Sunday, September 2, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 10 (God se Belofte)



Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.


1.    VOORAF:
       Verlede Sondag het ons gehoor hoe die Hebreërskrywer sy lesers vanuit Ps.95 waarsku om nie soos hul voorouers, hardkoppig, ongelowig en ongehoorsaam te wees nie, want net soos hul voorouers nie die Beloofde Land kon binnegaan nie, a.g.v. hierdie ongeloof en opstand, net so kon sy lesers (en daarom ook ons), die ewige rus misloop indien hulle sou volhard in hulle ongeloof en ongehoorsaamheid.


2.    SKRIFLESING:
       Hebr.4:1-13 ~ Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie. 2Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie. 3Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie, soos God gesê het: “Toe het Ek in my toorn ’n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.” En tog was sy werk ná die skepping van die wêreld reeds afgehandel, 4want êrens in die Skrif word van die sewende dag dit gesê: “En God het op die sewende dag gerus van al sy werk,” 5terwyl hier weer gesê word: “In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.” 6Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie in sy rus ingegaan nie, maar vir sommige bly die moontlikheid bestaan om in sy rus in te gaan. 7God het immers weer ’n dag bepaal, naamlik “vandag”, wanneer Hy, soos reeds voorheen aangehaal, soveel later by monde van Dawid sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie.” 8As Josua hulle in die rus laat ingaan het, sou God nie daarná nog van ’n ander dag gepraat het nie. 9Daar wag dus nog steeds ’n sabbatsrus vir die volk van God, 10want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus
van sy werk, net soos God van Syne. 11Laat ons ons dan beywer om
in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie. 12Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. 13Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

3.    SKEMA:
            In opvolging van die skrywer se waarskuwing van die gevaar om weg te draai van God en die wyse waarop die lesers se voorouers hul rug gekeer het op God en hulle derhalwe God se Rus misgeloop het, kom hy nou en hou hy die belofte van ’n Sabbatsrus vir God se kinders voor oë.

            Die skrywer is ’n man van Joodse oorsprong en hy skryf aan Jode wat in Christus Jesus as die Messias – die Verlosser, glo en a.g.v. sy en sy lesers se besondere goeie kennis van die Ou Testament, kan hy met groot gemak sy rede o.a. op Ps.95 en Gen.2:13 laat rus. Waarom verwys hy en gebruik hy hierdie twee Skrifgedeeltes uit die Ou Testament? Omdat beide gedeeltes keer op keer tydens die Sabbat aan die gemeente voorgelees was en is beide gedeeltes dan ook deeglik vasgelê in die gemoed van elke Jood en beide hierdie gedeeltes beklemtoon dan ook die feit dat die Sabbat, ’n dag van rus is. In die lig hiervan, kan ons dan ook vanoggend se Skrifgedeelte onder die volgende opskrifte behandel:
·        God se Rus (v.1);
·        Elemente (vv.2-7);
·        Aard (vv.8-10);
·        Noodsaak (vv.11-13).

4.    GOD SE RUS:
        In v.1 verwys die Hebreërskrywer na ’n belofte – ’n belofte wat steeds van krag is en hy sê dan ook dat hierdie belofte wat ontvang kan word, "sy rus" is. Wie is die "sy" waarna hier verwys word? Ten einde dit te beantwoord, moet ons na die konteks hier kyk en daarvoor moet ons terug gaan na 3:11 ~ Toe het Ek in my toorn ’n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie. In v.7 het ons gesien dat dit die Heilige Gees was wat daar aan die woord was. "Sy rus" waarvan hier dan gepraat word, is "God se rus".

