Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die
teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige
Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.
1. VOORAF:
In ons Skrifgedeelte van vanoggend, gaan
ons kyk na ’n vergelyking tussen die destydse aardse hoëpriesters aan die
eenkant en Jesus Christus as ons ewige Hoëpriester aan die anderkant.
In die eerste vier verse vind ons die
basiese vereistes wat gestel was aan ’n aardse (of Joodse) hoëpriester en in die res van ons
gelese gedeelte, sal sien ons hoe dat Christus aan ’n ieder en ’n elk van
hierdie vereistes voldoen.
2. SKRIFLESING:
Hebr.5:1-10
~ Elke hoëpriester is ’n mens wat
uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur
gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met
die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om
hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir
die sondes. 4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy
word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom
ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom
gegee toe Hy gesê het: “Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader.” 6En
op ’n ander plek sê Hy: “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van
Melgisedek.” 7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit
die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En
sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel
Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid
is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan
Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy
deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.
2. INLEIDEND:
Wanneer gelowiges mekaar bv. by ’n
konferensie aan die etenstafel ontmoet, is een van die eerste vrae wat
gewoonlik gevra word: Van watter gemeente
is jy en wie is jou predikant? Een van die vrae wat Jode destyds
waarskynlik vir mekaar kon gevra het, was: Wie
is jou priester? Wie bring jou offers
gereeld voor die aangesig van die Here? Indien ’n Jood vandag vir ons sou
vra hoe ons sonde vergewe kan word indien ons nie ’n hoëpriester het nie, kan
ons hom antwoord dat ons wel ’n Hoëpriester het – ’n volmaakte Hoëpriester, nl.
Jesus Christus. Hy hoef nie elke jaar, soos die Ou Testamentiese hoëpriester, herhaaldelik
versoening te doen vir ons sonde nie, want Hy is nie beperk tot ’n aardse
tempel nie; Hy hoef nie eers sy sonde voor die Vader te bring voor Hy namens
die volk offer nie. Nee, Hy het ’n eenmalige offer gebring wat vir al ons sonde
betaal het. Dit is hoe wonderlik en groots ons Hoëpriester is. Wat meer is, Hy
sit nou aan die Regterhand van God die Vader waar Hy voortdurend intree vir Sy
kinders en daarom is Sy Hoëpriesterlike amp ver verhewe bo dié van enige aardse
Hoëpriester.
3. SKEMA:
·
Aardse
Hoëpriesters (5:1-4):
o
Mens aangewys as hoëpriester (5:1a)
o
Verteenwoordig die mens voor God (5:1b)
o
Simpatiek gesind (5:2)
o
Bring self Offerandes (5:3)
o
Deur God geroep (5:4).
·
Jesus
– Ewige Hoëpriester (5:5-10):
o
Vleesgeworde mens gekies tot
Hoëpriester (5:6,
10)
o
Verteenwoordig die mens voor God (5:7, 8)
o
Simpatiek gesind (5:7-8)
o
Bring self Offer (5:9)
o
Deur God geroep (5:10).
4. AARDSE HOËPRIESTERS:
Soos reeds gesê vind ons in ons eerste
vier verse, die basiese vereistes wat gestel was aan ’n aardse (of
Joodse) hoëpriester.
o
Mens
aangewys as hoëpriester:
Eerstens, is al die hoëpriesters gedurende
die Ou Testamentiese tydperk, deur God vanuit die volk gekies – hulle was nie
’n engel, of ’n klipvoorwerp, of enige iets anders nie – Hy moes mens gewees
het, gekies vanuit die mense ~ Elke is ’n mens wat uit die mense geneem en
aangestel (v.1)., sodat hy met begrip en simpatie,
die mense by God verteenwoordig.
o
Verteenwoordig
die mens voor God:
V.1 leer ons dat elke hoëpriester ’n mens
was wat uit die mense aangewys was as hoëpriester. Die rede waarom die hoëpriester
een van die volk moes wees, was omdat een van sy primêre verantwoordelikhede
was om die mens voor God te verteenwoordig en hy moes dit op ’n simpatieke en
genadige wyse gedoen het – net ’n mens (’n volksgenoot) kon dit so doen.
