Sunday, October 30, 2011

Psalm 19 (God se Openbaring)

1.    ’N WOORD VOORAF:
Psalm 19 is die gunsteling Psalm vir baie mense – mense soos John MacArthur bv. – ook C.S. Lewis en Charles Spurgeon. Die kommentator oor Psalms, ene Michael Wilcock sê dat Ps.19 dié mees gedenkwaardige Psalm in die ganse Psalmbundel is. Donald M. Williams sê van hierdie Psalm: Psalm 19 is virtually peerless in its poetic power and theological depth. C.S. Lewis het gesê:  Psalm 19 is the greatest poem in the Psalter and one of the greatest lyrics in the world.  Charles Spurgeon noem dit, a delightful poem. As ek so na hierdie "groot geeste" van die teologiese wêreld luister dan is ek huiwerig om oor hierdie grootse Psalm te preek.  Om my huiwering nog verder te versterk, kom die baie bekende en befaamde teoloog, James Montgomery Boice en hy sê:  Probably no Psalm has generated more diversity of modern interpretation than Psalm 19.

Ek het egter gevoel dat hierdie en nog ander uitsprake, my nie daarvan mag weerhou om tog oor hierdie Psalm te preek nie, maar ek doen dit in diepe afhanklikheid van die Heilige Gees en ek het my baie verlaat op betroubare teoloë se eksegese oor hierdie Psalm.

2.    SKRIFLESING: 
Psalm 19:1-15 ~ Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.  2Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.  3Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee.  4Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem.  5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit oor die hele wêreld en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde.  Vir die son is daar in die hemel ’n tent opgeslaan.  6As hy stralend begin om sy baan te volg, is hy soos ’n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom.  7Aan die een kant van die hemel kom hy op en aan die ander kant gaan hy onder, en niks ontkom aan sy gloed nie.  8Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe.  Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.  9Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap.  Die gebod van die Here is helder:  dit gee insig.  10Die eise van die Here vir sy diens is goed:  dit staan altyd vas.  Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig.  11Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek.  12U dienaar laat hom daardeur leer.  Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.  13Wie sien sy eie dwalinge raak?  Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie.  14Weerhou my van opsetlike sondes, laat hulle nie oor my heers nie.  Dan sal ek onberispelik wees en vry van hierdie groot sonde.  15Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.

3.    INLEIDING:
Hierdie Psalm is ’n ontsagwekkende beskrywing van die kosmiese selfopenbaring van God.  God openbaar Homself dus op onbeskryflike wyse deur Sy skepping en dan spesifiek deur die hemelruim. Ons kan Ps.19 in drie dele verdeel:
·         Oordenking:  God se Werke (vv.1-7)
·         Oordenking:  God se Woord (vv.8-12)
·         Toepassing:  God se Bemiddeling (vv.13-15).

Ons weet teen hierdie tyd, dat God Homself op twee wyses openbaar en ons vind beide hierdie wyses van God se openbaring in hierdie wonderlike Psalm:
·         Algemene Openbaring (d.m.v. die natuur)
·         Spesifieke Openbaring (d.m.v. die Woord).

Dit is dan presies ook dieselfde wat ons hier in Ps.19 aantref – God wat verheerlik word d.m.v. eers, God se algemene openbaring en dan laastens d.m.v. God se spesifieke openbaring. 

Indien ons hierdie Psalm reg wil verstaan, moet ons besef dat die Psalmis, by name Dawid, aanvaar dat God Homself op hierdie twee wyses aan die mens openbaar en dat beide hierdie
openbaringwyses ’n baie belangrike rol in Israel se wel en weë gespeel het.

Hierdie Psalm bestaan uit twee dele en daar is sommige teoloë wat reken dat hierdie eintlik twee verskillende Psalms is. Dit is egter nie nodig om hierdie Psalm te verdeel nie, want dit vorm ’n pragtige geheel en maak sin om as een Psalm gelees te word.  As ek dit prakties kan verduidelik:  Dit is soos ’n man wat vir ’n tyd lank weg is van die huis en ’n E-Pos aan sy vrou stuur.  In die eerste gedeelte van die brief verklaar hy sy liefde vir sy vrou en sê hy hoe hy haar mis, maar dan gaan hy oor in die tweede deel van sy brief en hy deel praktiese dinge met haar, soos bv. om haar daaraan te herinner om die vullissakke Maandagoggend voor 7 uur uit te sit.