       Die skrywer sê egter aan sy lesers dat hulle daarop moet let, dat hul voorouers hierdie rus van God misgeloop het, maar in Sy groot en wonderlike genade, is hierdie belofte van rus nie vir ewig verby nie – nee, dit is steeds van krag – die ESV sê: "it still stands". Daar is derhalwe ’n tweede kans aan die Nuwe Testamentiese gelowiges gegee – die nageslag van God se volk wat Sy toorn vir hulleself daar in die wildernis op die hals gehaal het en nié God se rus kon binnegaan nie – hierdie nuwe geslag het nog ’n kans – hulle kan God se belofte steeds ontvang en Sy rus binnegaan, maar die Heilige Gees rig ’n ernstige waarskuwing tot hulle (net soos in 3:7-8), nl. om daarop te let dat hulle nie hierdie belofte moet misloop, deur in die wildernis van hierdie wêreld, agter te bly nie.

o    Betekenis: Ons het nou net gesê dat hierdie belofte waarvan ons hier in v.1 lees, verwys na God se rus – wat is die betekenis van hierdie woord "rus"? Die Griekse woord wat hier in die oorspronklike teks gebruik word vir "rus", is κατάπαυσις (katapausis) en dit het meer as een betekenis.
-        Dit beteken o.a. om op te hou werk of om op te hou met ’n bepaalde aksie waarmee jy besig is. Die gedagte is dat ons as gelowiges kan ophou om ons eie heil te probeer uitwerk – ons kan rus in God se genade; ons kan ophou om
God te probeer beïndruk met ons patetiese vleeslike werke.
-        Dit kan egter ook beteken om vryheid te ervaar van wat ons ook al mag bedreig; van allerlei kwellinge – fisies, sowel as emosionele bedreigings. Dit impliseer natuurlik nié dat allerlei bedreigings van gelowiges sal wyk nie, maar om onnodig ontsteld te raak daaroor, is nie meer nodig nie, want ons kan nou innerlike vrede en kalmte ervaar, omdat God in Sy almag en soewereiniteit, in beheer is en Hy presies weet wat die beste vir ons is.
-        Nog ’n betekenis wat toegeken kan word aan God se rus, of κατάπαυσις (katapausis) dan, is om te lê, of om jouself te vestig (soos in ’n nuwe dorp bv.), of om herstel of gerestoureer te wees, of om veilig te voel. Die toepassing van hierdie betekenis, is om m.a.w. in Christus te rus en om geen onsekerheid meer te ervaar oor jou ewige bestemming nie en ons word net nie meer deur allerlei dwaalleringe rondgeslinger nie (Ef.4:14). Ons is dus stewig gevestig in Christus en ons het geen twyfel meer oor ons kindskap nie.
-        Rus beteken ook om op iets of iemand te leuen of te steun. Om dus in God se rus in te gaan impliseer dat ons vir die res van ons lewe, op God kan steun, met dié wete dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie – ons kan dus in alles en vir alles op Hom vertrou. Dit is m.a.w. ’n verhouding waarin ons sekuriteit kan ervaar en wanneer ons dit nie ervaar nie, impliseer dit dus dat ek nog nie geheel en al in God se rus ingegaan het nie.

       Die rus waarvan hier in Hebreërs gepraat word, sluit al hierdie betekenisse in en dít is die sekondêre rus wat God nou reeds aan elke gelowige bied.

       Die primêre betekenis het egter te doen met die rus wat die Beloofde Land eintlik vir die Israeliete gesimboliseer het, nl. die ewige lewe, maar wat hulle nooit volkome verstaan het nie en wat hulle misgeloop het, a.g.v. hulle ongeloof en ongehoorsaamheid en net soos wat Israel, God se rus misgeloop het, het siel na siel sedertdien (en selfs vóór dit) God se reddingsrus misgeloop a.g.v. hulle ongeloof.