Tydens en selfs na die Ou Verbond was God
onbereikbaar vir die gewone mens en dit alles het sy oorsprong tydens die
sondeval in die Paradys gehad – die mens is deur God uit die Tuin verjaag en
daarmee saam is die mens se toeganklikheid tot God afgesny. In die wildernis is
die volk van God bv. gewaarsku om nie té na aan die berg Sinaï te kom, waar God
gekies het om Homself aan Moses te openbaar nie. Ook in die Tabernakel en die
Tempel was God verskuil agter die Voorhangsel wat tussen die Heilige en die
Allerheiligste gehang het – net die hoëpriester kon een keer per jaar in die
Allerheiligste in God se teenwoordigheid verskyn.
o
Simpatiek
gesind:
’n Hoëpriester moes simpatiek gesind wees
teenoor die volk, anders kon hy hulle nie na behore by God verteenwoordig en
intree vir hulle nie. Vers 2b sê vir ons baie duidelik waarom die hoëpriester
simpatie met die volk kon hê ~ ...
omdat hy self aan swakheid onderhewig is. Die eerste gedeelte van hierdie vers sê ook verder vir
ons dat die hoëpriester baie bepaald simpatie gehad het met die onwetendes ("ignorant") en dwalendes ("wayward"). Die onwetendes was diegene wie
gesondig het, sonder dat hulle besef het dat hulle sondig. Num.15:28 het
hiervoor voorsiening gemaak ~ Die
priester moet vir die persoon wat onopsetlik gesondig het, voor My versoening
doen, en as die versoening vir hom gedoen is, sal die sonde hom vergewe word. In teenstelling hiermee was openlike
en doelbewuste sonde, ’n gruwel in die oë van die Here. Die klem het dus op
simpatie geval en daarom moes die hoëpriester simpatie gehad het met diegene
wat onwetend gesondig en afgedwaal het.
Behalwe dat die priester self ook
gesondig het, was hy egter ook onderworpe aan allerlei swakhede wat tot gevolg
gehad het dat hy empatie met die volk kon hê. So het hy self gebuk gegaan onder
allerlei fisiese swakhede en tekortkominge – hy het moeg geraak; hy het
hartseer geraak; hy het trauma beleef; hy het beskik oor beperkte intellek;
ens. Hy was derhalwe in alle opsigte deel van hierdie aardse bestel wat gebuk
gaan onder die gevolge van die sondeval.
Die hoëpriester moes iemand wees wat
besondere sensitiwiteit gehad het met ander mense en hy kón sensitief wees
omdat hyself alles ervaar het wat die algemene publiek ervaar het. God het
egter ook die nageslag van Aäron besonderlik geseën met empatie en ’n sagte
gees wat in staat was om andere te verstaan en te vertroos en met sagmoedigheid
te hanteer en omdat hulle geweet het hoe afhanklik hulle self van God se genade
was, was hulle die ideale persone om in te tree by God t.w.v. die volk.
o
Bring
self offerandes:
Die aardse hoëpriester was, soos ons
reeds gesien het, intens bewus van sy eie swakhede – hy het self ook geworstel
met sy eie sonde en hy het die aanklagte van die Heilige Gees in dié verband ook
ervaar en geken en daarom kon hy nie alleen met die volk identifiseer nie, maar
moes hy ook vir homself offers gebring het op die Groot Versoendag (Yom
Kippur) voor hy
offerandes namens die volk gebring het – die gebruik was dat hy ’n bul moes
slag en offer vir sy eie en sy huisgenote se sondes – daarom dat v.3 sê ~ Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir
die volk, offers bring vir die sondes.
Hiermee saam het hy ’n gebed gebid wat in die "Mishna" opgeteken was
en dit het as volg gelui (vry vertaal in Afrikaans): o
Here, ek en my huis en die heilige nageslag van Aäron, het oortree en teenoor U
gesondig. O Here, ek bid dat U my en my huis se sonde wat ons voor U begaan
het, sal vergewe.