Dit is ook interessant om te sien dat hierdie Psalm ’n geweldige impak op verskeie Nuwe Testamentiese Skrifgedeeltes het – bv. Rom.10:18 wat ’n verwysing na v.5 is ~ Maar ’n mens sou kon vra: Het die Israeliete dan nie die prediking gehoor nie?  Alte seker het hulle gehoor! Die Skrif sê:  “Hulle prediking het oor die hele wêreld weerklink, hulle woorde tot by die uithoeke van die aarde.” Rom.1:18-32 is nog ’n voorbeeld van ’n Nuwe Testamentiese gedeelte wat put uit Ps.19.

4.    OORDENKING: GOD SE WERKE:
Kom ons kyk dan nou na Psalm 19 en ons begin met die eerste gedeelte van die Psalm wat God se werke besing en ons sien dadelik in vv.2-3 dat Dawid verwys na die uitspansel, of die hemele wat God se heerlikheid en kennis proklameer. En in vv.5-6 beskryf hy spesifiek die son se geluidlose uitroep van God se heerlikheid. 

Die woord hemel (shamayim / shaw·mah·yim) kan hier na alles bokant of buite die aarde verwys, terwyl die uitspansel (raqiya`/ raw·kee·ah) wat in die Engels vertaal word met firmament of sky of expanse, na die hemelruim (son, sterre, hemelliggame, ens.) verwys.  

Verse 2-3 vertel nie soseer vir ons meer van God se morele karakter nie (soos Sy geregtigheid, genade, liefde, ens. nie), maar eerder van Sy heerlikheid.  Die sterre en die son en die uitspansel is só groots; só glansryk; só pragtig; só goddelik, dat die Een wat dit geskep het, nog groter is, nog meer glansryk is.

Wanneer ons kyk, hoe kyk ons na die hemelruim? Kyk ons daarna en sê ons vir onsself dat God dit geskape het; dat dit nie anders kan as dat daar ’n God moet wees nie?  Of kyk ons daarna en besef ons dat God wat dit geskep het, nóg groter is; nog heerliker is?  Dít is die God wat ons aanbid – nee, dit is die God wat ons uitverkies het – ek, nietige, bykans niksseggende "spatseltjie" in hierdie ontsagwekkende uitspansel – dit is die God wat agter die uitspansel sit – dit is Hy wat dit geskep het!

Die Psalmdigter sê voorts in v.3, dat hierdie inligting; hierdie getuienis t.o.v. God, dag vir dag en nag vir nag herhaal word.  Die beeld wat hy hier gebruik is dié van ’n borrelende fontein waaruit die water net nie ophou vloei nie. Met ander woorde,  die waarheid aangaande God spoel oor ons vanuit alle kante en dit hou net aan en aan – as ons maar net ons oë kan oophou om dit voortdurend raak te sien!

Hy beklemtoon hierdie feit nog verder, deur in sy skryfstyl gebruik te maak van "chiasmes" en hy doen dit deur hierdie "chiasmes" aan die begin en einde van hierdie eerste gedeelte van die Psalm te gebruik. ’n "Chiasme", sal julle onthou, is ’n spesifieke skryf- of digvorm, wat as volg geskryf word en dit is dan ook hoe Dawid God se heerlikheid besing in vv.2-3 (O.A.V.). Hierdie eerste "chiasme" lyk as volg:
A.  Die hemele
                                    B.  vertel van
                                                C.  die eer van God
                                                C.  die werk van Sy hande
                                    B.  verkondig
A.  Die uitspansel

Hierdie boodskap wat die uitspansel verkondig t.o.v. God se heerlikheid, word nie in hoorbare stemme uitgejubel nie (v.4), maar dit is so ’n onbeskryflike gesig, dat dit nie woorde nodig het om die boodskap oor God te verkondig nie en wat meer is, hierdie ...boodskap (gaan) uit oor die hele wêreld en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde (v.5a).

Dawid raak in v.5b meer spesifiek oor die uitspansel se getuienis t.o.v. God, wanneer hy na die son verwys en hy sê dat daar ’n tent vir die son in die hemel opgeslaan is.  Met hierdie beeld wil hy sê dat die son in die aand aan die eenkant van die tent inkruip en sodoende donkerheid oor die aarde laat kom, net om die volgende oggend aan die anderkant van die tent uit te kruip en in sy volle glorie, God se heerlikheid verklaar – wat ’n pragtige beeld!

Ook hier maak Dawid weer gebruik van ’n "chiasme" wanneer hy sê:
A.  Aan die een kant van die hemel
                                   B.  kom dit op
                                   B.  gaan hy onder
A.  Aan die anderkant.

