en in die see neergelaat word ten einde die skip op een plek te anker nie – die beeld wat die apostel hier in gedagte het, is een wat goed bekend was aan sy lesers.

       In die Middellandse See is daar talle klein inhamme, of natuurlike hawens, maar daar was ook in sommige gevalle hawens gebou met opeengestapelde klippe wat dan beskerming vir skepe teen die branders gebied het. Wat opmerklik was, is dat daar oral in hierdie hawens, groot onbeweeglike klippe en rotse stewig ingebed aan die kant van die water was, waaraan ’n tou gebind was wat van die skip gekom het. Hierdie klippe of rotse het in Latyn bekend gestaan as "anchoria", waar die woord "anker" van afgelei is en in die Grieks het dit bekend gestaan as ’n ἄγκυρα (ankyra).

       Hierdie anker het egter ook ’n ander doel gedien as om net die boot stil en vas te hou naby die kant van die oewer – in daardie dae het bote nog nie beskik oor ’n roer (stuur) nie en was bote gestuur bloot deur die seile op sekere manier na die wind te stel en baie kere kon ’n boot nie ’n hawe binne vaar nie, omdat die wind teen die boot in gewaai het. Wat hulle dan in so geval gedoen het, was om die seile van die boot te laat sak en dan ’n man op ’n klein roeibootjie die hawe te laat inroei. Op die bootjie was ’n lang tou opgerol wat aan die anderkant, aan die groot boot se boeg vas gemaak was. Wanneer die matroos, wat bekend gestaan het as ’n "wegbereider", dan by een van hierdie rotse op die kant gekom het, het hy die tou daaraan vas gemaak en nadat hy ’n teken aan die skeepskaptein gegee het, het die matrose op die skip, die tou ingetrek na die skip toe en op hierdie wyse is die skip die hawe ingetrek – teen die wind in. Wanneer die matrose dan hierdie tou ingetrek het, sonder om hul greep te verslap of die tou te los, het hulle veilig in die hawe ingekom en kon hulle langs die kant vasmeer.

       Wanneer ons hierdie beeld in gedagte hou en ons dan na vv.19-20 kyk, vertrou ek dat dit vir ons nuwe betekenis sal kry. Ons hoop is gevestig op die ewige "anchoria", of "ankyra", nl. Jesus Christus! Ons Wegbereider het veilig by die kuslyn aangekom (dit is die Hemel) en Hy het die tou aan die Rots vasgeknoop ~ Hierdie hoop besit ons as ’n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. 20Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek (vv.19-20). Al wat ons nou moet doen, is om stewig vas te hou aan hierdie "tou" – die Hoop wat ons in Christus Jesus het en ons sál veilig in die hawe aankom, ten spyte van stormwinde en branders.

       Jesus Christus het by die voorhangsel van die Tempel verby gegaan en die allerheiligste binnegegaan, trouens die voorhangsel het middeldeur geskeur toe Jesus Sy laaste asem aan die kruis uitgeblaas het, wat daarop dui dat Hy die offer van versoening wat God vereis het, volkome gebring het. Wat egter meer is, is dat Christus nou aan die regterhand van God sit, wat impliseer dat Hy vir ewig die Bewaarder van ons siele is.

5.    CHRISTUS ONS TOEVLUG:
       Die Hebreërskrywer sê vir ons, dat daar twee onveranderlike  dinge is waardeur God belowe dat Hy sal doen wat Hy sê Hy sal doen en dit is volgens v.18, ’n belofte en ’n eed wat Hy gemaak en afgelê het. Hierdie belofte en eed van God kan nie verander nie; dit kan nie herroep word nie; dit is nie net ’n droom nie en ook is dit nie maar net ’n vae, "mogge troffe" moontlikheid nie. Nee, daar bestaan geen moontlikheid dat dit nie kan of sal realiseer nie, want God, Wie Waarheid is, het soos v.13 dit vir ons baie duidelik stel, hierdie belofte ...met ’n eed by Homself bevestig.