Benewens die feit dat hy offers gebring
het ten einde vergifnis vir sy eie sondes te kon ontvang, het hy ook offers namens
homself gebring in ooreenstemming met Levitikus. Een van hierdie offers was bv.
die graanoffer (Lev.2) waartydens
die hoëpriester meel geneem en wierook en olie daaroor gegooi het en dit dan op
die altaar verbrand het as simbool van dankbaarheid en toewyding.
o
Deur
God geroep:
’n Ware hoëpriester kon nie maar net
enige mens wees nie – Hy moes deur God geroep wees. Geen mens kon dus aansoek
doen vir die amp nie en ook nie omdat hy die amp van hoëpriester begeer het
nie. Hy moes deur God aangewys word – gekies deur God. Hy moes getrou en
gehoorsaam wees aan God en sy roeping, dit is waarom die Hebreërskrywer in v.4
sê ~ Niemand eien hom die eer van toe
nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. God het baie duidelike opdragte aan
Moses gegee met die instelling van die priesterlike ampte ~ Jy moet jou broer Aäron en sy seuns Nadab, Abihu,
Eleasar en Itamar na jou toe laat kom uit die volk Israel uit en hulle aanstel
om My as priesters te dien
(Eks.28:1).
Aäron en dié se nageslag was die geslag uit wie die priesters aangewys moes
word. Toe Korag, Datan en Abiram en tweehonderd-en-vyftig manne, waarvan ons in
Num.16 lees, teen hierdie opdrag van God in opstand gekom het, het God, hulle
laat sterf en nie sommer net op só ’n manier nie – vers 31-32 sê vir ons hoe
God, hulle om die lewe gebring het ~ Net
toe Moses klaar gepraat het, skeur die grond onder hulle oop 32en
maak die aarde sy mond oop en sluk vir Datan en Abiram met hulle gesinne in en
ook vir Korag en al die manne by hom saam met hulle besittings. Ons sien ook in 1 Sam.13:8 dat Saul
sy koningskap verloor het omdat hy ongeduldig geraak het met Samuel as priester.
In 2 Kron.26:16-21 lees ons van Ussia wat só ingenome met homself geraak het
dat hy die tempel in is om self offers tot God te bring – die uiteinde hiervan,
nadat die priester Asarja hom gewaarsku het om dit nie te doen nie, was dat hy
daar in die tempel melaats geraak het en hy was melaats tot en met sy dood.
Gewone priesters het hulleself nie eers
aangematig om hoëpriester te wees nie – hierdie was ’n baie ernstige saak en
nog meer ernstig in die oë van die Here God – die hoëpriester was deur God self
geroep – hy en hy alleen het die volk voor God verteenwoordig.
Die hoëpriester was voorwaar één met die
volk; een uit die volk en een vir die volk!
5. JESUS – EWIGE HOËPRIESTER:
Ek het aan die begin gesê dat ons ook ’n
Hoëpriester het, nl. Jesus Christus. Wanneer ons na vv.5-10 van ons Skriflesing
kyk, sien ons dat Christus aan presies dieselfde vereistes voldoen het om
waarlik Hoëpriester te wees – trouens Hy het volmaak daaraan voldoen. Hy was
dus vleesgeworde God tussen die mense en daarom ook gekies vanuit die mense om
uiteindelik Hoëpriester te kon wees.
o
Vleesgeworde
mens, aangewys as Hoëpriester:
Ten einde die volmaakte Hoëpriester te
kon wees, moes Jesus self ook mens word, sodat Hy kon ervaar wat ons ervaar;
sodat Hy kon deurmaak wat ons deurmaak. Soos reeds keer op keer die afgelope
tyd aangetoon, het Jesus, sonder om eenkeer te sondig, ver meer ervaar as wat
ons kon droom om te ervaar en daarom – juis daarom, kan Hy ten volle empatie
met ons hê.
