Sunday, September 9, 2012

Die Brief aan die Hebreërs - 11 (Christus ons "Pontifex")



Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.



1.    VOORAF:
       Hoofstuk 4 sluit af deur weer terug te keer na die sentrale tema van Jesus as die Joodse volk se allerlaaste Hoë Priester. Ons gaan dan vanoggend na Jesus Christus as Hoë Priester kyk en ons gaan dit aan die hand van die volgende opskrifte doen:
·           Sy volmaakte Amp (v.14).
·           Sy volmaakte Medelye (v.15).
·           Sy volmaakte Uitnodiging (v.16).

2.    SKRIFLESING:
       Hebr.4:14-16 ~ Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

3.    INLEIDEND:
       Hierdie perikoop vorm ’n baie belangrike oorgang van die een gedeelte van die Hebreërbrief na die volgende gedeelte.  

       Israel se Hoë Priesters was gedurende die Ou Testamentiese tydperk, of onder die Ou Verbond, afgesonder deur God en wel vir ’n twee-ledige bediening. Aan die een kant was hulle God se verteenwoordigers by Sy volk, deur o.a. die Woord van God aan die volk oor te dra, maar aan die anderkant het hulle ook die mense voor God verteenwoordig, deur die volk se gebede en offerandes voor Hom te bring.
      
       Dit is interessant om te weet dat, toe die vroeë Christene die Hebreeuse Ou Testament in Latyn vertaal het, hulle die woord vir "priester", vertaal het met die Latynse woord "pontifex" wat letterlik "brugbouer" beteken.

       Wat ook belangrik is om te weet t.o.v. die Hoë Priesterlike amp, was dat dit oorerflik was (Eks.29:29-30) – iets waaraan die skrywer breedvoerig aandag gaan skenk in hoofstuk 7. T.w.v. agtergrond moet ons ook voortdurend in gedagte hou dat die Hoë Priester die enigste was, wat die Allerheiligste in die Tabernakel (en later die Tempel) kon binnegaan en dit het net eenkeer per jaar geskied  en wel op die Dag van Versoening (Lev.16:1-25).

       Ons perikoop waarna ons vandag kyk, dien beide as ’n finale gevolgtrekking t.o.v. die vermanings in 3:1 tot en met 4:16, maar dien terselfdertyd as inleiding vir die wonderlike uiteensetting en verklaring, of lering oor die Hoë Priesterskap van Jesus die Christus, en wel tot en met 10:25.

       Tot nou was die boodskap in hierdie brief hoofsaaklik negatief: as jy nie glo nie, is jou verdoem – vir ewig verwyder van God se teenwoordigheid; jy sal nooit Sy rus kan binnegaan nie. Net soos wat die Hebreërskrywer hierdie negatiewe boodskap moes oordra, net so moet ons dit ook van tyd tot tyd doen, want God Almagtig is nie nét ’n liefdevolle en genadige God nie – Hy is ook ’n heilige God en daarom moet ons voortdurend gewaarsku word en moet ons andere ook aanhoudend waarsku en as ons baie mooi daaroor dink, is dit eintlik ’n boodskap wat ten alle tye verwelkom moet word, want agter hierdie boodskap van veroordeling, vind ons steeds God se liefde en genade (net soos dit die geval is met die tug in Matt.18).  

       Die boodskap verander egter nou na die positiewe kant, want die Evangelie van Jesus Christus hou ons nie alleen uit die hel nie, dit vermag veel-veel meer as net dit, want dit skenk aan ’n ieder en ’n elk wat sy geloof in Jesus Christus as Verlosser plaas, geestelike lewe. Ons moet verlossing in Christus dus nie alleen najaag omdat dit ons uit die hel kan hou nie – nee, ons moet dit najaag omdat dit aan ons die ewige lewe in Christus skenk. Ons moet daarna strewe en met alles in ons dit najaag, nl. om in God se rus in te gaan en nie omdat ons God se oordeel vrees nie, maar omdat God ’n genadige God is – Hy is nie net ’n regverdige Regter nie, maar ook ’n genadige en getroue Hoë Priester!