o    Beskikbaarheid: Hierdie belofte van God aan Sy kinders om in Sy rus in te gaan, is ’n belofte wat steeds van krag is (v.1), trouens dit was en is beskikbaar gestel aan drie verskillende geslagte:
-        Ons sien eerstens in v.8 dat hierdie belofte aan Moses se geslag gebied is. Ons sien egter ook in v.8 dat selfs Josua (Moses se opvolger) nie die volk wat uit Egipte weggevoer is, die land kon binnelei nie – hy was dus nie ’n suksesvolle verlosser nie – al beteken sy naam presies dieselfde as Jesus se Naam, nl. Verlosser (יְהֹושֻׁעַ / yəhowšuʿa –  "Jeshua").
-        ’n Paar eeue later sien ons in Ps.95, dat hierdie belofte weereens deur Dawid, aan die volk Israel voorgehou word, maar ook Dawid was slegs maar ’n skadu van die volmaakte verlossing wat in Jesus sou kom, want dit is uit Dawid se nageslag dat die Seun van God sou kom om die volmaakte en ewige rus vir Sy kinders te bewerkstellig en aan te bied.
-        Nog ’n klompie eeue later het Jesus dan gekom en vir die laaste keer, God se rus aan die huidige geslag waarin ons lewe, kom bied. V.1 waarsku egter die lesers van die Hebreërbrief, nl. dat hulle hierdie belofte kan misloop, net soos die Israeliete van ouds. Die skrywer sê "oppas" – ...oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie. Daar is egter sekuriteit vir diegene wat in Jesus Christus ingeplant is, want Luk.12:32 sê ~ Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee. Vir diegene wie egter hul harte verhard en nie gehoor gee aan God se waarskuwing in v.1 nie, is Matt.10:28b ’n vreesaanjaende en harde werklikheid ~ ... vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.

       Wat ons egter ook moet verstaan, is dat hierdie belofte om God se rus binne te gaan, steeds vas sal staan totdat Christus weer kom en daarom sal die geleentheid steeds bestaan tot Jesus op die wolke verskyn – en hierdie belofte is vir alle nasies en volke beskikbaar – ook vir die Jode van ons dag. Kan ons ooit groter genade as dít ontvang?

5.    ELEMENTE:
       God se rus – Sy redding, is gebaseer op drie elemente:
Persoonlike geloof; God se soewereine besluit, en ’n onmiddellike reaksie aan die mens se kant.

o    Persoonlike Geloof: In beide die Ou Testament, sowel as die Nuwe Testamentiese era het mense tot redding gekom en kom mense steeds tot redding deur die verkondiging van die Woord – dit sien ons dan ook in v.2 waar die skrywer sê ~ Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle. Die skrywer gaan egter voort in v.2 en hy sê ~ ...maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie. Om die Woord te hoor; om die Evangelie van Jesus Christus gepredik te hoor, is m.a.w. nie opsigself genoeg om iemand in God se rus te laat ingaan nie – daar is derhalwe ’n baie belangrike element wat kortkom voor redding kan plaasvind en dit is geloof. Die skrywer sê dat die Israeliete nie God se rus kon binnegaan nie, omdat hulle nie geglo het nie. Geloof is dus ’n noodsaaklike element alvorens enige iemand, God se rus kan binnegaan.

       Die verskil tussen die "luisteraars" van die woestyn en dié van die ware gelowiges lê dus nié in die boodskap wat vir beide ’n Woord van belofte was nie, maar in die wyse waarop daar geluister was en in ons tyd geluister word. Die Israeliete van destyds se "hoor" was sonder geloof – ware geestelike gehoor behels aktiewe luister – "geloofs-luister", as element. Die Israeliete het nie God se Woord en daarom Sy beloftes aanvaar nie. Hulle het God nie vertrou nie – hulle het Hom nie geglo en in Hom geglo nie. Wanneer ons glo, sê die Hebreërskrywer in v.3, sál ons in God se rus ingaan.
      
       Die Israeliete egter, het God se rus in die Beloofde Land misgeloop al het hulle die Wet gehad – hulle probleem was dat hulle nie gehoorsaam was nie. Om die Woord te besit en die Woord te ken is ’n geweldige voordeel – maar slegs as ons gehoorsaam is daaraan, daarom dat Paulus in Rom.2:25 sê ~ Die besnydenis het waarde alleen as jy die wet van Moses onderhou. Maar as jy die wet voortdurend oortree, is jou besnydenis niks anders as onbesnedenheid nie.

       Die enigste manier om waarlik ’n gelowige te wees, met God se ewige rus as belofte, is om in God te glo én om  gehoorsaam te wees aan Sy Woord. Wanneer dit egter nie die geval is nie, geld die vonnisoplegging van God op die ongehoorsame Israeliete ook vir ons, nl. ~ Toe het Ek in my toorn ’n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.