Ek het vroeër gesê dat die mens, tydens
die sondeval, alle toeganklikheid tot God verloor het, maar met die koms van
Christus het God Homself egter nie meer afsydig gehou van die mens nie, trouens
Hy het toegetree tot die wêreld van die mens, sodat Hy ’n simpatieke en
genadige Hoëpriester vir die mens kon wees. Indien Christus nie mens geword het
nie, sou Hy nooit Hoëpriester vir die mens kon wees nie – sou Hy ook nooit die
volmaakte en volkome offer gebring het om eens en vir altyd God se geregtigheid
op die mensdom se sonde en derhalwe, versoening tussen God en mens te kon
bewerkstellig nie. Die vleeswording (menswording) van Christus was dus nie ’n opsie
nie; dit was ’n absolute noodsaaklikheid – dit was noodsaaklik indien die mens
gered moes word.
Ons sit egter met ’n oënskynlike probleem
– ons het gesien dat die hoëpriesters uit die nageslag van Aäron gekies moes
word en Jesus was nie uit die nageslag van Aäron nie. Dit is waarom vv.6 en 10
vir ons sê dat Jesus volgens die priesterorde
van Melgisedek
aangestel was. Ons lees so vroeg as Gen.14:18-20 van Melgisedek – hy was koning
van Salem (’n antieke naam vir Jerusalem), maar terselfdertyd was hy ook priester
van God. Ons gaan D.V. in Hebr.7 in meer detail na Melgisedek kyk, maar kom ek sê
net iets kortliks oor hom. Hy het ’n paar eeue voor die Aäronitiese
priesterskap ingestel is, geleef en sy priesterskap was sonder einde, teenoor
die Aäronitiese priesterskap wat in die Mosaïese tydperk begin het en in 70
n.C., toe die Tempel in Jerusalem deur die Romeine verwoes is, tot ’n einde gekom
het. Die priesterskap van Melgisedek was dus ’n meerdere priesterskap as dié
van Aäron. Melgisedek se priesterskap is dus ’n baie beter beeld van Christus se
Priesterskap as dié van Aäron, want Christus se Priestersamp volgens die orde van
Melgisedek dui dus op beide Sy Koninklike-, sowel as Sy priesterlike amp (net
soos Melgisedek). In
Hand.2:36 word verwys na Christus se Koninklike amp ~ Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie
Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak! Christus is dus ewige Koning. In
Ps.110:4 sien ons dat Christus ook ewige Hoëpriester is ~ Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep
nie: “Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.
V.7 begin met die woorde ~ Gedurende sy aardse lewe... Ons Here Jesus is gedurende Sy aardse
lewe voorberei vir Sy Hoëpriesterlike amp. Van Sy geboorte, tot en met Sy dood
het Hy die sondige aanslae van hierdie lewe ervaar en het Hy presies geweet wat
dit behels om deur hierdie aardse lewe van die mens te gaan. Hy was dus
uitnemend voorberei vir Sy amp as Hoëpriester ~ Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red,
gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is
verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy
die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is.
In hierdie gedeelte sien ons gevolglik dat
Jesus aan al die vereistes voldoen het wat van ’n aardse hoëpriester vereis was,
trouens meer as dit – Hy is ewige Hoëpriester.
o
Verteenwoordig
die mens voor God:
Ons sien ook dat Jesus, die mens voor God
verteenwoordig het. In vv.7-8 word gepraat van Jesus wat ~ ...Gedurende sy aardse lewe, aan God, wat Hom uit die
dood kon red, gebede en smekinge geoffer (het) met harde geroep en met trane.
En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel
Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid
is. Hierdie verse
verwys na Jesus se stryd in die Tuin van Getsemane (Matt.26:36-46). Die aand voor Jesus se kruisdood,
het Hy geworstel met Sy Vader, maar dit was nie omdat Hy nie fisies wou ly of sterf
nie; dit het vir Hom gegaan oor die feit dat Hy sonde vir ons gemaak sou word
en in die proses totaal van God afgesonder sou wees. Jesus het egter nie kontra
God se wil gebid nie, daarom dat Hy Luk.22:42b gebid het ~ Laat nogtans nie my wil nie maar u wil
geskied! Sy gebed het dus
daaroor gegaan dat Hy nié Sy Vader gevra het om Hom van die dood te spaar nie,
want dit was tog immers waarvoor Hy na die aarde gekom het en Hy bevestig dit
self in Joh.12:27, wanneer Hy sê ~ Nou
is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie
uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. Nee, Jesus het hier gebid dat Sy
Vader om uit die dood moes red, m.a.w. dat die Vader Hom weer sal opwek
uit die dood.