Die Psalmis vergelyk die son verder met ’n stralende bruidegom (ja, dit is nie net bruide wat kan straal op hul huweliksdag nie) wat met krag en energie sy lewenspad volg. Die son skyn helder en daarom kan geen blinde ontken dat daar 'n son is nie en net so het geen mens 'n verskoning om die Ewige Lig raak te sien nie. Niemand kan verskoon word van God se algemene (natuurlike) openbaring nie.

Vers 7 sluit af met die woorde ~ ...en niks ontkom aan sy gloed nie.  Hierdie woorde is die kruks van hierdie Psalm en volgens C.S. Lewis vorm dit die oorgang van die algemene na die spesifieke openbaring aangaande God – ...niks ontkom aan sy gloed nie

5.    Oordenking:  God se Woord:
Lewis sê, net soos wat die son die dag met sy strale regeer, net so regeer die Woord van God Sy kinders se lewens.  Beide die son en die Woord straal dus God se lig uit  - God wat self Lig is.  Niks kan weggesteek word van die strale van die son nie en ook nie van die Skepper Lig wat die son geskape het nie.

Die mensdom het egter te kampe met ’n baie groot probleem – sonde het ons kennis van God so verduister, dat ons meer as net die getuienis van die hemele nodig het om God te leer ken – ons het ook Sy Woord (God se spesifieke openbaring) nodig, sodat ons God se handewerk en Sy karakter en Sy wil, beter kan verstaan. 

God se algemene openbaring in die natuur is algemeen genoeg om aan die mensdom ’n kennis van God te besorg, maar dit is nie voldoende om die weg tot saligheid deur geloof, aan mense te verkondig nie (Rom.3:21-26), m.a.w. die mensdom het meer nodig as bloot net die natuur om tot kennis van God te kom – die mens het God se Woord daarvoor nodig en daarom sê v.8 dan ook vir ons dat die Woord lewe gee.  Die Psalmis beweeg dus van die heelal na een van die kleinste deeltjies in die heelal, nl. die mens

Dit gaan dus in hierdie tweede gedeelte van die Psalm oor wedergeboorte.  Paulus sê in 2Tim.3:15 ~ ...en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.  Dit is oor hierdie kennis – kennis wat tot verlossing kan lei, dat Dawid nou skryf.

Ons sien in vv.8-11 dat Dawid na die Woord van God op verskillende wyses verwys, nl.: Die Woord (v.8); die onderwysing van die Here (die getuienis – O.A.V.) (v.8); die bevele van die Here (v.9); die gebod van die Here (v.9); die eise van die Here (v.10) en die bepalings van die Here (v.10)

Dawid sê egter ook wat die doel met God se Woord is, nl. dat dit lewe gee (v.8a); dit gee wysheid (v.8b); dit dui die regte koers aan (v.9); dit bring blydskap (v.9) en dit gee insig (v.9) en omdat dit altyd vasstaan (v.10) en omdat dit altyd reg en regverdig is (v.10).

As ons dan na al hierdie beskrywings van die Woord van God kyk, is dit baie duidelik dat ons deur God se Woord gewaarsku word om nie af te wyk van God se Woord nie (v.13), maar ons sien ook dat daar groot belonings op ons wag indien ons gehoorsaam is aan die Woord (v.12).

Ons lees in v.8 ~ Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die uitdrukking, die woord van die Here is in die Hebreeus, "Torah" of te wel "wet", maar om dit net met "wet" te vertaal, doen afbreuk aan die volle betekenis van hierdie woord, omdat "Torah" ook vertaal kan word met "openbaring" – m.a.w. God se openbaring aan die mens deur Sy Woord.  Moses gee erkenning hieraan deur te sê dat, omdat die "Torah", God se Woord is, die Woord van God derhalwe volmaak,  betroubaar en die waarheid is en daarom is dit die enigste Woord wat lewe kan gee. Johannes beklemtoon hierdie feit wanneer hy in Joh.17:17 sê ~ Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. Ook Paulus sê in 2Tes.2:13b ~ Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo.

Omdat die Woord God se volmaakte en heilige Woord is, kan wysheid daaruit geput word en kan die mens sy lewe daarvolgens rig.