       Ons vind ’n baie interessante gedeelte in vv.3b-4, nl. ~ En tog was sy werk ná die skepping van die wêreld reeds afgehandel, 4want êrens in die Skrif word van die sewende dag dit gesê: “En God het op die sewende dag gerus van al sy werk. Waarom sou die Hebreërskrywer hierdie verse neerpen, want dit klink amper half onvanpas en dit is asof dit totaal uit plek is? Die skrywer wil vir ons verduidelik hoe God se rus daar uitsien en daarom vergelyk hy dit met die rus soos wat God op die sewende dag gerus het nadat Hy hemel en aarde geskape het (Gen.2:2).

       Adam en Eva was na die skepping en tot voor die sondeval, in ’n volmaak geregverdigde toestand – hulle het in ’n volmaakte verhouding tot God verkeer. Hulle het in ’n volmaakte rustoestand verkeer. Hulle het God se vergifnis nie nodig gehad nie. Hulle het geen vrese en angs, of hartseer ervaar nie. Hulle het nie aanmoediging benodig nie, want hulle het nie misluk nie. Dit was Adam en Eva se "rus" in God. God het Sy volmaakte skeppingswerk afgehandel en Hy het gerus. Die mens was God se volmaakte skepsels en hulle het in Hom gerus.

       Kort na die skepping het iets egter drasties skeef geloop, want die satan het twyfel by die mens gesaai t.o.v. God se Woord en Sy liefde en Adam en Eva kies om eerder die satan te glo. Die oomblik toe hulle hul vertroue in God verloor, het hulle ook die voorreg om in Hom te rus, verloor. Dit alles het tot gevolg gehad dat die herstel van hierdie gebroke verhouding, die sentrale tema van die Bybel geword het. God het hierdie gebroke verhouding dan ook herstel, deurdat Hy Sy Seun, Jesus Christus, gestuur het om dit te bewerkstellig – deur Jesus Christus is die moontlikheid weer daargestel vir die afgestorwe mens om lewe te kan ontvang – is God se rus weer beskikbaar gestel aan diegene wie glo!

o    God se Besluit: Die Israeliete wat gesondig het en nie meer geglo het en gehoorsaam was aan God terwyl hulle deur die wildernis geswerf het nie, het nie alleen die Beloofde Land misgeloop nie, maar ook God se Ewige Rus – diegene wie ongehoorsaam was, maar wel geglo het, het weliswaar toegang tot die Beloofde Land verbeur, maar hulle het wel God se ewige rus (waarvan Kanaän – die Beloofde Land, simbool was) binne gegaan - ...Net so is dit ook vandag: daar is ’n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is (Rom.11:5). 

       Wanneer God iets geskep het of iets besluit het en dit word op een of ander wyse deur óf die satan, óf die mens verdraai, beskadig, of selfs vernietig, sal God dit nié maar net gelate aanvaar nie – o nee, Hy begin onmiddellik weer om dit reg te stel – om dit te herskep, want Hy skep net eenvoudig nie iets wat maar net tot niet kan gaan nie. Dink aan ons liggame: Die sonde takel ons liggame af en aan die einde sterf dit en word dit stof, MAAR uiteindelik herskep God ons liggame en skenk Hy weer aan ons volmaakte en verheerlikte liggame! Net so gaan dit met die natuur gebeur en ook met ons gees, want die mensdom se intieme verhouding met God is deur die sonde vernietig, maar die geleentheid tot herskepping word ook deur God daargestel en stel Hy hierdie herstel beskikbaar aan elkeen wat deur Hom uitverkies is!

       Hierdie is die tweede element t.o.v. God se rus wat die Hebreërskrywer meld nl. God se besluit. Hy besluit wie gered sal word en in Sy rus sal ingaan – hier, nou en uiteindelik in die ewigheid.  Al word die mens se geloof  eerste genoem deur die skrywer, kan geen mens op grond van sy eie geloof in God se rus ingaan nie. Ons word gered op grond van God se uitverkiesingsgenade en daarna deur ons geloof wat gewerk en geskenk word deur die Heilige Gees – Joh.6:44 ~ Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan (sien ook: Joh.6:65).

o    Reaksie: Die derde element waaruit God se rus bestaan, is ons reaksie. V.7 begin met die woorde ~ God het immers weer ’n dag bepaal. God het dus weer ’n geleentheid aan die mens gebied om Sy rus binne te gaan. Nog ’n kans!