o
Simpatiek
gesind:
Dit bring ons by die volgende eienskap
van Jesus se Hoëpriesterskap wat in ooreenstemming met die Ou Testamentiese en
aardse hoëpriesters was, nl. Sy volmaakte simpatie met ons. Dít wat Jesus daar
in die Tuin van Getsemane, die aand voor Sy kruisiging op Golgota, beleef het,
het en sal geen mens ooit beleef nie – ons lees in Luk.22:44 dat Jesus so
ernstig gebid het en die realiteit van wat die volgende dag in Sy lewe sou
plaasvind, só intens ervaar het, dat Hy letterlik, druppels van bloed gesweet
het. Kan enige mens bereid wees om dieselfde pad as Jesus te loop – geen mens
sal in staat daartoe wees nie, maar Jesus hét en daarom kan Hy by uitnemendheid
simpatie met ons hê – trouens, as enige iemand bereid sou wees (soos
wat Hy wás) om die
mensdom se sonde op hom te neem, spreek dit tog immers van volmaakte en
Goddelike simpatie en kan so ’n persoon werklik beskou word as die mensdom se
volmaakte simpatiseerder. Indien iemand bereid was om die ganse mensdom se
sonde op Hom te neem, sodat hulle nie God se toorn daarop hoef te beleef nie,
kan ons sekerlik sê dat so ’n persoon die toppunt van simpatie verteenwoordig!
Dit was Jesus ons ewige Hoëpriester – volmaakte Simpatiseerder.
o
Bring
self offerandes:
Paulus sê vir ons in 2 Kor.5:21 ~ Christus was sonder sonde, maar God het Hom
in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur
God vrygespreek kan wees. Petrus sê in 1 Pet.2:24 ~ Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis
gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid
aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees. Jesus het nié Sy eie sonde na die
kruis geneem nie, want Hy het geen sonde gehad nie – nee, Hy het die ganse
mensdom deur die eeue heen, wie in Hom glo en aan wie hulle hul lewens wy, se sonde
op Hom geneem en dít na die kruis geneem en God die Vader het Hom gestraf en
laat sterf, sodat ons kan lewe – Hy het die offer self geneem en voor God die
Vader geoffer en daardie offer was Hyself – Jesus Christus, die volmaakte
Offerlam, sodat daar eens en vir altyd, volmaakte versoening tussen God en mens
bewerkstellig kon word! Daarom dat die Hebreërskrywer in v.9 vir ons sê ~ En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal
wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword.
o
Deur
God geroep:
Omdat Christus hierdie offer self gebring
het en Hy aan alle vereistes vir die amp van Hoë Priester voldoen het, lees ons
in v.10 ~ ...en is
Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek. Geen aardse hoëpriester kon homself
aanstel of kies nie en daarom het Jesus Homself ook nie aangestel nie - v.3 bevestig
hierdie feit aan ons wanneer dit sê ~ Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe
geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom ook nie die waardigheid
van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het: “Jy
is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader.
6. AFSLUITING:
Jesus Christus het die Bron van ewige saligheid geword vir
elkeen wat Hom gehoorsaam (v.9). Sy solidariteit met ons, impliseer dat Hy ons in volmaakteheid en
volkomenheid kan red. Christus is ons triomfantlike en ewige Redder – Sy
Goddelike verkiesing as beide ewige Koning en Hoëpriester tesame met die feit
dat Hy volkome solidariteit en empatie met ons betoon, impliseer dat Hy die
enigste ware en volmaakte Hoëpriester is wat ons saak voor God die Vader kan stel
en wat versoening vir ons sonde kon doen – laat ons daarom die vrymoedigheid
neem om met vertroue tot Hom in gebed te gaan met al ons worstelinge, maar ook
vreugde en dankbaarheid en belydenis van sonde, want Jesus Christus, die
Regverdige is getrou en volmaak om vir ons ’n Voorspraak by die Vader,
te wees (1Joh.2:1b – O.A.V.).
[1] Boodskap deur
Kobus van der Walt – Vaaldriehoek
Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 23 September 2012