Dawid gaan egter verder in v.9 en hy sê dat indien die mens sy lewe volgens God se bevele in Sy Woord rig, sal so ’n persoon "op die regte pad bly" en dit sal vir so ’n persoon nét vreugde inhou (v.9). Hy sê egter ook dat die mens geen verskoning het deur te sê dat hy nie die Woord verstaan nie, want die Woord is nie ingewikkeld nie – dit is helder en duidelik; dit gee insig en dit is die waarheid (v.9)

Die N.A.V. is nie ’n goeie vertaling vir vers 10 nie – dit praat van die eise van die Here.  Die O.A.V. – nes die meeste Engelse vertalings, vertaal v.10 egter met ~   Die vrees van die Here is rein: dit bestaan tot in ewigheid.  In hierdie geval dui die vrees van die Here op die Woord van God, want in die lig van ons sonde, ís God se Woord vreesaanjaend en daarom sou ek reken is die N.A.V. in die kol is, wanneer dit praat van ~ ... Die eise van die Here.  Die res van v.10 in die N.A.V. is egter nie so ’n goeie vertaling nie.  Die O.A.V. vertaal dit met ~ Die vrees van die Here is reinDie eise of die Woord van God is dus rein.  Wat sê Dawid hier vir ons?  Hy sê, dat God se Woord rein is; dit is heilig; dit is onaangeraak deur die sondesmet van hierdie wêreld, soveel so, dat dit tot in ewigheid sal bestaan.  Petrus sê in 1Pet.1:25 ~ ...maar die woord van die Here, dít bly vir ewig.”  En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.  Jesus het self in Matt.24:35 gesê ~ Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.   Omdat God se Woord rein is en vir ewig vasstaan, is dit dus goed en reg; trouens dit is lewensbelangrik, om jou lewe daarvolgens in te rig.

Dawid gaan egter verder in v.10 en hy sê dat die Woord van God reg en regverdig is en daarom sal God ons eendag daarvolgens oordeel. Die Goeie Nuus vir ons, is egter dat hierdie regverdige en heilige waarheid, vir ons vlees geword het in en deur Jesus Christus – Joh.14:6 ~ Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. Wanneer ons, ons eie leuens en ongeregtigheid neerlê en ons toevlug tot Christus as ons Middelaar neem, skenk Hy waarheid en geregtigheid aan ons,.

6.    Toepassing:  God se Bemiddeling:
Nadat Dawid beide God se algemene en spesifieke openbaring beskryf het, kom hy nou tot ’n slotsom wat beide hierdie temas betref.

Vers 11 som die waarde van God se openbaring pragtig op, wanneer dit sê ~ Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek.  Jesus waarsku ons in Matt.16:19-21 ~ Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. 20Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. 21Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.  Om God se openbaring soos geopenbaar deur Sy Woord, te hoor en jou lewe daarvolgens te rig is dieselfde as om jou huis op ’n rots te bou (Matt.7:24-29).

Dawid sluit af deur homself nou toe te wy aan God deur ’n aangrypende gebed te bid. Hy bely en onderneem om homself te onderwerp aan God se Woord. 

Omdat die mens nie oor die vermoë beskik om sy eie tekortkominge en selfs sy eie sonde raak te sien, of raak te wil sien nie, vra Dawid dat God hom sal vergewe vir die sonde wat hy onwetend begaan en dat die Here hom sal help om nie opsetlike sondes te begaan nie, sodat hy onbesproke kan wees, want as dit die geval is, weet hy dat hy ’n groot loon sal ontvang.

Dawid sluit hy sy gebed af deur sy geloof te bely in God – God wat sy Rots en sy Verlosser is – Sy Rots, omdat hy weet dat God Sy krag is wat hom sal verlos.

Jakobus sê in Jak.2:26 ~ ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.  Jakobus sê dus vir ons as gelowiges dat ons geloof dood is, as ons lewe nie vrug dra nie.  Paulus beklemtoon deurgaans in sy briewe, dat ons uit genade deur geloof gered word, maar hy beklemtoon ook voortdurend dat ons as gelowiges, heilige lewens moet lei.

Geliefdes, laat ons nooit vergeet dat God se Woord, Sy onderwysing is; Sy bevele is; Sy gebod is; Sy eise en Sy bepalings is en dat Sy Woord altyd vasstaan (v.10). Omdat Sy Woord altyd reg en regverdig is (v.10), sal dit aan ons lewe gee; sal dat aan ons wysheid gee; sal dit onder alle omstandighede aan ons die regte koers aandui (v.9); sal dit blydskap bring (v.9) en sal dit aan ons insig gee (v.9).

Laat ons opnuut weer die skepping rondom ons waardeer en raaksien en laat ons opnuut weer eer aan God bring vir Sy wonderlike openbaring van Homself deur die natuur – laat ons altyd die Drie-Enige God sien en eer wat agter die skepping sit – Hy die Skepper van hemel en aarde en laat ons Hom en Hom alleen aanbid.


Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 30 Oktober September 2011