       Hierdie was ’n eed en belofte wat God afgelê en geneem het en die geskiedenis het aan ons gewys dat Hy hierdie belofte teenoor Abraham, ryklik nagekom het. Ons as gelowiges vandag, het egter veel, veel meer beloftes as wat Abraham gehad het. Die vraag is egter, waarom aanvaar ons nie hierdie beloftes wat God in Sy Woord gemaak het nie? Waarom twyfel ons voortdurend? Waaraan twyfel ons as gelowiges die meeste? OF EK GERED IS! Dít is waaraan die meeste gelowiges twyfel! Net so kort terug as Hebr.6:17 het God gesê dat Sy belofte van toepassing is op die saad van Abraham. Wie is hierdie saad van Abraham? Gal.3:27-29 ~ ...want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God. Abraham se saad is dus elke gelowige deur die eeue heen en uit elke nasie, volk en taal! Ek en jy wie in Jesus Christus glo is dus saad van Abraham en sal dus deel in die belofte aan Abraham.

       Vers 18 sê vir ons dat Christus vir ons ’n toevlug is. Hierdie is ’n baie interessante uitdrukking en metafoor. Ons sien in Num.35:9 en Jos.20, dat God ses stede aangewys het – drie aan die eenkant van die Jordaan en drie aan die anderkant. Die doel met die aanwysing van hierdie stede was dat indien iemand, ’n ander persoon per ongeluk gedood het, daardie persoon na een van hierdie stede kon vlug, waar hy veilig sou wees totdat sy saak deur die ouderlinge van die stad ondersoek was. Indien hulle sou bevind dat dit wel manslag was en nie moord nie, sou die persoon toegelaat word om in die stad aan te bly tot en met die dood van die Hoë Priester, waarna hy na sy huis kon terugkeer. Terwyl hy in die stad gebly het, kon en mag die vermoorde man se familie niks aan hom doen nie – hy was dus veilig solank hy in die stad gebly het.

       Ons het in Jesus Christus ingevlug en daarom is ons tot in ewigheid veilig, want óns Hoë Priester leef vir ewig (Hebr.7:23-25) en daarom beskik ons oor ewige redding en saligheid. Geen wreker en geen vervolger kan ons aanraak solank ons in ons vestingstad, Jesus Christus skuil nie, want Hy het reeds gesterf en opgestaan uit die dood – Hy leef vir ewig en daarom ook ons! Daarom sê v.20 ook dat Jesus ons Voorloper is – Hy het die dood eerste ingegaan en die pad vir ons gelyk gemaak en die dood vír ons oorwin. Hy het dit ook gedoen ten einde vir ons ’n plek in die Vader se huis te berei – Joh.14:1-3 ~ Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. 2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

       Jesus, sê die Hebreërskrywer vir ons, tree nou namens ons op as Hoë Priester en wel volgens die orde van Melgisedek, wat impliseer dat Sy Priesterskap nie tydelik van aard soos Aäron en ander aardse priesters was nie, maar dat dit ewig van aard is (maar D.V. volgende keer meer hieroor).
           
6.    AFSLUITING:
       Geliefdes, net soos wat God Sy beloftes aan Abraham gestand gedoen het, net so kan ons Sy beloftes soos vervat in Sy Woord, vertrou – trouens, indien ons God se beloftes in Sy Woord nie glo nie, plaas ons ’n vraagteken oor God se opregtheid en Sy karakter en is ons besig om ernstig te sondig!

       Die redding en verlossing wat God in Sy Woord belowe aan almal wat in Hom glo, is soos ’n anker wat ons siele hier op aarde verbind met Jesus Christus in die hemel. Christus het ons vooruit gegaan, net soos die wegbereiders van die destydse seilbote, ten einde ons stewig in die hemel te anker; dit is wat Hy in Sy Woord belowe en God se beloftes kán vertrou word, want ons het talle voorbeelde in die Skrif daarvan – roep die Naam van Christus aan en jy sál gered word, sê Hand.2:21 en Paulus sê in Rom.10:9 ~ As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Hierdie belofte moet ons vasgegryp en dit nooit vergeet nie, veral wanneer die stormwinde van vertwyfeling aan ons ankertoue ruk!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 04 November 2012.