       Ons moet egter verstaan dat hierdie geleentheid nie onbepaald gaan bly staan nie – vir elke individu gaan hierdie kans eindig voor of met sy dood. In Gen.6:3 het God gesê dat die mens nie langer as 120 jaar sou lewe nie en in ons dag is dit veel-veel korter, daarom dat Paulus in 2 Kor.6:2b sê ~ Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding – daar is nie tyd vir uitstel nie en bo en behalwe die feit dat die mens maar net "sóveel" jare het om te lewe, weet niemand of hy nog die dag van môre gaan sien nie en waarskynlik die heel belangrikste ~ Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos ’n dief in die nag (1 Tes.5:2). Daar is dus nie tyd om uit te stel en om te reageer op God se wekroep tot bekering nie – nou is die regte tyd!

6.    AARD:
       Soos reeds aan die begin aangetoon, is die rus waarvan hier gepraat word, nie die fisiese rus van die Beloofde Land (Kanaän) primêr nie, want dit was slegs ’n beeld wat gebruik was, want, ons sien in v.8 ~ As Josua hulle in die rus laat ingaan het, sou God nie daarná nog van ’n ander dag gepraat het nie. God se ware rus het dus nie deur Moses gekom nie en ook nie deur Josua, of enige ander mens nie. Dit het nét deur Jesus Christus gekom.

       God se rus is nie fisies van aard nie. Natuurlik het ons vertroue in Hom (soos ons reeds gesien het) tot gevolg dat ons verligting van spanning ens. kan ervaar, maar die aard van God se rus is egter geestelik van aard.

       Eerstens was hierdie rus vir God se Ou Testamentiese volk bedoel – v.9 ~ Daar wag dus nog steeds ’n sabbatsrus vir die volk van God, maar tweedens sê Paulus in Rom.1:16 dat hierdie rus ook vir ons bedoel is ~ Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.

       In v.10 wys die skrywer daarop dat daar vir al die gelowiges ’n ewige Sabbatsrus wag, waar alle gelowiges sal rus van hierdie aardse geswoeg, net soos wat God gerus het nadat Hy die heelal geskep het ~ want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne (v.10).

7.    OPTREDE:
       Ons perikoop word afgesluit met ’n dringende oproep tot drastiese optrede wat die skrywer rig tot sy lesers en tot ons, om ons te beywer – om ons in te span en doelgerig daaraan te werk, ten einde hierdie ewige rus van God binne te gaan. Hoe moet ons dit te doen? Vv.12-13 gee vir ons ’n paar riglyne:
o    Voorbeeld: Ons moet ’n voorbeeld stel aan andere, deur ’n lewe te lei wat nie net God verheerlik nie, maar wat ook (positief gestel) as getuienis sal dien om andere na Christus te lei en nie weg van Hom nie.

o    Die Woord: Ons moet die Woord van God bestudeer, want die Woord is ~ ... skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Die Woord is nie net ’n instrument in  God se hand om ons tot redding te bring nie, maar dit dring ook die diepste dieptes van ons harte binne ten einde ons motiewe te deursoek en ons te help om juis aandag te skenk aan ons heiligmakingsproses, sodat ons meer en meer gelykvormig sal word aan Christus en ons derhalwe voor te berei op die ewige rus wat op hulle wag wat volhard tot die einde toe.

o    Rekenskap: Ten slotte herinner die skrywer ons daaraan dat ons rekenskap aan God sal moet doen. God is  alomteenwoordig en daar is niks wat Sy oog ontglip nie – ook nie ons optrede nie en beslis ook nie dit wat ons in ons harte koester nie. Die woorde, alles lê oop, is vertaal uit die Griekse woord, γυμνός (gymnos), wat dui op algehele naaktheid – alle mense sal volkome ontbloot voor God se Regterstoel staan.

8.    AFSLUITING:
       Geliefdes, Paulus herinner ons in 1 Tes.5:22 daaraan dat ons ...maar alte goed (weet) dat die dag van die Here onverwags kom soos ’n dief in die nag, laat ons daarom nie onverhoeds betrap word nie!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente - Sondag, 02 September 2012