  

4.    SY VOLMAAKTE AMP:
       Die Hebreërskrywer begin hierdie paragraaf deur in v.14 te sê ~ Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die laaste woorde motiveer ons om vas te hou aan die geloof wat ons bely – waarom? Nie net omdat ons God se ewige rus daardeur kan binne gaan nie, maar omdat (sê die skrywer) Jesus die Seun van God reeds deur die hemele gegaan het en nou die amp van Hoë Priester beklee.

       Hierdie feit, nl. dat Jesus, Hoë Priester is, is alreeds ’n paar keer in die Hebreërbrief beklemtoon – so het ons bv. in 1:3 gesien dat Hy die reiniging van ons sonde bewerkstellig het. In 2:17 lees ons dat Hy ’n getroue en barmhartige Hoë Priester geword het ten einde versoening vir ons sonde te maak. In 3:1 verklaar die skrywer van die brief vir ons, dat Jesus, die Apostel en Hoëpriester van ons geloof is.

       Die Ou Testamentiese Hebreërs was intens afhanklik van die optrede van die Hoë Priester wat betref die vergifnis van hul sonde en die skrywer wil nou hier vir sy lesers aantoon, dat ook ons wat deel uitmaak van die Nuwe Verbond, ’n Hoë Priester het. Daar is egter ’n geweldige groot verskil tussen die Hoë Priester waaroor ons beskik en die Israeliete se Hoë Priesters (bv. Aäron), want die aardse Hoë Priesters het een keer per jaar op die Groot Versoendag ("Yom Kippur") uit die teenwoordigheid van die volk "verdwyn", wanneer hy die Allerheiligste binne gegaan het om versoening vir die volk se sonde te doen deur ’n offerdier se bloed as versoeningsimbool op die altaar te sprinkel – die volgende dag was die Hoë Priester egter weer tussen sy volksgenote en ’n jaar later moes hy die hele ritueel weer van voor af herhaal. Jesus daarenteen, het deur die hemele gegaan (v.14) ná Sy hemelvaart en sodoende permanent na die Heiligste van die Allerheiligste gegaan, maar met die geweldige groot verskil – Hy het nie die bloed van ’n offerdier gebruik om versoening tussen God en die mens te bewerkstellig nie – nee, Hy het Sy eie bloed gestort daarvoor – Hy het Sy eie lewe daarvoor gegee!

       Die Israelitiese Hoëpriesters moes op die Groot Versoendag deur drie deure gaan om uiteindelik in die Allerheiligste te kom waar die offer vir die volk se sonde gedoen is. Eerstens het hy met die offerdier se bloed, deur die eerste deur gegaan – dit was die deur in die Buitehof. Hierna is hy deur die deur wat lei na die Heilige Plek en dan derdens het hy deur die deur gegaan wat na die Allerheiligste gelei het. Dit is opmerklik om in v.14 te lees dat Jesus deur die hemele gegaan het – waarom meervoud, "hemele"? Wat bedoel hy hiermee? Ons lees in 2 Kor. 12:2-4 van ’n derde hemel ~ Ek ken ’n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. 3–4Ek weet ook dat hierdie man weggeruk is na die paradys toe. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. Daar het hy woorde gehoor wat ’n mens nie kan of mag uitspreek nie. Daar is derhalwe sprake van drie hemele en hierdie drie hemele, is die eerste hemel (die atmosfeer); die tweede hemel (die buitenste ruimte) en die derde hemel, is die allerheiligste – daar waar Christus in die teenwoordigheid van God is en waar elke gelowige uiteindelik ook die ewige rus sal binnegaan.

       Jesus het dus in teenstelling met die aardse Hoë Priesters, deur die hemele gegaan, waar Hy nou aan die regterhand van God sit (Hebr.1:3) – iets wat geen aardse Hoë Priester ooit kon vermag nie en waarom het Christus deur die hemele gegaan? Omdat Sy versoeningswerk afgehandel is en Hy steeds voorbidding vir elkeen van Sy kinders doen. Jesus se amp as Hoë Priester is dus een van volmaaktheid.

       Ons moet ook besef dat Jesus minder as 40 jaar voor Jerusalem in 70 n.C. geval het, gekruisig is. Met die val van Jerusalem is die Tempel ook verwoes en is die enigste plek waar offerandes aan God gebring is, daarmee saam vernietig. Van kort na Jesus se hemelvaart dus, is daar nog nooit weer enige offerandes deur die Jode gebring nie. Ja, "Yom Kippur" word steeds as die mees heilige dag deur die Jode gevier, maar geen priesters is meer betrokke en geen offerandes word meer gebring en daar bestaan nie meer ’n tempel waar offers gebring kan word nie.

       Enige formele priestersamp of –funksie sal nou impliseer dat die afgehandelde en volmaakte offer wat Jesus Christus aan die kruis gebring het, nie voldoende is nie. Daar is derhalwe geen plek meer in die Christelike godsdiens vir priesters en offerandes nie, want Jesus is die finale en volmaakte Hoë Priester en daarom kan enige gelowige deur geloof in Jesus Christus, nou direk toetree tot die teenwoordigheid van God, want die oomblik toe Jesus gesterf het, het die Voorhangsel in die Tempel van bo tot onder, middeldeur geskeur en was daar geen skeiding meer tussen die allerheiligste en enige ander deel van die Tempel nie – die mens wie op God se voorwaardes na Hom wou kom, het dus vrye toegang verkry.

       As ons bg. in gedagte hou verstaan ons die skrywer se laaste sinnetjie in v.14 beter, wat sê ~ ... laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die moontlikheid het steeds in die tyd van die vroeë Christene bestaan dat die ou Joodse rituele weer ’n aanvang kon neem en daarom is die skrywer bekommerd daaroor dat sy lesers, wat uit die Jodedom bekeer is, te midde van swaarkry, maklik weer sou terugval op die ou Joodse Levitiese stelsel waar hulle weer gebruik kon maak van "priesterlike-tussengangers", offerandes en al die ander gebruike en rituele wat met die Joodse geloof gepaard gaan het.

       Die Hebreërskrywer hou egter die volmaakte Hoë Priesteramp van Jesus aan sy lesers voor, ten einde hulle daardeur aan te moedig om Jesus Christus as Verlosser te bly bely en daarom vas te hou aan hulle geloofsoortuigings wat betref die Evangelie.

5.    SY VOLMAAKTE MEDELYE:
       Om die lesers te help om hul greep op hul belydenis te verstewig, skryf die apostel die woorde van v.15 aan hulle ~ Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Hier wil die skrywer nie alleen sy lesers aanmoedig om vas te hou aan hul belydenis as Christene nie, maar hy motiveer hulle ook verder om dit te doen, deur vir hulle op die Hoë Priester, Jesus Christus se volmaakte medelye te wys.

       Ons moet besef dat hierdie uitspraak van die skrywer ’n geweldige stelling was wat hy gemaak het, want die algemene opvatting onder die mense (veral aangevuur deur die Stoïsyne – ’n Grieks filosofiese denkrigting) was dat die primêre karaktereienskap (attribuut) van God, een van apatie was (die afwesigheid van drif, hartstog of strewe – geen gevoel of emosie nie) en om nou te sê dat Christus medelye met Sy kinders het, was ’n vreemde gedagte vir hulle, want hulle het gevoel dat indien God ’n gevoel kon hê, kon mense Hom manipuleer en beheer en daarom kon Hy nie volkome God wees nie. Om dus te sê dat God medelye met Sy kinders kon hê, was ’n radikale uitspraak en moeilik vir sy lesers om te verwerk.

       Die Hebreërskrywer wil egter sy lesers laat verstaan dat Christus nie so ver verwyder van hulle is, as wat hulle gedink of geglo het nie, want dit was nog een van die redes waarom Hy mens geword het, sodat Hy elke versoeking en beproewing en pyn en lyding kon deurgaan wat ons elke dag beleef, trouens dit wat Hy deurgemaak het, is ondenkbaar meer en intenser as wat ons ooit kan droom om deur te maak en wat meer is, deur al hierdie beproewing wat Hy ervaar het (die versoekings in die wildernis; Getsemane; Golgota; ens.), het Hy nooit – nie een enkele keer, gesondig nie - dit alles, kwalifiseer Hom dus by uitnemendheid om ons te verstaan en simpatie met ons te hê – Hy is dus die volmaakte Een om medelye met ons swakhede te hê. 

6.    SY VOLMAAKTE UITNODIGING:
       Die skrywer sluit hierdie kort, maar baie treffende en belangrike paragraaf op gepaste wyse af met ’n oproep tot gebed ~ Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word (v.16).

       Die Griekse woord wat vir "vrymoedigheid" hier gebruik word, is παρρησία (parrēsia) (en beteken letterlik, om sonder vrees en met vrymoedigheid en opgewekte durf en selfversekerdheid, te praat en/of iets te doen. Wat verder interessant is van hierdie woord, is dat dit nooit in heidense godsdienstige taal gebruik was om na gebed tot hulle gode te verwys nie; dit was die Jode wat eerste begin het om dit te gebruik in die Griekse Ou Testament ten einde gebed te beskryf, nl. ’n handeling waar jy as gelowige, jou hart ten volle voor God kon uitstort.

       Natuurlik is hier ook geen sprake van oneerbiedigheid of minagting nie en word gelowiges eerder aangemoedig om met vrymoedigheid en sonder huiwering na God te kom in gebed. Wat ’n kontras met die huiwerige en amper vreesagtige gesindheid waarmee die Ou Testamentiese Hoë Priester die Allerheiligste genader het. Hierdie is een van die grootste openbarings van hierdie brief, nl. dat ons met vrymoedigheid God se genadetroon, deur Jesus Christus ons Hoë Priester, kan nader.

       Wanneer ons met vrymoedigheid nader tot God se genadetroon, is dít presies wat ons ontvang – genade! Ons ontvang genade t.o.v. ons mislukkings en sonde uit die verlede. Ons ontvang genade t.o.v. ons versoekings en pyn en vervolging – ons laste en hartseer. Ons ontvang genade t.o.v. ons huidige en toekomstige behoeftes. In kort, ons ontvang en ervaar ons Hoë Priester se volmaakte voorsiening in alles wat ons nodig het – vertrou Hom net daarvoor en nader Sy genadetroon met vrymoedigheid.

       Hierdie woord "vrymoedigheid" is die vertaling van die werkwoord wat in die teenswoordige tyd gebruik word – dit impliseer dus dat hierdie uitnodiging om na God se genadetroon te gaan, op ’n voortdurende aksie dui dat ons  derhalwe uitgenooi word tot ’n intieme, maar spesifiek ook op ’n onophoudelike interaksie met ons Verlosser, Jesus Christus.     

7.    AFSLUITING:
       Paulus sê in 1 Kor.10:13 ~ Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. Christus Jesus ons Hoë Priester, verstaan ons swaarky volkome en daarom sal Hy ook volkome voorsien.

       Hoe kan enige iemand so ’n genadige en liefdevolle en begripvolle Hoë Priester en Redder verwerp – ’n Hoë Priester wat ons nie net duld voor Sy troon nie, maar wat ons uitnooi om tydig en ontydig en met vrymoedigheid voor Sy genadetroon te verskyn.

       Jesus Christus is voorwaar ons Hoë Priester; ons "Pontifex" – die ware Brugbouer tussen God en ons en ons word genooi om tydig en ontydig met groot vrymoedigheid en openheid na Hom te gaan, met alles wat ons in ons gemoed ronddra!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente - Sondag, 09 September 2012